Bladsye

Donderdag 29 November 2012

SEKERHEID


- ten spyte van die onbekende pad anderkant die berg!

Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal volgende jaar. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal ... ons sou graag sekerheid wou oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker... dit kom vanaf die sondeval in die paradys... en soek gedurig na waarborge, antwoorde oor die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak (waarsêers en waterwysers, kaart en palmlesers, spiritiste ens.)...hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar te graag om so ‘n houvas op mense te kry.

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel  is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en onsekerheid is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees. Kom ons kyk bietjie vanuit hierdie vraag na 1 Johannes 3:1-3.

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees?

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in ons teksgedeelte eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel sê maar net dis die dwaas wat in sy hart sê dat daar nie ‘n God is nie! (Psalm 14:1)

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. (1) Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “…Dit het ek geskrywe  aan julle wat glo in die Naam van die  Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het…” (5:12,13) Die frase “Kinders van God” is so ryk en het sulke geweldige implikasies. Die Almagtige Skepper van die heelal verbind himself aan ons op hierdie intieme manier! Hoekom sou ons dan nog bang wil wees?

Ons kan seker wees van God se liefde. (1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas, want dit is eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Dit beteken : al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. Weereens dis aan die kruis bewys. (4:10) God het ons eerste liefgehad sonder enige prestasies van ons kant af. Ons wederliefde is maar net ‘n (gebrekkige) reaksie.

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy  sal wees. (2) Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. (Fil 3:21)

ONSEKERHEID/ONBEKENDHEID

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? Ons vind iets daarvan in die frase “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien  en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware  : “Kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring.”

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Abram glo en reageer gehoorsaam, maar Abram het nie onmiddellik als geweet wat oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie. Oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons ken nie die besonderhede en tydsduur van ons aardse pelgrimspad nie. Ons kan nie anderkant die eerste berg sien nie, maar God wat my tot hiertoe gelei het sal dit ook vorentoe doen.  Ons weet nie wat môre en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God ons nie langs die pad sal laat val nie, want die goeie werk wat Hy in ons begin het sal Hy voltooi! (Fil 1:6)

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie?  Waarop moet ons fokus? Vers 3 gee ‘n belangrike riglyn. Hou jouself rein! Die  wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekingss en probleme môre sal bring nie. Maar wat word van my verwag? Ek moet heilig lewe! Los die vrese en bekommernisse  oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. 

Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid! 

Dis wat nou belangrik is.

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindellik by ons bestemming aan.


Naby Swakopmund.

Saterdag 24 November 2012

GROOT GENADE

- het groot gevolge. 

Alles, alles net genade! Ons kan alleenlik deur God se genade die verlossing ontvang.  Ons ken  mos Efesiërs 2:8  wat leer: “Uit genade is julle gered...” Anders gesê : Daar is net een rede waarom sondaar mense gered word en vir ewig die hemelse heerlikheid kan deel en dis op grond van God se ryk genade. 

HEMELSE NAVORSING

Kom vat ‘n mikrofoon en gaan doen bietjie navorsing in die hemel...  Jy sal so ‘n kort mannetjie daar kry met die naam van Saggeus... Praat met hom. Jy sal hoor : “Ek was die grootste skelm en skurk. Ek het net vir geld geleef. Ek was ‘n afperser en bedrieëer. Maar toe roep Jesus my... dit was net genade, want ek was die slegste ou op die dorp. Toe kom Hy na my huis en ek ontvang genade en word ‘n nuwe mens.”  Miskien sal jy ook ‘n vrou daar raakloop, die Samaritaanse vrou vir wie Jesus die Lewende water by die put van Sigar gegee het. “Ja, ek was in ‘n ellendige toestand van sonde. Ek was al vyf keer getroud en op daardie stadium het ek sommer maar net saam met ‘n man gebly. Maar toe konfronteer Jesus my en ek ontvang genade, volkome vergifnis...” Jy moet beslis  met Petrus ‘n onderhoud voer : “Ek was die leier dissipel. Arrogant, vol van myself. Maar jy weet mos wat het gebeur, ek, juis ek van alle mense het drie keer in die openbaar Jesus verloën. Ek het die grootste van alle sondes gedoen. Maar weet jy wat, ek het weer genade ontvang, soveel so dat ek die opdrag gekry het om die Here se skape op te pas! Wondergenade!” Praat met  Paulus, die besetene van Gadara, Maria Magdalena, die tronkbewaarder van Filippi...  Ja, jy kan onderhoude voer met nog duisende en duisende ander... die basiese antwoord sal wees : “Ons is hier alleenlik weens God se onbeskryflike groot genade!”

RADIKALE GENADE

Hierdie genade van God is die kern van sy verbondsbeloftes wat eerste uitreik na die mens : “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet vir my ‘n kind wees.”  Dis die basis van God se verhouding met die mens, soos Hy dit alreeds aan Abraham uitgespel en beloof het.  Maar genade het nog 'n groter verrassing vir ons...

Kom kyk bietjie saam met my na die inhoud, maar veral die gevolge van genade soos dit vir ons verduidelik word in Titus 2:11-15. (Lees dit gerus saam met my in jou Bybel)  Die openbaring van God se genade bereik ‘n hoogtepunt van duidelikheid en heerlikheid as Jesus kom en aan die kruis sterf. “Hy het homself vir ons as offer gegee...” (Vers 14) Volgens die verbondseise moes ons gehoorsame kinders vir God gewees het, maar ons kon dit nie regkry nie. Ons sonde het ons laat wegdwaal van God en het God se straf oor ons gebring. Maar toe kom Jesus en vat die straf op Hom. Hy offer Homself vir ons. Dis uiterste genade! Iemand anders vat my verdiende straf in my plek! Romeine 3:23,24 stel die vryspraak uit genade op grond van Jesus se verlossingswerk so treffend! (lees) 

GENADE LEER ONS OM ANDERS TE WEES

Genade gaan oor vergifnis, regverdiging (justification), maar dit eindig nie daar  nie. Genade gaan verder. Genade voed ons op! (Vers 12) Genade  leer ons ‘n totaal nuwe lewensstyl en siening. Groot genade het ingrypend  groot gevolge in die lewens van die ontvangers daarvan! Dit word pragtig uitgespel deur Paulus in hierdie gedeelte. Kom ons kyk bietjie na die onmiskenbare gevolge van genade:

Genade leer ons om sekere dinge te los en agter te laat. Ons sê totsiens vir ‘n goddelose leefwyse, waar ek gemaak het soos ek wil. Ek onderwerp my aan God. Ek neem sy opdragte ernstig op! Ek neem ook my beloftes teenoor Hom ernstig op. My doopbelofte.  My lidmaatsbelofte. My huweliksbelofte. Genade maak dat God ‘n werklikheid in my lewe word. Ek het respek vir Hom, ek eer Hom! Genade maak dat ek my rug keer op my ou lewe wat ingerig was volgens wêreldse begeerlikhede. (1 Joh 2:15-17) My lewe draai nie meer net om die dinge wat ek kan sien nie. My lewe word nie meer beheer deur besittings, mag en plesier nie!

Genade leer ons ook positief ‘n nuwe leefstyl. Hierdie nuwe lewe is ‘n lewe van selfbeheersing. Ek doen nie meer dit wat by my opkom, dit wat my ou sondige natuur vir my voorskryf nie, dit wat ek voel ek wil doen nie... my lewe word nou beheer deur die Heilige Gees in ooreenstemming met God se Woord! Genade bring egtheid en opregtheid in my lewe. Ek is nie volmaak nie, maar ek het egte berou oor sonde, egte liefde vir die Here. Ek leef eerlik voor God en mense. Genade aktiveer ‘n mens se gewete, dit maak mens sensitief vir sonde, vir die stem van die Heilige Gees. Genade bewerk  positiewe vrugte van ‘n nuwe lewe. Dit laat ons dinge doen waarvan God hou. Nou reeds in hierdie stukkende teenswoordige wêreld. Ja, ek en jy wat genade ontvang het kan nou  lewe op ‘n manier wat eer aan God bring. Onthou Jesus het gekom sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om goeie werke te doen! (Vers 14)

Genade skep by ons ‘n toekomsverwagting. Genade gee vir ons ‘n visie wat die wêreld nie het nie. Die wêreld kyk net vas in die hier en nou. Die plesier wat ek nou kan kry, die geld wat ek nou gaan maak..., of aan die ander kant na al die ellendes, opstande, stakings, onrus...van nou!  Genade tel ons oë op om verby die sigbare te kyk.  Genade laat ons verder sien. Ons sien uit na die gelukkige dag wanneer Jesus in heerlikheid sal kom. Wanneer ons ons Verlosser sal sien en wanneer ons verlossing volkome afgehandel sal word. Hierdie toekomsvisie is juis ook weer ‘n sterk motivering om nou reeds heilig te leef. (1 Johannes 3:2,3)

Het God se genade al hierdie verskil in jou lewe gemaak? 

Is jy anders as voorheen?  Is jy besig om die ou dinge agter te laat? Is jy daagliks besig om ‘n nuwe leefstyl volgens God se Woord aan te leer? Het jy ‘n verwagting oor die toekoms saam met Jesus?

Miskien kom jy agter dat God se genade nog net ‘n mooi teorie vir jou is. God het sy genade aan jou beloof, maar jy het dit nog nooit doelbewus in Jesus aanvaar nie. Jy loop as’t ware  met ‘n getekende tjek in jou sak, maar jy het dit nog nooit getrek nie. Aanvaar die ryk oorvloedige genade van God vandag, sommer  nou en jy sal sien hoe dit jou tot ‘n nuwe lewe lei!


Genade is soos reën in die Kalahari. Dit maak 'n groot (groen) verskil. Op die foto is die klein kerkie op Wilzdale, naby die grenspos Mokopong ongeveer 90 km vanaf Bray.

Dinsdag 20 November 2012

TOEGANG

- tot in God se teenwoordigheid!

Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in Eksodus hoofstuk 24. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprenkel is!

Drie groot sake kom uit hierdie gedeelte na vore :

1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! 

God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe.  Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Eeue later het die profeet Jesaja ‘n openbaring van hierdie heiligheid beleef toe hy die Here in sy tempel gesien en gehoor het hoe die serafs roep :”Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jesaja 6:3) Terloops, dit het hom platgeslaan in berou en belydenis voor God.  Dit  was egter ook die begin van sy belewenis van versoening en die daaropvolgende roeping. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier  die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte!  Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout. God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep.  Sy  heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. Dink maar ook aan Hebreërs  waar die Sinaï gebeure in herinnering geroep word, en die skrywer dit weer onder ons aandag wil bring : “Ons God is ‘n verterende vuur!”  (Hebreërs 12:29) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God!

As daar nou een uitstaande nood en behoefte in die kerk van ons tyd is, is dit om weer duidelik 
te besef wie God is!

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense.

Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en  gelei met ‘n baie duidelike doel en spel dit uit in Eksodus 19:4-6.  (lees)  Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring!  Ja, om by Hom te wees! God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

Weet dit, God wil ook  in ‘n innige verhouding met JOU staan!

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou.

Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense!  Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf?  Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit  hierdie gedeelte (die antwoord is die evangelie self) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God.

Vers 10 en 11 vertel ‘n uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n hoogtepunt. “Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.”

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was.  Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis eintlik vandag nog so ook in ons kultuur. Mens nooi nie sommer enige een vir ete nie. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie!  Hoekom is dit so buitegewoon?  Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is!

Die boodskap vir ons wat Nagmaal gebruik as God se kinders  is baie duidelik. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons moet gereinig word deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. (Dis evangelie!) Dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van ewige tafelgemeenskap met God.  In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” baie persoonlik aan elkeen bevestig wat glo. “Dis vir julle!”  In die Nagmaal beleef ons  nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here  as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam. Amen!

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE

Dinsdag 13 November 2012

GOD SE BOME IS KOSBAAR

- bewaar hulle!

God se kinders het respek vir Hom - vir sy heiligheid, almag en  koningskap. Dit sal verseker ook respek insluit vir sy skepping. Dis tog net logies : as ek die Skepper eer en aanbid sal ek ook sy skepping bewonder en oppas. Natuurlik het ons as Christene ‘n gebalanseerde benadering. Ons verafgod en aanbid nie die natuur nie. Ons het nie ‘n onrealistiese Greenpeace houding wat dikwels meer skade doen as goed nie. Ons erken met dankbaarheid dat God vir ons plante en diere gegee het om verantwoordelik te gebruik!

Namibië is geseënd met ‘n goeie grondwet wat voorsiening maak vir die bewaring van ons natuurlike erfenis. In praktyk werk dit ongelukkig nie altyd so op voetsoolvlak  nie. As boomliefhebber is ek baie bekommerd oor die uitroei van kosbare inheemse bome in ons relatief boomskaars en droë land.

Wes van Otavi vind mens pragtige groot mopanie (Colophospermum mopane) savanne. Reuse oeroue bome wat in harde omstandighede die toetse van die tyd, baie droogtes en veldbrande deurstaan het. Hierdie bome word nou teenstrydig met die wet vir die maak van houtskool afgekap. (Ek praat van groot bome, nie van struikmopanies nie!) Nie almal in die houtskoolbedryf beperk hulle blykbaar tot die ontginning van indringerbos soos sekelbos of swarthaak  nie! Vir kortstondige kontant word onherstelbare skade aangerig!





Nog ‘n bekommernis. In die Kavango streek vind die grootskaalse kap van pale plaas. Dis skaars stadig groeiende boomsoorte soos Vals Mopanie, hier ook genoem Osiwi (Guibourtia coleosperma) wat hiervoor aangewend word. In praktyk is dit ‘n bron wat nie hernubaar is nie. Veldbrande veroorsaak dat baie min nuwe jong boompies ooit sal oorleef. Dis ‘n pyn in die siel om die hope pale langs die paaie van ons pragtige land so te sien!


Hierdie pale word opgelaai in die Kavango deur 'n vragmotor met 'n Vrystaatse registrasienommer. Wonder of die eienaar daarvan weet?


Mag ons mense tog leer om respek vir bome te hê! Dis immers God se bome! “Die bome van die Here...” (Psalm 104:16)


GOD'S TREES ARE PRECIOUS
- protect them!

God’s children respect Him. His holiness, His omnipotence and Lordship. That will include respect for His creation. It rather goes without saying. If I honour and worship the Creator, I would also care for his creation! Off course, we as Christians have a balanced approach. We don’t  idolize or worship nature. We don’t support a Greenpeace type of attitude, which causes more harm than  good. We acknowledge with gratitude that God has  provided plants and animals for us to use in a responsible way!

Namibia is blessed with a good constitution which provides for the protection of our natural heritage. Unfortunately this doesn’t always have the desired effect in real life. As a lover of trees, I am very much concerned about the exploitation of our precious indigenous trees in our country which is quite dry and has relative few trees.

To the west of the town of Otavi, one finds a beautiful example of mature mopane (Colophospermum mopane) savannah. Ancient trees which survived the onslaught of ages, droughts and fires! These trees are cut in defiance of the law and used for the production of charcoal. (I refer to mopane trees and not mopane shrubland) It seems that the charcoal industry doesn’t always confine itself to the harvesting of encroaching species like sicklebush and swarthaak. The allure of quick bucks causes irreparable damage to our environment.

Another concern. Large scale harvesting of poles takes place in the Kavango region. Rare slow growing species like African Rose, locally known as Osivi (Guibourtia coleosperma) are exploited. This is for all practical purposes a resource that is not renewable. Annual fires prevent most sapplings to mature. It is painful to see the heaps of poles from these rare trees along our country’s roads for sale.


May our people learn  to respect our precious trees! In fact, these trees are God’s trees! “The trees of the Lord...” Psalm 104:16

Saterdag 10 November 2012

JUIG SAAM MET JUDAS

- God bewaar ons onbevlek en veilig  tot die voleinding!

(maak gerus oop by die brief van Judas)

Sal die kerk van Jesus bly voortbestaan? Kyk net die aanslag van Satan, van vals profete, die baie misleidings... Sal ek as kind van God veilig by my finale bestemming aankom? Kyk hoe sterk is die versoekings en teenstand… Hierdie kort briefie van Judas (nie Judas Iskariot nie, maar waarskynlik Judas die broer van Jesus) is ‘n goudmyn van troos en bemoediging, maar ook ‘n sterk vermaning en oproep tot aksie. Hierdie boodskap raak elke kind van God baie prakties. Kom ons blaai vinnig deur hierdie brief:

Judas  maak God se kinders attent op ‘n bedreiging. (3-4) Judas wou graag op die positiewe aspekte van die geloof konsentreer, maar daar is nou ‘n dringende saak wat hy eenvoudig op die tafel moet plaas. Dis die bedreiging van  valse lering wat die genade misbruik as ‘n dekmantel om losbandig te leef. Die redenasie van diesulkes is : “Ag, sonde is nie so erg nie, want God is vol genade en liefde. Ag, ons kan maar leef soos ons wil, want die Here sal mos maar verstaan.”  Ons kry dit in baie vorme : “niemand is mos volmaak nie, ons is mos maar net mense, ons voel wat ons doen is reg...” (Dis ‘n siekte van ons tyd. Dit wat mense subjektief “voel” is vir hulle baie belangriker as wat die Bybel objektief duidelik beveel.)

Judas beklemtoon die belofte van God se bewaring. Judas begin sy brief op ‘n baie ernstige donker swaar klank, maar  sluit sy brief af op ‘n heerlike triomfantelike noot in vers 24,25.

 “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou…” 

Ons hoop lê in die almag van God!  Dis waaroor Judas juig! Ook ons mag bly wees oor God se bewaring!  Ten spyte van Judas se ernstige vermanings is hy positief hoopvol oor die kinders van God se ewige sekuriteit. Ons kry ‘n soortgelyke sekerheid by Paulus. (Filippense 1:6) Maar baie belangrik : God se beskerming van sy kinders is nie iets wat net onsigbaar gebeur nie, maar het ‘n praktiese menslike sy waarvan ons moet kennis neem.

Judas  herinner ons dat Goddelike bewaring ook ons gehoorsame betrokkenheid vereis. Die vaste belofte van God se almagtige bewaring van sy kinders is ‘n heerlike troos. Maar hoe gebeur dit in praktyk? Hoe bewaar God ons? Die brief in geheel gee die antwoord. God bewaar ons:

- deur ons  te waarsku. (5-7) Soos deur die vermanings van Judas en ander Nuwe Testamentiese briewe, o.a. Hebreërs. Judas gebruik drie voorbeelde in sy waarskuwing  om aan te dui dat God nie losbandigheid en dwaling sal duld nie. Die eerste voorbeeld is die volk Israel vir wie God uit Egipte verlos het. Al het God hulle verlos deur sy liefde het Hy nie gehuiwer om diegene wat daarna afvallig geword het nie, in die woestyn te laat sterf nie! Pasop om terug te val op ‘n genadewerk in die verre verlede, terwyl jy nou in sonde volhard!  ‘n Tweede voorbeeld is die van die gevalle engele. Ons moet ook onthou dat God die engele wat teen Hom in opstand gekom het, veroordeel het en in kettings gevange hou. Dit verwys moontlik na die “seuns van God” wat met die dogters van die mense gemeenskap gehad het in Genesis 6. Ons hoef nie vas te val in spekulasies  oor wat presies daar gebeur het nie. Die punt wat Judas wil maak is dat opstand en losbandigheid deur God gestraf word. Wees gewaarsku, as God engele nie gespaar het nie, moet julle nie dink dat julle kanse met God kan vat oor sonde nie! Derdens : God se onverbiddelike straf oor sonde in die welbekende oordele oor Sodom en Gemorra. Dit moet ons laat sidder! 

Ons mag nie met sonde speel nie. 
Ons durf nie God terg nie!

- deur ons op te roep tot die stryd vir die waarheid. (3) Geloof gaan nie hier oor ons aksie van geloof  nie, maar oor die inhoud van die boodskap wat ons moet glo.  Dis die basiese waarheid wat aan ons oorgelewer is en waarby ons moet bly.  Hierdie waarheid is “een maal oorgelewer”; dit dui op die finaliteit en onveranderlikheid daarvan.  Die Christelike boodskap is normatief en mag ook nie gewysig word nie. Die hoogtepunt van die openbaring is Jesus Christus, wat ons verlossing bewerk het deur sy sterwe aan die kruis en fisiese opstanding uit die dood. Ook op ‘n onderliggende etiese vlak staan God se boodskap vas. Jesus se lering oor die huwelik het nie verouder nie. God het nie 2000 gelede gesê, homoseksuele gedrag is verkeerd en nou sê Hy weer iets anders nie. Hy het nie toe gesê, “geen dronkaard sal in die Koninkryk van God ingaan nie”, maar dit nou weer gewysig nie. Die waarheid van die Bybelse boodskap  bots met die valse lering van die dwaalleraars wat sê dat ons maar lustig kan sondig, want God sal altyd genadig wees. Hierdie waarheid moet bewaar en gehandhaaf  word.  Judas sê : Stry vir die waarheid, neem standpunt in, moenie skaam wees nie, bewaar die suiwer boodskap van die Bybel. Ja, dit is die boodskap van God se genade en liefde, maar dis ook die boodskap van heiligheid en gehoorsaamheid. 

- deur groei in ons heilige geloof  en gebed, deur te fokus op die liefde van God en die barmhartigheid van Jesus. (20-21) Ons moet op ‘n positiewe manier ons beskerm teen die vals profete se aanslag. Vorder in heiligmaking, maak erns met die vrugte van ware geloof. Prakties sal dit beteken om ontslae te raak van slegte dinge, gewoontes en gesindhede in ons lewens en heerlike nuwe dinge, die vrugte van die Gees te vertoon. Maak erns met ware gebed, gebed wat deur die Heilige Gees bekragtig en gelei word. Fokus op die liefde van God. Bedink God se liefde, wees bewus daarvan, reageer daarop. Onthou ons het God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Wie bewus bly van God se liefde kan nie maklik sommer sondig nie. Ons moet ook gedurig ons hoop en verwagting stel op Jesus se barmhartigheid. Hy sal ons nie in die steek laat nie, Hy gee aan ons die ewige lewe, sy sterwe en opstandig waarborg dit! Dit gaan hier oor aktiewe voortdurende toewyding aan God en sy Woord omdat Hy ons liefhet en genade aan ons bewys het deur Jesus.

- deur ons betrokkenheid bymekaar. (22-23) Ons moet wegbly van valse leraars, maar ons moet broers en susters help wat deur valse lering beïnvloed is. In ons betrokkenheid bymekaar moet ons sag en genadig optree teenoor mense wat twyfel. Ons moet die wat twyfel geduldig bemoedig en versterk en nie sommer net afskryf nie.  In hierdie konteks van Judas gaan dit moontlik oor die wat nog nie heeltemal deur die dwaalleraars meegevoer is nie, maar nog net begin wankel. Teenoor ander moet ons meer energiek en sterker optree : ruk hulle uit die vuur! Sommige se situasie vereis kragtige besliste optrede. Dis miskien die mense wat al heeltemal vasgevang is in dwalinge en losbandigheid.  As ons ander mense help moet ons dit met versigtigheid en oorleg doen. Moenie sommer net instorm in ‘n situasie nie, pasop jy kan self ook daarin val. Anders gesê : as jy ‘n drenkeling red, maak baie seker dat jyself nie verdrink nie. Pasop om nie by ander se sonde betrek te word nie! Haat elke vorm van sonde!

Wees bly en positief oor God se bewaring, maar maak erns met die opdragte in die Woord, want dis juis hoe Hy jou bewaar.

Sondag 04 November 2012

WONDERWERKE OF WAARHEID?

- wees gewapen teen die Antichris.

As die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Die Bybel leer natuurlik ook dat daar nou reeds baie antichriste is.  (1 Johannes 2:18)  Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Ook nou in ons dag op hierdie oomblik! Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingkrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse”?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, twee belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Sien 2 Tessalonisense  2:3.

Kom ons kyk na die redes:

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so  in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof,  nie deur sien nie.”  Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”.  Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende  reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke.  Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel.  Die vals profeet as simbool van alle antiwaarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemal af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.”  Alle wonders is nie Goddelike wonders nie!  Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik  is God die almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”  Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik  te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag defnitief vuur uit die hemel sal kom, sal almal op Tsumeb hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! (10)  Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het,  naamlik die evangelie van Jesus Christus.  Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal  selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer,  geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! 

Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe planne en uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die volheid in Jesus ontdek, hoe minder sal ek val vir die valsheid en leegheid van die Antichris en sy trawante.

Eintlik is hier ‘n DERDE REDE  waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. Ons vind dit in vers 11. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intellegente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...”  Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp!

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar! 

Kies die Waarheid bo wonders! 

Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Johannes 14:6)

Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012