- afskeid van ‘n evangelie voetsoldaat.
[Dit was my voorreg om die boodskap te bring by my Pa, Johan de Koning se begrafnis op 26 September te Walvisbaai. My broer Jacobus het die bedankings gedoen en ds. Peet Poggenpoel van NG Meersig het die teraardebestelling waargeneem.
Pa was ‘n voetsoldaat vir sy Verlosser en Koning, Jesus Christus. Soos een van die broers van Narraville dit gestel het : “hy was ‘n leraar van die veld.” Hy was nie ‘n teoloog wat boeke geskryf het of ‘n kerkamptenaar wat verklarings uitgereik het nie. Hy het die destydse Suidwes-Afrika van hoek tot kant deurkruis en aan almal wat op sy pad gekom het die evangelie gebring. Van Noordoewer in die suide tot Owamboland in die noorde, van Kaokoland in die verre noord-weste tot die Caprivi in die verre noord-ooste. Hy het alle nasies bedien : van die Topnaars in die Namib tot die Herero’s en Boesmans in die Kalahari. Ja, Owambo's, Kavango's, Basters, Tswanas, Himbas, Namas, Damaras, noem maar op... en natuurlik ook mede Afrikaners het die blye boodskap uit sy mond gehoor. In die beginjare was sy vervoermiddel die bekende vuilgroen Landrover en later van tyd die groen Peugot en ook ander voertuie. In kerke, skole, tente, onder bome... in tradisionele krale en weermagkampe...het hy die weg van saligheid verduidelik. Nou het sy stem stil geword hier in Namibië, maar ons weet dat hy tot in ewigheid die lof besing van die Lam. Ja, hy wat vir sovele mense op sovele plekke die liedjie, “Wie wil saamgaan?” geleer het, is nou vir ewig, juigend in die teenwoordigheid van sy Verlosser!]
Diens onder 'n boom.
Ek het die Woord gebring* uit 2 Timoteus 4:6-8.
“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou.”
Paulus skryf hierdie brief kort voor sy dood aan Timoteus. Hy is in die skemeraand van sy lewe. Sy laaste skof op aarde het aangebreek. Sy lang en belewenisvolle loopbaan het nou die einde genader. Hy praat met nugterheid, kalmte en sekerheid oor sy naderende heengaan en die implikasies daarvan. Hy skram nie weg van die dood of leef in ontkenning nie. Daar’s geen bitterheid of opstand nie. Dis veral merkwaardig as ons besef, hy skryf uit die tronk tydens sy tweede gevangeneskap in Rome. Waarskynlik kort hierna het hy die martelaarsdood deur onthoofding gesterf. Moontlik in die tyd van die wrede keiser Nero wat ‘n onregverdige Keiser en onregverdige Regter was!
Reg hier in vers 6 se begin gee Paulus ‘n besondere perspektief op sy lewe. Hy verklaar dat hy reeds as ‘n drankoffer uitgegiet word. Dis ‘n veelseggende manier om van sy lyding vir Christus in diens van die evangelie te praat. ‘n Drankoffer het behels dat water, olie of wyn voor die Here uitgegiet is. ‘n Oënskynlike verkwisting, maar juis ‘n kosbare simbool van toewyding aan God. Dit word “gemors, verbruik” tot eer van God. Die Griekse woord wat gebruik word vir hierdie handeling is “spendomai”. ‘n Mens hoor onwillekeurig die Engelse woord “spend” hierin. Paulus se lewe is inderdaad verbruik of bestee ter wille van Christus en sy Koninkryk! Maar onthou, wie sy lewe vir Jesus "verloor", sal dit juis vir die ewige lewe "behou." (Johannes 12:25)
As ons nou verder kyk na vers 7 en 8, vra ek julle aandag vir twee hoofgedagtes : Paulus sê iets oor sy lewe en loopbaan wat verby is en iets oor wat hy na die dood verwag.
Ten opsigte van sy lewe wat verby sy lewe wat verby is, maak Paulus hierdie drie kort, kragtige, betekenisvolle frases - “EK HET....” x3
~ “die goeie stryd gestry” Die praktiese Christelike lewe van Paulus, maar ook van elke kind van God is 'n stryd. Christenskap is nie maklik nie. In Efesiërs 6 praat Paulus van 'n worstelstryd. Daar is ‘n stryd teen versoekings en sonde, die leuens, aanvalle en aanvegtinge van die Satan. Paulus het volhard in hierdie stryd. Ook jy as jy die Here Jesus getrou volg, sal stryd ervaar, omdat jy nie meer saam met die wêreld en sy norme gaan nie, maar “stroomop swem”. Volhard jy hierin, of maak jy kompromieë?
~ “die wedloop voleindig” Die lewe van 'n kind van God word treffend uitgebeeld as 'n wedloop. Net soos in ‘n wedloop is daar 'n begin. (Paulus se begin was daar oppad na Damaskus, toe God se reddende genade in sy lewe ingegryp het. Die gevolg was ‘n egte Godgewerkte bekering!) Ons moet ook iewers wegspring as ons die doelwit wil bereik. Dis my aanvanklike bekering, as ek Jesus in geloof as my persoonlike Here aanvaar. Maar dit gaan voort. Christenskap behels nie net ‘n eenmalige besluit nie, maar 'n dag vir dag volhardende keuse. Om aan te hou om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Die wegspring is belangrik, maar aanhou is net so belangrik. Maar gelukkig is daar is ook ‘n wenpaal! Daar wag rus en beloning.
~ “die geloof behou” Dit kan bloot beteken, Paulus het enduit bly glo in Jesus. Waarskynlik wil dit in hierdie konteks sê : Paulus het nie afgedwaal van die waarheid van die evangelie nie. Hy het getrou die evangelie bewaar wat God aan hom toevertrou het. (Stott) Paulus het soos byvoorbeeld die Galasiërs brief aantoon, ‘n passie gehad vir die suiwer evangelie. Hy wou niks weet van “Christus plus” nie! Hy het alle valse leringe in stryd met die eenvoudige evangelie verwerp. Dis so belangrik, ook in ons dag om vas te hou aan die suiwer waarheid. Daar is soveel dwalinge : Sommige teoloë ontken die historiese liggaamlike opstanding van Jesus. Verwarde mense hardloop agter die Hebrew Roots Movement aan wat die genoegsaamheid van Christus ontken en ons aanmoedig om weer die Sabbat en voedselwette van die Ou Verbond te onderhou! Pasop! Hou vas aan die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is! Dis wat Paulus so getrou gedoen het.
Een groot saak is baie duidelik. Paulus het nie omgedraai op die pad van Jesus nie. Hy het begin, maar ook aangehou en volgehou...enduit!
Dan sê Paulus ook iets oor dit wat vir hom wag na die dood. Die implikasie is duidelik. Die dood is nie die einde van alles nie. Die Bybel stel dit onomwonde : vir God se kinders wag daar 'n beloning na die dood! Oor die detail is dit nie juis sinvol om te spekuleer nie, maar die feit van die beloning staan vas. (vir die wat Jesus se genade geweier het, wag daar natuurlik ewige straf!) Paulus sê daar wag vir hom 'n kroon. Miskien sê u ja, maar hy was 'n apostel, hy was darem spesiaal.... Paulus ruim gelukkig alle misverstand uit die weg, as hy verklaar, dis nie net hy wat ̕n kroon gaan kry nie, maar almal wat uitsien na Jesus se koms. Is jy lief vir Jesus, het jy Hom aangeneem as Here en Koning, sien jy uit na sy koms? Weet dan verseker daar wag ̕n kroon. Filippense 1:21 is eintlik ‘n pragtige verduideliking van Paulus se gedagtes in ander woorde. “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” As die lewe vir jou om Jesus draai, as jy Hom waarlik ken, dan is die sterwe absoluut voordelig en die beste, skoon wins.
Wat is hierdie kroon? Paulus noem die kroon, die “kroon van geregtigheid” (OAV) Geregtigheid is 'n juridiese term. Hy gebruik dit waarskynlik in kontras met die onregverdige uitspraak wat die aardse regters of keiser oor hom uitgespreek het om hom ter dood te veroordeel. Die onregverdige aardse regters vind hom skuldig, maar die Regverdige Regter Jesus Christus sal hom vryspreek! Jesus spreek almal vry wat op Hom vertrou. Nie op grond van enige prestasie of goedheid in ons nie, maar weens die genoegsame betaling aan die kruis.
As jy Jesus aanvaar het, hoef jy nie die dood te vrees nie.
Jy staan nie meer skuldig nie, jy word vrygespreek, jy kry die kroon van geregtigheid. Maar die wat op Jesus vertrou het, kry meer as net vryspraak. Hulle word ook positief beloon. Hulle sal hoor : “Mooi so! Jy was ‘n goeie en getroue dienskneg. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt 25:23) Hierdie gedagte van ewige beloning, vind ons alreeds ook in die Ou Testament in Daniël 12:2,3. Daar lees ons :
“Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.”
Ons is natuurlik hartseer oor ‘n pynlike verlies, maar ons weet ons Pa gaan een van diegene wees wat vir altyd skitter soos die sterre. Hy het nie alleen die genade ontvang om self die regte pad te loop nie, maar hy het baie, baie mense in veral hierdie land (Suidwes/Namibië)** ook na die regte pad gelei. Hiervoor bring ons aan God alleen die dank en eer vandag.
En ons? Geliefdes is ek en jy kompromisloos besig met die goeie stryd, volhard ons in die Christelike wedloop, handhaaf ons die waarheid van die evangelie onverdund teenoor dwalinge en vals profete? As ek en jy nou aan die einde van ons lewe moet kom, kan ons met vertroue uitsien na die kroon van geregtigheid?
Paulus praat natuurlik nie oor sy loopbaan en verwagtinge om homself op die skouer te klop of menslike applous in te samel nie. Hy moedig hierdeur vir Timoteus (en vir jou) aan om ook te volhard in die geloofspad. Mag Paulus se woorde, en ja ook Pa se nederige voorbeeld in ons gedagtes en harte voortleef en ons aanspoor.
*Die preek is effens verwerk. Die oorspronklike is beskikbaar in mp3 formaat.
** Natuurlik het Pa ook die evangelie in ander lande in Suider-Afrika verkondig, en was hy selfs op 'n keer in Indonesië.
** Natuurlik het Pa ook die evangelie in ander lande in Suider-Afrika verkondig, en was hy selfs op 'n keer in Indonesië.
Na sy laaste aardse rusplek
Tate Vilho Shihandya, 'n ou kameraad uit sy dae in die Dorothea sending praat by die graf.
Voor die Here.
Saam met ons dierbare moeder, wat altyd getrou aan sy sy gestaan het
Saam met ons dierbare moeder, wat altyd getrou aan sy sy gestaan het
Lees meer oor Pa deur hier te kliek op PA WORD TAGTIG