Laat ek dit duidelik stel al loop ek die gevaar om misverstaan te word en selfs van my beste vriende te antagoniseer. Hierdie man het ‘n groot gemors veroorsaak. Die mees blywende skade is dit wat sy gedrag aan die beeld van die evangeliese Christendom aangedoen het, weens Christene se openlike en kritieklose aanhang van ‘n goddelose narsis.
Is TRUMP ons Simson?
Donald Trump is binnekort nie meer president van die VSA nie. Dis ’n feit... Vir baie aanhangers is dit ’n ontstellende gedagte en bitter pil om te sluk.
’n Mens kan dit verstaan. Vir baie was hy die kampioen van ‘n “Christen Amerika”, vir sommige het hy semi-messiaanse status verwerf. Baie wonder nou : Gaan die son nou sak oor “Christen Amerika”?
Die
geweldige ontsteltenis van Trump se evangeliese aanhangers kan mens ook begryp
binne die konteks van die kulturele oorlog in die Amerikaanse samelewing. Trump
se positiewe invloed in byvoorbeeld die aanstelling van bekwame konserwatiewe regters
in die Amerikaanse “Supreme Court” kan deur niemand ontken word nie!
Kommerwekkend
vir my is, wel die bykans fanatiese aanhang van Trump deur belydende
Christene. Nog meer ontstellend is die
rasionaal waarmee sommige hulle lojaliteit en lofprysinge aan Trump wat ’n
goddelose lewe lei, regverdig. “Trump is ons
Simson,” beweer so baie. Die argument klink so oortuigend: God gebruik so 'n twyfelagtige karakter om sy volk vir 20 jaar te lei en teen die vyand te
beskerm, so Hy kan dit weer doen. Op die oog af is dit ’n heel gepaste vergelyking. En die bos hare is
nie die enigste punt van ooreenkoms nie... Simson was glad nie ‘n engel nie. Hy
was waarskynlik ’n goeie kliënt van ’n hele paar prostitute en dit nogal
heidense Filistynse vroue van die nag. Ons ken mos almal vir Delila en sy was sekerlik
nie die enigste een nie! “Trump het ook
sy swaktes met vroue en geld en ’n oordrewe ego, maar God gebruik hom om goeie
dinge vir die koninkryk te doen. Daarom moet ons hom steun.” So kon die
argument gevoer word...
Vertrekpunte :
Voordat
ek my probleem met sommige Christene se bewondering en soms selfs kritieklose openbare
ondersteuning aan Trump probeer verduidelik, laat ek net ’n paar vertrekpunte
duidelik stel:
Ek
verskil met niemand dat Trump soms goeie dinge gedoen het nie. Selfs baie
slegte ouens soos Hitler het ook soms goeie dinge gedoen. Hitler was sterk
gekant teen kommunisme, soos ek glo ons almal is. En ek dink ons almal was bly
toe Trump vir Sjina vasgevat het. Hoe suksesvol dit was, sal die toekoms moet
leer...
God kan inderdaad goddelose en bose mense gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Die Ou Testament is vol voorbeelde. God kan ook ’n donkie as prediker inspan, maar dit beteken nie ons moet ons beywer vir die legitimasie van donkies op die kansel nie!
Vir
die rekord (as party dalk mag wonder). Ek is en was nog nooit ’n ondersteuner van die Demokrate in Amerika
nie. Nog nooit was ek ook ’n liberalis, sosialis, anargis of kommunis nie!
Nou wat is dan my probleem met die
“evangelicals”
se ophemeling van Trump?
Eerstens. Ek betreur die feit dat Christene ongekwalifiseerd en luidkeels vir Trump prys en ondersteun. En wel op so ’n manier dat dit die evangeliese Christendom se beeld kontamineer en kompromitteer.
Die wêreld daarbuite verstaan nie allerhande fyn nuanses nie. Trump word deur baie evangeliese leiers en hulle volgelinge as ’n Christen held voorgehou wat Amerika en die wêreld van allerhande bose skemas soos globalisering en sosialisme moet bevry. Dit skep ’n bepaalde (valse) beeld van Christenwees in die oë van die wêreld. Dit lei tot ‘n skeeftrekking en verwringing van wat Christenskap behels. Of ten minste ’n ernstige verskraling. Wat bedoel ek? Ongelowiges wat die debat in Amerika volg kan die indruk kry dat aborsie en sosialisme doodsondes is, maar dat Christene hulle oë toeknyp vir die onheile van huweliksontrou, geldgierigheid, leuens en hoogmoedige selfverheerliking. En verskoon my, maar wêreldlinge kan dalk ook die indruk kry dat Christene onnosele “conspiracy” entoesiaste is wat hulle deur enige glansgans swendelaar om die bos laat lei! Dis presies wat Trump is. ’n Swendelaar. Voormalige Republikeinse presidentskandidaat kandidaat Marco Rubio het self op ‘n keer vir Trump ‘n “con artist” genoem! Baie gerespekteerde Amerikaanse Republikeine wou juis daarom niks met hom te doen hê nie. Dink John Mcain en Mitt Romney. En selfs sy eie handuitgesoekte handlangers moes uiteindelik deur die rookskerm sien...Tillerson, Mattis, Bolton, Barr... Waarom sê Ben Sasse, Republikeinse konserwatiewe senator van Nebraska, dat Trump “flirted with white supremacists”, hanteer die presidentskap soos ‘n “business opportunity”, en “kisses dictators’ butts”? Die voormalige Republikeinse goewerneur van Kalifornië het Trump as die "worst president ever" uitgekryt. So kan mens aangaan... Wat sien hierdie mense wat die onkundige evangeliese skape nie kan raaksien nie? Terloops, praat van onkunde, ek kry die indruk dat die gemiddelde Christen deesdae meer op hoogte is van die jongste “conspiracy” teorie as met die evangeliefeite self! Daar is groter vrees vir ‘n inentings as vir sonde!
Die kernvraag wat jy
jouself moet vra : Is Trump se beeld,
leefstyl en waardes bevorderlik vir die evangelie in die wêreld?
Tweedens. Ek het ’n probleem met die tipe hermeneutiek en koninkryksperspektief wat van Trump ’n soort Simson kampioen van die hedendaagse Christendom en veral die Amerikaanse variasie daarvan wil maak.
Die Simson argument (waarna ek reeds kortliks verwys het) loop soos volg : Ja, ons
weet dat Trump se sedelike morele lewe nie heeltemal op standaard is nie. Maar
ons hoef nie te veel daaroor bekommerd te wees nie, want God het destyds vir
Simson met al sy swakhede (soos vir vrouens) ook gebruik om sy volk te verlos. EINA!
Kom
ek verduidelik hoekom ek hierdie tipe verskoning en verklaring hermeneuties
onaanvaarbaar vind.
Dis berus op ’n subjektiewe eksemplariese verstaan van die Ou Testament wat erg problematies is. Met hierdie tipe van uitleg sou mens ’n menigte soort onheile soos veelwywery, etniese suiwering en godsdienstige geweld uit die Skrif kon regverdig. Noag was dronk, so geestelike leiers met alkoholprobleme is aanvaarbaar? Nee, ons lees die Ou Testament tog heilshistories. Die rigters, konings, profete en priesters van die Ou Testament was almal onvolmaak en juis daarom het Jesus ons volmaakte Middelaar en vervulling van al die ampte gekom en is ons hoop op Hom en nie op Amerikaanse ‘casinobaas’ Simsons nie!
Ons kampioen is Jesus. Die arm, nederige
en lydende Jesus. Nie die ryk,
grootpraterige, gemaksugtige Trump nie!
Die kontras kan nie groter wees
nie!
(Natuurlik,
Ou Testamentiese helde kan wel as voorbeelde voorgehou word, maar dan
geïnterpreteer via die finaliteit van die openbaring in Jesus Christus. Soos
Jakobus vir Elia as voorbeeld van ’n voorbidder gebruik.)
Die
VSA is ook nie gelyk te stel aan Israel
van destyds nie. God se volk is nie meer een etniese of nasionale
groepering nie, maar Sy kerk gekoop uit alle volkere wat verspreid as
vreemdelinge en bywoners op die aarde woon. Baie Amerikaanse Christene maak hulle
self skuldig aan ’n tipe sakralistiese denke dat God by voorkeur die God van
Amerika is en dat sy koninkryk deur wetgewing bevorder moet word. Ek weet dis
’n oorvereenvoudiging en alle Amerikaanse Christene dink nie so nie. En
tog... Amerika het allermis nie iemand soos Trump nodig nie,
Amerika het verkondigers van die ware evangelie nodig! Die liberalisme, valse teologie, “Prosperity Gospel” en die pro LGBTQ kultuur
van Amerika gaan nie deur wetgewing en bebaarde pro-Trump militialede (wat die
Capitol bestorm) verander word nie, maar slegs deur ‘n ware egte werking van
God se Gees. “Make America great again” is geensins ’n Christelike slagspreuk
nie, want Amerika is nie gelykstaande aan die koninkryk van God nie.
Wat is die kern van die saak? Onthou maar wat Jesus vir Pilatus gesê het.
"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie" (Johannes 18:36).
Jesus het geen ideaal vir ‘n aardse utopie
binne hierdie bedeling nie en daarom gebruik HY nie die middele van mag en
geweld om dit te bereik nie. Nee, Hy stap die pad van die kruis!
Waar
Christene hierdie boodskap van Jesus vergeet het, was daar ‘n bitter nasmaak
met ernstige gevolge! Orals waar daar ‘n “huwelik” tussen kerk en staat,
evangelie en nasionale belang was het dit ellendige nagevolge vir die
geloofwaardigheid van die evangelie gehad. Die voorbeelde is te veel op te noem
en wyd uiteenlopend. Dink maar aan die gevolge van die kruistogte in die Midde
Ooste, die Münster tragedie en die erfenis van Oliver Cromwell se brutaliteit
in Ierland. Nader aan ons lyf, die ongesonde vennootskap tussen kolonialisasie
en sendingwerk, nasionalistiese politieke leiers soos Hendrik Witbooi wat
moorde op onskuldige blankes vanuit die Bybel geregverdig het en laat ons nie
vergeet van die destydse onheilige alliansie tussen die Nasionale party, die
Broederbond en die NG Kerk nie! Jesus se volgelinge is nie veronderstel om
jihadi’s te wees wat die koninkryk van God met die swaard, staatsmag en
drukgroepe moet bevorder nie!
Ek
weet sommige gaan my beskuldig van ‘n apatiese wêreldvreemde houding. Dis
allermins wat ek wil bevorder. Elke Christen moet sy Christenskap op die
markplein uitleef (van onderwysers, boere tot politici) en so sal ‘n hele
kultuur positief beïnvloed word. Dis
egter iets heel anders as om fanaties opgewonde te raak oor ‘n aardse prins !
Ek dink Timothy Keller bekende leraar van New York het die regte balans: Oor Donald
Trump sê Keller dat anders as ‘n geslag gelede, “many evangelicals are not
looking to put Christians into power in order to turn the culture back to God;
now they are looking for a protector, a champion.
“Both
those evangelical strategies are wrong,” volgens Keller “Both of them are about
power and saying, How are
we going to use power to live life the way we want? They’re
not enough about service; they’re not enough about serving the common good.
Trump laat ‘n spoor van leuens agter! Waar is die belastingopgawes wat hy sou vrystel? Hoeveel het Meksiko toe vir die muur betaal soos wat hy beloof het? Hy is lief vir ongesubstansieerde samesweringsteorieë soos byvoorbeeld dat Obama nie in die VSA gebore is nie. (birther conspiracy). Hy het geen morele kompas nie. Hy val Iran aan, maar is baie toegeeflik teenoor Saoedi Arabië (Kashoggi sage) en Turkye. Hy het die Koerde wat saam met hom teen Isis geveg het in die rug gesteek. Hy beledig Denemarke omdat hulle nie Groenland aan Amerika wou verkoop nie... Bedorwe klein seuntjie mentaliteit! Hy beledig mense links en regs met allerhande skeldname.* Probeer ander verkleineer. Soos vir Mcain omdat hy ‘n krygsgevangene was, terwyl Trump self nooit eens diensplig gedoen het nie! En NEE, jy hoef nie CNN of ander vyandige linkse media te raadpleeg nie, lees maar net sy eie tweets! Trump se eie woorde veroordeel hom! En beslis gaan sy bombastiese “tantrums” geen vriende vir die evangelie wen nie, maar eerder ‘n struikelblok in die pad van die evangelie oprig!
Billy Graham se kleindogter vat die gevolge van die evangelicals se geheul met Trump goed raak : “The entire world has watched the term ‘evangelical’ become synonymous with hypocrisy and disingenuousness,”
‘n Ander evangeliese kommentator, Ed Stetzer terwyl hy positief is oor sekere van Trump se prestasies stel dit so : “He’s burned down the Republican party, emboldened white supremacists, mainstreamed conspiracy theorists, and more.Yet of greater concern for me is the trail of destruction he has left within the evangelical movement. Tempted by power and trapped within a culture war theology, too many evangelicals tied their fate to a man who embodied neither their faith nor their vision of political character."
Die bekende John Piper se kritiek op Trump is welbekend. Gaan lees dit maar self. 'n Mens is dankbaar vir elke evangeliese leier wat opgestaan het vir die waarheid!
Daniël
Vir ons getuienistaak in die wêreld het ons Daniëls nodig en nie Simsons nie!
Die kerk van Jesus wat glo in die swaard van die
Gees maak nie staat op wette en op (korrupte) prinse om die evangelie te
bevorder nie.
Die triomf van die waarheid en die kerk kom deur suiwer prediking, die regte beoefening van die
sakramente en ‘n Bybelse toepassing van dissipline (kerklike tug), nie deur gedwonge
uiterlike vertoning van openbare vroomheid nie. Mag ons weer terugkeer na hierdie beginsels met die krag wat God ons gee!
NOTAS
* Die jongste belediging is teen sy eie lojale vise president Mike Pence gerig. Trump se Facebook inskrywing. En onthou geen federale regter (waaronder Trump se eie aanstellings kon beduidende bewyse van bedrog wat die verkiesingsuitslag sou verander vind nie) :
Donald J. Trump
January 6 at 11:28 AM · Mike Pence didn’t have the courage to do what should have been done to protect our Country and our Constitution, giving States a chance to certify a corrected set of facts, not the fraudulent or inaccurate ones which they were asked to previously certify. USA demands the truth!
** Vergelyk die Suid-Afrikaans gebore vals profeet Kim Clement se profesieë oor Trump.
*
Johannes, baie dankie vir ‘n helder Christen noot te midde van die kakofonie van Christelike chaos. Ek dink nie enige nugtere, Nuwe Testamentiese Christen, kan na die Capitol Hill waansin anders as om met jou saam te stem nie. Die gebeure daar het gewys dat Trump en sy ondersteuners geensins aan die kant van die Koninkryk van God, soos deur Jesus verkondig, staan nie. Ek is bevrees dat Christene se ondersteuning van Trump waarskynlik die oortjies van die seekoei van ‘n groter probleem is. ‘n Misverstaan van waar ons as Christene onsself bevind met betrekking tot die Bybelse verhaal, en van wie ons God is. Waaroor die Koninkryk van God gaan. Jesus kom wys ons wie God nou is ( Joh 1:18). Ons leef nie meer onder die Ou Testamentiese bedeling nie. Alles is nou radikaal anders. Onder die Ou Testamentiese bedeling het jy onrein geword as jy iemand wat onrein is aanraak. Jesus kom raak onreines aan en Hy word nie onrein nie, hulle word rein. Onder die Ou Testamentiese bedeling was almal wat nie Jode was, en teen die Jode was, vyande van God wat dikwels uitgewis is. Nou word hulle God se volk in en deur Jesus. In Matteus 5:3-12 kom wys Jesus baie duidelik dat die kenmerke van mense wat aan die Koninkryk van God behoort, loodreg indruis teen feitlik alles wat ‘n mens in die laaste weke van Trump en sy ondersteuners gesien en gehoor het. So kan ons aangaan. Johannes, as jou boodskap net Christene weer kan laat dink aan waaroor die Koninkryk van God in die Nuwe Testament gaan – wel dan was jou boodskap geslaagd!
AntwoordVee uitBeste Johannes,
AntwoordVee uitEk het nie so ‘n kinderagtige “uitbarsting’’ van 'n gerespekteerde leraar verwag nie. Hou jou tog asseblief by jou lees en laat die politiekery oor aan mense wat die groter prentjie raak kyk, maar ek wil jou tog 'n klein hupstootjie in die regte rigting gee – dit is nou as jy oop is vir ander menings bo en behalwe jou eie (oningeligte) voorveronderstellings. Ek verwys na jou valse/leuenagtige aanval op Donald Trump i/s die tragedie wat verlede week in Washington afgespeel het en jou beskuldiging dat hy verantwoordelik was vir die aanhitsing tot geweld en brandstigting wat daar plaasgevind het… dit ds. kom mynsinsiens neer op suiwer laster. Gaan doen in die vervolg ‘n bietjie wyer navorsing as om net na die sensasionele disinformasie- brokkies wat die “fake news’’ groep op internet die mense voer te luister en dit dan aan die groot klok te hang as die waarheid.
Ek plaas twee skakels hieronder, een wat ‘n meer realistiese en korrekte prentjie van gebeure tans aan die gang daar oorkant weergee en die tweede skakel is ‘n regstreekse uitsending van sy toespraak tydens die Capitol Hill saamtrek. Luister asb. en vergewis jouself van die werklike feite.
En ten laaste ds. ons gewone Christene beskik oor meer oordeelsvermoë
as waarvoor jy ons krediet gee, so jy hoef nie bang te wees dat Trump, om jou woorde te gebruik, die “evangeliese Christendom se beeld [sal] kontamineer en kompromitteer [nie]”.
https://www.youtube.com/watch?v=rqVDsTicFz8
https://youtu.be/zo_9dGnZgVI
MS Blaauw
Vriend Blaauw.
Vee uitBaie dankie vir u opmerkings rondom Pres Trump. Liberaliste doen soos altyd groot moeite om die leuen as werklik voor te stel. Die satan staan hul by en ongelukkig glo heelparty landsburger die soort van verhale.
Het ook probeer kommentaar op Ds de Koning se aanval lewer maar hy het dit goedgedink om dit nie te plaas nie.
Dankie vir jou oordeelsvermoee.
Groete.