- DIE TRAGEDIE VAN KORTSTONDIGE OPWELLINGS EN DIE GEVAAR VAN VERBYGAANDE GELOOF
In die profeet Hosea hoor ons God se verwyt : “Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.” Dis ‘n beeld wat ons in ‘n droë land soos ons s’n baie goed verstaan. Party oggende is daar die pragtigste belowendste wolke, maar na ‘n rukkie is hulle weg en brand die son maar weer net so fel soos altyd... Net so is die vogtigheid van dou ook maar van korte duur...
Eeue later in JOHANNES 2:23-25* lees ons die volgende skokkende woorde met betrekking tot Jesus se bediening : "En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo (πιστεύω) , omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou (πιστεύω) nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is."
Tydens die Paasfees was Jesus besig om te preek en mense gesond te maak. Jesus se woorde en wonderwerke het ‘n groot impak op die skare gehad. Op die oog af was dit 'n baie suksesvolle uitreik. Jesus se naam was op almal se lippe! Baie het tot 'geloof' gekom. Mens kan aanvaar daar was groot opwinding, bewondering oor Jesus se mag en heel moontlik trane van dankbaarheid en meelewing. In ons taal sou mense dalk kon sê : “Maar dis mos herlewing! Dis wonderlike nuus! Hier gebeur iets!”
Aangrypend en wonderlik, maar ongelukkig gooi vers 24 koue water op hierdie heerlike warm wonderlike nuus. Van Jesus word gesê dat Hy Hom aan hulle nie toevertrou het nie. "Toevertrou" is dieselfde Griekse woord (πιστεύω) en word weer gebruik. Daar staan wel dat die skare geglo (πιστεύω) het.....maar Jesus aanvaar nie die egtheid van hul geloof nie.
Als wat soos geloof lyk is nie geloof nie. Als wat blink is nie goud nie!
Hul geloof kan as wondergeloof of skyngeloof of tydelike geloof beskryf word. Sulke geloof lê vlak in die emosies en verdwyn na 'n tyd. Omdat dit net 'n emosionele ervaring is en nie 'n hartsverandering nie, bluf dit baie mense. Jesus kan egter nie geflous word nie, want Hy weet wat binne die mens aangaan. Jesus kyk dwarsdeur die skyn en die opwinding en die mooi woorde...
Die probleem met hierdie mense in Johannes 2 se geloof en liefde is ‘n ou probleem! En dis vandag nog ‘n probleem! Dit was reeds in die tyd van die Ou Testament so. Dikwels was Israel se liefde en toewyding was ook net tydelike en verbygaande van aard. In Hosea 6:1-3 kry ons ‘n boetelied.
"Kom ons gaan terug na die Here, want Hy het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hy het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind.
Hy sal ons na twee dae ‘n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.
Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik."
GOD SIEN DEUR DIE SKYN
Jy kan maar sê dis ‘n toewydingsgebed, ‘n bekeringsgebed. Pragtige waarhede, aangrypende woorde! Dit klink so mooi en vroom, so diep gelowig. Maar wag ‘n bietjie, wat is God se reaksie op hierdie boetelied? Hy is glad nie beïndruk nie.
“Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.
Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.” (Hosea 6:4-6)
God kyk dwarsdeur hulle en sien dat hulle toewyding net ‘n tydelike opwelling en emosie is. Hulle toewyding is maar net uiterlik. Hulle kastige liefde is kortstondig en onbetroubaar. As die son opkom verdwyn die morewolkies en verdamp die dou baie gou. Hierdie mooi toewydingswoorde van Israel flous Hom nie en Hy waarsku hulle dat Hy hulle nog steeds gaan straf.
Pasop vir tydelike indrukke, tydelike bekering, tydelike toewyding, tydelike berou, tydelike emosies! Pasop vir uiterlike en kunsmatige veranderings. Ons moet hierteen gewaarsku... Almal wat ‘n lekker ervaring gehad het, wat opgewonde van mannekampe af terugkom of by 'n groot Angus Buchan saamtrek was, is nie noodwendig waarlik gered nie... Jy het dalk iets wonderliks beleef, maar wat het daarvan geword? Moenie stop en stilstaan by ‘n wonderlike gevoel en ‘n paar trane nie! Gaan tot by die kern. Ploeg 'n braakland! Laat God jou hart ondersoek en nuutmaak! Weet dat ‘n paar uiterlike aanpassings nie genoeg is nie. God soek ‘n hartsverandering. Hy sê in Hosea 6:6, Hy wil eerder liefde hê as offers. Eerder toewyding as brandoffers. ‘n Hele nuwe lewenshouding. Nou wat gebeur hier? Het God sy volk afgeskryf? Staan die deur nou toe vir hulle (en vir ons)?Nee!!
Dit gaan op die ou end juis oor God se liefde wat sy kinders terugroep! (Hosea 11:8) “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
God het sondaars REGTIG LIEF!
As ons dit maar wil raaksien... Daarom roep HY weer opnuut vir jou en my... “Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (Hosea 12:7) Wat beteken hierdie opdrag vir ons in Nuwe Testamentiese konteks?
WARE GELOOF
Ware geloof is nie net ‘n lekker gevoel nie. Ware geloof is nie ‘n tydelike opwinding nie. Ware geloof is ‘n voortdurende afhanklike kyk na die Gekruisigde Jesus! Onthou, net na Joh 2 kom Jesus in Joh 3 en verduidelik die wedergeboorte is die soewereine werk van die Heilige Gees, maar die opdrag kom tot ons : “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15) Die oproep gaan oor vertroue op Jesus om jou van alle sonde te reinig.
Hoe lyk egte Christenskap dan nou teenoor tydelike opwellings en oppervlakkige veranderings? Ons ken mos die antwoord : Sonde, verlossing en dankbaarheid is die elemente van ware egte Christenskap. Egte geloof maak erns met die aakligheid van sonde, maak erns met die genoegsaamheid van Jesus as Verlosser, maak erns met ‘n opregte dankbaarheidslewe van gehoorsaamheid! En in hierdie dankbaarheid moet ons volhard! “Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” (Markus 13:13)
Het jy regtig die saak met God uitgemaak of is jy tevrede met net tydelike indrukke?
*Erkenning aan my broer Denzil Dick wat hierdie kwessie onder my aandag gebring het. Van hierdie gedagtes kry ek by hom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.