BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 28 Junie 2012

BILLIK EN TOT ONS BESWIL

- afwesige pa's is nie God se bedoeling nie!

Onlangs berig die dagblad BEELD : Die getal wit mans in Suid-Afrika wat kinders het, maar “afwesig” is omdat hulle nie in dieselfde huis as hul kinders woon nie, het van 13% tot 17% gestyg.

Dít blyk uit syfers wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) ingewin en ... in Pretoria op die jaarlikse konferensie oor kindermishandeling voorgelê is.

Lucy Holborn, navorsingsbestuurder van die SAIRV, het gesê die navorsing oor afwesige pa’s is een van die kommerwekkendste dele van hul studie oor gebroke gesinne.

Afwesige swart pa’s het van 46% tot 51% gestyg en afwesige bruin pa’s van 34% tot 39%, terwyl die afwesige Indiër-pa’s van 17% tot 13% afgeneem het.

Meisies wat sonder hul pa grootword, is meer geneig om ’n swak selfbeeld te hê en riskante seks te beoefen en om probleme in romantiese verhoudings te hê.

Seuns wat sonder ’n pa grootword, is meer geneig tot aggressiewe gedrag.

Sue Krawitz, voorsitter van die Nasionale Aannemingskoalisie en direkteur van die Impilo-kinderbeskermings-en-aannemingsdienste, het gesê net 33,5% van Suid-Afrikaanse kinders woon by albei ouers.

Hierdie skrikwekkende toestand is die direkte gevolg van die verwerping van God se voorskrifte en bepalings!

Kom ons verduidelik. God is ons Maker en Hy het die bekwaamheid en reg om die reëls van ons bestaan te maak. Hy het sekere ordes daar gestel. Sy ordes is goed en onontbeerlik vir ons welsyn en funksionering as mense tot sy eer. In Deuteronomium 4:8 sê Moses van God se wette en voorskrifte :

“Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?”

GOD SE BILLIKE BEPALINGS IS TOT ONS EIE BESWIL.

Ons verwerp dit tot ons eie skade en skande! Die ontwerper en vervaardiger van ‘n spesifieke  voertuig weet mos wat is die beste brandstof, olie, smeermiddels en gebruiksvoorskrifte vir daardie bepaalde model. Wie dit ignoreer sal ongetwyfeld skade ly. God as ons Ontwerper en Maker, weet wat is vir ons die beste. God het vir ons voorskrifte gegee oor al die verhoudings waarin ons staan : man en vrou,  ouers en kinders, werkgewers en werknemers... Dit was waar vir die Israeliete voor Christus se koms. Maar ook vir ons wat leef na Jesus se koms is daar voorskrifte en opdragte. In die Nuwe Verbond het Jesus self ons norm geword en alle verhoudings kom vernuwe. Die vryspraak wat God ons skenk deur geloof in Jesus moet gevolg word deur ‘n nuwe lewensstyl van heiligmaking. Dit vind op ‘n praktiese wyse neerslag in gehoorsaamheid aan die Nuwe Testamentiese voorskrifte wat die huwelik, gesin en werkplek raak.

Die verontagsamening van God se ordes het skrikwekkende gevolge! (dit word maar net weer bevestig deur die berig in BEELD) Verbrokkelde huwelike, verskeurde gesinne, verwarde kinders, arbeidsellende... Dis die gevolg van ‘n verwerping van God se ordes en die aanhang van afgode soos gierigheid en wellus. Materialisme en gierigheid eis duisende slagoffers. 
  • So baie pa’s jaag net na aardse besit en prestige en skeep die geestelike en emosionele versorging van hulle gesinne af.  So baie moeders laat  bediendes of dagmoeders hulle kinders grootmaak. Finansiële verpligtinge word as rede voorgehou. Dit is soms regtig die geval (en daarmee het mens baie simpatie), maar hoeveel keer gaan dit eintlik maar oor ‘n luukse lewensstyl, ‘n ekstra motor of ‘n vakansiehuis by die see? En so word ons kinders se geestelike welsyn geoffer aan Mammon... Is hierdie dinge dan vir ons belangriker as die kinders wat God aan ons geskenk het om vir Hom op te voed?
  • Die ander afgod wat verwoesting saai is wellus en onreinheid. Ons laat toe dat ons en ons kinders volgepomp word daarvan deur die TV, flieks en tydskrifte wat ons in ons huise toelaat. Losbandigheid bring verbreking in die lewens van ons grootmense en kinders! Die gevolge hiervan is huweliksontrou, egskeiding en gesinsverbrokkeling wat meer skade aanrig as alle plaasmoorde en padongelukke saam!


Dis tyd dat die kerk weer die moed sal hê om te sê wat die Bybel sê :

“Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.” 
(Maleagi 2:16)

Waarom voel God so ernstig oor hierdie saak? ‘n Gesonde huwelik is die basis van ‘n nageslag wat God eer! (Maleagi 2:15)

Die groot rede hoekom so baie agter hierdie afgode aanloop en dan die bittere vrugte van onder andere egskeiding en kinderverwaarlosing pluk,  is leegheid. Daar is ‘n vakuum in elke hart waar Jesus nie Koning is nie!  Die grootste oorsaak van ellende in ons gesins- en volkslewe is nie slegte regering of swak ekonomie nie, maar sondige harte wat weier om voor Jesus te buig en God se ordes as lewensreël te eerbiedig!


2 opmerkings:

  1. Dis só waar! Hoe begin ons om d verwoesting in ons samelewing om te draai?! Egskeiding, porn ens is net so algemeen in 'Christen' huise as d wêreld!!! As jy d Here lief het, neem Sý standpunt in.

    AntwoordVee uit
  2. Dankie vir jou positiewe kommentaar. Ons moet seker maar elkeen eers by onsself begin en God smeek om sy kerk te besoek.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.