BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Karnaval. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Karnaval. Wys alle plasings

Vrydag 08 Junie 2018

AS DIE “PARTY” ROF RAAK

en jy word ontstel en gekwel... 



Lot was nie op ‘n lekker plek nie! Hierdie regverdige en eerbare man het in die goddelose stad Sodom gewoon. Sodom was inderdaad ‘n bose plek, soveel so dat die naam Sodom in die Bybel ‘n simbool en spreekwoord geword het van uiterste sonde en skrikwekkende verdorwenheid! Daar was bitter min regverdiges in hierdie stad. Ons kan dit aflei uit Abraham se vurige gebed toe by God gepleit het vir Sodom nadat God aangekondig het dat hy Sodom en Gomorra gaan verwoes. “Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: "Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie?” (Genesis 18:23,24) So het Abraham begin by 50 en aangehou tot hy later by 10 was en nog steeds het God besluit om hierdie plekke te vernietig. Daar was dus nie eens 10 regverdiges in die hele stad nie... “Toe sê Abraham: "Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry." En die Here sê: "Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie." Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.” (Gen 18:32,33) 

Die regverdige Lot se lewe in Sodom was uiteraard nie maklik nie. (Lees 2 Petrus 2:4-10)* Hy het “gebuk gegaan onder die losbandige lewenswyse van goddelose mense” (7) Die gruweldade wat hy moes aanskou en die dinge wat hy moes hoor was ‘n “foltering” (marteling) vir sy opregte hart! (8) Die OAV stel dit so : “hom baie gekwel” , “sy regverdige siel gepynig.” (7,8) Dis ‘n valse idee dat God se kinders altyd met ‘n glimlag sal rondloop, altyd kalm en vrolik sal wees, altyd lekker sal voel, altyd gewild sal wees, dat almal van ons sal hou… Lot het swaargekry in Sodom. Dit wat hy gesien en gehoor het, het hom diep verontrus en seergemaak. Dit was vir hom ‘n beproewing. Dit sluit waarskynlik in die gespottery van sy eie aanstaande skoonseuns, toe hy hulle wou oortuig om die oordele van God te ontvlug! “Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: "Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg," maar hulle het gedink Lot maak ‘n grap.” (Genesis 19:14) Ja, goddeloses (selfs in ons eie families) spot met ons wanneer ons hulle die pad na verlossing wil aandui. 

Vandag nog is die bose kultuur waarin ons leef vir regverdiges ‘n gruwel. Regverdiges wat erns maak met God se wil word ontstel en gepynig deur dit wat ons hoor en sien. Ons word ontstel deur die sedelose lewe en die vernietiging van huwelike, die minagting van God se wette en sy dag. Die bedrog, gierigheid, korrupsie, haat en geweld, walg ons siele. Ons moet dikwels gedwonge luister na die goddeloses se skaamtelose gespog, sinnelose grappe, liederlike blêrmusiek, dronkmansgelag... letterlik! Ons moet pynlik toekyk hoe jong dogters soos skouperde uitgestal word en dan word dit nogal deesdae met een of ander Christelike sousie geregverdig!. (Kliek op SNEEUWITJIE) Dit maak ons seer as ons sien hoe mense dinge soos sport, plesier en geld bo God stel. (Kliek op RUGBYVELD) Vir al hierdie dinge is daar tyd, maar nie vir God nie! Dit maak ons veral hartseer as mense geen waarde heg aan die verlossingsevangelie nie. (net soos Lot se aanstaande skoonseuns) Baie wend geen poging aan om eens die Woord te hoor nie! Vir alles is daar tyd, maar nie vir God en Sy Woord nie! Net soos Lot se aanstaande skoonseuns, verwerp hulle die enigste manier om gered te word en God se oordele vry te spring! 

Ontstel hierdie dinge jou? As dit jou nie ontstel nie, moet jy jouself deeglik gaan vra of God jou al ‘n nuwe hart gegee het... 

Maar die groot troos is... 

Die verhaal van Lot soos Petrus dit hier gebruik is egter nie net ‘n negatiewe voorbeeld nie. Hier is ‘n heerlike boodskap van troos en aanmoediging vir God se kinders, juis vir God se kinders wat swaarkry omdat hulle Hom wil dien te midde van ‘n goddelose kultuur! 

God sal sy kinders uit hierdie beproewinge red! God sal sy kinders bewaar en ons veilig by ons ewige bestemming bring! Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif gestel word. Twee voorbeelde : 

“My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Johannes 10:27,28) 

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 

God bewaar sy kinders! Hoe doen Hy dit? Hy gebruik sy Woord (waarskuwings en aanmoedigings), sy kerk (medegelowiges), Sy Gees, ja ook die sakramente! 

GOD BEWAAR SY GEKWELDE KINDERS! 

Aan die anderkant sal God beslis die goddelose straf! Die goddeloses pynig ons nou, maar God sal hulle ewig pynig. Ons moenie wraak neem nie, dis God se werk! God is regverdig, die dag van oordeel kom, beslis! “God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.” (2 Tessalonisense 1:6-8) God het sy tyd al lyk dit nou vir ons soms of Hy Hom nie steur aan goddeloosheid en onreg nie! 

Vir die regverdige Lot was die lewe in Sodom nie maklik nie. Vir die regverdige volgeling van Jesus Christus is die lewe in Tsumeb (Pretoria, Kaapstad, Windhoek, Perth...) 2018 ook nie maklik nie. Hier is baie dinge wat ons kwel en pynig. Maar uit Lot se geskiedenis kan ons die troos put dat God sy kinders sal bewaar en dat God die goddeloses wel sal straf. Reg en geregtigheid sal geskied. Daarom kan ons ons vrede en vreugde in alle omstandighede behou ook ten midde van ons sielefoltering!

*God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.
Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.
Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom.
En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense.
Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.
Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.
Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.  2 Petrus 2:10



Karnavaltyd in Rio, 'n skouspel vir die wêreld; 'n pynlike gruwel vir die Christen!

Donderdag 11 Augustus 2016

“ONSKULDIGE PLESIER”

- DIE TAKTIEK VAN BILEAM



God se liefde vir sy kinders is oneindig groot. (Kliek op FEITE) Die bewys : Hy het ons losgekoop uit sondeslawerny met ’n baie hoë prys - die bloed van sy eie Seun, Jesus. Daarom weet dit : God se kinders is sy oogappels, uitverkorenes! Jy vra : “Regtig? Ek het nog soveel foute, ek val so maklik?” Ja, as jy alleenlik op Jesus Christus vertrou is jy ’n geliefde uitverkorene...! Juis daarom is ons ’n teiken van Satan - hy wil ons kwaad aandoen, laat struikel, vernietig. Al Satan se helse woede is gefokus op God se kinders. Omdat hy God haat, haat hy elke kind van God en soos ’n brullende leeu soek hy wie hy kan verslind. Satan bedreig God se kinders : Hy het dit in die Ou Testament gedoen en hy het dit in die tyd van die Nuwe Testament gedoen en hy doen dit nog steeds. Hy wil ons dislojaal maak teenoor God, hy wil ons verlei om God se liefde te vertrap en te minag!



Nou hoe gaan hy te werk? Tydens die Uittog uit Egipte het die Israeliete deur Moab getrek. In Numeri 22-24 lees mens die merkwaardige verhaal hoe die heidense Moabitiese koning Balak, ’n towenaar/waarsêer met die naam van Bileam gehuur het om God se volk Israel te vervloek! Hy wou ’n vloek ("spell") op hulle plaas! Niks anders nie as ’n aanslag van Satan teen God se volk! Maar wat gebeur toe? Lees maar self - Balak se plan misluk, want God dwing toe vir Bileam om Israel te seën in plaas van te vervloek! (In die proses het God selfs ‘n pratende donkie gebruik!) God is almagtig! God is sterker as die Satan en sy handlangers. 



Hierdie geskiedenis jubel dit uit : God is getrou en almagtig; Hy beskerm en bewaar sy mense!



~ God is getrou aan sy beloftes. Hy het beloof Hy sal hulle na die land Kanaän lei, en Hy hou sy beloftes! Hoekom? Numeri 23:19 -“ God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie.”

~ God is almagtig- Hy beskerm sy volk teen bose magte! Dit word so pragtig gestel in Numeri 23:23 “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie.” Dis presies wat die NT ook vir ons leer- Jesus sê vir sy skape wat na sy stem luister :”Niemand kan julle uit my hand ruk nie!” (Johannes 10:28) Dis ’n heerlike vertroosting. So dikwels leef party Christene in vrees vir geheime organisasies, Sataniste, vloeke en wie weet wat alles! Die groot gevaar is eerder dat ons aandag afgelei word deur allerhande grillerige stories van die werklike bedreiging. Wat is die werklike bedreiging wat ons elkeen bedreig?

VERLEIDING TOT KOMPROMIE

Jy sien Satan gee nie so maklik moed op nie. As sy vloeke  en towerspreuke nie werk nie, maak hy ’n ander plan. Wat is dit? Wat is die werklike gevaar vir die kind van God? Die werklike bedreiging is die taktiek van Bileam : Kompromie met sonde deur oënskynlik onskuldige pret en plesier! Bileam se vloeke kon niks teen Israel uitrig nie, maar op ’n ander manier het hy Israel geweldig skade berokken. Hoe? Hy het aan die Moabiete die raad gegee* om die Israeliete na hulle feeste te nooi. (Moses verwys hierna in Numeri 31:16 as hy verklaar : “en deur toedoen van Bileam was juis húlle (die Moabitiese vroue) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!” Vergelyk met Numeri 25:1-4**) En wat gebeur? Israel val daarvoor, hulle val in die strik van afgodery en seksuele sonde. Hulle sondig en God self rig toe verwoesting onder hulle aan. God bring ’n ramp oor die Israeliete en 24 000 sterf! (Numeri 25:9) 

Baie belangrik om dit raak te sien : Die Satan kon nie deur ’n bose towenaar skade aanrig nie, maar toe Israel kompromie maak met sonde, toe word God self hulle vyand en hulle word swaar gestraf! Let wel – God, nie die duiwel nie, maak sy volk dood!

VERMAAK EN FEESTE

Die grootste bedreiging vir God se kinders is nie vloeke nie, nie openlike vervolginge of geweld, dreigemente van Sataniste, geheime organisasies, hekse of towenaars nie, maar kompromie met sonde! Dis die taktiek van Bileam - subtiele kompromie. Hoe gebeur dit? Die wêreld nooi ons na hulle vermaak, feeste en karnavalle uit! Die wêreld dreig ons nie en sê julle mag nie Bybel lees of kerk toe gaan of bid nie. (So ’n taktiek sou nie werk nie) Nee, die wêreld nooi ons uit – “Kom deel in ons onskuldige pret! Ag, kom kyk maar na ons TV sepies waar wellus en losbandigheid en gierigheid verheerlik word, kom hou saam partytjie waar ons saam dronk kan word, kom deel in ons plesiertjies, kom JOOL en karnaval saam, dis mos vir ‘n goeie doel”- maar dis juis dan wanneer ons in dronkenskap, losbandigheid en allerhande ander sonde verval. Ook Dawid het al die gevaar van die goddelose se feeste ingesien : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4) 

Hierdie taktiek, die taktiek van Bileam naamlik kompromie met losbandigheid was ook in die Nuwe Testament ’n bedreiging. Die gemeente van Pergamum word hieroor voor stok gekry in Openbaring. “Maar Ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.” Sien Openbaring 2:14 (Hier kry ons dus ‘n duidelike verwysing na die tragiese gebeure in Numeri) Destyds kon die bywoning van heidense feeste baie maklik lei tot kompromie met onsedelikheid en afgodery. Daar was byvoorbeeld aan die begin van die Lente ’n drie dae lange Dionisiusfees wat met ’n hewige gedrinkery en onsedelikheid gepaardgegaan het! Klink bekend!?

God duld nie kompromie met sonde nie. Daarom waarsku Hy die gemeente van Pergamum om hulle te bekeer! As hulle hulle nie sou bekeer nie, sal Hy hulle self bestry met die swaard van sy mond! (Openbaring 2:16) Kan jy sien, net soos destyds tydens die woestyntog, word God sy eie mense se vyand as hulle kompromieë met sonde maak. 

Die taktiek van Bileam is vandag nog steeds die grootste bedreiging vir die kerk van Jesus. Die werklike gevaar vir die kind van God is nie Sataniste of kommuniste nie, nie die ANC, ISIS en Islam nie, nee dis kompromie met sonde. Hoekom? Kompromie met sonde bring God se oordele oor sy eie mense, sy eie kerk! (In ons dag het dit al so ver gegaan, sommige van hierdie feeste word deur die kerk self gereël. Kliek op ARRESTEER JESUS )

Wees dus waaksaam! Wees versigtig vir die feeste, flieks en karnavalle van die wêreld. Moenie naïef wees nie! Waak en bid! Vlug weg van alle kwaad (2 Timoteus 2:22) en dien die Here met ’n heilige lewenswandel saam met ander kinders van God wat Hom ook in heiligheid dien. Dan het ons niks te vrees nie!

TROOS EN WAARSKUWING

Die geskiedenis van Bileam bring groot vertroosting, maar ook ’n dringende waarskuwing :

~ Vertroosting : Moenie beangs raak oor Satan nie - geweld van bose magte kan Satan nie God se kinders van hulle verlossing beroof nie!!

~ Waarskuwing : Moenie God uittart deur kompromie met sonde nie. Dit bring sy oordele oor ons. Wees versigtig vir die feeste van die wêreld! 

Kind van God vlug van alle sonde en glo dan die heerlike waarheid van Judas vers 24,25 wat sê :

Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

NASKRIF : En terloops, moet asseblief nie so liggelowig wees nie, alle feeste en funksies wat met SKRIFLESING EN GEBED geopen word is nie noodwendig Christelik nie, gaan kyk maar wat gebeur by die biertent en die dans kort daarna...Kliek op BYGELOOF



* Du Rand, Die A-Z van Openbaring, p174

**NUMERI 25:1-4

“Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Hy het vir Moses gesê: "Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie."

Maandag 18 Mei 2015

WAAROM IS JY NIE BLY NIE?

[ Die sprankelende en egte blydskap van hierdie KOPTIESE CHRISTENE in Egipte het my diep getref. Waarom is ons wat sê dat ons God se kinders is, so dikwels sonder blydskap? Wat mis ons?]


Kom ons kry net eers duidelikheid vir onsself : Dit is God se bedoeling dat sy kinders bly moet wees. Vol vreugde! Regtig? Is dit God se wil en plan vir ons reeds hier op aarde dat ons altyd bly moet wees? Is dit realisties moontlik? Hoe lyk hierdie blydskap? Wat bevorder hierdie blydskap? Wat bedreig dit?

Blydskap en Christenskap, vreugde en verlossing gaan saam. 

Kom ons kyk na ‘n paar redes waarom ons so kan sê:

Die Vader van die verlostes wil hê dat sy verloste kinders bly moet wees. Dis tog net logies dat ‘n pa wil hê dat sy kinders bly moet wees! Gelukkige kinders! Sou daar enige rede wees waarom God ongelukkige kinders sou wou hê? Hy wat dan ‘n volmaakte Vader is? So weet maar dat wat jy ook al beleef, God in beginsel wil hê dat sy kinders ware vreugde sal beleef.

Die aard van ons verlossing behoort blydskap by ons te wek. As jy die verlossing deur Jesus ontvang het is jy mos verlos van sonde, Satan, dood en hel. Jy was verlore, maar is gevind, jy was skuldig, maar is nou vry verklaar, jy was ‘n slaaf, maar is nou ‘n kind, jy was in die duisternis, maar nou sien jy die lig.... Dink tog net, as iemand uit ‘n dodesel vrygelaat word, as gyselaars bevry word... wat is die eerste mees spontane en natuurlike reaksie? Blydskap. Wat anders? In Handelinge 8:39 lees ons hoe die pas bekeerde Etiopiese amptenaar sy weg met blydskap voortgesit het.

Die einddoel van ons verlossing moet ons bly maak. Die verlostes kan uitsien na ‘n vaste ewige erfenis. Ons het nou ‘n verwagting en ‘n vaste hoop wat ander mense nie het nie. Dis tog ‘n spontane natuurlike reaksie... as jy hoor jy het ‘n prys gewen, as jy ‘n brief kry wat jou inlig dat jy onverwags ‘n plaas geërf het word jy bly! Petrus verwys na hierdie beginsel in 1 Petrus 1:8,9. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Die opdrag aan die verlostes is duidelik. “Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16) Nie net hier nie, maar veral ook in die Filippense brief word dit herhaaldelik gestel : Fil. 3:1, 4:4 “Verbly julle in die Here...” God sal nie aan ons ‘n opdrag gee as dit nie realisties is of as Hy dit nie bedoel nie.

Die Gees wat die verlostes ontvang is die Heilige Gees en Hy gee blydskap. Anders gestel, blydskap is een van die vrugte van die Gees. Die Heilige Gees bewerk blydskap in diegene in wie Hy woon! “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Romeine 14:17,18 Paulus sê dit in die konteks van mense wat wou stry oor watter kos Christene mag en eet en watter dae hulle as spesiaal moet beskou. Nou sê hy, moenie verstrengel raak in randsake nie, fokus op die basiese beginsels van die Koninkryk, naamlik geregtigheid, vrede en blydskap. Blydskap is ‘n fundamentele saak!

Ons Christenwees van begin tot einde, in totaliteit word gekenmerk en omring deur blydskap en dit veroorsaak blydskap. So is daar groot blydskap by die engele as ‘n sondaar hom bekeer. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor ‘n sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) Die laaste woord wat ons sal hoor voor ons ingaan na ons nuwe tuiste sal “vreugde” wees! “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” (Mat 25:21)

God ons Vader is bly oor ons* en wil dat ons bly moet wees tot in alle ewigheid. Blywende blydskap is ‘n onmisbare bestanddeel van basiese Christenskap.

Sekere misverstande moet ons uit die weg ruim. BLYWENDE BYBELSE BLYDSKAP...

  • beteken nie dat ons nooit huil en treur nie. Kinders van God word immers opgeroep om te treur oor ons sonde. (Jakobus 4) Maar juis dit bewerk groter besef van vergifnis en daarom groter blydskap!
  • beteken nie dat ons nie beproewings en hartseer en moeilike tye beleef nie. Juis daarom is ons blydskap iets anders as gewone blydskap dis ‘n blydskap ten spyte van en te midde van slegte omstandighede
  • beteken nie dat ons 24 uur 7 dae ‘n week ‘n tandepaste glimlag vertoon nie, ons blydskap gaan dieper as dit, dis ‘n blydskap ook as ons treur en swaarkry. Ook onder trane is ons bly. Eers eendag by die wederkoms sal die trane finaal van ons oë afgevee word.
  • beteken nie dieselfde as ‘n oppervlakkige drankgedrewe wêreldse karnaval vrolikheid nie. Ons blydskap is fundamenteel anders en ons bly weg van hierdie soort valse blydskap wat die wêreldling na smag. So bid die psalmis : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4)
Is jy ‘n gelukkige kind van God vol blydskap? Hoekom is dit nie altyd so nie? Het jy hierdie blydskap gehad, maar dit verloor? Wat verhinder of steel ons blydskap? Dis tog duidelik dat God wil hê dat ons moet bly wees. Ons verlossing is nie iets om te verduur nie, maar om te vier! Ons gaan in die res van die reeks kyk na faktore wat die blydskap van God se kinders belemmer en hoe dit reggestel kan word.

*Sefanja 3:17




Sondag 05 Augustus 2012

KARNAVAL

- fees van die vlees.

Tsumeb moes verlede week die jaarlikse karnaval verduur. Tsumka. As Christen wat in hierdie pragtige dorp woon mag ek nie daaroor stilbly nie...

Wat die agtergrond  van die woord “karnaval” betref is daar nie duidelikheid en eenstemmigheid nie. Volgens sekere volksetimologieë kom dit van die Laat Latynse uitdrukking “carne vale” wat beteken afskeid van die vleis en sou dit dui op die laaste dae voor die vastyd van Lydenstyd, waartydens mens volgens Rooms Katolieke gebruik nog toegelaat is om vleis te eet. Die woord “carne” kan ook met vlees vertaal word, wat dan sou neerkom op ‘n “afskeid van die vlees” iets wat deur sommige deelnemers aangegryp sou kon word om vir oulaas hulle ou sondige self te wees tydens die fees. Teen hierdie verklarings sou mense besware kon inbring en oor die oorsprong sou mens kon debatteer, maar   wat wel duidelik sigbaar is vir alle waarnemers van die drinkende rasende menigte,  is dat die sondige vlees (ou natuur) van die mens hier besonder geesdriftig gedien word. 

Kan ‘n Christen deelneem aan hierdie aanbiddingsparade vir Bacchus? Laat die Woord vir ons die antwoord gee :

Galasiërs 5:19-21 “Die praktyke van die sondige natuur (werke van die vlees - OAV) is algemeen bekend : onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het : Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”  

“Ja”, sal party teenkap : “Moet ons nie maar ‘n positiewe bydra probeer lewer nie?” Die Bybelse raad in Efesiërs 5:10-12 wat God aan sy kinders gee laat geen twyfel nie : “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie... dis ‘n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.”   As ons nie eens daaroor mag praat nie, hoe durf ons saamlag vir die dronkmanskaskenades en hoe kan ons saamry met vlotte vol vulgêre slagspreuke?  (En nog ons kinders ook daarop laai?)    

Is kinders van God dan ‘n klomp suurgesigte en dikbekke wat teen blydskap gekant is? Nee, verre daarvandaan!

 Christene is beslis nie teen feesvier nie, inteendeel dis ons opdrag. 

Maar dis ‘n ander fees met ander waardes soos waartoe 1 Korintiërs 5:8 ons duidelik oproep :”Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.”

Ja, God se kinders het vanoggend weer feesgevier toe ons Hom in die erediens geloof en geprys het. Wat ‘n vreugde is dit elke Sondag en ‘n voorsmaak van die ewige Fees waarheen die bloedgewastes van die Lam oppad is!



NS As ons dan karnaval wil hou, laat ons dit eerder doen soos die beroemde Italiaanse morele hervormer, Girolamo Savonarola. Gedurende die karnaval van 1496 in Florence het hy dit omskep in ‘n Fees van Boetedoening. ‘n Groot vuur is aangesteek vir die verbranding van allerhande “ydelhede” soos dobbeltoerusting en slegte boeke. Maar pasop, sy hervormings en dapper optrede teen goddeloosheid, het hom uiteindelik sy lewe gekos!