BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 15 Junie 2012

KOOP DIE TYD UIT

- William Carey se sinvolle benutting van ons kosbaarste bate.

Die eertydse skoenmaker, William Carey het as sendeling baanbrekerswerk gedoen in Indië, veral op die gebied van Bybelvertaling. Hierdie toegewyde dienskneg van God wat beskou word as die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging het sy tyd ten volle benut in belang van God se Koninkryk. Hier volg die rekord van ‘n bepaalde dag in Kalkutta in die jaar 1806:

Hy het kwart voor ses opgestaan, ‘n hoofstuk uit die Hebreeuse Bybel gelees en sy persoonlike stiltetyd gehou. Om sewe uur het die bediendes gekom vir huisgodsdiens in Bengali, waarna hy terwyl hy gewag het vir ontbyt, ‘n tyd lank aan Persies bestee het en daarna aan ‘n Skrifgedeelte in Hindoestani. Onmiddellik na ontbyt het hy aan die gang gekom met die vertaling van die Ramayana (Hindoe geskrif) uit Sanskrit na Engels. Tien uur het hy na die kollege gegaan waar sy klasse en ander verpligtinge hom besig gehou het tot twee uur toe. Met sy terugkeer huis toe, het hy aandag gegee aan die proeflees van ‘n vertaling van Jeremia in Bengali tot middagete. Na sy maaltyd het hy saam met ‘n hulp die grootste gedeelte van Matteus 8 in Sanskrit vertaal tot ses uur toe, waarna hy saam met ‘n Telegu leermeester gaan sit het om daardie taal verder te bestudeer. Om half agt het hy in Engels gepreek vir ‘n gemeente van veertig persone. Teen nege uur toe die diens klaar was en almal weg was, het hy gaan sit en Esegiël 11 in Bengali vertaal, wat hom ongeveer twee ure geneem het. Hy het toe nog ‘n brief vir ‘n vriend in Engeland geskryf en nadat hy ‘n hoofstuk uit die Griekse Nuwe Testament gelees het vir stiltetyd, het hy gaan slaap...

Wel, nie een van ons sien seker kans om Carey na te boots nie. Hy was inderdaad ‘n besondere begaafde mens met verbysterende taalkundige vermoëns. Maar sy manier van tydsbesteding is tog ‘n vingerwysing teen ons selfgesentreerde gebruik (en dalk vermorsing) van kosbare tyd. Wat sou hy dink van baie Christene se  TV kykgewoontes... eindelose rugby.... sentimentele Sewende Laan? En as jy dalk dink dat Carey ‘n ongebalanseerde boekwurm was, dink weer ... hy was ook ‘n knap botanikus! 


(Bron - FD Walker, William Carey p223)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.