BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Erik van Zyl. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Erik van Zyl. Wys alle plasings

Donderdag 15 Oktober 2015

KAOKOLAND SENDELING SE DUIDELIKE STANDPUNT


  • "Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor!"


Wat dink ek oor die feit dat die NG Kerk se Algemene Sinode homoseksuele-burgerlike verbintenisse goedgekeur het en predikante nou toelaat om sulke verbintenisse in die kerk te bevestig?

Ek antwoord graag en begin deur te wys op Jesus as ons Here en enigste Hoop!

"Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29) roep Johannes die Doper uit toe hy vir Jesus sien. Ek onthou nog goed die woorde van prof Flip Theron in die Dogmatiek klas , “Menere moet nooit toelaat dat iemand jou sonde van jou af wegneem nie, want dan kan Jesus Christus dit nie wegneem nie!”  As ons mekaar se sonde wegneem, mekaar ontsondig, mekaar regverdig in ons sonde, mekaar se sonde institusionaliseer, mekaar se sonde wettig dan kan Jesus ons nie meer verlos nie. Die NG Kerk het sopas die sonde van homoseksuele dade gewettig, geïnstitusionaliseer, weggeneem en vrygespreek! Diegene wat die NG kerk se vryspraak aanvaar, MIS die vryspraak van Jesus al het HY daarvoor met sy kruisbloed betaal! Dit is die toppunt van liefdeloosheid!

Miskien argumenteer jy dat sekere homoseksuele dade nie sonde is nie, want Paulus was onbewus van die “kern-homoseksualiteit” in die 21ste eeu se homoseksuele-verhoudings gekenmerk deur liefde en trou. Dan was  Paulus seker ook onbewus van “kern-gieriges”, “kern-egbrekers”, “kern-pedofiele” , “kern-alkoholiste”.....
Daarom bly hy ongemaklik konsekwent wanneer hy ons sonde aanspreek, “Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie! [Nie een van die sondes is erger as die ander nie, maar ons durf nie waag om enige een van hulle te wettig nie, want dan geld die volgende vers nie meer nie!] So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God!” ( 1 Korintiërs 6:9-11; Nuwe Direkte vertaling)

Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor! Dit laat my sidder en herinner onmiskenbaar aan Jesaja 5:21, “ Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” Spr16:25

Oor die vraag wat Jesus sou gedoen het en of hy vir prof Carson sou beaam het?
Jesus het alle sondaars met ope arms ontvang en liefgehad, want dit is vir hulle sonde wat hy gesterf het. Jesus het ook vir die sonde van homoseksuele dade gesterf. Wanneer die owerspelige vrou wat op heterdaad in egbreuk betrap is voor Jesus staan en die skare haar wil stenig, dan spreek Jesus haar vry met die woorde,  “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Johannes 8:11) Ek reken dat Jesus min of meer dieselfde sou sê vir ’n homo-seksuele persoon wat op heterdaad betrap sou word, “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” 

In die evangelies sien ons dat Jesus die snykant van God se wet in die nuwe bedeling veel skerper kom maak het! In Levitikus 20:10 lees ons, "Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
In Matteus 5:27 sê Jesus, "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ [aangehaal uit Eksodus 20:14] Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”
Ek wonder wat sou Jesus gesê het van Levitikus 20:13, "Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”

In die lig van Jesus se uitspraak in Matteus 5:27 sou Jesus waarskynlik min of meer iets soos die volgende gesê het, "Julle het gehoor dat daar gesê is: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Maar Ek sê vir julle: Elke man wat na ’n ander man kyk en hom begeer, het reeds in sy hart met hom ’n homoseksuele daad gepleeg.”

Om terug te kom by die vraag of Jesus prof Don Carson sou beaam het?  
Kom ons kyk weer waarmee prof Carson sy antwoord afsluit.  “Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or later you face that issue or you die.”

Kom ons luister nou na Jesus se woorde in Matteus 5:18-19  waar hy kommentaar lewer oor die vervulling van die wet wat onder andere Levitikus 20:13 ook insluit en daarby ons ook vermaan om die Woord te gehoorsaam. “ Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.” Ek dink tog Jesus sou prof Don Carson beaam het as iemand wat onmiskenbaar buig voor die gesag van die Woord om dit te gehoorsaam.

Jy verwys in jou epos na die Algemene Sinode se besluit as wonderlike nuus, maar weet jy daar is vele NG Kerk lidmate wat anders op die Sinode besluit gereageer het. Die algemene gevoel is ’n gevoel van verslaentheid en hartseer omdat die Woord van God geminag is  in hierdie saak. Baie lidmate voel na die besluit nie meer tuis in die NG kerk nie.

Verder gee die Algemene Sinode ruimte dat albei standpunte binne een denominasie gehandhaaf kan word (kerkrade moet self besluit), dit is nie alleen onhoudbaar nie, maar ook vals en skynheilig. Hier het ons twee  Skrif-interpretasies wat ligjare van mekaar verwyder is (sien dr JI Packer se artikel aangeheg) en onmoontlik binne dieselfde geloofsgemeenskap geakkommodeer kan word. Een predikant sal twee gays binne in ’n stabiele verhouding oproep tot bekering en ’n ander een sal hulle bemoedig om hulle homoseksuele identiteit met vrymoedigheid uit te leef. Dit is blatante skynheiligheid en grens aan godslastering.

Dus moet lidmate en gemeentes van die NG Kerk nou self kies watter lewenswyse en praktyk hulle wil navolg. Watter een sal ons kies?

Wanneer ons kies moet ons net besef dat God se Woord nie verander het nie,  “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jesaja 40:8).  Daarmee saam moet ons kies met die wete dat “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs  13:8).

Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (Spreuke 16:25)

Vriendelike groete in Christus

Erik van Zyl (VDM - NG Kerk Namibië)



(Boegenoemde brief is 'n duidelike antwoord van ds. Erik van Zyl, sendeling in Kaokoland en dosent by NETS in 'n brief na aanleiding van 'n onderhoud met DA Carson oor wat Christene te doen staan wanneer 'n denominasie ten gunste van homoseksuele leraars besluit)

Dinsdag 02 April 2013

VOOR DIE LEEU EN NÁ DIE LEEU

- die Verlosser word verkondig in Kaokoland! 


[Ons as NGK Tsumeb het die groot voorreg om op ‘n beperkte skaal betrokke te wees by Ds. Erik van Zyl (voorheen van Napier) wat onder die vaandel van Kunene vir Christus die Woord van God in Kaokoland versprei. Hier is sy Verslag van besoek aan Kaokoland 25 - 28 Februarie 2013.] 

Die stofpaaie, grondpaaie , 4x4 paaie in Kaokoland neem ’n mens na klein plekkies wat baie keer niks meer is nie as ’n boorgat of gronddam met Ova-Himba krale in die omgewing, wat aandui hier bly mense. So het ek vir Ripanga (Jan) Kasupi hoofman van Ganamub by sy dorpshuis op Sesfontein gekry oppad na die klein plekkies. Die plekkies is in die droogte tyd nog kleiner vanweë die Ova-Himbas wat rondtrek met hul vee en kleinvee agter weiding en water aan. Dit laat my altyd dink aan die woorde in Matteus 9:35 , “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. ...en die evangelie van die koninkryk verkondig...” 

Namiddag het ek vir Jan by Sesfontein opgetel, waar hy vir die hitte weggekruip het onder die skaduwee van sy boom. Die reën het nog nie gekom nie, vir die 2de jaar. Jan wil graag Ganamub langs ry om te sien hoe lyk dit in die area waar hy hoofman is. Na 'n 2de reënseisoen wat kom en gaan en net droogte.... Ganamub is 'n klipwoestyn ! Ek is verwonderd oor die goeie kondisie van die beeste, bokke en skape wat op die klipvlakte weiding soek. Die berge se weiding begin nou ook opraak. Jan begin praat daarvan om sy diere te verkoop voordat die droogte sy doodstol eis! Jan groet sy mense en ons ry verder op soek na slaapplek vir die nag. Die Here het reeds vir ons 'n oornagplek gereël. 

"Kom ons slaap by Tomakas, die mense daar is almal familie van my.'' Ek het nog altyd by Tomakas verby gery oppad na ander klein plekkies. 'n Windpomp, dam en paar Herero-hutte. Tot my verbasing moet ek en Jan by die mense van Tomakas hoor " Ons het nog nooit die Jesus-film gesien nie!'' 13 grootmense en 2 kinders, Jesus sou ook daar gestop het. 

Laat die nag, vroeg die oggend om 1h00 sluit ons die dag met Jesaja 43:11-13. 

Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie. (Jesaja 43:11-13) 

Bettie van Warmquelle het vir Jan laat weet hy moet dit lees. Die oggend voordat die leeu sy vinger se punt afgebyt het (of afgeknyp soos hy sê) het Jan die gedeelte gelees. 

Om die kampvuur en onder die stilte van die naghemel vertel Jan. In droogtetyd wag die leeus vir die beeste by die Hoanib -rivier se weiding. Hulle was drie mans , 2 het geskiet toe die leeuwyfie storm, met Jan in haar visier was sy binne tellings bo-op hom. Soos Simson het Jan die leeu met beide hande weerskante van sy kop vasgegryp. Hulle het omgerol en omgerol en toe Jan bo is sterf die leeu, die doodskoot van vroeër was amper te laat. 

Met die vasgryp het Jan se vinger in die leeu se bek beland. Behalwe vir sy vingerpunt wat afgebyt is en'n paar littekens op sy lyf, kan Jan bo alles getuig van God se trou! Eers nadat Jan die dood in die oë gekyk het , het hy gedink aan wat God die oggend vir hom gesê het: 

.....buiten My is daar geen redder nie.... Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God.(Jesaja 43) 

Voor die leeu en na die leeu is EK die HERE nog steeds God, niemand kan jou uit MY hand ruk nie! 

Dit was nie 'n voorlesing uit een van PJ Schoeman se boeke oor ou Suid-Wes nie, maar 'n getuienis van die ewige trou van die Almagtige God teenoor sy kinders. 

Vroegoggend is ons op. Die Jesusfilm het die mense van Tomakas se harte en huise oopgemaak . Na Jan se verhaal van die leeu preek ek oor Jesus wat as LAM vir ons sonde gesterf het en as LEEU sal terugkom om sy kinders te kom haal en die wêreld te oordeel. Is ons gereed? 

Op Tomakas is daar 'n klein groepie gelowiges wat ook Sondae saamkom om die Here te aanbid, maar hulle het nie Bybels nie. Ons kon vir 2 mans en 3 vrouens Bybels gee asook ander literatuur. Jan is dankbaar oor die hoofman se positiewe gesindheid. Ons vertrek en sal nie weer by Tomakas verby ry nie. 


Bybels by Tomakas


Oppad na hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga ry ons langs die Hoarisub en later langs die Khumib rivier. Droog en dor, Kaokoland smag na water. Bid dat die droë en dor harte van Kaokoland sal smag na die Lewende Water. 

Ons ry verby Sanitatas tot by Ondije. Ondije se dam is leeg, die skool is verlate, die krale leeg. Die vlakte tussen Ondije en Okaanga het reën gekry, vaal olyfgroen geskroei in die son en afgevreet deur die baie bekke, die vlakte het nog reën nodig. Die Himba beeste se kondisie is verstommend goed. By Okaanga se boorgat is dit ’n miernes van Ova-Himbas wat om die beurt hul beeste en bokke laat drink. 

Kondjendje Koruhama se vriendelike gesig verhelder toe ek haar op haar naam groet. ’n Jong Himba vrou, ’n toegewyde gelowige, onmiddelik vra sy of ek nie vir haar ’n Bybel het nie. Uiteindelik is daar 4 mense wat smag na die Woord van God en vir wie ons Bybels kon gee. 

Hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga is by ’n begrafnis op Otjihaa. In sy vrou Kauhonekwa se woorde, Otjihaa is God -loos, die mense leef sonder God en het God nodig. Ons moet gaan! Otjihaa is nog ’n klein plekkie wat die Napierspan laas in 2001 besoek het. Kauhonekwa wys die pad, halfpad tussen Okaanga en Ondije is daar ’n kortpad deur die berge. Skemeraand brand die vele begrafnisgangers se vuurtjies by Otjhaa. Die dood het hulle bymekaar gebring om na die LEWE te kyk. Ons wys die Jesus-film vir meer as 60 Ova-Himbas. 

Vroegoggend hou ons ’n belangrike en suksesvolle leiersberaad, ek saam met hoofman Kasupi van Ganamub en hoofman Tjavara van Okaanga. 

Kauhonekwa bring die mense byeen. Na die Jesus-film is daar 24 mense wat die Woord van God wil hoor. Ons beleef ’n honger na God by die mense van Otjihaa. Bid dat hulle sal oorgaan van die ryk van duisternis na die ryk van die LIG! 

Swaar gelaai vertrek ons terug, die een se kar is stukkend, die ander moet hospitaal toe...., 9 mense met bagasie! Jan leer my, barmhartigheid in Kaokoland beteken daar is altyd nog plek! 


Veilig aangekom op die Ondije vlakte beleef ons ’n wonderwerk. Donderwolke pak saam, die weerlig blits en ons reën sopnat op die vlakte. Met dankbare harte ry ons in die reën terug, want Jan moet die volgende dag terug wees op Sesfontein.

Dankie Erik vir die nuus, en mag die Here jou werk ryklik seën!