se besluit oor SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (sien onderaan) is ‘n meesterlike voorbeeld van kwalik bedekte oëverblindery, slinkse sagmaak tegniek en eintlik niks anders as verbale diarree nie! ‘n Teologiese maagwerksel wat erg aansteeklik is en tot ‘n epidemie van die dood gaan aanleiding gee!
Die besluit klink so mooi en versoenend (want die behoudende lidmate moet gepaai word), maar kyk jy mooi is hier ‘n vrypas vir die legitimasie van aktiewe homoseksuele en terstond beoefenaars van bykans enige seksuele afwyking en vergrype. Solank dit in “integriteit” gedoen word! Hoe word dit bepaal? En deur wie? ‘n Saamblyer, poligamis of biseksueel wat in sogenaamde “integriteit” lewe met al sy aanhangsels sal dus ook predikant kan word!
Daar word slegs die illusie van gesprekvoering en verdraagsaamheid geskep, want die opdrag word reeds aan ATLAS gegee om ‘n “kerklike formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Ons praat nog, maar ons maak solank ‘n formulier om sonde amptelik te seën! En let op hulle kies hulle woorde mooi. Nogal “burgerlike verbintenisse”. Hierdie term word weereens as kompromis gebruik om die behoudendes te paai. Hulle noem dit nie nou al ‘n “huwelik” nie. Dis uiterste skynheilige bedrog! Sommige predikante het alreeds “huwelike” bevestig tussen homoseksuele en daar word nie teen hulle opgetree nie.
Die besluit wil maar net die Bybelgetroue lidmate tydelik paai om ‘n massa uittog uit die kerk te probeer verhoed. Die taktiek is duidelik om te probeer tyd koop om die onrustige lidmate mettertyd te oortuig om nie meer die Bybel te glo en God se standaarde te handhaaf nie! En diegene wat uiteindelik nie gaan saamloop nie, sal aktief vervolg word. “Mark my words!”
Ekself glo dat daar inderdaad in liefde en deernis met alle mense omgegaan moet word wat stry teen die sonde en in gebrokenheid voor die Here die pad van heiligmaking wil stap. Dit sluit homoseksuele in... Hierdie besluit van die AS gaan egter nie daaroor nie, maar is ‘n slinkse plan om sonde te sanksioneer en uiteindelik die regverdiges te vervolg.
Die Algemene Sinode het ‘n wolweskuilplek geword. Polities korrek, maar teologies verward. Die skape van Jesus moet hiervan kennis neem en die pad vorentoe loop met slangversigtigheid en duifopregtheid, anders gaan ons onkant gevang en opgevreet word! (Matteus 10:16)
Selfdegeslagverhoudings
1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk
ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg
tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor
verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk
gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat
hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg
ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige
diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings,
Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met
die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor
hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die
eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om
geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig
kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing
van persone in die ampte, lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer
en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en
-identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente
se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer
en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag
ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om
burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om
burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep
word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode
besluit ook dat daar ‘n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek
om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n
ingeligte besluit neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te
ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van
dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die
kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid
wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in
die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit
ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met
waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met
studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer
aan die volgende sinode.
