BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dawid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dawid. Wys alle plasings

Donderdag 13 Mei 2021

DIE KONING HET GEKOM!

Oor KONINKRYK, EVANGELIE EN EREDIENS (1)

Wat is die evangelie? Goeie nuus, ja maar watse goeie nuus? Hoe het Jesus self die evangelie beskryf? Hoe dink jy oor evangelie en Christenskap? 


‘n Groot meerderheid dink daaraan as ‘n polis teen die hel. Ek moet net gou Jesus aanneem as Verlosser (“my hart vir Jesus gee”) en dan is ek verseker teen enige helse gevaar en kan ek rustig voortgaan om vir my eie ideale te leef soos ek wil en goed dink. Dalk waag ek om my bekering uit te stel, sodat ek soveel moontlik tyd op aarde aan sondegenieting kan bestee... En as ek wel nou al vir Jesus "gekies" het sien ek in elk geval ook geen nodigheid vir die erediens nie, behalwe as om net so af en toe weer die voordele van my polis aan te hoor nie. Geen nodigheid vir heiligheid en toewyding nie… Of nog erger… ek sien Jesus as die waarmaker van my eie drome! 

Watter groot misverstand! Daarom is dit so ontsettend belangrik om te kyk wat is die evangelie/goeie nuus wat Jesus self verkondig het! Kom ons kyk hoe Jesus dit  gedoen het volgens Markus 1:14,15.

En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: "Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie."


Die koninkryk het naby gekom! Dit klink dalk nie vir ons westerse demokraties gesinde mense soos goeie nuus nie. Ons hou nie juis van konings nie. Vir Israel natuurlik was dit ‘n totaal ander storie. God se koninkryk was vir hulle ‘n sigbare werklikheid. God het oor sy volk regeer deur die Dawidiese koningshuis. Die koning was nie veronderstel om as wrede tiran te regeer nie. Hy was die versorger, beskermer en verlosser van die volk van hulle vyande. Dinge het in praktyk natuurlik vreeslik skeef geloop. Weens die afvalligheid van beide die konings en die volk. Dit lei tot die verwoesting van die tempel en Jerusalem en loop uit op die tragedie van die ballingskap. Ellende!

DIE BELOFTE

Maar daar was hoop. Die volk van God het uitgesien na die herstel van die Dawidiese koninkryk, want God het ‘n belofte aan Dawid gemaak! 

 God beloof aan Dawid : “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan." (2 Samuel 7:17) In die donkerste tye van verwoesting en ballingskap het die  profete hierdie hoop van die herstel van die Dawidiese koningskap lewendig gehou. Byv. die profeet Jeremia wat die woord van die Here oordra: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.” (Jeremia 23:5) 

Hoor mooi hierdie koninkryk sal 'n regverdige koninkryk wees – nie een van tirannie en lyding, onreg en uitbuiting nie, maar heerlikheid, vreugde en geregtigheid! 

DIE BELOFTE VERVUL

En nou kom Jesus – afkomstig uit die geslag van Dawid, gebore in die stad van Dawid, Betlehem! Nou verkondig “Hy die Koninkryk het naby gekom.” Almal wat kan hoor kry nou twee opdragte – bekeer julle – onderwerp julle aan hierdie Koning, buig voor Hom , eer Hom, gehoorsaam Hom en glo hierdie goeie nuus!

Die evangelie wat Jesus self verkondig het is die evangelie van die Koninkryk!


Wat van die apostels na Jesus? Wat was die goeie nuus wat die apostels verkondig het? Hulle het ook hierdie verwagting gehad oor die koninkryk. Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was (na die opstanding, net voor die hemelvaart), het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?" (Handelinge 1:6) Maar nou moes Jesus hulle reghelp. Die koninkryk kom nie op die manier wat julle gedink het nie. Hulle kry die opdrag : Julle moet nou getuies wees van die Koning en sy koninkryk van Jerusalem af tot aan die eindes van die aarde.

Die apostels se taak was dus die 

 PROKLAMASIE VAN DIE KONINKRYK EN DIE KONINGSKAP VAN JESUS. 

Blaai maar deur Handelinge en gaan kyk self : Handelinge 14:21,22, Handelinge 19:8, Handelinge 20:25, Handelinge 28:31.

Die evangelie is die evangelie van die koninkryk, dit gaan oor die dinge van die koninkryk! Ook die diaken Filippus se boodskap handel oor die koninkryk “Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.” (Handelinge 8:12)

Wat van 1 Korintiërs 15:1-4, dis tog waar Paulus 'n duidelike opsomming van die evangelie gee? Dit gaan tog duidelik oor die drie groot heilsfeite - kruis, begrafnis en opstanding.

Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;  

Paulus het nie 'n ander evangelie as Jesus self verkondig nie. Wat hy hier opsom is die detail lering oor hoe God die oorwinning van die koninkryk deur Jesus bewerk het. Dis eintlik lering wat ons eers begin verstaan nadat ons Jesus as Koning erken het, nadat ons op sy oproep gereageer het.

KERK EN EREDIENS

Waar pas die kerk en erediens in? Die kerk is die praktiese sigbare uitdrukking van hierdie koninkryk. Dis die sigbare teken van die herstel van wat verkeerd geloop het in die paradys. Die kerk bestaan uit mense op aarde wat die koningskap van Jesus aanvaar het en daarom volgens die wette en waardes van die nuwe koninkryk leef. Dis die voorafgestalte van die volmaaktheid wat kom.

 En belangrik-  Die koninkryk van God gaan nie meer oor net die herstel van Israel nie maar het nou ‘n internasionale gestalte. Die kerk bestaan dus uit mense van elke stam taal en nasie. Paulus praat by die apostelvergadering en sê : “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.” (Handelinge 15:16.17) Dit gaan hier oor die huis van Dawid (dinastie van Dawid) wat internasionaal herstel sou word! Die voormalige heidennasies is nou deel daarvan!

REDDING OM DEEL TE KRY AAN DIE KONINKRYK

Dis baie nodig dat daar ‘n paar regstellings in ons denke sal kom. Die evangelie gaan nie oor I, me and myself nie. Die evangelie gaan oor meer as persoonlike verlossing. Ja, natuurlik dit gaan oor persoonlike redding, maar redding om deel van die koninkryk te wees en die Koning te aanbid. Nou reeds en tot in ewigheid! Die koninkryk het gekom en ek kan nou deel daarvan wees. Onthou ons was almal deel van die Satan se duisternis, maar is nou deur Jesus daar uitgehaal en deel gemaak van Sy Koninkryk. Luister na   Kolossense 1:13 - “Hy (God) wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,” Jesus se Koninkryk is onstuitbaar. Elke knie sal buig en elke tong sal bely. Ek kan dit nie teenstaan nie. Ek kan myself net onderwerp. Die evangelie gaan dus nie in die eerste plek oor my belangrikheid, my drome en my gerief nie! Dis beslis nie net ‘n polis teen die hel nie. 

Die evangelie stel my voor ‘n uitdaging – onderwerp jou aan die Koning, val in by sy planne! 

En besing sy lof, verlustig jou in sy heerlikheid. Eer en aanbid HOM! Maar natuurlik dis nie iets negatiefs nie dit is ‘n seën! Want ons Koning is ‘n besondere Koning wat sy lewe vir ons afgelê het! Om Hom te dien en te eer is ‘n groot voorreg en vreugde. Mag ons verlos word van ons beheptheid met onsself en ons eie belange en agenda en mag ons met blydskap neerval voor sy troon en Hom aanbid!

Vir Deel 2 van hierdie reeks kliek op SAAM AAN TAFEL

Vrydag 01 Julie 2016

TUSSEN ROKENDE RUÏNES

- kry God se kind weer nuwe hoop!



[Wat maak jy as die pôpô die fan strike?]

1 Samuel 30 is ‘n aangrypende verhaal van uiterste benoudheid, geloofsvertroue en triomf... soos dit gebeur het in die lewe van Dawid.

Vooraf : Op hierdie stadium was Dawid nog nie koning van Israel nie, maar ‘n vlugteling vir koning Saul. Vir veiligheid het hy tussen die Filistyne gaan bly en ‘n vertroueling van die Filistynse koning Agis geword. Agis het die stad Siklag aan Dawid en sy vriende as woonplek gegee het. (1 Sam. 27:6) Die Filistyne het hulle nou weer gereed gemaak vir ‘n groot geveg teen Saul en die Israeliete en Dawid wat nou ‘n onderdaan van Agis was het hom en sy manskappe by die Filistynse soldate gevoeg. Dit was natuurlik vir Dawid en sy manne ‘n baie moeilike saak om teen hulle eie volk te gaan veg. Gelukkig het sommige van die Filistyne beswaar gemaak teen hulle teenwoordigheid en so is hulle verlos uit hierdie ongemaklike dilemma. Agis stuur toe Dawid en sy manne terug na hulle woonplek Siklag. Toe hulle daar aankom wag ‘n aaklige verrassing op hulle – in die tyd was hulle weg was het die Amelekiete die stad aangeval, hulle vroue en kinders ontvoer en die stad aan die brand gesteek. 

GROOT BENOUDHEID TUSSEN DIE SMEULENDE PUINHOPE

Ons het dit seker al almal beleef – daardie tye wanneer als wat kan skeefloop, skeefloop en alles wat verkeerd kan gaan verkeerd gaan. Die ergste in hierdie tye is wanneer jou eie mense naaste aan jou, ook nog teen jou draai, jou verwyt en jou wil stenig. 

As selfs jou eggenoot, kinders, familie en vriende, jou afskryf of wil vernietig... Groot benoudheid! Wat maak jy dan? 


As almal jou die rug keer, waarheen gaan jy? Groot moeilikheid – dis waar Dawid hom op ‘n dag bevind het. Sien die hartseer Dawid staan tussen die smeulende puinhope van sy woonplek Siklag. ‘n Toneel van smart en verwoesting... Hierdie dapper krygsmanne het, het soos kinders gehuil oor hulle weggevoerde gesinne. “Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” (4) 

Maar dis nie al nie, dit lyk of hierdie manne in hulle bittere smart alle sin vir rede verloor en vir Dawid die sondebok gemaak het . Nou wil hulle hul woede en hartseer op hom uithaal. Hulle dreig om hom letterlik te stenig! Dinge het uiters lelik gelyk... wat nou gemaak? 

KIES OM BY GOD TE SKUIL

Wel, Dawid gee nie moed op nie, hy gee nie iemand anders die skuld nie, hy draai nie teen God en verwyt Hom nie. Wat doen hy? Vers 6 stel dit pragtig helder : “..maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.” (OAV)

Wat beteken dit nou prakties? Belangrik weereens, Dawid gee nie boedel oor nie. Dawid gaan sit nie op ‘n hopie en bejammer homself nie. Hy slaan nie paniek en vlug die vlaktes in nie. Ja, alles lyk donker en almal is negatief, maar God is nog steeds God! God het nog nie verander nie, God is nie oorweldig nie, God is nie verslaan of verslae nie. Hy wend hom dus tot God, Hy soek die aangesig en teenwoordigheid van God op. Hier word nie veel uitgewei daaroor nie, maar as ons ook bietjie nadink oor die Psalms kan ons ‘n paar afleidings maak vanuit die konteks:

  • Dawid beoefen geloof in God. Sy geloof in God wat ons kan aflei hy reeds as jong skaapwagter gehad het, wat hy in sy geveg teen Goliat beoefen het, word nou weer in werking gestel. Hy maak opnuut ‘n keuse om hom nie deur die bittere omstandighede te laat onderkry nie, maar in die lewende God te glo. Geloofskeuse! Herhalende keuse! Dis prakties gesproke ‘n keuse om by God te skuil (Vergelyk Ps. 11:1, 16:1, 18:3 ) Dis ‘n keuse om te besef, God is groter as my slegte, hartseer en benouende omstandighede. God is sterker as my vyande oftewel my vriende wat nou my vyande geword het! Hoe kry Dawid dit reg? Hy het in ‘n geloofsverhouding geleef met God – “sy God” Hy moes dit nou net prakties weer in werking stel. Ek en jy moet telkens weer kies om te glo, ongeag ons sigbare omstandighede! “...want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Kor. 5:7)

  • Dawid dink weer aan God se karakter en God se handelinge met hom in die verlede. God het hom in die verlede gehelp teen die leeu en beer, teen Goliat en hoeveel kere het God nie sy lewe uit die jaloerse Saul se hand gered nie? Dawid dink nugter oor die grootheid en die getrouheid van God en laat nie toe dat sy gevoelens met hom weghardloop nie. Wie aan die getrouheid van God dink moes sekerlik aan sy verbond gedink het met Abram Isak en Jakob. Geliefde, dink terug aan God se getrouheid deur jou lewe, maar nog belangriker dink aan die hoogtepunt van God se goedheid, liefde en getrouheid- die kruis van Jesus! Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38,39)

  • Dawid soek wysheid by God. “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: "Bring tog vir my die skouerkleed nader." Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: "Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?" Die Here het hom geantwoord: "Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red." (7,8) Destyds is die skouerkleed en die urim en tummim gebruik om God se wil te soek. Ons het nou die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons uitlê. Ons kan bid. Jakobus moedig ons aan om wysheid by God te soek. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5) Kind van God, onthou, die Woord het iets vir jou te sê in jou huidige omstandighede... Doen moeite om dit uit te vind en toe te pas.

‘N RAMP OMGEKEER TOT WINS!

Jy bevind jouself dalk ook op hierdie oomblik tussen rokende ruïnes – alles is stukkend en swart gebrand, onheilsrook prikkel jou neusgate – jy beleef benoudheid en angs, jou huwelik is besig om te verbrokkel, jou finansies is donker, jou vriende het teen jou gedraai... alles en almal is teen jou. Hoor dan : God is nog daar. Aan sy liefde het nog niks verander nie. Die kruisboodskap bly ‘n onwankelbare feit, 'n vaste baken van God se liefde in alle omstandighede!

NOU...Nou is die tyd om opnuut die aangesig van die Here te soek. Nou is die tyd om weer te kies om kinderlik te glo. Nou is die tyd om die wysheid van die Woord te gehoorsaam. Kom na die Here en jy sal vind hoe waar is Psalm 46:1 se woorde : “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”


God is getrou! 

God se getrouheid het nie gekeer dat Siklag geplunder word nie, maar God se getrouheid het Dawid wel deur die krisis gedra en daar was ‘n heerlike en gelukkige einde en groter doel agter als. (gaan lees gerus die res van 1 Samuel 30) Dawid verslaan die Amelekiete en maak ‘n baie groot buit. Hy toon sy wysheid deur die verstandige manier waarop hy die buit verdeel en so word sy posisie as toekomstige leier van Israel versterk. 

God verander ‘n ramp in ‘n wins!

Dinsdag 04 September 2012

DIE PROBLEEM?

- nie my skoonma nie, maar my eie hart.

’n Klomp skoolseuns beland op ’n idilliese eiland, hulle is ordentlike outjies wat in ‘n kerkkoor sing, goeie opgevoede seuns....., maar uiteindelik ontaard hulle in wrede barbare wat mekaar probeer uitroei... Die nobelpryswenner, William Golding in sy “Lord of the Flies”  beskryf hierdie  groot waarheid baie treffend.  Die fout lê by die seuns se innerlike. Die mens se dilemma  is nie sy omgewing of sy omstandighede nie, dis sy eie hart, sy binneste! My probleem is nie my ouers, skoonma,  moeilike man of vrou, onderwysers of die lui werkers nie, maar my eie bose hart!

In Matteus 5:8 verklaar Jesus :

 “Salig/geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” 

Die opvallende in hierdie saligspreking  is dat die hart spesifiek genoem word. Nie net - “salig is die wat  rein is”  nie (dit sou mens dalk kon verwag) - maar “wat rein van hart is!”  Jesus sê spesifiek  - “rein van hart.” Dis die klem! Die hart is die simbool van die setel van die mens se innerlike - jou diepste bedoelings, gesindheid en motiewe. Jesus beklemtoon die hart, want vir die toegang tot die Koninkryk is dit die innerlike wat tel. Dis juis op hierdie punt waar Jesus skerp kritiek teen die Fariseërs gehad het.(vgl. sy striemende aanval in Matteus  23:26-28 ) 

Die mens is gesteld op die uiterlike, God stel veral belang in die hart. 

Alle valse godsdienste maak kenmerkend baie van die uiterlike en die sigbare. Solank ek die regte voorskrifte,  seremonies  en rituele volg is alles reg!  Maar hierdie  vashou aan die uiterlike raak ook baie mense in die kerk. Dit lyk of baie redeneer : “As die baba darem ‘n mooi dooprokkie aanhet,  as al die familie darem net by die aanneming kan wees, solank ons maar net ‘n stemmige begrafnis met ‘n kwistige huldeblyk het...dan is ons hemelse bestemming verseker...” Baie vind gemoedsrus in die feit dat “ons darem nie hierdie of daardie gruwelike sonde doen nie” Alles uiterlike maatstawwe!  Jesus stel dit egter baie duidelik : as mens te doen het met die ware God en as mens in sy Koninkryk wil ingaan is iets meer as uiterlike reinheid en rituele nodig. 

God, omdat Hy die lewende God is, kyk tot binne in die hart. Dit wat God in ons binnestes sien verskil hemelsbreed van dit wat mense op ons gesigte sien. Wat God van ons harte af weet, verskil nogal van dit wat mense op ‘n Sondagoggend in die kerk waarneem. Hoe ons vir mekaar lyk,  is iets heel anders as hoe ons vir God lyk. En dis volgens hierdie binneste wat Hy gaan oordeel. (Romeine 2:16)  Hierdie fokus van Jesus op die hart, m.a.w. op ons diepste gesindheid en bedoelings kry mens weer vorentoe  in die Bergrede wanneer Jesus Sy siening gee oor die 6de en 7de gebooie. (Moord en egbreuk is nie iets wat bloot uiterlike gebeure behels  nie, dis sonde wat eerstens in die hart begin en  gepleeg word, lank voor dit tot sigbare dade oorgaan)

As Jesus hier fokus op die hart kom dit neer op ’n ontsettende stuk ironie. Want sien, niks op aarde is juis so onrein as die mens se hart nie!  Jesus gee ‘n skrikwekkend eerlike beskrywing van die boosheid wat uit ‘n mensehart opborrel in Markus 7:18-23. (Lees) Dink maar bietjie aan alles wat sleg, siek, walglik en  wreed en is. Waar begin dit? Waar word dit  uitgedink en beplan?  Waar broei en gis dit voor dit tot uitbarsting kom? Dit kom uit die binneste van die mens. Niks op aarde is so vals en bedrieglik as die mens se hart nie. (Jeremia 17:9!)  Soos reeds gesê, die mens se wesentlike probleem is nie sy ouers, familie,  omgewing of omstandighede nie,  maar sy eie bose hart.  Hieruit kan ons ’n baie belangrike logiese gevolgtrekking maak : die oplossing van die ellende van die mens lê dus nie in ander omstandighede  nie, maar die verkryging van ’n nuwe rein hart!

Wat is ’n rein hart? Skoon. Sonder smet en bedrog. ’n Hart waarvan God hou. ’n Hart wat onverdeeld op God gerig is. 'n Hart wat God waarlik liefhet en daarom ook sy medemens.  ‘n Opregte hart! (Vgl. Jakobus 4:8b.)

“...want hulle sal God sien.” 

Hier is ‘n heerlike en omvattende belofte. Die belofte is dat die wat rein van hart is God sal sien. Dis ‘n groot saak. Om God te sien, om God se teenwoordigheid te beleef, om God te geniet en te bewonder! Dis waarvoor ons hier op aarde is! Dis die sin en vreugde van die mens se bestaan! Wie dit mis, mis alles!  Die saligsprekinge gaan oor die Koninkryk,  so die reines van hart sal God in sy Koninkryk sien. Hulle (en net hulle) sal nou reeds, maar ook vir ewig in sy teenwoordigheid woon. Diegene met onrein harte sal nooit in God se heiligdom toegelaat word nie.  Onrein harte is die grootste struikelblok om God te “sien”. Dis ‘n onrein hart wat verhinder dat ek God se teenwoordigheid beleef, dit verhoed my om God se nabywees te ervaar. Dit belemmer en versteur gebedsgemeenskap met God. (ja, daardie teen die dak vasbid) Onrein harte kelder ons gebede. (Jesaja 59:1,2) Wie ‘n onrein hart het, leef nou sonder God en sal vir ewig sonder Hom wees.  Hoeveel mense is dalk nie in hierdie situasie nie? Hulle is wel uiterlik deel van die kerk, maar hulle sien God nie, hulle beleef Hom glad nie. Daar is geen bewuste gemeenskap met Hom nie! Die rede : ’n onrein hart. Daarom beleef hulle godsdiens as ‘n koue dooie plig.  Onreines sal tot in alle ewigheid afgesny wees van God;  hieroor is Openbaring 21:27 baie duidelik:

“Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kan kom nie...”


DAWID

Dit bring ons dan by die laaste groot vraag : hoe kry ek ’n rein hart? Hier kan koning Dawid ons nogal help. Dawid was iemand wat met die onreinheid van sy hart geworstel het. Sy sonde met Batseba het die toestand van sy hart pynlik aan die lig laat kom. Dawid het gelukkig ook die oplossing vir sy bose hart raak gesien. Hy wend hom in verootmoediging tot God en pleit berouvol: “skep vir my ’n rein hart, o God!” (Psalm 51:12) God alleen kan ’n onrein hart skoon maak. Die manier hoe Hy dit doen is deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees, wat die mens bring  tot egte geloof in Jesus Christus! 

Jesus se bloed is die enigste wasmiddel vir ‘n smerige hart!

Dit beteken ek kan net ‘n skoon hart ontvang as ek vertrou op Jesus as die Gekruisigde, wat die straf vir my onrein hart in my plek gedra het! Hy skenk my vergifnis, maar ook ‘n nuwe hart met nuwe rein begeertes en beginsels!

Net ‘n laaste opmerking van troos vir God se kinders. Dis in ‘n sin juis die gereinigde kinders van God wat die meeste bewus is (en algaande meer bewus raak) van hulle eie onrein hartstoestand. Dis juis eers as ek ‘n rein hart ontvang het, dat ek bewus word van en ontsteld word oor die oorblywende sonde in my lewe. Die verlange na ‘n rein hart en die versugting tot God vir ‘n heilige lewe, sal  voortdurend by die kind van God aanwesig wees. ‘n Voortgaande verlange na ‘n rein hart, is dus seker een van die duidelikste kenmerke van ‘n rein hart!

Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!


Donderdag 09 Februarie 2012

GOLIAT HET REEDS GEVAL

- dis werklik GOEIE NUUS!

(Maak jou Bybel oop by 1 Samuel 17)

Ons ken die verhaal van die jong skaapwagterseun wat die reus verslaan so goed, dalk het dit al bietjie vaal geword. Ek wil jou verseker en waarborg hier is heerlik verrassende goeie nuus. Ek sê doelbewus “verrassende” nuus, want die meeste mense het nog nooit die werklike goeie nuus hierin raakgesien nie. Vir baie is hierdie verhaal bloot net ̕n vroom voorbeeld van ̕n gelowige wat met God se hulp ̕n groot probleem oorkom het. Nee, dit gaan oor baie meer!

Kom ons bekyk die toneel van die slagveld. Sien die prentjie, voel die spanning, die afwagting! Die linies van die twee leërs op die teenoorstaande rante. Net ’n smal vallei wat hulle skei. Hierdie toestand gaan al vir 40 dae aan. Die vyand het ‘n ongemaklike greep gehad op God se beangste volk.

Dan betree die jong Dawid die verhoog....ons weet wat het toe gebeur...toe verander als! Ek wil net vier aspekte uitlig wat belangrik is vir die verstaan van die boodskap:

 

1) Baie belangrik! Wie is die Dawid, wat skielik hier op die slagveld verskyn? Uit hoofstuk 16 is dit duidelik, Dawid was nie maar net ‘n besonder gelowige skaapwagter nie. (Dis nie wat hom uniek maak nie, daar was sekerlik ook ander skaapwagters wat God geken het.) Dawid was iemand spesiaal. Hoekom? God het Samuel gestuur om een van Isaï se seuns as koning te salf in Saul se plek. Dawid was wel jonk, in almal se oë onbelangrik, maar hy was God keuse. Ons lees : “Die Gees van die Here het kragtig in hom gewerk.” (1 Sam 16:13) God se keuse, God se man, meer nog God se Gesalfde! Dawid was verseker ’n gelowige maar hy was terselfdertyd baie meer as net nog ’n gelowige Israeliet. Dawid is God se Gesalfde en Gestuurde. Gestuur om die hele volk te bevry! Hier is die sleutel vir die verstaan van die verhaal. Bo alle twyfel staan dit vas : Dawid is ’n voorbeeld van Iemand wat groter is as hyself. Die Nuwe Testament herinner ons herhaaldelik : Jesus is die Seun van Dawid, gebore in Betlehem, die stad van Dawid. Jesus is immers die Christus (Gesalfde in Grieks)

2) Waaroor gaan die stryd? Wat is op die spel? (17: 8-10) Dit gaan oor die voortbestaan van God se uitverkore volk in hulle beloofde land! Wen Goliat - word die Israeliete slawe, wen Dawid dan is God se volk vry om in hulle land te woon. Die volk se toekoms en welsyn is hier op ’n mespunt gebalanseer. Net een geveg, maar met verreikende gevolge. Groot ellende of groot blydskap. Vryheid of verslawing! En veral het dit gegaan oor God se eer en God se beloftes. (17:26) Dit gaan nie bloot oor Israel as ’n volk nie - Israel was Gód se volk, Dawid verwys na hulle as die linies van die lewende God! Die stryd gaan dus oor God se belange - dis nie bloot ’n konflik tussen twee etniese groepe nie, dis nie ’n persoonlike relletjie tussen ’n reus en ‘n skaapwagter nie!

3) Wie het die verlossing bewerk? (Vers 45-50.) Ons is geneig om te sê : “Wow, hierdie Dawid kon slingervel gooi! Dis om die punt te mis. Hier is iets groter as Dawid se bedrewenheid met ’n slingervel. Ons moenie fokus op Dawid nie, maar op God wat ’n bomenslike wonder bewerk. Dit was God wat sy gesalfde, Dawid as instrument gebruik het. Die hele oorwinning is ’n Goddelike ingryping ten behoewe van sy volk! God verlos sy volk. En die manier hoe Hy dit doen is so belangrik - nie deur ’n magtige vaardige krygsman nie, maar ‘n veragte jong seun, heeltemal ontoereikend toegerus volgens menslike standaard. Hy moes die smaad en spot van ander verduur. Dawid was heeltemal onwelkom en is beledig ! (Vers 25-28) Klink bekend, nê? Ons het ook mos 'n Verlosser wat onwelkom was en bespot is!

4) Wat was die gevolge? Goliat delf die onderspit! Toe die Filistyne dit sien kies hulle die hasepad. (Vers 51-52) Toe hulle kampioen val, VLUG hulle! Goliat se nederlaag was ‘n beslissende moment (draaipunt.) Goliat se dood het ook ‘n ander gevolg. Dit spoor die Israeliete aan tot aksie. Hulle volg Dawid se oorwinning op, om af te rond en skoon te maak. Merkwaardige verandering! Die einste manskappe was kort tevore nog bang, moedeloos en radeloos. Nou skep hulle moed! Hoekom? Die beslissende slag is geslaan, God het ingegryp, die uitslag is nie meer in die weegskaal nie. Stel jouself die vreugde voor in die stede van Israel toe hierdie goeie nuus hulle bereik. Daar was benoudheid en angs. Nou kom die nuus dat Dawid die reus verslaan het! Daar word gedans en gesing en gejubel. (18:6-7)

Die groot Hervormer Martin Luther het dit so treffend raak gestel :

“Toe Dawid die groot Goliat verslaan het, het die Joodse volk die goeie rapport en bemoedigende nuus gekry dat hulle vreeslike vyand neergeslaan is en dat hulle verlos is en vreugde en vrede gebring is. En hulle het gesing en gedans en was bly daaroor.. So is hierdie evangelie van God in die Nuwe Testament ̕n goeie verhaal en rapport wat in die hele wêreld deur die apostels uitgebasuin is, wat ons vertel van ’n ware Dawid wat gestry het teen sonde dood en die duiwel en hulle oorwin het en so almal verlos het wat gevang was deur sonde, geteister is deur die dood en oorweldig is deur die duiwel."


In hierdie verhaal lê ’n kragtige hoopvolle boodskap opgesluit. Dit raak die sekerheid van ons VRYSPRAAK en die sukses van ons HEILIGMAKING!

Boodskap vir ons vryspraak/regverdiging. Jesus is ons Dawid wat reeds die oorwinning behaal het. Die evangelie is die rapport, die berig van hierdie oorwinning... Die evangelie sê nie jy moet dit of dat doen nie, Nee : DIT IS GEDOEN. ons moet dit glo en in dankbaarheid aanvaar. Sien Jesus, swak en onaansienlik in mense oë ..... Hy oorwin sonde, satan, dood en hel. Hoe so? Hy het ons straf gedra- ja, my eie sondes is reeds gestraf...as ek dit in geloof aanvaar het Satan geen mag meer oor my, die dood het geen verskrikking, en die hel is geen bedreiging meer nie!

Boodskap vir ons heiligmaking m.a.w. ons daaglikse stryd teen sonde. Ons is nie Dawid nie, Jesus is ons Dawid! Ons kan eerder vergelyk word met die volk, die manskappe van Israel. Omdat hulle geweet het die oorwinning is reeds behaal kon hulle met moed teen die oorblywende Filistyne veg. So kan ons daagliks met moed teen die sonde stry, omdat Jesus reeds ons verlossing bewerk het. Ons geveg is teen ’n vyand, wat alhoewel nog gevaarlik is, reeds verslaan is!


God het Dawid gebruik om Goliat te verslaan en die volk te bevry. God het sy Seun Jesus gebruik om die Satan vir eens en vir altyd te oorwin en so ons vryheid bewerk. Ek moet hierdie Goeie Nuus (evangelie) gelowig aanvaar, dan kan ek seker wees van my verlossing en met alle krag stry teen die oorblywende sonde!


Donderdag 02 Februarie 2012

AS MY PLANNE MISLUK

Op ’n dag kry Dawid ’n wonderlike idee, ’n blink plan! Lees nou eers hiervan in 1 Kronieke 17:1-12. Hy wil vir die Here ’n tempel bou. Volgens alle aanduidings was dit die regte ding om te doen. Die Here het vir Dawid ryklik geseën sedert Hy hom agter die skape weggevat en koning van Israel gemaak het. Dawid het die vermoë gehad om ’n pragtige tempel te bou. So ’n tempel sou ’n blyk van dankbaarheid wees en ’n pragtige monument tot eer van God. ’n Getuienis vir God onder al die heidennasies. Ook God se profeet Natan was ten gunste van die plan! (Vers 2)

Maar dan kry Dawid ’n onaangename verrassing. God sê NEE vir sy plan. Die Here sê dit nou wel op ’n mooi taktvolle manier, maar dit bly NEE. Dit lyk vir ons as mense onverstaanbaar. Hierdie plan kom tog voort uit Dawid se toewyding aan God, maar God sê NEE! Nou, dit raak ons elkeen, want gebeur dit nie ook maar dikwels met ons nie? Ons wil graag iets spesiaals vir die Here doen en dan val alles plat, ons word teleurgestel en ons wonder wat het nou fout gegaan. Hoekom help die Here my nie om hierdie projek of planne deur te voer nie? Ek het sulke goeie voornemens gehad om vir die Here te gaan werk of om hierdie projek aan te pak, en nou het dit als misluk... Hoekom sê God vir my NEE? Hoe moet ons God se manier van werk verstaan?

In hierdie gedeelte kry ons kosbare insig in God se werkswyse. Waarom sê God, NEE? Was daar fout met Dawid se motiewe en bedoelings? Ons kry geen so ’n aanduiding nie. Ons kry wel ’n rede in 1 Kronieke 22:5-10. (Lees) Dawid het baie bloed vergiet. Dit was egter nie in hierdie konteks ’n sonde nie en die Here veroordeel hom ook nie daarvoor nie. Dawid het mos juis die oorloë van die Here gevoer. (Vgl. 1 Samuel 25:28) Dit was God se taak vir Dawid om Israel van sy vyande te verlos. Dis duidelik : God het vir sy verskillende kinders verskillende take.

Maar weet julle dit gaan in hierdie gedeelte oor iets baie groter as God wat net vir Dawid sê NEE!

Dawid het ’n skitterende idee gehad, maar God het  nog ’n baie beter idee gehad!

Kyk, Dawid het gesê : “Here, ek wil vir U ’n huis bou!” En wat is God se reaksie in effek? God sê : “Dawid ek sal vir JOU ’n huis stig” (OAV - vers 10) Dawid wil iets groots vir die Here doen, maar die Here sê as’t ware : “Wag ’n bietjie Dawid, ek gaan vir jou nog iets groters doen, baie groter as wat jy dink. Ek gaan vir jou ’n ewige koningshuis vestig, ’n onvernietigbare dinastie.” Ons weet dat hierdie belofte betrekking gehad het op Salomo, maar ons weet ook dat hierdie belofte verder strek as Salomo. Dit gaan oor die ewige heerskappy van die Seun van Dawid, Jesus Christus! Dis Hy wat vir ewig sit op die troon van sy voorvader Dawid! Dis die heerlike boodskap van die engel aan Maria toe hy Jesus se geboorte aangekondig het! (Lukas 1:31-33) Dawid as mens (soos ons) het ’n beperkte visie gehad. Hy het gedink aan ’n tempel, ’n gebou... God kyk baie verder vooruit, na die ewige tempel, die onvernietigbare Koninkryk, die heerlike heerskappy en verlossingswerk van Jesus Christus!

Twee uitstaande waarhede dring hulleself aan ons op uit hierdie gedeelte:

~ God se planne is altyd die beste. Ons kan daarom volkome berus by sy besluite. Ons moet geduldig aanvaar dat God vir ons elkeen verskillende gawes en verskillende funksies gegee het. Dawid het ’n ander rol in die geskiedenis van God se volk gespeel as sy seun Salomo. Pasop vir impulsiewe “brainwaves” of mensgemaakte visies. Onderwerp jou aan die feit dat ons tyd nie altyd, God se tyd is nie. Ons planne is nie altyd juis Sy planne nie. Wag vir God se opdragte! Dit was eintlik die groot fout van Dawid. Sy idee was opsigself goed, maar dit was nie ’n opdrag van God nie! Daarom word Dawid bietjie in die bek geruk met God se NEE. En weet julle, Dawid berus blymoedig by God se beslissing. Hy is nie dikbek daaroor nie en hy gaan sit ook nie passief eenkant nie. Hy begin solank om die materiaal vir die bou van die tempel bymekaar te maak sodat Salomo nie moet sukkel nie. (1 Kronieke 22:5) Dawid is nie jaloers dat sy seun Salomo die eer sal kry vir die bou van die tempel nie, hy help hom onselfsugtig! In die Nuwe Testament is dit so duidelik dat God vir elkeen van sy kinders verskillende gawes en verskillende funksies gee. (Romeine 12:3-8) Laat ons net dit wat die Here nou aan ons opdra voluit en blymoedig doen! Laat ons dit doen sommer om jaloers te wees op ander Christene wat ander gawes en ander opdragte van die Here ontvang.

....maar nog belangriker....

 

~ Ons is altyd eers ontvangers en dan doeners. Die klem in die Bybel, die fokuspunt van die evangelie is nie wat ons vir God doen nie, maar wat Hy vir ons gedoen het en nog steeds doen. Dis wat God vir Dawid in hierdie gedeelte probeer verduidelik. (Sien vers 8)

 In God se verhouding met die mens is Hy die Een wat gee en ons is die onverdiende ontvangers!

Ja, as ons ontvang het, sê ons uit dankbaarheid : “Neem my lewe Heer, laat dit U gewy wees meer en meer....” Maar ons bly in die eerste plek ontvangers! Dis ook hoe ons gered word van sonde, dood en hel. Die inhoud van die evangelie boodskap is mos : “Dis klaar gedoen.” Jesus het deur sy kruis en opstanding alreeds die volle boete vir ons sonde betaal, Hyself het reeds die volle straf vir ons sonde op Hom geneem. Glo dit en ontvang sy vergifnis en vryspraak. Ons maak so maklik die fout om te dink dat ons verhouding met God afhanklik is van wat ONS doen! Ons maak die fout om te dink dat ons nader aan God kan kom of dat Hy meer van ons sal hou as ons dit of dat doen! Dis ’n groot fout. Ons moet soos kindertjies die verlossing uit Jesus se hand ontvang! Die ewige lewe is immers ‘n genadegawe (geskenk) van God. (Romeine 6:23) Dis heeltemal verniet, want Jesus het daarvoor betaal.

Ek kan nie ’n Christen wees, voordat ek nie ’n ontvanger geword het nie! Is jy al ’n ontvanger? Kom...dis verniet! (Openbaring 22:17)