BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 18 November 2020

GOED OF SLEG?

EERLIK GEKYK NA DIE MENS

Is die mens goed of sleg? Is party mense sleg en party dalk goed? Is die meerderheid goed en die minderheid sleg of dalk andersom? Daar is baie opinies… Daar is egter net een betroubare opinie en dis God se opinie. Dis wat Hy ons in sy Woord leer. 

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in Romeine 3:11-18

Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, 
daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
"Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
"Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
"Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." 

Wat 'n skokkende beskrywing van die mens se toestand! Alle mense. Die heel egste – geen ontsag vir God nie! Die mens het van nature geen respek vir God nie, geen liefde vir God nie, geen verlange om sy Woord te hoor nie, geen begeerte om sy opdragte te gehoorsaam nie… Ons sien orals rondom ons die bewyse : minagting vir God se wette oor die huwelik, verbreking van die beloftes wat ons aan God maak, plesier wat voor God gestel word, maar as ons in die nood is dan hardloop ons gou na Hom… 

Om saam te vat – God se opinie oor die mens is dat die mens ‘n totaal verdorwe diep gevalle sondaar en korrupte woestaard is! En onthou God is regtig lief vir mense, God se opinie is nie die van iemand wat negatief is nie, maar van iemand wat die mens regtig liefhet! Wat God van die mens sê, sê Hy dus omdat dit die waarheid is. God het dit reeds van die mense in die tyd van Noag gesê : “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.” (Genesis 6:5,6) Dis nog steeds die situasie... 

GEEN TOEGANG SONDER WEDERGEBOORTE 

Die implikasie is niemand kan God se Koninkryk ingaan as daar nie eers iets drasties gebeur nie. In die Johannes evangelie sien mens dit so duidelik – Nikodemuswas 'n goeie man, iemand wat die Bybel geken het, ‘n leraar in Israell. Maar Jesus sê vir hom: “Jy moet weergebore word!” Die punt is hy het Jesus nodig. Net in die volgende hoofstuk kry ons ‘n absolute kontras– die Samaritaanse vrou – ‘n slegte vrou (bly ongetroud saam met ‘n man – ja dit mag dalk ‘n verrassing wees vir sommige, maar die Bybel sien dit so) – 'n uitgeworpene. Dit kom aan die lig sy het al vyf mans gehad. Jesus bied vir haar die lewende water aan. Die punt is dieselfde – sy het Jesus nodig. 

Alle mense is helverdiende sondaars, alle mens het ‘n Middelaar en Verlosser nodig en die Enigste wat jou kan red is Jesus. 

Die doopformulier stel dit baie duidelik. Almal is aan die verdoemenis onderwerpe en kan slegs in die koninkryk van God ingaan as hulle weer gebore word! 

Die Goeie nuus is dat God uitreik (Sy hand uitsteek) na die diep gevalle sondige mens. God het die mens nie afgeskryf en in sy ellende net so alleen gelos nie. Reeds na Adam en Eva in die tuin kom soek God die emns op. Later op besondere manier reik Hy uit na Abram. God doen dit deur sy beloftes en die bevestiging daarvan in die verbond. Sy beloftes van redding. “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet my volk wees.” Die sigbare teken van God se beloftes in die ou bedeling was die besnydenis. Deur die besnydenis het God belowe : "Ek wil jou God wees en jy moet vir my ‘n kind wees." Maar luister mooi! Nie almal wat die teken ontvang het, het die beloftes aanvaar en God se kinders geword nie. Die Bybel praat van die mense wat besnede was, maar onbesnede van hart gebly het. Hulle het God se beloftes verwerp al was hulle besny en God se straf en oordele het hulle getref. 

In die nuwe Verbond is dit soortgelyk. God bevestig die waarheid van die evangeliebeloftes in die sigbare teken van die doop. Jesus se kruis en opstanding was vir ons genoeg. Maar ons moet dit aanvaar deur geloof en bekering. Sonder geloof en bekering sal gedooptes verlore gaan! Hoor ons dit? Daar gaan baie gedooptes in die hel wees! Maar dit sal nie God se skuld wees nie. Daar is niks verkeerd en vals aan God se beloftes nie. Daar kom niks te kort aan die volledigheid van Jesus se kruis en opstanding nie.

HOEKOM STEEDS VERLORE?

Hoekom gaan mense nog steeds verlore? Kom ons luister hoe die Johannes evangelie hierdie vraag beantwoord…

 "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 
Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is." (Johannes 3:16-21) 

BELOFTE EN EIS

God maak beloftes. Ons sien dit sigbaar by die DOOP. Ons MOET antwoord op God se beloftes deur geloof en bekering. Dis die eis van die verbond. Geloof in Jesus is nie net om van Jesus te weet nie, maar om na Hom wat die lig is te kom… Het jy al na Jesus gekom sodat Hy jou lewe nuut kan maak?



Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!