BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket God se Wil. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se Wil. Wys alle plasings

Donderdag 15 Januarie 2015

GOD SE WIL VIR MY

- is baie duidelik!

“Wat is God se wil vir my lewe? Wat is sy planne vir my toekoms?” Dis ‘n vraag wat mense dikwels vra, veral dalk hier aan die begin van ‘n jaar. Ons vra dit gewoonlik in verband met dinge soos : “Watter werk moet ek aanvaar, moet ek op ‘n ander plek gaan woon, met wie moet ek trou, waar moet ek gaan studeer...?” By sommige is daar groot nuuskierigheid oor God se wil (eintlik meer oor die toekoms) en hulle gebruik allerhande kunsmatige metodes – Hulle kyk waar die Bybel oopval en gryp sommer die eerste teks as ‘n aanduiding van God se wil... Hulle kyk gedurig uit vir tekens en visioene... Aan die anderkant is baie mense weer bevrees oor God se wil.... “Sê nou maar die Here stuur my na ‘n plek wat vir my heel onaanvaarbaar is, sê nou maar God gee my ‘n opdrag waarvoor ek glad nie kans sien nie?” (Dis natuurlik 'n ongegronde dwase vrees, want hoe sou die Persoon wat jou die meeste liefhet in die ganse heelal iets slegs vir jou beoog?)

DIE BASIESE BEGIN...

Kom ons vergeet eers van alle metodes en vrese en kyk eenvoudig na wat God se Woord vir ons sê. Anders gestel kom ons kyk eers na die basiese Bybelse vertrekpunt rondom die saak van God se wil. 1 Tessalonisense hoofstuk 4 is ‘n goeie beginpunt. “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” (3) Jy sien, God se wil is volgens die Bybel nie ‘n vreeslike geheim wat deur allerhande metodes ontdek moet word nie! Dit word tog hier duidelik en eenvoudig gestel... Nou sal iemand sê : “Wag ‘n bietjie, dis nie wat ek wil hoor nie, ek wil weet of ek daardie aanloklike werksaanbod moet aanvaar?” Ek dink dis waar ons die groot fout maak, ons ignoreer God se basiese opdrag aan sy kinders en juis daarom tas ons so in die donker rond wat ander besluite betref. Begin by die begin. As jy reeds ‘n kind van God is, is God se basiese wil in die eerste plek dat jy in heiligheid moet leef. (As jy twyfel oor kindskap moet jy na Jesus kom dat Hy jou red, dis dan die belangrikste saak vir jou op God se agenda. Vergeet eers van alle ander dinge.) 

God se wil vir sy kerk (sy kinders) is HEILIGMAKING. Dis in lyn met ons basiese belydenis oor die wese van die kerk : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Heiligheid is die basies wil van God en opdrag aan sy kerk. “Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:16)

REINHEID

Paulus maak die wil van God baie prakties : “Weerhou julle van onsedelikheid.” Dit was destyds uiters aktueel en vandag nog meer so. Dit gaan hier oor alle vorme* van seksuele onreinheid – in woorde, gedagtes, dade... Alle uitlokking (kliek – SNEEUWITJIE), losbandigheid, saambly (kliek – ONDER MY DAK?), egbreuk en alle vorme van perversiteit (Kliek – GAY?). Dis juis op hierdie terrein waar die vroeë Christene radikaal anders geleef het as die omliggende massas mense. Hulle het uitgestaan vanweë hulle nuwe lewenswyse op seksuele gebied. Al die onreinheid wat vandag so aanvaarbaar geword het, was ook reeds deel van die heidense Romeine samelewing. Paulus beklemtoon die erns van hierdie saak. “Die Here straf al sulke dinge.” (6) Paulus maak dit ook duidelik dat dit nie hier oor sy eie voorskrifte of puriteinse gevoelens gaan nie, maar oor God se opdragte! “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (8) 

BROEDERLIEFDE

Die ander aspek van God se wil wat hy onderstreep is die broederliefde. Dis so vanselfsprekend dat hy sê dis eintlik nie nodig om daaroor te skryf nie. Hy moedig net die Christene aan om nog meer daarop te fokus. “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” (9,10)

As jy erns wil maak met God se wil, as jy regtig wil weet hoe om te leef, maak erns met die opdragte wat hier gegee word. Dis asof Paulus wil sê : “As hierdie dinge in plek is, moenie verder bekommerd wees nie, gaan net rustig aan met jou lewe en doen jou werk wat jy nou het goed.” (sien vers 11) 

KEUSES?

God se wil vir sy kinders is nie iets vreemds of ‘n geheim wat deur sekere formules ontdek moet word nie. Sy wil is dat jy moet fokus op heiligheid. Los als wat sy Woord verbied en fokus positief op liefde vir jou medegelowiges soos die Woord beveel. As hierdie dinge in plek is, sal jy ook weet watter keuses om te maak t.o.v. beroep, studies, huwelik ens. As hierdie basiese beginsels van heiligmaking afwesig is, soek jy tevergeefs na God se leiding in spesifieke sake.

As ek in een of ander buite egtelike verhouding, enige vorm van onsedelikheid, bitterheid, onvergewensgesindheid... leef, mors ek my asem om te vra dat God my sal lei wat die toekoms en sekere keuses betref!

Kom ons vat dit saam : As jy die basiese wil van God naamlik ‘n heilige lewe nastreef, dan gaan detail besluite oor werk en huwelik en studies... amper outomaties kom. Hoe heiliger jy lewe hoe makliker sal jy die regte besluite neem, want jou begeertes en jou denkprosesse sal al meer in ooreenstemming met God se Woord wees. God se Woord (nie net enkele tekste nie), maar die beginsels van die Woord sal ‘n blywende stem in jou binneste word wat jou daagliks sal lei...

“en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” (Jesaja 30:21)

Vir nog verdere praktiese wenke oor die verstaan van God se wil rakende keuses wat ons moet maak, kliek op JI Packer.



[God se koers en wil vir ons is die pad van heiligmaking.]

*Die Griekse woord "porneia" is 'n baie omvattende term.

HOE NEEM EK BESLUITE

VOLGENS GOD SE WIL?


‘N BYBELSE BENADERING TOT GOD SE LEIDING IN BESLUITNEMING (oorgeneem by J.I.Packer):

1. Die vertrekpunt is : wat is die beste wat ek vir God kan doen? [Kies doelbewus teen selfsug en eiebelang en vra eerlik wat tot God se eer sal dien. So word ‘n klomp verkeerde keuses sommer van die begin af uitgeskakel.]

2. Maak erns met die basiese opdragte van die Skrif : die opdragte om God en ander lief te hê, die perke en die verpligtinge wat God se bevele op ons lê , die aandrang op energieke aksie van ons kant af (Prediker 8:10, 1 Kor. 15:58), die ingrawe in wysheid om ons in staat te stel om die beste keuse onder al die opsies te maak. [Maak veral in die eerste plek erns met die opdrag in die Skrif wat direk handel oor God se wil soos 1 Tessalonisense 4:3]

3. Volg die voorbeelde van godvresendheid in die Bybel : veral, boots die liefde en nederigheid van Jesus self na. Terwyl ons dit doen, kan ons nie ver verkeerd gaan nie.

4. Laat wysheid ons koers bepaal, nie slegs die wysheid wat God jou persoonlik gee nie, maar die gesamentlike wysheid van jou vriende en leiers in die Christen gemeenskap. Moenie ’n geestelike “lone ranger” wees nie. As jy dink dat jy God se wil verstaan, toets jou verstaan van dinge. Maak gebruik van die wysheid van hulle met meer insig as jy, aanvaar raad. [Praat veral met volwasse Christene wat nie bang gaan wees om hulle eerlike mening te gee nie.]

5. Neem kennis van enige aanduidings of aansporings van God wat oor jou pad kom — enige spesiale las vir ’n bediening, ’n rusteloosheid van hart wat aandui dat iets moet verander.

6. Koester die Goddelike vrede, waarvan Paulus sê dat dit die harte bewaar van hulle wat in God se wil is. [onrus in 'n gelowige se hart is gewoonlik 'n aanduiding dat  ek op die verkeerde koers gaan]

7. Neem kennis van die beperkings wat deur omstandighede bepaal word en wanneer dit duidelik is dat hierdie beperkings nie verander kan word nie, aanvaar dit as van God. [Moet nooit iets forseer nie!]

8. Wees voorbereid dat God se leiding oor ’n spesifieke saak nie duidelik sal wees voor die tyd van beslissing aanbreek nie en dat God jou stap vir stap lei, want dit is wat Hy gewoonlik doen.

9. Wees voorbereid dat God jou na iets kan lei wat jy gedink het jy nie sal van hou nie, en jou sal leer om daarvan te hou!

10. Moet nooit vergeet nie, as jy ’n slegte keuse gemaak het is dit nie die einde van alles is nie : God vergewe en herstel. Hy is jou Verbond en Verlosser. Hy sal jou nie versaak nie, maak nie saak hoe sleg jy gegly het nie. (Miga 7:8)


[die kursiewe gedeeltes in hakies is my opmerkings]

Vrydag 09 Januarie 2015

ONTVANGERS VAN GENADE

- het ‘n duidelike roeping en opdrag.

Ons lê dikwels klem op ons planne en programme, ons visies en ambisies. (veral hier aan die begin van ‘n jaar praat en dink ons dalk meer daaroor) Die kind van God behoort iemand te wees wat sal besef : God het ‘n baie spesifieke plan en doel vir my. Die vraag is natuurlik, wat is daardie plan? Kan ek dit weet? Moet ek probeer uitvind?

Die juweelteks van EFESIËRS 2:8-10 vat als so mooi en gebalanseerd saam :

“8.Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.  9.Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  10.Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die oorheersende tema hier  is genade. Dis vandag egter baie moeilik om oor die woord genade te preek sodat mense nog daaroor opgewonde raak. Min mense hoor nog die musiek in die woord “genade.” Die probleem lê nie by die begrip genade self nie, maar by ons huidige kultuur en verstaansraamwerk. Die mens van vandag sien homself nie juis as iemand wat genade nodig het nie. Genade is iets mooi, maar niemand stel daar in belang nie. (Dis vir baie amper so iets soos om ‘n plaas in Zimbabwe te erf – niemand wil dit hê nie!) Hoekom?

Mense sê : “Ag wat God is ‘n God van liefde, Hy sal niemand oordeel en hel toe stuur nie.  Ek het nie juis genade en vergifnis nodig nie.”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” (Openbaring 20:12)

Mense sê : “Ag wat daar bestaan nie juis meer iets soos sonde nie.” As mense in onsedelikheid leef, dan sê ons so half grappig : “Hulle is maar ‘n bietjie stout...” (Ons tydskrifte het kort-kort ‘n artikel oor een of ander filmster of mode heldin wat nou ware liefde ontdek het en by haar kêrel ingetrek het... so min mense besef nog iets van die aakligheid van ‘n onsedelike lewe) As jong mense hulle aan drank te buite gaan hier in die feesseisoen, dan word dit maar afgemaak : “Ag, jong hulle kuier bietjie hard, maar nou ja hulle het hard gewerk deur die jaar...” 

Watse dwase redenasie!  God se Woord sê : “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie." (1 Kor 6:9-10)

Mense sê : “Ag wat ek leef darem ‘n redelike ordentlike lewe. Baie kerklik en godsdienstig. Bekering en genade is eintlik bedoel vir tronkvoëls, moordenaars en Moslems!”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie...” (Rom 3:10)

Ten spyte van al hierdie dwalings, werk die Gees van God tog nog steeds vandag in mense se harte en oortuig hulle van sonde sodat hulle die genade in Jesus vasgryp deur die geloof.  So kry ons redding van sonde, dood en hel. Genade bly die mooiste woord in die Bybel. Genade is kosbaar vir mense wat  die aakligheid van hulle sonde besef en soos Jesaja uitroep : “Wee my, ek is verlore...” (Jesaja 6:5)  Genade is oneindig soet vir mense wat soos die tollenaar in die gelykenis bid : “O, God wees my sondaar genadig...”

IS JY AL ‘N ONTVANGER VAN GENADE?

Genade is nog net so kosbaar en heerlik vir die ontvangers daarvan vandag soos vir die Verlore Seun. (terwyl dit vir baie ander net so onverstaanbaar en onaanvaar bly soos vir die OUDSTE SEUN) Genade is nog steeds “onbeskryflik groot” Dis nog steeds “Amazing Grace” Dit gee vir ons die redding as geskenk, ‘n heeltemal gratis geskenk, sodat ons niks het om oor te spog of te roem nie! Genade bring aan God alleen die eer!

Genade is nie bloot ‘n wonderlike feit  nie, dit het ook ‘n wonderlike effek. Redding uit genade het ‘n rimpel effek kan mens sê. Gevolge wat sigbaar en wyer uitkring! Die ontvanger van genade is ‘n nuwe skepping. (Vgl. 2 Kor. 5:17) Genade laat jou nie onveranderd nie. Ons lees hier dat die ontvangers van genade geskape is met ‘n baie spesifieke doel. Hier kom ons nou by die antwoord op die vraag oor wat God se doel vir ons is. (10)

GENADE BEVRY EN RIG ONS TOT GOEIE WERKE!

Goeie dade! Goeie werke!  Hoor ons? (So baie mense dink dat goeie werke ‘n Roomse ding is. Nee dis ’n Bybelse ding as ons dit in die Bybelse volgorde verstaan as die uitvloeisel van genade.) Goeie werke is God se doel en agenda vir ons! Hier word ‘n belangrike ding oor goeie werke gesê. (Die OAV  sê dit baie duideliker) “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Goeie werke het nog steeds ‘n genadekarakter. Dis nie ons prestasie en ons vernuftigheid nie! Nee, God het dit klaar voorberei en moontlik gemaak  vir ons. Dis ‘n pad wat Hy klaar uitgelê het en ons kan net daarop loop! Goeie werke kom ook van God af, dis ook ‘n gawe van God, dis steeds onverdiende genade. Hoe so? Deur die geloof in Jesus het God ons vrygespreek, sodat ons ‘n nuwe status het. Ons is nou nie meer oortreders in God se oë nie, maar kinders, regverdige kinders.  God hou van sy kinders en vind vreugde in hulle dade van dankbaarheid en gehoorsaamheid. (Trouens, al die sogenaamde goeie dinge wat mense buite Christus doen, is wegwerplik voor God. Wanneer goddelose film en popsterre kinders uit Afrika aanneem, tel dit nie in God se oë as goeie werke nie...) Deur die geloof in Jesus gee God vir ons die Heilige Gees wat ons in staat stel om Jesus se voorbeeld te volg. Goeie werke is om soos Jesus te leef in gehoorsaamheid aan Sy Vader. 

God se plan en agenda vir ons wat genade ontvang het is eenvoudig - leef soos Jesus! Gelykvormigheid aan Jesus.

Hoe lyk Jesus se lewe? Jesus het volkome onder die beheer van die Heilige Gees gelewe en dus altyd die vrugte van die Gees  volmaak vertoon. Dit wat die Gees in Jesus se lewe gedoen het wil Hy ook in ons lewe doen. God se doel vir ons,  die goeie werke wat God vir ons voorberei het is dus nie nuwe snaakse goed nie, maar 'n lewenswyse wat die vrugte van die Gees vertoon. (Galasiërs 5:22,23) As jy ‘n ontvanger is van genade, gered is deur die geloof alleen, dan het God jou bedoel en bestem vir 'n radikaal ander lewe gekenmerk deur: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Konsentreer hierop. Laat ons die opdragte van God se Woord en die geleenthede wat Hy oor ons pad bring uitvoer en benut volgens hierdie beginsels. Dis God se plan vir jou, ook in 2015! Oor die detail van waar en hoe hoef jy jou nie te bekommer nie...


Donderdag 02 Februarie 2012

AS MY PLANNE MISLUK

Op ’n dag kry Dawid ’n wonderlike idee, ’n blink plan! Lees nou eers hiervan in 1 Kronieke 17:1-12. Hy wil vir die Here ’n tempel bou. Volgens alle aanduidings was dit die regte ding om te doen. Die Here het vir Dawid ryklik geseën sedert Hy hom agter die skape weggevat en koning van Israel gemaak het. Dawid het die vermoë gehad om ’n pragtige tempel te bou. So ’n tempel sou ’n blyk van dankbaarheid wees en ’n pragtige monument tot eer van God. ’n Getuienis vir God onder al die heidennasies. Ook God se profeet Natan was ten gunste van die plan! (Vers 2)

Maar dan kry Dawid ’n onaangename verrassing. God sê NEE vir sy plan. Die Here sê dit nou wel op ’n mooi taktvolle manier, maar dit bly NEE. Dit lyk vir ons as mense onverstaanbaar. Hierdie plan kom tog voort uit Dawid se toewyding aan God, maar God sê NEE! Nou, dit raak ons elkeen, want gebeur dit nie ook maar dikwels met ons nie? Ons wil graag iets spesiaals vir die Here doen en dan val alles plat, ons word teleurgestel en ons wonder wat het nou fout gegaan. Hoekom help die Here my nie om hierdie projek of planne deur te voer nie? Ek het sulke goeie voornemens gehad om vir die Here te gaan werk of om hierdie projek aan te pak, en nou het dit als misluk... Hoekom sê God vir my NEE? Hoe moet ons God se manier van werk verstaan?

In hierdie gedeelte kry ons kosbare insig in God se werkswyse. Waarom sê God, NEE? Was daar fout met Dawid se motiewe en bedoelings? Ons kry geen so ’n aanduiding nie. Ons kry wel ’n rede in 1 Kronieke 22:5-10. (Lees) Dawid het baie bloed vergiet. Dit was egter nie in hierdie konteks ’n sonde nie en die Here veroordeel hom ook nie daarvoor nie. Dawid het mos juis die oorloë van die Here gevoer. (Vgl. 1 Samuel 25:28) Dit was God se taak vir Dawid om Israel van sy vyande te verlos. Dis duidelik : God het vir sy verskillende kinders verskillende take.

Maar weet julle dit gaan in hierdie gedeelte oor iets baie groter as God wat net vir Dawid sê NEE!

Dawid het ’n skitterende idee gehad, maar God het  nog ’n baie beter idee gehad!

Kyk, Dawid het gesê : “Here, ek wil vir U ’n huis bou!” En wat is God se reaksie in effek? God sê : “Dawid ek sal vir JOU ’n huis stig” (OAV - vers 10) Dawid wil iets groots vir die Here doen, maar die Here sê as’t ware : “Wag ’n bietjie Dawid, ek gaan vir jou nog iets groters doen, baie groter as wat jy dink. Ek gaan vir jou ’n ewige koningshuis vestig, ’n onvernietigbare dinastie.” Ons weet dat hierdie belofte betrekking gehad het op Salomo, maar ons weet ook dat hierdie belofte verder strek as Salomo. Dit gaan oor die ewige heerskappy van die Seun van Dawid, Jesus Christus! Dis Hy wat vir ewig sit op die troon van sy voorvader Dawid! Dis die heerlike boodskap van die engel aan Maria toe hy Jesus se geboorte aangekondig het! (Lukas 1:31-33) Dawid as mens (soos ons) het ’n beperkte visie gehad. Hy het gedink aan ’n tempel, ’n gebou... God kyk baie verder vooruit, na die ewige tempel, die onvernietigbare Koninkryk, die heerlike heerskappy en verlossingswerk van Jesus Christus!

Twee uitstaande waarhede dring hulleself aan ons op uit hierdie gedeelte:

~ God se planne is altyd die beste. Ons kan daarom volkome berus by sy besluite. Ons moet geduldig aanvaar dat God vir ons elkeen verskillende gawes en verskillende funksies gegee het. Dawid het ’n ander rol in die geskiedenis van God se volk gespeel as sy seun Salomo. Pasop vir impulsiewe “brainwaves” of mensgemaakte visies. Onderwerp jou aan die feit dat ons tyd nie altyd, God se tyd is nie. Ons planne is nie altyd juis Sy planne nie. Wag vir God se opdragte! Dit was eintlik die groot fout van Dawid. Sy idee was opsigself goed, maar dit was nie ’n opdrag van God nie! Daarom word Dawid bietjie in die bek geruk met God se NEE. En weet julle, Dawid berus blymoedig by God se beslissing. Hy is nie dikbek daaroor nie en hy gaan sit ook nie passief eenkant nie. Hy begin solank om die materiaal vir die bou van die tempel bymekaar te maak sodat Salomo nie moet sukkel nie. (1 Kronieke 22:5) Dawid is nie jaloers dat sy seun Salomo die eer sal kry vir die bou van die tempel nie, hy help hom onselfsugtig! In die Nuwe Testament is dit so duidelik dat God vir elkeen van sy kinders verskillende gawes en verskillende funksies gee. (Romeine 12:3-8) Laat ons net dit wat die Here nou aan ons opdra voluit en blymoedig doen! Laat ons dit doen sommer om jaloers te wees op ander Christene wat ander gawes en ander opdragte van die Here ontvang.

....maar nog belangriker....

 

~ Ons is altyd eers ontvangers en dan doeners. Die klem in die Bybel, die fokuspunt van die evangelie is nie wat ons vir God doen nie, maar wat Hy vir ons gedoen het en nog steeds doen. Dis wat God vir Dawid in hierdie gedeelte probeer verduidelik. (Sien vers 8)

 In God se verhouding met die mens is Hy die Een wat gee en ons is die onverdiende ontvangers!

Ja, as ons ontvang het, sê ons uit dankbaarheid : “Neem my lewe Heer, laat dit U gewy wees meer en meer....” Maar ons bly in die eerste plek ontvangers! Dis ook hoe ons gered word van sonde, dood en hel. Die inhoud van die evangelie boodskap is mos : “Dis klaar gedoen.” Jesus het deur sy kruis en opstanding alreeds die volle boete vir ons sonde betaal, Hyself het reeds die volle straf vir ons sonde op Hom geneem. Glo dit en ontvang sy vergifnis en vryspraak. Ons maak so maklik die fout om te dink dat ons verhouding met God afhanklik is van wat ONS doen! Ons maak die fout om te dink dat ons nader aan God kan kom of dat Hy meer van ons sal hou as ons dit of dat doen! Dis ’n groot fout. Ons moet soos kindertjies die verlossing uit Jesus se hand ontvang! Die ewige lewe is immers ‘n genadegawe (geskenk) van God. (Romeine 6:23) Dis heeltemal verniet, want Jesus het daarvoor betaal.

Ek kan nie ’n Christen wees, voordat ek nie ’n ontvanger geword het nie! Is jy al ’n ontvanger? Kom...dis verniet! (Openbaring 22:17)

Donderdag 08 Desember 2011

WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?

WAT VAN DAARDIE ONREGVERDIGE TRAGEDIE?

Ons ken almal die veelbewoë geskiedenis van Josef... die drome... die jaloesie van sy broers... sy verkoop as slaaf... sy onregverdige gevangeskap... sy verlossing uit die tronk... sy uiteindelike opgang tot onderkoning van Egipte! Hier aan die einde van Genesis, gee hy ‘n verhelderende perspektief op al die gebeure as hy (na Jakob se dood) met sy broers praat om hulle vrese vir vergelding te besweer. Lees Genesis 50:18-21
 

Is alles wat gebeur God se wil?

Weereens : Was dit God se wil dat die dronk man die kind doodry? Die antwoord is Nee, maar die antwoord is ook JA.

Om dit te probeer verstaan moet ons onderskeid maak tussen God se geopenbaarde morele wil en God se verborge ewige Raadswil. (Natuurlik is dit so ‘n diep saak, al ons vrae word nie geantwoord nie, maar hierdie onderskeid kan tog baie nuttig wees. Natuurlik is God oneindig bo ons denkvermoë verhewe... dit moet ons altyd besef)

God se geopenbaarde morele wil is dit wat Hy duidelik in Sy Woord sê, wat reg en verkeerd is. Dis tog duidelik waarvan God hou en waarvan Hy nie hou nie. Daarom kan ons sê dat die dronk man wat die kind doodry nie God se wil is nie. God is duidelik teen dronkenskap, God is ook duidelik daarteen dat ons ander mense leed aandoen. Dis sonde en God is altyd teen sonde. Sonde is nie God se wil nie. Daarom, NEE dis nie God se wil dat ‘n dronk man ‘n kind doodry nie!

Kom ons vra dit weer : Was dit God se wil dat die dronkman die kind doodry? JA, want niks kan op hierdie aarde gebeur sonder sy verborge ewige Raadswil nie. God se ewige Raadswil is dit wat Hy van ewig af bepaal het, sy finale doel met die wêreld en die geskiedenis, die heerlike einddoel van alles, ook sy doel met jou en my. Dis God se volmaakte meesterplan, wat daarop sal uitloop dat God volmaak geëer sal word! Alles werk daartoe mee. Dit kom daarop neer dat God so groot en almagtig is, dat Hy selfs dinge wat teen sy morele wil is kan gebruik om sy uiteindelike raadswil se doelwitte te bereik. Daaom moet ons sê dat ook die tragiese gebeurtenis van die kind wat doodgery word (al sê mens dit met groot sensitiwiteit en deernis) inpas by God se volmaakte Raadsplan, al verstaan ons nou glad nie wat die sin daarvan kan wees nie.

Miskien klink die ingewikkeld en teoreties. Kom ons kyk hoe hierdie beginsel prakties in die geskiedenis van Josef geïllustreer word:

Josef word deur sy jaloerse broers verkoop as slaaf en beland in die grootste ellende in Egipte. Sy broers het dus gesondig. Hulle doen iets wat nie God se wil is nie. Hulle het duidelik God se wil van liefde oortree en verbreek! Josef se broers het gesondig en hulle is self verantwoordelik vir hulle sonde. Tog is God so groot dat Hy die sondige broers se wandade gebruik om sy raadswil uit te voer en die volk van Israel van ‘n hongerdood te red. Dis duidelik uit Josef se woorde in Genesis 50:20 dat God ‘n goeie plan gehad het, al was dit die broers se bedoeling om Josef kwaad aan te doen.

Was Josef se swaarkry in dan nou Egipte God se wil of nie?
NEE, dis teen God se wil wat tog duidelik bepaal dat jy nie jou broer mag kwaad aandoen nie.
Maar...JA, dit was baie beslis deel van God se heerlike raadsplan om sy volk Israel te bewaar, sodat Jesus later uit hulle gebore kon word!

Hierdie beginsel dat God slegte dinge wat teen sy geopenbaarde morele wil is kan gebruik om sy ewige heerlike raadsplanne uit te voer kry ons die duidelikste in Jesus se lewe! Luister na die woorde van Petrus op Pinksterdag in Handelinge 2:22,23! (Lees) Jesus word deur sy eie volk se mense onskuldig gevang en oorgelewer om gekruisig te word. Hierdie mense verbreek dus ongetwyfeld God se wil van liefde en eerlikheid en regverdigheid. Tog lees ons baie duidelik dis God wat Jesus oorgelewer het! God het dit VOORAF so besluit en bepaal! Dit was van ewigheid af God se plan en bedoeling om juis die wêreld so te red!

God gebruik die goddelose en onregverdige leiers
om sy ewige Raadsplan uit te voer.

Was Jesus se onskuldige oorlewering deur sondige mense dan nou God se wil of nie?
NEE, dis teen God se morele wil om ‘n onskuldige mens dood te maak! (en terloops, Jesus was die enigste volkome onskuldige mens wat ooit op aarde was!)
JA, dit was van ewig af God se wil dat Jesus onskuldig moes sterf sodat ons gered kon word!

Alles wat gebeur is dus nie volgens God se geopenbaarde morele wil nie! Alles wat gebeur val wel binne God se Raadswil en uiteindelike bedoeling!

God is so groot, niks kan sy finale doelwitte dwarsboom of sy ewige planne in die wiele ry nie. Daar gebeur wel baie dinge wat teen sy morele wil is - baie sonde, onregverdigheid ens., maar Hy is so groot dat Hy juis ook daardie dinge kan inspan om uitvoering aan sy ewige dekrete en raadsplanne te gee.

Ook al tree mense goddeloos op, word hulle uiteindelik ingespan
 om God te eer! 

Die Here het alles gemaak met ‘n doel , ook die goddelose vir die dag van straf! (Spreuke 16:4) God sal alles laat uitwerk tot Sy eer, ook die goddeloses wat sy genade verwerp sal God eer deurdat God sy grootheid laat blyk as Hy hulle straf in die hel!

Hierdie beginsel raak ons prakties op twee maniere :
Ons is verantwoordelik vir ons dade. Ons kan kies om God se geopenbaarde wil te gehoorsaam of nie. Dit het gevolge..... As ek dronk bestuur, kan dit vreeslike gevolge hê! Ons keuses is werklike keuses waarvoor ons verantwoording sal moet doen!
Aan die anderkant kan ons die versekering hê - selfs al gebeur daar hoeveel slegte en hartseer dinge, selfs al gebeur daar hoeveel onverstaanbare dinge - God sal al sy ewige planne uitvoer!  Ons kan bly wees dat ons so ‘n groot  volmaak soewereine God het.

God se hand is agter alles.

God maak nooit ‘n fout met sy beplanning nie. Al God se Raadsplanne sal tot op die laaste letter, komma en punt uitgevoer word. So sal God al die eer kry wat Hom toekom.
Ons het ’n wonderlike God wat ten volle in beheer is van die geskiedenis en als sal laat gebeur volgens sy volmaakte Raadswil en Meesterplan. Dit vat egter nooit ons verantwoordelikheid weg nie! En wat is ons grootste verantwoordelikheid? Wat is ons belangrikste keuse? My vriend, dis om Sy Seun Jesus Christus as ons Heer en Verlosser te aanvaar en Hom in gehoorsaamheid te dien! AMEN