- volgens die Woord is Christenskap en deel wees van ‘n gemeente onlosmaaklik aanmekaar verbind.
Wie en wat is ‘n Bybelse Christen? Wat en hoe belangrik is die kerk? Wat is die basiese vereiste vir lidmaatskap? Hierdie is ingrypend belangrike vrae. Handelinge gee vir ons duidelike beginsels hieroor.
’n Mens kan nie anders as om getref te word deur die positiewe klanke van liefde, aksie, opwinding, krag en eenvoud in die eerste gemeente nie... Lees gerus HANDELINGE 2:37-47. Ek gaan egter nou net fokus op die stelling in vers 47b. Ons lees hier : “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”
Twee sake is klinkklaar duidelik:
~ Mense het tot redding gekom. Sondaars is gered, want hulle het die Woord gehoor, hulle het oortuig geword van hulle sonde, hulle het tot persoonlike geloof en vertroue in Jesus Christus gekom! Verlore mense wat onder God se oordeel gestaan het, is dus gered en verlos van hulle sonde en God se ewige toorn. (Onthou daar is net twee soorte mense - gered en ongered!)
~ ‘n Tweede saak is net so belangrik - hierdie geredde mense het nie nou maar op hulle eie voortgekarring nie, hulle het deel geword van ’n gemeente, die kerk van Jesus. Dit was nie maar sommer bloot weeens hulle eie voorkeur nie, die Here het hulle aan die gemeente verbind! Dit was nie maar net ’n geestelike of teoretiese saak nie, hulle het sigbaar deel geword van ’n sigbare gemeente en sigbare gemeenskap van gelowiges! So wat het hierdie geredde mense gedoen? Hulle het hulle openlik geskaar by God se gemeente, hulle was verbind aan die gemeente. Hulle het hulle onderwerp aan die gesag en lering daar en hulle het mekaar gedien in die gemeente! Belangrik : God red nie net ’n klomp losstaande enkelinge nie, Hy maak vir Hom ’n huisgesin/volk bymekaar!*
Vanuit hierdie twee sake kan mens nou ’n kernwaarheid ten opsigte van egte Bybelse Christenskap formuleer :
Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en Kerk gebaseer!**
Hiermee word bedoel : ware Christenskap behels ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus (Christusgesentreer) en word beleef en beoefen vanuit die kerk (Kerkgebaseer). Bybelse Christenskap impliseer dus dat ’n mens wat persoonlik deur Jesus gered is, God begin dien vanuit en binne die gemeenskap van die kerk!
As ons hierdie kernwaarheid aanvaar is dit baie duidelik dat ons in praktyk deur twee teenoorstaande tragedies geteister word:
Sommige mense is uiterlik deel van die kerk maar hulle is ongered. Sommige mense beweer wel dat hulle gered is, maar hulle is los van en onbetrokke by die kerk.
~ Eerste Tragedie : Nominaal deel van die kerk, maar ongered. Vir ’n ongeredde persoon om aan die kerk te behoort is soos iemand wat aan ’n jagtersklub behoort maar nog nooit self iets geskiet het nie. Stel jouself voor jy het ‘n kluis vol vuurwapens, jy het verskeie veld kursusse bygewoon, jy koop alle jagtydskrifte, jy ken al die teorie en terminologie, jy gesels opgewonde saam oor jag, selfs bekend as ‘n kenner op die gebied van jag, maar daar is net een probleem, jy het nog nooit iets geskiet nie, nie eers ‘n mossie met ‘n windbuks gejag nie... Is jy ‘n jagter? Sekerlik nie! Daar is baie sulke “nie-Christen lidmate” van Christelike kerke! En skrikwekkend om te besef, ongeredde mense wat aan die kerk behoort is nog steeds verlore. (Dink aan die gelykenis van die Tien Maagde) Net terloops - hier kry ons die groot oorsaak vir die baie stryery en twiste in die kerk - ongeredde kerklidmate. Hier lê ook die worteloorsaak vir al die gesukkel om dinge gedoen te kry. Onbekeerdes vir wie alles dorre pligpleging is, daar’s geen ware liefde en entoesiasme nie. Hulle dink die kerk is ‘n organisasie wat een of ander diens aan die lede moet lewer. Of ‘n kultuurvereniging wat een of ander groep se belange moet bevorder, of maar net iets wat daar moet wees! “Ek is maar in die NG Kerk want my oupa was ‘n prominente leier of stigter van die gemeente, dis my reg om lidmaat te wees, moenie my uitvra oor my verhouding met Jesus Christus nie!”
~ Tweede Tragedie : Mense wat beweer om wedergebore te wees, maar hulle is nie toegewyd aan die kerk nie. Party minag en beswadder selfs die kerk. Ander is bloot onaktief en onbetrokke... Hierdie mense redeneer : “My saak met die Here is reg, ek het mos Jesus aangeneem, so ek hoef my nie aan die kerk te steur nie. Ek kan mos die Bybel op my eie lees, ek kan mos na dienste oor die TV kyk. Ek sal daar eenkant die Here dien soos ek wil en soos ek voel. Die Here sal my op my eie lei.” Hierdie verontskuldigings klink dalk vroom, maar is ’n geweldige stuk misleiding van Satan. Hierdie soort Christenskap mag dalk baie gewild wees in ons individualistiese selfsugtige gemeenskap, maar hierdie soort Christenskap vind mens nie in die Nuwe Testament nie! Nou sal iemand sê : “Ja, ek sou graag deel wou wees van ’n kerk soos in Handelinge, maar in ons kerk is daar soveel foute. Ek hou nie van die predikant nie, ek hou nie van die ouderlinge of ander lidmate nie. Daar is te veel skynheiliges....” Geliefde, as jy so redeneer, openbaar jy skokkende onkunde oor die kerk. Kom ons kyk net vinnig na die wese en aard van die kerk...
Wie of wat is die kerk? Die kerk is die groep geredde mense wat bymekaar is in Jesus se naam. Hierdie groep mense is amptelik Jesus se liggaam. Nou wat van al die skynheiliges? Weet jy dis waar, daar is waarskynlik skynheiliges in elke gemeente wat bestaan. Maar weet jy solank ons op aarde is sal dit altyd so wees. Selfs in hierdie wonderlike eerste gemeente in Handelinge was daar ‘n Annanias en Saffira. Dink aan Paulus se gemeentes, deur die apostel self gestig, gewoond aan die beste prediking – en tog lees ons van soveel probleme. (Lees maar die Korintiër briewe) Die onvolmaaktheid van gemeentes en gemeentelede verander niks aan saak dat as groep ons nog steeds saam die liggaam van Christus vorm nie. Weet jy watter geweldige implikasies dit het as ons sê: “Hierdie gemeente, hierdie mense is Jesus se liggaam?” Toe Paulus op pad was na Damaskus om die Christene te vervolg, vra Jesus hom : “Waarom vervolg jy my?” Nou weet ons dat Paulus nooit direk vir Jesus kwaad aangedoen het tydens sy aardse lewe nie. Paulus het wel die kerk vervolg en skade aangedoen. Maar Jesus sê : “Waarom vervolg jy MY?” Die implikasie is onmiskenbaar duidelik. Die Christene is Jesus se liggaam! Wat jy van hierdie groep mense dink is dus wat jy van Jesus dink. Wat jy van hierdie groep mense sê is wat jy van Jesus sê. Wat jy aan hierdie mense doen is wat jy aan Jesus doen. Jesus sê : “Wat julle aan die geringstes (van sy dissipels) doen - het julle aan my gedoen.” Diens aan hierdie liggaam is diens aan Jesus. Liefde vir hierdie mense is liefde vir Jesus.
Dus : ’n Keuse vir Christus behels ook ’n keuse vir sy liggaam, naamlik die kerk! Dit kom eintlik daarop neer : Jy kan nie Jesus aanneem sonder om sy kerk aan te neem nie! Matthew Henry het gesê : “When we take God as our God, we take his people as our people” Positief gestel - ek moet deel wees van hierdie liggaam en my kant bring in hierdie liggaam, NIE omdat ons ’n oulike leraar het nie, nie omdat daar vriendelike ouderlinge is nie, nie omdat daar gawe lidmate is nie, MAAR omdat ons ’n onoortreflike wonderlike Heer en Verlosser het, Jesus Christus en hierdie gemeente, hierdie mense wat ek rondom my sien is SY LIGGAAM!
Glo ons wat die Bybel sê oor die kerk? Glo ons dat kerkwees ’n basiese ononderhandelbare bestanddeel van Christenskap is? Glo ons dat hierdie gemeente deel vorm van Jesus se liggaam? Dink sommer vinnig aan drie praktiese implikasies:
~ Kerkbywoning is ’n Godbepaalde prioriteit (dis nie ‘n saak van persoonlike voorkeur soos die bywoon van ’n fliek of konsert nie) Dis ‘n amptelike afspraak met Jesus en sy liggaam!
~ Ons verwagting oor die erediens moet verander - ons is nie hier om vermaak te word nie, maar om Christus te aanbid en sy liggaam te dien.
~ Ek mag my nie sommer ligtelik afskei van die kerk nie. Ons moet die pad saamloop al kos dit wat.... My persoonlike voorkeure of teologiese fynproewery mag nie mag nie die maatstaf word nie... Die kerk is ook groter as 'n enkele bekwame of onbekwame leier... As ‘n bepaalde gemeente so ver van die waarheid afgedwaal het dat die evangelie totaal verduister word, sal ek myself seker by ‘n ander kerk moet voeg waar die waarheid wel verkondig word, maar ek moet baie seker wees van my feite en motiewe.... Dit bly ‘n moeilike saak... Kliek op WATTER KERK?
Is jy besig met ware Bybelse Christenskap? Is jy gered deur Jesus en is jy toegewyd aan sy liggaam, hierdie gemeente (waar God jou geplaas het)?
*In 1 Timoteus 3:15 word die gemeente die “huisgesin” van God genoem. “Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.”