BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket John Newton. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket John Newton. Wys alle plasings

Vrydag 04 Oktober 2019

NAAK OP DIE SYPAADJIE

- Die genade wat ek in Jesus ontvang het, maak my genadig betrokke by ander! 



In ‘n bekende Europese stad, kom ons sê maar Amsterdam was daar ‘n Bybelskool net langs ‘n berugte rooiligbuurt. ‘n Gevaarlike gebied vol van misdaad, prostitusie en ellende. Een oggend vroeg ry een van die dosente wat klasgee by die Bybelskool met sy fiets (soos dit ‘n goeie Nederlander betaam) deur hierdie gebied en sien ‘n sleg vernielde en beseerde jong dame halfpad naak op die sypaadjie lê. Slagoffer van ‘n aanranding. Hy besef hier is ‘n potensiële skandaal so hy maak maar of hy haar nie sien nie, draai sy kop weg en ry vinnig verby. Kort daarna loop een van die Bybelskoolstudente met sy kitaar op sy rug en Bybelsak oor sy skouer langs dieselfde roete. Ook hy sien die jong dame en ook hy besef hierdie is ‘n moeilike situasie. Hy onderdruk die stem van sy gewete, steek die straat oor en loop op die oorkantste sypaadjie verby. Nie lank daarna nie kom daar nog iemand verby. Hy sien die vrou en hy gaan staan. Hy is een van die onlangse Moslem immigrante. Hy gaan buk by haar, gooi respekvol sy jas oor haar en bel dadelik die nooddienste. Hy tref al die nodige reëlings vir haar mediese sorg en laat sy selfoonnommer as sy nog enigiets nodig sou kry waarmee hy kon help. (Dis maar net 'n storie waarvan ek die essensie HIER gekry het)

[En as ek en jy nou dalk dink ons is beter as hierdie dosent of Bybelskoolstudent, dan maak ons 'n groot fout...]


Natuurlik hoor ons elkeen hierin iets van die dramatiese en aangrypende boodskap van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Kom ons lees dit in Lukas 10:25-37. 

BETEKENIS EN KONTEKS 

Die Barmhartige Samaritaan is natuurlik ‘n baie bekende gelykenis, maar wat beteken dit?* Hoe raak dit ons? Die algemene oppervlakkige verklaring sou kon wees – “Bewys liefde aan jou medemens soos die barmhartige Samaritaan en jy sal die ewige lewe beërwe…” Maar is dit regtig so? Kan ons dan deur hard te probeer die ewige lewe verdien? Wat dan van die evangelie? 

Dis tog so belangrik dat mens vir die verstaan van enige Bybelgedeelte na die KONTEKS sal kyk. Die onmiddellike konteks en ook die wyer konteks. Anders gaan ons VERKEERDE AFLEIDINGS maak! 

Dié gelykenis is ‘n onderdeel van ‘n groter gesprek. ‘n Wetgeleerde het probeer om Jesus met ‘n moeilike strikvraag uit te vang. “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (25) Nou moet ons dadelik die ore spits - in hierdie gesprek en daaropvolgende gelykenis, gaan dit oor iets meer as 'n morele kwesie, maar inderdaad oor die heel belangrikste saak wat elkeen van ons raak:

HOE KRY EK DIE EWIGE LEWE?

Jesus antwoord met ‘n teenvraag. “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (26) Dit was dikwels Jesus se styl. Die wetgeleerde gee ‘n mooi antwoord uit die Skrif. “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Maar nou laat Jesus hom in ‘n strik trap. “Doen dit en jy sal lewe!” (28) Die wetgeleerde weet baie goed hy kan dit nie regkry nie! Hy weet, Jesus weet ook hy kan dit nie regkry nie. (Ek en jy weet mos ook as ons eerlik is ons kry dit nie reg nie) 

SOEK ‘N VERSKONING 

So, die wetgeleerde weet hy is nou in ‘n hoek, as hy eerlik sou wees moet hy erken dat ‘n mens nie deur iets te doen die ewige lewe kan verkry nie! En omdat hy weet hy is vas en veroordeel staan soek hy ‘n verskoning. “Maar hy wou homself handhaaf, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” (29) OAV - “wou homself regverdig.” ‘n Uitkomkans om nie sy verantwoordelikheid teen sy naaste na te kom nie – want wie is dan nou my naaste? Dis mos maklik om verskonings uit te dink waarom hierdie of daardie een nie my naaste kan wees nie. En dis dan hier waar Jesus hierdie aangrypende en radikale gelykenis vertel… Ek en jy ken mos die gelykenis... 

DIE GEBEURTENIS OP PAD NA JERIGO 

Die gelykenis speel af in 'n "real life setting." Die pad na Jerigo was inderdaad ‘n gevaarlike kronkelpaadjie deur die heuwels. Rowers kon maklik daar skuil en toeslaan. Priesters en Leviete het die pad dikwels gebruik na of van Jerusalem as hulle hul diensbeurte by die tempel moes doen. Nou sien hulle ‘n man langs die pad. Heel waarskynlik sou hulle nie op ‘n afstand kon sien of hy nog leef of nie. Dit lyk al asof hier 'n moeilike en ongemaklike situasie homself voordoen... Een probleem - Volgens die Mosaïese wette mag ‘n priester nie aan ‘n lyk raak nie, want dit sou hom onrein maak. “En hy mag by geen dooie kom nie, selfs aan sy vader en moeder hom nie verontreinig nie;” (Levitikus 21:11) Heel waarskynlik sou hy naak of halfnaak daar lê, want ‘n kledingstuk was een van die kosbaarste besittings wat geroof sou wees. Nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe dit ook al sy, ‘n onaangename en grusame situasie, nie iets waarby mens graag sou betrokke wou raak nie. 

Maar toe kom ‘n Samaritaan verby. Deel van ‘n veragte bastervolk wat deur die Jode geminag en gehaat is! En as minderwaardig en onrein beskou is. Juis hý help hierdie ongelukkige man. En hy doen meer as wat mens van hom sou kon verwag. Hy vat hierdie man se volle onkoste op homself. Hy staan in vir al die uitgawes wat daar mag wees. Dis iets groter as wat dit vir ons mag klink. Onthou destyds was daar nie allerhande ingewikkelde kredit reëlings nie. As jy nie jou skuld kon betaal nie, word jy die persoon vir wie jy skuld se slaaf! Hierdie man sou ernstige beserings gehad het, sy herstel in die herberg sou lank kon duur en dit sou groot skuld kon meebring. Die Samaritaan vat volle verantwoordelikheid daarvoor en verhoed dus die hierdie man ‘n slaaf sou word. En loop die gevaarlike risiko om dan self 'n slaaf te word...

Die slotsom van die gelykenis is duidelik : "Meneer die wetgeleerde, jy moet nie vra wie jou naaste is nie, jy moenie probeer verskonings uitdink by wie jy nie betrokke wil raak nie. Jyself moet ‘n naaste word vir elkeen wat oor jou pad kom! En aan jou liefde vir daardie persoon mag daar geen perke of afsnypunt wees nie!" Uiters radikaal. Dit moet nou tot die wetgeleerde deurdring dat sulke liefde eintlik onmoontlik is en dat hyself dus nie iets kan doen vir die ewige lewe nie! 

JESUS ONTBLOOT DIE DWAASHEID EN ARROGANSIE VAN ELKEEN WAT DINK HY KAN DEUR GOED TE DOEN OF 'N PAAR STUKKIES GODSDIENS DIE EWIGE LEWE VERWERF!

Nou wat wil Jesus dan sê oor hoe ons die ewige lewe kan kry? 

KONTEKS VAN DIE KRUIS 

Dis waar die wyer konteks so belangrik is. “ En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,” (Lukas 9:51) Die oorhoofse konteks van hier af in Lukas se geskrif is dat Jesus op pad is na Jerusalem om aan die kruis te sterf! Hy gaan die verlossing vir sondaars bewerk, juis vir mense wat dit nie regkry om God en hulle naaste volmaak lief te hê nie! Dis die groot probleem met die wetgeleerde. Hy wil hom nie aan Jesus onderwerp nie. Inteendeel hy verwerp Jesus en probeer Hom mos juis met strikvrae uitvang. Hierdie konteks word bevestig deur die paragraaf wat net na hierdie gedeelte kom. Jesus by Marta en Maria. Marta is die flukse een en sy werk hard in die kombuis. Maria sit maar net aan Jesus se voete. Marta kom bekla haar lot. Maar wie word tereggewys? “Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie." (41,42) Marta is die een wat hier fouteer! (Sy maak in 'n sin dieselfde fout as die wegeleerde - sy fokus nie op Jesus self nie) Jesus lig uit dat net een ding nodig is – Hyself. Hyself as die een wat op pad is na die KRUIS! Dis wat Maria gekies het. Een ding is nodig – om Jesus te ken! Dis wat die wetgeleerde ook nie besef het nie -Hy het Jesus nodig, die Jesus wat op pad is na die kruis om versoening te doen vir sondaars. Deur wetsonderhouding sal niemand gered word nie, maar alleen deur volle vertroue in Jesus! (Vgl. Rom 3:20-24, 4:1-8) Wat Paulus leer en wat Jesus geleer het, verskil immers nie!

EK EN JY HET DIE GEKRUISIGDE NODIG! 

Is dit al wat die gelykenis vir ons sê? NEE!

GENADE BRING VERANDERING 

Jesus verlos ons van die straf van die wet omdat ons dit nie volledig kan nakom nie, maar wie Hom as Here het word juis in staat gestel om te begin anders leef volgens die diepste bedoeling en standaard van die wet. Die opdrag aan die wetgeleerde : “Gaan maak jy net so!” maak wel sin as ‘n opdrag aan elke volgeling van Jesus. As ons die vryspraak gekry het deur geloof in Jesus alleen rus die verpligting van heiligmaking op ons. Mense wat vergifnis by Jesus ontvang het sal begin anders leef. “Ja, maar niemand is mos volmaak nie!” Dis inderdaad so, maar dis ook so dat as jy Jesus ontmoet het gaan jou lewe wys dat jy Hom ontmoet het. 

As jou lewe dieselfde bly het jy Jesus nog nooit ontmoet nie!

John Newton die goddelose man wat in die slawehandel betrokke was en radikaal tot bekering gekom het (die skrywer van “Amazing Grace”) het dit so treffend opgesom: 

I am not what I ought to be,
I am not what I wish to be,
I am not what I hope to be;
but, by the grace of God,
I am not what I used to be. 

Diegene wat deur die geloof in Jesus barmhartigheid ontvang het, kan nooit dieselfde bly nie en sal ook aan ander barmhartigheid bewys. Hou op om verskonings te soek en begin almal wat God op jou pad plaas radikaal lief te hê! Raak betrokke by die naak gewonde op die sypaadjie!** 

*Vir ‘n deeglike uitleg en toepassing van hierdie gelykenis luister na Don Carson. Ek het uiteraard maar as net ruimskoots van sy gedagtes gebruik gemaak. 

** “What is at stake then and now is the question of whether we will use the God-given revelation of love and grace as a way of boosting our own sense of isolated security and purity, or whether we will see it as a call and challenge to extend that love and grace to the whole world.” N.T Wright 


Maandag 16 Junie 2014

GEESBEKRAGTIGDE GEMEENTE

- hoe klink dit in die praktyk?

Handelinge 1:8 is ‘n baie belangrike teks. Byna reg aan die begin van hierdie besondere boek verskaf dit ‘n geografiese en teologiese raamwerk vir die ontplooiing van Handelinge. Geografies sou die getuienis oor Jesus al weier uitkring van Jerusalem al verder tot in die hoofstad van die ryk, die magtige Rome! Teologies gesproke lees ons verder in Handelinge hoe die evangelie telkens nuwe grense oorsteek. Eers word die Woord gebring na die verbondsvolk Israel, daarna word die Samaritane wat hulself in ‘n teologiese niemandsland (hulle was ‘n bastergroep wat slegs ‘n gedeelte van die Ou Testament erken het) bevind het tussen die Jodedom en heidendom deur die evangelie aangeraak. En uiteindelik word talle grense oorgesteek sodat ook volbloed voormalige uitgeworpe heidene deel word van God se volk. Verder is Handelinge 1:8 ‘n welbekende en dikwels aangehaalde belofte van Jesus. Ons is dit so gewoond dat ons maklik die uniekheid daarvan miskyk. “Julle sal My getuies wees... “Getuies”, hoekom getuies, waarom nie net "boodskappers" nie? Nou dis nie sommer ‘n gedagte wat uit die niet opduik nie. Dis nie ‘n nuwe saak op God se agenda nie. Die wortels hiervan kom reeds uit die Ou Testament. Om dit reg te verstaan, moet ons oplet na die agtergrond en groeibodem soos ons dit spesifiek vind in die profesieë van Jesaja. Handelinge 1:8 is eintlik ‘n samestelling van begrippe uit Jesaja. Kyk ‘n bietjie na die treffende ooreenkomste :

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 32:15 So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn ‘n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ‘n bos aangesien word.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 43:10 Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie,

Jesaja 43:12 Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.

Jesaja 44:8 Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek  weet van geeneen nie.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 45:22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. (OAV)

Jesaja 49:6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

Merkwaardig, nê?

GEESVERVULDE KERK?

Dis een van die fokuspunte van Handelinge - dat die belofte van die Vader oor die skenk van die Gees vervul is. Dit was ‘n ingrypende gebeurtenis met verreikende gevolge. Dis alles wonderlik, maar wat nou van ons, beleef ons dit so of is dit wat in Handelinge gebeur het net ‘n pragtige stukkie geskiedenis? 

Ons kan vir ons self duidelikheid kry deur te vra : Hoe lyk ‘n Geesvervulde kerk onder beheer van die Heilige Gees? Uiteenlopende antwoorde kom na vore : Word die werk en werk van die Gees gekenmerk deur baie uitbundige blydskap en opgewondenheid.....of dalk eerbiedige stilte? Pasop vir uitwendige maatstawwe - dit kan alles vervals of leeg wees. Baie emosie kan ‘n meganiese aanplaksel wees, net so kan stille eerbied ook skyn en tradisie, meer selfgerig as Christus gerig wees. Pasop vir subjektiewe menslike beoordeling. Dit sal noodwendig verskil van persoon. Ons kan hierdie vraag nie beantwoord aan die oormaat of gebrek aan desibels tydens ‘n erediens nie. ‘n Meer betroubare en objektiewe manier om hierdie vraag van hoe ‘n Geesvervulde kerk lyk te beantwoord is om dit te doen vanuit die werk van die Gees. Ons onderskeiding moet gebou wees op die Skrif feite oor die Heilige Gees. Die Gees het ‘n bepaalde werk. ‘n Bepaalde doel en oogmerk. As dit sigbaar (en hoorbaar) plaasvind in ‘n gemeente sou mens met reg die afleiding kon maak dat Hy teenwoordig is. Kom ons kyk samevattend hierna vanuit die beskrywings van die Geesgedrewe getuienisse in Handelinge:

In ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is word die Gekruisigde Jesus waarlik as die opgestane Here erken en bely. Hoe werk dit nou alles? Jesus is aan die eenkant die uitverkore lydende Kneg. Die Geesvervulde apostels verkondig baie duidelik dat Jesus die lydende kneg was wat aan die kruis gesterf het in ooreenstemming met die Skrifte (Jesaja 53). Aan die anderkant; die Pinkstergebeure maak van die bang en onseker apostels vrymoedige getuies van Jesus se opstanding en heerskappy. Jesus tree dan ook inderdaad in Handelinge op as die opgestane Here. Nie meer lydende kneg nie, maar verheerlikte Here! Ja, Jesus die veragte kneg, bekend met swakheid en smarte, honger en dors, die Jesus wat met kinders, weduwees en bedelaars gemeng het, wat ander se spoeg in sy gesig moes verdra is nou die Here! Ons kry reeds ‘n dramatiese aanduiding van sy verheerlikte status as Hy die woorde van die God van Israel op sy lippe neem : “Julle sal my getuies wees.....” HY is Here, dis nou duidelik dat die kneg waarlik God is! Die konteks in Jesaja wat die agtergrond vorm van hierdie opdrag is baie belangrik- God se regsgeding (hofsaak) met die nasies om te bewys dat Hy die enigste God van die heelal is! (In hierdie hofsaak tussen God en die nasies, beroep God Hom op sy volk Israel as getuies, want hulle het mos sy kragtige verlossing uit Egipte ondervind. Die groot tragedie dan is dat hierdie getuies blind is. Hulle wat moes getuig het nou self agter die afgode aangeloop en het nutteloos as getuies geword. In die Nuwe Verbond genees God nou die getuies en maak hulle siende en bekragtig hulle. Daarom is dit so insiggewend dat toe God in Handelinge een van hierdie getuies uitkies en verander, naamlik Saulus, daar letterlik iets soos skille van sy oë afval! Die boodskap is duidelik : Die voormalig blinde getuie kan nou sien!) Handelinge 1:8 sê ook egter iets wonderbaarliks oor Jesus! Wanneer Jesus hierdie woorde op Sy lippe neem maak HY presies juis aanspraak op die uniekheid van God. Hy self is die enigste ware God, die God van die Nuwe Israel. Hy, nie die afgode nie is die ware God en Redder van die wêreld. Die taak van die Heilige Gees is om te getuig en te oortuig van die heerlikheid van Jesus.* Maar meer nog die Heilige Gees word gestuur om ons te bekragtig om te getuig oor die Goddelike heerlikheid van Jesus sodat hy die eer kan kry wat Hom toekom as Here.

In ‘n Geesvervulde gemeente sal daar absolute oortuiging van die uniekheid en genoegsaamheid van Jesus, van Jesus in beide hierdie fasette - Kneg en Here:

Van Jesus as Kneg met ander woorde die een wat gesterf het vir ons sondes - hierdie feit is die fondasie van sekerheid en ons gemoedsrus. Dis die enigste manier om die duiwel se aanklagte en beskuldigings teen ons te hanteer. John Newton, die bekeerde rampokker wat betrokke was in die gruwelike slawehandel en na sy bekering die skrywer van “Amazing Grace” skryf ook ‘n ander vers wat soos volg klink : 

“Be Thou my shield and hiding-place,That sheltered near Thy side,I may my fierce accuser face, And tell him, Thou hast died.”

Dink aan John Newton... sy goddelose lewe, in die dieptes van ellende, daar’s feitlik geen sonde wat hy nie gedoen het nie... Dink net hoe sou die duiwel hom aangeval het en weer die bose prentjie van sy verlede voor hom opgerakel het... “Toe wil jy nou regtig sê jy is ‘n Christen, vergewe? Onthou jy nog daardie boosheid, wreedheid, verkragting...?” Wat kon hy die duiwel antwoord? Wel in hierdie vers sê Newton wat sy antwoord was. Daar is net een antwoord om die duiwel mee stil te maak : Christus het gesterf!

~ Maar terselfdertyd gaan die Geesgedrewe getuienis oor Jesus ook ‘n erkenning van Jesus as Here, Heerser, die een voor wie ons buig, vir wie ons gehoorsaam, vir wie ons bereid is om te ly. Hy moet die eer kry, die fokus sal op Hom wees. ..

Eenvoudig saamgevat - ‘n Geesvervulde gemeente (of persoon) sal bly wees oor Jesus en gehoorsaam wees aan Hom. Bly wees oor Sy werk aan die kruis, gehoorsaam aan Hom as Here en koning. Dit sal sigbaar word in praktiese sake soos heiligheid, gebedsywer, begeerte om Sy woorde te hoor en oordink en vrymoedige getuienis. Die Heilige Gees transformeer getuies om hiervan te getuig tot aan die eindes van die aarde. 

Is jy al deel van die getuigende skare wat die oorwinning van Jesus aan die wêreld verkondig en demonstreer?

* Vergelyk Johannes 16:7 een verder

NASKRIF : Ek het tans die heerlike voorreg om hierdie reeks Pinksterboodskappe in die NG Gemeente van Omaruru aan te bied. Dankie, ds. Jaco Rossouw!


[ NGK Omaruru]

Vir die begin van die PINKSTERREEKS 2014 kliek op HANDELINGE VAN JESUS