BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 04 Desember 2020

DIE GELOFTE

- net weer 'n herinnering

Wat was die inhoud van die Gelofte wat die Voortrekkers  in 'n tyd van diepe angs en nood plegtig aan God gemaak het?

Die Gelofte is vandag grootliks vergete, maar vir Sarel Celliers en die manne saam met hom was dit 'n saak van absolute erns. Dis nie ligtelik gedoen nie en mens kan aflei dat hy gehuiwer het om tot so 'n ernstige stap oor te gaan, juis omdat hy geweet het hoe gou die mens vergeet. 'n Latere mededeling van Celliers klink soos volg : "en ik vond mij er over diep bezwaard, en zij tot hem (Pretorius) : mijn heer, ik bevind mij er onder bezwaard dat wij die dag zal vergeten, en ook zal verwaarloozen, en dat de toorn des Heeren dan tegen ons zal ontbranden."*  Dit laat mens wonder...was Celliers nie baie reg nie?

Hier is die woorde van die GELOFTE:

In Nederlands

"Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven."

 

In Afrikaans

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee." **


*Aangehaal deur GDJ Duvenhage,  Die Groot Trek,  Die eerste drie jaar DIE GELOFTE, p143

** Soos die geval met baie handgeskrewe historiese dokumente bestaan daar verskillende weergawes van die Gelofte wat onderling verskil. Vergelyk die weergawes van Hofstede, Cachet en Gerdener in Duvenhage.

Woensdag 18 November 2020

GOED OF SLEG?

EERLIK GEKYK NA DIE MENS

Is die mens goed of sleg? Is party mense sleg en party dalk goed? Is die meerderheid goed en die minderheid sleg of dalk andersom? Daar is baie opinies… Daar is egter net een betroubare opinie en dis God se opinie. Dis wat Hy ons in sy Woord leer. 

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in Romeine 3:11-18

Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, 
daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
"Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
"Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
"Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." 

Wat 'n skokkende beskrywing van die mens se toestand! Alle mense. Die heel egste – geen ontsag vir God nie! Die mens het van nature geen respek vir God nie, geen liefde vir God nie, geen verlange om sy Woord te hoor nie, geen begeerte om sy opdragte te gehoorsaam nie… Ons sien orals rondom ons die bewyse : minagting vir God se wette oor die huwelik, verbreking van die beloftes wat ons aan God maak, plesier wat voor God gestel word, maar as ons in die nood is dan hardloop ons gou na Hom… 

Om saam te vat – God se opinie oor die mens is dat die mens ‘n totaal verdorwe diep gevalle sondaar en korrupte woestaard is! En onthou God is regtig lief vir mense, God se opinie is nie die van iemand wat negatief is nie, maar van iemand wat die mens regtig liefhet! Wat God van die mens sê, sê Hy dus omdat dit die waarheid is. God het dit reeds van die mense in die tyd van Noag gesê : “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.” (Genesis 6:5,6) Dis nog steeds die situasie... 

GEEN TOEGANG SONDER WEDERGEBOORTE 

Die implikasie is niemand kan God se Koninkryk ingaan as daar nie eers iets drasties gebeur nie. In die Johannes evangelie sien mens dit so duidelik – Nikodemuswas 'n goeie man, iemand wat die Bybel geken het, ‘n leraar in Israell. Maar Jesus sê vir hom: “Jy moet weergebore word!” Die punt is hy het Jesus nodig. Net in die volgende hoofstuk kry ons ‘n absolute kontras– die Samaritaanse vrou – ‘n slegte vrou (bly ongetroud saam met ‘n man – ja dit mag dalk ‘n verrassing wees vir sommige, maar die Bybel sien dit so) – 'n uitgeworpene. Dit kom aan die lig sy het al vyf mans gehad. Jesus bied vir haar die lewende water aan. Die punt is dieselfde – sy het Jesus nodig. 

Alle mense is helverdiende sondaars, alle mens het ‘n Middelaar en Verlosser nodig en die Enigste wat jou kan red is Jesus. 

Die doopformulier stel dit baie duidelik. Almal is aan die verdoemenis onderwerpe en kan slegs in die koninkryk van God ingaan as hulle weer gebore word! 

Die Goeie nuus is dat God uitreik (Sy hand uitsteek) na die diep gevalle sondige mens. God het die mens nie afgeskryf en in sy ellende net so alleen gelos nie. Reeds na Adam en Eva in die tuin kom soek God die emns op. Later op besondere manier reik Hy uit na Abram. God doen dit deur sy beloftes en die bevestiging daarvan in die verbond. Sy beloftes van redding. “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet my volk wees.” Die sigbare teken van God se beloftes in die ou bedeling was die besnydenis. Deur die besnydenis het God belowe : "Ek wil jou God wees en jy moet vir my ‘n kind wees." Maar luister mooi! Nie almal wat die teken ontvang het, het die beloftes aanvaar en God se kinders geword nie. Die Bybel praat van die mense wat besnede was, maar onbesnede van hart gebly het. Hulle het God se beloftes verwerp al was hulle besny en God se straf en oordele het hulle getref. 

In die nuwe Verbond is dit soortgelyk. God bevestig die waarheid van die evangeliebeloftes in die sigbare teken van die doop. Jesus se kruis en opstanding was vir ons genoeg. Maar ons moet dit aanvaar deur geloof en bekering. Sonder geloof en bekering sal gedooptes verlore gaan! Hoor ons dit? Daar gaan baie gedooptes in die hel wees! Maar dit sal nie God se skuld wees nie. Daar is niks verkeerd en vals aan God se beloftes nie. Daar kom niks te kort aan die volledigheid van Jesus se kruis en opstanding nie.

HOEKOM STEEDS VERLORE?

Hoekom gaan mense nog steeds verlore? Kom ons luister hoe die Johannes evangelie hierdie vraag beantwoord…

 "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 
Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is." (Johannes 3:16-21) 

BELOFTE EN EIS

God maak beloftes. Ons sien dit sigbaar by die DOOP. Ons MOET antwoord op God se beloftes deur geloof en bekering. Dis die eis van die verbond. Geloof in Jesus is nie net om van Jesus te weet nie, maar om na Hom wat die lig is te kom… Het jy al na Jesus gekom sodat Hy jou lewe nuut kan maak?



Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!

Woensdag 14 Oktober 2020

DIE GEVAARLIKE GOGGA VAN EGOSENTRISME (1)

wat gate vreet in jou siel!



"I, me and myself.”  Selfgesentreerdheid. Dis nie ’n nuwe probleem van ons tyd nie. Dis baie duidelik as mens lees hoe Jesus al destyds met Sy dissipels in  MARKUS 9:33-50   gepraat  het oor egosentrisme. Dis so raak, dis so treffend en van toepassing, dis asof Hy hier staan en spesiaal ‘n boodskap vir ons bring. Selfgesentreerdheid/egosentrisme is die denkwyse waarvolgens ek eintlik in die middel is. Ek is die belangrikste “peanut” in die pakkie. Miskien dink jy : “Ek het nie so ’n probleem nie.” Wag ’n bietjie... Wat is die simptome van selfgesentreerdheid? “Ek hou nie daarvan nie/dit staan my nie aan nie/dit pas my nie, daarom gaan ek nie meer saamspeel nie.” Of wat van selfbejammering, ‘n gedurige leef in die verlede? Ek voel maklik te na gekom, ek word gou-gou jaloers,  ek voel maklik seergemaak en dan beplan ek sommer vinnig  wraak... ? Al hierdie dinge het maar iets te doen met selfgesentreerdheid/egosenrisme. Jy sal moet erken, dit raak ons maar eintlik almal...

 

Ons gaan nou eers kyk na Markus 9:33-37:

 

33 Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?"

34 Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees."

36 Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37 "Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het."

 

EEN STUK LERING

Hierdie gedeelte is deel van ’n  hele gesprek in Markus 9:33-50. Dis ‘n stuk lering van Jesus wat ‘n eenheid vorm.  As mens dit raaksien dan word dit ook aansienlik makliker om die onderskeie gedeeltes te verstaan. Drie sake wys op die eenheid en samehang van hierdie onderwysing van Jesus.*

Dit vind op een plek plaas. Die huis in Kapernaüm (9:33) Dis hier waar Jesus gaan sit het om te onderrig.

Aan die einde van Sy lering kom Jesus weer terug by die saak wat oorspronklik tot die hele gesprek aanleiding gegee het. Die gesprek het begin nalv die dissipels se twis (9:34) en Hy sluit Sy onderrig gepas af met die woorde : "Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe." (9:50b)

Daar is duidelik ‘n tematiese eenheid. Die egosentriese benadering van die dissipels word aangespreek en gekorrigeer tot ‘n Christosentriese benadering.

 

JESUS SE LYDING

 

Jesus is oppad na Jerusalem om te gaan sterwe. Sy naderende lyding en verwerping staan sentraal en hang ook in die agtergrond van die gesprek. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: "Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan." (31) 

Op hierdie belangrike pad is vrede en eenheid onder die dissipels noodsaaklik en daarom moet Jesus hulle aanspreek oor hulle getwis en vra hy die vraag: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?" (33) Die stilswye van die dissipels sê alles.(34) Teen hierdie tyd moes hulle al besef het dat Jesus mense se gedagtes en harte deurgrond, alles weet. Hulle stilswye is eintlik skaamte : “Ons is uitgevang, wat kan ons nou sê?”

 

WORD DIENAARS

 

Jesus gaan sit nou en roep die Twaalf. (Onthou daar was ook ander dissipels/leerlinge) Mens kan jou die spanning en afwagting voorstel.  Hulle sou dalk dink : “Gaan Jesus tog nou aankondig wie die belangrikste is? Is ons twaalf tog dalk die belangrikste onder die groot getal leerlinge?”

Hoe vreemd klink Jesus se woorde dan nie in hierdie situasie nie.  Die twaalf (en die ander) wil graag voor staan, eerste wees. Dis uit hierdie wil waaruit hulle twis voortgespruit het. Jesus buig hierdie wil nou om, keer dit onderstebo - ja, daar is wel ‘n ereplek by Jesus, maar dit bestaan daarin dat ek die laaste plek, die plek van die dienaar moet inneem.  Die dienaar van almal wees.

 

Koninkrykswaardes is die omgekeerde van die wêreld se waardes!

 

Ons het hier te maak met ’n verrassende wending - die nader roep van die Twaalf lei nie daartoe dat Jesus aankondig wie die belangrikste is nie, maar  gee wel ‘n aanduiding van hoe mens die belangrikste kan word. Maar Jesus laat Sy lering nie net by die teoretiese nie. Hy wys nou prakties hoe lyk die “belangrikste”. Hy bring ‘n kindjie binne die kring in en slaan Sy arm om hom. Dis nie Jesus se bedoeling om te sê dat kinders die belangrikste in die gemeenskap is nie. Hy gebruik juis die kind omdat hulle die minste is, hulle het nog nie posisie of waardigheid nie.’n Kind tel nog nie eintlik nie. Die kind daar in hulle midde is ‘n onderstreping van Jesus se woorde. Wie belangrik wil wees moet die laaste plek inneem, moet soos ‘n kindjie word.

Hoe moet die term “ontvang” tuisgebring word by hierdie situasie? (37)  Onthou die boodskap wat Jesus hier wil oordra is gerig op hierdie leerlinge wat gestry het oor wie die belangrikste is. Hulle “aanvaarding, ontvangs deur ander, hoe ander hulle behandel” was voorop in hulle gedagtes. Nou help Jesus hulle reg. Dissipels word nie geroep om hulle eie ontvangs te reël nie, maar juis om vir andere die eer van ontvangs voor te berei.

 Jesus leer vir hulle (en ons) : “Julle is nie dissipels  ter wille van julleself nie maar ter wille van die voordeel van ander.” Dissipels  moet dienaars wees, dienaars van almal selfs ook geringste kind.**

 

KOM ONS RAAK PRAKTIES:

 

Selfgesentreerdheid kom ongelukkig ook voor onder Jesus se volgelinge. Dis een van die stukke bagasie wat maklik en ongemerk saamgebring word uit die vorige bestaan. Selfgesentreerdheid is altyd en vir almal verkeerd, maar wat dit soveel erger maak by volgelinge van Jesus is dat Jesus juis die teenpool van alle selfgerigtheid en selfbelang is. Hy is die lydende Jesus wat afstand gedoen het van alle selfbelang en regte terwille van ons.

Ons motiewe in die beoefening van ons Christenskap word tot op die been oopgevlek.  Is ek dalk ’n  kind van God ter wille van my eie voordeel? Sien ek nie Christenwees as maar net nog ‘n aspek van die lewe wat my tot hulp kan wees om my maksimum potensiaal te laat bereik nie?

Jesus se lering plaas ons denke oor die evangelie en die kerk onder die soeklig. Om die evangelie aan te bied as ‘n pakket wat allerhande tydelike voordele vir my kan bring pas nie in by hierdie lering van Jesus nie. Die voorspoedsteologie van die Word Faith (groepe soos die CRC) is nie dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie!  Ons vind in Jesus se woorde ook ‘n nuwe perspektief op kerkwees. Hoe verstaan jy jou lidmaatskap?   Gaan dit vir jou dalk oor : “Wat kry ek hier, hoe kan ek bedien word?”  Jesus sê,  nee ons is hier om dienaars te wees.  Dien ek en jy ander binne ons gemeentes?

Mag ons weer opnuut besef wie se volgelinge ons is - die Lydende Jesus!   Die Jesus wat afstand gedoen het van al sy hemelse voorregte!  Die Jesus wat Homself verneder het om ’n slaaf te word. (letterlik) Die Jesus  wat Sy eie lewe nie liefgehad het nie,  maar dit afgelê het vir my en jou, Sy skape!  Kom ons besef weer wie Jesus is. Dit  sal ons help om  weerstand te bied teen die altyd teenwoordige bedreiging van egosentrisme. ‘n Gedurige fokus op Jesus sal verseker dat ons soos Hy plek sal maak vir die geringes.

 

*Erkenning aan die kommentaar van Jakob van Bruggen vir eksegetiese insigte.

**In 10:13-14 waar Jesus die kindertjies seën  is dit duidelik dat hulle dit moeilik kon verstaan!

 

Saterdag 19 September 2020

VREEMDE TRANSAKSIE

 - die "gewone stukkie grond" met die buitengewone waarde

‘n Man betaal ‘n besondere hoë prys vir ‘n stukkie grond. Buitensporig hoog, ver bo markwaarde, soveel so dat hy al sy bates eers moes verkoop om die grond te kon betaal. Almal dink hy is mal en het ‘n reuse fout begaan.  Mense skinder en spot… Totdat hy met ‘n enorme skat te voorskyn kom; die Krugermiljoene was al die tyd op die stukkie grond begrawe en dis nou miljarde Rand werd! Hierdie man het geweet wat hy doen, hy het doelbewus, met ‘n plan als verkoop om uiteindelik ‘n onvergelykbare groot skat in die hande te kry… 


Dis hierdie storie wat Jesus vertel om ‘n baie belangrike waarheid oor die koninkryk van God oor te dra. Ons lees dit in Matteus 13 vers 44. 



"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land." (NAV)

"Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand." (OAV)

Jesus vergelyk die koninkryk van God met ‘n kosbare skat. Dis nie vreemd nie. In ‘n tyd waarin die groot meerderheid mense baie arm was en maar van die hand na die mond geleef het was ‘n skat iets besonders, ‘n baie kosbare meevallertjie wat vir jou ‘n nuwe toekoms geopen het. As die gelykenis bloot gesê het dat die koninkryk soos ‘n skat was sou dit dus nie juis iets besonders gesê het nie. 

Die besondere en opvallende element is dat die skat verborge  (weggesteek) was in ‘n saailand! 

Sommer ‘n gewone stukkie grond, niks besonders nie. Dis nie die skat wat gekoop word nie, maar die saailand. Hierdie gewone stukkie grond is toe al die tyd baie meer werd as wat enigeen sou kon besef!

Die koninkryk word met ‘n skat vergelyk. Maar wat sou die betekenis van die saailand wees? 

Die kosbare koninkryk van God is te vinde in die oënskynlik onbelangrike en vernederde Jesus! 

Hierdie gelykenis sinspeel op Jesus. Jesus lyk so onbelangrik. Hy is ‘n inwoner van Nasaret, een van die mins belangrike dorpies in die plattelandse streek van Galilea. In die Johannes evangelie lees ons hoe Natanael verbaas uitroep : “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” 

Merkwaardig! God laat sy koninkryk kom nie deur ‘n groot filosoof soos Plato nie, nie deur ‘n beroemde krygsman soos Alexander die Grote nie, nie deur ‘n magtige skynende engelwese nie, nie deur 'n invloedryke besigheidsman nie, maar deur ‘n timmerman van Nasaret. Hy skryf nie boeke nie, Hy maak nie ‘n leër bymekaar nie, Hy besit feitlik niks (hoor die vals profete van die CRC dit?). Nederig en onbelangrik leer Hy die kindertjies en arm mense op straat en dan sterf hy die skandedood van ‘n misdadiger! Hy lyk so waardeloos, alledaags en onbelangrik! MAAR in Hom en Hom alleen is die kosbare skat van die koninkryk te vind!

Dis eers as mens  ontdek het, in hierdie vernederde Jesus is die koninkryk te vind dat ek tot die oortuiging kom dat sy waarde alles oortref! Dan raak ek bereid en gewillig om alles prys te gee om Hom te ken en te volg! In hierdie “kaal stukkie akker” lê ons ewige toekoms. Dis net geloof bewerk deur die Heilige Gees wat dit kan raaksien.  Dis net geloof wat die allesoortreffende waarde van Jesus besef. 

Dis geloof wat mens laat uitroep soos Paulus in Filippense 3:8-11.  “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood."

KOM ONS RAAK PRAKTIES

1. Die wêreld sien geen waarde in Jesus nie.  "Ag, wat Hy kan Hy vir my doen? Dis tog malligheid om ‘n gekruisigde Jood te aanbid!  'n Bloedoffer? Dit klink middeleeus..." Ook baie kerkmense sien geen besondere waarde in Jesus nie – "Ag, jy weet dis nou maar ons kultuur om die kerk in stand te hou, bietjie aandag aan godsdiens te gee en af en toe na ‘n mooi boodskap te luister, maar ek sien geen rede om opgewonde oor Jesus Christus te raak nie! Nog minder rede om myself aan Hom oor te gee en Hom in alles te gehoorsaam." Die  voorspoedteologie/prosperity gospel aanhangers (CRC, Joel Osteen, Joyce Meyer...) sien ook geen waarde in die vernederde gekruisigde Jesus nie en daarom het hulle in hulle gedagtes (en valse reklame) ‘n eie mensgemaakte Jesus geskep wat gedurig geld en gesondheid uitdeel soos wat die mens nodig het. Wat van jou? Het jy al die waarde van die gekruisigde Jesus persoonlik besef? Kan jy saam stem met Paulus as hy in Galasiërs 6:14 sê : “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” Die kruis van Jesus is vir my so waardevol, niks anders is, geen ander opinies maak meer regtig vir my saak nie!

2. Wie die waarde van Jesus besef is bereid tot groot opoffering. Hierdie man het alles verkoop wat hy het om daardie stukkie grond te kan besit. Vra jouself, begeer ek Jesus bo alles? Wat hinder my nog om Hom te dien en te volg? Dalk my rykdom, my onvergewensgesindheid, my jaag na plesier? Dalk ongelowige vriende of sondige vriendskappe? 'n Buite egtelike verhouding?

3. Ons moenie die element van vreugde miskyk nie.  “en uit blydskap...” (OAV) Omdat hierdie man weet van die kosbare skat in die saailand is die aankoop van die land vir ‘n baie hoë prys, nie vir Hom ‘n saak van hartseer nie, maar vreugde. Jy is nie ‘n ongelukkige verloorder as jy besluit om Jesus te volg nie. Jy is ‘n ewige wenner, al beskou die mense rondom jou jou as ‘n dwaas!  Is jy bly oor Jesus? BLYDSKAP WYS DAT ONS REGTIG GLO!

Donderdag 03 September 2020

JOU GOD IS KONING!


- DIE GOEIE NUUS WAT VANDAG ‘N VERSKIL IN JOU LEWE KAN MAAK 


Dis ‘n depressiewe prentjie en jammerlike toestand. Dit gaan nie goed met God se stad Jerusalem, (ook genoem Sion) nie. Die eens pragtige stad en indrukwekkende tempel is verwoes. Puinhope, murasies, ruïnes en rommel is al wat jy sien. Dis ‘n neerslagtige toneel. (Dink aan Beiroet na die onlangse reuse ontploffing) Die inwoners is weggevoer in ballingskap na die verre Babel. Kan God weer als nuutmaak? Wil Hy dit weer nuutmaak of het hy sy volk vergeet? Dis waar die wonderlike profesieë van die profeet Jesaja inkom. 

Dit gaan oor God se heerlike beloftes. God gaan sy volk verlos en Jerusalem weer herstel. Ons het ‘n vorige keer gesien hoe Hy vir Kores die heidense koning gaan gebruik om dit te doen. Hier word die beloftes nou in ‘n vorm van ‘n loflied gegee. (Jesaja 52:7-9) Die kern kry ons in vers 7. “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" 

“Jou God is koning!” – dis ‘n kort stelling, maar met heerlike en verreikende implikasies. God het sy volk en stad nie vergeet nie! Hy bring uitkoms, verlossing en redding! Hy maak ‘n nuwe begin! Dis goeie nuus! Omdat Hy koning is, het Hy die mag en gesag om dit te doen. 

Jerusalem jy moet weet, “JOU God is koning!” Hy regeer, Hy is in beheer! Die geskiedenis bevestig, hierdie beloftes het waar geword. Die bannelinge het teruggekeer en Jerusalem sowel as die tempel is herbou!Hierdie boodskap gaan egter oor meer as net die einde van die ballingskap. Dit raak ons. In die Griekse vertaling (LXX) van hierdie gedeelte word ‘n vorm van die woord euangellion* gebruik en inderdaad koppel Paulus hierdie bring van die goeie nuus aan die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus. Die verlossingsboodskap. 

Luister na Romeine 10:14,15 “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring." 

Hierdie belofte en loflied in Jesaja het alles te doen met die evangelie van Jesus. 

Jesus se koms het eers regtig die einde van die ballingskap gebring. Omdat God die almagtige verlosser koning is wat getrou bly aan sy beloftes, het Hy Jesus gestuur, sy ware Kneg om te verlos en te herstel! Jesus bring ‘n einde aan die slawerny en verknegting van sonde. Hierdie versekering : “Jou God is koning!” is ‘n heerlike versekering aan elkeen van ons wat die evangelie van Jesus Christus waarlik glo. Dit het praktiese implikasies en heerlike konsekwensies as ek al die evangelie van Jesus geglo en aanvaar het. Kom ons kyk net na ‘n paar: 

  • Aanvaarding van die evangelie beteken ook dat ek God as Koning oor my lewe erken. Om Jesus te aanvaar as Verlosser beteken dus dat ek kies vir ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God en Sy Woord. Ek kan nie sê dat Jesus my Verlosser is en ek volhard onveranderd in my ou leefstyl nie. So dikwels hoor mens: “Ja, ek ken Jesus, maar ek en my meisie bly nog steeds ongetroud saam nie, Ja, ek ken Jesus , maar ek sal daardie ou wat my geld skuld nooit vergewe nie!” Jou God is koning – jy durf Hom nie ongehoorsaam wees nie! 

  • Aanvaarding van die evangelie sal my daartoe bring om raak te sien en te glo dat God koning is bo alle demone, magte en owerhede. Wat ‘n heerlike troos - dis nie bose magte, geheime organisasies of wêreldleiers wat in beheer van hierdie planeet is nie! Die whatsapp profete het dit verkeerd. Nee, JOU God is koning. Die lewende God, die Vader van ons Here Jesus! Dwarsdeur die Bybel is dit die duidelike boodskap. Nie die nasies en hulle konings nie, maar God is in beheer. Dink maar aan die wonderlike Psalm 2 waar vir ons vertel word hoe die Here lag vir die nasies en hulle leiers! God lag hulle uit!** Dink aan die boek Openbaring. Een van die hooftemas is dat God op die troon sit! (Byv. Openbaring hoofstuk 4) Met ander woorde, Hy is in volle beheer! Jou God is koning, jy durf nie meer in vrees en paniek lewe nie. Nee, wat by jou pas is dankbare geloofsvertroue! 

  • Aanvaarding van die evangelie moet my bring by lof en getuienis oor God se koningskap. Vra jouself : “Dra my voete ook hierdie heerlike boodskap, bring my lippe ook hierdie wonderlike getuienis?” Terloops, hierdie is ‘n baie belangrike saak. Paulus gebruik Jesaja 52:7 ook in Efesiërs 6:15 as deel van die wapenrusting van die geloof. “en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.” Om met oortuiging te staan vir die evangelie en dit te verkondig beskerm my teen die aanslae van die bose! 

Jy sien dalk vandag ook net rommel, wrakke en murasies rondom jou! ‘n Stukkende lewe vol chaos. ‘n Warboel van ellende! Jou huwelik en huisgesin lê dalk in stukke! Bekommernisse oor finansies, gesondheid en jou kinders se toekoms wil jou oorweldig. Die ergste – jou eie hart is vol sonde en boosheid. 

Hoor hierdie boodskap – Jou God is Koning! Jou omstandighede en sonde het nie die laaste sê nie! In sy almag en liefde het Hy vir jou uitkoms gebring deur Jesus Christus. Hy het ‘n nuwe begin kom maak. Hy het aan die kruis sonde, Satan, dood en hel oorwin! Kom buig voor Jesus en aanvaar die verlossing wat Hy bewerk het. Vertrou Hom alleen. Begin Hom loof vir sy wonderlike bevryding!



*εὐαγγελιζομένου 
**Psalm 2:4


Dinsdag 25 Augustus 2020

“Ek verstaan nie, Here!”


     God werk op misterieuse wyse.

Hoe moet ek dit verstaan? Daardie werksaanbod wat my so opgewonde gemaak het en toe deur die mat geval het? Daardie sieke vir wie ons so ernstig gebid het, wat toe skielik beter geword het maar net so onverwags toe oorlede is? Daardie eksamen waarvoor ek so hard geleer het, en toe doen ek baie swak, al het ek die Here mooi gevra om my te help? En hoekom kan goddelose regeerders maak soos hulle wil, ons land plunder en ons mense verarm, maar God keer hulle nie? So lyk dit altans... Baie onbeantwoorde vrae…

GOD WERK OP MISTERIEUSE WYSE! God werk op geheimsinnige en onverklaarbare maniere. Dis wat Jesaja 45:15 wil sê. U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder!”

Waaroor gaan dit hier? Israel was in ballingskap en God het toe besluit om ‘n heidense koning Kores te gebruik om sy volk te verlos en weer te laat terugkeer na hulle land. Hoor mooi! Ja, God maak van ‘n vreemde heidense koning wat Hom glad nie ken nie, sy eie kneg om sy planne te volvoer! Hoekom en hoe kan God so iets regkry? Wel, Hy is alleen waarlik God. Hy kan als doen wat Hy wil! Luister wat sê Hy vir die heidense koning Kores – Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. (Jesaja 45:5) 

God lei die geskiedenis van mense, families en nasies op sy geheime onverstaanbare wyse sodat sy wil volbring en sy Naam geëer word!  

God se mense sal uiteindelik gered word en nooit teleurgestel word nie. Maar nou is God se werkswyse vir ons  onverstaanbaar, verborge, ondeurgrondelik, onpeilbaar!

Dit bring ons by Paulus se lofprysing in Romeine 11:33-36.  Dit eggo dieselfde waarheid as Jesaja.



"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen."

 

Die konteks is baie belangrik. Dit gaan in Romeine 9-11 oor die hartseer feit dat die volk Israel vir Jesus, die beloofde Messias verwerp het en dat dit gelyk het of God hulle daarom vergeet en verstoot het. Dit lyk asof God se beloftes, juis ook die beloftes wat in Jesaja gemaak is, op niks uitgeloop het nie. Paulus is natuurlik baie hartseer dat die meerderheid van sy eie volk Jesus verwerp het, maar hy kyk dieper na die saak. Deur dat Israel die evangelie verwerp het, het die heidense nasies juis die kans gekry om dit te hoor en te aanvaar! Agter die oënskynlike mislukking het God ‘n heerlike genade doel gehad. Paulus weet dat God Hom weer oor Israel sal ontferm en ook die uitverkorenes in die etniese Israel sal red.

 Hy gebruik die beeld van die olyfboom. God het die mak olyfboom , Israel afgekap en die lote van die wilde olyfboom (bekeerlinge uit die heiden nasies) ingeënt. Maar onthou sê Paulus : As God dit kon doen kan Hy weer die mak olyf se takke terug inent! God sal sy uiteindelike doel bereik en vir Hom ‘n volk versamel uit beide die heidene en die etniese Israel. As Paulus hieroor nadink, dan bars hy as’t ware uit in spontane lofprysing en aanbidding. Hy loof God wat totaal soewerein en in beheer is! (Soewerein beteken – God doen wát Hy wil, wánneer Hy wil, sóós Hy wil. God is van niemand afhanklik nie – en hoef dus vir niemand raad te vra nie – en Hy is aan niemand verantwoordbaar nie.) God sal sy wil volbring, maar vir ons as mense is dit ondeurgrondelik, onnaspeurlik. Dit gaan bo ons begrip en verstand! 

Ons dien ‘n soewereine, almagtige en misterieuse God!

 God werk dikwels op die heel teenoorgestelde manier as wat mense sou verwag.

Nêrens is dit duideliker as in die lewe en sterwe van Jesus self nie. God stuur sy Seun na hierdie aarde, nie as ‘n super engel,  dapper krygsman, magtige staatsman of slim filosoof wat baie boeke skryf nie. Nee, God se Seun word in ‘n stal gebore. Gewone babatjie wat skree. Hy loop en leer in die stofstrate van die onbelangrike Palestina en Hy sterf die skandedood van ‘n uitgeworpe misdadiger! God se plan, wysheid  en werkswyse verskil enorm baie van ons idees en planne. God bewys sy krag juis deur in Jesus swak te word, gekruisig te word deur sy eie skepsels wat Hy gemaak het. Vir die wêreld is die kruis dwaasheid en onsin, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

 God werk vandag nog op verborge misterieuse wyse.

God gebruik ‘n rebelse kind, ‘n ontroue huweliksmaat, ‘n pynlike siekte, en selfs ‘n wêreldwye virus en korrupte regerings om sy volmaakte doelwitte te bereik!  Ek en jy gaan dit nie verstaan nie.

Ons moet egter in vertroue voor Hom buig. Hy weet wat Hy doen. In plaas van opstand, moet ons nederig in aanbidding voor Hom kniel! In plaas van rebelse vrae moet ons sy lof en heerlikheid besing! In plaas van verwyte moet ons Hom dank, ook in die donkerste ure! Kom skep moed kinders van God, want die mees dreigende onweerswolke van slegte omstandighede is vol van God se genadereën wat ons siele sal versadig! 


Kom ons word stil voor God se almag en ondeurgrondelike wysheid en sing saam met William Cowper (1731-1800) sy beroemde lied- God moves in a mysterious way




God moves in a mysterious way
His wonders to perform;
He plants His footsteps in the sea
And rides upon the storm.

Deep in unfathomable mines
Of never failing skill
He treasures up His bright designs
And works His sov’reign will.

Ye fearful saints, fresh courage take;
The clouds ye so much dread
Are big with mercy and shall break
In blessings on your head.

Judge not the Lord by feeble sense,
But trust Him for His grace;
Behind a frowning providence
He hides a smiling face.

His purposes will ripen fast,
Unfolding every hour;
The bud may have a bitter taste,
But sweet will be the flow’r.

Blind unbelief is sure to err
And scan His work in vain;
God is His own interpreter,
And He will make it plain.

Lees gerus die aangrypende biografiese skets oor (kliek)  William Cowper deur John Piper.

 

Saterdag 01 Augustus 2020

JI PACKER


EN DIE AANNEMING TOT KINDERS

[JI Packer (1926-2020) is verlede maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming tot kinders.]

Het jy besef? God neem verloste sondaars aan as sy eie kinders!

 

 “Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"  (Romeine 8:15,16)

Die vraag “Wat is ‘n Christen?” kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is iemand wat God as sy eie Vader het.  

Net terloops, nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.  “…en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3) 

Die aanneming tot kinders is ‘n uitsonderlike stuk genade en  die grootste voorreg wat die evangelie ons bring. 

Ja, daar is ook ander voorregte. Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification) is ‘n forensiese saak.  Dit gaan oor die wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.  Genadig! 

Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7) 


Ons hele praktiese Christelike lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God. Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese terme. God se familiekode.

 Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:

1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.

 

Op 3 maniere beïnvloed ons kindskap van die Vader ons gedrag:

 

As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?

As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!”  Hoor Jesus se woorde -  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16)  Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie? 

As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak! 

2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe. 


Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11) 

3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.


Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33) 


Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem? 





*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg : 

“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”