BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Johan Janse van Rensburg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Johan Janse van Rensburg. Wys alle plasings

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

Donderdag 04 Februarie 2016

GEREFORMEERDE SAAMTREK IN DIE DORSLAND

- maak solank 'n knoop in die oor!


Die NG Gemeente Otjiwarongo reël 'n Gereformeerde saamtrek van 15-17 April op die noordedorp in Namibië. Tydens hierdie geleentheid sal Prof. Johan Janse van Rensburg, wat 'n lang bediening as predikant en teoloog agter die rug het as spreker optree. Hy is een van die min geleerdes in ons kerkverband wat nog 'n duidelike stem vir die waarheid laat hoor. Sy Skrifgegronde standpunte word in helder en eenvoudige taal verwoord in sy onlangse boekie, "IN GESPREK MET DIE KERK" 

Tydens die geleentheid gaan Prof. Janse van Rensburg  'n wye verskeidenheid van aktuele sake aanroer, waaronder :


Gereformeerde identiteit
Leerdwaling in die kerk
Skrifgebruik in die gedrang
Die eeu van relatiwisme
Homoseksualiteit en die Skrif


Hierdie en nog ander temas sal deur Prof Janse van Rensburg ingelei word en in 'n gespreksformaat hanteer word.

Die geleentheid is gratis! Verblyf op Otjiwarongo sal beskikbaar wees.

Vir verdere inligting rondom die program en praktiese reëlings kan u vir ds. Hector Jooste by hector@otjiweb.com kontak. Doen dit sommer sou gou as moontlik!


Prof. Johan Janse van Rensburg



Vrydag 13 November 2015

GEVEG IN DIE VOLKSBLAD

Die Algemene Sinode se skokbesluit om praktiserende homoseksuele predikante tot die bediening toe te laat, het 'n diepe teologiese verskeurdheid binne die NG Kerk blootgelê. Dis 'n keuse tussen gewiligheid aan die tydsgees of gehoorsaamheid aan die Skrif. Daar is wel sekere pogings om die sinodebesluit as gehoorsaamhed aan die Skrif aan die publiek te verkoop. Dit mag dalk vir sommiges geloofwaardig klink (en ek wil ook nie te kenne gee dat almal wat die besluit steun, nie respek het vir die Bybel nie), maar dis duidelik ook nie waar dat slegs die Skrif 'n faktor in die besluit was nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg wys in 'n antwoord op Prof Hermie van Zyl se rubriek* in die VOLKSBLAD duidelik uit dat die Algemene Sinode nie kan aanspraak maak dat hulle by die Sola Scriptura beginsel gehou het nie.

Lees hieronder Prof. Janse van Rensburg se brief in die Volksblad :

Die willekeur waarmee korrespondente oor die Skrif en homoseksualiteit skryf, wil ’n mens laat huil. 

Die skrywe van kollega Hermie van Zyl is egter ’n ander saak. Sy vorige bydrae het my genoop om kommentaar ter wille van kollegialiteit te weerhou. Die jongste bydrae in Woord en Perspektief (10/11) laat my geen ander keuse as om te reageer nie. 
Dit is al ’n bietjie uitgedien om die Kopernikaanse omwenteling (korrektief op die Bybelse beeld van ’n aarde wat plat is) as bewys aan te voer dat die kerk ook vroeë wetenskaplike navorsing verwerp het. 
Daar is ’n groot verskil. Copernicus se navorsing was op wetenskaplike feite gegrond. Geen wetenskaplike sal vandag daarvan verskil nie. 
Maar met die Skrifinterpretasie oor homoseksualiteit is dit eenvoudig anders. Die nuwe wetenskaplike ontwikkeling wat na bewering ’n ander betekenis aan die sogenaamde anti-gay­teks­te gee, is op teorieë gegrond wat nie deur alle wetenskaplikes gesteun word nie. 
As die hermeneutiek wat prof. Hermie en die sinode voorstaan, so wetenskaplik is, waarom is daar ander wetenskaplikes soos prof. Jan du Randt (SA) en William Lane Craig (VSA), om net twee van ’n hele rits gesiene eksegete te noem, wat nie hierdie sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte onderskryf nie? Wêreldwyd is daar wetenskaplikes wat nie met die Skrifverklaring van die sinode saamstem nie.
Prof. Hermie voer aan dat die sinode net soveel op die sola Scriptura-beginsel (die Skrif alleen) aanspraak kan maak. Gegrond op die ervaring van talle wat daar teenwoordig was, blyk dit dat die Skrif nie die enigste norm was nie, maar dat buite-Bybelse getuienis en emosionele manipulasie ’n groot rol gespeel het. 
Die taakspan se verslag aan die sinode het ’n hele afdeling oor buite-Bybelse motivering vir die aanvaarding van selfde-geslagverhoudings. 
Trouens, Hermie se betoog steun ook op buite-Bybelse argumente. 
Hermie verwys na “onomkeerbare kern-homoseksualiteit”, bedoelende dié wat só gebore is. Dit word dan ’n soort natuurlike teologie wat Bybelse beginsels kan korrigeer.
Die waarheid is egter dat ’n gay-geen nog nie gevind is nie en nie deur navorsing bevestig kon word nie. Ook hier ly die beweerde wetenskaplike insigte aan gebrekkige integriteit. 
Die poging om die nuwe interpretasie van die Skrif wetenskaplik te regverdig, slaag eenvoudig nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg

*Prof Hermie se skrywe: 


Die gay-besluit en sola Scriptura

DIE besluit van die NG Kerk om praktiserende homoseksuele toe te laat tot die kansel en die kerklike bevestiging van verbintenisse van liefde en trou, het ’n hewige polemiek ontketen. In hierdie debat word die slagspreuk sola Scriptura telkens gebruik, veral deur hulle wat die besluit teenstaan.
Sola Scriptura beteken “(deur) die Skrif alleen” en dateer uit die tyd van die kerklike reformasie in die 16de eeu. Die hervormers het dit gebruik in hul stryd teen die Roomse Kerk om te sê dat die pous en die tradisies van die kerk ondergeskik is aan die Woord van God. Die Skrif alleen – nie die pous of tradisie nie – bepaal wat gesagvol is vir leer en lewe.

Hieruit vloei ook verdere oortuigings voort, soos dat die Bybel onfeilbaar is in sy uitsprake oor sake van geloof en lewe, dat dit duidelik en genoegsaam is in sy heilsbedoeling, dat dit homself interpreteer wanneer Skrif met Skrif vergelyk word, en dat elke gelowige, gelei deur die innerlike verligting van die Heilige Gees, direkte toegang tot die Woord van God het.
Hulle benodig nie geleerdes of die kerk se verduideliking om dit te verstaan nie.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Gesonde uitlegbeginsels van die Bybel, soos oor tyd heen ontwikkel, het egter nog altyd gesê dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid. 
’n Voorbeeld: Om vandag daarop te staan dat die aarde plat, stewig op sy pilare gegrondves en onwankelbaar is, net omdat die Bybel dit duidelik sê (1 Sam. 2:8; Ps. 93:1), maak jouself nie net belaglik nie, maar ondergrawe juis so die Bybel se gesag. 
Dié voorbeeld is nie so onskuldig nie. Vandag aanvaar ons ’n ronde aarde en ’n heliosentriese sonnestelsel as vanselfsprekend, maar toe die moderne wetenskap nog in sy kinderskoene gestaan het, het die kerk dié nuwe insigte hewig teengestaan – op grond van die Bybel!
Gelowiges moet dus naas die Skrif as bron van gesag, ook die getoetste insigte van die natuurwetenskap as gesagsbron vir leer en lewe erken. Skrif en natuur staan nie prinsipieel teenoor mekaar nie, want die God van die Bybel is ook die God van die natuur. Hy is immers die Skepper van alles. Die vraag is net hoe ons die gegewens van albei met mekaar in verband moet bring. Dis nie altyd ’n maklike taak nie, soos nou blyk in die gay-debat.
Van tyd tot tyd kom daar nuwe insigte op die tafel wat die kerk dwing om weer met nuwe oë na die werklikheid te kyk. 
En dis al lank dat die kerk gekonfronteer word met die verskynsel van onomkeerbare kern-homoseksualiteit, en dat daar gelowiges met so ’n oriëntasie is wat ’n tuiste in die kerk soek. Hulle wil nie losbandig en buite die kerk lewe nie, maar as belydende Christene en volle mense hul plek in kerk en samelewing inneem.
Wat verder vir die kerk duidelik geword het, is dat die tekste wat oënskynlik anti-gay is, eintlik nie veel hiermee te doen het nie, maar wel degraderende en afbrekende homoseksuele praktyke afwys. Hierbenewens dring die Skrif ons daartoe om insluitend te werk te gaan, ook ten opsigte van hulle wat na ons mening “teen-natuurlik” is.
Die sola Scriptura-beginsel stel dus nie erkende uitlegbeginsels buite werking nie, maar sluit dit in. Die punt is: Sola Scriptura is nie net die prerogatief van téénstanders van die NG Kerk se besluit nie, maar ook van die vóórstanders daarvan.