BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Algemene Sinode 2019. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Algemene Sinode 2019. Wys alle plasings

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Saterdag 23 November 2019

Gaan die NGK skeur?


Gaan die NGK skeur oor die gruwelbesluit van die AS 2019? Ek dink : “NEE!” Hoekom sê ek so? Die NGK het eintlik lankal reeds geskeur, ons is net nie eerlik en mans genoeg om dit te erken nie. Kom ek verduidelik… Die NGK het teologies geskeur, maar probeer bloot nog ‘n administratiewe eenheid handhaaf. 


Wat behels hierdie teologiese skeuring wat reeds plaasgevind het? 

Sommer net ‘n paar vinnige voorbeelde. Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood nie, ander glo dit nog… (Gaan lees maar die verhaal van Ferdie Mulder in OPGESTAAN as jy dit nie weet nie) Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus die unieke enigste middelaar tussen God en mens is nie, ander glo dit nog… Een deel van die NGK glo nie daar bestaan iets soos ‘n persoonlike duiwel nie, ander wel… (Hy is immers ‘n springlewendige lid van die Algemene Sinode!!) Een deel van die NGK glo nie meer dat ‘n huwelik net uit een man en een vrou bestaan nie, ander glo dit nog… Kortom. Een deel van die NGK glo nie meer die Skrif en belydenisskrifte nie, die ander hou steeds vas aan die waarheid van die Woord en belydenis… 

 Die liberaliste in die NGK het die NGK gekaap via die Algemene Sinode. 

Baie slim en slu. Die Guptas kan gerus by hulle kom leer. Die minderheid lei die meerderheid aan die neus rond. 

Maar ongelukkig word die ongelowige deel van die NGK al groter en die gelowige deel al kleiner, want die meerderheid van nuwe predikante wat deur die fakulteite geproduseer word glo nie meer die Woord nie, want dis wat hulle geleer word. Verder verlaat baie van ons getrouste en vroomste lidmate die NGK omdat hulle dit net nie meer kan uithou nie. En uiteindelik is dit die vrot appels wat die goeies ook vrot maak en nie andersom nie! 

Die standpunte oor kernsake binne die NGK is onversoenbaar teenstrydig en uiteenlopend! Hoekom bly ons dan nog bymekaar? Hoekom tyd mors met onlogiese kompromisbesluite? Hoekom was daar nie lankal ook ‘n sigbare skeuring nie? Hoekom byt baie leraars en lidmate tog maar vas? 

Hoofsaaklik ter wille van administratiewe, finansiële en praktiese redes. Die administrasie van pensioen en mediese fondse, die behoud van kerkgeboue en predikantstatus… Maar daar is moontlik ook ‘n groot aantal leraars wat binne die NGK strukture bly omdat daar net nie ‘n ander opsie op hierdie stadium is nie. Daar is net nie alternatiewe geestelike versorging vir hulle gemeentelede nie. Waar moet God se kosbare skape kos kry? En ja, daar is ook fundamentele teologiese oorwegings. Die getroue gemeentelede in die sewe gemeentes van Openbaring word immers nêrens opgeroep tot afskeiding nie, maar eerder om broers en susters wat nog vashou aan die waarheid te versterk. Ja, die gemeentes word ook telkens opgeroep tot bekering! Daarom mag ons in hierdie dae wat ons besluite ook al uiteindelik mag wees, ten minste nie stilbly nie en verstom ek my oor hoe broers wat die waarheid liefhet, so ‘n oorverdowende stilte kan handhaaf! Hoe werk dit? 

Waarom bly baie getroue gelowiges nog steeds in die NGK? Die eerlikste antwoord is seker om te sê dat daar ‘n mengsel van die bogenoemde redes ter sake is. En, ja die AS besluit is immers nie ons gemeentelede se opinie of hulle skuld nie! Mag die Here vir sy kosbare kinders binne die NGK duidelik die pad vorentoe wys! Mag elke plaaslike NGK wat nog vashou aan die Woord duidelik deur die Gees en Woord gelei word binne ons huidige omstandighede!

Wanneer is genoeg, genoeg? Wanneer moet die padda maar uit die pot spring, voordat dit te laat is? Wanneer moet ons ons profetiese stem met radikale dade demonstreer? Kom ons help mekaar om die tye te verstaan!


Wanneer gaan die sand van ongeloof en ongehoorsamheid ons heeltemal verstik en begrawe?


Dinsdag 05 November 2019

DIE SPOEG OP JESUS SE GESIG

- WAS DIT AF DEUR SKAAMTELOOS OP TE STAAN VIR DIE WAARHEID!

Die Algemene Sinode 2019 se besluit om onder die vaandel van diversiteit aktiewe praktiserende homoseksuele predikante toe te laat is meer as net 'n verwarrende etiese besluit. Dit tas die eer van Jesus Christus die Hoof van Sy kerk aan! Dis 'n onheilige kompromie met die anti-Woord en anti God-filosofie van die postmodernisme.

Dit lyk baie soos die kompromie wat sommige kerkleiers destyds in Roemenië met die Kommuniste gemaak het.

Hieroor het die bekende martelaar RICHARD WURMBRAND soos volg geskryf: (kliek op video)






Maandag 04 November 2019

SAAM OP REIS?

So dikwels moet ons hoor : “Moenie sê dis reg of verkeerd nie, moenie verdelende standpunte stel nie, kom ons reis eerder saam op soek na die waarheid!” Byvoorbeeld: “Kom ons doen studie oor die bestaan van die duiwel. Kom ons doen nog verdere studie oor die wese van die huwelik...” En ons weet daar is selfs ook deesdae vrae by baie teoloë oor die uniekheid van Jesus as enigste Middelaar en die feit van die opstanding. 


PASOP VIR HIERDIE REIS!

Hierdie versoek tot saamreis klink so vroom en nederig. Maar kom ons bekyk dit bietjie van nader... Hierdie reis van die liberalisme is ‘n gedoemde reis. 



Dis ‘n reis wat onvermydelik eindig in sinkretisme, agnostisisme en ateïsme. 



Hierdie reis maak dat baie mense reeds hulle respek vir die NGK op groot skaal verloor het. Een voorbeeld: Hierdie reis het al veroorsaak dat ons NG studente gemeentes bykans leeggeloop het en ons eie gelowige kinders na ander denominasies gaan om 'n geestelike tuiste te soek. 

Die reis van die liberale agenda is ‘n reis van swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind... Hierdie reis geskied op ‘n afdraaipad na die dood. Hierdie reisigers het die smal pad van die lewe verloor... 

Ek wonder, waarheen wil die liberaliste in die NGK heen reis? Na watter waarheid wil hulle soek? 

Vir 2000 jaar bely die kerk van Jesus, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat vlees geword het en dat Hy alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, deur sy kruis en opstanding Satan, sonde, dood en hel oorwin het. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar weet die kerk dat daar ‘n duiwel bestaan, maar gelukkig ook dat Hy op Golgota die onderspit gedelf het en dat die poel van vuur vir hom en sy meelopers wag. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, liggaamlik en histories opgestaan het en dat sy graf leeg is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

EN JA! JA! Vir 2000 verstaan die kerk dat ‘n huwelik die vaste verbintenis is tussen een man en een vrou. Dat die huwelik ‘n Goddelike instelling is wat die besondere band tussen Jesus as Bruidegom en die kerk as bruid uitbeeld! Weereens, Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! (Veral nie na BENONI toe nie!)

DIE REIS NA SION!

Maar natuurlik is God se kinders wel op reis. Ons reis juis met die waarheid as vertrekpunt. Ons reis nie omdat ons nog na die waarheid soek nie, maar juis omdat ons die waarheid het. Omdat Jesus Homself deur sy Woord en Sy Gees aan ons uit genade geopenbaar het! Ons reis, ja. 

Dis die pelgrimsreis van volharding waarvan John Bunyan so duidelik skryf in sy PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID. Dis die reis na die ewige stad Sion waar daar geen sonde, trane en dood meer sal wees nie! Op hierdie reis het ons inderdaad broers en susters, medereisigers nodig wat ons bemoedig, vermaan, ophelp as ons geval het en reghelp as ons verdwaal het. Maar ons hoef nie te soek na die waarheid nie, ons het die sleutel van die waarheid wat die seldeur in die donkerste ondergrondse kerker van die kasteel vertwyfeling kan oopsluit . So ontglip ons die martelings van die Reus Wanhoop en kry ons weer nuwe HOOP! 

Sterkte vir jou, my broer en suster vir die reis van volharding in die navolging van Jesus!





'n Tipiese voorbeeld na waarheen hierdie reis van die liberalisme mens neem, sien ons nou by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Teologie en Religie. Die studentekomitee het 'n nuwe embleem vir hulleself aanvaar. (Die studente groep)



Let wel dis nie die fakulteit self se embleem nie, maar die studente komitee s'n. Nietemin is dit 'n duidelike aanduiding van die teologiese klimaat en denkstrome op ons teologiese fakulteite. Prof. Ernest van Eck, die vise-dekaan het wel sy kommer gelug oor die reaksie wat hierdie embleem op sosiale media veroorsaak het en sou met die studente daaroor in gesprek gaan.








Maandag 14 Oktober 2019

Namibië staan op!

Verklaring deur besorgde leraars van die NG Kerk in Namibië en Suid-Afrika*



Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 



Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 


Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Namibië: (38) Andries Gous, Christo Swarts, Christo van den Heever, Dirk Coetzee, Dries Burger, Dries Coetzee, Dubois du Toit, Düring Cornelius, Edwin Kakori, Erik van Zyl, Ernst Coetzee, Evert Strydom, Gerrie Cwi, Gerson Kuvare, Hector Jooste, Hein Schaaf, Hendrik van Zyl, Isaac Chameia, Jaco Rossouw, Jacob Schoeman, Jafet Moyo, Jason Ngambwe, Johan Combrinck, Johannes de Koning, Josef Gevers, Koos Engelbrecht, Leviet Kxao, Lukas van Vuuren, dr Manus Olivier, N!aici Komtsa, Petrus Kaimbi, Pierre Bosman, Richard Becker, Rudolf Smit, Shotty Mayebo, Thinus Coetzee, Vian du Plessis, Willie Coetzee 2 2 Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Namibië: (10) NG Kerk Otjiwarongo, NG Kerk Omaruru, NG Kerk Oewer, NG Kerk Opuwo, NG Kerk Tsumeb, NG Kerk Suiderhof, NG Kerk Warmbad, NG Kerk Maltahöhe, NG kerk Outjo, NG kerk Kalkrand

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Suid-Afrika (84) Abrie Botha, dr Adré van den Berg, Alwyn Roux, Andre Fourie, Andre Lammertyn, Andrè Orffer, Andrea Werner, Andries Grobler, Arend Hoon, dr Banus Botha, Bertus Janse van Rensburg, Carel Smith, Cecilna Grobler, dr Chris Saayman, Chris Visser, Christie Smit, Clifford James, Corrie Greeff, Danie Murray, Dawie le Roux, Deon Senekal, Dr Dirk Venter, Emile Blommaert, Eric Swanepoel, Ernst Rischmuller, Evert Bergh, Fanie le Roux, Floors Ellis, Francois Botha, Frikkie Snyman, Dr.Gerard Olivier, Gert Badenhorst, Gert Barnard, Gert Delport, dr Gert Duursema, Dr Gideon Kok, Helgard Janse van Rensburg, dr Hennie Hoepfner, Ds Hermanus Crouse, Ian Dubery, Jan Louw, Jan Venter, Janlu Kuyler, Janus Roux, Johan Bloemhof, Johan Engelbrecht, prof. Johan Janse van Rensburg, Johan Koen, Johan Koen (jnr), John Holtzhausen, Jos van der Merwe, dr Leon Oosthuizen, dr Manie Taute, Marcel Vosloo, Marius Joubert, Marthinus Coreejes, Naledi Lehoko, Neels Steyn, Nicholas Botha, Nico Sennett, Ockie Olivier, Otto Clasen, PC Pretorius, Petrus Kriel, Philip Kuhn, Piet Fourie, Piet Otto, Pieter Badenhorst, Pieter J. Kotze, Pieter Prinsloo, Pieter Theron, Rhenier Nel, Roelf van Niekerk, Ronnie Neveling, Ruan du Plooy, dr Sas Conradie, Stefaan de Jager, Stefan van der Merwe, Theo Danzfuss, Tiaan Victor, Wessel Oosthuizen, Willem Badenhorst, Willem Botha, Willie Crous

Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Suid-Afrika: (8) NG Kerk Tafelberg in Kaapstad (Dolerend), NG kerk Kroonstad-Wes, NG kerk Clearview Maclear, NG kerk Delmas-Wes, Moreletapark Gemeente, NG kerk Sasolburg Tuinedal, NG Standerton-Suid (Dolorerend), NG Kerk Hoopstad

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Reformed church in Africa dr Gregory H. Denysschen, Kovilan Moodley, Theo Francis Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van die Reformed church in Africa Reformed Church in Africa in Cravenby Cape Town - called Living waters

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA) Johannes DG Murray , Louwrens van der Westhuizen 
[ Hier kan nog name bykom. Ook die van kerkrade. Die lys sal dus van tyd tot tyd aangepas word]


Mag ons rotsvas bly staan!

NS  Opregte dank aan ds. Erik van Zyl en almal wat hom gehelp het om leiding te neem in hierdie saak!

*Die verklaring was eers net 'n Namibiese verklaring , maar is later uitgebrei na Suid-Afrika.

Woensdag 09 Oktober 2019

DIE ALGEMENE SINODE 2019


se besluit oor SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (sien onderaan) is ‘n meesterlike voorbeeld van kwalik bedekte oëverblindery, slinkse sagmaak tegniek en eintlik niks anders as verbale diarree nie! ‘n Teologiese maagwerksel wat erg aansteeklik is en tot ‘n epidemie van die dood gaan aanleiding gee! 



Die besluit klink so mooi en versoenend (want die behoudende lidmate moet gepaai word), maar kyk jy mooi is hier ‘n vrypas vir die legitimasie van aktiewe homoseksuele en terstond beoefenaars van bykans enige seksuele afwyking en vergrype. Solank dit in “integriteit” gedoen word! Hoe word dit bepaal? En deur wie? ‘n Saamblyer, poligamis of biseksueel wat in sogenaamde “integriteit” lewe met al sy aanhangsels sal dus ook predikant kan word! 

Daar word slegs die illusie van gesprekvoering en verdraagsaamheid geskep, want die opdrag word reeds aan ATLAS gegee om ‘n “kerklike formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Ons praat nog, maar ons maak solank ‘n formulier om sonde amptelik te seën! En let op hulle kies hulle woorde mooi. Nogal “burgerlike verbintenisse”. Hierdie term word weereens as kompromis gebruik om die behoudendes te paai. Hulle noem dit nie nou al ‘n “huwelik” nie. Dis uiterste skynheilige bedrog! Sommige predikante het alreeds “huwelike” bevestig tussen homoseksuele en daar word nie teen hulle opgetree nie. 

Die besluit wil maar net die Bybelgetroue lidmate tydelik paai om ‘n massa uittog uit die kerk te probeer verhoed. Die taktiek is duidelik om te probeer tyd koop om die onrustige lidmate mettertyd te oortuig om nie meer die Bybel te glo en God se standaarde te handhaaf nie! En diegene wat uiteindelik nie gaan saamloop nie, sal aktief vervolg word. “Mark my words!” 

Ekself glo dat daar inderdaad in liefde en deernis met alle mense omgegaan moet word wat stry teen die sonde en in gebrokenheid voor die Here die pad van heiligmaking wil stap. Dit sluit homoseksuele in... Hierdie besluit van die AS gaan egter nie daaroor nie, maar is ‘n slinkse plan om sonde te sanksioneer en uiteindelik die regverdiges te vervolg. 

Die Algemene Sinode het ‘n wolweskuilplek geword. Polities korrek, maar teologies verward. Die skape van Jesus moet hiervan kennis neem en die pad vorentoe loop met slangversigtigheid en duifopregtheid, anders gaan ons onkant gevang en opgevreet word! (Matteus 10:16) 


Selfdegeslagverhoudings

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte,  lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ‘n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n ingeligte besluit neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.