Waar kom dit vandaan?
Die term "piesangrepubliek" (banana republic) het oorspronklik verwys na klein, polities onstabiele lande in Sentraal-Amerika en die Karibiese gebied waarvan die ekonomie grootliks van die uitvoer van een landbouproduk, veral piesangs, afhanklik was.
Die term is (volgens KI) in 1904 deur die Amerikaanse skrywer O. Henry gebruik in sy boek Cabbages and Kings. Hy het daarmee 'n fiktiewe Sentraal-Amerikaanse land beskryf wat deur korrupsie, politieke onstabiliteit en buitelandse ekonomiese belange beheer is.
Dit was inderdaad die geval in lande in Sentraal Amerika. Teen die laat 19de en vroeë 20ste eeu het groot Amerikaanse maatskappye, veral United Fruit Company, enorme grondgebiede in lande soos Guatemala, Honduras en Costa Rica besit. Hierdie maatskappye se betrokkenheid was nie net positief nie. Hulle het dikwels regerings beïnvloed of omgekoop en politieke leiers ondersteun wat hul belange beskerm het. Nodeloos om te sê, dis teelaardes vir korrupsie en magsvergryp. In sommige gevalle het buitelandse regerings selfs militêr ingegryp om die belange van sulke maatskappye te beskerm.
Huidige betekenis van die term
Op voetspoor van die gebruik destys word die term vandag gewoonlik figuurlik gebruik om 'n land te beskryf wat gekenmerk word deur korrupsie, onstabiliteit en oormatige invloed van ryk bevoorregte persone met die regte konneksies met setels van mag. (Plaaslik of in die buiteland) Hier in suidelike Afrika ken ons mos almal die begrip van "staatskaping". As die individue met mag, ook nog totaal onbevoeg is om 'n land te bestuur, dan het mens die volmaakte resep vir 'n chaotiese piesangrepubliek!
My eintlike burgerskap is elders!
Dalk besef jy nou met 'n skok dat jy inderdaad in 'n piesangrepubliek woon en 'n burger is van so 'n onverkwiklike opset. Wel, as jy aan Jesus behoort is dit nie die einde van die wêreld nie. Kinders van God is eintlik mos hemelse burgers met 'n eerste lojaliteit aan ons hemelse koning! (Filippense 3:20,21) Ja, ons sal swaarkry onder die korrupsie en dwaashede van piesangrepublieke, maar ons kan steeds ons blydskap behou, want ons is net tydelik hier. Terwyl ons nou voluit besig is met die werk wat ons Vader aan ons opgedra het, verbly ons ons oor die heerlike vooruitsig van volle aanbreek van God se Koninkryk waar die wil van God sal heers! Geen pyn, geen trane, geen korrupsie, geen sonde! Dis van hierdie Koninkryk en Koning wat ons daagliks met woord en daad moet getuig!
