BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD