BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 31 Augustus 2015

HUISGENOOTLIEFDE HOU NIE!

- want ware liefde gaan oor harde werk en nie gevoelens nie.

Die soveelste glanspaartjie gaan weer skei, lig die media ons in. Dis eintlik lagwekkend as dit nie so tragies was nie. Dit volg nou 'n al te bekende patroon. Hierdie "celebrity" aandagvrate adverteer hulle liefde graag op die voorblad van die HUISGENOOT of dergelike skindermedia en geniet elke greintjie publisiteit (met die gewone paar druppels Christelike sousie daarby), maar as dinge nie lank daarna nie skeefloop, vra hulle ewe formeel en ernstig dat hulle privaatheid gerespekteer word. Nou hoe dan nou?



Hierdie hartseer dilemma van huwelike wat sommer net links en regs gesluit en ontbind word is te wyte aan die skokkende onkunde oor wat LIEFDE beteken. Die media fokus op die "glamour" en gevoelsaspekte van die liefde. En dis ongelukkig waar mense (en veral ons glansganse) hul idees van liefde kry. En ja, natuurlik soos die gevoelens kom en gaan, waai die kastige "liefde" by die deur uit en kry die huweliksmaats die trekpas. 

Die Woord van God skets vir ons 'n heel ander prentjie oor die LIEFDE :

Liefde is nie bloot 'n gevoel nie, liefde is om dinge anders te doen!

Die mens wil net leef soos hy voel en nie meer soos wat God beveel nie! Dis die kern van die probleem.

Gaan lees maar weer die tydlose en weergalose beskrywing van die liefde in (kliek op) 1 Korintiërs 13. Werk dit gerus deeglik deur...

As jy haastig is, onthou maar net solank hierdie twee dinge:

~ Die liefde blom juis in slegte omstandighede. As daar moeilikheid is, kom die liefde die beste na vore. Let mooi op, al hierdie praktiese fasette van liefde soos beskryf in 1 Korintiërs 13 veronderstel ’n negatiewe situasie. Wanneer moet die liefde ’n besluit neem om geduldig te wees? Juis wanneer ’n situasie ontstaan wat my normaalweg ongeduldig sou maak. Wanneer is dit juis nodig om te kies vir vriendelikheid? Juis in 'n opset waar die ander persoon nie vriendelik met my is nie. Wanneer moet ek 'n besluit neem om nie boek te hou van die kwaad nie? Juis wanneer die ander een wel aan my kwaad gedoen het, neem ek in gehoorsaamheid aan God 'n besluit om dit nie weer op te haal en my maat daarmee te gooi nie... So kan mens aangaan...

~ Is dit realisties moontlik om liefde te "doen" en bo my gevoelens uit te styg? Ja, net as die Heilige Gees in jou woon. Menslike krag en selfdissipline is nie genoeg om waarlik te kan liefhê in alle omstandighede nie. Hierdie liefde is ’n vrug van die Heilige Gees. Dit behels selfbeheersing en selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees. ’n Mens ontvang eers die Heilige Gees as jy wedergebore is, as jy ’n kind van God geword het. Die opdrag tot liefde is ‘n eksklusiewe opdrag aan God se kinders.

Dis net die kind van God wat liefde verstaan en liefde kan uitleef. Die Heilige Gees in jou maak dit moontlik! En ja, as ons gefaal het en aan die Heilige Gees ongehoorsaam geword het, kan ons ons sonde van liefdeloosheid bely en weer opstaan en aangaan om liefde te bewys... Ons hoef nie te skei nie!

Is gevoelens en emosies dan nou heeltemal onbelangrik of oorbodig? Nee, natuurlik is dit belangrik. Maar as daar nie gevoelens is nie, beteken dit nie die liefde is nou onmoontlik of finaal weg nie. Begin met daadliefde, begin dinge anders doen in gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees en positiewe gevoelens sal ook mettertyd terugkeer. Kom ons stel dit baie positief - jy hoef nie eers te wag vir gevoelens om te kan liefhê nie. Jy kan nou begin met die praktiese liefde en die gevoelens sal na hulleself omsien...

STERKTE MET DIE LIEFDE, DIS HARDE WERK!





Vrydag 21 Augustus 2015

HOU KOERS!

- en kom sonder vrees, veilig by die Vaderhuis!


“HOU KOERS!” is die pragtige en kragtige leuse van die Voortrekkers, maar dit het vir elkeen van ons iets belangrik te sê. Wat beteken dit? Dis om te hou by die regte pad en die regte rigting sodat jy by die regte plek kan kom. Dis die teenoorgestelde van verdwaal of afdwaal. Verdwaal is baie gevaarlik. Verdwaal maak dat jy jou bestemming en doel mis. Verdwaal kan jou jou lewe kos! As jy geestelik verdwaal, mis jy die ewige lewe!

HOU KOERS is dus ‘n baie belangrike lewens motto. Hou koers beteken prakties : “Kry die regte pad en bly by die regte pad!”

Die groot vraag is dan wat is die regte pad? Dis nie mos nie so eenvoudig nie. Ons kry so baie rigtings en idees wat aanspraak maak dat hulle die regte pad sou wees.

Daar’s soveel verwarring, soveel afdraaipaaie. Wat gister verkeerd was is vandag skielik reg in die oë van die wêreld.

Gelukkig dui die Bybel, God se Woord vir ons baie duidelik die regte pad aan. Johannes 14:1-6 is baie helder en gesaghebbend oor hierdie saak. Hierdie regte pad is nie ‘n idee of ‘n lysie reëls nie, dis ook nie ‘n klomp godsdienstige rituele of gewoontes nie, maar ‘n PERSOON! Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (6) Dis ‘n geweldige omvattende antwoord van Jesus self op Thomas se half pessimistiese siniese vraag in vers 5. Tomas sê toe vir Hom: "Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?"

Jesus self is die pad (weg), die waarheid en die lewe! Die Johannes evangelie sê vir ons in geheel baie duidelik wie hierdie Jesus is : Hy bestaan van ewigheid af, want God het deur Hom alles geskep, Hyself is waarlik God. Net Hy kan God as’t ware aan ons verduidelik en verklaar. Hy het absolute mag oor die natuur : Hy kon water in wyn verander, Hy kon die brood vermeerder, Hy kon ‘n man wat blindgebore is weer laat sien. Hy is ook sterker as die dood – Hy wek Lasarus op wat al vier dae in die graf was. Maar Jesus is nie net sterk nie, Hy verneder Homself, maak Homself swak om ons te red. So is Hy is ook die Lam van God wat vir ons sondes geoffer is aan die kruis. Hy sterf aan die kruis juis tydens Paasfees toe die offerlammers in die tempel geslag word. Ja, toe sterf God se Lam vir my sondes! Die volmaakte Paasoffer! Sy werk aan die kruis was heeltemal genoegsaam, want Hy roep uit : “Dis volbring!” Hierdie Jesus het ook uit die dood opgestaan. Hy is vol genade en waarheid. Hy help die ongelowige Thomas om te glo, Hy vergewe Petrus en stel hom weer aan om sy skape op te pas! Jesus is alles wat ons nodig het om God te ken en toegang te kry tot die huis van die Vader. Hy kom weer om almal wat aan Hom behoort te kom haal.

Kom ons besef mooi wat hier staan:

Jesus wys nie net vir ons die pad nie, Hy is die pad/weg. Die pad na God. Eers as ek Jesus ken is ek op die regte pad. Om koers te hou is dus om gelowig by Jesus te bly en Hom te vertrou.

Jesus vertel ons nie net die waarheid nie, Hyself is die waarheid. As ek Jesus ken, ken ek die waarheid en het niks anders nodig om gered te word nie. Om koers te hou is dus om alles wat teenstrydig is met Jesus te verwerp en aan Hom vas te hou.

Jesus gee nie bloot vir ons die ware lewe nie, Hy self is die lewe. As ek Hom ken lewe ek regtig voluit. As ek Hom ken het ek die ewige lewe, wat nou reeds begin en altyd aanhou, ook na die dood. (1 Johannes 5:12) Om koers te hou beteken dus dat ek nie die sin en vreugde van die lewe sal soek in ander dinge wat my wegtrek van Jesus af nie.

EKSKLUSIEF!

Jesus self is die eksklusiewe pad na God. “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Hy is ook eksklusief die waarheid, eksklusief die lewe! Daar is geen ander manier om gered te word nie, behalwe deur Jesus! Hy is nie maar een van baie opsies nie, Hy is ons enigste opsie en hoop! Hy is die enigste Middelaar wat ons met God versoen (1 Timoteus 2:5), Hy is die enigste ware Hoëpriester wat vir ons intree by God as ons gesondig het. Hy is die enigste Redder en Verlosser. Deur geen ander Naam kan ons gered word nie! (Handelinge 4:12)

BEVRY VAN VREES!

Waarom sê Jesus hierdie dinge? "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (1) Hy wil ons bevry van vrees, angs en onsekerheid. Hy wil keer dat ons verdwaal. Hoe gaan
ons koershou, hoe gaan ons gevrywaar word van verdwaal? Glo in God, glo ook in Jesus! Dis so belangrik! Dis nie genoeg om net in die algemeen te glo dat daar ‘n Almagtige God is nie. Dis nie genoeg om te glo dat daar ‘n Goeie Vader is wat sorg nie. Ja, ons glo in Hom, maar ons moet ook spesifiek glo in Jesus Sy Seun wat die enigste pad na Hom is. Om kind van God te word, moet ons Jesus doelbewus aanvaar. (Johannes 1:11,12)

HOU KOERS beteken dus hou by Jesus. Hy self is die enigste regte koers! Kry Hom in jou lewe en bly by Hom!


Hou koers! (diep in Botswana)

Vrydag 14 Augustus 2015

INGEHOK AGTER DORINGDRAAD?

- ONTHOU JESUS MAAK SLAWE VRY 

Slawerny is iets vreesliks. Slawerny is natuurlik ook iets wat nog steeds in ons dag gebeur, dink maar hoe dikwels die gevare van mensehandel deesdae in die nuus is. Skrikwekkend, ontstellend! Slawerny in watter vorm ook al, is onmenslik, dit maak van jou eintlik maar ‘n dier. Die slaaf móét net gehoorsaam, hy het geen keuse nie, geen vryheid nie. Hy/sy is ’n willose instrument wat deur iemand anders misbruik en uitgebuit word... 

SKOKKENDE NUUS!

Nou hier kom die skokkende nuus : Almal van ons is in een van net twee posisies... of ek is ’n vrygekoopte dissipel van Jesus of ek is ’n slaaf van die sonde! Wat is jy?

Jesus praat in Johannes 8:31-36 met 'n groep Jode en sê vir hulle: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak." (31,32)

Jesus insinueer dus dat hierdie Jode nie vry is nie. En as jy nie vry is nie, is jy mos ’n slaaf.

Opvallend is dat Jesus hierdie dinge sê vir Jode wat in Hom glo... Hoe werk dit nou? Hoe kan Jode wat in Jesus glo later sulke vreeslike dinge sê? Sien vers 48. Hierdie Jode se geloof was ’n valse geloof. Hoe weet ons dit? Ware geloof blyk uit die feit dat mens aan Jesus se woorde getrou bly, en dit was hulle nie. Anders gesê, die merkteken van ware geloof is volharding in gehoorsaamheid aan Jesus, ’n soeke om sy wil in my lewe te doen. So baie mense is in hierdie posisie - hulle gaan deur as gelowiges, maar die tyd sal uitwys dat hulle nooit regtig geglo het nie.

NIE VRY NIE

Jesus stel dit duidelik dat hierdie Jode nie vry is nie. Hulle neem aanstoot as Hy dit sê, hulle hou nie daarvan nie. Hoe kon Jesus so iets vernederend van hulle sê? Daarom reageer hulle heftig : “Ons was nog niemand se slawe nie.” Hulle bedoel dit nie letterlik nie, almal weet mos die Jode was slawe in Egipte. Hulle bedoel dit waarskynlik innerlik geestelik. Hulle het gedink hulle is geestelik vry, maar hulle was nie. Dis moontlik om vry en gelukkig te lyk, ryk te wees, te doen wat ek wil, ja ook baie godsdienstig te wees en tog nog steeds ‘n miserabele slaaf te wees. 

WREDE BAAS

Jesus gaan nou voort en stel dit duidelik dat hulle nie vry is nie... (34) Elkeen wat sonde doen is ‘n slaaf van die sonde. Anders gesê, as ek sonde doen is sonde my baas. Daar is nie ’n meer meedoënlose en wreder slawemeester as die sonde nie! Die eintlike wrede heerser in hierdie wêreld is nie politieke leiers of ekonomiese magte nie, maar sonde... Dis ’n slawemeester wat mens uitput, vernietig, geestelik verrinneweer en doodmaak. Is jy vry of is jy nog ’n slaaf?

So baie mense is godsdienstig, voel houtgerus, sê hulle is gelowiges, maar in praktyk is hulle slawe van sonde. Sonde is ’n verslawende mag - ons weet : internet pornografie, dobbel, verslawende middels, alkohol, ’n onbeteuelde humeur is sterk verslawende dinge....maar eintlik is alle sonde verslawend. As iets jou in sy mag het is jy sy slaaf - 2 Petrus 2:19. Sonde is ’n wrede verslawende meester - jy weet dis skadelik vir jouself, jou gesin, jou gesondheid, jou verhouding met God en tog hou jy aan. Jy kan dit nie los nie...

SELFMISLEIDING

Jesus verduidelik verder die dilemma van slaaf wees. Die Jode het gedink hulle is kinders van Abram, maar in werklikheid was hulle slawe van sonde. Omdat hulle hulleself beskou het as kinders van Abram was hulle geestelik selfversekerd. Hulle maak dus staat op hulle godsdienstige afkoms. Hulle mislei hulleself. Nou kap Jesus hierdie wortel van hulle selfversekerdheid af as Hy sê dat slawe geen permanente plek in die familie het nie. ’n Slaaf is maar ’n tweederangse mens! Daar’s geen plek in God se gesin vir slawe nie! Skrikwekkend, ontstellend!

HOOP!

Droewige werklikheid! Gelukkig kom Jesus met hierdie kragtige uitspraak wat hoop bring : “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”  (Vers 36!)

Jesus alleen het die mag om mense van sondeslawerny te bevry. Die Vader het aan Jesus die mag gegee. Daar is baie skynoplossings vir die slawerny van sonde : probeer goed voel oor jouself, gee die skuld vir iemand anders, wees altyd besig...  Baie van die sogenaamde oplossings verstrengel mense nog net verder : hulle sondes kwel hulle en dan soek hulle hulp en ontvlugting by drank, hipnose, losbandige plesier en tydverdrywe. Dit maak als net erger. Hulle raak al vaster vasgevang in Satan se web. Dis soos ’n vlieg in ’n spinnerak....hoe meer hy beweeg, hoe vaster. Geliefde, hoor tog die oplossing: 

EERS AS DIE SEUN JOU VRYGEMAAK HET SAL JY VRY WEES!

Vryheid is die teenoorgestelde van slawerny! Hoe lyk die vryheid wat Jesus jou gee as jy Hom aanvaar as jou Here? Ons word vry in twee opsigte :

~ Ons kry volledige vergifnis en dit beteken ons word vry van die skuldgevoelens en straf wat sonde meebring, daarom ook vry van vrees vir dood en hel. Iemand wat weet God het hom vrygespreek hoef nie meer in vrees te leef nie. Hoef nie meer die dood en die hel te vrees nie. God se vergifnis is volmaak. Lees Hebreërs 8:12.

~ Maar ons kry ook krag van die Heilige Gees om vry te word van die verslawende mag van sonde. In Jesus is jy mos ‘n nuwe skepping van God! (2 Korintiërs 5:17) Dit sal sigbaar word! Ek kry ’n nuwe koning, Jesus. Ek staan nou onder die heerskappy van Jesus Christus! Dit beteken nie dat die kind van God nooit meer kan val nie, maar dat die Heilige Gees in ons woon en dat ons krag kry om te stry teen sonde en kan opstaan as ons geval het.

Die kind van God beleef nog steeds 'n stryd teen sonde en versoekings, maar is nie meer 'n magtelose slaaf daarvan nie!


NOG AGTER DORINGDRAAD?

Miljoene mense is ingehok en vasgekeer in ’n wrede slawekamp, die slawekamp van sonde. Vasgevang in die grootste ellende, ingeperk deur rye doringdraad van misleiding, sondige gewoontes en daaglikse sonde ellende. Hulle probeer op allerhande manier vlug, maar beland net in groter ellende. Alle pogings is tevergeefs. MAAR... daar is ’n magtige Verlosser, Hy het sonde, duiwel en hel oorwin aan die kruis. Hy red elkeen wat sy Naam aanroep! (Rom 10:13) Hy verwyt nie, Hy red elkeen wat regtig vry wil wees! Moenie soos die Jode in selfmisleiding voortploeter nie, erken eerlik jy is slaaf, kom na Jesus en Hy sal jou vrymaak!


Woensdag 12 Augustus 2015

ATHANASIUS TOER NA TSUMKWE

- vir ‘n besondere ringsitting!

[Ek deel net graag ‘n paar persoonlike indrukke. Onderstaande is nie ‘n amptelike en volledige verslag van die ringsitting en besluite nie.]

Die dapper kerkvader Athanasius sou seker nooit kon droom dat dié belydenisskrif (wat later aan sy naam gekoppel sou word*) met die waarheid van die Drie-eenheid as sentrale tema, op die afgeleë Tsumkwe in die noord ooste van Namibië onder bespreking sou kom nie. Dis egter presies wat gebeur het met die onlangse sitting van die Noorde ring van die NG Kerk in Namibië. Hierdie ring is in meer as een opsig baie uniek! Geografies is dit seker die grootste ring in die NG Kerk. Dit strek vanaf die seekus van die dood in die weste dwarsoor die wye noorde van Namibië tot aan die Kwando rivier (Caprivistrook) en die Botswana grens in die ooste. Ons ring sprei haar vlerke vanaf die Angolagrens in die noorde en so ver suid om die dorpe Omaruru en Otjiwarongo en omliggende gebiede in te sluit. Die kulturele verskeidenheid is net so verstommend – benewens Afrikaans wat as voertaal gebruik is, het ons ook gebede in Herero, Luchazi, !Kung en Nama/Damara gehoor tydens ons ringsitting. In die ringsgebied as sodanig word daar natuurlik nog ‘n groot verskeidenheid ander tale gepraat.

DIE WARE EN GEMEENSKAPLIKE GELOOF

Nog meer merkwaardig - te midde van hierdie verskeidenheid word ons saamgebind deur ons gemeenskaplike geloof in die unieke Drie-enige God waarvan Athanasius so duidelik en kragtig getuig het teen die dwaalleraar Arius. Ds. Hector Jooste van Otjiwarongo het die bespreking oor die belydenis van Athanasius gefasiliteer en ek wil my verstout om te sê dat hierdie belydenisskrif eintlik baie radikaal die dwalinge van die tydsgees aanspreek. Athanasius laat die post moderniste in hulle relatiwistiese pap verstik as hy ‘n duidelike verband stel tussen leerstellige waarheid en saligheid! Elkeen kan dus nie maar sommer glo soos hy wil en hy voel nie, nee die waarheid moet geglo word!

1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit voor alle dinge nodige dat hy die algemene geloof hou; 2. Maar elkeen wat dit nie geheel en al en ongeskonde bewaar nie, sal sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: 3. Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,.... 40. Dit dan is die algemene geloof : as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie. [numering is die van die belydenisskrif]

Die sogenaamde “Progressiewe Christene” word ook deur die belydenisskrif van Athanasius voor stok gekry. Mag die ouens (ook in ons kerk) wat luidkeels verkondig dat oordeel en hel nie bestaan nie tog besef dat hulle sienings direk indruis teen hierdie belydenisskrif wat ons beweer om te onderskryf.

35. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens één in Christus: 36. wat gely het om ons saligheid ontwil, ter helle neergedaal het, op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, 37. opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en vandaar sal kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel; 38. by wie se koms alle mense weer sal opstaan wat die liggaam betref en rekenskap sal gee van hulle eie werke; 39. hulle wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar hulle wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur. 

Natuurlik, wanneer ons oor die heerlikheid van die Drie-enige God praat mag ons nooit vashaak by ons gebrekkige formulerings van iets (Iemand) wat ver bo ons vuurmaakplek is nie. Nee, die wonder van hierdie Drie-enige God is dat Hy in ‘n verhouding met ons staan! In hierdie verhouding moet ons Hom met gehoorsaamheid en liefde dien volgens die waarheid van die Woord!

ETIESE KWESSIES

Dis verblydend dat die Noorde ring as uitvloeisel van ‘n beskrywingspunt deur die gemeente Tsumeb sterk standpunt ingeneem het teen Die Kerkbode betreffende die saak van sogenaamde “gay huwelike”. Die beskrywingspunt het nogals robuuste debat uitgelok en heelwat meningsverskille het na vore gekom. Die volgende besluite is na ‘n stemming aanvaar:

8.1.1. Die Ring neem met skok en hartseer kennis dat DIE KERKBODE die instelling van die huwelik as ‘n verbintenis tussen een man en een vrou aangetas het deur die artikel “Op soek na safe spaces” te plaas.

8.1.2. Die Ring versoek DIE KERKBODE om onvoorwaardelik verskoning te vra vir die artikel “Op soek na safe spaces” in DIE KERKBODE van 22 Januarie 2015.

8.1.3. Die Ring pleit by DIE KERKBODE om Bybelse waardes en norme te handhaaf en nie deur die tydsgees op sleeptou geneem te word nie. 

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

Baie in dieselfde trant is daar na aanleiding van ‘n beskrywingspunt van die gemeente Otjiwarongo die volgende besluit geneem :

8.4.1 Die Ring van die Noorde spreek hiermee sy diepe kommer uit oor die onlangse uitlatings van prof. Nelus Niemandt rakende gays in die kerk, en meer in die besonder gay predikante in die NG Kerk wat toegelaat moet word om met hulle lewensmaats in die “huwelik” te tree. Hierdie vergoeiliking van ‘n sondige lewenswyse is totaal strydig met die mees basiese beginsels van die evangelie van Jesus Christus. 

8.4.2 Die Ring herbevestig dat die ring in haar gesprek oor gays staan by die bestaande besluite van die Algemene Sinode. **

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

NAGMAAL EN BROEDERSKAP


Dit sou ‘n totaal verkeerde indruk wees as jy dink dat ons net oor sake wat ons ontstel gedebatteer het. Ons het by mekaar gehoor wat in die onderskeie gemeentes aangaan en vir mekaar gebid. So is dit lekker om te hoor en te sien hoe ‘n gemeente soos Verre Noord na ‘n baie onstuimige tyd, die verlede begrawe, weer opgestaan het en positief voortgaan onder leiding van Gerhard Enslin wat bereid is om te help ten spyte van sy normale werksverpligtinge. Daar is ook saam nagmaal gevier Saterdagaand waartydens die plaaslike leraars van Tsumkwe voorgevat het. Sondag het van die ringslede ‘n aantal gemeentes se eredienste in die Boesmanland gebied bygewoon. Ek en Hannes Grobbelaar was by die diens op Mangetti Duin waar ons besonder hartlik ontvang is. (Ek was destyds vir ‘n kort tyd tydens my militêre diensplig hier betrokke en natuurlik bring dit herinneringe terug...)

Maar ook tydens informele gesels en lekker saameet is daar bande gesmee en verstewig. ‘n Mens raak opgewonde oor hoe die Here gelowiges by ‘n gemeente voeg, soos Theuns van der Merwe van Otjiwarongo kon getuig. Ek vind uit dat N!aice wat werksaam is by Aasvoëlnes, ‘n broerskind is van ou Oza vir wie ek leer ken het toe ek jare gelede dikwels by Pespeka diens gehou het. Wie sou ooit kon raai dat Hendrik van Zyl so ‘n slag met olifante het dat hulle hom telkens gedweë gehoorsaam? Is dit nou Hendrik “The Elephant Whisperer” of dalk eerder “The Elephant Shouter”? En dan, vir my amper die hoogtepunt... Die lekker saamgesels De Wet Mouton (Otavi)... En dan ook met Lukas Coetzer (Outjo) en Lucas Janse van Vuuren (Wes Caprivi) die Sondagoggend vroeg. Broers, julle verhale het my diep geraak. Ons het regtig so baie om met mekaar te deel. Die wonderlike pad wat God in sy groot genade en geduld met mense stap is net verbysterend heerlik...




Gerrie Cwi en Leviet Kxao (/Kotsakei), is leraars van Tsumkwe gemeente.













Hannes Grobbelaar van Tsumeb luister baie fyn...



Hendrik van Zyl het opgetree as voorsitter van die Ringsvergadering.




Jason Ngambue, die Hererosprekende leraar van Kamanjab/Opuwa
Lukas Coetzer van Outjo sorg dat Hector Jooste van Otjiwarongo genoeg pap kry...









Is dit nou gryskoppe, ringkoppe of pankoppe?






Dirk de Vos van Grootfontein is wel een van hulle...

Carl Bredenhann en Gerhard Enslin van Verre Noord (in Wamboland) kon vir ons goeie nuus bring oor 'n gemeente wat positief vorentoe gaan...


Ons eet saam in 'n tent.
 Nicolene Enslin was een van die dames wat gesorg het dat ons nie hongerly nie.



Isaac Chameia (heel links) is die tentmakerleraar van Mangetti Duin.

*Die Geloofsbelydenis van Athanasius is waarskynlik nie deur Athanasius opgestel nie. Dit stam moontlik omstreeks 500 uit Spanje of Suid- Frankryk. 
** Met 8.4.2 het ek persoonlik ietwat ongemak, want die huidige besluite van die Algemene Sinode is vir my te vaag.