BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 24 Februarie 2013

JESUS FASSINEER MY!

- want Hy is volmaak liefdevol en regverdig, maar nooit ‘n people’s pleaser nie. 


Jesus fassineer my! Daar is niemand soos Hy nie! Hy is waarlik God! Van ewig is Hy daar. Hy is ook  volledig mens, iemand wat honger en dors kan kry. Wat kan huil. Maar Hy is ‘n volmaakte mens – die Enigste Volmaakte Mens! Dis so duidelik uit sy verhouding met sy Hemelse Vader. Een ding het vir Hom saakgemaak – om die wil van sy Vader uit te voer. Ons lees hier in Lukas 9:51 hoedat Hy vasbeslote die reis na Jerusalem aangepak het. Ja, Hy het geweet wat daar wag – verraad deur sy eie dissipel, bespotting, lyding en dat Hy uiteindellik die wreedste marteldood denkbaar sou sterf! En tog gaan Hy in gehoorsaamheid aan sy Vader...in die angsnag van Getsemane bevestig Hy dit weer. 

Jesus is volmaak gebalanseerd en heilig. Hy was absoluut regverdig, liefdevol, genadig, maar Hy het nooit iemand gelek of iemand se guns gesoek nie. Hy was nooit onbeskof of onvriendelik nie, maar ook nooit ‘n people’s pleaser nie! In ‘n tyd wanneer een na die ander held of “celebrity” val – van Joost van der Westhuizen tot Lance Armstrong tot Oscar Pistorius is dit so wonderlik om die volmaakte held, Jesus Christus te aanbid en te bewonder! Mag ons alle mensafgode laat staan en Hom alleen vereer! 

Jesus se absolute volmaaktheid, liefde en regverdigheid, ja sy onkreukbare karakter, maar ook sy allesoortreffende belangrikheid en Goddelike gesag, kom so duidelik hier in Lukas 9:51-62 na vore. Mag dit ons elkeen bring tot ‘n nuwe oorgawe aan Hom. Mag ons Hom bewonder en aanbid vir Wie Hy is! 

Oppad na Jerusalem moes Jesus deur die Samaritaanse gebied reis. (dit was so noord van Jerusalem) Hy probeer toe oornag verblyf daar reël, maar die Samaritane weier dit, want hulle was die Jode vyandig gesind en hulle het nie Jerusalem as aanbiddingsplek erken nie. (“hulle was nou lekker spiteful”) Toe dit nou gebeur, raak twee van Jesus se dissipels, Jakobus en Johannes ewe skielik baie entoesiasties en ywerig. Voortvarend sou mens kon sê. (54) “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Hoe boos en bedrieglik is die mens se hart! Dit klink of die dissipels hier begaan is oor Jesus se eer, maar eintlik wil hulle maar net aan hulle eie negatiewe gevoelens teenoor die Samaritane uiting gee.* Hulle dink hulle kan Jesus inspan om hulle eie nasionalistiese wraaksug teen die Samaritane te bevredig. Maar hulle misgis hulle met Jesus. Jesus het hulle skerp tereggewys. (55) Jesus het geen wraakgevoelens teenoor die Samaritane nie. Hy wil dat hulle ook gered word. Hy het ook genade en liefde vir Samaritane! (Dink maar aan Sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Hy bied haar die lewende water aan, al is Hy baie eerlik met haar en ontbloot Hy haar sonde van losbandigheid om ongetroud saam met ‘n man te woon. Weereens Jesus is nooit 'n people's pleaser nie!) Jesus laat Hom nie misbruik nie! Nie vir ons politieke of sport voorkeure nie (Hy is nie daar om die blou Bulle op die rugbyveld te bevoordeel nie), maar ook nie vir ons aardse materiële ambisies nie! Interessant, later in die boek Handelinge lees ons ons hoe baie Samaritane hulle tot Jesus bekeer het... 

Terwyl Jesus oppad is na Jerusalem om gekruisig te word gebeur daar nog dinge wat ons beter laat verstaan wie Hy is... Iemand bied aan om Jesus te volg. Hy klink baie oortuigend en entoesiasties. “Ek sal U volg waar u ook al gaan.” (57) Ons sou dalk dink, dis ‘n uitstekende kandidaat om ‘n dissipel te word. Maar Jesus gooi bietjie koue water op sy opgewondenheid. “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” (58) Jesus is baie eerlik. Hy wil nie hê iemand moet Hom volg weens verkeerde motiewe of misplaaste verwagtings nie. Hy wil hê ons moet weet dit bring swaarkry as jy Hom gaan volg. Dis asof hy wil sê : “Meneer, dink mooi, daar is geen gerief of materiële voordele betrokke as jy my wil volg nie!” 

Jesus het nooit die “Prosperity Gospel” van Joel Osteen en ander Amerikaanse kwaksalwers verkondig nie! 

Jesus roep ‘n ander persoon : “Volg my” (59) Die man klink heel gewillig, maar hy wil eers die belangrike medemenslike taak verrig om sy Pa te gaan begrawe. Jesus wys dit sterk af. (60) Sjoe, dit klink nogals hard. Wat bedoel Jesus hierdeur? Hy probeer nie sê dat ons nie respek vir ons ouers moet hê nie – Hy wil maar net duidelik stel dat as ek Hom wil volg Hy absoluut eerste prioriteit moet geniet. 

In die lig van Jesus se absolute majesteit, word alle ander belangrike dinge minder belangrik! 

Nog iemand bied aan om Jesus te volg, maar hy stel ‘n voorwaarde : “Laat my eers toe om my familie te groet.” Ons weet nie presies wat die konteks was nie, miskien was sy familie dalk ver of sou dit lank neem. Jesus se antwoord (62) wys egter maar net weer : Hy vereis totale oorgawe! Absolute “commitment!” 

Net Jesus kan absolute oorgawe van ons wil, emosies, besittings, noem maar op, eis! Hoekom? 

Die antwoord sien ons voor ons hier op die Nagmaalstafel : brood en wyn, die tekens van sy volle oorgawe aan die wil van die Vader ter wille van ons. Jesus gee alles! Jesus het Homself as offer gegee. Sy liggaam is stukkend gebreek, sy bloed het vryelik gevloei. Hy het Homself gegee om in ons plek verbrysel en deurboor te word. Hy is vir al my aaklige sondes gestraf. Sy lewe was vir my ‘n genoegsame boetebetaling. Deur geloof in Hom is ek vry, sonder skuld voor God. Sy genade vir stukkende sondaars is onbeperk ruim – Ja, Hy het genade selfs vir die Samaritane wat Hom nie eers slaapplek wou gee nie. Genade vir ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus... maar moenie ‘n fout maak nie, Hy vra totale oorgawe en toewyding en gehoorsaamheid... Hy gaan nie vir my en jou lek om Hom te volg nie... Hy stel die voorwaardes...nie ons nie! Om Hom na te volg kan dalk my vriende, my reputasie, my geld kos... Maar weet verseker, om Hom te glo en te volg is ewige absolute wins! Amen.

*Ja, dit lyk op die oog af dat hulle God se eer wil verdedig soos Elia in 2 Konings 1:10,12, maar Jesus is nie beïndruk nie.

Dinsdag 19 Februarie 2013

OM “JA” TE DOEN


- dis wat tel.          

Dis so ‘n eenvoudige gelykenis hier in Matteus 21:28-32 van die twee seuns. Maklik verstaanbaar. ‘n Toneeltjie wat dikwels al seker in baie huishoudings afgespeel het... Twee seuns kry dieselfde opdrag om te gaan werk…    Een sê, uiters ongeskik en blatant : “Nee, ek sal nie”, maar het later berou gekry oor sy weiering en gaan tog...  Die ander een sê baie ordentlik : ”Ja, Pa”, (OK, Pa!) maar doen niks. Wie het nou werklik die wil van die vader gedoen? Wel daar kan net een antwoord wees - die een wat gedoen het. Die een wat by die praktiese daad uitgekom het. Die een wat “JA” gedoen het!

Jesus  het twee duidelike groepe mense van sy dag in die oog. Hy trek die gelykenis se betekenis deur na die uiteenlopende houdings van die godsdienstige leiers en Fariseërs aan die eenkant en die berugte en verworpe sondaars aan die anderkant. Dit gaan hier spesifiek oor hulle  reaksie op die prediking van Johannes die Doper. (32) Maar, natuurlik hulle houding teenoor Johannes word ook maar uiteindelik weerspieël in hulle houding teenoor Jesus. Kom ons bekyk die twee groepe van naderby:

Die JA groep. Die Fariseërs en godsdiensleiers was mense wat formeel "Ja" gesê het vir God. Hoe so? Wel, hulle het erns gemaak met die gesag van God se Woord. Hulle het ook die Woord geken en bestudeer. Ons kry ‘n treffende voorbeeld van hulle Skrifkennis in Matteus 2:4-6. (Hulle kon op navraag van Koning Herodus, vanuit hulle insig in die Skrif bevestig dat Jesus in Betlehem gebore sou word) In vandag se terme sou ons kon sê hulle sou definitief nie die liberaliste se aanslag teen God se Woord geduld het nie. Hulle was beslis nie aan die kant van die “Nuwe Hervormers” nie. Hulle het die regte gebede gebid, die regte woordeskat geken, die regte “belydenisskrifte” onderskryf. Hulle was ook duidelik gekant teen die morele laksheid en losse sedes van hulle  dag.  In ons konteks sou hulle die mense wees wat tereg teen die New Age indringing en morele verval kapsie maak. In beginsel het hulle “ja” gesê op al God se opdragte.  En in hierdie opsig, verdien hulle ons ondersteuing en bewondering. MAAR toe Johannes die Doper kom en God se Woord konkreet bring en aandring op praktiese persoonlike bekering het hulle hom nie geglo nie. (25) In die praktyk het hulle dus nie by die doen van God se wil uitgekom nie en sy volle openbaring aanvaar nie. Hulle het nie die regte vrugte gedra nie en daarom was hulle bestem vir die oordeel. “die byl lê al teen die wortel van die boom” Ten spyte van regte geluide het die Woord nooit grondgevat in hulle harte nie, want as dit gebeur het sou hulle na Jesus en Johannes geluister het.

Pasop vir dooie ortodoksie, wat nie bekering insluit nie!

Kom ons kyk na die ander groep, die NEE groep – die tollenaars het deur hulle gierigheid en die prostitute deur hulle immoraliteit “Nee” gesê vir God. Hulle het nie ‘n saak gehad met God se Woord en morele waardes nie. Maar deur ag te gee op die prediking van Johannes het hulle berou getoon, van plan verander en "Ja" gedoen. Hulle het geglo. Hulle geloof het beteken om prakties "Ja" te sê vir die regte pad. Hulle het hulle verkeerde dade laat staan en vrugte gedra wat by die bekering pas.  Saggeus was so ‘n praktiese voorbeeld uit Jesus se bediening. Daar was ‘n duidelike ommekeer sigbaar! Hoe dramaties en ingrypend!  ‘n Gierigaard deel nou sy besittings met die armes. ‘n Korrupte amptenaar wat sonde bely en dinge gaan regstel met die mense wat hy benadeel het. (lees weer Lukas 19:1-10)

Hierdie gelykenis spreek ‘n harde oordeel uit oor diegene wat intellektueel en verbaal “JA” sê vir God se Woord sonder dat die wil van God realiseer in hulle lewens.  

Jesus gee hier ‘n soortgelyke boodskap deur as in Matteus 7:21ev. "Nie elkeen wat vir My sê : 'Here, Here,' sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is."

Met hierdie gelykenis as agtergrond wil ek graag hê ons moet saam dink oor die reaksie op die Woord in ons lewens.  Het die Woord al ‘n verskil gemaak in my optrede? Waarom is ‘n gehoorsame reaksie op die evangelie so belangrik?

Natuurlik word ons gered deur die geloof in Jesus alleen. Verstaan asseblief : Ek sê nie daar is ‘n lysie van dinge wat jy moet doen om gered te word nie. Dis onteenseglik duidelik, ons word gered deur ons  vertroue  op Jesus alleen te plaas en te glo dat Sy offer aan die kruis genoeg is. Maar waar gehoorsaamheid afwesig is moet daar ‘n vraagteken oor hierdie geloof geplaas word. Ons moenie dink gehoorsaamheid en dade staan los van geloof nie. Jakobus sê mos duidelik dat die geloof dood is sonder werke. ‘n Heilige bekeerde en bekerende lewe is nie bloot ‘n opsionele gevolg van geloof nie, maar is ‘n onontbeerlike bewys van egte geloof. Waar nie dade is nie, is dit ‘n bewys van die afwesigheid van geloof. 

Julle wat vandag openbare belydenis van geloof afgelê het, het vandag formeel “JA” gesê, maar het julle al by die JA doen uitgekom? (die vraag geld almal wat al belydenis afgelê het, in watter konteks of kerk ookal) Het jy al JA GEDOEN? deur:
Jesus  persoonlik te vertrou vir jou verlossing?
Jou rug te draai op verkeerde vriende en verkeerde plekke?
Te kies teen sonde? Te vlug vir versoekings? (Wys jou gewoontes, jou ontspanning, jou musiek en jou klere aan wie se kant jy is?)
Om as jy geval het (soos met ons almal gebeur) weer op te staan en aan te gaan...
Heilig en anders te lewe, teen die stroom in te gaan ?  Jou hele lewe tot God se beskikking te stel?

Ons almal loop die gevaar om net “JA” te sê soos die Fariseërs. Ook mense wat gereeld kerk toe kom moet hiervoor oppas. So maklik word die erediens vir ons ‘n stuk breingimnastiek – ons bedink en analiseer alles, maar ons dade word nie geraak nie.  Sommige gereformeerdgesindes (en ekself is beslis ook een) verval maklik in ‘n krities foutvinderige gesindheid, waar die klem te veel val op suiwer formulerings en ortodokse terminologie. Ortodoksie (suiwer lering) is ongetwyfeld en onmisbaar belangrik, maar onthou om die waarheid beter te kan verstaan en te formuleer is een ding, om die waarheid  te gehoorsaam is ‘n ander ding – dis juis waarin Jesus belangstel.

Mag ons betyds reageer op die evangelie deur "JA" te doen. As ons net altyd hoor en “JA” sê ontwikkel daar sulke eelte om ons siele en raak die Woord ons later nie meer nie.  Ons moet pasop dat ons nie deur voortdurende ongehoorsaamheid later ongevoelig en afgestomp raak teenoor God se boodskap van bekering en genade nie! DOEN "JA" – gee jou lewe oor aan Jesus en volg Hom elke dag in gehoorsaamheid !


Belydenisklas en hulle ouers (foto : Credo Photography)

Donderdag 14 Februarie 2013

BESTEM OM TE STERWE

- en daarna die oordeel... 

Die tragiese gebeure wat rondom die bekende Paralimpiese atleet Oscar Pistorius en sy model vriendin Reeva Steenkamp ontvou, kan seker deur niemand geïgnoreer word nie. Oscar is nie net ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika nie, maar die prominensie wat die ramp van 14 Februarie in die wêreld media geniet, is ‘n bewys van sy internasionale aansien. Weens sy dapper uithouvermoë om ‘n ernstige gebrek te oorkom, verdien die lemnaeler dit sekerlik... 



Ek beskou die aardse regsvraag van skuldig en onskuldig as iets waaroor mens jou liefs nie nou moet uitspreek nie. Dis waarvoor daar howe en regters is. Tog kan al die nuusberigte en kommentare oor Oscar en Reeva nie anders as om my weer oor ‘n paar sake Bybels te laat nadink nie: 



Die diep verdorwenheid van elke mens onder die blink oppervlakte van roem, sukses en gewildheid. Dit raak natuurlik elkeen van ons (ook die nie-beroemdes), aangesien die Woord duidelik sê : “... almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (Romeine 3:10-12) Dit onderstreep maar weer die groot waarheid dat niemand in die Koninkryk kan ingaan as hy nie weergebore word nie. (Johannes 3:3)



Die geestelike armoede in die hedendaagse heldegalery. Die “celebrity” afgodskultuur is verrot. Die voorbeelde van waansin, immoraliteit en dwaasheid is legio... Die helde wat God werklik eer en liefhet deur sy gebooie te bewaar is dun gesaai. Daar is min rolmodelle soos ‘n Eric Liddel wat kan uitblink op die sportveld, maar wie se Christenskap meer is as net woorde en ook beginsels insluit. Daar is wel baie misbruik van "Christenskap" in 'n godsdienstige land soos Suid-Afrika. Dikwels word Bybelverse (en selfs 'n Bybeltatoe) buite konteks en blatant aangewend in diens van die eie ego... Ek weet niks van Adriaan Basson se geestelike waardes nie, maar wat hy in Rapport skryf is beslis die spyker op sy kop slaan :

"Ons weet nou dis ’n leuen dat die blink wêreld van sport, geld, mode en skoonheid verhewe is bo wreedheid.
Maar dié leuen is ’n multimiljoenrand-bedryf wat lewend gehou word deur ons almal wat so graag gode skep, net om hulle keer op keer te sien val."



Die kaping van Christelik klinkende terme deur ‘n irrasionele en sentimentele verbruikersgodsdiens. Reeva in haar eie woorde, klink baie teenstrydig om die minste te sê. Sy was na wat berig word ‘n aktiewe Twitter gebruiker wat haarself beskryf as : "SA Model, Cover Girl, Tropika Island of Treasure Celeb Contestant, Law Graduate, Child of God". Sy sien haarself ook as : "Brainy, blonde, bombshell" Die vermoede oor die oënskynlike verwarring in haar denke oor wat kindskap van God behels word verder versterk as mens jouself afvra wat ‘n meisie dan nou blykbaar vieruur in die oggend by ‘n man met wie sy nie getroud is nie, se huis maak? En dan natuurlik is dit verstommend hoe modelle wat hulleself in ‘n minimum van klere op loopplanke en voorblaaie ten toonstel kan dink dat hulle leefstyl te rym is met die Bybelse beginsels soos gestel in 1 Timoteus 2:9 – “Van die vroue wil ek hê dat ook hulle dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees.”

Christenskap het ‘n byna niksseggende begrip onder die massas geword en kort baie dringend ‘n Bybelsgebaseerde definiëring! 

Die kortstondigheid en onsekerheid van die aardse lewe. Iemand beplan ‘n Valentynsdag, maar word sonder waarskuwing die ewigheid ingeslinger. Mag die broosheid van die lewe gedurig as herinnering dien om gereed te wees om ons God te ontmoet. Daagliks lees ons van moorde en lewensdraadjies wat op verskeie maniere geknip word. “Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras...” (Psalm 103:15-16) 

...en daarna die oordeel. Na ‘n hartseer sterfgeval is daar altyd ‘n oorvloed van mooi wense soos : “RIP, Mag die Vader vertroosting gee, hy/sy was ‘n besondere mens en ‘n ware engel...” Sulke uitsprake word seker opreg bedoel en kan dalk die hartseer van agtergeblewe naasbestaandes help versag. Maar moet ons nie bietjie verder en vooruit dink nie? As Christen glo ek die Bybel en die Goddelike uitsprake oor die oordeel. Hebreërs 9:27 stel dit so duidelik : 

“ ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterf en daarna kom die oordeel.” 

Nou dink ek maar in die lig van hierdie uitspraak, as ons regtig vir mense omgee, moet ons dalk nie tog meer moeite doen om die evangelie en ook die dringende oproep tot bekering betyds aan hulle te rig nie? Na die dood is daar geen tweede kans of reïnkarnasie nie, maar slegs die regverdige oordeel van God! Moet ons nie maar ons skaamte opsy sit, bereid wees om uitgelag en beledig te word, maar gehoorsaam raak aan God se opdrag om die goddelose te waarsku nie? "Wanneer Ek vir die goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood." (Esegiël 3:18) Gaan ons waarsku voordat dit vir ewig te laat is nie?

Kan ek jou vra : "Is jy gereed om jou Maker te ontmoet?"


(foto : BBC)

Dinsdag 12 Februarie 2013

“WEE MY…!”

toe word hy ‘n werktuig.

God gebruik mense.  Hy betrek ons as nietige wesens by die avontuur en voorreg om vir Hom te werk.  Hy weef ons werksaamhede in, in die uitvoering van Sy ewige planne! Dis so ’n algemene waarheid, dat ons dit maklik miskyk.... Die voorbeelde is te veel om op te noem. God gebruik ‘n groot variasie van mense : Moses die Egiptiese prins, Dawid die skaapwagter, Amos die boer,  maar ook ’n onbekende naamlose dogtertjie (om haar baas Naäman te vertel van Elisa en sy God), die geleerde Paulus, maar ook ’n ruwe grootbek visserman soos Petrus…

Dit behels normaalweg ’n hele proses om van ’n sondaar ’n gestuurde te maak. (Dink maar die lang pad wat God met Moses geloop het, of die harde leerskool waardeur Petrus moes gaan ) God moes ook eers in die profeet Jesaja se lewe ingryp. Hierdie dramatise gebeure word vir ons in JESAJA 6 vertel. God doen drie dinge met Jesaja om van hom ’n bruikbare instrument te maak : God het hom gewys, gered, gestuur. (Dis ’n basiese patroon, natuurlik wat fyner detail betref werk God uniek met elke mens)

GEWYS :

God het Homself aan Jesaja gewys. (geopenbaar) Twee groot sake word aan Jesaja geopenbaar. Hy besef Wie God is, maar ook wie hyself is. (Net terloops, daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd. Die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open.) Jesaja sien die grootheid, heerlikheid en heiligheid van God raak!  Liewers, God openbaar Homself aan die profeet.   Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon!  Heerser van die heelal. Kyk en sien....luister en  hoor saam met Jesaja… “Heilig, heilig, heilig…”. Voel die kosyne rammel.....ruik die rook. Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is.  Nie maar van hoorsê nie, nie bloot uit tradisie nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS HEILIG! . Dis die werk van die Heilige Gees. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou!.

 Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy  geestelike oë gaan oop en  hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie boosheid ontbloot.

Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid, jaloesie...

Die konfrontasie met sy eie onreinheid bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Ek is verlore!” Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Geen versagting of verskonings nie... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie!* Sonde keer ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen.

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet!

 As die Heilige Gees met mens werk, dan word jy platgeslaan. Jy kan nie draaie loop met God nie.  Jy het nie krag om verskonings op te dis nie.

Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom  raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie. Jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde...orals.. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn.

GEREINIG :

Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak.  Die altaar is die plek waar die offers gebring is. Waar ‘n dier moes sterf in die plek van die sondaar. Jesaja kry die versekering dat sy sondes versoen is, die bevestiging dat hy vergewe is.

As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. Daar het ’n Lam gesterf - die Seun van God, op die altaar van die kruis. Die versoening is reeds  bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die vergrifnis en vryspraak persoonlik!


Die eenmalige genoegsame kruisdood van Jesus, is die enigste basis van ons vryspraak, maar ook van die voortdurende proses van heiligmaking.

’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde en die wonder gebeur.  Hy word nie vernietig of weggestoot nie, hy ontvang vergifnis. God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God !” (Ps 51:19) Die vryspraak is verniet, tog kan mens nie die pynlike aspek daarvan ignoreer nie. Dis 'n operasie van die siel wat God hier uitvoer, dis 'n skoonmaak wat seer moes gewees het vir die profeet. Maar dis uiteindelik suiwer genade!

Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing of voortdurende reiniging kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7)

GESTUUR :

Nadat Jesaja gereinig is, is hy nou eers gereed om deur God gebruik te word.. God red en reinig eers en dan stuur Hy! Om die waarheid te sê, God stuur almal wat Hy red. Almal word nie ewe ver gestuur nie, maar almal word verseker gestuur. Weet beslis, as die Here jou gered en gereinig het, is jy ’n gestuurde op hierdie oomblik. Na jou eie huis, jou eie werksmense... Hy kan enige mens na enige plek stuur. (God het die plaasseun van die Kalahari, Neil Verwey na die verre Japan gestuur…)

Die oomblik wat jy vergifnis ontvang word jy ’n sendeling!

Dit beteken nie jy gaan nou ’n reuse “sukses” in mense se oë wees nie! Om gestuur te wees deur God beteken nie noodwendig dat almal graag na my gaan luister nie, dit beteken nie dit gaan maklik wees nie, dit beteken nie almal gaan van my hou nie, maar dit beteken wel ek het Goddelike gesag agter my. Ek het ’n taak ontvang en ek moet dit doen of mense wil luister of nie. Jesaja moes ’n ongewilde boodskap aankondig …. (Vers 9)

Is jy al gereinig? Hoor die roepstem van die Here. Antwoord dan : “Hier is ek stuur my!”

Die God van Jesaja 6 is steeds aan die werk. Hy openbaar sy heiligheid aan blinde sondaars, Hy skenk vergifnis aan gebroke sondaars, Hy stuur en gebruik verloste sondaars!
  
* vgl. 'n  Franse vertaling van vers 5 “me voila condamné au silence car mes lèvres sont impures pour me joindre à cette louange...”

Donderdag 07 Februarie 2013

SNEEUWITJIE SE STIEFMA

en die "nodigheid" van skoonheidskompetisies!

“Wie is die mooiste?”  Die bose stiefma se vraag klink nog steeds in ons ore... Daar is oraloor ‘n byna waansinnige beheptheid met hierdie ydelheidsvraag. Die oorweldigende magdom van skoonheidskompetisies is ‘n duidelike bewys van hoe baie hierop graag ‘n antwoord wil hê...  Weer en weer word  die towerspieëltjie uitgehaal, van ‘n gesofistikeerde Mejuffrou Wêreld skouspel tot dalk  ‘n effens meer besadigde Mejuffrou Groenmielie kompetisie. Natuurlik is dit die aspirerende skones se ideaal om te kan vorder van ‘n plaaslike Mejuffrou Sonskyn tot op ‘n internasionale vlak soos die van Miss Bikini International of dalk hopelik iets meer kuis, Miss Coffee International! 

Elke skou, skool (ook sogenaamde Christelike skole), sportklub, fees en fondsinsamelingsinisiatief (en ja, selfs kerke!) roep ons jong dames en meisies op om hulleself te kom uitstal! Die moontlikhede om met jou skoonheid te spog en met jou liggaam aandag te trek is net oneindig. Of dit nou is in die hoedanigheid as Nasionale Aartappelkoningin op Bethal, of dalk as draer van die kroon op Ficksburg se Kersiefees kompetisie, iewers word altyd ‘n verskoning gevind vir veral vroulik gebaseerde reklame. (en moenie Ficksburg onderskat nie, daar is ook nog ‘n mej. Kersiebloeisel en ja, die manne word ook betrek... ‘n mnr. Kersiepit!)  Aan bykans elke groente, vrugte of vleissoort is daar iewers  ‘n koningin of mejuffrou titel gekoppel. Selfs kleuters mag nie die dwase kompetisiegees (waardeur hulle ouers gedryf word) vryspring nie. Iewers sal wel ‘n tydjie ingeruim word vir ‘n Little Miss Tinker Bell en ‘n Little Mister Peter Pan om op ‘n verhoog te verskyn! So word hulle van kleinsaf voorberei vir groter dinge (en minder klere)!

Hierdie gekkerny is heeltemal in lyn met wat ons kan verwag van ‘n mensdom wat God nie ken nie en dus in hoogmoedige waansin sy eie god probeer wees. Die vraag is egter wat die gereinigde en geheiligde kinders van God van hierdie spulletjie moet dink?

Waarom behoort ‘n Christen weg te bly van skoonheidskompetisies?

Skoonheidskompetisies laat ons met ons oë sondig. Kant en klaar. Christus sê dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart egbreuk gepleeg het. (Matteus 5:28). En hoe kan ‘n mens vry bly van hierdie sonde in sulke wedstryde waar mooi geboude meisies met dikwels skraps klere aan uitlokkend heupswaaiend voor die toeskouers  paradeer? Het iemand hierdie versoeking nodig, is daar nie alreeds genoeg nie?  Organiseerders, deelnemers en toekouers is almal ewe skuldig!

Skoonheidskompetisies skep ‘n valse maatstaf vir vroulike uitnemendheid en skoonheid.  Volgens die Bybelse siening van ‘n mooi vrou gaan dit nie oor meetbare en sigbare bates wat deur mense op ‘n verhoog beoordeel moet word nie, maar eienskappe soos “‘n blywende beskeidenheid en kalmte van gees.” “Dit”, sê die Woord "het by God groot waarde."  (1 Petrus 3:3,4) Ja, die mooi liggaam van die vrou is nie opsigself iets mee verkeerd nie, maar is bedoel om deur haar eie man bewonder te word. ‘n Vrou is nie ‘n skouperd nie! Ewe vroom sal sommige probeer keer dat intelligensie en persoonlikheid darem ook beoordeel word. Dit mag so wees, maar hoeveel slim mollige mejuffroue Wêreld ken jy?

Skoonheidskompetisies is ooglopend ‘n radikale vorm van Godonterende wêreldliefde.  Hierdie wedstryde is kweekplekke van die gesindheid waarteen 1 Johannes 2 :15-17 juis so duidelik waarsku. Bunyan se Eerste Adam en sy drie verleidelike dogters, Begeerlikheid van die vlees, Begeerlikheid van die oë, en Grootsheid van die lewe is flink en aktief op al wat “catwalk” is.

Daar is natuurlik  Christene wat skoonheidskompetisies probeer regverdig deur die volgende redenasies:

Dis ‘n talent wat die Here my gegee het.  Ja, inderdaad alles, ons gesondheid, ons verstand en beslis ook  ons liggame is geskenke van God af. Ons moet dit net gebruik soos Hy dit wil hê en nie volgens ons eie sondige behoeftes nie. Ons mag ook vir niemand ‘n struikelblok wees nie! As iemand  byvoorbeeld sy skerp verstand gebruik om ander mense te bedrieg is dit verkeerd, al is die goeie verstand opsigself  wel ‘n talent van God. Niemand mag haar mooi liggaam gebruik om ander in die versoeking te stel nie! ‘n Mens kan net maar hoop dat al die talentvolles die regte perspektief behou en besef : “Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.” (Spreuke 31:30)

Dis ‘n geleentheid vir  ‘n Christelike getuienis.  Is daar dan nie baie uitgesproke Christene soos Melinda Bam of Carrie Prejean in hierdie liga nie? Ons as beperkte mense kan natuurlik in niemand se hart sien nie, maar mag ek bewaar word van ‘n “Christen” skoonheid soos Melinda Bam! Hoe so? Wel, ek vra jou of die manne wat met stokstywe oë na hierdie skoonhede in hulle eina swempakkies kyk aan Christelike getuienis of dalk eerder  aan iets anders dink?

Ester is tog ‘n vroom Bybelse voorbeeld van ‘n dame wat aan ‘n skoonheidswedstryd deelgeneem het. “As sy aan ‘n skoonheidskompetisie kon deelneem, kan ek as Christenmeisie dit mos ook doen”, is die vroom verontskuldiging.  As mens enigsins literêr geloofwaardig en tekskonsekwent wil wees moet jy liewers die boek Ester heeltemal uit die debat oor skoonheidskompetisies uitlos. Die boek Ester is nie ‘n voorskrif oor morele sake nie, maar ‘n beskrywing van hoe God agter die skerms werk in die geskiedenis. As jy Ester as voorbeeld wil neem, waarom nie eerder koningin Vasti  wat geweier het om haarself belaglik te maak voor ‘n klomp dronk mans nie? Vir die Christenvrou word daar tog immers duidelike waardes en direkte opdragte in die Nuwe Testament uitgespel. “Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees.” (1 Timoteus 2:9)

Ons bedoel niks slegs of lelik nie, maar doen dit bloot vir die pret. Ook opregte en onskuldige bedoelings kan baie ernstige gevolge hê. Ek wil geensins beweer dat alle dames en meisies wat by skoonheidskompetisies betrokke is, verkeerde motiewe het nie. Ek dink wel hulle is uiters naïef as hulle dink dat hulle optrede nie ander in versoeking lei nie. Jesus self het ‘n ernstige waarskuwing gerig aan diegene wat ander laat struikel : “Wee, die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. “  (Matteus 18:7)

Christen, is jy besig om jouself aan God as lewende offer aan te bied, deur te soek wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is, of paradeer jy op die verhoog van wêreldgelykvormigheid? (Romeine 12:1,2)

Nakouseltjie. Vir diegene wat nie meer die Bybel as norm ernstig opneem nie, maar darem nog ‘n goeie sprokie kan waardeer wil ek net daaraan herinner dat dit Sneeuwitjie se hoogmoedige en afgunstige stiefma was wat gedurig wou uitvind : “Wie is die mooiste in die land”? Die pragtige Sneeuwitjie se skoonheid het sommer in haar alledaagse werk en wandel uitgestraal! Sy het geen skoonheidskompetisie nodig gehad nie... Christenmeisie, met 'n rein hart, jy het ook nie!

Dinsdag 05 Februarie 2013

VYEBLARE OF VRYSPRAAK?

- die fatale fout van selfgeregtigheid en mensgemaakte godsdiens.

Na Adam en Eva se sonde, het hulle bemerk dat hulle kaal was.   (lees gerus die gebeure in GENESIS 3:6-10;21)  Dit beteken hulle het nou skuldig en ontbloot gestaan voor God en mekaar. Hulle maak toe self (tipies mens!) ‘n plan :  klere van vyeblare. Klere van vyeblare is  om verstaanbare redes egter nie baie doeltreffend nie... Dit was veral nie effektief om hulle skaamte en skuld vir God te bedek nie, want ons lees dat hulle nog steeds vir God weggekruip het. (10)

Ons wil dalk lag vir Adam en Eva se naïwiteit, maar die  sondaar mens se ingesteldheid is maar nog steeds dieselfde. Die mens maak vandag nog  “vyeblaarklere” om sy sonde naaktheid en skuld vir God te probeer wegsteek. Ons weet mos ons staan skuldig voor God en maak dan alle planne om van hierdie skuldgevoel ontslae te raak of dit te onderdruk.

Hoe lyk die sondaar se  vyeblaardenke en vyeblaarplanne vandag?

Ek probeer myself aanvaarbaar maak vir God. Ek probeer God se standaard – God se geregtigheid, tevrede stel met een of ander menslike prestasie of inisiatief.
Ek sê vir myself ek sal my bes probeer om ‘n Christen te wees. (dis ‘n redelik algemene frase van ‘n onbekeerde!)
Ek probeer om bietjie minder te vloek of bietjie meer Bybel te lees en dink dat dit my nou ‘n Christen maak.
Ek voel darem goed oor myself, veral as ek kyk hoe goddeloos ander mense leef. Ek herinner myself dat ek wel ‘n sondaar is, maar darem nou nie die ergste wat daar is nie. (Terloops - die vyeblaarmens skinder nogal graag, want dit laat hom beter voel. Dis lekker om te praat oor die skandes van Zuma, Steve Hofmeyer, Joost van der Westhuizen of die bure wat so op mekaar skreeu en borde rondslinger!) Ek probeer my gewete op die manier troos.
Ek maak baie erns met al my godsdienstige pligte...vyeblare!
Ek maak altyd verskonings vir my sonde, dis nie my fout nie, maar my moeilike kinderjare, moeilike omstandighede, moeilike man of vrou...vyeblare!
Ek troos myself dat ek darem ‘n lidmaat van die kerk is en nie ‘n heiden of ‘n Moslem nie.
Partykeer is mense baie ernstig en gaan tot uiterstes met hierdie vyeblaargodsdiens om hulleself vir God aanvaarbaar te maak – hulle vas en bid en gee soms groot bydraes vir die kerk.....  John Wesley het so ver gegaan om ‘n sendeling te word in Amerika! Alles nuttelose vyeblare! Dis alles opsigself goeie dinge, maar dit kan nie ons sondeskuld voor God wegneem nie!

Die skokkende waarheid is dat ons beste planne nikswerd is nie! 

Al die mens  se pogings om self sy skuld voor God te bedek misluk!  Nog erger ons beste planne om ons self voor God aanvaarbaar te maak is soos vuil klere voor God.  Jesaja 64:5-7  Let wel – nie ons sonde is soos vuilklere voor God nie, maar ons beste dade! (OAV – ons geregtighede) As ek nou gedink het,  vandag het ek darem ‘n goeie daad gedoen – ‘n straatkind gehelp of ‘n bydrae vir die kankervereniging  of Kanaal 7 gegee – dan sê God, dit kan jou nie red nie, dit is nutteloos en verwerplik soos vuil klere voor my oë! Tevergeefse vyeblare!

Weet beslis : Ons aangeplakte vroomheid is vuil en vieslik voor God! Ons mensgemaakte geregtigheid is ‘n gruwel. Skokkend, maar waar! 

Is daar hoop?

JA! Die Genesis gebeure  is vol van die mens se mislukking en  God se oordeel, maar gelukkig ook vol van Goddelike  genade. God self kom soek die mens op : “Adam, waar is jy?” (9) Meer nog, 

 God self voorsien klere van vel aan die mens! (21)

Dis presies wat God ook in Jesus aan ons gee. In Jesus gee God ‘n oplossing vir ons sondenaaktheid. Daar vind ‘n groot omruiling plaas, Jesus vat ons sonde en kry die straf daarvoor, maar Hy gee sy geregtigheid vir ons as ‘n bedekking.

Die kosbare 1 Korintiërs 1:30 (OAV) stel dit so duidelik. “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (Die kontras is  baie duideliker in OAV met Jesaja 64:6 “ons geregtighede is soos ‘n besoedelde kleed”) Ek kan nie met my eie dade van geregtigheid God tevrede stel en die oordeel vryspring nie, maar God voorsien self ‘n kleed van geregtigheid. Die volmaakte geregtigheid van Jesus. Hy gee dit aan elkeen wat Jesus aanvaar as Here. Dit is wat vryspraak (regverdigmaking) beteken. God sien nie meer my eie vuil sondige naaktheid nie, maar Hy sien my bedek met Jesus se volmaakte geregtigheid. Elkeen wat alleenlik op Jesus vertrou is skoon gekleë, heilig en volmaak in God se oë!

Ons kan nie met die vuil klere van ons eie geregtigheid en ons eie godsdienstige pogings in die hemelse koninkryk ingaan nie. Ons het die skoon wit klere nodig nodig wat net God ons kan gee op grond van Jesus se kruisdood. Die wit klere waarvan Openbaring 7:9-14 praat. Gaan jy deel wees van hierdie skare?


Ons elkeen het een van twee keuses : of ek vertrou op die vyeblare van my eie godsdienstige pogings of ek vertrou op die genoegsaamheid van Jesus se geregtigheid. Gaan jy voortsukkel met vyeblare, die vuil vodde van eie geregtigheid of gaan jy die geskenk van nuwe klere, Jesus se geregtigheid in die geloof aanvaar? Gaan jy voort met selfpogings (vyeblare) of gaan jy aanvaar wat God vir jou voorsien in Jesus Christus (vryspraak)?

Vrydag 01 Februarie 2013

WAARLIK VRY!

– die laaste sigaret.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na matriek het Johan de Koning  by die Tabakkoöperasie op Patensie in die Oos-Kaap gaan werk. Seker baie aangename werksomstandighede vir ‘n groot roker soos hy!  Sy  hoërskoolvriend, Eugene Toerien het hom egter vertel van werksgeleentheid in die Aartappelraad en so het hy in 1952 in Pretoria by dié te lande gekom. Spoedig sou dit baie duidelik word dat God dit so beskik  en ‘n besondere afspraak daar met hom gehad het.  So ‘n ontmoeting was baie nodig voordat God Johan sou kon gebruik vir sy lewenstaak as sendeling wat voorgelê het. Ja, hy het weliswaar ‘n goeie paadjie in Pretoria probeer bewandel. Hy was aktief betrokke by kerklike dinge as Sondagskoolonderwyser en diaken en was in Christelike kringe bekend as Christen, maar diep in sy hart was daar onsekerheid. Kragteloosheid. Dan was hy ook nog vasgevang in die rookgewoonte wat al op ‘n jong ouderdom begin  en hom meer as eenkeer in die moeilikheid laat beland het.  Maar al die moeilikheid, selfs ook nie ‘n pakslae met ‘n bandolier kon hom van die gewoonte bevry nie.  Johan het wel probeer om ‘n stryd teen die verslawing te voer en kon soms tot  5 maande uithou,  om dan maar net weer te begin en erger te rook .  Teen hierdie tyd het hy daagliks ‘n groot klomp Kommando sigarette en tussenin in nog pyp ook gerook.

Johan was besig met sy finale jaar CIS (Chartered Institute of Secretaries)  studies en die eksamen was voor die deur.  Dit was ‘n Donderdagaand. Terwyl hy besig was om sy werk deur te gaan, wat hy gemeen het dat hy goed ken, het iets vreemds gebeur. Dit was asof elke deel wat hy deurgaan eerder uitgewis word uit sy geheue. ‘n Bewustheid van sonde het oor hom gekom en hy het sy onreinheid besef. In sy nood vat Johan die Bybel. Dit  het oopgegaan by Romeine 7.  Hier lees hy onder andere in vers 19 “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek” Hy het besef, hy het geen krag tot oorwinning oor die sonde nie.

In hierdie toestand van radeloosheid het Johan besluit om na die konferensie op Kaalfontein,  die plaas van oom Lardus Erasmus te gaan. (Oom Hansie Kleynhans, ‘n vriend  en ook by die Aartappelraad werksaam het hom alreeds hierheen uitgenooi.  Johan het egter die studies as verskoning voorgehou.)  Vrydag oggend het hy op sy fiets geklim, werk toe gery en vir oom Hansie gaan sê: “Oom Hansie, ek ry saam.” Daar in oom Hansie se  kantoor by die Aartappelraad het hy nog ‘n laaste sigaret gerook, sonder om te besef dat dit die laaste sigaret in sy lewe sou wees!

By die konferensie was daar pragtige Christen mense en leiers soos  Prof. H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys, Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en nog ander.  Almal was vrolik en vriendelik.  Niemand kon sy innerlike stryd sien nie.  Met sy kennis van die jeug het Oom Dries Steyn dalk iets vermoed.  Op sy vraag: “Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het Johan wel positief geantwoord en toe sê hy: “Ek sien jou April DV  by Winklespruit se CSV kamp.” 

Duidelik praat die Here met Johan uit die preek van Dr. Geldenhuys oor die oes wat groot is en die arbeiders  wat min  is uit Matt 9:35-39, en sluit af deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.”

Gou was hy in die tent, maar twee dames was voor hom daar.  Hy  wou egter alleen wees met die Here.  Hulle drie het eers saam gebid en toe hulle uit is was sy gebed omtrent iets soos: “Here, ek wil krag hê om u te dien.” Hy het ook sonde bely en gesê, hy sal dinge gaan regmaak as hy by die huis kom.

Al het Johan nie presies  geweet wat hy vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.  Daardie dag,  3 Oktober 1954 het die Heilige Gees besit geneem van sy lewe en het 2 Korintiërs 5:17 vir hom waar geword: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”

Johan het borrelende vreugde beleef.  Mense kon dit raak sien.  Oom Hansie wat eintlik vroeër wou ry, vra  toe of  hy nie wil bly om ‘n getuienis te gee nie. Van iets soos ‘n getuienis het Johan min geweet, behalwe dat "sektes" getuig.  “Die Here het my geseën,” was min of meer wat  hy gesê het, tog het die mense op sy gesig gesien dit wat in woorde nie gesê is nie. Dit was die eerste van baie getuienisse wat sou volg.


Die volgende oggend op pad terug in die motor na Pretoria terwyl hy diep ingedagte al die gebeure weer sit en deurleef vra oom Hansie: “En toe, wanneer koop jy vir ons weer sigarette?”  Johan antwoord verbaas: “Haai Oom, dit is nou drie dae wat ek nie meer gerook het nie!” Nooit weer het hy gerook nie. Baie jare later sou hy nog steeds kon getuig dat Johannes 8:36 die waarheid is: 

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”