BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Getuienis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Getuienis. Wys alle plasings

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Donderdag 02 Mei 2019

SOET EN BITTER!

-‘n Realistiese perspektief op die kerk van Jesus se taak in hierdie wêreld. 

Is ‘n kind van God se lewe soet of bitter? Dink baie mooi… Hier in Openbaring hoofstukke 10 en 11 kry ons ‘n eerlike reguit antwoord. Lees gerus eers Openbaring 10:9-11:14.

DIE BOEKIE EN DIE OPMEET VAN DIE TEMPEL

Johannes kry ‘n klein boekie om te eet. Dit het ‘n gemengde gevolg :


 in sy mond was dit soet 










en in sy maag was dit bitter! 








Die betekenis hiervan word verder uitgewerk in hoofstuk 11 in die gesig van die twee getuies. Dit begin met die opmeet van God se tempel. Dis ‘n profetiese demonstrasie van die boodskap dat die gelowiges God se eiendom is. God laat dit meet omdat Hy die eienaar en beskermer is van sy mense. (Dis ‘n soortgelyke boodskap as in Esegiël 40:3,5 waar die tempel ook gemeet is.) 

Dit gaan hier oor geestelike beskerming, want Openbaring is duidelik dat baie gelowiges hulle lewens gaan verloor. “Aan hom (die dier) is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin;” (13:7) Die voorhof of buitenste deel van die tempel word nie gemeet nie. Dit word aan die heidene gegee om 42 maande te vertrap. God sal die heidene toelaat om vir 42 maande die gelowiges te vervolg en te vertrap. Wat beteken die 42 maande? Dit het dieselfde betekenis as die 1260 dae (Vgl. 11:3 en 12:6) Dit simboliseer ‘n tyd van swaarkry en oordeel. (Die wortels hiervan kom reeds uit Daniël 7:25) Dit gaan oor die feit dat God slegs vir ‘n beperkte tyd sal toelaat dat sy mense vervolg en gedood sal word! 

Om saam te vat : Die soet smaak van die boekie is God se beskerming (11:1), die bitter nasmaak is die feit dat God die nasies toelaat om sy kinders te vertrap en te vervolg. Maar belangrik, God is nog steeds in beheer! Dit herinner mens aan Jesus se woorde : “En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.” (Matteus 24:22) 

DIE TWEE GETUIES 

Hierdie Goddelike plan en beheer te midde van die grootste vervolging en hartseer word verder treffend uitgebeeld deur die beskrywing van die wel en weë van die twee getuies. In hierdie tyd van swaarkry en vervolging het God ‘n baie spesifieke taak vir sy kerk : Getuienis! Dis ons groot taak en roeping in die laaste dae! God se agenda vir ons! Die getuienis taak van die kerk word uitgebeeld deur die twee getuies wat waarskynlik geskoei is op die voorbeelde van Moses en Elia. (nie alle detail, slegs breë trekke) Die beeld van die twee olyfbome en twee lampe kom uit Sagaria 4:2-6. “Hy het vir my gevra: "Wat sien jy?" maar hy het self voortgegaan: "Ek het gesien daar is ‘n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ‘n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 
By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links." 
Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: "Wat beteken dit, Meneer?" 
Hy het geantwoord: "Weet jy nie wat dit beteken nie?" Ek het gesê: "Nee, Meneer." 
Toe sê hy vir my: "Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis ‘n getuienis in die krag van die Heilige Gees. Die lampe is simbool van Goddelike teenwoordigheid. Die kerk getuig, leef én ly in die teenwoordigheid van God en sy Gees. 

Soet én bitter is ons deel terwyl ons onder beheer van die Gees ons taak voltooi! Geen maklike agteroorsit bestaan...

BESKERM EN DAN GEDOOD 

Twee elemente is baie duidelik m.b.t. die twee getuies. Dit lyk soos ‘n teenstrydigheid : Hulle word beskerm en het geweldige mag, maar hulle is ook swak en word dan ook doodgemaak! 

“As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen.” (5) 

Dit sinspeel op 2 Konings 1 waar vertel word van die konflik tussen die profeet Elia en die koning Ahasia, waar vuur uit die hemel telkens Ahasia se soldate verteer het toe hulle Elia genader het. God gryp in om sy getuies te beskerm teen bose planne en mense. 

“Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.” (6)

Hulle kan die plae van Egipte laat plaasvind en droogte laat kom soos Elia. Die goddeloses en gode moet swig voor hulle. God se getuies word voorsien van merkwaardige gesag...

Aan die anderkant lees ons dat die dier (simbool van ‘n goddelose staat) die getuies oorwin en doodmaak. “Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem." (7,8) Hulle moet absolute vernedering en veragting deurgaan. “lyke lê op straat” Die goddelose mense juig oor hulle dood. Die wereld verag God se kinders met ‘n passie! En tog. God is presies in beheer want hulle kom eers doodgemaak word toe hulle getuienis KLAAR gelewer is. 

TRIOMF! 

Daar is verder nog ‘n dramatiese aanduiding van Goddelike oorwinning! Die bose magte kry net tydelik die oorhand. God het die finale sê, want die getuies word na ‘n beperkte tyd weer lewendig!

  “Ná die drie en ‘n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. Hulle hoor toe ‘n harde stem uit die hemel vir hulle sê: "Kom op hierheen!" Toe het hulle in ‘n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien.” (11,12) Die parallel met Jesus self is baie opvallend! Die getuies volg Jesus in sy vernedering en lyding en dood, maar ook in sy oorwinning! Die kerk van Jesus kan fisies verdruk en doodgemaak word, maar ons ewige lewe by Hom in heerlikheid is onaantasbaar! Dit slaan moontlik terug op beide Moses en Elia wat lewendig hemel toe sou gegaan het. Hoe dit ook al sy, hier is nie sprake van ‘n geheime wegraping nie, maar van ‘n sigbare triomf. Die vyande sien hulle oorwinning! ‘n Wolk is ‘n simbool van Goddelike teenwoordigheid. (Nodeloos om te sê, dit sou ‘n futiele poging weesom hierdie gebeure in ‘n letterlike kronologies volgorde te plaas en te probeer verklaar) 

‘n Verwoestende aardbewing kom. Wat presies dit als sou kon beteken weet ons nie. Maar dis ‘n Goddelike ramp/ingrype wat ‘n groot effek het. Die goddeloses bring eer aan God. Hulle word gedwing om God te erken. (13) Was dit egte bekering? Dis moeilik om met sekerheid te sê.* 

WAT IS DIE KERNBOODSKAP? 

Soet én bitter is deel van die kinders van God se lewe op aarde! Wees realisties! Ons hoef nie hieroor te wroeg of te wonder nie- dis deel van ons pakket op aarde. Belangrik, ons moet wel besig wees met ons getuienistaak! Dis wat die Here van ons verwag. Die res kan ons aan Hom oorlaat. 

Ons getuienis taak sluit ‘n oproep tot bekering en die aankondiging van God se oordele in. Die rouklere van sak beklemtoon hierdie aspek van boeteprediking. Ware getuienis is nie oppervlakkige goedvoelboodskappies wat almal wil laat verstaan dat alles maar OK is nie! Dit spreek die gedrag en die gewete van die mens aan. Dis eerlik oor God se oordele. Dis immers waarom die getuies so gehaat word. 

Hoe kom die soet en die bitter bymekaar? Oorwinning kom via martelaarskap. Die woord “martus” het aanvanklik getuie beteken, maar dit het later die betekenis van martelaar gekry, want getuienis het heel dikwels tot martelaarskap gelei. Om getuie te wees lei onvermydelik tot swaarkry, verwerping en selfs die dood! (Hierdie getuies was duidelik nie people’s pleasers nie) Maar hulle getuienis was nie tevergeefs nie! 

Ons het werk om te doen – getuienis. Dis God se agenda vir sy kerk! Ons lewe, ook ons lewe van swaarkry het ‘n Goddelike doel en betekenis binne die konteks van hierdie agenda en opdrag! (Pasop dus om nie meegesleur te word deur ons eie agendas van oorlewing en selfbelang nie!)  God is by ons, ons gaan dit wel hotagter kry, maar God is ook in beheer daarvan en beperk dit. Ons is onaantasbaar veilig totdat God besluit ons het ons taak afgehandel! Ons gaan beslis ly, maar die oorwinning en triomf behoort aan ons! Ons kan en gaan fisies skade ly , maar geestelik is ons veilig. Vir ewig. 


Die “soet” gaan seëvier! 



*Dalk moet mens dit in parallel met 6:15-17 verstaan.

“Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 

Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 

Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?" 

Daar is aan die anderkant ook die siening (Du Rand) dat wat ons hier lees dui op ‘n ongekende bekering. Vergelyk die boodskap van die engel in 14:6-7 


Donderdag 04 Oktober 2018

KAN GOD GAYS VERANDER?


- Merkwaardige getuienis! 



Die vervolging van God se kinders deur homoseksuele aktiviste raak al hoe meer ‘n werklike bedreiging...(Ek het alreeds vantevore na hierdie tendens verwys -  kliek NADIA) Proponent Hennie Pienaar bekende gay aktivis het Dr. Chris van Wyk van die NGK Somerstrand aangekla by die Mense Regte Kommissie omdat hy opgestaan het teen Ds Nelis Janse van Rensburg (NG kerk moderator) se uitlatings dat homoseksuele oriëntasie 'n gawe van God is. In reaksie hierop het André Bekker sy getuienis in ‘n ope brief aan Hennie gedeel: 


Hennie Pienaar, dit is gepas om hierdie skrywe aan jou te rig in die lig van Kerkbode, 2 Oktober 2018, se artikel Hou By Waardes Van Seisoen Van Menswaardigheid, Vra Predikante.

Jy noem mense graag homofobies. Daarom wil ek jou gerusstel dat ek nie 'n oorheersende en sinlose vrees vir homoseksuele het, en hulle verseker ook nie haat nie. Hoe kan ek, terwyl ek self was waar jy steeds tans is, en ek jou wêreld verstaan en ken. Die Heilige Gees het my oortuig dat die wêreld waarin jy jou steeds bevind téén God en Sy gebod is. Dit het my tot bekering gelei en laat wegdraai van die sonde. Deur God se herskeppingswerk het Hy my 'n nuwe hart en begeertes gegee.

Nie alleen het God my georiënteerdheid tot dieselfde geslag verander nie, maar ook my georiënteerdheid tot die ouderdomsgroep na wie toe ek aangetrokke was. Jy sien, ek was 'n homoseksuele pedofiel. En God het ook daardie komponent van my oriëntasie kom verander. Net soos jy, het ek nie hierdie homoseksuele-pedofiliese oriëntasie gekies nie. Jy verwys mos graag daarna dat ’n mens se oriëntasie jou kern identiteit is.

Uit diep ervaring kan ek met jou gesels. Ek het empatie met julle en uit liefde sal ek jou en andere aan Jesus wil voorstel. Dis 'n liefdesdaad om jou teen jou verdorwe toestand en die ewige dood te waarsku. Hoe kan my bekommernis oor jou ewige bestemming, 'n onrealisties vrees vir jou wees? Hoe kan dit haat wees? Jy het die aktivistiese sosio-politieke agenda se ideologie, taktieke en taalgebruik aanvaar maar, jou siel in die proses verkoop. Wat baat dit jou om die hele wêreld te win maar aan jou siel skade te ly? 

Vir lank het ek met die leuen geworstel, wat die samelewing mee geïndoktrineer word, dat 'n mens met jou spesifieke oriëntasie gebore word. Dit het daartoe gelei dat ek die navorsing begin bestudeer het. Groot was my verrassing toe ek ontdek dat biologiese oorsake nie deterministies van aard is nie. Ek wil aan jou die uitdaging stel om vir my die navorsingstuk te bring wat ONOMWONDE aantoon dat enige mens met sy spesifieke oriëntasie gebore word. Maar kom ek spaar jou die moeite. Jy sal dit nie vir my kan bring nie, aangesien dit nie bestaan nie.

Toe ek by die leuen van "so gebore en kan nie verander nie" verby kom, toe kon die Here met sy Herskeppingswerk begin. My identiteit het ek in Christus gevind en aan die opstandingskant van die kruis het lewe in oorvloed begin, en het ek gevind dat "die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus my vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood." Solank ek wandel na die Gees volbring ek nie die werke van die vlees nie. Al die eer aan die Here.

Hennie, as "liefde is liefde" vir jou geld, kan jy vir my een goeie rede gee hoekom dit nie ook vir 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie geld nie? Mag so ‘n persoon aan jou kerk behoort en sal hy deur jou aanvaar word of is jy homopedofobies?

Jy en Prof Jaun Nel reken daar is geen verband tussen homoseksualitiet en pedofilie nie. Nou verduidelik vir my wat gebeur dan in 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie!? Het ek dit gekies? Was ek so gebore? Hoekom is jy selektief en is net jou eie spesifieke oriëntasie-samestelling aanvaarbaar en onder andere homoseksuele pedofilie nie? 

Jy weet hoe julle pro-gay persone (jy is mos bekend met jou mede-aktiviste soos Neels Jackson se standpunte) liefdeloos en onverdraagsaam is teenoor diegene wat as homoseksuele pedofiele identifiseer. Hulle is mos die "siese," die skuim van die aarde.

Hoe nou gemaak? Hulle bestaan en wat moet met hulle gebeur? Is hulle in jou kerk welkom. Sal jy net so vir húlle gayregte in die kerk veg tot dit ook gedekriminaliseer is en nie meer as 'n afwyking gesien word nie, of sal jy hulle soos melaatses behandel?

Hoe kan dit jou goedkeuring wegdra, as julle uitlatings hierdie spesifieke groepering homoseksuele mense seermaak en hulle tot selfmoord dryf, as julle hulle minag en nie respekteer nie, as julle hulle oordeel en liefdeloos teen hulle optree?

Uiteindelik moet julle erken dat Jesus na ons randfigure uitreik en wanneer ons Jesus ontmoet, sê Hy vir ons "daar is dan nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus is nie. Gaan en sondig nie meer nie sodat iets ergers nie dalk met jou sal gebeur die."

Die randfigure gaan vóór julle deur die nou poort wat na die ewige lewe lei. Voorwaar is daar min wat dit vind. Die smal weg van kruis opneem en Christus te volg. Die weg waar ek niemand - selfs nie my afgod van "ek, my en myself" bokant die Here Jesus Christus mag liefhê nie. 

Groete
André Bekker

Dankie André vir hierdie kosbare getuienis van God se genade! Inderdaad kan God alle sondaars red en verander! Dis die groot waarheid wat die gay aktiviste ontken en so word die evangelie wat die krag van God is misken! 


Kom ons bid vir en ondersteun almal wat nog vir die waarheid staan in ons kerk. Dr. Chris van Wyk, mag die Gees jou die woorde gee wat nodig is, soos ons Here Jesus self beloof het! Ek het so pas gelees dat die Menseregtekommissie (MRK) sê daar is 'n “prima facie-oortreding” saak van haatspraak teen dr. Chris van Wyk. Dis waar SA nou al is!  Sterkte! Johannes



Sondag 01 Julie 2018

SKEP GENOEG

EN SKEP MET BLYDSKAP UIT DIE FONTEINE VAN REDDING! 



Ons luister na die lofsange van die verlostes in Jesaja 12. Dis hulle vir wie die Here eers kwaad was en gestraf het, maar nou verlossing gebring het. (Kliek – NIE MEER KWAAD) Hulle is sondes uitgewis aan die kruis. Verlos deur die takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isai, Jesus Christus.* 


Daar is 3 aspekte waarna ons kan kyk in hierdie lofsange : Vertroue, Blydskap, Dankbare lofprysing. Ons het reeds gekyk na vertroue. Vertroue is 'n doelbewuste stap wat ek met my denke neem om my volkome op God se beloftes te verlaat. Ons kan dit doen, ons moet dit doen, want God se karakter is volkome betroubaar. Waar God vertrou word vlug angs en vrees. Ons wat vertrou op Jesus hoef nie meer die dood, straf of aardse omstandighede te vrees nie. 

OORVLOED! 

As ek God vertrou en my vrese verdwyn, kom daar 'n nuwe emosie en aktiwiteit in my lewe. Blydskap en dankbare lofprysing. (Let wel emosie en gevoel is deel van proefondervindelike godsdiens, maar dis 'n gevolg van vertroue en geloof, nie andersom nie. Ek vertrou God nie omdat ek lekker voel nie, ek vertrou hom ongeag my gevoelens of omstandighede.) 

Hierdie reaksie word met 'n pragtige metafoor uitgebeeld in vers 3. “fonteine van redding” Dis baie treffend vir mense wat gewoond is aan 'n dor land. (soos ons Suidwesters!) Ons weet water is lewe! 'n Fontein is dus 'n wonderlike ding, dis 'n bron van lewe. Dit spel volhoubaarheid, oorvloed, meer as genoeg! 

Genoegsame en oorvloedige verlossingsgenade. 

Almal kan skep, skep met blydskap soveel as wat nodig is. Dit laat mens dink aan Johannes 1:16 waar ons lees: "Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." Dis die oorvloed wat Jesus bring.  O, geliefdes, laat ons God se beloftes vertrou en skep en bly wees! Waarom wil jy nog daar eenkant staan en doodgaan van sondedors? Kom skep! Maak nie saak hoe groot jou sonde, skuld en skande is nie... Dit maak nie saak hoe lank die ry mislukkings is nie...  Dis Jesus self wat jou nooi: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Johannes 7:37) 

BLYDSKAP 

Elkeen wat lewende water kom skep, wat deel kry aan die oorvloedige vergifnis en verlossing, word bly! Blydskap! Blydskap is nie 'n randsaak of ekstra is in ons praktiese Christenskap nie. Dis 'n onmisbare deel en inherente bestanddeel van die verlossing wat God skenk. Ons hoor dit reeds in die engele se aankondiging van die geboorte van Jesus, "ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap." Dis deel van Jesus se wens vir sy dissipels in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:13. "sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê" Volgens Paulus is vreugde een van die basiese kenmerke van die wat deel is van God se koninkryk. “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Romeine 14:17) So kan ons aangaan. Ook die geskiedenis bevestig dit - waar God kragtig werk soos in tye van herlewing, is daar intense blydskap, dikwels eers intense smart oor sonde en dan die oorvloedige blydskap. (Kliek - SOUTPANSBERG) Dis duidelik dat blydskap en vreugde deel van God se oorspronklike bedoeling vir die mens was. Sonde het dit verwoes; verlossing het dit herstel. Verlostes is bedoel en veronderstel om bly te wees. Die besef dat God vir my kwaad was, maar nie meer is nie, omdat Hy my vergewe het moet tog 'n reaksie van blydskap tot gevolg hê. Terloops, dis miskien die rede hoekom baie sogenaamde godsdienstige mense so min blydskap ervaar. Hulle het nog nooit sondelas gevoel, die toorn van God raakgesien en die straf van die heilige God gevrees nie en dan die verligting van vergifnis ervaar nie. 

Verlostes het rede om bly te wees, die enigstes wat regtig rede het. 

Hierdie blydskap is meer as net oppervlakkige glimlaggies, dis die onvernietigbare blydskap van Jesus ten spyte van omstandighede! (Kliek – ONVERNIETIGBARE VREUGDE

AANBIDDING, LOFPRYSING EN GETUIENIS 

Saam met blydskap gaan dankbare aanbidding en lofprysing. 

“Op dié dag sal julle uitroep: "Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 
Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!" (4-6) 

Hoor, dit behels sing, jubel en juig. Nie net sommer omdat dit lekker is nie, maar tot eer van die Here. Hierdie lofprysing het 'n getuieniskarakter hê. Die volke, ja die wêreld daarbuite sal geraak word. So in ons situasie sal dit beteken dat hierdie lofprysing en dank meer moet behels as net lekker sanggeleentheid. Dit gaan oor die oorvertel en praktiese demonstrasie van God se verlossingsdade. Die lof handel oor SY dade, die groot dinge wat HY gedoen het. Enige kind van God kan en moet meedoen aan hierdie lofuitinge. Los die verskonings om stil te bly!** 

Daar is drie redes in hierdie gedeeltes waaroor ons moet jubel en juig. Anders gestel, die inhoud van ons lofbetuigings handel oor drie sake: 

- die groot dinge wat God gedoen het (5) 

- God se karakter - Hy is groot, Sy Naam is groot! 

- God is by ons, in ons midde. (6) 

Laasgenoemde is eintlik die kersie op die koek. Wat 'n heerlike waarheid. Wat sou al God se wonderlike eienskappe ons gebaat het as Hy ver en verwyderd van ons sou wees? God is by ons - Hy is nie meer kwaad nie, die muur van skeiding is afgebreek. Die belofte van Jesaja 7:14 van Immanuel (God met ons) het waar geword! Jesus het gekom en onder ons kom woon. Hy woon op hierdie oomblik in ons deur sy Gees en eendag sal Hy permanent en volmaak vir altyd tussen ons wees. “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3) Dit lyk asof hierdie gedeelte profeties kyk na Jesus se eerste koms, die verlossing wat hy gebring het, die verlossing en ons reaksie daarop soos ons dit nou ervaar, maar ook verby dit alles na die ewigheid en ons finale verlossing. Die verlostes gaan vir ewig bly wees, besig met dankbare aanbidding en lofprysing. 

SING JY SAAM?

Is jy deel van die skare verlostes in Jesaja 12 en kan jy saamsing? Is jy deel van die skare wat kan sê : "U was ook vir my kwaad...." , wat kan sê : “Ek vertrou en is nie meer bang nie" ? 

Indien : 

JA - Wel vertrou nog meer, wees meer dankbaar, prys, getuig meer... Jy het rede! 

NEE - Kom na Immanuel, na Jesus die Spruit uit die stomp van Isai. Kom skep, stel jou vertroue in Hom. Hy vergewe, Hy versadig en verfris! Voeg dan ook jou loflied by die verlostes van Sion! 

*Jesaja 11:1,2 “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” Isai was natuurlik die vader van Dawid en uit die nageslag van Dawid, is Jesus, die Seun van Dawid gebore. 

** Die verskoning is dikwels – “ek weet nie hoe om te praat nie, ek moet seker eers ‘n evangelisasiekursus loop.” Kind van God, jy het hoegenaamd nie eers 'n evangelisasie kursus nodig om te begin getuig nie. (Daarmee beweer ek nie dat dit nie nuttig en sinvol kan wees nie.) Inteendeel as iemand agterkom jy vertel vir hom iets waarin jy afgerig is op 'n kursus-, dan klink dit dalk nie meer so baie eg nie. Jy loop tog nie eers 'n kursus om te kan vertel van 'n wonderlike vakansie nie? Nee, jy borrel net oor van jou wonderlike wedervaringe!



 STROME!
(Die Molopo kom af, 2009)

Saterdag 01 Oktober 2016

FOKUS MY KIND...

te midde van chaos, geweld en goddeloosheid!


Niemand hoef dit vir ons te sê nie : ons wêreld is vasgevang in chaos en goddeloosheid en dit raak ons elkeen. Geweld en verwoesting (dink aan die onlangse onsinnige beskadiging van infrastruktuur by universiteite), bedrog en korrupsie (twee skelms ding mee om die presidentskap van die magtigste land op aarde), waansinnige gierigheid en al wat boos en bedenklik is, is aan die orde van die dag. Dis ‘n tyd van uiterste morele verval – die egskeidingsepidemie, die saambly euwel en die gay agenda het byna alreeds die Goddelike instelling van die huwelik totaal vernietig. (Die definisie van die huwelik as sodanig is onder druk, en dit lyk asof selfs baie kerkleiers nie eers meer duidelik daaroor is nie...)

Nou is die kwellende vraag : 

Wat moet ons as Christene se houding en gesindheid te midde van al hierdie chaos wees? 

Daar is verskeie moontlikhede : Ons kan moedeloos raak en heeldag met strak gesigte rondstrompel, droewig kla en mor oor die jeug, die ekonomie, die regering, die kerk... Ons kan agter hoe mure wegkruip en kos opgaar vir die dag as die finale kernoorlog dalk aanbreek... Ander Christene wil ons vertel dat ons moet probeer om die gemeenskap te verander deur aktivisme – organiseer optogte, trek Internet petisies op, vorm drukgroepe en “teister” mekaar met selfoonboodskappe. 

Deur die eeue heen is dit ’n kwessie : Wat moet die Christen se agenda en fokus wees in ’n goddelose samelewing? ‘n Samelewing waarin ons nie pas nie.

Gelukkig het die Bybel duidelike antwoorde. Ons moet nooit vergeet nie - die vroeë kerk het tot stand gekom, gegroei en gefloreer in ‘n goddelose samelewing. Dis nie eers debateerbaar nie.... Daar was nie hoegenaamd nie eens ‘n Sondag nie, daar was uiteraard nie iets soos Christelike skole of wetgewing nie. Die Romeinse Ryk het definitief nie daarin belang gestel om Christelike beginsels te handhaaf en uit te bou nie. Noem maar al die moderne euwels, al die losbandigheid, aborsie en bedrog – jy sou dit daar ook aantref!


So wat moet die Christen se houding en fokus wees? Paulus se brief aan Titus dui vir ons ‘n duidelike koers aan (En terloops, die mense van Kreta waar Titus homself bevind het is deur een van hulle eie mense beskryf as 'n klomp "leuenaars, ongediertes en lui vrate"* (Sjoe!!!) :

“11.Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

12.Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

13. terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.

14. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Titus 2:11-14)


Uit gelese gedeelte lyk dit of ons ’n duidelike tweeledige fokus kan aflei : ‘n Lewe van HEILIGHEID en HOOP. Heiligheid binne die teenswoordige wêreld en Hoop op die toekomstige wêreld . ’n Christen leef in ’n dubbele konteks. Ons leef in ’n huidige teenswoordige wêreld - en in hierdie konteks moet ons fokus val op heiligheid. Maar terselfdertyd is ons ook mense van die toekoms - en teenoor die toekomstige wêreld, die verskyning van Jesus en daarmee saam die nuwe hemel en aarde moet ons ’n lewende hoop en verwagting hê. 

Heiligheid.  Wat bedoel dit? Kyk weer na vers 12 ev. Jy kan nie die samelewing verander nie, nie eers jou eie huismense nie, maar jy self kan anders leef. Los als wat verkeerd is – die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede. Jy as kind van God kan kies TEEN losbandigheid, onsedelikheid, gierigheid... Jy kan mos kies om nie na immorele TV sepies te kyk nie, jy kan kies om nie skelm besigheid te doen nie, jy kan kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie... Maar jy kan ook positief kies VIR selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. “ywerig om die goeie te doen.” (14) Dis als moontlik omdat Jesus Homself vir ons as offer gegee het. Verlos van sonde skuld en met die Heilige Gees binne ons, kan ons nou goeie dinge doen! Ons hoor in Titus 3:1,2 wat die goeie dade verder prakties behels. Dalk hou ons nie daarvan nie, maar luister tog baie mooi... “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

In 3:8 kom Paulus weer terug na die belangrikheid van goeie werk. “Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.”

Nou sê jy miskien : “Hoe kan ek dit regkry om vriendelik en positief te wees? Kyk bietjie wat doen die regering, kyk hoe smerig, skelm en goddeloos is almal...” Ons kry ‘n belangrike perspektief in Titus 3:3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dit lyk amper of Paulus ons gedagtes kan lees. Hy sê : Ons (wat nou Christene is), was ook so. Moet dit nie vergeet nie. Asof hy wil sê julle moet maar geduldig wees met die slegte mense, onthou ons wat kinders van God is was maar eens op ’n tyd net so. Dis net deur die genade van Jesus dat ons nou anders is... Ja, my vriend dis net God se genade dat ek en jy nie (meer) ’n hoereerder, dief of dronkaard is nie! ‘n Kind van God is iemand wat nuutgemaak is deur die genade van God, moet dit nooit vergeet nie! Ontvangers van genade, behoort genadig en geduldig te wees met sondaars sonder om sonde goed te praat! (Kliek op JONA)

Hoop. Ons moet voluit gaan om goed, heilig en ordelik in hierdie wêreld te leef, maar dis nie al nie. Ons het ‘n hoop, ons moet uitsien na die heerlikheid wat wag! (2:13) Uitsien na 'n ewige toekoms, dis hoe ons kophou en moedhou te midde van goddelose toestande! Ons moet hoopvol uitsien na die gelukkige dag, die erfenis wat vir ons wag, die toekomstige wêreld Mag ons nooit vergeet, daar wag ’n erfenis vir God se kinders.... (Rom 8:17; 1 Petrus 1:3,4) Christenskap wat my nie laat uitsien na die verskyning van Jesus en die erfenis wat Hy ons gaan gee nie, is nie Nuwe Testamentiese Christenskap nie! As die goddeloosheid ons pla, en dit moet en sál ons pla, sal ons telkens weer opnuut met blydskap besef : “Wag net ‘n bietjie, die beste kom nog.” Ons mag nooit vergeet hierdie aarde is nie ons finale woonplek en eintlike vaderland nie. Ons mag nooit vergeet nie, Christene is pelgrims, op pad wees mense. Toets jou daaraan : hoe sien jy jouself, jou plaas, jou besittings? Het jou projekte, jou eie gesin, jou eie volk en jou eiendom nie dalk vir jou te belangrik geraak nie. 

Sien jy uit na die finale aanbreek van God se Koninkryk? Kan jy die “Onse Vader” opreg bid?

Hierdie tweeledige fokus moet in balans wees. Heilige betrokkenheid en wandel in hierdie lewe, hoopvolle verwagting op die toekomstige lewe. Heilig voluit lewe binne hierdie land en gemeenskap waar God ons geplaas het, maar terselfdertyd ons hoop vestig op die volmaakte bedeling wat sal aanbreek by die wederkoms van Jesus.

Ons mag nie eenkant wees nie, ons moet aktief betrokke wees met goeie werke, maar moenie vergeet nie daar wag ’n heerlike toekoms. My lewe hier is tydelik, my besittings word maar net vir my geleen, my eintlike burgerskap is in die hemel!

Hierdie balans van heiligheid nou en hoop op die eendag hou ons op koers, maar dis ook die basis van ons getuienis. Dis die tipe lewe wat raakgesien sal word deur onbekeerde mense, wat hulle sal aanspreek en hulle na die Here se genade sal laat soek. Die genade wat hulle ook daartoe kan bring om nuwe lewens te leef... AMEN

* Sien Titus 1:12






Maandag 16 Junie 2014

GEESBEKRAGTIGDE GEMEENTE

- hoe klink dit in die praktyk?

Handelinge 1:8 is ‘n baie belangrike teks. Byna reg aan die begin van hierdie besondere boek verskaf dit ‘n geografiese en teologiese raamwerk vir die ontplooiing van Handelinge. Geografies sou die getuienis oor Jesus al weier uitkring van Jerusalem al verder tot in die hoofstad van die ryk, die magtige Rome! Teologies gesproke lees ons verder in Handelinge hoe die evangelie telkens nuwe grense oorsteek. Eers word die Woord gebring na die verbondsvolk Israel, daarna word die Samaritane wat hulself in ‘n teologiese niemandsland (hulle was ‘n bastergroep wat slegs ‘n gedeelte van die Ou Testament erken het) bevind het tussen die Jodedom en heidendom deur die evangelie aangeraak. En uiteindelik word talle grense oorgesteek sodat ook volbloed voormalige uitgeworpe heidene deel word van God se volk. Verder is Handelinge 1:8 ‘n welbekende en dikwels aangehaalde belofte van Jesus. Ons is dit so gewoond dat ons maklik die uniekheid daarvan miskyk. “Julle sal My getuies wees... “Getuies”, hoekom getuies, waarom nie net "boodskappers" nie? Nou dis nie sommer ‘n gedagte wat uit die niet opduik nie. Dis nie ‘n nuwe saak op God se agenda nie. Die wortels hiervan kom reeds uit die Ou Testament. Om dit reg te verstaan, moet ons oplet na die agtergrond en groeibodem soos ons dit spesifiek vind in die profesieë van Jesaja. Handelinge 1:8 is eintlik ‘n samestelling van begrippe uit Jesaja. Kyk ‘n bietjie na die treffende ooreenkomste :

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 32:15 So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn ‘n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ‘n bos aangesien word.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 43:10 Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie,

Jesaja 43:12 Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.

Jesaja 44:8 Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek  weet van geeneen nie.

Handelinge 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Jesaja 45:22 Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. (OAV)

Jesaja 49:6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

Merkwaardig, nê?

GEESVERVULDE KERK?

Dis een van die fokuspunte van Handelinge - dat die belofte van die Vader oor die skenk van die Gees vervul is. Dit was ‘n ingrypende gebeurtenis met verreikende gevolge. Dis alles wonderlik, maar wat nou van ons, beleef ons dit so of is dit wat in Handelinge gebeur het net ‘n pragtige stukkie geskiedenis? 

Ons kan vir ons self duidelikheid kry deur te vra : Hoe lyk ‘n Geesvervulde kerk onder beheer van die Heilige Gees? Uiteenlopende antwoorde kom na vore : Word die werk en werk van die Gees gekenmerk deur baie uitbundige blydskap en opgewondenheid.....of dalk eerbiedige stilte? Pasop vir uitwendige maatstawwe - dit kan alles vervals of leeg wees. Baie emosie kan ‘n meganiese aanplaksel wees, net so kan stille eerbied ook skyn en tradisie, meer selfgerig as Christus gerig wees. Pasop vir subjektiewe menslike beoordeling. Dit sal noodwendig verskil van persoon. Ons kan hierdie vraag nie beantwoord aan die oormaat of gebrek aan desibels tydens ‘n erediens nie. ‘n Meer betroubare en objektiewe manier om hierdie vraag van hoe ‘n Geesvervulde kerk lyk te beantwoord is om dit te doen vanuit die werk van die Gees. Ons onderskeiding moet gebou wees op die Skrif feite oor die Heilige Gees. Die Gees het ‘n bepaalde werk. ‘n Bepaalde doel en oogmerk. As dit sigbaar (en hoorbaar) plaasvind in ‘n gemeente sou mens met reg die afleiding kon maak dat Hy teenwoordig is. Kom ons kyk samevattend hierna vanuit die beskrywings van die Geesgedrewe getuienisse in Handelinge:

In ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is word die Gekruisigde Jesus waarlik as die opgestane Here erken en bely. Hoe werk dit nou alles? Jesus is aan die eenkant die uitverkore lydende Kneg. Die Geesvervulde apostels verkondig baie duidelik dat Jesus die lydende kneg was wat aan die kruis gesterf het in ooreenstemming met die Skrifte (Jesaja 53). Aan die anderkant; die Pinkstergebeure maak van die bang en onseker apostels vrymoedige getuies van Jesus se opstanding en heerskappy. Jesus tree dan ook inderdaad in Handelinge op as die opgestane Here. Nie meer lydende kneg nie, maar verheerlikte Here! Ja, Jesus die veragte kneg, bekend met swakheid en smarte, honger en dors, die Jesus wat met kinders, weduwees en bedelaars gemeng het, wat ander se spoeg in sy gesig moes verdra is nou die Here! Ons kry reeds ‘n dramatiese aanduiding van sy verheerlikte status as Hy die woorde van die God van Israel op sy lippe neem : “Julle sal my getuies wees.....” HY is Here, dis nou duidelik dat die kneg waarlik God is! Die konteks in Jesaja wat die agtergrond vorm van hierdie opdrag is baie belangrik- God se regsgeding (hofsaak) met die nasies om te bewys dat Hy die enigste God van die heelal is! (In hierdie hofsaak tussen God en die nasies, beroep God Hom op sy volk Israel as getuies, want hulle het mos sy kragtige verlossing uit Egipte ondervind. Die groot tragedie dan is dat hierdie getuies blind is. Hulle wat moes getuig het nou self agter die afgode aangeloop en het nutteloos as getuies geword. In die Nuwe Verbond genees God nou die getuies en maak hulle siende en bekragtig hulle. Daarom is dit so insiggewend dat toe God in Handelinge een van hierdie getuies uitkies en verander, naamlik Saulus, daar letterlik iets soos skille van sy oë afval! Die boodskap is duidelik : Die voormalig blinde getuie kan nou sien!) Handelinge 1:8 sê ook egter iets wonderbaarliks oor Jesus! Wanneer Jesus hierdie woorde op Sy lippe neem maak HY presies juis aanspraak op die uniekheid van God. Hy self is die enigste ware God, die God van die Nuwe Israel. Hy, nie die afgode nie is die ware God en Redder van die wêreld. Die taak van die Heilige Gees is om te getuig en te oortuig van die heerlikheid van Jesus.* Maar meer nog die Heilige Gees word gestuur om ons te bekragtig om te getuig oor die Goddelike heerlikheid van Jesus sodat hy die eer kan kry wat Hom toekom as Here.

In ‘n Geesvervulde gemeente sal daar absolute oortuiging van die uniekheid en genoegsaamheid van Jesus, van Jesus in beide hierdie fasette - Kneg en Here:

Van Jesus as Kneg met ander woorde die een wat gesterf het vir ons sondes - hierdie feit is die fondasie van sekerheid en ons gemoedsrus. Dis die enigste manier om die duiwel se aanklagte en beskuldigings teen ons te hanteer. John Newton, die bekeerde rampokker wat betrokke was in die gruwelike slawehandel en na sy bekering die skrywer van “Amazing Grace” skryf ook ‘n ander vers wat soos volg klink : 

“Be Thou my shield and hiding-place,That sheltered near Thy side,I may my fierce accuser face, And tell him, Thou hast died.”

Dink aan John Newton... sy goddelose lewe, in die dieptes van ellende, daar’s feitlik geen sonde wat hy nie gedoen het nie... Dink net hoe sou die duiwel hom aangeval het en weer die bose prentjie van sy verlede voor hom opgerakel het... “Toe wil jy nou regtig sê jy is ‘n Christen, vergewe? Onthou jy nog daardie boosheid, wreedheid, verkragting...?” Wat kon hy die duiwel antwoord? Wel in hierdie vers sê Newton wat sy antwoord was. Daar is net een antwoord om die duiwel mee stil te maak : Christus het gesterf!

~ Maar terselfdertyd gaan die Geesgedrewe getuienis oor Jesus ook ‘n erkenning van Jesus as Here, Heerser, die een voor wie ons buig, vir wie ons gehoorsaam, vir wie ons bereid is om te ly. Hy moet die eer kry, die fokus sal op Hom wees. ..

Eenvoudig saamgevat - ‘n Geesvervulde gemeente (of persoon) sal bly wees oor Jesus en gehoorsaam wees aan Hom. Bly wees oor Sy werk aan die kruis, gehoorsaam aan Hom as Here en koning. Dit sal sigbaar word in praktiese sake soos heiligheid, gebedsywer, begeerte om Sy woorde te hoor en oordink en vrymoedige getuienis. Die Heilige Gees transformeer getuies om hiervan te getuig tot aan die eindes van die aarde. 

Is jy al deel van die getuigende skare wat die oorwinning van Jesus aan die wêreld verkondig en demonstreer?

* Vergelyk Johannes 16:7 een verder

NASKRIF : Ek het tans die heerlike voorreg om hierdie reeks Pinksterboodskappe in die NG Gemeente van Omaruru aan te bied. Dankie, ds. Jaco Rossouw!


[ NGK Omaruru]

Vir die begin van die PINKSTERREEKS 2014 kliek op HANDELINGE VAN JESUS

Donderdag 14 Maart 2013

DIE MAN ONDER DIE BOOM

- getuienisgreep wat herinner aan Handelinge.

['n Verdere uittreksel uit die boek wat ek skryf oor my Pa wat verlede jaar oorlede is. Vir die eerste uittreksel, kliek op WAARLIK VRY - die laaste sigaret ]

As mens die verhaal van die Etiopiër op die wa in Handelinge 8 of Kornelius en Petrus in Handelinge 10 lees,  sien ons hoe die Here aan beide kante werk om ‘n afspraak te bewerkstellig. ‘n Engel het met Filippus gepraat en hom gestuur, maar die feit dat die Etiopiër juis toe besig was met die lees van Jesaja, was ook nie toevallig nie. Net so het die Here aan die een kant aan  Kornelius 'n opdrag gegee deur Sy engel, maar aan die ander kant werk Hy met Petrus deur die nagmerrielaken vol onrein diere om hom vir ‘n spesiale opdrag voor te berei.  Petrus het geweet dit is die Here wat hom, ‘n Jood, na ‘n heiden stuur.  Petrus moes maar net sy mond open en sê wie Christus is: “Van Hom getuig al die profete dat die wat in Hom glo bekering en vergifnis van sonde in Sy naam ontvang.”  Johan de Koning kon getuig van ‘n soortgelyke ervaring.

Maandagmiddag 6 Oktober 1954, net na sy terugkeer van  die wonderlike konferensie waar God met hom ontmoet het, stap Johan in Schoemanstraat, Arcadia oppad na die kantoor van die Aartappelraad om sy fiets wat daar gestoor was te gaan haal. Onder ‘n boom langs die sypaadjie gewaar hy ‘n  swartman. Meteens kom daar diep in sy binneste die gewaarwording : “Gaan praat met daardie man!” Sy innerlike reaksie was onmiddellik : “Wat, ek met ‘n kaffer gaan praat hier in die straat! Wat sal die mense sê?”  (Onthou, dit was nog apartheidsjare! Dit was die woord wat in sy gedagtes was.) Johan stap nog aan en toe hy regoor die man was, was die “stem” so duidelik dat hy geen twyfel gehad het dat dit die Here was wat met hom gepraat het nie.  Hy los maar sy argument van “wat sal die mense sê?” Johan het na die man gestap en gegroet. Hy was besig om te lees. “Wat lees jy?”, vra Johan.  “My Basie”, kom die eerbiedige antwoord, “Ek lees van Jesus.”  Nou was Johan nog meer bewus dat die Here in die saak is. “Maar ken jy die Here Jesus?”, vra Johan weer.   “Nee, Basie, maar ek wil Hom graag ken.”  Johan se vrees het nou in oorvloedige blydskap verander.

Johan het die man gevra om te wag sodat hy sy fiets kan gaan haal en uitgenooi om dan saam met hom na sy kamer te gaan. Hy was nou haastig. Die gebou se ingangshek waar sy fiets was, was gesluit. Byna desperaat pluk hy aan die hek en roep na die wag. Gelukkig was die wag daar en kon hy sy fiets kry. Toe Johan so ‘n halfuur later weer terug is, het die man onder die boom nog gewag.

Saam stap die twee na Johan se kamer. Hy het op sy bed gaan gesit, en die man so skuins teen sy kamermaat se bed.  Met geen ondervinding, maar darem kennis van verse soos  1 Johannes 1:7 en 9  het Johan die man gehelp.  Met oortuiging het die man gesê : “Ek glo”  en het hulle saam op hulle knieë gegaan om te bid. Dit was ‘n onvergeetlike hemelse ondervinding. Die volgende dag het Johan vir hom ‘n Bybel gekoop.

Lees ook PA WORD TAGTIG

Maandag 23 April 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (9)

- die lofliedere gee ‘n Christusperspektief

Ons het verlede keer gekyk  na die funksie van die Ou Testamentiese apokaliptiese beelde. (Diere, koppe, horings ens.)  Hulle gee nie detail antwoorde op die vraag : Wanneer sal als gebeur? nie. Hulle volg ook nie 'n kronologiese volgorde nie. Hulle antwoord is net : Aan die einde of anders gesê op die Dag van die Here!  Onthou weer die dissipels se vraag in Handelinge 1:6. “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord (vers 7,8) oor die Heilige Gees en hulle getuienistaak, wys daarop dat God se Koninkryk gevestig word in die laaste dae nl. die tyd tussen sy eerste koms en sy wederkoms! (Dit sluit NOU in!) Die Dag van die Here kom o.a. tot vervulling in en deur die kerk soos en wanneer ons die evangelie verkondig! Getuienis is nou ons groot taak!

Die dissipels se fout (en baie van ons s’n vandag) was om die herstel van die Koninkryk of die dag van die Here as een dramatiese gebeurtenis te sien en te verwag. (En tussendeur al ons spekulasies, ons getuienistaak te verwaarloos)

Die basiese inhoud van die Dag van die Here is die Jesusgebeure, m.a.w. die evangelie van die kruis en die opstanding! Die einde het aangebreek in Jesus : die geslagte Lam wat gely het, Hyself het die groot verdrukking deurgegaan, Hy behaal die oorwinning, die groot slag teen Satan is gewen aan die kruis, deur sy kruis en opstanding bind hy die Satan ens. Hierdie Jesus gebeure het vir ons die ewige erfenis van die Koninkryk verwerf!
Jesus doen dit deur lyding (LAM), maar Hy is reeds die oorwinnaar (LEEU)! Ons as die verlostes, die kerk van Jesus deel in hierdie dubbele karakter. Die kerk word geroep tot lyding (ons kan dit nie vryspring nie), maar is terselfdertyd oorwinnaars! Ons finale verheerliking sal egter eers plaasvind by die finale verheerliking van Jesus  by die wederkoms!

Ons probleem in praktyk is dat ons menslike beperkte perspektief veroorsaak dat ons lyding wat ons nou verduur, die heerlikheid wat reeds ons s’n is, laat verdof. Weens ons swaarkry is ons geneig om die heerlikheid wat aan ons behoort mis te kyk en daarvan te vergeet. Dis juis hierdie  probleem en misverstand wat Openbaring wil regstel.

Die evangelie feite is die oorheersende feite in Openbaring! Jesus en sy oorwinning is die groot gebeurtenis van die verlede, hede en toekoms! Dis waar die klem moet val en wat ons moet laat koershou. Kom ons kyk net weer hoe bied Johannes dit aan reeds in die inleiding in
Openbaring 1:5-7

Verlede tyd : (5,6) Jesus het ons bevry, verlos en ons ’n Koninkryk van priesters gemaak.
Hede : Jesus is NOU die Heerser oor al die konings van die aarde! Hy is NOU die beskermer van die gemeentes. (16,20) Hy het NOU alle mag oor lewe en dood! Die hele boodskap van Openbaring is ook van toepassing op die NOU! 
Toekoms : Hy kom sigbaar in die toekoms! (7)

Belangrik : Die feit dat Jesus NOU regeer beteken dat HY reeds die oorwinning behaal het oor sy vyande (Satan) deur die kruis en opstanding! Dis nie iets wat nog moet gebeur nie. (Die Satan hoef nie nog gebind te word nie, Hy is alreeds gebind!)

Hierdie fokus op Jesus as die Oorwinnaar word ingebring  tussen die apokaliptiese beelde wat uit die Ou Testament  kom. Dit word gedoen deur kort-kort  himniese gedeeltes (met ander woorde deur lofliedere en ook gebede) in te voeg tussen die beelde van diere, koppe, skale, ruiters  ens!  Juis om ons te laat verstaan dat ons die Ou Testamentiese profesieë en beeldspraak  moet interpreteer in die lig van die Jesus gebeure, die evangelie! Die Jesus gebeure is die vervulling van die Ou Testamentiese beelde!

Kyk saam na  Openbaring 5:9-10, 12. Let op die gebeurtenis van die verlede, naamlik die sterwe van Jesus skep die realiteit van die Koninkryk van priesters. “Hulle sal regeer” lê in die toekoms maar hierdie toekoms is nie in die verre toekoms alleen nie, maar ’n voortgaande reëling vanaf die tyd van verlossing! Ons as verlostes is ALREEDS sy Koninkryk van priesters (vgl. 1:6; 5:10) Openbaring bevestig net dit wat Paulus in Romeine 8:30 sê oor ons verlossing wat ’n vaste feit is! (Lees) 

Kyk na ’n ander lofgedeelte. In Openbaring 11 (maak jou Bybel gerus hier oop) kry ons die gedeelte oor die twee getuies wat doodgemaak is. (Twee is ’n getal wat op getuies dui - “in die mond van twee of drie getuies staan iets vas”) Kyk na Vers 9, 11- "drie en ’n half dae" - selfde as "42 maande" en "1260 dae" - drie en ’n half is simbolies ’n tyd van verdrukking. (Hierdie simboliek gryp terug op die  verskriklike verdrukking van drie en ‘n half jaar wat Israel beleef het onder die tiranie van Antiochus Epifanus in die 2de eeu vC. Dis ‘n tegniek wat die skrywer telkens gebruik om ‘n gebeurtenis of  term van die verlede as ‘n simbool te gebruik om ‘n bepaalde gedagte of nuanse oor te dra. Kom ek probeer dit verduidelik:  In ons geskiedenis was Bloedrivier ‘n geweldige slag wat nog steeds emosies gaande maak en bepaalde gebeure oproep. Almal weet darem van Bloedrivier! Ons gebruik nog steeds die term “Bloedrivier” om ‘n groot geveg of stryd aan te dui. Na ‘n besonder taai geweldadige rugbywedstryd sou ons vandag nog kon sê : “Sjoe, dit was ‘n regte Bloedrivier op daai veld! So dra ons ‘n emosionele konnotasie oor, iets van die intensiteit van die wedstryd, maar ons bedoel beslis nie dit was letterlik ‘n militêre veldtog nie.)  Die twee getuies simboliseer die getuigende kerk wat  onder druk en aanval van die bose verkeer, maar ten spyte van  terugslae oorwinnend is! Hierdie perspektief word dan gegee deur die stemme in die hemel wat heerskappy van Jesus bevestig. (11:15) Dit word aangevul deur die woorde van die 24 ouderlinge. (11:17-18) ’n Pragtige parallel van hfst 11 kry ons in Romeine 8:36,37 (Lees) Oorwinning te midde van swaarkry en selfs die dood!

Net terloops. Hierdie groot verdrukking van drie en 'n halwe jaar is nie 'n tyd wat nog iewers moet kom nie! Dis die belewing van verdrukking wat alle kinders van God in alle eeue moes verduur. Hoeveel kinders van God moes al op brandstapels en deur ander allerwreedste maniere sterf - hoe moet 'n verdrukking wat nog groter is as dit dan lyk? Of wat van die lyding van God se kinders in Noord-Korea? Kan Openbaring hulle troos as dit ons wil vertel dat daar iewers 'n groot verdrukking moet kom. Nee, hulle is reeds in die groot verdrukking en Openbaring verseker hulle en ons, dat God dit net tot op 'n punt sal toelaat!

Maar ten spyte van die werklikheid van verdrukking, vind ons hier 'n heerlike vertroostende boodskap vir elke getuie:

Kind van God, jy is onsterflik, onaantasbaar en onoorwinlik totdat God sou besluit dat jou getuienistaak op aarde afgehandel is! Getuig dus vrymoedig sonder vrees!

In Openbaring 15:1-5 kry ons die lied van die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld. Dit word genoem die lied van Moses. Dit word so genoem na aanleiding van die lied wat die Israeliete gesing het in Eksodus 15 nadat God hulle deur die Rooisee verlos het uit die hand van die Egiptenaars. (Weereens, Johannes vat ’n Ou Testamentiese tema en ontwikkel dit verder) Daar is min letterlike ooreenkomste in die lied behalwe met Eksodus 15:11. Die groot ooreenkoms lê in die perspektief op verlossing!   Die lied van Moses herdenk die magtige verlossingsdaad van God met die Uittog/Eksodus! Dis ’n gebeurtenis wat vooruitgesien het op die nuwe eksodus, die verlossingsdaad deur Jesus aan die kruis toe Hy ons uit die slawerny van sonde bevry het. Die groot dade waarvan die verlostes nou sing in Openbaring is die evangelie gebeurtenisse. (die kruis en opstanding van Jesus) Dit is die Dag van die Here wat aangebreek het in die Persoon en werk van Jesus. Israel het God se verlossingsdade aanskou en sing ’n lied, ons as gelowiges reageer ook met ’n loflied op die evangelie dade van verlossing in Jesus Christus.

SING JY SAAM OOR JESUS SE VERLOSSINGSDADE?

* Sien  Graeme Goldsworthy : The Gospel in Revelation