BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kansvatters. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kansvatters. Wys alle plasings

Dinsdag 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev 


Vrydag 24 Oktober 2014

SKOKWOORDE

- wat die valse hoop van kansvatters en verneukers gaan vernietig.

Op die laaste dag van afrekening gaan daar onaangename verrassings wees... Jesus stel dit baie skerp :



Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.


Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

(Matteus 7:21-23)

Mense wat baie seker was van hulle saligheid gaan die verdoemende woorde van Jesus moet aanhoor : “Gaan weg...!” Hierdie is van die ernstigste woorde en waarskuwings van Jesus. Dis skokwoorde en juis daarom moet ons onverdeelde aandag gee en probeer verstaan wat Hy bedoel.

GERED DEUR WERKE?

Onmiddellik kom ‘n vraag by mens op : “Hoe nou, leer Jesus redding deur werke? Moet ons dit regkry om God se wil te doen voor ons verlos kan word? Ons vier juis dan in Oktober* die Protestantse Reformasie van die 16de eeu wat ons weer geleer het dat ons nie redding vind deur werke en prestasies nie, maar net deur persoonlike geloof in Jesus.” 

Wees gerus : Redding kom net deur geloof in Jesus. Keer op keer het Jesus self hierdie waarheid bevestig.

Nee, Jesus leer nie redding deur verdienste nie, Hy wil wel ons oë open vir die groot gevaar van selfmisleiding, van valse vrede, valse geloof, valse sekerheid, vals belydenis! In die voorafgaande gaan dit oor misleiding deur vals profete (15-22), hier val die klem op selfmisleiding. In ‘n sekere sin is dit net ‘n bevestiging van dieselfde beginsel. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. ‘n Christen sal aan sy dade geken word. ‘n Christen word nie deur sy dade gered nie, maar deur geloof. Geloof bly nie alleen nie, dra goeie vrugte.

Die boodskap van die Reformasie was : Redding deur geloof alleen. Baie kerklidmate het dit verander na : Reddig deur skyngeloof.

Net so min as wat die Bybel (en Reformatore) redding deur werke leer, net so min leer hulle redding deur vals geloof!

Kom ons kyk na twee gevare wat in Jesus se waarskuwing onderstreep word:

1.Om uiterlik die regte feite oor Jesus te glo en te bely beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Verstaan goed, Jesus kritiseer nie mense wat sê : “Here, Here” nie. Jesus is nie daarteen dat ons sy naam bely nie. Inderdaad moet ons kan sê : “Jesus is die Here, my Here.” Ons moet sonder skaamte sy naam voor mense bely. Die punt is egter moenie jou sekerheid bou op ‘n belydenis wat jy lank gelede afgelê het of ‘n rympie wat ek agter iemand aan gebid het nie. Vra jouself of jy daardie belydenis uitleef? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? As jou geloof eg was sal dit tot sigbare verandering lei.

Uiterlike belydenis van die waarheid alleen is nie genoeg nie, dit moet gevolg word deur ‘n veranderde lewe volgens God se wil. Spesifiek God se wil van heiligheid soos uitgespel in die res van die bergrede. God se wil wat dieper gaan as net ‘n oppervlakkige kyk na byvoorbeeld die sesde of sewende gebod. God se wil deur vrugte te dra van lewensheiliging en gehoorsaamheid. Anders gestel ‘n belydenis wat nie opgevolg word deur dade nie, is ‘n vals belydenis. Reeds in die Ou Testament verwyt God sy volk in Maleagi en vra : Julle noem my Here, maar waar is die respek vir my?" Duie Nuwe Testament maak dit duidelik dat nie alle geloof, egte geloof is nie! Geloof wat nie tot werke lei nie, is volgens Jakobus, 'n dooie geloof! Dis tog ‘n algemene logiese beginsel. ‘n Man wat vir ‘n dame sê : "Ek het jou lief, jy is my enigste liefde", maar nooit tot trou wil kom nie, se belydenis van sy liefde is mos vals... Dis die enigste logiese afleiding.

2.Om vol ywer en sukses te wees vir die Christelike saak beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Jesus kritiseer nie mense vir hulle ywer en entoesiasme nie. Hy sê net nie almal wat sulke ywer openbaar sal noodwendig ingaan in die Koninkryk nie. Daar is iets soos valse en misplaaste ywer! Jesus noem voorbeelde van sulke ywer. (22) Om te kan preek (profeteer) bewys nie dat jy ‘n noodwendig ‘n Christen is nie. Dink maar aan die Ou Testamentiese voorbeelde van Bileam en koning Saul. Hulle kon profeteer, maar dis duidelik dat hulle nie ware dienaars van God was nie!

Ook selfs die mag om duiwels uit te dryf bewys nie ek is noodwendig ‘n kind van God nie. (Selfs Judas Iskariot kon dit doen soos ons kan aflei.) Ons moenie uiterlike gawes en wonderwerke met genade verwar nie! Almal wat gawes het, het nie noodwendig egte genade ontvang nie, want daar is valse gawes. Die Egiptiese towenaars was sonder God se genade, maar kon dieselfde wonders doen wat Moses en Aäron gedoen het. Wonderwerke opsigself sê niks! In alle godsdienste vind daar beweerde wonders plaas!

DIE PROBLEEM

Jesus sê baie duidelik wat hierdie valse gelowiges se probleem is. Hulle verwerp en oortree God se wet.** (23) Hulle verset hulle teen God se opdragte. Dis baie duidelik, ook in die Nuwe Testament gee God opdragte. Daar is dinge waarvan Hy hou en dinge waarvan Hy nie hou nie. Paulus,wat absoluut klem geplaas het op redding deur geloof alleen gee ‘n soortgelyke waarskuwing as Jesus in Galasiërs 5:19-21. "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." En opvallend, dis juis in hirdie brief wat Paulus dit die sterkste onderstreep dat redding alleenlik deur geloof geskied!  (Sien ook 1 Korintiërs 6:9,10. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”) Dit beteken nie ‘n kind van God kan nooit in sondes, ook dié sondes val nie. ‘n Kind van God kan inderdaad struikel, maar nie sorgeloos in hierdie sonde bly lê en volhard nie... Wie God se genade as denkmantel en verskoning gebruik om aan te hou sondig speel met vuur... Hieroor is die brief van Judas baie eksplisiet duidelik... (kliek op GOGGAS)

EN NOU?

Wat staan ons te doen? Ondersoek jouself of jou geloof in Jesus eg is. Vra jouself of jy jou belydenis ernstig bedoel. Die Bybel roep ons voortdurend op tot selfondersoek. Vra jouself of daar egte vrugte van heiligheid, toewyding en oorwinning oor sonde in jou lewe is. Dit sal die spontane reaksie wees van elke kind van God, ook nou! Trouens, as hierdie woorde van Jesus jou nie onrustig maak nie, is daar fout. Juis die opregte gelowige sal dit ter harte neem, opnuut sy sonde besef en na Jesus vlug as enigste hoop. "Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas..."

Positief gestel : Wie Jesus liefhet en in Hom glo, sal erns met sy opdragte maak! Dit word saamgevat in die opdrag van die liefde. Die liefde tot God en my medemens. (Johannes 14:15,21)

Gryp Jesus se offer vas en dank Hom deur die wil van God te soek en te doen!

Om 'n dankbare erfgenaam van die Reformasie se herontdekking van die evangelie te wees, behels meer as net intellektuele instemming tot die belydenisskrifte.  Dit behels persoonlike, egte geloof, 'n geloof wat sigbaar word in 'n heilige lewe volgens God se wil.

*Hervormingssondag word op die naaste Sondag aan 31 Oktober gevier, omdat Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het en dit as die begin van die Protestantse Reformasie beskou word.

**Wat word hier met “wet” bedoel? Die tien gebooie? Die hele tora, insluitende die voedselwette oor rein en onrein diere? En wat dan van die besnydenis? Om dit kort te stel : Dit gaan oor die hele tora (wet van Moses) soos dit deur Jesus verklaar, verskerp en geherinterpreteer word, spesifiek in die Bergrede, maar ook in die res van die evangelies en die neerslag daarvan in die Nuwe Testament as geheel. Jesus as die ware Moses, die Seun van God het die volmag om dit te doen. Dit lei immers nie tot ‘n afgewaterde etiek en standaard van lewensheiliging nie, maar tot ‘n baie hoër norm van heiligheid. Vanuit hierdie perspektief weet ons : ons hoef ons nie meer aan voedselwette te hou (Markus 7) of die besnydenis te beoefen nie. (Handelinge 15 en die Galasiërs brief) Ons verstaan nou die tora (wet) deur die VERGROOTGLAS van Jesus se lewe, woorde en afgehandelde offer! (Vir meer oor die Joodse Sabbat en voedselwette, kliek op SKADUWEE)


Die groot Hervormers : Luther, Calvyn, Zwingli.