BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwe toekoms. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwe toekoms. Wys alle plasings

Donderdag 23 Maart 2017

HINKEPINK*

‘N NUWE TOEKOMS IN! 

"Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,..." 

[Jakob is op pad terug na sy geboorteland nadat hy vir Esau moes vlug. Hy moet nou weer vir Esau in die oë kyk en is baie bevrees. Hy maak allerhande planne om Esau met geskenke te paai. Maar voor hy Esau ontmoet, wag daar ’n ander verrassing vir Jakob. Hier in die nag by die Jabok rivier beleef Jakob ’n ingrypende lewensveranderende ontmoeting met God! Ons lees van hierdie ingrypende gebeurtenis in Genesis 32 :22-32] 

GROOT GEVEG

Wat ’n merkwaardige ontmoeting! ‘n Hewige worsteling! Die man wat teen Jakob baklei, is niemand anders as God self nie! Ja, God “baklei” soms met ’n mens! Maar Hy baklei nie met hom om hom te vernietig nie. Hy baklei met hom om hom te seën! 

Dit gebeur nogal dikwels dat God ’n mens op dieselfde tyd seën en slaan. Anders gesê, die tye wanneer God met ’n mens ontmoet en jou genadig is, is ook terselfdertyd ’n tyd van hartseer en pyn! Hierdie episode in die lewe van Jakob is ’n aangrypende voorbeeld daarvan. Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels uit hierdie gedeelte van hoe God dikwels met ons werk en ons ontmoet: 

Die ontmoeting is God se inisiatief! Jakob maak slim planne om Esau te paai (vers 20b), maar God het al die tyd nog ’n groter plan met Jakob gehad. Jakob maak hom reg om Esau te ontmoet, maar God ontmoet met Jakob. Jakob probeer sy verhouding met Esau reg stel, maar God wil eers werk aan die verhouding tussen Hom en Jakob! God gryp in Jakob se lewe in, Hy “oorrompel” vir Jakob. Dit laat mens onwillekeurig dink aan hoe God baie eeue later ’n Fariseër, op sy pad “oorval” het! Saulus van Tarsus se radikale bekering op pad na Damaskus! God is ’n God van ontmoetings! God werk en praat en stoei met mense! Om hulle te red en te verander. 

Dit was natuurlik nie ’n toevallige ontmoeting nie. God het al lankal ’n plan met Jakob gehad. Twintig** jaar vantevore toe Jakob gevlug het vir Esau, en hy met sy kop op ’n klip geslaap het by Bet-El en gedroom het van die leer met die engele wat opklim na die hemel, het God al met Jakob gepraat. God het hom belowe dat Hy hom sal beskerm en terugbring na sy land. (Gen 28:15) God se ontmoeting met Jakob, kom voort uit sy uitverkiesende genade! God het Jakob al lankal uitgekies en besluit om bemoeienis met hom te maak! Geliefde, die Here stap dikwels ’n lang pad met ’n mens - in jou ouerhuis, deur huisgodsdiens, in die Sondagskool, deur mense op jou pad, en Hy laat jou toe om baie draaie te loop....maar dan kom daar ’n tyd wat God sê : “Nou is die tyd! Nou moet jy voor my buig! Nou is die dag van beslissing en van redding!” Jy sal weet hoeveel keer die Here met jou gepraat het. Jy sal weet hoe lank jy al besig is om jou eie plannetjies te maak. Jy sal ook weet, dis nou die tyd. God roep my nou om Jesus te volg! 

Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:2) 

Die ontmoeting met God is pynlik. Jakob is bang vir Esau. Maar nou kom hy skielik agter dat God sy eintlike "vyand" is. God baklei met hom in ’n pynlike geveg. Jakob moet eers met God versoen raak, voordat hy met sy broer vrede kan maak. Dis dikwels nodig dat die Here hardhandig moet ingryp in ons lewens. Ons is mos maar hardkoppig en hardhorend... Jakob word teen die heup geslaan sodat die heup uit die potjie spring. Paulus is met blindheid getref op pad na Damaskus. God moet ons dikwels eers slaan voor ons luister. Dit kan baie seer wees! Dit kan verskeie vorme aanneem...’n Groot verlies (dood van ’n geliefde), ’n mislukte huwelik, ’n ernstige siekte, ’n finansiële ramp of een of ander groot teleurstelling! Dit kan ook ’n groot vernederende openbare sonde wees, wat God gebruik om mens plat te slaan. (Dink aan Petrus) 

Iemand sê tereg oor hierdie gedeelte dat die fisieke pyn van Jakob nie al pyn was nie. Die ergste pyn was dat Jakob die waarheid oor homself moes raaksien. God vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom? God het mos vir Jakob baie goed geken. Jy, sien ’n naam in daardie tyd was eintlik ’n beskrywing van jou diepste wese en karakter. Nou moet Jakob, antwoord : “Jakob! Ek is Jakob! Ek is ’n bedrieër!” (Dis mos wat die naam Jakob beteken) God konfronteer ons eers met ons eie boosheid as Hy ons wil red en seën! Jesus sê vir die Samaritaanse vrou : “Gaan roep jou man.” Hy ontbloot die feit dat sy al 5 mans gehad het, en op daardie stadium ongetroud saamgebly het met ’n man! God wil hê dat ons die eerlike waarheid oor onsself in die oë kyk. En die eerlike waarheid oor myself is dat ek ’n sondaar is. Maar Jesus het juis gekom vir sondaars en net vir sondaars! Redding begin as ek eerlik is voor God en myself sien as ’n sondaar wat genade nodig het! 

Die ontmoeting met God bring genade en ’n nuwe begin. Nadat Jakob, die bedrieër ontbloot voor God gestaan het, ontvang hy genade. God stel hom nie teleur nie. God stel desperate sondaars nie teleur nie. Ons weet Jakob was op hierdie stadium van sy lewe desperaat dat God moes ingryp in sy lewe. Vers 26 (OAV) “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën.” Begeer jy God se genade bo enigiets anders! Hou moed! Dis nou die tyd dat God jou gaan antwoord! Jakob ontvang genade en die duidelike bewys daarvan is dat God hom ’n nuwe naam gee! “Die man het gesê: "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou." (28) ’n Nuwe naam vir ’n nuwe mens! Iemand het dit so gestel:

Die glibberige aartsskelm word ‘n vroom aartsvader! 

Dis wat genade doen. Genade open ’n nuwe toekoms. As iemand is Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17) 

Daardie wond...

Miskien kan jy vandag terug dink aan die tyd toe God werklik met jou ontmoet het. Dit was dalk ’n baie pynlike tyd, maar dit was ook ’n heerlike tyd toe jy genade en vergifnis ontvang het. Dalk hou jy nou nog letsels, ou wondmerke oor van daardie tyd. Kind van God, dank God dan vir dié letsels in jou lewe, dis ’n herinnering aan die seën wat jy ontvang het! Seën en letsel gaan dikwels saam. Dit word so treffend uitgebeeld in vers 31. “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,...” Dit word spesiaal gemeld, die son kom op! ’n Nuwe dag het aangebreek, ’n nuwe hoofstuk in Jakob se lewe, ’n nuwe begin wat God met hom gemaak het. Positief, heerlik! Maar dit word ook gesê : “Jakob het mank gebly aan sy heup.” Soos iemand dit gestel het : Jakob hinkepink ‘n nuwe toekoms in. Vir altyd sou hierdie mank heup, Jakob herinner aan die dag toe God hom genadig was en geseën het! 

Eers eendag met die aanbreek van die heerlike toekoms by Jesus se wederkoms sal ons heeltemal sonder letsels wees!

Uiteindelik en beslis bring hierdie verhaal mens ook uit by Jesus. Hy het deur sy kruisdood en sy wonde vir ons alle seëninge wat daar is, verwerf : vergifnis, kindskap, die Ewige Lewe, die onverganklike erfenis! Maar dit het Hom ook ’n klomp pyn en letsels gekos. Die merke aan sy hande en sy voete en sy sy was getuienis daarvan - ook na sy opstanding was die letsels sigbaar. Mag Jesus se wonde ons herinner dat die volle prys vir my sonde betaal is, die boete was genoeg! Wees eerlik oor jou sonde in hierdie oomblik, bring dit na Hom. Vertrou Hom! Aanvaar sy vergifnis! Deur sy wonde het daar vir jou genesing van sonde gekom!

*"Die afloop van hierdie ontmoeting met die lewende God is nie dat mens soos 'n held in die destydse "Wilde Weste" - rolprente seëvierend die sononder inry nie. Jy hink die dagbreek van 'n nuwe toekoms binne." AF van der Merwe in  WOORD TEEN DIE LIG II/3

**Genesis 31:41

Maandag 02 November 2015

WAS RUT REGTIG LESBIES?

- kyk eerlik na die Bybelse teks.

Wanneer die sondige mens graag die Bybel iets wil laat sê wat dit nie sê nie, ontsien jy geen moeite of vernuftige grepe om die Bybelse boodskap om te buig sodat dit jou sienings ondersteun nie. ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is gay aktiviste se gebruik van die boek Rut. Rut is ‘n juweel van ‘n boek wat wys hoe God ingryp in gebroke mense se lewens en hulle deel maak van sy groot planne en dis jammer dat juis hierdie mooi verhaal misbruik word vir ‘n sondige agenda. Hoe so? Wel, pro lesbiese liberale teoloë beskou die vriendskap van Rut en haar skoonmoeder Naomi as ‘n voorbeeld van ‘n lesbiese verhouding of vriendskap.

In Rut 1:14 lees ons : “Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly.” (NAV) “Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.” (OAV)

Die werkwoord in Hebreeus wat in Afrikaans met “by haar gebly” of “haar aangehang" vertaal word is דבק. Die persone wat Rut lesbies interpreteer wys graag daarop dat דבק dieselfde woord is wat in Genesis 2:24 gebruik word as daar gepraat word van die man wat sy vrou sal “aankleef” (OAV) Dis inderdaad dieselfde Hebreeuse word en vir ‘n oningeligte kan dit maklik na ‘n deurslaggewende argument klink. ‘n Dieper kyk na die woord en sy gebruik laat mens egter gou weer besef watse valse grond dit is om lesbiese verhoudings te probeer goedpraat:

1. Die woord dat דבק het verskeie betekenismoontlikhede wat geen erotiese konnotasie het nie, soos in Deuteronomium 11:22; 28:21; 30:20, Psalm 22:15, Jeremia 13:11, Esegiël 3:26, 2 Konings 5:27 (in die laasgenoemde teks gaan dit oor melaatsheid van Naäman wat Gehasi en sy nageslag sal aankleef – dit het voorwaar bitter min met erotiek te doen!) 

2. Belangriker nog is om raak te sien dat die skrywer van Rut presies dieselfde woord דבק ook nog twee keer in die boek gebruik naamlik in 2:8 en 2:21. In eersgenoemde geval gaan dit oor Boas se opdrag aan Rut om by die diensmeisies te bly en in laasgenoemde geval om by die werksters te bly totdat die oes klaar ingesamel is. Weereens geen lesbiese of romantiese konnotasies hoegenaamd nie.

Trouens in die hele boek word geensins na homoseksuele verbintenisse verwys nie. Naomi, sowel as haar skoondogters was met mans getroud en is juis deur hulle dood in ellende gedompel. God het egter vir Naomi en Rut uitkoms gebied en ‘n toekoms gebou deurdat Boas bereid was om met Rut te trou. ‘n Groter toekoms as wat hulle ooit sou kon droom, want so word hulle ingeskakel in die geslagslyn van Dawid en Jesus!

Die gebruik van דבק in Rut 1:14 wys bloot op Rut se “commitment” aan haar skoonmoeder in ‘n tyd van nood. Hulle verhouding was die van ‘n skoonmoeder en skoondogter, eintlik meer die van moeder en dogter! Dieper gesien was dit ook ‘n bekering van ‘n Moabitiese vrou tot die lewende God van Israel soos vers 1:16,17 duidelik wys!

(Sien ook ALGEMENE SINODE EN RUT)

(Erkenning aan Peter Ould)

Vrydag 27 Februarie 2015

VERTROUE OP DIE WOORD

- SLUIT ‘N NUWE TOEKOMS OOP!

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een enkele vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Petrus moes dus baie mismoedig gewees het,... maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

GOD PRAAT

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal wat ons vind in LUKAS 5:1-11. Reg aan die begin hoor ons dat die skare vorentoe beur om God se Woord te hoor. (1) Ja, Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) Hy kry ‘n duidelike bevel : “Vaar uit na die diep water...” Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. 

Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit - "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite, vrese en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. [God het 'n baie groter plan vir Petrus gehad as bloot materiële welvaart. Kyk, as Petrus hulle elke dag met elke vangs hulle skuite kon volmaak, sou hulle lekker kon leef en dalk luukse villas daar langs die see kon bou... maar nee, Jesus was besig om Homself aan Petrus te openbaar en hom vir 'n nuwe toekoms voor te berei, wat alles behalwe rykdom en gerief sou behels...] Daar gebeur ‘n groter wonder in Petrus hart as in die skuit. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." (8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Die belofte van Esegiël 36:31 word waar in sy lewe.* (Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want van nature is ons mos baie oulik en goed in ons eie oë!) Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop en 'n nuwe toekoms van bruikbaarheid in God se diens. En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. 

Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (Dink aan Abram se keuse om God se belofte te glo oor ‘n nageslag al was hy en Sara oud en oor die muur!).

Geliefde, hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie, maak nie saak wat die duiwel vir my fluister nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons... En God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie...

GOD SE BELOFTES IS GROTER AS ONS MISLUKKINGS! 

* Dis deel van die uitwerking van die beloofde Nuwe Verbond - “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”