BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kerkwees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerkwees. Wys alle plasings

Woensdag 22 Mei 2019

Kliniek of Paradegrond?

- Die Bybelse benadering tot praktiese Christenskap en heiligheid mag jou dalk verbaas... 


Kom ons oordink spesifiek 1 Timoteus 6:12-16. (lees dit gerus) Paulus skryf ‘n persoonlike brief aan die jongman Timoteus om hom aan te moedig en raad te gee. Hy skryf onder andere oor die gevaar van dwaalleringe en in die direkte voorafgaande gedeelte oor die groot, maar subtiele gevaar van die liefde vir geld. (9,10) Geldgierigheid is dodelik gevaarlik vir ‘n kind van God! 

Met dit as agtergrond stel Paulus nou vir Timoteus voor ‘n direkte uitdaging of sommer ‘n prontuit bevel : “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Timoteus 6:12) 

Kom ons hoor dit mooi : 

“Stry die goeie stryd van die geloof!” * 

Prakties behels dit ‘n wegvlug en afkeer van als wat verkeerd is (soos geldgierigheid) en ‘n najaag en gryp na dit wat reg is. (11) Paulus wil sê :“Komaan Timoteus, jy het mos openlik voor getuies bely aan wie se kant jy is (ek herinner jou net daaraan), nou moet jy vasvat en aangaan en volhard en werk maak van jou geloof! Dis ‘n harde geveg wat voorlê!” 

Die hoofsaak wat ons aandag vra is : Die Bybelse begrip van praktiese Christenskap, heiligmaking en groei behels ‘n aktiewe robuuste stryd! 

TWEE TEENOORSTAANDE BENADERINGS 

Daar is twee sterk teenoorstaande benaderings of sienings van hoe Christene dink heiligmaking en groei aangepak behoort te word. Afhangende van watter benadering mens voorstaan, het dit ook ‘n bepaalde effek op jou verstaan van kerkwees. En wat jy van die kerk verwag... 

Die twee benaderings kan genoem word: Die kliniek benadering en die paradegrond benadering. 

KLINIEK 

Die kliniek benadering klink dikwels so: “Ag, ons verstaan hoekom jy nie betrokke wil wees by die kerk nie, want soveel mense het jou teleurgestel en jou seergemaak. Ag, ons verstaan waarom jy nie sonde wil los nie, want jy het nie ‘n goeie voorbeeld in jou ouerhuis of skool gehad nie. Ag, ons almal is so swak, ons is so besig, ons is so onvolmaak, ons is so menslik, die Here sal verstaan as ons Hom maar die laaste plek in ons lewe gee. Ag, ek is so swak ek sukkel om te groei, sonde te los of te getuig. Maar, wat dit is nie so ernstig nie, want ons almal sukkel maar...” 

Vanuit hierdie besef van voortdurende swakheid, sondigheid en ellende verstaan en beskou mense die kerk as ‘n kliniek waar ons heeldag pilletjies gee, windjies uitvryf en vars doeke aansit. O, en daar mag tog net niks gesê word wat iemand sal ontstel nie! Sonde mag nie by die naam genoem word nie. Laksheid en die verbreking van beloftes mag nie direk aangespreek word nie. As iemand my net skeef aankyk, net effentjies op my tone trap, dan vat ek my goed en loop na ‘n kerk wat as ‘n meer simpatieke kliniek kan funksioneer... Die klem in hierdie benadering is altyd op die individu se gevoelens en gemoedstoestand en allerhande probleempies. “O, soveel mense en dinge het my seergemaak in my lewe…” En wat is die gevolg? Al die aandag op myself en my hartseer situasie vuur net selfbejammering en verskonings en passiwiteit aan! Daar is ‘n sieklike klem op sentimentaliteit en subjektiwiteit… Hoe voel ek, hoe word ek behandel, hoe raak dit my….? 

PARADEGROND 

Die paradegrond benadering kyk vanuit ‘n heel ander hoek. Die vertrekpunt is juis (anders as wat jy dalk sou verwag) God se omvattende en genoegsame genade. God het ons in Jesus volkome vrygespreek, Hy dink nie meer aan ons sonde en mislukkings nie. Sy liefde is vas en seker vir sy kinders. Niks kan ons daarvan skei nie. (Romeine 8:31ev.) Maar juis weens sy groot en ryk genade rus daar ‘n dankbaarheidsplig op elke ontvanger daarvan. Die verlede is mos verby! Nou word ons opgeroep tot die stryd! Nou is die tyd vir sterk staan en weerstand bied teen die sonde! Die oorwinning is mos reeds behaal op Golgota! Die graf is leeg! 

Wat ‘n groot verskil met die kliniek benadering! Die bekende Martyn Lloyd-Jones het homself prontuit hieroor uitgespreek : “The main trouble with the Christian Church today is that she is too much like a clinic, too much like a hospital; that is why the great world is going to hell outside.”** (Terloops, hy was nie ‘n harde man nie! Hy was ‘n ware sielesorger en boonop nog ‘n mediese dokter ook! Maar hy het die waarheid van die Skrif ernstig opgeneem.) 

WEES ‘N DAPPER SOLDAAT! 

Die Bybelse benadering tot heiligmaking is die van ‘n paradegrond, van opdragte aan ‘n soldaat! Geen pamperlang benadering nie! Geen toedraai in watte aanslag nie. Geen plek vir sissies nie. Stry die goeie stryd van die geloof! Hoor Paulus se styl : “Ek gebied jou/beveel jou voor die aangesig van God...” (13) Dis paradegrondtaal! Geen mooipraatjies nie! Ja, as daar wonde en letsels is dan verbind ons dit in liefde met die Woord, maar ons bly nie broei daarop nie, ons gebruik dit nie as verskonings nie, ons gaan positief aan met die stryd, ons hardloop die wedloop! Dis dwarsdeur die Nuwe Testament die benadering tot die leef van die Christelike lewe : 

Romeine 8:13 “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” Aksie, daadwerklike optrede! 

1 Korintiërs 16:13 “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 

Efesiërs 6 :10ev “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” 

2 Timoteus 2:3 “Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.” 

Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle moet bereid wees om nog baie harder teen die sonde te stry!” “ten bloede toe” soos die OAV dit stel. 

2 Petrus 1:3-5 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met....” 

Dis duidelik, die hele spektrum van Nuwe Testamentiese skrywers het hierdie positiewe, robuuste paradegrond benadering! 

Hierdie Bybelse oproepe onderstreep : Dit gaan oor die Koning en sy opdrag, nie primêr oor myself en my puntenerige behoeftetjies nie! Sy eer en nie my gerief nie! Stop die fokus op my gevoelens, my mislukkings en my suksesse. Raak ontslae van 'n sieklike selfbeheptheid en selfgesentreerdheid! Die vraag is : Wat bring eer aan die Koning, wat maak Hom bly? Wat is sy wil, sy opdragte? Die klem is nie meer op my as individu nie, maar die saak van die Koning, die welsyn van die kerk van Jesus, die groter prentjie… Hy is immers die Koning van die konings en die Here van die here! (15) Vergeet bietjie van jouself en doen wat jy moet doen! En weet jy wat? Juis hierin lê ons vreugde! 

Kinders van God, wat vrygespreek en vergewe is, wat die Heilige Gees ontvang het, is nie meer slagoffers nie, maar soldate! 

Ons is geloofstryders! As ons ons geloof bely dan is dit ‘n openlike toetrede tot die weermag van Jesus, onderwerping aan sy gesag, ‘n bereidverklaring om die stryd tot die einde te stry onder sy bevel! My vriend in Jesus, STRY DIE GOEIE STRYD! 

*Die NAB vertaal dit effens anders, maar die nuutste Afrikaanse vertaling, sluit weer aan by die OAV. “Stry die goeie stryd van die geloof!” (DLV) 

**Martyn Lloyd-Jones, Romans 6, p174

Vrydag 26 Oktober 2018

NIE ‘N SELFIE NIE,

MAAR ‘N LUGFOTO! 


Christenskap. Oor wie en wat gaan dit nou eintlik? Wat is die voordeel, die nut en die doel daarvan? As ons dit in terme van ‘n foto moes verduidelik, sou dit ‘n selfie, ‘n groepfoto of ‘n lugfoto wees? 

Kom ons tel dit sommer reg van die begin af - die Bybelse begrip van Christenskap, gaan nie oor ‘n selfie nie, maar oor ‘n lugfoto! Anders gesê dit gaan nie oor ‘n klein prentjie waar ekself die middelpunt en fokus is nie, maar oor ‘n groot prentjie, die groot prentjie van God se planne en God se eer! 

In ons dag is die versoeking baie groot om “selfie Christene” te wees. Die individualistiese selfie kultuur het oorgespoel na mense se verstaan van kerkwees en Christenwees. 

SELFIECHRISTENE. 

Hoe lyk en hoe klink hulle? Die selfiechristen sê : 

-Ek is seker van my saligheid en dis vir my genoeg. Al my planne en polisse is in plek, ook my polis teen die hel. Nou is ek veilig, nou kan ek rustig aangaan om vir myself die lewe so gerieflik as moontlik in te rig en as ek nou ongelukkig van my kosbare aardse besittings moet afskeid neem, gaan ek darem gelukkig hemel toe. 

-Die kerk is nie juis vir my nie, ek dien die Here op my manier, op my tyd en volgens my voorwaardes soos dit vir my gerieflik is. Niemand gaan my vertel wat om te doen nie. 

-Ek gaan nie kerk toe nie en ek raak nie betrokke nie, want daar is iemand in die kerk wat my geld skuld of lelik is met my. Ek word dus te na gekom en as ek dan te na gekom word speel ek nie meer saam nie! Ek gaan nie kerk toe nie, want dis nie lekker genoeg vir my nie... Die TV kerk by die huis is ‘n baie geriefliker opsie, want ek kan sommer met ‘n lekker koppie koffie in die hand myself op die rusbank uitstrek... O, ja ek gaan so af en toe na 'n Gospelfees, want dis aangename vermaak... 'n Toer na Israel klink ook vir my interessant!

-Die Here seën MY so baie. Hy seën MY besigheid, MY gesondheid, MY gesin..., Hy maak vir MY die lewe gerieflik en gemaklik. Trouens Hy is so goed vir MY ek kon nou al weer ‘n nuwe kar en nog ‘n stuk grond koop... Dis vir MY regtig voordelig om ‘n Christen te wees. Die Here maak MY ambisies waar. Hy is so goed vir MY, ek voel so spesiaal. Hy gaan MY help dat ek gou kan aftree en net dan die wêreld vol toer en golf speel…Ek is Sy witbroodjie... (Ja, Hy is so goed vir MY, ek vergeet heeltemal van die Christene in Sirië, Indië en in die plakkerskampe hier naby...)  Hierdie sienings is baie algemeen... dit word verkondig in die Christelike tydskrifte, die Christelike televisie..

Sendingwerk, opoffering, betrokke wees, mededeelsaamheid, lyding vir Christus, selfverloëning... dis vreemde begrippe vir die selfiechristen! 


Hierdie selfie Christenskap is baie gewild, maar is dit wat die Bybel leer? NEE! Hierdie sienings druis reël reguit in teen die gesindheid en perspektief wat Paulus hier uitstraal en verteenwoordig in Handelinge 20:17-38. Dis deel van sy roerende afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese op pad na Jerusalem. Kom ons kyk bietjie daarna: 

Kom ons gaan eers net bietjie terug. Paulus het God nie gedien binne sy eie persoonlike raamwerk en individualistiese planne nie. Paulus het God gedien binne die konteks van die kerk. Hy het nie sy eie “St. Paul’s ministries” gehad nie. Sy hele bediening was kerk gebaseerd – hy is uitgestuur deur die gemeente van Antiochië op sy eerste sendingreis. (Handelinge 13:1-3)

Hy roep hier in Handelinge 20 die ouderlinge bymekaar van die gemeente in Efese wat hy gestig het. Paulus weet daar wag vir hom groot moeilikheid en lyding in Jerusalem. "En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag." (22,23) Maar dan sê hy hierdie aangrypende woorde vir die gemeente ouderlinge in vers 24 : "Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God." (DLV)

Hier vind ons die passie en leuse van 'n ware dissipel van die Gekruisigde Jesus!

Dis baie duidelik. Vir Paulus het Christenskap nie oor persoonlike gerief en gemak gegaan nie. Ook nie die uitlewing van ‘n persoonlike ambisie en lewensideaal nie. Dit het nie vir hom persoonlike voordele gebring nie, inteendeel... wel baie lyding en hartseer. Ja, sy bediening in en buite die kerk was nie altyd maklik nie. Hoor wat sê hy 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” 

Paulus het nie geleef volgens sy eie drome en ambisies nie, maar volgens ‘n God opgelegde lewenstaak en bedieningsopdrag. Toe die Here kort na sy Damaskus ontmoeting die dissipel Ananias na Paulus gestuur het, het Hy vir Ananias gesê m.b.t. Paulus : "Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly." (Handelinge 9:15,16) Die kind van God stel nie meer sy eie agenda saam nie, God bepaal dit natuurlik elkeen volgens sy besluit en die gawes wat Hy ons gegee het! 

Paulus se doel was nie homself nie! Dit het gegaan oor die uitdra en uitleef van God se boodskap van genade. Dis die boodskap wat hom persoonlik aangegryp het. Hoekom? 

Hy was ‘n persoonlike ontvanger van genade! Sy sondes is uit genade vergewe. Maar sy Christenskap het nie daar geëindig nie. Hy het ‘n bediening en roeping uit genade ontvang. 

Hier begin mens dalk verstaan waar die wortel van die “selfie Christenskap” probleem is. Selfgesentreerde mense is mense wat heel waarskynlik nog nooit hulle behoefte aan genade besef het nie en dalk nog nooit deelgenote van Goddelike genade geword het nie. Christenskap gaan nie vir hulle oor dankbaarheid oor onverdiende genade nie, maar oor aanspraak maak op verbruikersvoordele... Die vraag is vir hulle is: “Watter nut en voordeel hou geloof in vir my?” Vir ‘n sondaar wat genade ontvang het, lyk alles egter anders. Ek besef ek verdien niks anders as die hel nie. Nou het ek genade ontvang en daardie genade lê ‘n dankbaarheidsplig op my om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my genade gegee het. Ek moet dus by sy wense, wil en planne inval! 

Die essensie van Bybels gefundeerde Christenskap is nie selfvervulling nie,maar selfverloëning! 

Jesus self het immers gesê : “Neem jou kruis op” (kies die dood ter wille van my), nie “volg jou persoonlike ambisie na” nie! Nie my ambisie nie, maar God se opdrag is wat tel. Dit gaan oor God, want als is net Sy Genade! 

Christenskap is dus nie ‘n selfie nie. Tot ‘n mate is dit ‘n groep foto, want ek is saam met my broers en susters as gemeente op pad. Maar ook die groep is nog steeds nie die fokuspunt nie, nee Christenskap behels ‘n lugfoto – God se perspektief, God se wil, God se groot oorsigtelike plan, God se eer! 

Die vraag moet nie wees – Wat WEN ek nie, maar wat WIL God? Maar juis hierin lê ons groot beloning en vreugde! 



*Die NAB se vertaling is baie onbevredigend. Die DLV word ondersteun o.a. deur die OAV en die NIV. 

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (OAV) 

However, I consider my life worth nothing to me; my only aim is to finish the race and complete the task the Lord Jesus has given me—the task of testifying to the good news of God’s grace. (NIV)

Dinsdag 13 Desember 2011

KOSBARE PADKOS

Ons as kinders van God se reis na ons ewige Vaderland word gekenmerk deur versoekings, swaarkry en verdrukking. Dis niks snaaks nie; Paulus lig sy jong bekeerlinge in dat hulle dit moet verwag. (Hand 14:22 ) Gelukkig voorsien ons Verlosser vir ons rusplek en padkos op hierdie reis, sodat ons dit met blydskap en volharding kan voltooi! Hy gebruik ons medereisigers om ons uit die Woord te ondersteun en te bemoedig. Dit kan gebeur deur ons saamwees en saambid, deur gesprekke of preke en ook deur boeke... Ek deel graag met jou van hierdie padkos wat ek uit boeke gekry en my aangespreek het. Mag dit jou ook bemoedig en versterk! Maak die kosblik saam met my oop :

Kosblik 1

“Satisfaction with Jesus and His work, not satisfaction with your own faith, is what God expects of you.” Horatius Bonar, God’s Way of Peace ( Met ander woorde in reddende geloof gaan dit nie oor die kwaliteit van ons geloof nie, maar oor die genoegsaamheid van ons Verlosser in wie ons glo!)

Kosblik 2

As dit kom by die genoegsaamheid van Jesus se sterwe vir ons en die vastigheid en volkomenheid van ons vryspraak is Martin Luther 'n onverbeterlike bemoediger van ons siele. Kyk na 'n paar aanhalings uit sy Galasiërs Kommentaar.

Gal 1:4 "Let us learn here of Paul to fully and truly believe that Christ was given, not for feigned sins, nor for small, but for great and huge sins; not for few but for many, not for conquered sins (for no man can overcome the smallest sin to put it away) but for invincible sins.

Kosblik 3

Die kerk kan net haar roeping vervul as sy anders as die wêreld en getrou aan die Woord is!  My groot mentor is Dr Martyn Lloyd-Jones en hy het die volgende hieroor te sê :

"The churches organise whistdrives, fêtes, dramas, bazaars and things of that sort, so as to attract people. We are becoming almost as wily as the devil himself, but we are really bad at it; all our attempts are hopeless failures and the world laughs at us. Now, when the world persecutes the church, she is performing her real mission, but when the world laughs at her she has lost her soul. And the world today is laughing at the church, laughing at her attempts to be nice and to make people feel at home.
My friends, if you feel at home in any church without believing in Christ as your personal Saviour, then that church is no church at all, but a place of entertainment or a social club."