BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 04 Julie 2022

LEWE OP DIE BERGTOP!


- wat is die lewe wat jy vir jouself en ook vir jou kinders begeer?




Elke ouer wil graag die beste vir sy kind in die lewe hê. My kinders moet tog eendag ‘n goeie lewe lei en ‘n suksesvolle bestaan kan maak. Maar wat presies is ‘n goeie lewe en wat behels ‘n suksesvolle bestaan? Daaroor kan baie opinies wees… Miskien moet ons dalk vir Jesus vra?

Maar wees gewaarsku Sy antwoord is baie radikaal. Dis ontstellend en meer nog dit gaan die totale bankrotskap en dwaasheid van ons westerse samelewing en spesifiek ook ons leefstyl en denke hier op Tsumeb ontbloot! 

Kom ons luister na ‘n paar van Jesus se uitsprake in Matteus 16.


Jesus het so pas aan sy dissipels bekend gemaak dat sy loopbaan en doel deur lyding moet gaan. (21) Laat ons dit maar onthou ons aanbid nie ‘n populere en gemaksugtige Christus nie, maar ‘n lydende en stewende Christus. 













Petrus het nie hiervan gehou nie. Hy het ‘n ander tipe verlosser en Messias verwag. (22) Jesus bestraf Hom sterk. (23) Jesus maak dit duidelik dat Petrus volgens menslike waardes en standaarde dink. 







Maar direk hierna rig Jesus nou ‘n radikale uitdaging om Hom te volg aan sy dissipels... (24) Ons moet onthou hierdie uitspraak is gemaak lank voor die kruis, die simbool geword het van die Christendom. Daar was niks mooi aan ‘n kruis nie, mense het nie kruise om hulle nekke gedra nie. Inteendeel almal het geweet as jy iemand met ‘n kruis sien is daardie ou op pad om die wreedste en skandelikste dood te sterf. ‘n Verworpene! 




Dit kan vergelyk word met die emosie rondom ‘n galgtou toe ons land nog doodstraf gehad het. Jesus se woorde sou daarop kon neerkom – AS jy regtig my wil volg hang ‘n galgtou om jou nek…wys vir almal jy het die dood gekies ter wille van My. Skokkend. Afgryslik. Heeltemal ongewoon. Kies teen jouself, kies vir die dood as jy my volgeling wil wees. Jesus se implikasie is duidelik – sy eie pad is die pad van selfverloening, lyding en dood en as ek Hom wil volg moet ek ook bereid wees om daardie pad te loop! ‘n Keuse vir Jesus is ‘n keuse teen my eie sondige begeertes, selfs my eie gerief, eie planne en eie aspirasies… dis ‘n keuse om Hom eerste te stel! 




Dan verduidelik Hy verder. (25) Ter wille van Jesus moet ons bereid wees om alles prys te gee. En net deur Hom kan die ware lewe gevind word. Loop die sterwenspad van verwerping en lyding saam met Jesus en jy sal die ware lewe vind! LEWE in die volle sin van die woord. (en net die Heilige Gees kan dit vir jou laat sin maak).







Jesus beklemtoon NET in Hom is die ware lewe te vind! (26) Als sou ek die hele wêreld besit, dan gaan dit my als niks help as ek Hom nie waarlik ken en volg nie! Die menslike soeke na sukses, geld en belangrikheid en besit is ‘n doodloopstraat! Jy moet die lewe soek buite jouself en jou eie prestasies en dit in Jesus vind. Die lewe in verbintenis met Hom wat nooit sal verbygaan en nooit sal teleurstel nie. Die ewige lewe wat nou reeds begin en vir altyd sal voortduur. Die lewe wat beteken dat ek God en sy Seun Jesus sal ken. Jy kan sien. Jesus se idee van lewe en die algemene siening in die wereld van lewe staan reëlreguit teenoor mekaar. 

LEWE is ‘n lewe van navolging van Jesus al kos dit lyding en verwerping. Lewe op die bergtop is lewe saam met Jesus!

Nou is die groot vraag : Is die goeie lewe wat jy vir jou kinders wil hê, is die goeie lewe waarop jy jou kinders wil voorberei in lyn met Jesus se siening van lewe? Leer ons ons kinders deur woorde en deur voorbeeld dat die heel belangrikste ding op aarde is om Hom te ken? Leer ons ons kinders dat alle dinge uiteindelik tot niet sal gaan, maar dat om Hom te ken alles in waarde oortref? Leer ons ons kinders dat al ons dade eendag deur Jesus beoordeel gaan word? Sy lof, sy goedkeuring is al wat tel? (27)




Dit wat ek oor die algemeen rondom my sien, laat my dink dat ons nie die waardes en waardevolheid van Jesus aan ons kinders oordra nie. Voorbeelde: Is huisgodsdiens die eerste prioriteit – in ons huise? Of is sepies en ander programme belangriker? (Ek ken die antwoord, want die oorgrote meerderheid van kinders met wie ek in aanraking kom, ken glad nie die Bybel nie. Maar hulle kom uit "Christelike huise" en gaan skool in 'n "Christelike privaatskool') Leer ons vir ons kinders dat om Jesus te ken die belangrikste is, as ons bereid is om naweek na naweek honderde kilometers agter sportbyeenkomste aan te ry, maar min moeite doen om by die kerk te kom. 

Leer ons ons kinders dat hulle verlore sondaars is sonder Jesus, as hulle altyd net vertel word hulle is ysters? Ons kweek ‘n generasie van ysters met so ‘n oordrewe selfbeeld dat hulle nooit hulle aaklige sonde sal besef en God om genade sal smeek nie…

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie ons met heeldag net Bybel lees vir ons kinders nie… Ja, natuurlik moet ons gebalanseerde kinders grootmaak- ons moet tyd en geld bestee aan hulle akademiese en fisiese ontwikkeling, maar ons eerste groot passie moet wees om hulle te begelei om volgelinge van Jesus te word. Dit help als niks hulle word akademiese reuse en sportsterre, maar hulle sal vir ewige verlore gaan in die hel sonder God nie! (26)

God gee aan ons verbondskinders om vir Hom groot te maak. Hy beskou hulle as baie belangrik, as syne. Luister na God se snydende verwyt in Esegiël 16:20-21. 



Israel het hulle kinders soms letterlik aan afgode geoffer. Doen ons dit nie ook as ons deur ons voorbeeld en praatjies kinders laat verstaan dat geld en prestasies die belangrikste in die lewe is nie? Vertel jy jou kinders dat om Christus Jesus te ken alles in waarde oortref? Sien jou kinders jou gereeld in die kerk, sien hulle jou besig wees met die Bybel, hoor hulle jou bid? Die waarde van Jesus en die allerbelangrikheid om Hom te volg, dis die lewe. Dis die lewe op die bergtop in God se teenwoordigheid saam met Jesus!