BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Lyding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Lyding. Wys alle plasings

Woensdag 26 Februarie 2020

HEMEL OP AARDE?

  • Is die aansprake van die voorspoedsteologie waar? 
  • Hoe onderskei ek tussen ware en vals evangelie?



Wat is die vertrekpunt? Maak seker van die eienskappe en inhoud van die EGTE EVANGELIE! Dan is dit maklik om die valse raak te sien en te vermy. 


 Dis soos met banknote. Jy leer die eienskappe en kenmerke van die egte note, dan kan jy al die variasies van vervalsings maklik raaksien. 



INHOUD EN KENMERKE VAN DIE WARE EVANGELIE: 

1. Die ware evangelie begin by God en sy prioriteite. Die valse evangelie begin by die mens en sy behoeftes… sy gerief, sy gesondheid, sy welvaart, sy belangrikheid staan voorop.  Die (kliek) SELF is alles!

God, sy eer en doelwitte kom eerste in die evangelie van die apostels. “Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God—" (Romeine 1:1) DIE EVANGELIE SE OORSPRONG EN FOKUS IS GOD! Die ware evangelie gee die antwoord op Moses se diep versugting : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eksodus 33:18) Dis die begeerte van elkeen wat deur die Gees wederbaar is. 

Die vals boodskap begin by die natuurlike mens se behoeftes- sy begeerte na gesondheid, geld, sekuriteit , sukses ens. Alles dinge waaroor elke natuurlike onwedergebore mens begaan is. Die Prosperity Gospel tokkel op die sondige mens se materialistiese en selfsugtige snaar. Die beloftes van die welvaartsprofete klink baie soos die jihadi’s se idee van hulle moslemparadys! 



Paul Washer (ware evangelis) som die humanisme van die vals evangelie mooi op: 

Sir, God loves you and has a wonderful plan for your life! 

What?! God loves me? 

That’s great cause I love me too! This is wonderful! 

And He has a wonderful plan for my life? 

Wow! I got a wonderful plan for my life too! 

And if I accept him into my life I can have my best life now? This is wonderful! 

Dis baie verstaanbaar dat die welvaartsboodskap so gewild is! 

2. Die ware evangelie se fokusinhoud is die kruis en opstanding wat vir die mens se sondeprobleem die antwoord bring. (Versoening) Die vals evangelie se klem val op hoe God jou drome waarmaak en aardse voorspoed waarborg. 

Die doel van Jesus se koms word baie duidelik gemaak reeds by sy geboorte : “en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:21) 

Paulus vat die evangelie inhoud so pragtig saam : “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;” (1 Kor 15:1-4) 

God se liefde fokus op die mens as sondaar en om sy gebroke verhouding met Homself te herstel. 

Die Goeie Nuus (evangelie) gaan oor hoe God van sondaars sy kinders maak, nie hoe Hy sondaars suksesvolle sportmanne en sakemanne maak nie! Die boodskap van ryk maak en gesond word, is maar presies dit wat die Afrika toordokters ook vir hulle kliënte beloof! 

En buitendien is die beloftes van die vals evangelie ‘n leuen en dis gewoonlik net die vals profete self wat voorspoed beleef omdat hulle hulle hoorders manipuleer! 

3. Die ware evangelie wond én genees. Die valse evangelie streel mense se ego’s en maak hulle net nog meer selfversekerd en hoogmoedig. 

Die verkondiging van die ware evangelie laat mense in gebrokenheid uitroep : “Wat moet ons doen om gered te word?” (Dink aan die skare toehoorders op Pinksterdag) 

Die vals profete bring goedvoelboodskappe. Dit versterk menslike arrogansie, selfgesentreerdheid en selfsug! 

Valse goedvoelboodskappe was al in die tyd van die Ou Testament ‘n probleem. “Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.” (Klaagliedere 2:14) Omdat baie profete nie die moed gehad het om aan Israel die ware aard van hulle sonde te verkondig nie, het hulle hulle nie bekeer nie en het die oordeel van die ballingskap die volk getref!

Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie tipe boodskap gewaarsku. “want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,” (2 Timoteus 4:3) 

4. In die ware evangelie speel lyding en nie voorspoed of gemak nie ‘n sentrale rol. Die vals evangelie gaan als oor die mens se gerief terwyl die lydingsboodskap verswyg word. 

In die Nuwe Testament is lyding onlosmaaklik deel van die pakket!  Die lyding van Jesus staan sentraal, maar ook die lyding van almal wat Hom sou volg! “Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.... Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. "Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom," het hulle gesê.” (Handelinge 14:21,22) 

Die vals evangelie ontken lyding en bied ook geen troos in lyding nie. ( As ek as Christen swaarkry moet ek dan nou wonder : “Was ek dan nou nie positief genoeg in my woorde en gedagtes nie? Het ek gesondig? Het die duiwel gewen?”) 

5. Die ware evangelie is gebou op die geheelsboodskap van God se Woord (binne konteks). Die valse evangelie inkorporeer doelbewus of onbewus menslike filosofieë soos die New Age. 

Een voorbeeld is At Boshoff van die CRC se “law of attraction”. Boshoff : “Whether you know it or not, whether you like it or not, you're attracting things into your life all the time, good or bad, wanted and unwanted. All the time you are sending out a force, a power, an energy, that either attracts good things and good people into your life, or it repels good things and good people.” 

Hiervolgens kan jy deur jou eie positiewe gedagtes en woord vir jouself ‘n positiewe toekoms skep. Dis soortgelyk aan die (kliek) “spreek lewe” teologie van die Word Faith beweging. 

Boshoff gebruik Skrifte soos Spreuke 4:23 en Spreuke 23:7.* Kom ons bekyk dit net vinnig van naderby : 

Spreuke 4:23 “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” 

Hier is geen sprake van ‘n magiese aantrekkingskrag nie– Dit sou vreemd wees aan die Bybel. Die vers beteken bloot dat die “hart” as die intellektuele, morele en emosionele sentrum van die mens, jou daaglikse benadering tot die lewe bepaal. 

Spreuke 23:7 "Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie." 

Kyk na die konteks van die teks. Lees dit saam met vers 7 en 8. Spreuke 23:1-3 gee raad oor tafelmaniere saam met ‘n regeerder. Vers 6 tot 8 gee raad oor saam eet met ‘n suinige persoon. Die boodskap is : Moet jou nie laat meevoer deur hierdie ou se vriendelikheid nie. Die suinige bedoel nie sy woorde nie (sy hart is nie met jou nie), want hy dink net aan wat die ete hom kos! Dis in lyn met die Engelse vertaling wat lees : 'he is always thinking about the costs', (NIV) 

Dis duidelik dat Boshoff se uitleg van hierdie gedeeltes absurd is. Dit sê niks oor die verandering van realiteite deur jou gedagtes nie. 

Hierdie tipe lering probeer stoot God van die troon af en plaas die mens op die troon! 

Die Bybel leer dat God als bepaal. God is soewerein. Ja, die kind van God het rede om in alle omstandighede bly te wees juis omdat God op die troon is. Ja, ek moet verantwoordelik lewe en optree volgens die opdragte van die Woord. Maar, ek kan nie die toekoms bepaal deur my eie denke nie. Om aan die “law of attraction” te glo is om jou vertroue in jouself in plaas van God te stel! 

Boshoff misbruik Josef se geskiedenis as bewys van “the law of attraction” Maar dit gaan presies teen die Bybelse boodskap! Josef aan sy broers: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:20) Dis hier waar die belangrike leerstuk oor die Voorsienigheid van God ter sprake is kom.** 

Die valse lering van “law of attraction/spreek lewe” lei tot ‘n selfgesentreerde en hoogmoedige materialisme en nie meer op ‘n vertroue op die voorsienigheid van God wat ook lyding insluit nie. 

[Mmmmmm... Die arme Paulus het seker nie At se "law of attraction" geken nie, want kyk net wat het hy als na hom toe aangetrek... slae, skipbreuk, hongerte, naaktheid, slapelose nagte, gevare... Vgl. 2 Korintiërs 11:23-28]

Miskien wonder jy nou : “KAN EN WIL GOD VIR ONS SORG?” Natuurlik! As Vader sorg Hy vir ons op alle terreine van ons lewe! (Psalm 103) As jy daaraan twyfel, gaan lees maar weer ‘n biografie van George Müller! 

Wat is dan nou die verskil met die “versorging” van die voorspoedsevangelie? 

John Piper verduidelik dit mooi : On the one hand we may trust in the Lord to be our helper, because he will provide and protect us - there is thus a measure of prosperity he will give us. But there is a line between trusting God for our needs and using God for our wants. 

The law of attraction lyk eerder soos manupilasie van God vir ons eie selfsugtige begeertes as ‘n kinderlike vertroue in sy voorsienigheid. 

6. Die einddoel met die ware evangelie en wil van God vir sy kinders is HEILIGMAKING sodat ons tot eer van God kan leef. Die valse evangelie se doel is geluk, geld, gesondheid en aardse grootheid! 

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;” (1 Tessalonisense 4:3) 

Die kosbare waarheid soos Paulus dit stel staan steeds vas : “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik” (Romeine 8:28-30) Wat ‘n heerlike troos! 

7. Ware evangelie bring ‘n unieke blydskap – die blydskap in die Here. Die vals evangelie verkondig ‘n oppervlakkige blydskap gebaseer op positiewe denke. 

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (Filippense 4:4) 

“Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:12,13) 

Juis omdat hierdie lewe vir Christene baie swaarkry inhou, het ons ‘n blydskap en verwagting wat toekomsgerig is. Die beste is nie NOU nie! Dis ‘n leuen van die voorspoedsevangelie. Loop vertel dit bietjie vir die Christene in Iran of Noord Korea! Hierdie swaarkry in ons aardse lewe is juis een van Paulus se argumente waarom geloof in die opstanding so onmisbaar belangrik is! “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste (ellendigste OAV) van alle mense.” (1 Korintiërs 15:9) 

8. Die ware evangelie kan nooit vermaak (entertainment) wees nie. Ja, dis Goeie Nuus, die blye boodskap, maar dit pas nie in die konteks van grappe, kwinkslae en lighartigheid nie. Dis ernstig, want dit gaan oor God wat die wêreld so lief het, en sonde so haat dat die engste uitweg was dat sy Seun die marteldood van die kruis moes sterf! 

REUSE VERSKIL! 

Op die ou end is daar ‘n reuse onoorbrugbare verskil tussen die ware en die vals evangelie. Dis die verskil tussen Jesus se boodskap en die van die wêreld. Iemand het dit so saamgevat: 

Jesus : Follow me! 
World : Follow your heart! 

Jesus : Believe in me! 
World : Believe in yourself! 

Jesus : Deny yourself! 
World : Discover yourself! 

Jesus : Be true to me! 
World : Be true to yourself!

VOETNOTAS

*Met erkenning aan die studiestuk van Daniël J. Maritz en  Henk G. Stoker.
“Does the Christian worldview provide a place for the law of attraction? (Part 2): An apologetic evaluation of the way the Bible is used in promoting this idea.”

** Die HEIDELBERGSE KATEGISMUS    Sondag 10.
27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede  en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.
28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.


Donderdag 02 Mei 2019

SOET EN BITTER!

-‘n Realistiese perspektief op die kerk van Jesus se taak in hierdie wêreld. 

Is ‘n kind van God se lewe soet of bitter? Dink baie mooi… Hier in Openbaring hoofstukke 10 en 11 kry ons ‘n eerlike reguit antwoord. Lees gerus eers Openbaring 10:9-11:14.

DIE BOEKIE EN DIE OPMEET VAN DIE TEMPEL

Johannes kry ‘n klein boekie om te eet. Dit het ‘n gemengde gevolg :


 in sy mond was dit soet 










en in sy maag was dit bitter! 








Die betekenis hiervan word verder uitgewerk in hoofstuk 11 in die gesig van die twee getuies. Dit begin met die opmeet van God se tempel. Dis ‘n profetiese demonstrasie van die boodskap dat die gelowiges God se eiendom is. God laat dit meet omdat Hy die eienaar en beskermer is van sy mense. (Dis ‘n soortgelyke boodskap as in Esegiël 40:3,5 waar die tempel ook gemeet is.) 

Dit gaan hier oor geestelike beskerming, want Openbaring is duidelik dat baie gelowiges hulle lewens gaan verloor. “Aan hom (die dier) is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin;” (13:7) Die voorhof of buitenste deel van die tempel word nie gemeet nie. Dit word aan die heidene gegee om 42 maande te vertrap. God sal die heidene toelaat om vir 42 maande die gelowiges te vervolg en te vertrap. Wat beteken die 42 maande? Dit het dieselfde betekenis as die 1260 dae (Vgl. 11:3 en 12:6) Dit simboliseer ‘n tyd van swaarkry en oordeel. (Die wortels hiervan kom reeds uit Daniël 7:25) Dit gaan oor die feit dat God slegs vir ‘n beperkte tyd sal toelaat dat sy mense vervolg en gedood sal word! 

Om saam te vat : Die soet smaak van die boekie is God se beskerming (11:1), die bitter nasmaak is die feit dat God die nasies toelaat om sy kinders te vertrap en te vervolg. Maar belangrik, God is nog steeds in beheer! Dit herinner mens aan Jesus se woorde : “En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.” (Matteus 24:22) 

DIE TWEE GETUIES 

Hierdie Goddelike plan en beheer te midde van die grootste vervolging en hartseer word verder treffend uitgebeeld deur die beskrywing van die wel en weë van die twee getuies. In hierdie tyd van swaarkry en vervolging het God ‘n baie spesifieke taak vir sy kerk : Getuienis! Dis ons groot taak en roeping in die laaste dae! God se agenda vir ons! Die getuienis taak van die kerk word uitgebeeld deur die twee getuies wat waarskynlik geskoei is op die voorbeelde van Moses en Elia. (nie alle detail, slegs breë trekke) Die beeld van die twee olyfbome en twee lampe kom uit Sagaria 4:2-6. “Hy het vir my gevra: "Wat sien jy?" maar hy het self voortgegaan: "Ek het gesien daar is ‘n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ‘n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 
By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links." 
Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: "Wat beteken dit, Meneer?" 
Hy het geantwoord: "Weet jy nie wat dit beteken nie?" Ek het gesê: "Nee, Meneer." 
Toe sê hy vir my: "Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis ‘n getuienis in die krag van die Heilige Gees. Die lampe is simbool van Goddelike teenwoordigheid. Die kerk getuig, leef én ly in die teenwoordigheid van God en sy Gees. 

Soet én bitter is ons deel terwyl ons onder beheer van die Gees ons taak voltooi! Geen maklike agteroorsit bestaan...

BESKERM EN DAN GEDOOD 

Twee elemente is baie duidelik m.b.t. die twee getuies. Dit lyk soos ‘n teenstrydigheid : Hulle word beskerm en het geweldige mag, maar hulle is ook swak en word dan ook doodgemaak! 

“As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen.” (5) 

Dit sinspeel op 2 Konings 1 waar vertel word van die konflik tussen die profeet Elia en die koning Ahasia, waar vuur uit die hemel telkens Ahasia se soldate verteer het toe hulle Elia genader het. God gryp in om sy getuies te beskerm teen bose planne en mense. 

“Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.” (6)

Hulle kan die plae van Egipte laat plaasvind en droogte laat kom soos Elia. Die goddeloses en gode moet swig voor hulle. God se getuies word voorsien van merkwaardige gesag...

Aan die anderkant lees ons dat die dier (simbool van ‘n goddelose staat) die getuies oorwin en doodmaak. “Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem." (7,8) Hulle moet absolute vernedering en veragting deurgaan. “lyke lê op straat” Die goddelose mense juig oor hulle dood. Die wereld verag God se kinders met ‘n passie! En tog. God is presies in beheer want hulle kom eers doodgemaak word toe hulle getuienis KLAAR gelewer is. 

TRIOMF! 

Daar is verder nog ‘n dramatiese aanduiding van Goddelike oorwinning! Die bose magte kry net tydelik die oorhand. God het die finale sê, want die getuies word na ‘n beperkte tyd weer lewendig!

  “Ná die drie en ‘n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. Hulle hoor toe ‘n harde stem uit die hemel vir hulle sê: "Kom op hierheen!" Toe het hulle in ‘n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien.” (11,12) Die parallel met Jesus self is baie opvallend! Die getuies volg Jesus in sy vernedering en lyding en dood, maar ook in sy oorwinning! Die kerk van Jesus kan fisies verdruk en doodgemaak word, maar ons ewige lewe by Hom in heerlikheid is onaantasbaar! Dit slaan moontlik terug op beide Moses en Elia wat lewendig hemel toe sou gegaan het. Hoe dit ook al sy, hier is nie sprake van ‘n geheime wegraping nie, maar van ‘n sigbare triomf. Die vyande sien hulle oorwinning! ‘n Wolk is ‘n simbool van Goddelike teenwoordigheid. (Nodeloos om te sê, dit sou ‘n futiele poging weesom hierdie gebeure in ‘n letterlike kronologies volgorde te plaas en te probeer verklaar) 

‘n Verwoestende aardbewing kom. Wat presies dit als sou kon beteken weet ons nie. Maar dis ‘n Goddelike ramp/ingrype wat ‘n groot effek het. Die goddeloses bring eer aan God. Hulle word gedwing om God te erken. (13) Was dit egte bekering? Dis moeilik om met sekerheid te sê.* 

WAT IS DIE KERNBOODSKAP? 

Soet én bitter is deel van die kinders van God se lewe op aarde! Wees realisties! Ons hoef nie hieroor te wroeg of te wonder nie- dis deel van ons pakket op aarde. Belangrik, ons moet wel besig wees met ons getuienistaak! Dis wat die Here van ons verwag. Die res kan ons aan Hom oorlaat. 

Ons getuienis taak sluit ‘n oproep tot bekering en die aankondiging van God se oordele in. Die rouklere van sak beklemtoon hierdie aspek van boeteprediking. Ware getuienis is nie oppervlakkige goedvoelboodskappies wat almal wil laat verstaan dat alles maar OK is nie! Dit spreek die gedrag en die gewete van die mens aan. Dis eerlik oor God se oordele. Dis immers waarom die getuies so gehaat word. 

Hoe kom die soet en die bitter bymekaar? Oorwinning kom via martelaarskap. Die woord “martus” het aanvanklik getuie beteken, maar dit het later die betekenis van martelaar gekry, want getuienis het heel dikwels tot martelaarskap gelei. Om getuie te wees lei onvermydelik tot swaarkry, verwerping en selfs die dood! (Hierdie getuies was duidelik nie people’s pleasers nie) Maar hulle getuienis was nie tevergeefs nie! 

Ons het werk om te doen – getuienis. Dis God se agenda vir sy kerk! Ons lewe, ook ons lewe van swaarkry het ‘n Goddelike doel en betekenis binne die konteks van hierdie agenda en opdrag! (Pasop dus om nie meegesleur te word deur ons eie agendas van oorlewing en selfbelang nie!)  God is by ons, ons gaan dit wel hotagter kry, maar God is ook in beheer daarvan en beperk dit. Ons is onaantasbaar veilig totdat God besluit ons het ons taak afgehandel! Ons gaan beslis ly, maar die oorwinning en triomf behoort aan ons! Ons kan en gaan fisies skade ly , maar geestelik is ons veilig. Vir ewig. 


Die “soet” gaan seëvier! 



*Dalk moet mens dit in parallel met 6:15-17 verstaan.

“Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 

Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 

Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?" 

Daar is aan die anderkant ook die siening (Du Rand) dat wat ons hier lees dui op ‘n ongekende bekering. Vergelyk die boodskap van die engel in 14:6-7 


Sondag 16 Oktober 2016

WAAROM?


Hoe kan 'n God van liefde, ja,'n liefdevolle Vader toelaat dat sy kinders op aarde onbeskryflike lyding deurgaan?


Luister hoe Helen Roseveare, 'n voormalige sending dokter in die destydse Belgiese Kongo (vandag DRK) wat deur rebelle soldate verkrag is hieroor getuig! Aangrypend en geloofsversterkend!

Luister in 4 dele











Dinsdag 24 April 2012

HANS NIELSEN HAUGE

- ‘n Noorweër wat ons oproep tot ‘n radikale lewe.

Die afgelope tyd is die wêreld weer herinner aan die massamoordenaar van Noorweë, Anders Breivik se gruweldade. Terwyl Breivik altyd onthou sal word vir sy radikale boosheid, is daar ‘n ander Noorweër wat ons gerus kan onthou vir sy radikale toewyding aan God. Hans Nielsen Hauge is deur God aangeraak en uitgestuur as ‘n lekeprediker en het ‘n merkwaardige geestelike sowel as ekonomies-maatskaplike invloed op Noorweë gehad. Die Here het hom kragtig gebruik in ‘n tyd toe die Lutherse staatskerk van Noorweë gebuk gegaan het onder ‘n dooie tradisionalisme.

Hans Hauge is in 1771 gebore as die vyfde van tien kinders en het op die familieplaas grootgeword naby Tune in die distrik Østfold.  Hulle was ‘n godsdienstige gesin, wat elke Sondag kerk toe gegaan het en as hulle nie kon nie, hardop uit Luther se versameling preke gelees het. Hans was self ook lief vir lees.

Op 5 April 1796 het ‘n ontmoeting met God, Hauge se lewe omgekeer. Dit was terwyl hy op die landerye gewerk het. Soos ‘n Elisa is hy agter die ploeg geroep.  Hy beskryf sy bekering as volg:

 “Soms het ek op my knieë neergeval en God almagtig gebid om ter wille van Jesus sy Seun my te vestig op die geestelike Rots, Christus Jesus... Een dag terwyl ek buite gewerk het onder die oop lug, het ek uit my kop uit ‘n lied gesing : “Jesus ek verlang na U geseënde gemeenskap” Op daardie oomblik is my gedagtes so opgehef, dat ek nie bewus was van myself nie en ook  kan ek nie verduidelik wat in my siel plaasgevind het nie. Want ek was buite myself. Onmiddellik toe ek weer tot my sinne kom, is ek gevul met berou dat ek nie hierdie liefdevolle transendente goeie God gedien het nie. Nou het dit vir my gelyk asof niks in hierdie wêreld enigiets werd was nie...”

Hauge het God gevra wat hy moes doen en die antwoord in sy hart was :  “Jy moet my Naam bely voor die mense, roep hulle op tot bekering en om my te soek terwyl Ek gevind kan word en aan te roep terwyl Ek naby is en hulle harte aan te raak dat hulle hulle mag wegkeer van die duisternis tot die lig.”

Vir Hauge het alles inderdaad nuut geword. Hy het ‘n begeerte gehad om die Bybel te lees en nuwe insig ontvang om dit te verstaan. Ook was daar ‘n diep liefde vir God by hom en ‘n begeerte dat andere ook deel sal kry aan hierdie genade wat hy ontvang het. Die eerste persone wat deur die nuutgemaakte Hans beïnvloed  is, was twee van sy eie susters op daardie selfde dag. Dit was die begin van ‘n herlewing wat eers die bure in Tune aangeraak het, daarna die naburige dorpie en uiteindellik ‘n geweldige invloed op Noorweë as geheel.

Hauge was ‘n doelgerigte, vasbeslote en hardwerkende mens. Hy het oor die land heen gereis, meestal te voet en gepreek.  Dikwels word Christenwerkers daarvan beskuldig (miskien soms tereg) dat hulle ver van die werklikheid leef met hulle koppe in die hemel en op ander teer... Wel, niemand sou so ‘n verwyt voor Hauge se kop kon gooi nie. Terwyl hy geloop het, het hy gebrei en dan die handskoene en sokkies weggegee aan armes. Hy het ook ‘n besondere besigheidsvernuf en inisiatief gehad wat daartoe gelei het dat hy verskeie industrieë opgerig het. Sy aktiefste jare was tussen 1800 en 1804. Van Lista in die suide tot Tromsø  in die noorde was hy betrokke by die vestiging van fabrieke, myne, meulens, drukkerye ens..

Hauge was ‘n populêre prediker. Hy het met krag en gesag gepreek in ‘n taal wat die mense kon verstaan. Hy het orals gepreek waar mense bymekaargekom het : huise, kerktrappe, fabrieke... Hy het gepreek oor sonde, die Christelike lewe en hoe om die pad na God te vind. Maar hy het ook nie gehuiwer om te praat oor die Christen se verantwoordelikheid teenoor sy medemens en die gemeenskap waartoe hy behoort het nie. Hauge het ‘n God gegewe liefde vir sy medemens gehad, wat deur mense raakgesien is en gemaak het dat hulle hom vertrou het. 

Hauge het sy boodskap ook nie net deur prediking oorgedra  nie. Gedurende 18 jaar het hy 33 boeke gepubliseer en daar word geskat dat 100 000 Noorweërs een of meer van hulle gelees het  in ‘n tyd toe daar ongeveer 900 000 geletterdes in die land was. 

Verenigings van Vriende (ook genoem Haugiane) is georganiseer soos die herlewing deur die land versprei het. Hulle het by huise bymekaargekom en tyd in gebed en lering spandeer. Hierdie mense het mekaar nie net geestelik nie, maar ook prakties bygestaan. (soos om tuisnywerhede te begin) Die klasseverskille in die landbou samelewing is ook oorbrug deurdat daar plek was vir boere, knegte, kreupeles en ou mense. Hauge het leiding gegee aan hierdie Verenigings van  deur sy briewe. Hierdie briewe het gehandel oor beide geestelike sake en besigheidsaangeleenthede.

Hans Hauge se suksesse moet ons nou nie laat dink dat sy pad heeltyd met gerief en lofredes besaai was nie. Verre daarvandaan! Teenstand, valse aanklagte en vervolging het sy lewe gekenmerk. Sy prediking het die vyandskap van kerkleiers en owerhede opgewek omdat hy volgens hulle die “Konventikkel Ordonnansie” van 1741 oortree het. Hiervolgens het die predikante die alleenreg gehad gehad om God se Woord te preek en leke kon dit net doen in die teenwoordigheid van die leraar van die kerk. Afguns op Hauge se sukses en invloed het hom seker ook  nie juis geliefd onder sommige ampsdraers gemaak nie. Hauge is altesaam tien keer gearresteer en was van 1804 tot 1811 meestal  in die tronk.  Aan die einde van sy lewe het Hauge wel respek by die owerhede afgedwing. Maar volgens alle aanduidings is sy gesondheid deur die gevangenisstraf aangetas.

Hauge het ook persoonlike smart op ander terreine geken. Na sy vrylating uit die tronk het hy by Bakkehaugen naby Christiana gaan bly as boer en nyweraar. In 1815 is hy met Andrea Andersdatter getroud wat met die geboorte van sy seun, Andreas gesterf het. In 1817 is hy weer getroud met Ingeborg Marie Olsdatter. Al drie kinders wat hy by haar gehad het, het gesterf.  Op 29 Maart 1824 is hierdie besondere kneg van die Here oorlede.

Na Hauge se dood het sy erfenis voortgeleef in die mense wat deur sy boodskap aangeraak is. In 1842 het die Haugiane en die Morawiërs, Noorweë se eerste sendinggenootskap, die Noorweegse Sendinggenootskap gestig. Die baie Noorweërs wat in sy leeftyd na Amerika geëmmigreer het, het tot gevolg gehad dat sy invloed ook daar in die Amerikaanse Lutheranisme  uitgedra is.

Die geskiedenis van Hans Hauge het ‘n hoopvolle boodskap van God vir ons in ons tyd van afvalligheid in  kerk en samelewing:
  • Die soewereine God is enige tyd instaat om ware predikers van die Woord op te wek ongeag hoe donker die omstandighede. Dis uiteindelik die Here van die oes wat self arbeiders uitstuur en ons word opgeroep om juis daarvoor te bid. (Lukas 10:2) God gebruik nie net  geordende leraars nie, maar elkeen wat waarlik geroep is.
  • Die oplossing van ons land se geestelike nood, lê  nie in die stigting van nuwe denominasies nie, maar in herlewing van die lidmate van die  bestaande kerke. Hauge het in die Lutherse kerk en teologie gebly, maar juis binne hierdie raamwerk sy kragtige boodskap van bekering gebring. Daar word te vinnig in ons dag, nuwe kerke gestig asof dit nou 'n verskil sal maak. 
  • Die aanvaarding van die ware evangelie as verlossingsboodskap mag ons nooit blind maak vir mense se tydelike nood nie. Dit maak ons ook nie afsydig teenoor die harde bestaanswerklikhede rondom ons nie. Hauge het leer en lewe bymekaargebring. Die Christen se daaglikse werk is deel van sy aanbidding!* Dis 'n etiek wat al deur Luther na vore gebring is en waaraan ons in ons samelewing 'n groot behoefte het.
  • Die prys vir getrouheid aan die waarheid is lyding en vervolging. (Is ek en jy bereid daartoe?) Hieroor moet daar geen illusie wees nie, die wat vrugdra sal vervolg word. Die grootste vervolgers van God se ware kinders sal juis  kerkmense wees, wat die gedaante van godsaligheid het, maar nie die krag daarvan ken nie.
* Die bron stel dit in Engels "work is part of worship" Verskeie bronne op die Internet is geraadpleeg, o.a. ook Wikipedia.


 Hauge standbeeld in Oslo

Maandag 02 April 2012

DIE ENGELE STAAN OP HULLE TONE

- wat maak hulle so opgewonde?

Engele! ’n Fassinerende onderwerp vir baie mense. Daar word boeke oor hulle geskryf! Hoe lyk hulle, wat doen hulle, wat is vir hulle belangrik? In 1 Petrus 1:10-12 (lees asseblief) word op ‘n terloopse wyse tog ’n baie insiggewende opmerking oor die engele gemaak. (Natuurlik vind ons nie hier ’n volledige inligtingsbrosjure oor engele nie) Wat wel duidelik is : Die engele het ’n besondere belangstelling! Daar is ’n saak wat hulle geweldig interesseer. Soveel so dat hulle as’t ware vooroorbuig* uit die hemel om dit beter te kan sien. Die engele kyk eintlik so oor die skouers van die gelowiges om te sien wat in die gemeente gebeur.**

Wat is dit wat hulle belangstelling gaande maak? Wel, dit moet iets buitengewoon heerlik wees. Ons moet tog besef, die engele woon in die hemel, in volmaakte toestande. Hulle aanskou die heerlikheid van God. Wat op hierdie aarde kan dan nou so heerlik en fassinerend wees dat hulle as’t ware op hulle tone staan en hulleself inspan om dit te sien? Ons kry die antwoord hier in 1 Petrus.

Kom ons probeer net die strekking van die argument hier in 1 Petrus verstaan. Petrus wil Christene wat baie swaarkry bemoedig in hulle geloof. Hy vertel hulle eintlik : “Julle het rede om bly te wees ten spyte van die ergste verdrukking, want onthou hierdie verdrukking suiwer julle geloof. En deur sulke gesuiwerde kosbare geloof kry julle deel aan die saligheid. Dis mos die einddoel van julle geloof.” (vers 9)

Dit gaan hier oor ’n basiese volgorde : lyding nou; heerlikheid eendag! Die heerlikheid van eendag vul ons egter nou reeds met blydskap omdat dit ’n werklikheid is.


Oor hierdie saligheid, (verlossingsplan) het die profete (van die Ou Testament) al ondersoek gedoen en nagevors. Wat het hulle bevind?

Lyding speel ‘n sentrale rol! ( vers 11 - “die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna” - OAV) Hoe raak dit ons? Die patroon en volgorde van ons lewens as Jesus se volgelinge volg die patroon van sy lewe! Ons moet ook maar bereid wees om die paadjie te loop wat Hy geloop het!

Jesus moés eers deur lyding gaan.

Daar was vir Jesus geen keuse nie. Hy moes sy werk deur middel van lyding voltooi. Natuurlik was dit nie die maklikste pad nie. Trouens, dit het angs by Hom gewek. Dink aan sy ernstige gebed : “laat hierdie beker by my verbygaan!” Ook vir Jesus se eie dissipels was hierdie pad van lyding wat Hy moes loop onaanvaarbaar. Dink maar net aan Petrus se protes nadat Jesus sy naderende lyding aangekondig het . “Mag God dit verhoed!” En hoe Jesus hom moes bestraf : “Gaan weg agter my Satan!” (Matt 16:22,23).

Die profete van die Ou Testament het reeds lank tevore hierdie pad van lyding vir die Messias voorspel. Op verskeie plekke. So vind ons dit in die Psalms. (Ps 69:9; 22:1-21.) Jesus se bekende woorde aan die kruis : “My God, My God waarom het U my verlaat?”, kom uit Psalm 22:2. Ook in die geskiedkundige dele van die Ou Testament vind ons alreeds die onderliggende tema van lyding van die Messias... Dawid se lyding onder Saul is ’n voorafskaduwing van die onskuldige gesalfde van God se lyding onder die goddelose. Die profete se eie lewens was ook ’n toonbeeld van hierdie lyding. Hulle moes ly as gevolg van hulle getroue verkondiging van God se Woord. Dink aan Jeremia wat in die put gegooi is. Die hele Ou Testamentiese offersisteem het heengewys na die Lam van God wat geslag sou word vir die sondes van die wêreld. Jesus se plaasvervangende lyding word seker op die mees direkste wyse vir ons in die Knegliedere van Jesaja uitgespel! (Kyk weer na Jesaja 53)

Die hele Ou Testament verwag egter ook heerlikheid. Die ontplooiing van die die verlossingsgeskiedenis is daarop gerig en stuur daarop af. Dink maar net aan die beloftes van die herstelde tempel, al die nasies wat toestroom na die Here, die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit kom daarop neer dat Eden herstel sal word. Die finale heerlikheid is God wat regeer, op sy plek oor sy mense in volmaakte harmonie! ***

Al hierdie heerlike waarhede is vooraf deur die profete aangekondig. Hoe het hulle dit alles geweet?

Die Gees van Christus, dit wil sê die Heilige Gees was reeds werksaam in die Ou Testamentiese profete!

Dis ’n uiters belangrike stelling! (vgl. 2 Petrus 1:21) Christus was van altyd af daar! Hy was ook teenwoordig in die tyd van die Ou Testament - nie net as aangekondigde Messias nie, maar ook deur sy Gees! Jesus is nie net die Een van wie die Ou Testamentiese profete gepraat het nie, Hy is ook die Een wat deur sy Gees, reeds deur die Ou Testamentiese profete praat!

Die profete het van hierdie geheimenisse gepraat sonder dat hulleself of hulle hoorders die volle omvang en heerlikheid daarvan besef en beleef het. Die volle heerlikheid was verborge vir hulle oë. Die groot saak wat Petrus sy lesers wil laat verstaan is dat sy lesers - die Christene, (ons!) die groot erfgename van die profete se boodskap is. (Vers 12 OAV -“vir ons die dinge bedien”) Ons aan wie die evangelie verkondig is pluk die volle vrugte van die genade waaroor hulle geprofeteer het. Die apostels wat aan ons die evangelie gebring het, het dit gebring deur die Heilige Gees. (12) Dis eintlik die Heilige Gees wat die evangelie aan ons verkondig al gebruik Hy mense as instrumente. Die Gees van Christus (Heilige Gees) doen dus ’n wonderlike werk. Hy verseker eintlik die kontinuïteit tussen die Ou en Nuwe bedeling. Dieselfde Heilige Gees wat die profete van ouds geïnspireer het, bekragtig ook die verkondigers van die evangelie. Hy werk nou in ons!!!

Eers met die koms van Christus na die wêreld het al hierdie dinge wat geprofeteer is, ’n heerlike werklikheid geword. Dit kom daarop neer : Die geringste volgeling van Jesus is dus in ’n gunstiger posisie as selfs die grootste profeet in die Ou Testament! Ons is, nou na die koms van Christus, en sy kruis en opstanding in ’n baie beter situasie om die Ou Testamentiese openbaring te verstaan as die grootste Ou Testamentiese profeet! Maar dis nog nie al nie sê Petrus in effek : “Julle wat ly en swaarkry is, is selfs ook meer bevoorreg as die engele!" Hierdie ontplooiing van God se ontsagwekkende verlossingsplan is so heerlik dat selfs die engele in die hemel hulle inspan om te sien hoe word dit hier op aarde voltrek!

Die engele se begeerte gaan nie oor blote nuuskierigheid nie, maar hulle word gedryf deur ’n verlange om die vervulling van God se heerlike verlossingsplan te aanskou.

Om terug te kom na die engele. Hierdie gedeelte soos reeds gesê wil nie ons kennis oor engele aanvul nie. Die reaksie van die engele word genoem sodat ons beter kan begryp hoe groot en heerlik God se verlossingsplan is. Ons moet besef hoe bevoorreg ons is wat in die genade van hierdie verlossingsplan kan deel. Dit maak ons kortstondige lyding nie net draaglik nie, maar selfs ’n saak van blydskap!

Maar kan ons nog iets oor die engele sê? Seker, heelwat, maar ek wil net een kwessie uitlig.


Pasop vir ‘n misplaaste belangstelling in engele.

Hoekom sê ek dit? Net kortliks: Paulus waarsku dat ons nie mislei moet word deur mense wat hulle met engele en visioene bemoei nie. (Kolossense 2:18) Ons moet vashou aan die Hoof, naamlik Christus. Ja, daar is engele, maar hulle is nie ons middelaars of verlossers nie. Jesus alleen is ons Verlosser-Middelaar. Ook as die Hebreërskrywer van engele praat en hulle “geeste in diens van God” noem, is sy punt juis om ons te laat verstaan dat Jesus baie heerliker is as die engele! Geen engel sit aan die regterhand van God nie, net Jesus!(Hebreërs 2:13,14) Inderdaad sou engele vandag nog aan mense kon verskyn, maar ons moet baie versigtig wees. Engele mag nooit ons bron van lering of dogma word nie! Paulus is hieroor baie uitgesproke in Galasiërs 1:8 “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” Die evangelie van Jesus is vir eens en altyd opgeteken in God se onfeilbare Woord! As enige hedendaagse predikant, priester, profeet of engel ’n boodskap bring wat van die Bybelse waarhede verskil moet ons dit as valse lering afkomstig van Satan verwerp! En inderdaad, vermom Satan homself as ’n engel van die lig om mense te mislei. (2 Korintiërs 11:14) Mense dink dan dis ’n engel wat met hulle praat, maar dis al die tyd ’n demoon! ’n Klassieke voorbeeld van sulke vernietigende misleiding, is die Mormone se aanspraak dat ’n engel, genaamd Moroni met Joseph Smith gepraat het en aan hom die basis van hulle geloof oorgedra het. Dis ’n valse leer, want die Mormoonse geloof bots duidelik met God se Woord!

God stuur en gebruik sy engele soos Hy wil. Nêrens word ons egter aangemoedig om kontak met engele te soek of hulle op enige manier te leer ken of te vereer nie. Nee, ons fokus moet op ons heerlike verlossing en spesifiek op ons aanbiddingswaardige Verlosser, Jesus Christus wees! God se wens vir ons in hierdie verband, word so mooi verwoord in 2 Petrus 3:18 as hy waarsku dat ons nie moet toelaat dat ons van ons standvastigheid beroof word nie : “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem (groei) in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

Mag dit waar word van my en jou!

* Die letterlike betekenis van die Griekse woord, parakuptoo is “vooroorbuig” (om beter te kan sien)

** PHR van Houwelingen : 1 Petrus - Rondzendbrief uit Babylon. Daar is ook gebruik gemaak van Edmund P. Clowny : The Message of 1 Peter

*** Sien ook op hierdie Blog, LUGFOTO VAN DIE BYBEL (3 dele)


Donderdag 05 Januarie 2012

BABELSE BOUSELS of GOD SE BELOFTES?

Waaroor dink jy en droom jy? Waarna sien jy konstant uit? Veral ook in hierdie jaar? Miskien is hierdie jou laaste jaar op skool  of universiteit of laaste jaar by die werk voor aftrede. Of, dalk is dit jou eerste jaar op hoërskool of die eerste jaar by ’n nuwe werk. Hoe dit ook al sy...hoe dink jy oor die toekoms? Hoe lyk jou toekomsverwagting en beplanning? Lees bietjie saam met my Hebreërs 11:8-10 en dink weer oor hierdie vraag!

In sommige opsigte verskil God se kinders nie van die ander mense rondom nie. Christene moet ook eet, werk, ons moet ook spaar vir noodsaaklike behoeftes, ons moet ook beplan en leer vir eksamens... nes almal.

In baie opsigte verskil die kinders van God wel baie radikaal. Veral wat betref ons toekomsvisie en langtermyn beplanning is daar ingrypende verskille!

Die onbekeerde wêreldse mens se toekomsbeskouing en beplanning eindig by aftrede en dood! Dit haak vas by die hier en nou. Hy kan of wil nie verder kyk nie.

Die Christen se toekomsbeskouing en beplanning gaan verder as die dood en hou rekening met die ewige finale bestemming.

Die onbekeerde se beplanning het veral te make met geld en besittings bymekaarmaak. (Dis waaraan sy meeste tyd en krag bestee word. Dis sy passie)

Die Christen se fokus is om God te behaag en uit dankbaarheid Jesus te dien. (Dis natuurlik net as jy ’n nuwe hart deur die wedergeboorte gekry het, moontlik!) Die kind van God is daarop ingestel om sy krag en besittings en lewe in die Koninkryk te belê. So is God se kind deurentyd aktief besig om skatte in die hemel bymekaar te maak. Die kind van God het ’n duidelike toekomsverwagting vir anderkant die graf.

Hier vind ons dus ’n belangrike groot toets vir die egtheid van ons Christenskap.

Mense sê so maklik : "Ons glo!" Maar waar egte geloof is, is daar ’n lewendige toekomsverwagting wat verder strek as ons tydelike aardse bestaan. Abram word hier deur die Hebreërs skrywer as voorbeeld van egte geloof voorgehou en ons lees duidelik dat hy uitgesien het na die stad met vaste fondamente! (10)

As mens teruggaan na die Abram geskiedenis in Genesis, sal jy verstaan hoekom hier so sterk melding gemaak word van die "stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en die bouer is." In Genesis volg die Abramsgeskiedenis op die verhaal van die toring van Babel.

Abram staan in sterk kontras met die bouers van die toring van Babel.

Die bouers van Babel is tiperend van die sondige mens se ideaal om vir homself ’n toekoms te ontwerp en te skep. Babel vertel ons van menslike selfversekerdheid. Die mens is sy eie lotsbepaler. Die mens wil vir homself naam maak deur die bou van 'n stad met 'n toring! (lees Genesis 11:4) Maar dan kom God in Genesis 12 en sê vir Abram : "Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis (letterlik: "naam" -OAV) maak! (Gen 12:2) Abram is sprekend van die gelowige mens, wat wag op God se beloftes! Omdat Abram glo, het hy ’n lewende hoop en verwagting op ’n ewige erfenis wat God hom sal gee. Die Babelbewoners skep vir hulself ’n toekoms, maar God skep vir sy mense ’n toekoms! Die toring van Babel was wel indrukwekkend, maar dit was tydelik en gedoem. Die stad waarvan God die ontwerper en bouer is, sal ewig wees!

Waar pas jou visie in? By die Babelbewoners of by die Beloftes van God?

Elke kind van God, elkeen wat waarlik in God se beloftes glo, sal uitsien na die finale bestemming wat God beloof het. Hierdie toekomsgerigtheid maak ’n praktiese verskil in ons daaglikse lewens:


~ Dit bepaal hoe ons hartseer en terugslae hanteer. Die kind van God beleef ook smart, swaarkry en teleurstellings. Ons huil ook, maar ons herwin ons vreugde omdat ons werklik iets het om na uit te sien. Die vaste heerlikheid waarop ons hoop, oortref die smart van nou! Paulus skryf hieroor in Romeine 8:18 (Lees)

 
~ Dit bepaal ook hoe ons suksesse en vreugdes hanteer. Christene beleef ook soms baie vreugdes in hierdie lewe. Ons geniet ook lekker kos, ’n huisgesin, vriendskappe en al die baie goeie dinge wat God ons skenk. Ons weet egter dat ons blydskap nooit gebou moet wees op mense of dinge of omstandighede nie, maar op die beloftes van God! Ons is bewus van die tydelikheid en kwesbaarheid van aardse geluk, ons verlang na die vaste onwankelbare hemelse vreugde. Ons besef dat die beste seëninge in hierdie lewe maar net die voorgereg is, die HOOFGEREG moet nog kom!

 
~ Dit bepaal hoe ons besittings beskou en hanteer. Die Here seën ook soos Hy wil sy kinders met aardse besittings. Ons weet egter als hier is tydelik, dit word net vir ons geleen. Ons is maar net tydelike rentmeesters. Die Here kan dit enige tyd net so vinnig wegneem as wat Hy dit gegee het. Ons gebruik en geniet wat Hy ons gee, maar ons harte is nie daaraan verknog nie, want ons wag vir iets beter!

 
~ Dit motiveer ons om getrou en toegewy aan Jesus te bly. Abram kon in moeilike tye volhard omdat hy uitgesien het na die finale beloning. Hy kon die ongerief van tydelike tentwonings verduur, want daar was die belofte van ’n finale vaste woonplek. Diegene wat regtig uitsien na ’n heerlike toekoms is bereid om ter wille van Jesus gespot en eenkant gestoot te word. Dis wat Hebreërs 13:13,14 ons leer. (Ons vind weer die stadsmotief hier, "geen blywende stad nie"- OAV, Grieks) Die wete van ’n beloning speel ’n groot rol in die kind van God se lewe! Ons vergeet so maklik dat dit ’n groot rol in Jesus se eie lewe gespeel het! (Hebreërs 12:2) Jesus het onder uiterste omstandighede volhard en God se wil gedoen, Hy het gehoorsaam na die kruis gegaan, omdat daar ’n beloning en vreugde vir Hom in vooruitsig was!

 
Nie een van ons weet wat 2012 alles vir ons gaan bring nie. Maar as ons ’n Bybelse Beloftegedrewe toekomsvisie het, as ons ’n vaste hoop op ons ewige erfenis het, sal ons alles kan hanteer tot eer van die Here wat in hierdie jaar op ons pad sal kom! Ons sal weet hoe om te maak met swaarkry en vreugdes! (Sterkte!!)

Sien jy met sekerheid uit na jou ewige vaste verblyf? Is jy ’n Babelbewoner of is jy ’n uitsiener na die waarmaking van God se Beloftes? Amen