BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Voordele van Christenskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Voordele van Christenskap. Wys alle plasings

Donderdag 05 November 2015

IS DIE EVANGELIE NOG RELEVANT?

Maak Jesus en die evangelie regtig ‘n verskil vir mense wat worstel met droogtes, geldelike probleme en siektes? Bied die evangelie enigsins hulp vir mense met hartseer, pyn, bekommernisse of vrese? Kom ons wees eerlik - Die meeste mense dink die evangelie is nie meer relevant nie! Daarom doen hulle selde die moeite om daarna te luister en nog minder moeite om dit te glo en daarvolgens te leef!

Jesus sê vir ons baie duidelik wat die relevansie en die belangrikheid van die evangelie is in MARKUS 10:28-31. Die agtergrond van Jesus se woorde is natuurlik sy ontmoeting met die ryk jongman. Die ryk jongman wou baie graag die ewige lewe verkry, maar hy was nie bereid om afstand te doen van die een groot ding wat hom verhinder het om Jesus te volg nie. Ons weet sy groot probleem, sy sonde wat tussen Hom en Jesus gestaan het was sy gierigheid – sy liefde vir geld en besittings. Toe Jesus hom dus uitdaag om afstand te doen daarvan en Hom te volg het hy bedruk weggegaan. 

So baie mense sien nie kans om Jesus te volg nie weens een of ander ding wat ‘n houvas op hulle het....

In teenstelling met die ryk jongman het Jesus se dissipels wel alles verlaat om Jesus te volg. Dit klink byna of Petrus so bietjie daarmee wil spog. “Petrus sê toe vir Hom: "Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U." (28) Dis asof hy wil sê, “Here neem asseblief net kennis, ons het alles opgeoffer om U te volg, wat sal ons beloning wees? Watse voordele gaan ons kry? Ons het gedoen waarvoor die ryk jongman nie kans gesien het nie” Jesus se antwoord sou ‘n baie insiggewende perspektief gee...

Kom ons vra net weer die vraag. Is die evangelie relevant? Maak dit ‘n positiewe verskil? Antwoord : JA! Hoekom?

Die evangelie is relevant in die eerste plek omdat ons sondaars is. Ons sonde is ons grootste probleem al besef ons dit nie, want ons sonde maak skeiding tussen ons en God en as daar nie iets aan gedoen word nie sal dit ewige finale skeiding (in die hel) bring. Dit was juis die ryk jongman se probleem. Hy het nie besef dat hy regtig ‘n sondaar was nie. Hy het uiterlik ‘n mooi lewe gehad- hy het nie egbreuk of moord gepleeg nie en ook nie gesteel nie... Maar intussen is sy lewe deur gierigheid oorheers. En toe Jesus hom uitnooi om Hom te volg en teen sy sonde van gierigheid te kies was hy nie bereid nie en moes teleurgesteld weggaan van Jesus. (22) So het hy die vergifnis en verlossing in Jesus misgeloop.

Goeie mense sonder Jesus is nog steeds verlore!

Die voordeel en relevansie van die evangelie is dat dit vergifnis en verlossing bring, vir die wat tot geloof en bekering kom. Jesus is die enigste oplossing vir ons sondenood en slawerny! En al word ons geknel deur droogte, al druk die skoen van finansiële verpligtinge en al mergel een of ander siekte ons uit – ons grootste las is ons sondelas en net Jesus kan ons van hierdie las bevry. Droogte is erg, maar dit kan ons nie uit die hemel hou nie, finansiële probleme is bitterlik swaar, maar dit kan ons nie uit die koninkryk weer nie, siekte is pynlik en vernietigend, maar weereens dit kan ons nie van God se liefde skei nie! Dis net sonde wat kan maak dat ons vir ewig in die buitenste duisternis sal beland, en dis hiervoor wat Jesus gekom het. Ons lees gelukkig van ‘n ander ryk man wat wel bereid was om Jesus in sy lewe te ontvang, Saggeus! Hy het bevryding gekry van sy gierigheid en bedrog. Dit het bewys dat niks vir God onmoontlik is nie. “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: "Wie kan dan gered word?" Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik." (25-27) Vergifnis van sonde en die herstel van ons verhouding met God is die groot voordeel van die evangelie!

Maar daar is ook ander "voordele". Kyk weer na 29-30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

Jesus sê in effek : Ja, mens verloor inderdaad baie om my te volg. Jy kan familie verloor (en ons weet dit gebeur, mense se familie draai teen hulle as hulle Jesus werklik wil dien), jy kan besittings verloor. (ons weet dit gebeur dat as mense eerlik in gehoorsaamheid wil leef dat hulle finansiële verliese ly) En tog gee die Here vir ons soveel meer seëninge. Moenie dt verkeerd verstaan nie, dit betken nie as jy Jesus begin volg gaan jy nou skielik 'n eiendomsmagnaat word nie! Nee, dit gaan oor Vaderlike seëninge binne die konteks van die Nuwe Verbond soos die Here dit wil geen en nodig mag ag. Dit gebeur veral binne die heerlike gemeenskap van gelowges. Dit kan wees in die vorm van geestelike broers en susters wat nader aan ons is as ons eie bloedfamilie. Geestelike tuistes! Natuurlik, die Here voorsien ook op wonderlike maniere in ons materiële behoeftes soos HY wil. Die punt wat Jesus wil maak is, nou reeds in hierdie lewe wen julle baie meer as wat julle ter wille van My verloor het! Maar dan voeg Hy onmiddellik by – “saam met baie vervolging.” In hierdie lewe sal die kind van God nooit net seëninge kry nie, vervolging en swaarkry ter wille van Jesus is onmisbaar deel van die pakket. Elke kind van God sal vervolging beleef – hetsy beledigings, valse beskuldigings, verwerping ... (2 Tim 3:12) In die bedeling wat kom, in die hiernamaals kry ons die ewige lewe. In hierdie lewe is die kind van God se seëninge altyd gemeng met swaarkry, maar in die toekomstige bedeling wag daar vir ons net seëninge. Anders gesê, nou is ons deel van die strydende kerk, eendag deel van die triomferende kerk! 

Nou bring die evangelie voordele gemeng met nadele, eendag sal dit net ewige voordeel wees!

Net ‘n slotwoord. Wat beteken vers 31? “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste." Dis moontlik ‘n subtiele berisping van Petrus. Jesus het dalk so ‘n tikkie selfvoldaanheid, ‘n bietjie gespog by Petrus opgetel. “Here, U moet darem net kennis neem ons het als verlaat ter wille van U, ons is darem oraait of hoe?” Jesus wil vir hom sê: “Onthou Petrus dis alles nog steeds net genade, die feit dat julle My volg is net genade. Moenie op julleself en julle goedheid vertrou nie. Ook julle wat My volg verdien niks nie. Moenie spesiale behandeling verwag nie. Alles, alles is genade, daarom is daar ook hoop vir laastes!” Ja, vir mense soos die ryk jongman is daar steeds hoop as hulle hulle bekeer en Jesus begin volg...

Sondag 29 Junie 2014

VOORDELIG?

- Is dit voordelig om ‘n Christen te wees? Wat is die wins van Christenskap?


['n Groepie kinders het die voorreg gehad om die afgelope naweek op Oom Piet Basson se plaas in die Otavi bergland te gaan kamp en oor hierdie en ander belangrike sake te besin.]



Waaroor gaan Christenskap? Wat is die doel van ons verlossing? Anders gestel, wat is Jesus se doel waarvoor Hy so bitter gely en gesterf het? Is dit dalk om vir ons :


‘n Goeie selfbeeld te gee? – nee, baie mense het ‘n goeie selfbeeld, maar hulle ken God glad nie. (hulle probleem lê juis by hulle oordrewe selfbeeld wat tot selfaanbidding lei.)

Voorspoed te bring? – nee, baie goddelose mense beleef wonderlike voorspoed. (ek kan aan baie voorbeelde dink...)

Eindelose gesondheid te verseker? – nee, in elk geval gaan alle mense eendag dood.

Prestasies op skool en op die sportveld te waarborg? – nee, baie ongelowiges presteer pragtig! Dis beslis nie net Christene wat toppestreerders is en 'n plek in die Springbokspan kry nie...

1 Petrus 3:18* gee ‘n duidelike antwoord. “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.” 

Twee sake in die teks is belangrik vir die beantwoording van ons vraag oor die doel en wins van Christenskap : Jesus het ons na God gebring, Hy het dit gedoen deur lyding


1.Jesus het ons na God gebring. Dis die doel van sy reddingswerk aan die kruis – “om ons na God te bring” Waaroor gaan dit? Hoekom is dit nodig? Soos telkens begin die antwoord by Genesis. God het ons geskape om by Hom te wees. Om Hom te aanbid en die saamwees met Hom (sy teenwoordigheid) te geniet.  Ons is spesifiek ontwerp vir hierdie doel! dink aan 'n motorsleutel - dis spesifiek ontwerp om 'n bepaalde voertuig aan te skakel... ja, jy kan dit gebruik om in die grond te krap, selfs in jou neus te grawe, maar dan mis die sleutel sy doel. (as so 'n sleutel 'n bewussyn gehad het, sou dit nooit vervulling en ware vreugde kon ervaar nie..." Sonder gemeenskap met God kan die mens nie vervulling belleef nie en moet hy maar staatmaak op allerhande plaasvervangers... wat hom telkens teleurstel! (Kliek op PLAASVERVANGERS) God het bedoel dat die mens (alle mense) priesters sal wees wat Hom gedurig moet aanbid en eer! Ja, ons is ook bestem tot konings om namens God op die aarde te heers en profete om sy getuies te wees. Dit als is verwoes deur die sondeval. In plaas van God te aanbid, kruip die mens nou weg! In plaas van eer bring ons skande op sy Naam. Daar is nou skeiding in plaas van gemeenskap en bewondering! Die mens is nou weens sy sonde ver van God (Romeine 3:23) – Jesus se verlossingswerk gaan juis daaroor dat ons nou weer na God gebring word.

Ons kry belangrike agtergrondskennis hieroor in die Eksodus gebeure. Die groot verlossingsdaad van God in die Ou Testament is die bevryding uit Egipte. Nou is dit interessant, waarom het God dit gedoen? Was dit maar net om vir die Israeliete ‘n bietjie beter lewenskwaliteit te gee? Beter wooonplek en meer gerief? Dit gaan oor veel meer... Ons kry die uiters belangrike antwoord op hierdie vraag in Eksodus 19:4-6. Hier word die doel van God se reddingswerk baie duidelik uitgespel : “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

As Petrus sy brief skryf is hy baie bewus van hierdie Eksodus agtergrond. Vergelyk 1 Petrus 2:9,10 wat lees : “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.” met Eksodus 19:4-6. Hierdie Christene vir wie Petrus skryf was ook eens op ‘n tyd ver van God (“julle was vroeër geen volk nie”) maar is nou deur Jesus na God gebring om koninklike priesters te wees! Gehoorsame aanbidders en getuies van God in ‘n donker wêreld! Dis die sin en doel van Christenskap!


OM BY GOD TE WEES IS DIE SIN VAN ONS BESTAAN EN DIE DOEL VAN ONS VERLOSSING!


2.Hy het ons na God gebring deur sy lyding. 

Jesus bring mense na God, nie bloot deur sy voorbeeld, preke of wonderwerke nie, maar deur sy lyding. Hy het spesifiek vir ons sondes gely! Mense sê deesdae, “moenie worry oor sonde nie!”, maar dis juis ons sonde wat die probleem is. Dis wat die verwydering tussen God en Adam en Eva veroorsaak het. Ons sonde het ons vyande van God gemaak. Dis hoekom Adam-hulle weggekruip het. Dis nog steeds die skeidsmuur tussen ons en God. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jesaja 59:1,2 OAV) Dis hoekom ons bang is vir God, bang vir die dood, hoekom dit voel of jou gebede teen die dak vasslaan... Om ons na God te bring moes Jesus hierdie muur afbreek, moes daar iets met ons sonde gebeur. Dis wat Jesus gedoen het toe Hy as onskuldige, die straf van die skuldiges gevat het. Daar het ‘n groot omruiling plaasgevind. Hy vat ons sonde en straf op Hom en ons gaan vry. (Dink bietjie dis letterlik wat in die geval van die moordenaar Barabbas gebeur het. Die Onskuldige word met die dood gestraf en die skuldige word vrygelaat!) Die Onskuldige vat ons straf, daardie straf bring vir ons vrede, vrede met God! (Jesaja 53:5,6)

Hierdie vrede, om by God te wees, VERSOEN MET HOM! - is die doel, is die wins van Christenskap. Dis 'n ewige wins! Hiervoor sal ons so dankbaar wees dat ons bereid sal wees om vir Jesus te ly. “Ja, spot my maar, ek sal dit verduur, want Jesus het my deur sy lyding na God teruggebring, ek kan bekostig om ook vir Hom te ly!”

*As ons kyk na 1 Petrus 1:18 saam met die vorige vers 17 is Petrus se doel met hierdie teks baie duidelik : Dis om vir Christene wat swaargekry het en vervolg is daaraan te herinner dat ons bereid en gewillig moet wees om vir Christus te ly, want ons verlossing is alles aan sy gewilligheid om vir ons te ly te danke. Die identiteit van die “geeste in die gevangenis” is een van die berugte obskure gedeeltes in die Nuwe Testament waaroor baie debat al gevoer is, maar dit raak uiteindelik nie die kern van Petrus se boodskap hier nie.






[Oom Piet Basson deel met ons inligting vanuit sy merkwaardige miskruierversameling. Ons is baie dank verskuldig aan oom Piet en tannie Heidi, asook Eckhardt en Sigi Basson, Buys Steenkamp, Ingo Stark en Belinda Gerber. Baie dankie vir wat julle vir ons kinders doen! Dit word waardeer!]