BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 01 Junie 2012

MAORI NAGMAAL EN BOERE SMART

- bevrydende krag tot vergifnis.

Wat het ‘n Maori nagmaal ver oor die see in New Zealand en die konsentrasiekamp smarte van die Boere Oorlog hier op eie bodem met mekaar te doen?

Kom ek begin met die merkwaardige berig oor ‘n besondere  nagmaal in New Zealand.  ‘n Juweeltjie wat ek onlangs weer raakgelees het.* Dis Desember 1848 by ‘n plekkie genaamd Putiki op die walle van die Wanganui rivier.  ‘n Groot getal bekeerde Maori’s is saamgetrek om onder andere nagmaal te vier onder leiding van Rev. Richard  Taylor van die Church Missionary Society. Hulle het rivierlangs  met hulle  kano’s gekom.  Sommige uitgedos in tradisionele klere en ander in nuutverworwe Europese drag. Die bediening van die nagmaal is oor twee dae versprei, weens die groot aantal deelnemers. Op die 25ste word die tweede groep bedien. Tydens hierdie diens het ‘n aangrypende gebeurtenis plaasgevind wat die krag van die evangelie sonder twyfel sigbaar gedemonstreer het. Twee Maori hoofmanne was onder die aanwesiges by die tafel van die Here. Een van hulle, Tamati Wiremu Puna van Aramoho het sigbaar gebewe. Na die diens is hy uitgevra oor sy emosie. Hy vertel toe die aangrypende verhaal dat die ander hoofman, Panapa van die Nga-ti-Apa, wat saam met hom was, vantevore sy pa doodgemaak en geëet het! Hy het toe voortgegaan om te sê dat net die evangelie wat hom ‘n nuwe natuur gegee het, kon maak dat hy saam brood kon eet en uit dieselfde beker kon drink as die man wat die moordenaar was van sy eie pa.

Die verbysterende omvang van die pyn en smart wat ons Afrikanervolkie deur die Britte aangedoen is tydens die Anglo-Boere Oorlog het, maak weer opnuut mens se emosie wakker  met die onlangse onthulling dat nie 27 000 van ons volksgenote (soos ons gedink het)  in die Britse konsentrasiekampe gesterf het nie,  maar ‘n angswekkende 34 000.  Die diepte van hierdie onmenslike behandeling word nie net deur koue syfers vertel  nie, maar veral deur die verhale van moeders wat magteloos moes toesien hoe hulle kinders in hierdie haglike kamptoestande onnodig deur siekte, honger  en ontbering uitgewis word.

Van hierdie vertellings is opgeneem in ‘n nuwe boek oor die smartlike euwels van die konsentrasiekampe, “ONTHOU! - Kronieke van vrou - en kinderlyding 1899-1902" saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels.

Magdalena van der Merwe praat oor die dood van haar dogtertjie : 

“Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf...”

Anna Botha van Breipaal, Smithfield, vertel van die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp:

“Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!’ Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. 

“Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ’n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” 

Die verhale van magtelose moeders, die foto’s van uitgeteerde liggaampies, rye en rye name van gestorwe kinders, kleuters, babas... dreig om vals note van verbittering uit jou sielsnare uit te ruk, maar...

...Tamati Wiremu Puna kon die moordenaar Panapa wat sy pa opgeëet het, vergewe,  want daar was ‘n houtkruis met ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het. Dis ook die enigste (maar gelukkig genoegsame) rede waarom ons die Britte kan (en moet) vergewe vir die 34 000! Al is dit bewend en met trane in ons oë, kan ons harte die suiwersoet note van vergifnis uitjubel!

Is daar nog iemand wat jy moet vergewe?

* An Early Communion in New Zealand, Peter Best in The Banner of Truth, January 1996

6 opmerkings:

  1. Antwoorde
    1. Vergifnis is inderdaad pynlik, maar bevrydend! Maar hoe kan ons anders, daar was mos 'n kruis...

      Vee uit
    2. DIT IS UITERS VERMETEL VAN JOU EN MENSE WAT SOOS JY DINK OM TE VERGEWE NAMENS MENSE WAT OP DIE VERSKRIKLIKSTE WYSE VERMOOR IS! IS JY GOD OM TE VERGEWE VIR DIE GRUWELDADE WAT GOD IN DIE TIENGEBOOIE VERBIED!JY HET GEEN REG OOR 'N ANDER MENS SE LEWE NIE EN DIT SLUIT IN VERGEWE VIR 'N SONDE WAT NET GOD MAG VERGEWE! HY MAAK DIE WETTE ONS IS SY KINDERS NIE SY GELYKE NIE!SAREL PRETORIUS sarel.b@mweb.co.za

      Vee uit
    3. Vriend Sarel , jy gebruik darem sterk taal. Jy is reg God vergewe sonde en ek kan nie mense van hulle sonde vryspreek nie. Ek kan en moet volgens die boodskap van Matteus 18 wel mense wat teen my oortree het, vergewe, omdat ek vergifnis ontvang het. Die gevolge van onvergewensgesindheid is skrikwekkend! Ek dink jou bitterheid maak dat jy hierdie stukkie verkeerd verstaan het.

      Vee uit
  2. Mag die Here hulle vergeld na hul werke!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Volgelinge van Jesus kry die genade om te vergewe net soos Jesus ook sy vervolgers vergewe het! Dis die verskil tussen ons en die wêreld...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.