BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bybel - deurlopende Tema. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bybel - deurlopende Tema. Wys alle plasings

Maandag 16 April 2012

DIE DUIWEL SE BYBEL

- Satan se slinkse misbruik van die Skrif

Ja, jy het reg gelees. Die duiwel het ook ’n Bybel! En, nee, dis toe nie die Huisgenoot nie! Die skokkende feit is juis dat Satan heel dikwels van  presies  dieselfde Bybel as ons gebruik (eerder misbruik) maak. As dit dalk vir jou vreemd klink, gaan lees maar gerus weer die gedeelte in Matteus 4:1-11 waar Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is. In vers 6 lees ons hoe Satan twee aanhalings uit Psalm 91 maak om Jesus te probeer oorreed om van die tempel se hoogste punt af te spring. Ewe manhaftig sê die duiwel dan vir Jesus : “Daar staan mos geskrywe...” Natuuurlik kon Jesus Hom terug antwoord uit die Woord deur te sê : “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’” Satan haal die tekste uit Psalm 91 wel korrek aan, maar gee ’n vals betekenis daaraan asof God se beloftes van beskerming sou beteken dat ons opsetlik maar kan toets of dit wat God sê waar is. Jesus wys hom dan duidelik uit die Woord dat sy gebruik van die teks teen God se bedoeling is. Satan het doelbewus Jesus probeer mislei uit die Bybel om Hom weg te hou van God se bedoelde lydensweg. Hy stel Jesus voor ‘n maklike pad van kitsroem, want as Jesus van die tempel sou afspring, sou almal Hom as iets besonders geëer het. So sou Jesus weggelok word van die doel van sy koms naamlik sy plaasvervangende sterwe aan die kruis.

Satan misbruik God se Woord veral deur dit buite konteks te gebruik en ’n vals op-die-klank-af betekenis daaraan te heg. Kom ons kyk net na vier voorbeelde:

Matteus 7:1 “Moenie oordeel nie” Hierdie is ’n geliefkoosde skuiwergat wat Satan bied vir mense wat nie aangespreek wil word oor hulle sonde nie. As hulle tereggewys word,  is hulle gou om terug te kap : “Onthou die Bybel sê  jy mag nie oordeel nie.” Dis ook ’n gerieflike verweer vir die morele relatiwis wat beweer dat die Bybel geen norme en standaarde het nie en dat niks meer sonde is nie. Maar wat sê Jesus regtig hier? Hierdie vers kan onmoontlik beteken dat Christene geen sedelike beoordeling of onderskeid tussen reg en verkeerd mag maak nie. Sonder enige norm sou dit in elk geval sinneloos wees om van “balk en splinter” te praat, want dan is als mos maar ewe reg! Verder aan in Jesus se gesprek is dit baie duidelik dat daar van ons  inderdaad verwag word om onderskeid tussen reg en verkeerd te maak as Jesus waarsku teen die vals profete. (Vers 15)  “Pas op vir die vals profete” Beoordeling van hulle dade is belangrik, want Jesus gaan voort om te sê : “Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.”  So ’n uitspraak van Jesus sou geen sin maak, as ons nie instaat kon wees om te onderskei tussen goed en verkeerd nie!  Wat Jesus wel verbied is skynheilige foutvindery van mense wat self nie ontsag vir God se oordele het nie. Ons moet besef dat onsself ook deur God beoordeel word. Wie die erns hiervan besef sal allereers erns maak met sy eie lewe. Paulus se opdragte in 1 Korintiërs 5 stel dit ook duidelik wat die regte vorm van “oordeel” is wat God se kinders moet beoefen. Daar moet dissipline, toesig en tug binne ’n gemeente wees. (1 Kor 5:13 NAV)  “Maar julle moet oor julle eie mense oordeel : ‘Verwyder die slegte mens onder julle uit!’” Snaaks dat niemand hierdie teks aanhaal nie!? Is die rede dalk mensevrees? En om hierdie mensvrees weg te steek skuil ons maklik agter ‘n oppervlakkige lees van Matteus 7:1?

1 Tessalonisense 5:21 “Beproef alle dinge...”  (OAV) ‘n Kansvatter sou dalk hierdie teks as verskoning wou gebruik om al wat ‘n sonde is, uit te probeer! Hier staan tog immers “alle”  dinge! Kan dit wees? Moet ek proe aan dronkenskap of ‘n slag my geluk by die dobbelhuis toets? Die belangrikheid van die konteks vir ‘n gesonde verstaan van die Skrif word hier weereens duidelik gedemonstreer. Wie net die vorige vers lees sal agterkom dat dit hier gaan oor die beoordeling van profetiese uitsprake. Ja, ons moet erns maak met die profesie, maar ons het die verantwoordelikheid om dit te beoordeel. En die maatstaf van beoordeling is God se Woord. Dis nie nou die plek om in te gaan op wat die Nuwe Testament met profesie bedoel nie. Maar ongeag mens se opinie oor hierdie saak is dit baie duidelik dat hier geen groen lig gegee word om allerhande sondes of skadelike dinge uit te toets nie. As iets teen God se Woord is moet ons alleenlik maar daarvan af wegvlug en dit met alle mag vermy! (2 Timoteus 2:22)

Johannes 10:28  “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”  Dis inderdaad ’n wonderlike belofte wat waar is, maar die duiwel gebruik dit om ’n valse gerustheid aan onbekeerde (of vals bekeerde) mense te gee. Hoe so? Hierdie belofte gee Jesus  nie sommer aan elke Jan Rap en sy maat  nie, maar net aan Sy skape. Die vers net voor vers 28 is baie duidelik, waar Jesus sê : “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.”  Van hulle - gehoorsame volgelinge van Jesus,  en net hulle word gesê dat hulle onaantasbaar veilig in Jesus se hand is. Die stelling : “Eenmaal gered, altyd gered” is ’n kosbare Bybelse waarheid, maar as daar hoegenaamd nie ’n “eenmaal” in my lewe was nie, kan ek tog ook nie die “altyd” op my van toepassing maak nie. Wat bedoel ek? Baie mense het op ’n stadium een of ander oppervlakkige emosionele ervaring (dalk op ’n kamp of tydens ’n moeilike tyd in hulle lewens)..., maar dit was in die verre verlede en hulle huidige lewe toon geen tekens van ’n wandel met Jesus nie. Oor ’n lang tydperk blyk dit dat daar geen diepgaande lewensverandering plaasgevind het nie. Dit was bloot ’n verbygaande gevoel en ’n kortstondige belewenis. As sulke mense op ’n teks soos hierdie vertrou, is dit ’n gevaarlike mistasting. Hulle leef ver van God af, maar troos hulleself met ’n belofte wat eintlik glad nie op hulle van toepassing is nie. Die oplossing is om eerlike selfondersoek te doen en met opregtheid na Jesus te kom, alleenlik op Hom my vertoue te stel en in dankbaarheid Hom te begin gehoorsaam. Dan kan ek op hierdie kragtige belofte en ander soortgelyke beloftes (soos Filippense 1:6) staatmaak!

Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong” Dis ’n basisteks van die “Spreek Lewe” dwaling  wat tans baie mense (en ook opregte Christene) op sleeptou het.  Hierdie dwaalidees kom nie uit ’n gesonde nugtere verstaan van die Woord nie, maar is versinsels van die Word of Faith Movement. Satan misbruik hierdie teks om mense te laat glo dat ons skeppingskrag in ons woorde het. Dis natuurlik ’n New Age leuen!

Laat ons dit duidelik sê : Die mens het nie bonatuurlike skeppingskrag in sy woorde nie. Net God kan ’n magswoord spreek soos byvoorbeeld by die skepping : “Laat daar lig wees!” (2 Korintiërs 4:6) Net God kan ook die lig in ‘n donker hart laat skyn!

Wat beteken  hierdie teks in Spreuke dan?  Onthou die boek Spreuke gaan oor praktiese alledaagse wysheid. Dit gaan hier bloot oor ’n waarskuwing om versigtig te wees wat ons sê. Los (en baie ) pratery, skinder, beledigings en leuens het verskriklike gevolge. Verkeerde woorde uit ’n mens se mond kan groot skade aanrig en ja, selfs die dood veroorsaak. (’n Koning kon byvoorbeeld ’n doodsvonnis oor iemand uitspreek en so ’n persoon se lewe beëindig of dwase rebelse  praatjies kan jou in die moeilikheid by die owerhede laat beland en dit kon ook jou lewe kos) Dis die konteks waarin hierdie uitspraak gemaak word. (Sien ook vers 6-8) In die Nuwe Testament spreek Jakobus hoofstuk 3 wat handel oor die tong hierdie selfde tema aan en die boodskap is : “Beheer jou tong!”

Dit beteken hoegenaamd nie dat ons woorde ’n soort van magiese krag  het nie. As dit dan nou kwansuis ’n “geestelike wet” is, hoekom gaan hierdie ouens nie na hospitale en begraafplase en wek almal wat dood was weer op nie? Hierdie mense het inderdaad al groot hartseer en verwarring  met hulle dwaalleer veroorsaak. Ds. Maritz van Koppies, wat self pynlike ondervinding hiervan het,  vertel : “Toe ek die tyding gekry het dat my seun verongeluk het en reeds breindood is, het ek op die stoel neergesak en gebid: ‘Ag Here, tog nie nog ‘n kind van my wat sterf nie!” Iemand sê toe: ‘Moenie so dood spreek nie; spreek lewe oor die kind!’ My seun se brein was reeds drie ure sonder suurstof en ek het geweet wat dit medies beteken.” 

Die Word of Faith Movement dink dat mens God kan beveel, eintlik gaan sommige nog verder en dink dat die mens self ’n klein godjie is! Die kernmotief agter  hierdie dwaling is die menslike soeke na mag. (dink maar aan wat in die tuin van Eden gebeur het) Hy wil graag vir homself die lewe so gerieflik moontlik te maak en misbruik geloof om vir homself gesondheid en welvaart op aarde te verseker. Vir meer agtergrond oor hierdie dwaling lees gerus : “Man as God - The Word of Faith Movement” deur Rev. Curtis I. Crenshaw.

Ten slotte : God se Woord is kosbaar en lewegewend. Maar pasop in die hand (mond) van die Satan bring dit die dood! Daar is soveel tragiese voorbeelde hiervan. Daarom is dit nodig dat ons die Woord binne sy konteks, bedoeling en geheelinhoud sal verstaan. (kliek : LUGFOTO VAN DIE BYBEL) God het vir hierdie doel die gawe van waarheidsleraars deur al die eeue aan sy kerk geskenk. Vir die kind van God is dit dus uiters belangrik om deel te wees van ‘n gemeente waar die Woord in waarheid verkondig en uitgelê word.

Donderdag 19 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 3


Die Koninkryksbeloftes word in JESUS vervul. Hy kom verlos vir God weer ’n Volk (Matteus 1:21) wat God as Koning aanvaar. Daar word ’n nuwe Land, Kanaän (die nuwe hemel en aarde) in vooruitsig gestel. Die oproep tot bekering is ’n oproep om jou aan God se koningskap te onderwerp! Jesus bring dus ‘n einde aan die Ballingskap van God se volk. (Daarom word die Ballingskap waarskynlik so pertinent genoem in die Matteus geslagsregister. Sien Matteus 1:17)

Nog meer heerlik :

JESUS bring nie net die Koninkryk nie, Hy is self die vergestalting van die Koninkryk.

Hy in Homself is waarlik God (Koning), waarlik mens (Volk), Hyself vervang ook die tempel wat die fokuspunt is van die Land en Hyself is die nuwe norm vir ons lewens. Hyself is ons Wet.


Jesus is waarlik God met ons! (Immanuel) God en mens in volmaakte verhouding! Wie in Christus is, staan in volmaakte verhouding met God.

Hy is ons Koning wat by ons is. Bekering beteken om sy koningskap te aanvaar. As Pilatus vir Jesus vra of Hy ’n koning is, dan erken Hy dit, maar maak dit duidelik dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.(Johannes 18:36)

Jesus is in Homself die  Volk van God. Daarom wys Matteus vir ons hoedat Jesus eintlik Israel se geskiedenis herhaal. Jesus word ook uit Egipte geroep soos die volk Israel. (Sien Hosea 11:1 en Matteus 2:15) Net soos Israel word Jesus in die woestyn versoek. (Matteus 4) Die verskil is net dat waar Israel in die woestyn misluk het, slaag Jesus al die toetse en versoekings! Hy doen dit namens ons wat in Hom glo. Jesus is die begin van die nuwe mensheid, die Volk van God. Die tweede Adam, soos Paulus dit stel. As ek aan Jesus deel kry deur die geloof en bekering is ek ook deel van God se Volk!

Jesus is die ware tempel (die fokuspunt van die Land) Soos die heerlikheid van God in die tabernakel en tempel teenwoordig was, so sien ons nou die heerlikheid van God in Jesus! (Sien Johannes 1:14) Jesus vervang die tempel. (Johannes 2:19-22) Daarom kan ons God net in Gees en waarheid aanbid deur Jesus. Hy is die ware tempel, die ware “ontmoetingsplek” met God! (sien sy woorde aan die Samaritaanse vrou in Johannes 4:21-24) En alle gelowiges vorm deur hulle verbondenheid aan Jesus deel van die tempel. Hierdie waarheid het groot praktiese implikasies : Die kerkgebou is nie die huis van God nie, wel die lewende gemeente in verbondenheid aan Jesus! Hierdie waarheid beteken ook dat géén gebou meer die tempel van God genoem kan word nie.

 

Al bou die moderne staat Israel ook ’n tempel in Jerusalem, het dit vir ons as Christene geen betekenis nie, want Jesus is ons ewige tempel!


Jesus self is ook ons nuwe norm (Wet) binne die konteks van die Nuwe Verbond. Ons moet sy voorbeeld navolg en sy opdragte gehoorsaam. Hyself is ons nuwe standaard, daarom gaan Hy op die berg (soos Moses op Sinaï) en kondig die nuwe grondwet af van die Koninkryk van God! (Die bergrede in Matteus 5-7) Jesus kan daarom telkens gesagvol verklaar : "...maar Ek sê vir julle..."

Al hierdie elemente is Jesus, vir ons, namens ons, wat in Hom glo!

Met Jesus se koms het die Koninkryk van God inderdaad naby gekom! Wie aan Jesus behoort het nou reeds deel aan die Koninkryk van God, al het die finale sigbare vorm van die Koninkryk nog nie aangebreek nie. Daarom kan Jesus sê : "die Koninkryk van God is hier by julle". (Lukas 17:21)

By die VOLEINDING word die Koninkryk van God finaal herstel. Wanneer God (Koning) vir ewig onder sy verlostes (Volk) sal woon op ’n nuwe hemel en aarde (Land). Die hele skepping word herstel! Lees maar Romeine 8:18-25. Jesus se verlossingswerk het kosmiese implikasies! Hy is nie alleen Skeppingsmiddelaar nie, maar ook Herskeppingsmiddelaar! Die gevolg? Alles sal in volmaakte harmonie wees volgens God se wil! (Wet)  Volkome geregtigheid heers in die nuwe skepping. Sien 2 Petrus 3:13,14. Kyk ook na Openbaring 21:1-5 en 22:1-3! Hier sien ons ook hoe die Paradys (land) weer herstel word. Die uitdrukking,“boom van die lewe” is mos Paradystaal. Die boom sal 12 maal per jaar vrugte dra! (Openbaring 22:2) Dis heerlikheid in ’n oortreffende trap! Die heerlikheid van God se nuwe Koninkryk sal permanent wees, want dit word nou uitgebeeld as ’n stad. In Bybelse denkwyse is ’n stad baie meer permanent as ’n tuin! (König) Die vervloeking weens die sonde word opgehef (Openbaring 22:3) en God se verloste volk sal Hom dien. Die woonplek van God is by die mense! Die breuk wat sonde veroorsaak het, is vir altyd weg. Die Koninkryk van God sal voortbestaan tot in alle ewigheid!

Is jy in Christus en so al deel van die verloste volk? Sien jy uit na hierdie heerlike erfenis?

(erkenning aan Graeme Goldsworthy, According to Plan)



Maandag 16 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 2



In Deel 1 het ons gesien: God se Koninkryk is geskend deur die sondeval. God is egter nog steeds die almagtige Skepperkoning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se herstel van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Ons kan Jesus se werk net verstaan in die groot konteks van die herstel en aanbreek van God se Koninkryk. Dit help ons ook om te verstaan wat bekering is. Bekering is onderwerping aan Jesus die Verlosser-Koning!


Die elemente van die Koninkryk nl. Koning, Volk, Land, Wetstruktuur is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis. (Die geskiedenis van God se groot verlossingsdade in die lang proses van die herstel van sy Koninkryk)


Die verdorwenheid van die gevalle mens na die sondeval gaan van erg tot erger. (Gen 6:5) God gryp in met sy skrikwekkende oordele - ’n verwoestende vloed wat die Tsunami van destyds in Japan na kinderspeletjies laat lyk... God laat vaar egter nie Sy plan om sy Koninkryk weer te vestig nie. Die geskiedenis van Noag is die volgende groot fase in die heilsgeskiedenis. God (Koning) red Noag en familie (Volk) en gee aan hulle weer die aarde (Land) om op te vermeerder. Hy sluit ’n Verbond (Struktuur) Die na-sondvloed aarde wys vir ons reeds op die herstel van die hele skepping, die nuwe hemel en nuwe aarde. Vergelyk Gen 1:28 met Gen 9:1,2. (dieselfde opdragte van God aan die mens om sy skepping te vul en te versorg) Ons sien ook reeds dat Verlossing en Oordeel saamgaan. God is ’n genadige God wat verlos, maar almal word nie verlos nie, die meerderheid word veroordeel en vernietig! Dis net ’n oorblyfsel van 8 mense wat oorleef (Die Bybel ken nie ’n eensydige God-is-liefde teologie nie!) Die wat gered word is min - die gedagte van ’n oorblyfsel wat gered word kry ons ook weer later by die profete. Maar ook Jesus self sê die pad is smal wat na die lewe lei en die wat gered word min!

Kyk net hoe word die basiese Verlossingswaarhede reeds in die Ou Testament bekend gestel!



Nadat God die menslike arrogansie by Babel straf (Gen 11) maak Hy ’n nuwe begin in Genesis 12 met Abram. Kyk na die kontraste! (Vergelyk Gen 11:4 met Gen 12:2!) Die mens probeer self vir hom ’n naam maak - (dis waarom die lewe vandag nog draai vir die ongelowiges) , maar God sê vir Abram : “EK sal jou naam groot maak!” (Lees dit in die OAV) 

Hier kry ons weer die koninkrykselemente: God (die Koning) kies Abram en beloof aan hom ’n nageslag (Volk) en die land Kanaän (Land) en sluit met hom ’n verbond (Struktuur van verhouding).


Belangrik : Die verbond met Abram gaan nooit tot niet nie! Die verbond met Abram word nooit “oud” genoem nie, wel die latere Mosaïese Verbond. Daarom word Christene in die Nuwe Testament, kinders van Abram genoem! Galasiërs 3:7, 29!

Abram se nageslag, Israel beland in Egipte. Ons weet hoe het dit gebeur - die geskiedenis van Josef en hoe God dit gebruik het om hulle aan die lewe te hou. Tog skep dit ’n krisis! Hoe so? God se beloftes is onder druk - dit lyk of dit nie gaan realiseer nie, want die volk is onder vreemde heerskappy (onder die farao) in ’n vreemde land (Egipte). Dit lyk asof God se plan om sy Koninkryk te vestig misluk het, dit lyk asos Hy sy beloftes vergeet het, of dat Hy nie die mag het om dit uit te voer nie...

Maar dan na ongeveer 400 jaar, kom daar weer aksie!  Die Uittog onder leiding van Moses! God, die Koning dink aan sy beloftes (sien Eksodus 2:24,25) en red sy Volk (deur Moses) en lei hulle na Kanaän (die beloofde Land). Op pad gee Hy aan hulle ’n Wetstruktuur by die verbondsluiting by Sinaï. Dis die konstitusie van die Koninkryk in hierdie fase van die heilsgeskiedenis.

Die doel van God se redding van sy volk word duidelik uitgespel in Eksodus 19:3-6. (lees dit deeglik)

Die doel van God : God bring hulle na Homself - God red ’n volk om gemeenskap met hulle te hê, om aan Hom te behoort (eiendom), om Hom te dien, om afgesonder te wees vir Hom ! Dis nog steeds die doel waarvoor God mense red!

Vergelyk ook Eksodus 19:3-6 met 1 Petrus 2:9,10. Duidelike parallel! (nou reeds kan jy sien dat God se volk in die Nuwe Testament, nie meer etniese Israel is nie, maar alle ware gelowiges wat aan Jesus behoort!)


In die nuwe Land, regeer God (die Koning) sy Volk deur rigters en later konings volgens die vereistes van die Verbond (Wetstruktuur). (Let op - die volk sowel as hulle leiers is vol mislukkings. Dit laat ons uitsien na ’n Leier wat nie sal misluk nie) Die fokuspunt van God se teenwoordigheid in die land is eers die tabernakel en later die tempel. Dis waar God se heerlikheid in besonder aanwesig is. God sluit ’n verbond met Dawid dat iemand uit sy nageslag altyd sal regeer. Die volk en hulle konings is aanhoudend ongehoorsaam en uiteindelik word hulle in Ballingskap in ’n vreemde land weggevoer en die tempel verwoes.


Die profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël ens) profeteer die terugkeer uit die Ballingskap en ook ’n Nuwe Verbond (Jeremia 31:31-34). Hulle voorsien ook die herstel van die tempel. Daar sal ’n Verlossingsfiguur kom, ’n nuwe Dawid (Jesaja 11 ens.) wat sy volk sal verlos en as Koning vir altyd sal regeer. Hy sal terselfdertyd ’n lydende Kneg wees! (Hier is Jesaja 53 uiteraard baie belangrik! Veral vers 5 en 6. Die straf wat vir ons sonde op die Kneg neerkom, bring vir ons vrede!) Daar is net Een Persoon na wie dit kan heenwys, Jesus Christus! Kyk maar, hier is weer die temas van Koning, Volk, Land en Wetstruktuur (verbond)

Hier kan jy nou reeds sien dat so baie lyne na Jesus toe loop. Die hele Ou Testament is soos 'n berglandskap met klomp spruitjies en stroompies, wat bymekaar aansluit en groter riviertjies word en uiteindelik in een groot rivier saamvloei in die see in. Die hele Ou Testamentiese boodskap vertel ons van die noodsaak van Jesus, laat ons uitsien na Jesus, maak uiteindelik net sin in Jesus! Dis die opwindende boodskap waarna ons volgende keer in meer detail sal kyk. (kliek op LUGFOTO 3)

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy : According to Plan)


Woensdag 11 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 1


Wat is die groot deurlopende tema van die Bybel? Wat is die groot Bybelse storielyn? Die geheelprentjie? Dis baie belangrik, want dit beïnvloed wat jy glo en hoe jy leef.  Wie dit verstaan het die regte fokus op Jesus ons Verlosser tot eer van God!

Iewers het ek die volgende getuienis raakgeloop :

"I found it so moving when I started to discover how the Old Testament is basically one long record of failure—the failure of God’s people time and time again to live rightly, to rescue themselves—and that the stories in the Old Testament are all getting us ready for the One who is coming. They are all signposts to the True Hero, the True King, the True Prince, the True Servant, the greater David, the greater Daniel. The Rescuer.

As a child, I thought the Bible was packed with rules you had to keep (or God wouldn’t love you) and heroes setting examples you had to follow (or God wouldn’t love you). I thought, in short, that the Bible was all about me and what I should (or shouldn’t) be doing. Until I read a Story.

It’s the Story running like a golden stream underneath all the other stories in the Bible: the story of how God loves his children and comes to rescue them. Suddenly, I realized the Bible wasn’t about me and what I should be doing at all. It was about God and what he had done. And it changed everything."

So kom ons kyk na die groot Bybelse storielyn. Wat is die storie en wat is die hooftema? Wat is die groot saak waarmee God besig is? Wie is God en wat het Hy gedoen? Waarnatoe is God oppad? 

Hoe kan ons hierdie vrae antwoord?  Die beste plek om te begin is sekerlik Jesus Christus self. In Hom vind ons immers die finale openbaring en spreke van God. (Hebreërs 1:1-3) As ons na Jesus (en Johannes die Doper) se prediking kyk is daar een groot tema wat uitstaan :

DIE KONINKRYK VAN GOD.

Lees nou : Matteus 3:1,2; Matteus 4:23; Matteus 13 (Koninkryksgelykenisse); Markus 1:14,15 en onthou sommer weer die Onse Vader gebed wat sê: "Laat U Koninkryk kom"

Jesus sluit in sy prediking aan by ’n konsep wat reeds bestaan vanuit die mense se kennis van die Ou Testament! Die groot storie is die storie van God wat sy Koninkryk vestig!


Wat beteken die begrip Koninkryk?

Minstens 4 elemente is nodig voor mens van ’n Koninkryk kan praat. Daar is nodig :
’n Koning,
'n Onderdane/Volk,
'n Land, 
’n Wet/Grondwet/Struktuur wat die relasie tussen koning en onderdaan bepaal. Presies dieselfde 4 elemente is ter sprake by God se Koninkryk.


Belangrik : Hierdie vier temas vind ons deurlopend in die Ou  sowel as Nuwe Testament. Dit word telkens herhaal, maar net met groter en ryker betekenis.

Reeds in Genesis 1 en 2 sien ons die grondstruktuur en basiese elemente van God se Koninkryk

Die Koning is God,
Die volk is die mens (Adam en Eva),
Die land is die paradys (tuin van Eden),
Die wetstruktuur : God praat met hulle (Woord) of mens sou ook reeds kon praat van ’n verbondsverhouding vanweë die feit dat God die Skepper van alles is.

Belangrik : Voor die sondeval was al hierdie persone en elemente in ’n volkome harmonie met mekaar!

God gesels met die mens, tussen mense is daar geen konflik nie, tussen mens en natuur is daar geen wrywing nie ens.

God se Koninkryk is dus : Daar waar God regeer oor sy mense op sy plek deur sy Woord in ’n situasie van volkome harmonie en geluk!

Die SONDEVAL verander alles!

Genesis 3 is uiters belangrik. Die mens rebelleer, verwerp God se koningskap (verklaar homself onafhanklik) en alle verhoudings word gevolglik versteur :

Die mens is nou bang vir God. (Hy kruip weg en die ongeredde mens doen dit natuurlik vandag nog steeds!)

Mens en mens is in konflik. (Adam beskuldig vir Eva, die konflik word so erg dat die heel eerste gesin ’n gesinsmoord beleef toe Kain vir Abel vermoor. Hierdie lewe van onderlinge konflik is steeds die kenmerk van menslike bestaan in huwelik, gesin en maatskappy.)

Die mens en die land is ook nie meer in harmonie nie. (Die mens word weggejaag uit die paradys, die aarde word vervloek, dorings en distels verskyn, pyn en dood word deel van die aardse bestaan) Ons is maar te bewus van hierdie konflik : besoedeling, uitwissing van spesies, oorbenutting, rampe...

Natuurlik is die mens nie regtig onafhanklik nie, maar ’n slaaf en onderdaan van Satan. Sonde is die instrument (kettings) van slawerny in die hand van die duiwel.

 

God se Koninkryk is dus geskend, want daar is nie meer volkome harmonie nie. God is egter nog steeds die almagtige Skepper en Koning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Deurdat die mens aan Satan toegegee het, is die Satan nou die vors van hierdie wêreld, maar hy is nie in beheer van die heelal en die voortgang van die geskiedenis nie, God is! Niemand, ook nie Satan kan sy planne stuit om sy Koninkryk weer op te rig nie.

Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se HERSTEL van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Die elemente van die Koninkryk is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis (die verlossingsgebeure).

Jesus het gekom om die Koninkryk te herstel! Met sy koms het die Koninkryk dus naby gekom. Die betekenis van sy koms en sy oproep tot bekering kan net verstaan word in hierdie breë raamwerk van die herstel van die Koninkryk. Die Ou Testamentiese geskiedenis vorm die agtergrond en die voorbereiding daarvoor... Na hierdie geskiedenis sal ons volgende keer verder kyk!

Om deel 2 te lees kliek op LUGFOTO 2

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy, ACCORDING TO PLAN)