BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 07 November 2014

NOOIT TE JONK NIE!

- begin sou gou as moontlik vir Jesus ken en skyn.

[Hier is drie kerse : ‘n kortetjie,  ‘n baie lang een, en ‘n middelmatige een. Watter van hierdie kerse is ‘n “baba” kers en watter een is die “oupa” kers? Reg geraai. Die lang kers is die “jong of baba” kers, want hy het nog ‘n lang tyd oor om te brand! Die kort kersie is die “oupa” wie se tyd begin min word...]




Kom ons lees die bekende verhaal van die jong Samuel se roeping as profeet in 1 Samuel 3:1-10. Hier word twee baie belangrike dinge oor die seun Samuel gesê :

Vers 1. “Samuel het die Here gedien.” Van kleins af het Samuel aan God behoort en Hom in die tempel gedien. Ons ken mos die geskiedenis – hoe die kinderlose Hanna hartstogtelik gebid het vir ‘n kindjie... Sy het ‘n gelofte afgelê... “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: "Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie." (1:11) Sy het met sulke groot passie en erns gebid dat die priester Eli gedink het sy is dronk! Toe het sy ‘n belofte gekry dat die Here vir haar ‘n seun sou gee. “Toe sê Eli: "Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het." (1:17) Dit het waar geword. Sy het ook haar gelofte nagekom en hom na die tempel gebring vir diens aan die Here. Ons moet nooit die gebed en die invloed van sy moeder miskyk nie. Dis ‘n voorreg om in ‘n Christelike huis groot te word, om van kleins af deel te wees van die kerk, om die Bybel te leer ken, maar die Here wil nog iets beter vir jou...

Vers 7. “Samuel het nog nie die Here geken nie.” Samuel was besig met God se dinge daar in die tempel, maar ‘n innige persoonlike verhouding het nog ontbreek. Ons kan sê, Samuel het God net so op ‘n afstand geken. (soos jy dalk jou onderwyser ken, maar nog nie soos mens ‘n pa of naby vriend ken nie) God het ‘n groter plan gehad vir Samuel as maar net so ‘n algemene diens en algemene bekendheid. 

God het Samuel persoonlik geroep en Samuel het persoonlik geantwoord op Sy roepstem! Ons sou kon sê dat Samuel se ouers tot op hierdie stadium namens hom gekies het om die Here te dien, maar nou moes Samuel self kies! Ook as verbondskind moes hy nou self verantwoordelikheid vat!

Ons ouers, die Sondagskool, die kerk het ‘n goeie invloed op ons. Ons word groot met God se dinge. Daar kom egter ‘n tyd wanneer die Here persoonlik met ons praat. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees regtig hier diep in ons hart met ons praat deur die Woord. Dis wanneer ek weet, God roep vir my op my naam. Dit gebeur wanneer ek weet ek is ‘n sondaar en ekself het Jesus nodig.

Miskien sê jy : "Maar Dominee, Samuel was tog ‘n spesiale geval, hy is geroep as profeet. Ek is maar net ‘n gewone kind. Die Here sal my seker nie roep nie?" Ja, dis waar ons is almal gewone mense, maar die Nuwe Testament in geheel leer ons dat God ons almal roep deur Jesus om konings, profete en priesters te wees. 

Jesus roep jou om as koning te heers oor sonde, om gesag uit te oefen en sy wil te doen. 
Jesus roep jou om ‘n priester te wees om jouself met dankbaarheid, gebede en lof aan Hom te offer (toe te wy, te gee). 
Jesus roep jou om as profeet sy Woord te verkondig, vir Hom te getuig daar waar jy is tussen jou klasmaats en in jou huisgesin.

Om dit saam te vat : God wil in ‘n baie persoonlike verhouding met jou staan, HY WIL BAIE NABY AAN JOU WEES en op ‘n persoonlike manier gebruik. Hy roep jou nou terwyl jy nog jonk is, sodat jy lank vir hom kan brand en ‘n lig kan laat skyn. (Jy is nog soos die lang kers!) Hy roep jou nou, deur Sy Woord en die Heilige Gees wat met jou praat in jou hart! Die Here wil jou beste jare hê. Hoekom sal mens jou beste jare vol energie vir die duiwel mors? Ons het net een lewe en ook net een jong lewe. Dis nou die beste tyd om op God se roepstem te antwoord. Vorentoe kom daar al meer probleme en hindernisse. Prediker 12:1 gee vir ons baie goeie raad. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

God roep en gebruik jongmense en kinders : Miriam, die jong Dawid, die onbekende dogtertjie in Naäman se huis... Jeremia was nog jonk, Timoteus was nog jonk. Jesus gebruik die vyf brode en twee vissies van ‘n seuntjie... Hy roep jou vandag! Jy word geroep om in Jesus te glo, om raak te sien dat Jesus klaar die straf vir al jou verkeerde dinge gedra het aan die kruis. Jy moet glo dat sy offer ook heeltemal genoeg was vir jou en dat Hy jou ten volle liefhet. 

Hy roep nou. Jy moet vandag antwoord. Sommer nou, kan jy in jou hart met Jesus praat en vir Hom sê : “Hier is ek!” Hoekom nie? Hoekom wil jou uitstel? Hoekom wil jy nog verder in sonde voortgaan en nog verdere letsels opdoen? Hoekom wil jy kosbare tyd wat jy saam met God kan deurbring vermors deur dit saam met die duiwel deur te bring? Niemand wat van jongs af God se kind geword het, was al ooit spyt daaroor nie...

Die grootste gevaar is uitstel. (kliek op UITSTEL) Dis speel met vuur om te sê: “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen, ek sal maar eers die vakansie agter die rug kry...” Hy roep jou vandag en niemand kan waarborg dat jy weer ‘n kans sal kry om geroep te word nie! Gaan jy antwoord? Hoor weer, HY ROEP JOU!

En ten slotte, sommer 'n dringende woord van waarskuwing aan die groot en ou mense : Jou kers is dalk al baie kort, jou tyd is min, maar tot vandag toe nog het jy nie gehoor gegee aan Jesus se roepstem nie... Jy het jou lewe "bestee" aan jouself en nie aan God nie.  Jy het nog 'n kans om die saak reg te stel, reageer NOU!

6 opmerkings:

  1. Johannes ek stem met jou saam dat ʼn mens nooit te jonk is om Jesus te soek nie.
    Ek stem saam dat dit speel met vuur is om te sê “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen” ens. ens. Maar my probleem is wat Hector Jooste sê “en daardeur sal God se uitverkorenes almal op tyd wakker gemaak word om die pad van die Lewe te bewandel.” As God ons dan uitverkies het en ons geen deel aan ons redding het nie, hoekom moet ek hom soek, Hy sal ons mos op Sy tyd wakker maak.
    Ons plaas Bybeltjies in die gevangenis en dit is so wondelik om van die jong gevangenis te sien wat Jesus Christus aanneem as hul persoonlike verlosser. Ons kan sekerlik nie elke dag in die gevangenis wees om hulle by te staan nie, maar hierdie jong bekeerlinge hou Bybelstudie, bid saam, loof die Here op hulle manier. Die bewaarders kan nie uitgepraat raak oor die rustigheid waar hierdie bekeerlinge teenwoordig is nie. Ja baie ouer persone kom ook tot bekering. Die Engele juig oor elke siel wat Jesus aanneem.
    Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit
  2. Boeta jy is vir my 'n kosbare broer in die Here en oor so baie basiese dinge stem ons hartlik saam. Dis egter vir my duidelik dat jy nie die Bybelse leer van die uitverkiesing reg verstaan nie. Ek vermoed jy het met 'n karikatuur daarvan te doene gekry. (en dit was seker nie jou skukd nie) In hierdie stukkie beklemtoon ek juis dat ook verbondskinders (soos Samuel) self moet kies en reageer op God se roepstem. Ons het dus elkeen 'n besliste verantwoordlikheid. Ons Calviniste glo egter dat ons totaal verdorwe is en vanself nie eers God wil soek nie. As ons dus wel God soek en Jesus aanneem as Verlosser (soos ek en jy gedoen het), gee ons ALLE EER daarvoor aan God en bely dat Hy ons eerste wakker gemaak het, ons dooie wil lewend gemaak het sodat ons Hom kon aanvaar! Inderdaad Soli Deo Gloria! Die mens se wil en verantwoordlikheid is 100% betrokke, maar dis God se soewereine genade wat daaragter sit! Ek sal een of ander tyd weer ietsie hieroor skryf... Vrede vir jou

    AntwoordVee uit
  3. Johannes, baie dankie vir jou antwoord. Jy is vir my net so ʼn kosbare broer in die Here en ja daar is baie waaroor ons saam stem. Ek wil dit net noem dat ek met geen karikatuur oor die uitverkiesing te doen gekry het nie. Soos wat ek in die Woord begin delf het, het ek besef dat ek met ʼn liefdevolle God te doen het wat volgens die Woord nie wil hê dat een siel verlore moet gaan nie. Die waarheid het my vry gemaak, vry van dogma, oorgelewerde gebruike en tradisie. Maar al die jare in die NG Kerk is die Dortse leerreëls aan my voorgehou waarin God sekere mense uitgekies het om gered te word en ander uitgekies is om verdoem te word. Ek vra my toe af “what love is this” Ek het toe onder leiding van die Gees tot die besef gekom dit is vals. Daar is voordurend aan my voorgehou God is soewerein, waarmee ek nie verskil nie, maar Hy gebruik nie Sy soewereiniteit om mense hel toe te stuur nie. Ek het toe die gedeeltes wat die Gereformeerdes gebruik om hul uitverkiesing te regverdig onder leiding van die Heilige Gees bestudeer en die Woord het vir my totaal oop gegaan en ek het die waarheid ontdek. Ek gaan dit nie nou hier bespreek nie. Al wat ek hier wil sê is wat Goddelike soewereiniteit beteken.
    "What About God's Sovereignty?"
    By sovereignty we mean that God is supreme in power and that He has absolute dominion over all creations. Some teach that because God is sovereign that He chooses to lord it over all men as He pleases regardless of any just rights they might have and that He wills to save some and damn others solely because of His own choice, but as we have seen, God is not that kind of Being. As far as power is concerned, He could destroy free moral agents regardless of their sin or holiness, but He cannot do this and be just and holy Himself. Therefore, since His character is absolutely holy and just and impeachable, He will not use His power except for the highest good of all creations. He does not even desire to misuse His power for He is righteous in all His ways.
    God's sovereignty is real but He does not choose to use it to hurt anyone. He gives all free moral agents the right of choice of right or wrong in all matters and He holds them responsible for their choice. He is creator and Lord of all but He is kind, merciful, just, loving, good, and compassionate towards all, and He does not will that any should perish, but that all should come to repentance (2 Peter 3:9; 1 Tim.2:4---5).The following passages teach the sovereignty of God, but not one of them teaches that He misuses His authority in any realm. He is consecrated to the highest good of all and obligates Himself to bless all men alike that come to Him through Jesus Christ. Note the sovereignty of God is stated in Gen. 14:18--20; 24:3; Ex.9:28; 15:18; Deut. 4:29; 10:14; 1Chron.29:11--12; Ps.89:11;Dan.2:20---21; 1 Tim.6:15; Rev. 4;11; 11:15
    The sovereignty of God is not the fickleness of God.
    Sovereignty does not mean that one does not have to keep commitments, covenants, or promises. It does not mean that one can act arbitrarily.
    Sovereignty simply means that one is capable of making one's own choices. It does not mean that one can choose not to keep a promise or commitment. God has sovereignly decided that He desires all mankind to be saved, healed, prosperous, and blessed. He has sovereignly decided how mankind can be saved, healed, prosperous, and blessed. He sovereignly decided to pay the penalty of man's transgression and accept all who accept his generosity.
    He has decided the rules by which life must be lived, and He had the right to decide said rules.

    Groete in Christus
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, jou insig van "what love is this"klink vir my baie na Dave Hunt!
      Ek gaan jou nie natwoord nie, maar dat die Woord dit self doen uit Romeine 9.
      "Want aan Moses sê Hy: "Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is." Dis die Bybelse betekenis van Goddelike soewereiniteit!

      groetnis

      Vee uit
    2. Hi, Julle, vir my is dit so as jy glo in Jesus die Verlosser is jy uitverkies en God is nooit onregverdig nie, ons kan Hom net vertrou en weet Hy is God en onse mense se verstand is toegesluit. Ons moet ons verkiesing vasmaak, Vrede groete,Charlotte

      Vee uit
  4. Dankie Charlotte. Jy is vanuit die gelowige se oogpunt heeltemal reg! Elkeen wat waarlik in Jesus alleen glo is uitverkies! Dis trouens presies wat Calvyn self geleer het. Hy stel dit so : Christus is die spieël van die uitverkiesing! Wie gelowig na Jesus kyk as algenoegsame Redder, weet en sien - God was my genadig en ek is uitverkies sonder enige verdienste vanaf my kant! En jy is ook reg - hierdie wete maak my nie laks nie, maar laat my die heiligmaking najaag en so maak ek my roeping en uitverkiesing vas - ek bevestig dit deur my lewe. 2 Petr 1:10 Vriendelike groete, Johannes.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.