BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 01 Desember 2023

Maria die Begenadigde

 - Is sy die ark van die Nuwe Verbond?

Ons lees in Lukas 1 hoe die Engel het aan Maria 'n verbysterende buitengewone wonderbaarlike boodskap oordra...  Dit kom daarop neer... "Ja al het jy nie ‘n man nie, sal jy moeder word van die Seun van die Allerhoogste." Dink bietjie... Sy ‘n gewone tienermeisie. Dis asemrowende  genade! Dis ook die ontsagwekkende ALMAG van God in aksie. 

Die engel het ook die feit van Elisabet se swangerskap genoem as  voorbeeld dat niks vir God onmoontlik is nie. (Dis natuurlik nie die eerste keer dat 'n kinderlose vrou, wonderbaarlik moeder word nie. Dink maar aan Hanna die moeder van Samuel. Later blyk dit dat Lukas doelbewus die aandag wil vestig op die Samuelgeskiedenis...) 

BESOEK AAN ELISABET

Maria gaan besoek nou Elisabet en daar gebeur weereens onbeskryflike heerlike dinge.   Die ongebore Johannes, spring op van vreugde in Elisabet se baarmoeder. Elisabet word vervul met die Heilige Gees. Dan maak sy met die krag en insig van die Heilige Gees ‘n merkwaardige uitspraak – Maria is uniek geseënd onder vroue ( absoluut uitsonderlik spesiaal) “Geseend is die vrug van jou moederskoot.” Dit sou nog normaal kon klink, maar dan kom die klimaks in vers 43 – “die moeder van my Here,” maw die moeder van Jesus die Here, onthou - Jesus wat waarlik God is m.a.w. die moeder van God! Dis ontsagwekkend! Opvallend ook is die manier waarop Elisabet se woorde gestel word in vers 43    “Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?” Wie is ek, ek is dit mos nie werd nie?

ARK VAN DIE NUWE VERBOND?

Hier kom ons nou by ‘n baie interessante en  fassinerende saak. Ons is mos nou nie die eerste mense wat hierdie gedeelte in Lukas lees nie. Ons moet dit ook lees saam met die kerk van 2000 jaar. Nou is dit interessant dat van die ou kerkvaders na Maria verwys het as die Ark van die Nuwe Verbond. 


Die verbondsark – dit was mos daardie goue houtkis wat in die Allerheiligste deel van die  tabernakel en later die tempel gestaan het. Ons ken die geskiedenis van hoe die ark deur die Fillistyne weggevoer is, al die drama wat daarmee saam gegaan het en die hele verhaal hoe dit weer teruggebring is na Jerusalem.  (Lees gerus  gou daarvan in 2 Samuel 6.)

As ‘n mens nou bietjie dieper na hierdie paragraaf in Lukas kyk, sien mens merkwaardige ooreenkomstige tussen hierdie gebeure by Elisabet  in Lukas 1 en die terugbring van die verbondsark in 2 Samuel 6. Dit lyk asof Lukas sy verhaal doelbewus skoei op die gebeure in 2 Samuel 6. Onthou net Lukas het waarskynlik reeds sy lesers voorberei vir ‘n tabernakel en ark konteks! Vgl. Lukas 1:35 met Eksodus 40:34,35 waar die heerlikheid van die Here neerdaal op die tabernakel waarbinne die verbondsark van God was!  In die Septuagint vertaling van die Ou Testament word hier presies dieselfde woord gebruik. * Daar is reeds dus die insuniasie van  'n lyn van die ark na Maria!

Kom ons kyk nou na 'n fassinerende vergelyking tussen die arkverhaal in 2 Samuel 6 en die besoek van Maria aan Elisabet:

Vergelyking** :

Ark van die Ou Verbond

Maria – “Ark” van die Nuwe Verbond

Die ark gaan na die bergland van Judea. (2 Sam. 6:1-11).

Maria reis na die huis van Elisabet en Sagaria in die berglandskap van Judea. (Lukas 1:39).

Dawid dans gekleed in ‘n priesterlike kleed voor die ark.  (2 Sam. 6:14).

Johannes die Doper, van priesterlike afkoms, spring op in sy ma se moederskoot as Maria naderkom - (Lukas 1:41).

Dawid vra  “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” (2 Sam. 6:9).

Elisabet vra : ““Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?”  (Lukas 1:43).

Dawid en die hele volk van Israel begroet die ark met uitroepe van vreugde. (2 Sam. 6:15).

Elisabet het  “hardop uitgeroep” (Lukas 1:42). Die Griekse woord ἀνεφώνησεν word in die Septuagint gebruik in konteks van die ark. (Hier in Lukas is dit die enigste plek in die  NT waar dit gebruik word!)

Die ark het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly.  (2 Sam. 6:11).

Maria bly drie maande by Elisabet. Lukas meld dit spesifiek.  (Lukas 1:56).

“Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën.” (2 Sam. 6:11).

Die woord geseënd/gelukkig word drie keer gebruik. (Lukas 1:39-45).

Die ark kom terug na Jerusalem en  uiteindelik teruggebring na die tempel waar die heerlikheid van die Here geopenbaar word. (2 Sam. 6:12; 1 Kon. 8:9-11).

Maria keer terug huis toe en eindig uiteindelik ook in die tempel in Jerusalem met die vleesgeworde Woord van God, die baba Jesus in die tempel. (Lukas 1:56; 2:21-22).



 

Is dit nou alles toevallig? Ek dink nie so nie...

DIE FOKUS OP DIE HEERLIKHEID VAN JESUS

Wat nou? Wat moet ons nou hiervan maak? Een saak is duidelik - God is op ‘n unieke manier in beheer van die geskiedenis. Die geboorte van Jesus word vooruitgesien in die detail van die Ou Testament selfs in die geskiedenis van die verbondsark. Maria is ‘n “tipe” van verbondsark, daar is ‘n lyn, ‘n ooreenkoms. Die ooreenkomste is te opvallend om maar net "toevallig" te kan weees...  Maar nou moet ons fyn trap - gaan dit oor die uniekheid van Maria of oor die uniekheid van Jesus?

Hierdie merkwaardige gebeurtenis onderstreep net bo alles die uniekheid van Jesus – belangrik – in die res van Lukas val die klem nie op Maria nie, maar op Jesus die Seun van Maria, die Seun van God.

Die verbondsark tipologie help ons juis om die heerlikheid van Jesus nog meer te besef!  Kyk eers na Hebr 9:3,4 waar die tabernakel beskryf word : 


"En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;"

Dink nou weer :

Die verbondsark het die Woord van God, die Tien gebooie op kliptafels bevat, Maria dra die Lewende vleesgeworde Woord van God, Jesus Christus. Die verbondsark het die staf van Aaron die hoëpriester wat gebot het bevat -  Maria dra die ewige finale Hoëpriester, Jesus in haar skoot;  Die verbondsark het ‘n goue kruik met Manna bevat wat die volk moes herinner aan God se versorging in die woestyn, Maria se baarmoeder bevat Jesus, die ware Manna, die Brood van die lewe wat van die hemel gekom het soos Jesus self dit verduidelik in Johannes 6:41.  

Maria se uniekheid as anti-tipe van verbondsark plaas die fokus op Jesus se uniekheid en genoegsaamheid. Hy vervul al die Ou Testamentiese gebeurtenisse, instellings, seremonies en voorwerpe. Aanbid Hom! Fokus op Hom. 

Dis die groot vraag bly dus- nie wat dink jy van Maria nie, maar - Ken jy die unieke Jesus die Seun van God? 

Tog bly Maria vir ons ‘n voorbeeld van opregte oorgawe aan die wil van God. Sy is ‘n modeldissipel. Ons dink aan haar met dankbaarheid. Ons respekteer haar as  die begenadigde maagd, die Moeder van Jesus saam met die kerk van alle eeue.

VOETNOTAS

*Die Griekse woord πισκιάζω wat gebruik word in Lukas 1:35 ("oorskadu" word ’n paar keer in die LXX gebruik om na die wolk van heerlikheid te verwys wat die verbondsark in die tabernakel oorskadu het. Ons vind dit byvoorbeeld in Eksodus 40:35 (κα οκ δυνάσθη Μωυσς εσελθεν ες τν σκηνν το μαρτυρίου, τι πεσκίαζεν πʼ ατν νεφέλη κα δόξης κυρίου πλήσθη σκηνή.

** Met erkenning aan die volgende tabel. Kliek op tabel.

Vir 'n volledige akademiese artikel oor hierdie onderwerp, kliek op MARIA - tipologie


Saterdag 04 November 2023

DIE DOOD LAAT MY WONDER...


 Wanneer ons hoor iemand het gesterf - wonder mens onwillekeurig : "Waar is hy NOU?" Of jy is op 'n staptog in die veld en loop verby 'n ou graf dan gaan die gedagtes ook wwer in daardie rigting : "Waar is hierdie persoon NOU - vir ewig in die teenwoordigheid van God of dalk iewers anders?"

Baie beslis is dit nie ons taak om te oordeel nie - gelukkig God alleen sal dit doen. Maar gelukkig laat die Bybel ons nie in die duister wat betref die belangrikste vraag in die lewe nie!

"HOE WORD 'N MENS GERED?"

Die antwoord op hierdie vraag word helder in die Heilige Skrif geantwoord sommer op baie plekke. Een so 'n besondere plek is daardie geleentheid toe die profeet JESAJA 'n buitengewone, aangrypende VISIOEN gesien het!


Kliek op VISIOEN en luister gerus. (Maak sommer jou Bybel self ook oop by Jesaja hoofstuk 6.)

Woensdag 20 September 2023

SAAM BID MET VALSE GODSDIENSTE?

- Wil die Algemene Sinode nou nóg dwalings inbring?


Dit klink asof daar stemme, baie subtiel en baie vriendelik ... binne in ons geliefde kerk opgaan wat dit goedpraat en aanbeveel dat ons selfs binne in ons kerkgeboue saam met aanhangers van heidense godsdienste gebedsbyeenkomste moet hou, waartydens ons in beurte of parallel met mekaar kan bid. Dis wat mens lees in die Agenda van die Algemene Sinode van die NGK van Oktober 2023 *


Natuurlik dit spreek vanself dat ons alle mense, as skepsels van God met respek moet behandel. Onbeskofte gedrag en beledigende optrede gaan niemand vir die evangelie wen nie. Paulus se weldeurdagte, maar kompromislose voorbeeld van verkondiging aan die heidene van Athene in Handelinge 17 is 'n handboekvoorbeeld.

Respekvol wees en sinkretisme (godsdiensvermenging) is twee verskillende dinge. Ek wil daarom ernstig beswaar maak teen die gedagte dat ons in ons gemeentes saam met Hindoes, Moslems, aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste ens. kan bid. 

VIER REDES

Ek noem graag vier redes waarom gesamentlike aanbidding met vals gelowe nie mag gebeur nie.. Die eerste drie gaan oor die verbreking van die eerste gebod, naamlik liefde tot God. Die vierde rede gaan oor die verbreking van ons liefdesverpligting teenoor ons medemens.

1.Daar is niks mooi in enige afgodsdiens nie. 

Hoe opreg die afgodsdienaars dit nou ook al bedoel, diens aan enige afgod is weersinwekkend.  In die genoemde ATLAS dokument word inderdaad verwys na Paulus se rede in die Areopagus in Athene, maar Handelinge 17:16 word gerieflikheidshalwe verswyg. “Terwyl Paulus in Athene op hulle (Silas en Timoteus)  gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is.” Die aanskoue van afgodsbeelde maak Paulus kwaad! PUNT.  Dit was sy diepste gewaarwording, maar natuurlik het hy taktvol en met wysheid hierna verder gepraat. Met vriendelikheid en beslistheid het hy Jesus aan hulle verkondig - die Man wat uit die dood opgewek is! Sy diplomatiese optrede het egter nie verhoed dat hy sy hoorders duidelik teen die komende oordeel gewaarsku het nie. Paulus het ook nie geskroom om die eis tot bekering te stel nie.

2.Wie afgode aanbid, aanbid eintlik demone. 

Dis nog ‘n ernstige rede waarom ons nie maar kan toekyk en deelneem aan ‘n geleentheid waar ander afgode aanbid word nie.  Dis Paulus se argument in 1 Korintiers  10:18-22 Let spesifiek op na vers 20!

“Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22 Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?”  

Wie deel wil neem aan die Heilige Nagmaal, moet seker maak dat hulle nie kompromie met die afgode en eintlik demone maak nie! Dit sou God se toorn kon opwek! Pasop!

3.God deel sy eer met niemand nie!  

Hier kom ons nou by die wortel van die saak.  Laat jou gedagtes bietjie teruggaan na die berg Karmel. Elia, God se enkele profeet op die toneel. 'n Weifelende volk. Hordes heidense priesters. Elia se boodskap en ultimatum  aan die wyfelende verbondsvolk was baie duidelik - “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” (1 Konings 18:21) 

Moet ons regtig nou toelaat dat Hindoe gode en voorvadergeeste in ons kerkgeboue aangeroep word?  Duisend maal NEE! Dit sou ‘n aantasting van God se eer wees! God se eie standpunt in Jesaja 42:8 is baie duidelik :  Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”

Kompromie met die afgode laat ons getuienis skade ly... Dit bring ons by die vierde rede.

4.Gesamentlike gebed met valse godsdienste is nie net disrespekvol teen God nie, maar is juis ook liefdeloos teenoor die verlore heidene. Hoekom? Daar is net een Middelaar tussen God en mens naamlik Jesus.  In ons tyd van postmodernisme en raltiwisme is die boodskap van 1 Timoteus 2:5 baie belangrik. “Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus  As ons nou maar sonder protes saam met heidene bid kan dit die indruk skep  dat daar baie paaie na God is en dat Jesus net een moontlikheid uit baie is, en so mislei ons mense. Dis doodgewoon liefdeloos.

Die stemme binne in die kerk wat ons wil aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid is nie die stem van die Lam nie, maar van die vals profeet!

 

*"Christene kan dus meehelp om gesamentlike aanbiddingsgeleenthede ‘n besondere kwaliteit te gee. Dit is nie ‘n geleentheid waar godsdiensgroepe met mekaar kompeteer of armdruk nie, maar ‘n geleentheid waar Christene – saam met mense van ander geloofsgroepe – ons geloof bely, elkeen op ons eie unieke manier. Godself is die Een wat ons harte toets en deurgrond – ons s’n, maar ook die harte van mense van ander godsdienste. Dus word die oordeel aan God alleen oorgelaat. Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van ander godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou. By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie. Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie. Sulke gesamentlike byeenkomste kan só ingerig word dat almal geleentheid gegun word om (ná mekaar, of parallel met mekaar) die kwessies wat bespreek is in gebed op te dra."  {Aanhaling uit AS 2023 Agenda p76]

Saterdag 26 Augustus 2023

BLY JY DALK TE LEKKER IN BABILON?

- Daar is geen toekoms in BABILON nie!

(Jy dink miskien dis lekker, maar dis GEVAARLIK!)


Waar woon jy en voel jy tuis? Waar behoort jy? Waar is dit lekker?  Ek bedoel nou nie Tsumeb, Windhoek of dalk die Kaap nie. Ek bedoel  Babilon of  die nuwe Jerusalem, die twee stede waarvan ons in Openbaring lees? (Kyk gerus by 
Openbaring 18:1-3;  21:1-3)

In Ou Testamentiese taal - Babel of Sion? Ja, want hierdie twee plekke het ‘n lang en onstuimige geskiedenis lank nog voor die tyd waarin Openbaring geskryf is en waaroor Openbaring skryf.

ABSOLUTE KONTRAS

Hierdie twee stede is ook op die uiterstes van die spektrum, onversoenbaar, “incompatible”. Dis die absolute “Tale of two cities” om nou maar Dickens se woorde te gebruik.  Dit verteenwoordig twee opponerende leefstyle, waardesisteme, koninkryke en eindbestemmings.  Dis duisternis teenoor lig. Leuen teenoor waarheid.  Geweld teenoor vrede. Onsedelike boosheid teenoor rein heiligheid. 

‘n Onrein losbandige prostituut teenoor ‘n rein maagdelike bruid.


DIE VERRE OORSPRONG

Kom ons gaan terug ver na die Ou Testament. Jerusalem is God se uitverkore stad. Ook bekend as, Sion. Hier is die troon van Dawid, die setel van God se heilige tempel, die sentrum van ware aanbidding. Jerusalem het egter gruwelik gesondig en God het die goddelose Babel gebruik om sy stad, sy mense te straf. Die volk Israel is in ballingskap na Babilonië weggevoer. Daar het hulle swaargekry en getreur. Die hartseer word so treffend verwoord in die bekende Psalm 137. (Onthou jy nog Boney M. se treffer "By the rivers of Babylon"?) 



Alles het so hopeloos en hartseer gelyk, maar God het sy volk en Jerusalem nie afgeskryf nie. God nie sy verbond vergeet nie. Deur die profete het Hy weer die einde van die ballingskap, die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel en die straf oor Babel aangekondig. 

God het nou vir sy volk deur die profete aangekondig dat Jerusalem se straf verby is. Jesaja 40:1,2 



God kondig ook die straf oor Babel aan. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 47 waar die val van Babel aangekondig word. Jesaja 47:10-11




Saam met die oordeelsaankondiging oor Babel kom God se oproep om uit Babel pad te gee. Jesaja 48:20  God beveel sy mense :"Kom nou weg uit hierdie bose plek en sisteem, hierdie plek gaan nou vernietig word!"



Teenoor God se oordeelsaankondigings oor Babel verseker Hy sy eie volk, die stad Sion dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Jesaja 49:14-16  God gaan sy stad reinig en bevry  Jesaja 52:1-2   Hierdie nuus dat God inderdaad KONING is (ten volle in beheer van die geskiedenis is en alle mag het om sy volk se lot postief  te verander) is goeie nuus!  (Niks anders nie as EVANGELIE) Jesaja 52:7








Hierdie beloftes van God oor  sy volk se bevryding uit Babel en die herstel van Jerusalem is natuurlik letterlik vervul. God het in sy absolute soewereine almag, die heidense koning Kores gebruik om die volk weer terug te bring na Jerusalem en die stad en die verwoeste tempel weer te herbou. 

Maar daar het nog iets heerliker  gekom. Jesus, die Lydende Kneg van Jesaja 53 het finaal ‘n einde aan die ballingskap gebring. Hyself was die ware tempel en Hy herstel Jerusalem  - Hy maak ‘n rein bruid, sy kerk bymekaar wat in Openbaring die nuwe Jerusalem genoem word.

Die kontras tussen die onheilige Babel en God se nuwe herstelde Jerusalem word deur Paulus gebruik om die Christene in Korinte tot heiligheid aan te spoor. 2 Kor. 6:17,18 7:1 vgl. Jesaja 52:11   Die goeie nuus van die bevryding uit Babel is nou die Goeie Nuus van die evangelie, ons verlossing uit die verslawende ballingskap van die sonde en sy sisteme. Maar as ons hierdie Goeie Nuus glo, moet ons wegbreek van alle sonde en ongehoorsaamheid! Dis lewensbelangrik!




(Om na 'n boodskap oor bogenoemde teks te luister, kliek op KOM WEG DAAR!)

IN OPENBARING

Maar kom ons blaai nou na Openbaring. Hier word die kontras tussen Babel en die nuwe Jerusalem, Jesus se bruid op ‘n spits gedryf. Die parallel met die beloftes in Jesaja en die boodskap van Openbaring is so opvallend.  Babilon is die simbool van hierdie bose wêreld met sy wellus en gierigheid wat die ware kinders van God onderdruk. Die oordeel oor Babilon word hier in hoofstuk 18 uitvoerig beskryf…



Let op Openbaring 18:4 (vgl. Jesaja 48:20 en 52:11 waarna ons reeds gekyk het)


Hierdie beskrywings van haar sonde, uitspattige weelde, onsedelikheid en moord op God se kinders kom uit veral Jeremia en Jesaja. 



DIE REIN BRUID

Teenoor die losbandige prostituut Babilon met die uitspattige en uitlokkende houding en voorkoms staan die rein bruid van Jesus, die nuwe Jerusalem, die geheiligde volgelinge van Jesus. Openbaring 21:2; 9-11 Daar is nie plek om op al die eienskappe en heerlikheid van die nuwe Jerusalem in te gaan nie. Een saak wat so belangrik vir onms tyd is moet egter duidelik uitgewys word – vers 27!





Waar voel jy tuis? (Voel jy tuis by die Visfees, Wildsfees of watter fees ook al waar gehoer en rumoer word?) Jy kan nie ‘n burger van beide Babel en die nuwe Jerusalem wees nie. Jy kan nie ‘n ondersteuner van altwee bly nie… Jy kan nie hoer en bruid tegelyk wees nie!  Baie mense mislei hulleself… ons behoort mos aan die kerk, ons is mos gedoop en aangeneem…ons is mos deel van die Nuwe Jerusalem. Kom ons stel dit duidelik – God se Woord is baie reguit… as jy aangaan met valsheid en gruwels… as jy aangaan met jou onsedelikheid, jou dronkenskap, geweld, leuens, bedrog… vergeet van toegang tot die heilige stad.

Die waarheid van God se bedoeling is nie om ons weg te stoot nie, maar op te roep tot bekering. Laat staan jou sonde en bekeer jou tot Jesus. Dis die duidelike boodskap van die sewe briewe aan die gemeentes in dieselfde boek van Openbaring.(Kliek op Boodskap van die Heilige Gees) Die oproep tot bekering kom in Openbaring na kerkmense, mense wat binne in die kerk leef soos aanhangers van Babilon. Kom en laat jou klere gewas word in die bloed van die Lam!

Kyk op YouTube. Kliek op LEKKER IN BABEL?

Vrydag 21 Julie 2023

FEES VAN DIE AASVOËLS!

 - Uitgenooi na die Bruilofsfees of Aasvoëlfees?

Hoor bietjie!  ‘n Uitnodiging na die feesmaal van God! Dit klink opwindend...heerlik! (Maak gerus jou Bybel oop by Openbaring 19:17-21)  Maar wie word hier  genooi? Spesifiek nou in vers 17,18? 

"En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” 


Dis ‘n uitnodiging aan die voëls, seker alle roofvoëls wat definitief aasvoëls sou insluit. Om die vleis van God se vyande te vreet. Dit klink baie kru, afgryslik en grusaam – en dis bedoel om so te wees. God praat reguit en ondubbelsinnig eerlik. Oor die heerlikheid wat wag op die heiliges, maar ook oor die ellende wat wag op die onheiliges.

In Openbaring kry ons baie skerp kontraste. Die Heilige Drie eenheid van God word gekontrasteer met die onheilige drie eenheid nl.  die Satan (draak), die antichris (dier) en die vals profeet. Teenoor die merk van die dier is die merk van God. (Dra jy God se merk? - Dis die belangrike vraag!) Die rein bruid van die Lam wat ook bekend is as die nuwe Jerusalem staan in skrille kontras met die onrein prostituut wat bekend is as Babilon. (Geen groter teenstelling is moontlik nie - maagdelike bruid teenoor losbandige hoer) God se kinders word uitgenooi na ‘n heerlike maaltyd, die bruilofsmaal van die Lam – maar daar is ook ‘n ander maaltyd – kom ons noem dit -die feesmaal van die aasvoëls! 



maar in skerp kontras staan die fees van die


Die getroue gelowiges sit aan by die bruilofsmaal, maar die goddeloses is self die grusame vleismaal. Bisarre ironie. Hulle is die genooides, maar hulleself gaan verslind word! Soos talle ander beelde in Openbaring wat uit die OT kom, kom hierdie beeld ook uit die Ou Testament naamlik Esegiël 39:17-20 (lees) 

Die vleisgereg wat deur die gulsige voëls verorber word is God se vyande… en hulle kom uit alle soorte en lae in die samelewing.

Hier is sprake van 'n groot geveg!

Vers 19 "En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër."

Dit gaan hier oor die finale veldslag tussen Jesus en al die vyande van God. Die uitslag van hierdie slag is nie onseker nie, daarom die uitnodig aan die aasvoëls nog voor die geveg begin het. Die detail van die veldslag word glad nie bespreek nie, maar dis duidelik dat  Jesus, die Ruiter op die wit perd oorwin het! Ons lees reeds van Hom in 19:11. 



Daar is geen twyfel wie Hy is nie – 19:13 Hy is die Woord van God. (Vergelyk Johannes 1:1)  Die ewige Seun van God!



Die Satan se twee hoof handlangers, die dier (Antichris) en die vals profeet (simbool van alle misleidende vals godsdienste en die vals kerk) word lewend in die vuurpoel gegooi. 

Vers 20.  "Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi."

Die klem op die feit dat hulle lewend in die vuurpoel  gewerp word, benadruk die afgryslike  grusaamheid van God se oordeel en straf op hulle wat opstandig volhard met sonde!

VERSADIG GEVREET AAN DIE VLEIS VAN GOD SE VYANDE!

Die paragraaf het begin met die uitnodiging aan die roofvoëls en eindig met die roofvoëls. Vers 21.

"Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis."

Hulle het hulle dik gevreet aan die vleis van God se vyande! Die oordele van God is finaal en volledig! Volgens Joodse tradisie moes dooies so gou moontlik begrawe worde – hier word nie een van God se vyande begrawe nie – hulle sterf as totaal vervloektes! Dit pas in by die profetiese vloek wat ons in Jeremia 7:33 vind : “Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie.”



Nou wat is die boodskap vir ons vandag? 

Onthou net Openbaring praat in prentjies met ons, dis beeldspraak.

TROOS EN WAARSKUWING.  Openbaring is in die eerste plek geskryf om God se kinders wat swaarkry te bemoedig en te vertroos. Een van die kwelvrae van God se kinders op aarde is juis – "Kyk, hoe kom die goddeloses weg met als! Gee God dan nie meer om nie? Dit lyk vir ons of daar nie meer iets is soos geregtigheid en regverdigheid nie."   En nou is die troos dit –  daar sal beslis en volledig afgereken word met die vyande van God en sy kerk.

My broer en suster, jy wat ly onder die goddeloses van hierdie wêreld – weet net dat die Almagtige God geregtigheid sal laat geskied. Die wraak kom Hom toe en Hy sal dit uitvoer! Die dikgevrete aasvoëls is die sigbare bewys!

Klink God dalk nie hier bietjie te wreed en sadisties nie? Opstandige en ongelowige mense sal wel hieroor wonder. Ons moet na die volle prentjie van God in Openbaring kyk.  God is die heilige en liefdevolle God wat Sy Seun as Lam laat slag het om ons skuld te betaal en ons te red. Maar dis juis sy onkreukbare heiligheid en integriteit wat nooit sonde en onreg ongestraf sal laat bly nie. Hierdie God wil graag dat alle mense gered word – dis duidelik uit die talle oproepe tot bekering in die boek van Openbaring.  Dink aan die boodskap van die SEWE BRIEWE(kliek) Die onderliggende boodskap van bekering is deurgaans aanwesig. Maar telkens lees ons van die weiering om te bekeer byv. Openbaring 9:20-21. 

"Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie"

God het plae gestuur om mense te waarsku, maar selfs diegene wat die pla oorleef het, het net soos die Farao van voorheen, steeds geweier om hulle te bekeer!  

 As bekering verwerp word en die Lam se offer vertrap word, wag daar oordeel

Die mens wat hel toe gaan het doelbewus gekies om te gaan!  PUNT. God is 'n God van redding sowel as oordeel! Hierdie oordeelsaspek van God se handelinge word totaal verswyg deur die vals kerk met sy “queer teologie” sy mensverering en sy "goedvoelprediking"  

EN WAT VAN JOU?

Is jy deel van die groep opstandiges teen God?  Maak jy kompromie met die goddelose wêreld?  (Onthou net die merk van die dier gaan oor kompromie met die goddelose denke en dade van die opstandige wêreld.) Is jy ‘n aanhanger van die Satan se trawante soos die vals profeet? Wees gewaarsku:



Maar my vriend/vriendin... ek haas my om vir jou uit te nooi - die genadedeur staan vandag nog oop – Kom gryp die verlossing aan in Jesus en weet seker dat jy ‘n genooide is na die Bruilofsmaal van die Lam! Jy hoef nie 'n aasvoëlgereg te word nie! Jy kan feesvier saam met die LAM!

(Erkenning aan prof. Jan du Rand se Openbaring A-Z waaruit ek soms woordeliks aangehaal het)