BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Donderdag 09 September 2021

PREDIKANTE WAT LIEG...

RIP/RIV - RUS IN VREDE?

Ek is bekommerd. Bekommerd oor predikante wat vir mense lieg. Bekommerd oor mense wat vir hulleself lieg. Wat is die leuen? Om vir en van goddeloses te sê : "Rus in vrede!" Dis ‘n leuen, want goddeloses gaan nie rus hê nie en ook geen vrede nie! Nie nou nie, nie in die hiernamaals nie...

VREDE

Kom ons kyk wat sê God se Woord oor VREDE.  Lees gerus Jesaja 57:14-21. Die konteks is ‘n wonderlike hoofstuk van genade, vergifnis en herstel. (Dis natuurlik gerig in die eerste plek aan die bannelinge in Babilonië) “Vrede, vrede, vir die wat naby is en vir dié wat ver is,’ sê die Here. (19) Hierdie vrede wat God beloof is nie sommer los praatjies en goedkoop beloftes nie, dis gewortel, dit groei uit God se karakter. Dit staan vas omdat God, God is. Kom ons kyk bietjie wie God is en wat beloof Hy volgens hierdie gedeelte:

God is die heilige, verhewe, heerlike God. "Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek..."  (15) God is nie soos mense nie. (reeds in Jesaja 6 kry ons met sy ontsagwekkende heerlikheid te doen…) Hy is ook nie die skepping of uitdinksel van mense nie. (so anders as byv. die Griekse gode wat net so immoreel soos die mense was, want mense het hulle uitgedink!)  God is ver verhewe bo die mens! “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” (Jesaja 55:8,9) God is hoog en verhewe, maar Hy is Hy is nie ‘n veraf en onbetrokke God nie. Hy word geraak deur die menslike ellende. Hy kry die verdruktes en nederiges jammer.

God is ‘n genadige God.  "Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie," (16) God bly nie vir altyd kwaad nie, want dit sou beteken dat alle mense totaal vernietig sou word. Dit sluit so mooi aan by Psalm 130 waar dit gaan oor die wonder van genadige vergifnis : “As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?” (Psalm 130:3) God se genade en vergifnis is ons enigste hoop tot oorlewing! Maar dit gaan oor baie meer as oorlewing en voortbestaan. God se genade stel voorheen afvallige en gebroke mense weer in staat om Hom te loof! "Ek stel hulle in staat om My weer te loof." (19)

God is die toornige God , maar ook die vertroostende en genesende God. "Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.
Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee." (17,18) God is toornig oor sonde en Hy straf dit. Die volk Israel met wie die profeet hier praat het dit op die harde manier geleer. Hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel. Dit het groot ellende en smart tot gevolg gehad. Spesifiek die ellende van die ballingskap. Daar in die verre land het hulle getreur. “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.” (Psalm 137:1) Hierdie treurendes hoor nou die goeie nuus dat God troos gaan bring. (18) En dis ‘n volledige herstellende troos wat gaan maak dat hulle God weer sal loof. (19a)


WIE GAAN VREDE ONTVANG?

Nou is die groot vraag : Vir wie is God genadig? Wie gaan sy vrede beleef? Alle mense? Ja, vir alle soorte mense ver en naby, maar daar is een voorwaarde : bekering. Ons het reeds gesien God se herstellende genade is bedoel vir die treurendes. Hulle treur en daarom is daar verootmoediging, berou en bekering. Ons sien hierdie aspek byvoorbeeld in Daniel se beroemde gebed in Daniël 9. Hy treur oor die toestand van sy volk en hierdie treur gaan saam met sondebelydenis – hy bely sy eie sonde sowel as sy volk se sonde! Treur is in ‘n sin een van die eerste stappe tot die ontvangs van vrede. Treur is ‘n eienskap van ‘n koninkryksmens. Dis waarom Jesus kon sê dat die treurendes eintlik die gelukkiges is! "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." (Matteus 5:4)  Het jy al getreur oor die toestand van die vervalle kerk van God en veral oor die toestand van jou eie bose en afvallige hart? Weet, die vrede is naby!

Aan die anderkant : Vir die wat volhard in goddeloosheid en hulle nie bekeer is daar nie vrede nie. (21) “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God. Die genade, die Goddelike amnestie gaan by hulle verby! Hulle verpas die hemelse trein! Dit stem ooreen met wat die profeet Jesaja reeds vroeër geleer het. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:7)   Genade, vrede en bekering is onlosmaaklik aan mekaar verbind. 

Vergeet van vrede, vergeet van hemelse rus sonder bekering!

Juis omdat daar geen vrede en rus vir die goddelose is nie kom die opdrag na God se profeet in Jesaja 58:1 “…Maak aan my volk hulle oortredings bekend,…” Hoor ons nog van kansels wat sonde is…? Hoor ons nog daar is ‘n heilige God wat sonde haat? Is ons bly dat Jesus ons sondestraf op Hom geneem het? Wys die blydskap in 'n lewe van bekering?




Die vrede wat God skenk is kosbaar en heerlik. Dis ‘n vrede vir nou, dis ‘n vrede anderkant die graf, dis ‘n vrede vir ewig. Jy kry hierdie vrede nie deurdat jy ‘n foto van jouself kerk toe stuur die dag met jou roudiens nie. 




Jy kry vrede deur self kerk toe te kom, die Woord te hoor en jou tot die genadige God te bekeer weens die goeie nuus van Jesus se kruis en opstanding! So skenk Hy vir ons vrede deur Jesus ons Verlosser!