BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sending. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sending. Wys alle plasings

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Dinsdag 01 Januarie 2019

STEINKOPF VERTEL ‘N STORIE!

- Dis die merkwaardige storie van die vader van sendingwerk in Namibië! Op die rug van sy ry-os, met ‘n skaapvel karos (wat in die dag as saal moes dien en in die nag as kombers), ‘n Bybel, geweer en ‘n stuk vleis as padkos het hierdie stoere baanbreker die bloedig warm en dorre suide van Suidwes (Namibië) deurkruis met die evangelie. 

Wie was hierdie merkwaardige pionier wat deur die ontdekkingsreisiger Anderson beskryf is as : “the most gifted and most enterprising of missionaries that ever set foot on African soil.” 

As Namibiërs af ry Kaap toe vir vakansie gaan hulle verby die klein gehuggie Steinkopf in die Richtersveld. Ek vermoed dat die meeste van ons weinig notisie neem van hierdie warm, droë klipperige plekkie kort voor ons Springbok kry. Die naam van hierdie onbenullige dorpie vertel egter ‘n wonderlike verhaal van Goddelike genade, pionierswaagmoed en opoffering! 

Johann Heinrich Schmelen het hierdie sendingstasie gestig en dit na sy geestelike vader, ‘n predikant met die van Steinkopf vernoem. Schmelen is gebore op 7 Januarie 1777 in Kassebruch, naby Bremen in Duitsland. 


Hy gee sy getuienis soos volg in ‘n brief : “My ouers was nie ryk of arm nie en het vir my broers en susters en myself ‘n opvoeding gegee wat algemeen was vir die middelklas in daardie dae. Soos ek grootgeword het, het ek egter ook gegroei in goddeloosheid en ligsinnigheid. In 1776 het daar oorlog uitgebreek tussen Frankryk en Duitsland en baie van ons jongmense is opgeroep weermag toe. Met die toestemming van my ouers het ek na Engeland toe gegaan. Ek het my vader se huis verlaat as ‘n rebel en ongelowige. Maar die Here wat ‘n beter lewe vir my in gedagte gehad het as die lewe van ‘n verlore seun tussen die varke, het my weë op ‘n wonderlike manier in Londen gelei. Dit het so gekom dat ek in ‘n huis gaan bly het waar daar baie Godvresende Duitsers was wat my na die Savoje Kerk geneem het, waar ‘n prediker Meneer Borgmann die leraar was. Meneer Steinkopf was sy opvolger. Dit was veral onder die prediking van my geestelike vader Meneer Steinkopf dat dit die Here behaag het om my hart te open en vir my die verlore toestand van my siel te wys. In daardie tyd het ek geweet dat as ek my nie bekeer nie en sou aangaan om die waarheid van God te verwerp , ek ewig verdoem sou wees!

Die besluit van Schmelen om ‘n sendeling te word het nie maklik gekom nie. Na ‘n drie jaar lange worsteling het hy egter met aanmoediging van pastoor Steinkopf vir studie na die Jänicke Sending Instituut in Duitsland gegaan. Uiteindelik het hy in diens van die Londense Sending Genootskap (LMS) na Suid–Afrika gekom. Hy arriveer in 1811 in Kaapstad saam met ander sendelinge. 


Schmelen het noordwaarts gereis na die Oranjerivier. Hier help hy met die stigting van die sendingstasie, Pella. Met Pella as basis verkondig hy die evangelie aan die nomadiese Oorlams Namas Hulle was verwesterse Khoi-Khoi wat klere gedra het en Afrikaans (Nederlands) gepraat het. (Dis terloops ook hulle wat Afrikaans oorspronklik na Namibië gebring het.) Dit het egter nie gelyk of daar vrug op sy arbeid was nie en Schmelen was baie ontmoedig. 

Op ‘n stadium het daar egter ‘n deurbraak gekom. Schmelen het gehoor hoe iemand agter ‘n bos besig was om te bid. Dit was Amraal Lamberts. (Later jare het hy in by Gobabis met sy mense gaan woon.) Dit het gelyk asof ‘n gees van gebed posgevat het onder die mense. ‘n Aantal mense is in 1814 gedoop. Onder hulle was Zara Hendriks en haar suster Leentjie. 

GESLAGSREGISTER VAN GENADE 

Schmelen neem die groot stap en trou met Zara Hendriks. Aangesien daar geen predikant beskikbaar was nie, het hy getuies geroep en met die hulp van ‘n Hollandse formulier homself in die huwelik met hierdie Nama meisie bevestig! 

Dit was dus ‘n uitsonderlike manier van trou en tog het God hierdie huwelik en die nageslag wat daaruit voortgekom het ook uitsonderlik geseën en in sy koninkryk gebruik! 

Schmelen en sy vrou het vier kinders gehad. Een van die dogters, Johanna het met die Rynse sendeling Heinrich Kleinschmidt getrou in 1842. (Hy het in Rehoboth onder die Swartboois gewerk en is na ‘n vlugtog weens ontbering op Otjimbingwe oorlede.) Hulle het agt kinders gehad en een van hulle dogters Frieda het met die Finse pionier sendeling in Ovamboland, Martin Rautanen in die huwelik getree in 1872. Hulle geskiedenis is ‘n heroïese verhaal op sy eie. Die Rautanens moes geweldige offers bring om die evangelie aan die Ovambo mense bekend te stel. Hulle het nege kinders gehad waarvan net drie volwassenheid bereik het. Die drie oorlewende kinders was weer op hulle beurt almal in die sending betrokke. (My Pa het nog die voorreg gehad om vir een van hierdie kinders die siek Johanna Rautanen in die vroeë sestigs uit die Bybel te lees in Ovamboland.) Die sendingwerk onder die Namas, Hereros en Ovambos is dus met een geslagslyn aan mekaar verbind! 'n Goue koord van genade! 

OP SY RY-OS 

Maar weer terug na Schmelen en die vroeë jare. Kaptein Vleermuis die hoof van die Velskoendraers het Pella besoek en versoek dat Schmelen ook in Groot Namakwaland (Namibië) 'n sendingstasie moet aanlê. ‘n Ekspedisie onder leiding van Schmelen is uitgestuur en hulle het ook die mond van die Oranjerivier besoek. Daar is probeer om ‘n hawe te vind. Schmelen se dagboek tydens hierdie reise getuig van sy intense begeerte om die evangelie te deel met die Nama groepe wat hulle teëgekom het. Geen geskikte hawe is gevind nie, maar 'n sendingstasie is by Uigantes aangelê waar hy deur die kaptein, Jacobus Frederick Boois verwelkom is. Schmelen het hulle sendeling geword en die plek Bethanien, (later Bethanie) genoem. Dit was sy passie om die kruisevangelie aan hierdie mense te verkondig. Feitlik die hele dorpie en stam is deur sy boodskap aangeraak. Schmelen het homself heeltemal met hierdie mense vereenselwig. 'n Voorbeeld van die sogenaamde inkarnasie model in sending. Vedder verwys na sy "taai uithoudingsvermoë, die trou waarmee hy sy beroep vervul het en sy buitengewone vermoë om vir die Nama 'n Nama te word sonder om op te hou 'n Christen te wees."* Schmelen het dus uitermate eenvoudig gelewe. Hy het voorwaar “lig” gereis met sy ry-os en net die nodigste met hom saamgeneem. So het hy baie omliggende Namastamme bereik. 

Hy vertel : “Die Here het my dikwels van die bek van leeus en ander wilde diere verlos en Hy het my swakke pogings geseën so veel so dat ek by tye heeltemal vergeet het van die honger en dors wat ek dikwels op my reise moes verduur. My kos was net ‘n bietjie vleis. Ek het geen brood gehad nie, maar die Here het my daagliks krag gegee sodat ek deur sy genade kon volhard.” 

Na ‘n tyd in die wildernis was sy klere heeltemal verslete. Uiteindelik het hy geen hemp of broek, hoed of skoene gehad nie. Hy het klere van vel gedra en skoene soos die Namas. Die tyd het gekom dat hy moes teruggaan Kaapstad toe vir nuwe voorrade en noodsaaklike behoeftes. In Kaapstad het hy ‘n brief ontvang van die LMS waarin hy meegedeel is om nie weer na Bethanie terug te gaan nie, maar ‘n sendingstasie in Namakwaland te stig. Dis hierdie stasie wat hy toe na sy geestelike mentor Steinkopf vernoem het. 


Eers in 1817 kon Schmelen weer na Bethanie terugkeer. By sy terugkeer was die eerste ding wat hy gedoen het om ‘n kliphuis te bou. Dis vandag ‘n nasionale monument. Geestelik gesproke was dit moeilike tye. Die Namastamme het verval in ‘n lewe van oorlog en roof. Schmelen het hierdie gebruike openlik teengestaan en dit het hom natuurlik ongewild gemaak. Tog was daar altyd ‘n groepie wat getrou gebly het aan hulle Here en sy dienskneg. By alles was daar ook die probleem van ‘n langdurige droogte. Schmelen is selfs daarvoor blameer. Daar was agterdog dat die droogte deur die sendeling afgebid is as straf vir die berowing van die Herero's. Weer moes hy Bethanie verlaat. Hy het saam met ‘n groepie volgelinge langs die Oranje gaan bly. ‘n Jaar later is hy versoek om terug te kom. Die vrede het egter nie langer as ‘n jaar geduur nie en hy moes weer die plek verlaat. Sy huis is ook geplunder! 

Hy gaan na Kaapstad, maar besluit om weer in 1824 terug te keer. Hy bereik Bethanie weer in 1825. Dit was steeds sy begeerte om ‘n geskikte hawe te vind aan die Namibiese kus sodat skepe die toekomstige sendingstasies makliker van lewensmiddele kon voorsien. Hy het die Kuisebrivier gevolg en die hawe van wat vandag bekend is as Walvisbaai bereik. Hier het hy ook die Topnaarstam ontmoet. Later is hier ‘n sendingstasie genaamd Scheppmannsdorf (1845) aangelê. 

Na al die moeilike jare is hy in 1830 terug geroep na Kommagas in Namakwaland. Hier het hy in die bediening volhard tot met sy dood op 26 Julie 1848. Sy skoonseun, Kleinschmidt skryf : “Sy einde was gevul met die vrede van God en sy laaste woorde is uitgespreek in blye verwagting : ‘Die Here is naby, die Here is naby!’” 


En wat het van Zara geword? Sy het Schmelen wonderlik bygestaan in sy vertaalwerk in die moeilike Namataal met sy ingewikkelde klapklanke. Net na die druk van die Evangelies is sy waarskynlik oorlede aan tering. Sy het blykbaar nadat sy die laaste bladsy geproeflees het, haar pen neergesit en gesê : “Nou is my werk op aarde klaar gedoen. Ek kan huis toe gaan!” Sy het op pad na Kommagas in die ossewa gesterf. Volgens Vedder is sy op die plaas van Lodewyk Bothma by Tulbagh oorlede. 

As jy weer by Steinkopf verbyjaag, los vir net ‘n oomblik die vakansiegedagtes en dink met dankbaarheid aan Heinrich en Zara Schmelen. Bid dan tot God dat ons ook getrou in die werk wat Hy vir ons gegee het sal volhard. 

Mag die Heilige Gees, Schmelen se voorbeeld gebruik om jou tot volle toewyding aan ons Verlosser en volharding in jou roeping in 2019 aan te spoor!

*Dr. H Vedder, Die Voorgeskiedenis van Suidwes-Afrika, p223-226

Woensdag 01 April 2015

RAAD WAT NIEMAND WIL HOOR NIE

- STERWE : die koninkryksgeheim vir vrugbaarheid.


Sterwe om te kan lewe! Jesus se woorde in Johannes 12:24,25 is moontlik van sy ongewildste uitsprake vir mense in ons dag, maar dis die oplossing vir ‘n sukkelende kerk!

“Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”

“As die koringkorrel nie sterwe nie...” Geweldige woorde! Ingrypend radikaal! Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat elkeen van sy hoorders goed sou verstaan. ’n Koringkorrel (of mieliepit) moet in ’n sekere sin sterwe sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy huidige bestaan, identiteit en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en ophou voortbestaan as pit. As die pit by wyse van spreke sou weier, dan sou niks positief gebeur nie. Dit bly dan net alleen, daar’s geen oes nie en die pit mis sy bestaansdoel.

Jesus praat natuurlik in die eerste plek hier van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (dis kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. As Jesus nie gesterwe het nie, sou ons nie verlos kon word nie en daar sou geen oes van verlostes gewees het nie. Ons moet goed verstaan - Jesus het baie wonderlike dinge gedoen... preke, genesings, wonders.... maar nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie, Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... (hy het op 'n stadium selfs vir Petrus ingespan - Matteus 16:21-23)

Jesus moes sterwe! Sonder sy sterwe kon daar geen oes wees tot eer van die Vader nie! Jesus het om ons te red doelbewus ’n lewe van vernedering en lyding gekies wat uitgeloop het op die kruis.

EN ONS?

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe maak Jesus van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange.

Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen groei, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos,vaal en vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk geld as ’n basiese vereiste vir volgelingskap. Maar dis OOK die SLEUTEL tot vrugbare getuienis en sendingwerk.

Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitdra van die evangelie wees nie! Sonder n keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie - ook nie by die huis, werk, in die gemeente of verre sendingveld nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. In Getsemane het Hy homself finaal bereid verklaar vir hierdie pad. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie.  Ons lyding is ’n voortsetting van sy lyding. Dit is soos Paulus sy lyding verstaan het. “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak." (Kolossense 1:24,25) Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as Christen. Maar nee, hy kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van die koringkorrel prakties toe. “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang." (2 Timoteus 2:9-10)

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. 

Evangelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. John Piper stel dit so : More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie behels gewoonlik ‘n doelbewuste keuse Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy Woord moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf. Wat sou dit prakties beteken? Wat moet ek opoffer sodat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe? (hier is nou nie malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Kom ons kyk na drie praktiese areas. 

Sterwe aan, doen afstand van:

~Aansprake op die veiligheid van my gemaksone, my gerief en eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings... Die uitdaging is: Sterf vir jou gemaksone en gaan sit langs ’n plaaswerker of 'n straatkind...steek grense oor, praat met iemand van ‘n ander kultuur of sienings... Wees bereid om my eie voorkeure prys te gee, te kies teen eie belang in terme van tyd en geld. Om die evangelie uit te dra, sal ek dalk tyd opsy moet sit wat ek andersins tot my eie voordeel sou kon gebruik het. Hierdie opofferings is malligheid in die oë van die wêreld, maar ook in die oë van die meeste kerkmense. Maar dis presies wat dit God se kinders gekos het om die evangelie oor die wêreld heen uit te dra – hulle het winsgewende en aanloklike loopbane vaarwel geroep, familie en vriende verlaat, hulle kinders aan malariamuskiete blootgestel... (Dink aan talle voorbeelde : Martin Rautanen, CT Studd, Adoniram Judson, David Brainard, AA Louw...) Maar dit gaan nie net oor sulke opvallende groot sake nie - Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek dikwels doelbewus teen my eie welsyn, regte en gerief kies ook wat klein dingetjies betref. Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by die uitbreiding van die Koninkryk, hulle wil nie hulle hande vuilmaak nie. Tevrede om op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf wat hulle nie eens regtig voel nie. 

~Kulturele ekslusiwiteit. Dis nodig om ons trots in ons sak te steek en in nederigheid grense oor te steek na ander mense en kulture wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkommodeer. Opofferings ten opsigte van byvoorbeeld taal, kleredrag, eet voorkeure... Ons moet geduldig gewoontes en gebruike wat vir ons onaanvaarbaar is verdra. Gewillig om kulturele opofferings en aanpassings te maak. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee en een van ons geword! (Vergelyk Filippense 2) As ons die evangelie wil deel moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. (Daar is geen plek vir die Amerikaanse "back in the States" houding nie!) Dis presies wat Jesus gedoen het .... Hy het nie gekom om “gedien te word nie, maar om te dien..” (Markus 10:45)

~Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Laat vaar daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die begeerte wat ons het om bedank en waardeer te word. As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee. Om agter die skerms te werk, om weggesteek te wees. Wees bereid om ongewild te wees en deur ander van valse motiewe beskuldig te word. Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om veragting en spot te verduur? Bereid om onbelangrik te wees? Satan het Jesus versoek op hierdie punt... Hy wou Jesus op ‘n pad van sukses en belangrikheid laat afdwaal. (“Spring van die tempel se dak af” Dit sou Jesus baie gewild laat word het, almal sou Hom ge “cheer” het...) Maar Jesus kies die pad van die kruis. Sukses en erkenning mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare suksesse nie. Ons begeerte om bedank te word en erkenning te kry, moet ons afsterf. Wees eerder gereed vir teleurstellings en beledigings. Vriend, en weet maar, as jy vir die Here wil werk gaan jy getoets word. Die skoolkinders of plaaswerkers met wie jy die evangelie deel, juis hulle gaan jou dalk skade aandoen, of ondankbaar wees – en dan? Sal jy nog volhard in jou getuienis? 

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde! 

Twee slotopmerkings:

~Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas. John Stott verklaar : The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die.

~ Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg is en nou sê :”Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, ek sal maar eers wag tot ek dit regkry.” Vriende net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses. Dis ’n proses wat lewenslank duur. Solank as wat jy lewe sal die kind van God agterkom - hier is nog ‘n soeke na selfbelang en eie eer wat in my pad staan. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself maar net tot beskikking van Jesus, die Heilige Gees is getrou en sal jou wys waar jy moet sterwe. Dis ‘n lang en moeisame (maar avontuurlike) pad. Begin net, vandag...

Ek het nog skaars begin leer loop op hierdie pad, mag Hy my genade tot bereidheid daarvoor skenk...


Groen koring in Namakwaland

Woensdag 04 Maart 2015

DS. FERDIE WEICH

- voltooi sy aardse loopbaan.

Die baanbreker NG sendeling onder die Boesmans van  Namibië  is nou onlangs in Pretoria oorlede. Hy is in 1961 met oplegging van hande bevestig in Orumana en begin in dieselfde jaar die werk onder die Boesmans te Tsumkwe in die destydse tuisland, Boesmanland in die noord-ooste. Nadat hy tussen 1976 en 1980 die NG Sendingkerk Grabouw bedien het, keer hy terug na hierdie land om in die gemeente Wildevy  (Grootfontein, Tsumeb, Otavi omgewing) die werk onder die Boesmans voort te sit. In 1988 word hy die Uitvoerende Sekretaris van die Namibiese Bybelgenootskap tot met sy aftrede. 

Ds. Weich was veral bekend vir sy taalkundige baanbrekerswerk onder die Boesmans. Oom Ferdie en my eie Pa, Johan de Koning het ook nou saamgewerk. Lees gerus sy nuusbrief wat hy geskryf het na aanleiding van die groot deurbraak onder die Boesmans by Tsumkwe in 1973.  (Kliek op NUUSBRIEF)



[Op hierdie ou foto van my Pa, kan ds. Weich in die agtergrond gesien word. Nou is altwee stryders nie meer met ons nie...]

Maandag 15 Desember 2014

BLOEDRIVIER

- se geestelike dimensie. 

‘n Christen kan nooit bloot uit ‘n sekulêre oogpunt na die geskiedenis kyk nie. Allermins nog na ‘n gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier as mens die plegtige Gelofte in ag neem wat die Voortrekkers in diepe nood tot God gemaak het. (Kliek op AGTERGROND VAN DIE GELOFTE) Die geestelike betekenis van Bloedrivier is nie sommer ‘n stuk verdigsel of wensdenkery nie. Dit kom duidelik na vore uit ’n verhaal van R.B Hully, die tolk van die sendeling Owen wat hom in 1837 in Zoeloeland gevestig het. Dit handel oor die eerste diens wat Owen vir Dingaan en sy mense gehou het. 

Nadat Owen omtrent ’n halfuur gepraat het, het die koning hom stilgemaak en gesê “Ek het ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek jou kan verstaan. Sê jy dat daar ’n God is en net een God? Die sendeling antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hemel vir goeie mense is en net een hemel? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n duiwel is? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hel is vir slegte mense? Antwoord : Ja. Toe sê die koning : ‘As dit jou geloof is, dan is jy vir my en my mense van geen nut nie. Ons het al daardie dinge geweet voordat jy vir ons kom preek het. Ek en my mense glo dat daar alleen een god is - ‘Ek is daardie god’ Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle goeie mense gaan - dit is Zoeloeland. Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle slegte mense gaan. Daar! Terwyl hy na ’n rotsagtige heuwel in die verte wys. ‘Daar is die hel waar al my slegte mense heen gaan. Die kaptein wat daar bly is Matiwane, die hoof van die Amagwane. Ek het hom doodgemaak en hom die hoofduiwel gemaak van al die slegte mense wat doodgaan. Jy sien daar is net twee kapteins in hierdie land, Matiwane en ekself. Ek is die groot kaptein, die god van die lewendes, Matiwane is die groot kaptein van die slegte mense. Ek het jou nou my geloof vertel. Ek wil hê jy moet my nie weer pla met die stories van julle Engelse mense nie. Jy kan in my land bly solank jy jouself behoorlik gedra. 

Dit was blykbaar die eerste en laaste geleentheid wat Owen toegelaat is om die evangelie aan die Zoeloes te bring. Dingaan se despotiese mag was dus ’n duidelike struikelblok in die weg van die evangelie. Kan jy sien, by Bloedrivier was daar meer op die spel as net die politiek van die dag?

Met dit alles as agtergrond kan mens twee aspekte van die geestelike dimensie van die oorwinning by Bloedrivier uitlig*:

~ Bloedrivier open die weg vir die evangelie in Zoeloeland. Vyf dae na die moord op Retief skryf die sendeling Owen in sy dagboek : “Die regverdige Regter ... sal nie toelaat dat hy (Dingaan) in vrede rus nie ... Dit wil voorkom asof hy self nie verstaan nie, maar as hy die karakter van sy teenstanders, die Voortrekkers, ken soos wat omstandighede onlangs uitgewys het in hulle oorloë met Silkaats, dan sal hy weet hoe verskriklik dit is om hul grimmigheid uit te lok en watter vasberade en magtige vyande hy gemaak het deur hierdie daad van aggressie wat onbesonne en onwys, verraderlik en wreed was.
Maar al hierdie dinge sal ten goede werk, ook vir die verspreiding van die Evangelie. Ons het gebid dat ‘n weg geopen mag word vir die bekendstelling van die Evangelie onder die Zoeloevolk. En nou, op ‘n manier wat ons nie verwag het nie, is God besig om sy eie planne uit te werk. Die hoogmoed en brutaliteit van die Zoeloekapteins, is die hoofstruikelblokke vir die verkondiging van die waarheid. Wanneer die hoogmoed verflou het, sal die weg vir die Evangelie makliker wees. God is nou besig om die trots van die volk in die algemeen en die kapteins in besonder, te verneder. Hy het toegelaat dat hulle deur hulle eie hoogmoed, verwaandheid en boosheid in sulke afskuwelike gruwelikhede verval, wat hoog waarskynlik hulle eie ondergang en dié van hul volk sal meebring, waarvan hulle nooit sal herstel nie en wat die weg sal voorberei vir die sendelinge van die wêreld.” Owen het dus al iets van die geestelike dimensie raakgesien.

~ Bloedrivier is ‘n bewys dat God ’n geestelike doel het met die Afrikaner se voortbestaan in Afrika. Ons glo dat God ’n wonder bewerk het en die oorwinning gegee het... Natuurlik het Hy middele en omstandighede gebruik....die mis wat opgeklaar het, die feit dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie... In elk geval sê die Skrif duidelik : “Perde kan afgerig word vir die oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee” (Spreuke 21:31).... God is in beheer van die geskiedenis (“His story”), God bepaal die lotgevalle nie net van enkelinge nie, maar ook volke en nasies. Nou as ons sê dat God die oorwinning gegee het, het Hy dit met ’n doel gegee, en die doel is die uitbreiding van sy Koninkryk. En daarom is Geloftefees nie ’n poltieke fees nie, nie ‘n fees om mense te vereer nie, maar ’n Godgesentreerde fees. (Terloops God se doel was nie politieke mag nie... Na slegs  ’n paar jaar het die Trekkers in Natal  hulle onafhanklikheid verloor.) Geloftedag gaan nie oor nasionalisme nie, maar herinner ons aan die Goddelike roeping, spesifiek aan die sendingroeping wat God aan Christen Afrikaners gegee het in Afrika. 

Christen Afrikaners was nog altyd bewus van hierdie sendingroeping wat God aan ons volk in Afrika gegee het. Ware Christen Afrikaners sal altyd sendingmense wees!

Een van die jong seuns wat die Groot Trek meegemaak het was Paul Kruger. Het jy geweet hy was ’n uitgesproke sendingondersteuner? (Kliek op PAUL KRUGER)


FEES VIR ALLE CHRISTENE

Wanneer die geestelike dimensie en betekenis van Geloftedag en Bloedrivier besef word, styg hierdie gebeure uit bokant die konteks van blote etniese konflik, vergelding en volksbelang. God het immers die noodroep van die Voortrekkers verhoor, nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle (ten minste 'n beduidende deel van hulle) Christene was wat hulle vertroue op Hom gestel het en nie slegs op wapens vertrou het nie! God se uitverkorenes is nie een of ander etniese groep nie, maar almal wat aan Jesus Christus behoort. Daarom kan die gebedsverhoring by Bloedrivier en die positiewe Koninkryksgevolge wat daaruit voortgevloei het, deur ALLE Christene, hetsy Afrikaners, Zoeloes of wie ook al gevier word deur danksegging aan God op hierdie wonderlike dag van 16 Desember. Die misbruik van hierdie kosbare dag deur sommige, verhoed nie God se kinders om Hom op die regte manier te eer en te dank nie! 

*Vir hierdie artikel in geheel is ek in groot mate dank verskuldig aan Prof. Billy Heiberg vir 'n Geloftefees toespraak wat hy gelewer het.


                                                                Dingaan

Donderdag 08 Augustus 2013

JAPAN PIONIER VOLTOOI SY ROEPING




Oom Neil Verwey van die Japansending is na ‘n baie lang loopbaan in diens van sy Verlosser op 5 Augustus 2013 oorlede. Hy was ten spyte van sy siekte nog tot op die laaste besig om van Hom te getuig.

Hy het aan karre gewerk op Kuruman, maar God het ander planne gehad...

Ek het grootgeword met die gereelde nuusbriefie van die Japansending wat in ons huis rondgelê het en gelees is. Op hierdie manier was oom Neil Verwey wat die Here in Japan gedien het baie goed aan ons bekend, al het ekself hom nooit persoonlik ontmoet nie. Die boekie “DIE STEM VAN VREUGDE” beskryf op treffende wyse hoe God hierdie Kalahari seun en werktuigkundige op Kuruman, gered en geroep het om in die verre Japan in ‘n baie moeilike vreemde taal Sy Naam te verkondig. Pionierswerk met betrekking tot hospitaalevangelisasie, koerant en radiobediening is deur Neil en sy Britse eggenoot Peggy aangevoor. Dis ‘n aangrypende verhaal van opoffering en geloofsmoed, maar bo alles van God se genadige voorsiening en getroue leiding. Neil Verwey was ‘n man wat ‘n fyn pad van luister na die Here bewandel het. Die volgende staaltjie uit die “DIE STEM VAN VREUGDE” spreek vanself:

Eendag kom daar ‘n man wat Neil nog nooit gesien het nie, na die deur van die hoofkwartier en vra of hy Neil se fiets kan gebruik.

“Ja, seker, jy kan maar my fiets gebruik,” was Neil se antwoord.

Die man was klaarblyklik onbewus van die feit dat Neil uit beginsel die slegste fiets in die Sending besit het. Neil kon nie sien waarom hy ‘n nuwe fiets sou besit terwyl al die ander werkers ou fietse moes gebruik nie, dus het hy vir homself ‘n tweedehandse fiets vir ‘n paar rand aangeskaf. Hy het die man na die skuur geneem en die fiets uitgebring. Die man het weggery en nooit weer teruggekom nie.

‘n Paar weke later kom Neil hom op straat teë en vra: “Wat het van my fiets geword?”

“O”, sê die man, “ek het geld nodig gehad en besluit om die fiets te verpand.”

Neil het gevoel sy gesig word warm van woede, en hy wou die man slegsê omdat hy anderman se goed so behandel. Hy het byna uitgeroep : “Hoe op aarde kan jy my fiets verpand?” Maar in plaas daarvan fluister hy hierbinne : “Here, wat sou U graag in hierdie geval wou doen?”

En dit was asof die Here sê : “Gee hom die geld wat jy by jou het.” WAT? Moes Neil nog boonop geld ook gee vir die man wat sy fiets gesteel het? Maar omdat hy teen hierdie tyd al geleer het om die Here sonder teëpraat te gehoorsaam, het hy die kêrel al die geld gegee wat hy by hom gehad het.

Maar ‘n paar dae later het Neil van Sato San verneem dat die man daardie dag oppad was om te gaan selfmoord pleeg omdat hy geen geld gehad het om vir sy vrou en kinders kos te koop nie! As gevolg van Neil se geskenk is die man se lewe gered. Neil het gegril by die gedagte wat sou gebeur het as hy die man sleggesê het in plaas van na die Here te luister.

Mag Neil Verwey se lewe van gehoorsaamheid en diens ons almal weer aanspoor om ons roeping getrou uit te leef, waar ookal die Here ons geplaas het. Sterkte en troos aan die familie, dierbares en almal wat lief was vir hierdie begenadigde dienskneg van die Here!

Dinsdag 02 April 2013

VOOR DIE LEEU EN NÁ DIE LEEU

- die Verlosser word verkondig in Kaokoland! 


[Ons as NGK Tsumeb het die groot voorreg om op ‘n beperkte skaal betrokke te wees by Ds. Erik van Zyl (voorheen van Napier) wat onder die vaandel van Kunene vir Christus die Woord van God in Kaokoland versprei. Hier is sy Verslag van besoek aan Kaokoland 25 - 28 Februarie 2013.] 

Die stofpaaie, grondpaaie , 4x4 paaie in Kaokoland neem ’n mens na klein plekkies wat baie keer niks meer is nie as ’n boorgat of gronddam met Ova-Himba krale in die omgewing, wat aandui hier bly mense. So het ek vir Ripanga (Jan) Kasupi hoofman van Ganamub by sy dorpshuis op Sesfontein gekry oppad na die klein plekkies. Die plekkies is in die droogte tyd nog kleiner vanweë die Ova-Himbas wat rondtrek met hul vee en kleinvee agter weiding en water aan. Dit laat my altyd dink aan die woorde in Matteus 9:35 , “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. ...en die evangelie van die koninkryk verkondig...” 

Namiddag het ek vir Jan by Sesfontein opgetel, waar hy vir die hitte weggekruip het onder die skaduwee van sy boom. Die reën het nog nie gekom nie, vir die 2de jaar. Jan wil graag Ganamub langs ry om te sien hoe lyk dit in die area waar hy hoofman is. Na 'n 2de reënseisoen wat kom en gaan en net droogte.... Ganamub is 'n klipwoestyn ! Ek is verwonderd oor die goeie kondisie van die beeste, bokke en skape wat op die klipvlakte weiding soek. Die berge se weiding begin nou ook opraak. Jan begin praat daarvan om sy diere te verkoop voordat die droogte sy doodstol eis! Jan groet sy mense en ons ry verder op soek na slaapplek vir die nag. Die Here het reeds vir ons 'n oornagplek gereël. 

"Kom ons slaap by Tomakas, die mense daar is almal familie van my.'' Ek het nog altyd by Tomakas verby gery oppad na ander klein plekkies. 'n Windpomp, dam en paar Herero-hutte. Tot my verbasing moet ek en Jan by die mense van Tomakas hoor " Ons het nog nooit die Jesus-film gesien nie!'' 13 grootmense en 2 kinders, Jesus sou ook daar gestop het. 

Laat die nag, vroeg die oggend om 1h00 sluit ons die dag met Jesaja 43:11-13. 

Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie. (Jesaja 43:11-13) 

Bettie van Warmquelle het vir Jan laat weet hy moet dit lees. Die oggend voordat die leeu sy vinger se punt afgebyt het (of afgeknyp soos hy sê) het Jan die gedeelte gelees. 

Om die kampvuur en onder die stilte van die naghemel vertel Jan. In droogtetyd wag die leeus vir die beeste by die Hoanib -rivier se weiding. Hulle was drie mans , 2 het geskiet toe die leeuwyfie storm, met Jan in haar visier was sy binne tellings bo-op hom. Soos Simson het Jan die leeu met beide hande weerskante van sy kop vasgegryp. Hulle het omgerol en omgerol en toe Jan bo is sterf die leeu, die doodskoot van vroeër was amper te laat. 

Met die vasgryp het Jan se vinger in die leeu se bek beland. Behalwe vir sy vingerpunt wat afgebyt is en'n paar littekens op sy lyf, kan Jan bo alles getuig van God se trou! Eers nadat Jan die dood in die oë gekyk het , het hy gedink aan wat God die oggend vir hom gesê het: 

.....buiten My is daar geen redder nie.... Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God.(Jesaja 43) 

Voor die leeu en na die leeu is EK die HERE nog steeds God, niemand kan jou uit MY hand ruk nie! 

Dit was nie 'n voorlesing uit een van PJ Schoeman se boeke oor ou Suid-Wes nie, maar 'n getuienis van die ewige trou van die Almagtige God teenoor sy kinders. 

Vroegoggend is ons op. Die Jesusfilm het die mense van Tomakas se harte en huise oopgemaak . Na Jan se verhaal van die leeu preek ek oor Jesus wat as LAM vir ons sonde gesterf het en as LEEU sal terugkom om sy kinders te kom haal en die wêreld te oordeel. Is ons gereed? 

Op Tomakas is daar 'n klein groepie gelowiges wat ook Sondae saamkom om die Here te aanbid, maar hulle het nie Bybels nie. Ons kon vir 2 mans en 3 vrouens Bybels gee asook ander literatuur. Jan is dankbaar oor die hoofman se positiewe gesindheid. Ons vertrek en sal nie weer by Tomakas verby ry nie. 


Bybels by Tomakas


Oppad na hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga ry ons langs die Hoarisub en later langs die Khumib rivier. Droog en dor, Kaokoland smag na water. Bid dat die droë en dor harte van Kaokoland sal smag na die Lewende Water. 

Ons ry verby Sanitatas tot by Ondije. Ondije se dam is leeg, die skool is verlate, die krale leeg. Die vlakte tussen Ondije en Okaanga het reën gekry, vaal olyfgroen geskroei in die son en afgevreet deur die baie bekke, die vlakte het nog reën nodig. Die Himba beeste se kondisie is verstommend goed. By Okaanga se boorgat is dit ’n miernes van Ova-Himbas wat om die beurt hul beeste en bokke laat drink. 

Kondjendje Koruhama se vriendelike gesig verhelder toe ek haar op haar naam groet. ’n Jong Himba vrou, ’n toegewyde gelowige, onmiddelik vra sy of ek nie vir haar ’n Bybel het nie. Uiteindelik is daar 4 mense wat smag na die Woord van God en vir wie ons Bybels kon gee. 

Hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga is by ’n begrafnis op Otjihaa. In sy vrou Kauhonekwa se woorde, Otjihaa is God -loos, die mense leef sonder God en het God nodig. Ons moet gaan! Otjihaa is nog ’n klein plekkie wat die Napierspan laas in 2001 besoek het. Kauhonekwa wys die pad, halfpad tussen Okaanga en Ondije is daar ’n kortpad deur die berge. Skemeraand brand die vele begrafnisgangers se vuurtjies by Otjhaa. Die dood het hulle bymekaar gebring om na die LEWE te kyk. Ons wys die Jesus-film vir meer as 60 Ova-Himbas. 

Vroegoggend hou ons ’n belangrike en suksesvolle leiersberaad, ek saam met hoofman Kasupi van Ganamub en hoofman Tjavara van Okaanga. 

Kauhonekwa bring die mense byeen. Na die Jesus-film is daar 24 mense wat die Woord van God wil hoor. Ons beleef ’n honger na God by die mense van Otjihaa. Bid dat hulle sal oorgaan van die ryk van duisternis na die ryk van die LIG! 

Swaar gelaai vertrek ons terug, die een se kar is stukkend, die ander moet hospitaal toe...., 9 mense met bagasie! Jan leer my, barmhartigheid in Kaokoland beteken daar is altyd nog plek! 


Veilig aangekom op die Ondije vlakte beleef ons ’n wonderwerk. Donderwolke pak saam, die weerlig blits en ons reën sopnat op die vlakte. Met dankbare harte ry ons in die reën terug, want Jan moet die volgende dag terug wees op Sesfontein.

Dankie Erik vir die nuus, en mag die Here jou werk ryklik seën!

Woensdag 01 Augustus 2012

BOESMANS TOT BEKERING


- terugblik op Tsumkwe, 1973.

Die deurbraak van die evangelie onder die Boesmans (San) op Tsumkwe was een van die hoogtepunte van my Pa se jarelange sendingwerk in die toenmalige Suidwes. Hy was destyds in diens van die Dorothea Sending toe hy daar ‘n evangelisasieveltog saam met ds. Ferdie Weich van die NG Kerk gehou het. In sy voorwoord tot die  boekie waarin Pa die gebeure vertel, het Oom Hans von Staden, die destydse leier en stigter van die Dorothea Sending onder andere as volg geskryf : “ Wanneer ons lees hoe God  Ds. Weich gelei het om Johan de Koning, ’n werker van die Dorothea Sending, uit te nooi om ’n evangelisasie veldtog onder die Boesmans te hou is dit asof ons, ons skielik êrens in die bladsye van die boek Handelinge bevind.  Dit is ook asof God sy seël geplaas het op die gees van eensgesindheid wat daar geheers het...Wanneer die heerlike oorwinning  te Tsumkwe verder bekend word, sal dit as ’n magtige aansporing dien vir elke ware sending poging dwarsdeur die wêreld.  Dit is ’n absolute oortuigende bewys daarvan dat Christus se groot opdrag vandag nog net so van toepassing is as wat dit op daardie eerste dissipels was Matt 28:19 ‘Gaan dan heen maak dissipels .... en kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.’ ”

So ‘n tyd terug het my vrou, Jacolette hier in Tsumeb gemeente se ou notules en lêers rondgekrap. Tussen al die papiere was daar ook ‘n oorspronklike nuusbrief wat ds. Weich na die Tsumkwe veldtog van Augustus 1973  uitgestuur het. Ek plaas dit woordeliks. Dit neem die gedagtes ver terug...

KOM DEEL IN ONS VREUGDE
(Spesiale nuusbrief i.v.m. die veldtog onder die Boesmans op Tsumkwe)

‘n Tyd gelede het ek ‘n droom gehad. Ek het voor ons ou plaashuis op Drierivier in Namakwaland gestaan. Ek was bekommerd omdat dit al so lank nie gereën het nie. Hoër op teen die berge was die waterval waar die bergklofie tussen die berge deur afkom. Ek het opgekyk en tot my groot verbasing merk ek dat daar water by die waterval afkom. Toe ek hoër op kyk merk ek dat die reën vaalgrys tussen die berge neersif. Ek onthou die ou sanddammetjie wat ek in die bergklofie gemaak het. Dan staan ek langs die stroompie en skielik groei dit tot ‘n magtige stroom.

In hierdie dae het hierdie droom waar geword. Dinsdag 14 Augustus het mnr. Johan de Koning en ek met die veldtog begin. Smôrens het ons vir die werkers diens gehou. Voormiddag en namiddag het ons die krale besoek, die mense genooi om na die dienste te kom en boodskappies gebring. Groot was ons vreugde reeds die eerste aand toe ons ‘n pragtige opkoms gehad het. Die mense het met erns geluister. Elke aand was ook dít opnuut weer ‘n wonder van die Here in ons oë.  Verder was ons diep getref deur die erns waarmee die mense geluister het. Sal ons Donderdagaand ooit vergeet? Dit was so stil in die skuur dat jy ‘n speld kon hoor val.  Wanneer ‘n kindjie gehuil het, het die moeder opgestaan en buite gaan staan met die kindjie tot  hy weer stil is en dan weer ingekom. Doodstil het hulle opgestaan en geloop toe ons klaar was met die diens. Vanaf Donderdag oggend het twee ou manne wat albei die naam Bo het, gereeld gekom - oggend en aanddiens. Eers het net ‘n paar kinders in die oggend gekom, maar geleidelik het al meer van hulle na die oggenddiens ook gekom.

Sondagmôre het gekom. Die Here het díe môre ‘n besondere boodskap op Johan se hart gelê. Hy het as teks geneem, Jes 44:18, Sag 3:1-5, 2 Kor 4:3,4 en Hand 26:17,18. Dit gaan in hierdie gedeeltes oor die wyse waarop die duiwel die mens verblind en bind en met vuil klere bekleë terwyl die Here ons oë wil open, ons wil vrymaak en  met skoon klere wil bekleë. Johan het toe vir Bo (‘n jong man), geneem en hom voor laat staan. Hy het sy oë toegebind, sy hande vasgebind, sy arms en bene vasgebind, en hom vuil klere aangetrek. Toe het hy vir die mense gesê : "So sê die Woord van die Here, so verblind die Satan ons oë en so bind hy ons met die toue van sonde en lei ons na die verderf. Maar Christus wil ons oë oopmaak dat ons kan sien - sien hoe lyk ons en hoe het die Satan ons gebind."  Hy het toe die doek van Bo se oë afgehaal. Bo het afgekyk en net sy kop geskud. "Ja, so lyk ons maar as die Here nie ons oë open nie, weet ons nie hoe ons lyk nie. Maar Christus wil ons vrymaak." Een vir een het Johan die toue losgemaak en vir hom ‘n skoon wit kleed omgehang. Hierdie woord het diep ingegaan.

Sondagaand het die twee ou manne Bo en Bo, agter gebly en gesê hulle wil graag die pad van die Here Jesus loop. Stamelend het hulle gebid  - hulle eerste gebed - en die woorde telkens herhaal : "//’Eihha, wi mi." (Here, help my). Ja, hulle wil Jesus hê dat hulle ook kan vry word van die bande van Satan. Maandagaand het /Usce gekom, Dinsdagaand het sewentien seuns agter gebly. Woensdagaand het ‘n groot klomp seuns en dogters agter gebly. Dit was by hulle ‘n saak van erns : "Ons wil Jesus Christus hê, hier by ons hart. Ons wil nie meer die duiwel hê nie." Daar het ook ander mans en vrouens gekom. Byna al die vrouens van die twee ou Bo’s se kraal het gekom. O, hoe groot is die vreugde en blydskap wat algaande meer sigbaar geword het op die gesiggies van die kindertjies. Hulle het nou saans en smôrens gereeld gekom en altyd was die ogies en oortjies vasgevang deur die Woord. Elke aand het hulle gesing en sommer so diep in ‘n mens se hart ingekruip met die pragtige sang. Waar ons veral gebid het dat die mense ook die erns van die saak sal besef, was ons bly vir die toenemende sondebesef en sondebelydenis.

Tot Maandagaand het daar nog elke aand nuwes bygekom - nou reeds 100 van hulle. Enkeles het weer weggebly, maar by die meeste was dit ‘n saak van erns. Ons het nou bedags diegene besoek wat reeds gesê het dat hulle nou die pad van die Here wil loop. Ons het met die kindertjies alleen gesels om vir hulle te leer wat bekering is. En telkens weer staan mens verstom vir die werking van Gods Gees in die harte van mense.

En so deur die wonderwerkende krag van die  Almagtige is na byna twaalf jaar, ‘n gemeente van die Here oornag gebore. Vele het saam hieraan gebou en baie het hiervoor gebid, maar dis Gods genade wat ons hierdie vreugde laat smaak. En nou moet u nie ophou om te bid nie. Voeg net ‘n dank en loflied by u gebed, want die seën van die Here het ‘n magtige stroom geword.
                                                                                                   F.H.Weich


Baie jare later, in 1990 was ek na die voltooiing van my dienspligtydperk op Mangetti Duin vir ‘n tyd lank ook werksaam op Tsumkwe en omgewing. By ‘n kraal naby die bekende Holboom, het ‘n ou man my vertel : “Jou, pa, het my leer bid.” Wat ‘n wonderlike getuienis! Baie verandering en ellendes het deur die jare oor die Boesmans gespoel, daar was ook baie terugslae en teleurstellings, maar tot vandag toe gaan God se werk nog voort.  Die gemeente op Tsumkwe staan steeds. Kom ons bid vir hulle.


Johan de Koning (links) en ds. Weich op die agtergrond.


/Goma is in sy jong dae deur 'n buffel aangeval en het wonderbaarlik aan die dood ontkom. (Hierdie foto is in 1983 geneem)

Vrydag 15 Junie 2012

KOOP DIE TYD UIT

- William Carey se sinvolle benutting van ons kosbaarste bate.

Die eertydse skoenmaker, William Carey het as sendeling baanbrekerswerk gedoen in Indië, veral op die gebied van Bybelvertaling. Hierdie toegewyde dienskneg van God wat beskou word as die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging het sy tyd ten volle benut in belang van God se Koninkryk. Hier volg die rekord van ‘n bepaalde dag in Kalkutta in die jaar 1806:

Hy het kwart voor ses opgestaan, ‘n hoofstuk uit die Hebreeuse Bybel gelees en sy persoonlike stiltetyd gehou. Om sewe uur het die bediendes gekom vir huisgodsdiens in Bengali, waarna hy terwyl hy gewag het vir ontbyt, ‘n tyd lank aan Persies bestee het en daarna aan ‘n Skrifgedeelte in Hindoestani. Onmiddellik na ontbyt het hy aan die gang gekom met die vertaling van die Ramayana (Hindoe geskrif) uit Sanskrit na Engels. Tien uur het hy na die kollege gegaan waar sy klasse en ander verpligtinge hom besig gehou het tot twee uur toe. Met sy terugkeer huis toe, het hy aandag gegee aan die proeflees van ‘n vertaling van Jeremia in Bengali tot middagete. Na sy maaltyd het hy saam met ‘n hulp die grootste gedeelte van Matteus 8 in Sanskrit vertaal tot ses uur toe, waarna hy saam met ‘n Telegu leermeester gaan sit het om daardie taal verder te bestudeer. Om half agt het hy in Engels gepreek vir ‘n gemeente van veertig persone. Teen nege uur toe die diens klaar was en almal weg was, het hy gaan sit en Esegiël 11 in Bengali vertaal, wat hom ongeveer twee ure geneem het. Hy het toe nog ‘n brief vir ‘n vriend in Engeland geskryf en nadat hy ‘n hoofstuk uit die Griekse Nuwe Testament gelees het vir stiltetyd, het hy gaan slaap...

Wel, nie een van ons sien seker kans om Carey na te boots nie. Hy was inderdaad ‘n besondere begaafde mens met verbysterende taalkundige vermoëns. Maar sy manier van tydsbesteding is tog ‘n vingerwysing teen ons selfgesentreerde gebruik (en dalk vermorsing) van kosbare tyd. Wat sou hy dink van baie Christene se  TV kykgewoontes... eindelose rugby.... sentimentele Sewende Laan? En as jy dalk dink dat Carey ‘n ongebalanseerde boekwurm was, dink weer ... hy was ook ‘n knap botanikus! 


(Bron - FD Walker, William Carey p223)

Vrydag 27 Januarie 2012

GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG

“Waarom maak jou God jou siek?” Kaptein Mugabe (dis nou nie die Robert van vandag nie) het hierdie vraag aan die ernstige siek sendeling, ds. A.A. Louw gevra. Wat ’n ongemaklike vraag, veral as ’n heiden van jou hierop ’n antwoord verwag! Kom ons gaan haal die storie by sy begin.

Andries Adriaan (Andrew) Louw was ’n afstammeling uit die bekende Murray familie en gaan in 1883 na Stellenbosch om vir predikant te studeer. In sy derde jaar moes hy egter die verpletterende nuus verneem dat sy linkerlong aangetas is en dat hy nie nog ’n winter in die nat Boland sou kon deurbring nie. Hy moes maar sy boeke bêre en het op die plaas “Eenzaamheid” in die distrik Colesberg in die Karoo gaan werk. Later koop hy ’n buurplaas, “Achtertang” en begin met skape boer. Sy begeerte om in die sendingveld vir die Here te gaan werk, het egter nie verdwyn nie. Later sou hyself verklaar : “Achtertang het vir my ’n kweekskool vir die sendingveld geword.” Op ’n keer hoor hy ’n preek van ds. Helm wat die sendingsaak in Banjailand (tans deel van Zimbabwe) bepleit. Die teks van sy prediking was Jesaja 59:16 : “En Hy het gesien dat daar niemand was nie, en Hom verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.” Vir Andrew word dit onder die preek duidelik dat hy homself moet beskikbaar stel vir die Here se werk in die noorde.

Sy vader, soos mens kan verstaan, was nie baie positief oor hierdie voorneme nie. “Ek kan nie glo dat die Here sal wil dat jy op koste van die kerk na die geweste moet gaan om daar na ’n kort verblyf te sterf en begrawe te word nie”, was sy kommentaar. Andrew gaan toe vir ’n doktersondersoek na Stellenbosch. Die uitslag? Hy was gesond! Dit in ’n tyd toe tering as ongeneeslik beskou is. Hy slaag die eksamen vir godsdiensonderwyser en word dus aanvanklik in hierdie hoedanigheid uitgestuur.

Na ’n baie lang reis van vier maande het Andrew Louw op 9 September 1891 sy tent opgeslaan op die berg van Mugabe, naby die Zimbabwe ruïnes, waar die sendingstasie Morgenster sou verrys. Maar nou bevind Andrew hom weereens in ’n gesondheidskrisis as die malaria hom beetpak. Die vraag kom by hom op : “Het die Here my so ver laat kom om hier te sterwe?” Terwyl hy so hulpeloos in sy tentjie lê, ontvang hy besoek van kaptein Mugabe wat hom vra : “Waarom maak jou God jou siek? Laat ons die toordokter raadpleeg om uit te vind waarmee ons Hom tevrede kan stel. As Hy beeste eis, sal ek help betaal.” Wat ’n stryd moes hierdie woorde nie in die jong sendeling se gemoed ontketen het nie! God se eer was op die spel. Hy kon maar net bid en die Here het Hom inderdaad verhoor sodat hy kon getuig : “nie lank daarna nie het Mugabe my gesond aangetref. Die Here het my sonder ’n offer van beeste opgerig.”

Dis ’n wonderlike voorbeeld van Goddelike genesing tot God se eer!


Ook in ’n ander opsig sou Andrew, God se sorg beleef. Hy was reeds 29 jaar oud en sonder vooruitsig vir ’n lewensmaat daar in die verre eensaamheid. Dit is ook ’n saak wat hy voor die Here bring en God voorsien op ’n wonderlike wyse in die persoon van Cinie Malan van Riebeeck-Wes. (Suster van die latere Eerste Minister, dr. D.F. Malan) Sy pas wonderlik in by die bediening en lewer ’n groot bydra onder andere op taalkundige gebied.

Ds. A.A. Louw het uiteindelik die baanbreker sendeling in hierdie gebied geword. Op 16 September 1896, vyf jaar na die aanvang van die werk, kon die eerste bekeerlinge gedoop word. Andrew wy sy hele lewe lank aan die taak van die verkondiging van die evangelie. Dis merkwaardig dat hierdie sieklike sendeling so deur God begenadig word dat hy op die baie ryp ouderdom van 94 jaar op Morgenstersendingstasie sterf! Hy het diep spore getrap. Baie Engelssprekendes in die land het van hom as “Saint Andrew” gepraat en een van die Vakaranga se byname vir hom was “Mudavanhu” (die een wat mense liefhet)

Andrew Louw se lewe is ’n getuienis hoe dat God sy kinders soms deur diep teleurstellings en vertragings lei om Sy heerlike doelwitte te bereik! Mag dit elkeen van God se kinders wat nou deur ’n tydperk van teleurstelling en swaarkry gaan, bemoedig!

(Bron : J.M. Cronje, AAN GOD DIE DANK)