BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Siekte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Siekte. Wys alle plasings

Donderdag 19 Maart 2020

GOD EN SIEKTE


- DIE TOEKOMSTIGE VERLOSSING VAN ONS LIGGAME IS ‘N HEERLIKE WERKLIKHEID! 



Die algemene opvatting onder baie mense behels die volgende: “Die duiwel maak mense siek en God maak mense gesond. Die duiwel laat mense doodgaan en God maak mense lewend." Die gevolgtrekking of implikasie is dan dat as iemand siek word en doodgaan, het die duiwel gewen en as iemand gesond word en hy lewe het God gewen. So baie keer wen die duiwel dus met kanker, motorongelukke, Wuhan griep… “Maar”, word beweer “as ons net die regte formule ken om lewe te spreek en as ons geloof net sterk genoeg is hoef ons nooit siek te word of in ‘n ongeluk te kom nie…” 

Is dit wat die Skrif leer? NEE! Nou wat leer die Skrif? Kom ons kyk net na drie perspektiewe uit Romeine 8:18-25 betreffende die skepping en die nuutmaking van die skepping (ons ingesluit): 

1.God het die hele skepping aan verganklikheid onderwerp. Dis nie die duiwel wat besluit het dat daar iets soos siekte, veroudering en dood moes wees nie. Dis God! Dis Sý straf op die sondeval. “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God se waarskuwing aan die mens was mos baie duidelik – “as jy van hierdie boom eet sal jy sterwe.” Verder was deel van die straf dat die hele aarde vervloek is weens die mens. “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Genesis 3:17) God is in beheer van als. Ook van ons liggame wat Hy geskape het, “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?" (Eksodus 4:11) 

Belangrik egter : 

Die feit dat siekte die gevolg van die sondeval is beteken nie noodwendig dat alle siekte die gevolg van ’n persoonlike sonde is nie. 

In Johannes 9 kry ons die geval van die blindgeborene. Die dissipels wou dadelik die afleiding maak dat sonde die aanleiding was vir hierdie man se blindheid. Jesus gee egter ’n totaal ander perspektief wat die dissipels lekker in die bek ruk! 

“En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 
Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Joh. 9:2,3) 

Daar is verskeie perspektiewe op siekte in die Skrif. Soms is siekte selfs as gevolg van uitputting in die werk van die Here. “Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 
Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 
Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 
Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 
Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 
want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie."  (Fil. 2:25-30) 

In sekere gevalle kan siekte en ellende die gevolg wees van demoniese invloed. (Veral waar mense by die okkulte betrokke was.) Jesus het op ‘n keer ‘n vrou genees en dit blyk duidelik dat haar siekte ‘n demoniese oorsprong gehad het, want ons lees : “Daar was ook ‘n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ‘n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.” (Lukas 13:11) 

Inderdaad kan God siekte ook as tugtiging gebruik in die lewe van sy kinders. Dit word geïmpliseer in Jakobus 5:14,15. “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.” Dat God siekte en selfs dood kan gebruik om sy eie kinders te tugtig kom ook treffend na vore waar Paulus met die Korintiërs praat oor die belangrikheid om die heiligheid van die nagmaal ingedagte te hou – “Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 
want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself. 
Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 
As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 
Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie." (1 Korintiërs 11:27-32) 

Die punt is, pasop daarvoor om simplistiese verklarings vir siekte te gee! En onthou daar is net een Almagtige Regeerder van die heelal!

2.Die hele skepping sal eendag van hierdie verganklikheid bevry word. “die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:21) God belowe ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar nie meer sonde, swaarkry, siekte, en dood sal wees nie. Die wortels van hierdie belofte vind ons reeds in die Ou Testament. “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.” (Jesaja 66:22 ) Dis ‘n eksplisiete waarheid in die Nuwe Testament en nie net in Openbaring nie! Ook Petrus praat hiervan. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Petrus 3:13) Ons toekoms is nie hier op hierdie stukkende aarde nie Ons beste tyd is nie nou nie, maar eendag! Alle siekes gaan nie nou genees word nie. Daar is geen reseppie om alle siekte te vermy of die dood te systap nie. Raak realisties en moenie jou ore uitleen vir die (kliek) spreek lewe dwaling nie. Moenie dink daar is ‘n geheime formule om altyd gesond te bly nie. Ja, natuurlik soos in die geval van alle gebrokenheid in die skepping mag ons alle moontlike wettige middele gebruik om siekte te bestry. Ek sê wettig – want daar is ook ongeoorloofde middele – soos die okkulte. En terloops, baie sogenaamde alternatiewe geneesmiddel is niks anders as versuikerde okkultisme en duisternis nie! (Die duiwel buit hierdie drang om gesond te wil wees uit en so kry hy juis mense nog verder in sy mag…) Maar daar is wel geoorloofde middele wat ons mag gebruik om siekte te bekamp. Paulus se raad aan Timoteus wat klaarblyklik dikwels siek was is veelseggend. “Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.” (1Timoteus 5:23) Wyn is beskou as medisyne. Volg ‘n gesonde leefstyl met die regte oefening en voedsame kos. Maak gebruik van die mediese wetenskap. Die Bybelis positief oor die mediese wetenskap - een van die Nuwe Testamentiese skrywers, Lukas was 'n dokter.  En natuurlik gebed! Gebed saam met behandeling. (Ons het dit reeds gesien in Jakobus) Deur gebed erken ons ons Vader se soewereine beheer en stel ons ons hoop op Hom om vir ons te sorg (en te genees) volgens Sy wil! 

Ons besef hierdie wêreld is gebroke en stukkend en verlang daarom veral na die toekomstige bedeling wat God beloof het!

3.Ons liggame gaan ook eendag bevry word. God se kinders sien uit na die verlossing van hulle liggame, die volle uitwerking van die aanneming tot kinders. “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.”*(23) Ons sug as’t ware saam met die res van die skepping. Daar leef by ons ‘n sterk verlange na die bedeling van geestelike en liggaamlike volmaaktheid! Dis ‘n verdere bewys dat ons nie nou reeds liggaamlike volmaaktheid geniet nie. Wanneer gaan dit gebeur? Dieselfde tyd wanneer hele skepping nuutgemaak sal word. Dit gebeur nie nou al nie. Daar is ‘n bepaalde orde in God se herstel; eers geestelik dan fisies. (Dieselfde volgorde was waarneembaar net na die sondeval – dit het eers geestelike dood veroorsaak, daarna fisiese dood.) 

KORONA VIRUS EN WUHAN GRIEP 

Tot met Jesus se wederkoms sal siekte (ja ook virusse!) met ons wees en word alle mense (ook God se kinders) daaraan blootgestel. 

Jesus bring ‘n omvattende en heerlike verlossing. Hy herstel nie net sondaars nie, Hy maak die hele skepping nuut! Hy red nie net siele nie, Hy verlos uiteindelik die totale mens – ook ons liggame! As totaal nuutgemaakte en volmaakte mense sal ons op ‘n nuwe aarde woon. Dis ons vaste hoop. Die hoop wat ons nie nou al sien nie, maar geduldig en volhardend op wag! Dit maak ons bly ook in die tye waarin ons ons nou bevind. (Romeine 8:25) 

Met Jesus in jou lewe het jy ‘n TOEKOMS al is jy nou sieklik of gebreklik. Sonder Jesus is jy gedoem al is jy topfiks en blakend gesond!


*So in die OAV wat ‘n direkte weergawe is van die Grieks - την  απολυτρωσιν  του  σωματος ημων (die verlossing van ons liggame) Ek verkies dus die OAV hier bo die NAV.


Donderdag 02 Januarie 2020

NOOIT LAAT NIE!


JA, JESUS IS NOOIT LAAT NIE – GLO EN HOU OP VREES! 



TYD


Tyd speel ‘n deurslaggewende rol in ons lewens. Ons kan nooit wegkom van tyd nie. Ons aardse lewens is onlosmaaklik verbonde aan tyd. Ons hele lewe word ingedeel deur tyd en geregeer deur tyd. Die sekondewyser staan nooit stil nie. Elke uur en elke dag kry ons net een keer. Verlede jaar 2019 is onherroeplik verby! En die onbekende 2020 hardloop reeds met ‘n spoed! Ons word beperk deur tyd en tydsindelings- deur vervaldatums, afsnydatums, sluitingsdatums en uiteindelik ’n sterfdatum! 

Hoe het Jesus met tyd gemaak? Jesus is waarlik mens. Hy is gebore as mens. Ook die beperkings van menswees is deel van Hom – Hy word honger, moeg, Hy kon net op een plek wees… As mens was Hy ook in ‘n sin beperk deur tyd en ook Hy het ’n sterfdatum gehad. En tog, was Hy nooit laat nie! * Hy het die beperkings van tyd oorkom. Hy sal ook nooit te laat by jou kom nie! Hierdie tweedelige ineengevlegte genesingsberig in Lukas 8 demonstreer dit so duidelik. 

Jesus is altyd betyds en op die regte tyd op die regte plek – al dink mense nie so nie. Al voel ons beslis nie altyd so nie.

Ons sien dit so duidelik in Lukas se beskrywing van hierdie twee wonders in Lukas 8:40-56die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van Jaïrus se dogtertjie uit die dood. Onthou net – Jesus se wonders was bedoel om te demonstreer dat Hy mag het, Goddelike mag om die vloek en onreinheid van die sondeval om te keer. 

Beide die vrou en die dogtertjie het gely onder die gevolge van die sondeval en die gevolglike vloek wat die wet meebring. Volgens die Mosaïese wette was hierdie vrou permanent in ’n toestand van onreinheid. (vgl. Levitikus 15:19-28) Dit verklaar haar skaamte. Ook die dogtertjie was in ’n sin onrein, sy was ’n lyk en volgens die wet van Moses mag ’n priester byvoorbeeld nie aan ’n lyk geraak het nie. Dit sou hom onrein maak. (Levitikus 21:1) 

TWAALF JAAR

Dis opvallend dat in beide die vrou en die dogter se geval die getal van twaalf jaar ’n rol speel. Sien vers 42 en 43. Mens kry die indruk dat Lukas dit doelbewus wil uitlig. Dit sê iets van die erns en hartseer van beide die vrou en dogtertjie se situasies. ‘n Paradoks. Vir die dogtertjie was 12 jaar te kort – sy het nog nie genoeg tyd gehad om groot te word en te lewe nie – 12 jaar se tyd was te min. Vir die vrou was 12 jaar te lank. Die siekte het ’n te groot tyd van haar lewe gesteel. Van die dogtertjie sou mens kon sê : “Hoekom so kort! Waar was die Here?” Van die vrou : “Hoekom so lank? Waar was die Here?” 

ONGEDULDIG, MOEDELOOS, BANG...?

Jy worstel dalk ook met dinge in jou lewe waarvan jy wil sê: “Here hoekom so kort? Waar is U? Here, hoekom so lank, waar is U?” Die troos is dat Jesus altyd daar is vir jou op die regte tyd en op die regte plek. Ja, ons verstaan nie sy tyd nie, ons verstaan nie sy plan met ons nie. Dikwels sou ons dinge anders of vinniger wou gehad het. Maar Hy is nooit laat nie. Hy weet wat Hy doen. Ons raak ongeduldig, moedeloos, beangs, paniekerig... Dink hoe moedeloos moes hierdie vrou wees na 12 jaar... Dink hoe beangs en benoud moes Jaïrus wees oor die vertraging... Dit lyk of Jesus te laat by sy kind gaan opdaag! Terloops, dit lyk asof Jesus doelbewus toegelaat het dat sy gaan na Jaïrus se kind vertraag was. In die geval van Lasarus se dood was dit nog duideliker... Hy het Hom glad nie gehaas na Lasarus nie en vier dae “laat” gekom! (Lasarus was toe al in sy graf) Volgens menslike beskouing het die vertraging in tyd wat deur die vrou se genesing veroorsaak is, gemaak dat Jesus te laat by Jaïrus se dogtertjie gekom het. En tog was Jesus presies betyds, betyds om God op 'n baie groter manier te verheerlik as wat die geval sou wees as Hy vroeër daar was en genees het. Nou toon Jesus dat Hy mag het, selfs oor die dood! 

Jesus was elke keer presies betyds om redding te bring en op so ’n manier dat God geëer is! 

Kom ons weet hier aan die begin van 2020: 

Jesus bring hoop vir sondaars in nood. Ons grootste nood is die sonde en natuurlik die gevolge van sonde. Jesus kom verlos ons van beide. Hy vergewe, reinig en verlos nou reeds. Eendag by die wederkoms sal alle gevolge en letsels van die sonde uitgewis word. 

Jesus in sy reddingswerk is nooit beperk nie. Hy is nooit laat nie! Jesus se genade en krag om sondaars aan te raak kan nie deur tyd en omstandighede ingeperk word nie. Jesus is die Here. Die Here ook oor tyd, oor moeilike omstandighede, Hy triomfeer oor ons beperkings en gebreke, ja oor al die ellendes van 'n stukkende wêreld. Hy stel diegene wat na Hom soek en na Hom roep (soos die vrou en  Jaïrus) nooit teleur nie!

Omdat Jesus se almag groter is as die beperkings van tyd, groter is as die mag van sonde en dood hoef ons nie moedeloos, bang en paniekerig te wees nie. Jesus se almag en juis sy liefdevolle almag roep ons op tot geloof. Mag sy gerusstellende woorde aan die bekommerde en angstige Jaïrus ook rus en vrede in jou en my harte bring... vers 50! “Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.” ** Met hierdie woorde sê Jesus : “Vertrou my , want ek is in beheer, ek is nooit laat nie, my mag is onbeperk...”

Laat jou geloof tot aksie oorgaan – Kom na Hom met jou diepste nood en vertrou Hom! Vertrou Hom al pas Hy nie by jou tydskema in nie. Vertrou Hom, HY IS NOOIT LAAT NIE!





*Erkenning aan Paul Every. Oordenking op YouTube by MMM297
** “gered word” -  swqhsetai in Grieks



Maandag 01 Julie 2019

GELOOFSKRISIS

- MAAK DIT NOG SIN OM GOD TE DIEN? 



Ons hoor hier in MALEAGI 3:14 - 4:3 van ‘n groot krisis by gelowiges. Hoor hoe kla God se mense in selfbejammering : “Dit is nutteloos om God te dien.” (14) Dis ‘n beskuldiging dat dit geen sin maak of waarde het om God te dien nie. Klink dit bekend? Kinders van God ervaar vandag nog steeds ook hierdie krisis. Juis in hierdie tye van ellende, droogte en ekonomiese agteruitgang. Ons voel ook partykeer so, ons vra ook die vraag al is dit dalk nie hardop nie. Dit was ’n algemene probleem van destyds (sien Psalm 73) Maar ook nou. Ons voel verontreg, selfs dalk bietjie verneuk. “Die Here maak nie mooi met my nie, dit lyk asof Hy nie raaksien wat ek doen nie, dit lyk asof Hy onregverdig is. Het Hy dalk vergeet van my opofferings, my gebede, my bydraes...?” 

HET GOD MY VERGEET?

Het jy al so gevoel? (Wees maar eerlik met jouself) Wanneer gebeur dit veral dat ons hierdie vrae vra? Veral as ons onsself met ander vergelyk! Dit was presies hierdie mense se houding. “Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" (15) Jy wonder en worstel met : “Here ek dien U, maar ek is siek en daardie goddelose ou is blakend gesond, Here ek dien U, ek sukkel om kop bo water te hou en daardie goddelose ou ry die kruin van sukses. Here, ek dien u maar kyk net die rampe en ellendes wat oor my rol, en die goddelose fladder sorgeloos van plesier na plesier! Here ek probeer goed wees vir my vrou, maar sy bly afsydig teenoor my!” 

So maklik kom ons dan tot ’n vermetele en verregaande gevolgtrekking: “Ag, nee wat, dit is nie die moeite werd om God te dien nie, dit maak nie sin nie....” 

GOD ANTWOORD : DIE GEDENKBOEK

God reageer op die vermetele gedagtes van die gelowiges. (16) Ja, dis vermetel om teen God in opstand te kom en die waarde om Hom te dien te bevraagteken. Maar tog, dis so wonderlik, Hy antwoord sy kinders, Hy verskree of verwyt nie, Hy gee ’n rustige antwoord. Hy verseker hulle, Hy weet presies wat aangaan. Daar is ’n Gedenkboek met ons name voor sy aangesig. (16b) Hy neem kennis van almal wat aan Hom behoort. Die Here ken dié wat Syne is! Die Here gee ag op die wat eerbied vir sy Naam het. En dis die kernwaarheid wat ons moet raaksien : eerbied vir Sy Naam! Dit wil sê sy Persoon. (Dis ’n belangrike tema in die boek Maleagi) 

Ons moenie God dien omdat Hy iets vir ons doen nie! Ons is immers sy dienaars, Hy is nie ons dienaar nie! Ons dien God omdat ons eerbied het, heilige ontsag, respek vir Hom omdat Hy die ontsagwekkende, heerlike groot God is - die skepper van die Heelal. Die Volmaakte, die Heerlike, die Almagtige! Voor Hom sal elke knie buig en elke tong erken dat Hy die Here is! 

Ons dien God omdat HY GOD IS! 

Omdat die hele skepping aan Hom behoort. Omdat Hy sy liefde aan ons deur Jesus reeds bewys het! 

Ja, beslis wil God ook hê ons moet weet Hy gee om vir en Hy weet van ons : God is nie onkundig, passief, magteloos of onregverdig nie. 

God gaan ingryp en dan sal daar ’n duidelike verskil wees tussen die gereddes en die ongelowiges. (op sleutelmomente in die geskiedenis het Hy dit wel al gedoen en het Hy Sy strawwe sigbaar gemaak... byv. die sondvloed, tydens die tien plae in Egipte ens.) Wees maar verseker daar wag ’n dag van afrekening oor die opstandiges! (4:1) “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” 

DIE DAG VAN DIE HERE! 

Wat word bedoel met die Dag van die Here? Dis ’n algemene begrip in die Ou Testament. Dis die simbool van Goddelike ingrype, van wraak en afrekening. Byvoorbeeld : 

“Huil, want die dag van die Here is naby; dit bring verwoesting, dit kom van die Almagtige af.” (Jesaja 13:6) 

“Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.” (Joël 2:31) 

Maar die dag van die Here is vir God se mense juis ook ‘n dag van redding! 

“Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige." (4:2,3) 

Dit word als vervul in Jesus. Die dag van die Here verwys na die oordeel sowel as die redding wat aanbreek in Jesus. Dis ’n omvattende aanduiding van die draaipunt in die geskiedenis wat met Jesus se koms ’n werklikheid geword het. Dit gaan nie net oor die wederkoms nie, maar die totale ingryping van God in die laaste dae, wat wel die wederkoms insluit. Dis die tyd waarin ons nou reeds leef! Dis nie net ’n enkele moment nie, maar ’n hele tydperk, ‘n periode van beslissing en skeiding. In ’n sekere sin is dit nou reeds aan die gang. Waar die evangelie verkondig word gebeur dit reeds. Waar die evangelie verkondig word spel dit oordeel vir diegene wat dit verwerp, maar heerlike redding en genade vir elkeen wat Jesus aanvaar. Maar die Dag van die Here sluit ook in die finale oordeel tydens die wederkoms, wanneer daar ewige finale skeiding sal kom. 

Praktiese implikasies vir julle wat God ken: 

· Dien die Here sonder om jouself met andere te vergelyk! Kyk na die Here en nie na ander mense nie. Stap die pad saam met die Here - die spesifieke unieke paadjie wat Hy vir jou bedoel het. (Met al die bulte en opdraandes) Afgunstigheid op ander steel jou blydskap, en verswak jou geloof. 

· Ons moet ons motiewe ondersoek waarom ons God dien. Ons moet God dien omdat ons eerbied vir Sy Naam, sy persoon het. Hoe gebeur dit? Waar sien ons sy heerlikheid wat eerbied, ontsag maar ook dankbaarheid by ons wek? As ons die opofferende liefde, die heerlikheid, die skoonheid, die voortreflikheid van Jesus Christus raaksien! Hy, Jesus is die beeld van die ontsagwekkende heerlike God! (Kol 1:15-20) Trouens, Sy Naam is die enigste Naam deur wie ons gered kan word. (Handelinge 4:12) 

· Om die Here te verwyt en te wantrou is verregaande vermetelheid. Ons moet ons bekeer van hierdie verkeerde gedagtes. Dis ’n baie ernstige sonde! Ons glo so maklik verkeerde dinge oor God, ons betwyfel sy wysheid en besluite, sy regverdigheid, goedheid, getrouheid! Ons is wantrouig oor sy liefde! ((Dit ten spyte van Getsemane en die kruis!) Bely jou verkeerde gedagtes oor God - Hy sal vergewe! 

· Moenie verkeerde verwagtings hê oor wat Jesus nou kom doen nie. Hy beloof nie nou in hierdie wêreld voorspoed sukses en gerief nie. Hy gee nêrens waarborge dat ons nie onreg, onregverdigheid of swaarkry sal beleef nie. Hy belowe wel vergifnis, verlossing van sondebande, vrede, ’n ewige erfenis! 

· Vind jou vreugde nou reeds in die feit dat God goed en regverdig is. Dis ’n feit al sien ons dit nie. Die GEDENKBOEK! Alles is in God se boek opgeskryf, niks ontgaan sy alsiende oë nie! Wees jy maar net rustig! Reg en geregtigheid sal geskied! 

· Vertrou op God se beloftes van verlossing. Dit word beskryf as redding, genesing en vryheid. Jou hele menswees word geraak. Hierdie beloftes het reeds waar geword in Jesus en sal volkome waar word by die wederkoms. 

· Vertrou God se Sy oordele aan Hom toe. God stel sy oordele uit juis om mense kans te gee om te bekeer! “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte (oor die wederkoms) uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9) Maar God slaap nie, God se uitstel beteken nie afstel nie - daar kom ’n besliste finale oordeel. Dit gaan wees soos ’n oond, geen ontsnapping gaan moontlik wees nie! As jy nie aan God behoort nie, bekeer jou NOU! 

Die belangrikste : 

Dit maak beslis sin om God te ken en te dien deur Jesus Christus. Dis voorwaar al wat sin maak in hierdie deurmekaar wêreld. 

Wat anders maak sin? Wie anders bied ewige sekuriteit? Om God te ken is al wat sin maak, want die mens is verganklik, alles wat ons besit is verganklik en gaan verby! Alle mense is onbetroubaar en hulle beloftes bedrieglik. Wie anders as God en net God is waarlik opreg, eerlik, betroubaar? Dis die moeite werd om God te dien deur Sy Seun Jesus, nou en vir die ewigheid. DIEN JY HOM? 

*Maleagi 3:13 Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak, sê die Here. Maar julle vra: "Wat het ons oor U gesê?" 

14 Julle het gesê: "Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? 

15 Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" 

16 Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 

17 Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. 

18 Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie. 

Maleagi 4:1 Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie. 

2 Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. 

3 Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

(foto - Duncan en Ida Irvine)