BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer, maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

FAMILIE


God het dit so bepaal dat ons deel van ‘n familie is. As getroue Verbondsgod werk Hy deur sy groot genade in opeenvolgende geslagte. Ons Westerlinge is ongelukkig te individualisties ingestel, maar die Bybelse denke werk heel anders. Daarom vorm geslagsregisters ‘n baie belangrike deel van die Heilige Skrif. Ek deel graag so ietsie van ons familiegeskiedenis (met die klem op God se genadwerkinge) met jou.


[My dierbare ouers, Ria en Johan de Koning]

My Pa, Johan Petrus de Koning is in 1932 gebore en het in die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap grootgeword. Sy ouers was Thomas Lewis de Koning en  Susanna Margeretha de Koning (Kolesky) Hy vertel van sy bekering as volg (effens aangepas) :

Op twaalfjarige ouderdom het ek die Here die eerste keer met my hoor praat.  Die prediker was Ds. G. D. du Toit.  Sy boodskap was oor Matteus 7:21.  Ek het nie na vore gegaan toe hy sondaars opgeroep het nie - ek was een - maar het toe nie so gedink nie.  Toe hy gelowiges oproep vir ‘n oorgawe het ek die “Wenke vir pasbekeerde Christene” geneem.  Die Here het reeds daar in my hart gespreek.  Dit was egter die aand toe ek tuiskom en haastig kamer toe is om by die kerslig my blaadjie te lees, dat ek Sy stem duidelik gehoor het : Johannes 1:12 en Johannes 6:37 het met my gepraat.  Ek het gebid en gehuil: “Here Jesus,  ek wil weet of ek U kind is ..... Here help my om môre iets te doen wat ek nog nooit te vore kon doen nie, dan sal ek glo dat ek u kind is.”

Die oggend, na ‘n nag van min slaap het ek vergeet van my gebed.  Die dagtaak op die plaas het begin.  Dit was Saterdag oggend, my ouer broer en  ek moes die “Hamworthy” waterpomp masjien aan die gang kry.  Ons regterhand ‘n bruinman, wat my moes help met die pomp het nie opgegdaag nie.  Vir die eerste keer pomp ek alleen totdat die vlam die kop warm genoeg gemaak het.  My broer draai die wiel en toe die masjien sy eerste rookwalms by ‘n uitlaatpyp uit puf ....puf ...... klop dit in my hart en verstand.  “Daar is die ding wat jy nog nooit van te vore kon doen nie.”  ‘n Onbegryplike vrede en vreugde het my oorweldig.  Jesus het my gebed gehoor en geantwoord.  Ek glo ek is nou Sy kind

Ek is hoërskool toe. Daar word ek toe ‘n CSV leier van ‘n groepie.  Toe ek eendag ‘n gebed doen waar die CSV  reisende sekretaresse by is, was my gebed te veel van “ons” in plaas van “ek” en wou sy met my ‘n persoonlike gesprek hê.  Ek het besef dat daar nog groot leemte in my sekerheid is, en het maar gerieflikheidshalwe die gesprek vermy.

Gelukkig het ek haar jare later toe ek reeds in Dorothea Sending was weer ontmoet en kon ek haar meedeel hoe ek sekerheid gekry het.  Ek glo sy het baie vir my gebid.

3 Oktober 1954 sal altyd ‘n onvergeetlike dag in my lewe bly.  Ek was werksaam in die Aartappelraad in Pretoria.  Geestelik het dit goed gegaan.  Ek was diaken in die Arcadia gemeente waar Ds. A.J. Pienaar predikant was. Ek was betrokke by die jeug en die Sondagskool.  Selfs bidure is gereeld bygewoon.  As die Dominee egter oor geloofsekerheid gepreek het en vra “Is jy gered?”, dan moes ek maar met ‘n draai vir myself antwoord “Ek dink so”, “ja, natuurlik.”  Maar dan het dit my altyd gehinder dat ek nog boesem sondes soos rook, vuil gedagtes, ensovoorts gehad het.  Tog het ek “probeer” om ‘n getuie te wees;  “probeer” om reg te lewe.

Dit het goed gegaan met my eerste jaar se CIS studies suksesvol agter die rug.  Ek het reeds eksamengelde betaal vir my finale eksamens.  My werk het ek goed geken.  En boonop was daar juis toe tyd vir blok. In hierdie tyd was daar ‘n konferensie van die N.G. Kerk wat op Kaalfontein, op die plaas van oom Lardus Erasmus in Oktober gehou sou word.  Oom Hansie Kleynhans het beplan om te gaan en wou hê ek moet hom vergesel.  Dit was egter vanselfsprekend dat ek nie sou kon gaan nie vanweë my komende eksamen.

Die onmoontlike word moontlik as die Here ingryp.  Ek was besig om te studeer.  My Bybel was ook by my.  Daar was versoekings wat my geteister het.  Alhoewel ek my werk goed geken het, het ‘n eienaardige ding gebeur. Dit het gevoel of alles wat ek oorlees eenvoudig uitgewis word in my brein.  Toe roep ek na die Here om hulp.  My Bybel was oop by Romeine  7:15.  "Wat ek doen weet ek nie, want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat dit doen ek.” en vers 17 “Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon” en vers 19 “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”

Ek het gehuil en gesê: “Ja, Here dit is waar” en vers 24 het my gebed geword: “Ek ellendige mens!  Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”

Nou was ek so plat geslaan dat ek nie vers 25 raak gesien het nie.  Miskien ook gelukkig so.  Want eers nadat ek dit beleef het, het  hierdie vers en Rom 8:1,2 vir my ‘n groot werklikheid geword.

Na vers 24 het ek soos ‘n bokser handdoek ingegooi, op my fiets geklim en kantoor toe gery.  “Oom Hansie ek gaan saam kamp toe” Ek het niks verder gesê nie, die oom was bly.  Daar in sy kantoor het ek my laaste sigaret gerook, min wetende dit sou my heel laaste in my lewe wees.

By die konferensie was daar pragtige Christen mense.  Prof H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys, Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en vele ander mans en vroue.  Almal was vrolik en vriendelik.  Niemand kon my innerlike stryd sien nie.  Met sy kennis van die jeug het Oom Dries Steyn dalk iets vermoed.  Op sy vraag aan my: “Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het ek positief geantwoord en toe sê hy: “Ek sien jou April DV  by Winkelspruit se CSV kamp.”  

Dit was egter hier waar die Here die duidelikste met my gepraat het.  Uit Matteus 9:35 preek Dr. Geldenhuys oor die oes wat groot is en die arbeiders min, en sluit af deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.

Gou was ek in die tent, maar twee dames was voor my daar.  Ek wou alleen wees met die Here.  Ons drie het eers saam gebid en toe hulle uit is, was dit my gebed: “Here Jesus, ek wil krag hê om U te dien.”  Ek kan vaagweg onthou dat ek ook sonde bely het en gesê het, ek sal gaan regmaak as ek by die huis kom.

Al het ek nie geweet wat ek vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.  Daardie dag het die Heilige Gees besit geneem van my lewe en het 2 Korintiërs 5:17 waar geword: “Iemand wat in Christus is, is ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan alles het nuut geword.”

Op 21 September 2012 het dit die Alwyse God behaag om Pa van ons weg te neem na sy ewige tuiste en die 26ste is sy aardse oorskot op Walvisbaai ter ruste gelê.










My Moeder, Maria Elizabeth de Koning (de Wit) is in 1933 gebore. Sy het op ‘n plaas naby Heidelberg in die Suid-Kaap grootgeword. As kind het sy ook die Here Jesus as haar Verlosser leer ken.

My Pa en Ma het mekaar as werkers in die Dorothea Sending ontmoet. So vertel my Pa oor hulle ontmoeting, troue en eerste moeilike jare daarna (aangepas):

Van haar kinderdae weet ek min.  Sy is egter die oudste van ses kinders.  Die hartseer wat sy moes beleef het toe haar jongste boetie Jacobus gesterf het moes ‘n diep merk op haar tere gemoed gelaat het.  Dit was dan ook die groot aanleiding tot die naamkeuse vir ons jongste seun - Jacobus de Wit.

Soos ekself, het sy ook op ‘n plaasskool skool gegaan, totdat sy na standerd ses hoërskool toe moes gaan.  Die heerlike plaaslewe van wildsbokkies mak maak en selfs ‘n hans varkie grootmaak was nou vir goed verby.

Komende uit ‘n godsdienstige ouerhuis waar van die voorouers selfs in die bediening gestaan het, was sy opreg vroom en godvresend.  Desnieteenstaande die goeie godsdienstige grondslag, het geloofsekerheid nog ontbreek.

Soos ook in my eie lewe, was dit ook die CSV (Christelike Studente Vereniging) en heel waarskynlik dieselfde reisende sekretaresse, wat min of meer dieselfde tyd, vir haar kon help.  Haar sekerheid het deur die woorde van Johannes 6:37 gekom: “Al wat die Vader my gee sal na my toe kom, ek sal hom wat na my toe kom nooit uitwerp nie.”  Ander Bybelverse soos Johannes 1:12 is aan haar gegee, maar dit was eers toe sy self hierdie woorde lees dat daar vrede in haar hart gekom het.  Die vrees wat sy vir die dood gehad het  was nou weg.

Hierdie nuwe lewe het in haar standerd nege jaar gekom.  Die gedagte vir verdere studie het ‘n werklikheid geword.  Sy sou na Wellington gaan om as onderwyseres opgelei te word met die oog op ‘n sendingonderwys pos.

Tydens haar studiejare op Wellington gebeur dit dat Oom Hans von Staden van Dorothea Sending, as spreker op Wellington optree.  By die geleentheid word sy duidelik oortuig dat dit die plek is waar die Here haar nodig het.

As Christen met vaste oortuigings kon selfs die predikant en wie ookal haar nie van haar roeping na die Dorothea Sending laat afsien nie.

Haar vader, ‘n gesiene skaap-koring boer het haar laat gaan.  Ek twyfel of hy werklik geweet het vir watter geringe bedrag sy dogter gaan werk het.  Ek glo ook nie hy het geweet dat sy nog studieskuld terug moes betaal met die 10 pond wat sy per maand verdien het nie.

So ‘n saggeaarde, edel meisie is gou deur almal in die Sending bemin.  Mev. Von Staden het ook haar deugde besef.  Sy was ‘n aanwins vir so ‘n groot familie waar daar vier dogters was wat maklik as haar jonger sussies gesien kon word.  Ria se diens op Eulogia, die Sending hoofkantoor, was van onskatbare waarde.  Van haar kant gesien was dit seker maar andersyds ‘n nagmerrie want van huishouding en koskook het sy min geweet.  Sy het geleef vir een doel en dit was om mense van Jesus te vertel.

Die Dorothea Sending het begin om sy eie blanke studente in Pretoria op te lei.  Ria is gevra om ook hier as huismoeder op te tree.  Dit het nie net toesig oor kos en studente beteken nie.  Sy moes bidure lei, selfs lesings gee en met studente saamwerk in praktiese sending-uitreike.

Daar was natuurlik ook die groot veldtogte soos die jaarlikse Durban veldtogte.  Dit is juis by so ‘n veldtog waar ons deur die vuur gegaan het, waar ek Ria leer ken het.

As jong werkster, getrou aan die reëls en vereistes van die Sending het sy soms die reuse verantwoordelikheid gehad om ‘n span te lei.  Ek was eens deel van so ‘n span wat deur haar in Oos-Londen gelei is.  Soos reeds gesê, die Sending leiers het in haar as jong werkster die potensiaal as leier gesien.  Waar ek egter met haar saam gewerk het, het sy altyd gevoel ‘n man moet leiding neem.  So het sy dikwels by ‘n opelugdiens of aanddiens gevra dat ‘n man die leiding moet neem.

As ek vandag terug dink sien ek by hoeveel geleenthede  ons saam in ‘n span was.  Die laaste jare moes ek as spanleier leiding neem.  Ek onthou hoe iemand in die Vrystaat waar ons saam gewerk het eens gesê het, hy sal Ria altyd onthou as die een wat daar eenkant sit besig om te bid.

Dit was  tydens ‘n veldtog wat ons saam op Heidelberg in die Kaap in 1960 gaan hou het, dat my gevoel vir Ria verdiep het.  Ons was net drie werkers.  Sy en ek het by haar ouers op die plaas so sewe kilometer vanaf Heidelberg tuisgegaan. 

Saam as ons na dienste tuis kom het ons gewoonlik iets geëet.  ‘n Lekker stukkie koue vleis of so iets.  Die Heidelbergers gaan vroeg slaap, staan ook vroeg op.  Tot vandag toe nog is dit my vrou se gewoonte.

Soos die oortuiging en sekerheid in my hart aangegroei het dat Ria my vrou sou word, het ek later probeer om vir haar daarvan te vertel.  Die eerste keer toe ek wou begin praat, het sy, wetende wat ek wou sê, gesê: “Ons is besig met sendingwerk, ons praat nie nou oor ander dinge nie.” 

Presies hoe sy gesê het weet ek nie meer nie, maar een ding het ek geweet : "Mannetjie, bly stil, as jy nie groot moeilikheid wil hê nie."  Tog sou die dag kom as die veldtog verby is.

Ek moet egter eers van haar broer Pieter vertel.  Hy het van sy plaas af uit Swellendam gekom en ons besoek.  Ons twee het dadelik na aan mekaar gekom.  Ons het geestelik gesels.  Ek het vir hom die boek van dr. Willie Marias gegee - “Die Hemel en hoe om daar te kom.”  So gebeur dit dat Ria en ek besluit om op ons af Maandag, Pieter te gaan besoek.  Streng volgens die reëls van die sending was dit nie toelaatbaar nie.  Wie van ons die werklike skuldige of skuldigste was weet ek nie.  Wat egter gebeur het was van die Here.  Pieter en ek is saam lande toe.  Binne in my was die duidelike stem om met Pieter oor geloofsekerheid te praat.  Die regte woorde en regte oomblik wou net nie kom nie.  Ons was later terug by sy huis.  Ria was al die tyd in ‘n kamer alleen in gebed.  Toe ons uitstap besef ek, nou moet ek praat, of die kans is vir altyd verby.  Pieter het al die tyd gewag dat ek eerste moet praat.  Dit was soos ‘n ryp vrug wat net gewag het om gepluk te word.  

Ons was op ons knieë.  In trane het hy se lewe aan die Here oorgegee.  Toe ons amen sê was Ria daar en die mooiste oomblik in my lewe is beleef toe broer en suster in trane mekaar omhels en die Here loof.

Hierdie band tussen ons en Pieter het deur die jare sonder veel woorde net hegter geword. 

Op ons terugpad is Ria en ek vol dank totdat ons begin vra : "Wie is die skuldige, wie het gesê ons moet die reël oortree?"  Ons het ons getroos deur te sê: "Ons glo die Here self het dit so gereël want kyk wat is die resultaat!"  Ek meen darem ons het vir ons sending leiers ingelig oor ons optrede.

Die seën op daardie veldtog was soveel dat ons toestemming gevra het om ‘n week se verlenging van die veldtog.  Die plaaslike Dominee, het gemeen dit is om ouers te vra en bespiegel dat ons verloof gaan raak.  Miskien het hy tog nog meer gedagtes in my kop gesit.  Dit was dieselfde Dominee wat ons twee jaar later getrou het.

Soos reeds gesê, die sending het sy eie reëls.  Een daarvan wat moeilik is om te verstaan is die oor verhoudings ensovoorts.  Die sending leiers was egter ook mense met begrip.  Toe hulle sien dat daar in my hart ‘n gevoel vir Ria was, het hulle dit maklik gemaak.  Toe ek met Oom Hans daaroor praat was sy antwoord: “As dit my eie dogter was sou dit my keuse vir haar gewees het.”  Tant Lettie het sover gegaan om te reël dat ons mekaar alleen sou sien by hoofkantoor.  Glo my en toe ek haar vra en sy “Ja” sê , voeg sy by: “As jy egter daardie dag op Heidelberg weer sou gevra het, sou dit vir goed “Nee” gewees het.”  Ek dink my broekspype het net daar gebewe.

Die hoofsaak is: Die Here het hierdie pragtige standvastige meisie met ‘n sendinghart vir my as vrou gegee. Hoe sou ek in die moeilike jare met ‘n baie klein inkomste en baie weg van die huis met veldtogte ooit kon voortgaan as ek nie so ‘n vrou gehad het nie.



[Troue op Heidelberg , Kaap, 10 Februarie 1962]

Ons het saam die geloofspad geloop.  Na ons huwelik in 1962 is ons weer terug na ons werk in Suidwes (Namibië).  Eers het ons by vriende van my, Pierre en Anna Retief gebly.  Toe ons, ons eerste baba verwag, het ons na ‘n buitegebou op ‘n plasie net buite Windhoek by prokureur Gert Muller gebly.  Die mense was baie goed vir ons.  



In Owamboland

Feitlik onmiddelik nadat Ma en seun uit die hospitaal gekom het, is hulle per trein na Berseba.  Ek en die evangeliste het hulle by ‘n klein stasie daar ingewag en die laaste plus minus veertig kilometers per Land Rover oor ‘n hobbelrige pad geneem.

Ons eerste seun was tien maande oud voor ons weer in ons woonplek in Windhoek sou kom.  Ons geringe aardse besittings was deur bye bemors.  In ons badkamer was eendag ‘n groot slang.  Ons het letterlik niks gehad nie.  Ek onthou die dag toe ek vier stoele en ‘n tafel by ‘n vendusie gekoop het. Ons het net ‘n gasprimus en later ‘n drukkoker gehad.  Twee appelkissies om op te sit.  Eers later ‘n ou klavierkas reggeskaaf as klerekas.  Maar ons was gelukkig.  Ons was skatryk.  Ons het Jesus, Sy vrede en vreugde geken.

My vrou het my nooit probeer weghou van ‘n veldtog of reeks dienste nie.  Net na ons dogter se geboorte moes ek vir twee en ‘n halwe maande na Ovamboland toe gaan.  Ek wou dit kanselleer.  Sy het gesê ek moet gaan.

Toe ons oudste seun en dogter nog klein was is hulle saam na Ovamboland.  Ons het soms onder moeilike omstandighede in skoolgeboue en kerkkantore geslaap.  Soms moeilik met die etery reg gekom.  Vir Ria was die Mahangu pap, eiers en “Oshikundu” nie lekker nie - vir my wel. Sy het soms honger gehad.  Maar ons was vol vreugde, want mense het Jesus as Verlosser gevind.



[Johannes as vyfjarige seuntjie in Owamboland, 1968]

As ek terug kyk oor die jare, dan kan ek die Here net dank vir so ‘n lewensmaat.  Wat sou ek gewees het sonder haar gebede?  Wat sou ons kinders gewees het.  Dit was sy wat elke oggend voor skool saam met hulle gelees en gebed het.  Wanneer ek nie daar was nie vanweë my dienste het sy elke aand saam met hulle huisgodsdiens gehou.  Geen wonder dat sy die voorreg gehad het om saam met hulle te kon bid toe die behoefte daar was om hulle oorgawe aan Jesus te maak nie.

Laat my nog een insident byvoeg: ‘n Gelowige ou tante wat Ria en haar mense goed geken het, vra my eendag: “Weet jy hoe dit gebeur het dat jou vrou in die sending is?”  Ek wou ‘n baie mooi antwoord gee en begin die verhaal van haar redding vertel maar voor ek kon verder praat maak sy my stil en sê: “Nee, dit het so gebeur, Ria se oupa se pa was ‘n baie gelowige man en ‘n man van gebed.  Hy het dikwels in die bos gaan bid en gesê: “Here, red my kinders en hulle kinders se kinders en roep hulle in u diens.”  “Dit,” gaan sy voort, “is hoe jou vrou in die sending gekom het.”

So bid sy en ek weer vir ons kinders en hulle kinders om ook in Sy diens te staan.




[Ek (Johannes) en my suster Maria saam met ons ouers]





[Ma met ons drie, by ons woonstel in Suiderhof, Windhoek, kort na Jacobus se geboorte]

Al kom ek sover kort in baie opsigte is ek so dankbaar vir so ‘n vrou en moeder van ons kinders.  Spreuke 18:22 is waar: “Wie ‘n vrou kry vind geluk en geniet die goedheid van die Here.”

Alle eer en dank aan God vir wonderlike ouers. En ook het Hy weer vir my 'n wonderlike vrou en kinders gegee!



Ek en Jacolette is op 25 September 1999 te Waterval-Boven getroud.






Jacolette en die drie meisiekinders : Natanie Vreugde, Marisja Lente en Jonette Petra



'n Gesiggie om 'n Pa bly te maak...

Die hele familie was bymekaar om oupa Johan de Koning se tagtigste verjaarsdag op 7 Julie 2012 te Walvisbaai saam te vier!



Agter v.l.n.r. Rudolf, Johannes, Jacolette, Hendriette, Jacobus,
Natanie, Ruben, Suelize-Marie, Marisja, Jonette, Anne-Karine, Maria, Ouma Ria de Koning, Oupa Johan de Koning.



Pa se twee susters, Tannie Miem Obbes en Tannie Lettie Spangenberg kon by sy begrafnis wees. Sy broers is al lankal nie meer daar nie.



Ons geniet vir klein Natanie Vreugde al meer...


                      Ons vyf op Tsumeb, Desember 2013

4 comments:

  1. Johannes, Clarissa het vir my jou BlogSpot aangestuur. Ek het jou stukkie oor Mandela geniet en stem heeltemal saam. Ek sal my verheug in Jesus en wat Hy op aarde tot stand gebring het en wat vir ewig bly staan - Sy verlossing vir elkeen van ons as sondige mense. Hom alleen sal ek eer. Jul gesin lyk pragtig en mag die Here jul werk seen. Groete vanuit VSA. Annette en gesin

    ReplyDelete
  2. Hi Annette, dis wonderlik om van jou te hoor. Ek het nie eers geweet julle is in die VSA nie! E-pos sommer 'n foto van julle ook, al julle graag wil sien.
    Groetnis
    Johannes

    ReplyDelete
  3. Goeiedag Johannes. Ek het jou vader baie goed geken. Soms langs die seewater met die hengelstok in die hand ontmoet en dan weer rondom die Woord in die huis van aanbidding. Ek het hom leer ken op die plaas Middelplaas van tannie Hester van Dyk (my skoonmoeder) in die sewentiger jare. Daar het h die Woord verkondig aan die Namas. Ek het een van die dienste bygewoon en wat ek altyd sal onthou is die manier waarop hy die drie-eenheid aan die volk verduidelik het. Hy het die voorbeeld van die eier gebruik. n Dop, n geel en die wit. Sonder enigeen van die drie is daar geen sprake van n eier nie. So het hulle verstaan dat God bestaan uit God die Vader, God sie Seun en God die Heilige Gees. Tydens sy oorlye was ons weer op die plaas en kon ons nie die begrafnis bywoon nie. Ek en Marlene (my anderhelfte vir 41 jaar) het groot respek vir hom gehad en mekaar baie bemoedig en vir mekaar gebid. Wanneer ons van die plaas kom het ons baie keer n skaap ribbetjie of boud vir hulle gebring. Hy was versot op die kalaharie skaap rib. Dankie vir al jou mooi boodskappe. Dis vir ons werklik lig in hierdie donker wordende wereld. Groete Jan en Marlene de Smit, Walvisbaai (jandes@iway.na)

    ReplyDelete
  4. Baie dankie vir die interessante inligting en bemoedigende woorde! Groete Johannes

    ReplyDelete