BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Middelaarskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Middelaarskap. Wys alle plasings

Vrydag 16 Maart 2018

HEILIGE VUUR

- waarom brand die bos, maar word nie verteer nie? 



Vuur! Goed of Gevaarlik? Sekerlik en beslis beide : Dink aan warmte, lig, beskerming.... maar ook skrikwekkend gevaarlik en verwoestend... dit kan jou brand en verteer! 

HET GOD SY VERBOND VERGEET? 

Die Engel van die HERE verskyn aan Moses in ’n brandende doringbos. (Sien Eksodus 3:1-6)* Dis ’n bonatuurlike ontmoetingsgebeurtenis. Wat is die agtergrond? Die volk Israel, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob is in ’n groot krisis. Die krisis gaan nie bloot daaroor dat hulle swaarkry en dwangarbeid moet verrig nie, die krisis is ook nie net die aaklige verdrukking wat beteken dat babaseuntjies doodgemaak word nie. Die krisis lê op ’n dieper teologiese vlak. Hoe so? God het ’n verbond met Abram gesluit - dat hy geseënd sal wees - hy sal ’n groot nageslag wees en die land Kanaän besit en al die nasies van die aarde sal deur sy nageslag geseënd wees. Hierdie beloftes is herhaal aan Isak en Jakob. En nou? Nou is hierdie nageslag ’n slawevolk onder vreemde heerskappy in ’n vreemde land. Kan u sien, die situasie van Israel in Egipte is nie maar net ’n plaaslike tragedie nie. God se verbondsbeloftes is op die spel, die toekoms van sy volk en daarom die betroubaarheid van God self. Dit sou kon lyk asof God sy verbond vergeet het of dat Hy nie instaat was om dit na te kom nie. Dit was egter nie die geval nie. God dink aan sy verbond en gaan oor tot aksie! 

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 
Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem." (Eks. 2:23-25) 

DIE BRANDENDE BOS 

Die eerste praktiese stap wat God neem is nou om Homself aan Moses te openbaar en hom te roep as die middelaar deur wie Hy sy volk gaan verlos. Baie belangrik om te hoor hoe God homself aan Moses identifiseer. Vers 6! God is die God van Abraham, Isak en Jakob d.w.s. die Verbondsgod. Dit bevestig wat reeds gesê is - God gaan tot aksie oor, Hy gryp reddend in op grond van en binne die raamwerk van sy verbond met Abram. 

Laat ons nadink oor ’n fyner detail, spesifiek die verskyning van die Engel van die HERE in die brandende bos! Waarom openbaar die Here Homself op hierdie manier en wat sou Hy daardeur wou sê? Die Here openbaar Homself in ’n vuurvlam (dis al klaar van groot betekenis), maar baie opvallend is dat die vuurvlam nie die bos verteer soos wat mens sou verwag nie. Dis juis hierdie aspek wat Moses se aandag getrek het en hom laat nadergaan het. (3) Wat is die betekenis van die vuurvlam en die opvallende verskynsel dat die vlam brand maar nie die bos verteer nie? 

HEILIGE TEENWOORDIGHEID 

God openbaar sy teenwoordigheid in die vorm van ’n vuurvlam in die doringbos. Die klem val op sy heilige teenwoordigheid. (5) Hierdie verskyning was nie die laaste keer dat dit gebeur nie. Daar is ’n merkwaardige ooreenkoms tussen hierdie gebeurtenis in Eksodus 3 en die gebeure wat beskryf word in Deuteronomium 4 en 5. Dis ‘n terugverwysing na God se verskyning aan die volk by die berg Sinaï//Horeb tydens die Uittog.** (Eks. 3:1; Dtr. 4:10) 

Net soos die bos het die berg met “vuur gebrand.” (Eks. 3:2) "Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het." (Dtr 4:11) In beide gevalle word daar melding gemaak van “nader gegaan” (Eks. 3:3; Dtr. 5:23,24) 

Vuur simboliseer God se heerlike maar juis ook sy heilige verterende teenwoordigheid. “Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud” (Eks. 19:18) “Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos ‘n gloeiende vuur op die berg." (Eks. 24:17) “Die Here jou God is ‘n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.” (Dtr. 4:24!) Soos vuur alles vernietig, vernietig die heiligheid van God alles en almal wat onrein is. In Eksodus 3 kry ons dus ’n antisipasie of vooruitskouing van die verterende heilige God by Sinaï. By Sinaï sluit God ’n verbond met sy volk wat daarop neerkom dat Hy as die heilige verterende God onder die volk sou woon. Trouens God red juis sy volk om onder hulle te woon as hulle God. Dis God se verlange om met sy mense te wees. Dis wonderlike ’n onbeskryflik heerlik, maar dit veroorsaak ook ’n krisis. 

DIE KRISIS 

Die verblyf van die heilige God onder ’n sondige volk (al was hulle ’n verlosde volk) skep ’n probleem. Hoekom? God se heiligheid is juis ’n verterende vuur, ’n verterende heiligheid wat geen sonde kan duld of verduur nie. God se verblyf is ’n heerlike saak, maar om dit so te stel ook ’n gevaarlike saak. Sy heiligheid kan die dood van onheilige mense veroorsaak. Die groot kwessie is : hoe gaan ’n onheilige volk oorleef met die teenwoordigheid van die heilige God in hulle midde? Hier word die raaisel van die bos wat nie verteer word nie opgelos. Die doringbos verteenwoordig die volk Israel.*** Die bos word nie verteer nie ten spyte van die brandende vlam se teenwoordigheid. Dit spreek van God se genade!! 

ALLEENLIK GOD SE GENADE KEER DAT HY ONS NIE VERNIETIG NIE! 

Dis presies wat die volk Israel beleef het. Dis ’n ongelooflike unieke genadetoegif en voorreg om God se stem te hoor! Net God se volk kon so iets beleef. “Het ‘n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?” (Dtr. 4:33) Hulle beleef iets van die heilige God se teenwoordigheid sonder om vernietig te word, dis niks minder as ’n wonderwerk nie, ’n wonderwerk van genade! Maar dis ook duidelik, hulle besef die gevaar wat God se heilige teenwoordigheid inhou. “Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf? Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe?" (Dtr. 5:25-26) 

Hoe nou gemaak? Die oplossing is ’n middelaar, naamlik Moses. Hulle rig daarom ‘n versoek dat Moses vir hulle intree en bemiddel by God... “Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’” (Dtr. 5:27) 

EN TOE VERGEET HULLE... 

Die afvallige volk het egter nie voortdurend rekening gehou met God sy heiligheid nie - soos die hele petalje met die goue kalf duidelik wys. Die heilige toorn van God het hulle dan ook getref en baie sterf deur die swaard. “Die Here het die volk met ‘n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.” (Eks. 32:35) God is na hierdie voorval huiwerig om Israel verder bloot te stel aan die gevaar wat sy heilige teenwoordigheid onder die volk vir hulle inhou. God stel voor dat ’n engel saam met hulle gaan. “Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. “en Ek sal 'n engel voor jou uit stuur--en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe-- na 'n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.” (Eks. 33:2,3) “....anders sal jy op die weg verteer(!) word” (NAB - verdelg, OAV - verteer - selfde Hebreeuse woord as in 3:2) God se teenwoordigheid sou tot hulle vernietiging lei. “Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is 'n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig.” (Eks.33:5). 

Moses pleit egter by God om saam te gaan en God staan sy versoek toe. “Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.
Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is. 
Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam.” (Eks. 33:15-17) 

Israel vergeet, raak mak....Dit waaroor God gewaarsku het, het toe gebeur. 

DIE VUUR VERTEER!

God se heiligheid en Israel se opstandige onheiligheid bots. Dit lei tot ’n skrikwekkende gebeurtenis, waar die vuur van God letterlik onder die volk gebrand het! 

“Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het ‘n deel van die kamp verbrand. 
Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 
Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.” (Num. 11:1-3) 

Hulle word verteer deur God se vuur! Hier word die brandende bos episode omgekeer - Israel hou nie rekening met God se heiligheid nie en die vuur verteer hulle! Maar let op : Weer is dit die middelaar Moses wat tot hulle redding kom!

ONS GOD IS ‘N HEILIGE GOD! 

Ja, God is 'n genadige God. Maar sonder dat ons die skrikwekkende heiligheid van God besef, sal ons nooit die genade van God deur Jesus waardeer en aanvaar nie! Jesus ons Middelaar keer deur sy soendood dat God ons nie vernietig nie, maar ons moenie “mak” raak vir God nie! Ons moet Hom met heilige eerbied en ontsag dien! 



* 1.Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. 

2.Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 

3.En Moses sê vir homself: "Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?" 

4.Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek." 

5.Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond." 

6.Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. (Eksodus 3:1-6) 

** Horeb en Sinaï is dieselfde berg. Gispen p48 

***Gispen se kommentaar oor Eksodus p51

Donderdag 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!