BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hofuitspraak teen NGK 2019. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hofuitspraak teen NGK 2019. Wys alle plasings

Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Vrydag 08 Maart 2019

OOMBLIK VAN WAARHEID!

Die NGKN (NG Kerk in Namibië) staan op ‘n kruispad! Gaan ons geloofsmoed aan die dag lê? Gaan ons God meer gehoorsaam wees as mense? 

[net 'n paar baie vinnige en voorlopige gedagtes]

WAT HET NOU GEBEUR? 

Net vinnig die agtergrond. In 2015 het die Algemene Sinode van die NGK skielik en onverwags ‘n uiters liberale besluit oor die homo kwessie geneem wat daarop sou neerkom dat praktiserende homoseksuele predikante kon word. Jy kan maar sê : “Die kerk is met die broek op die knieë gevang.” (geen woordspeling bedoel) Daar was onmiddellik hewige teenkanting teen hierdie goddelose besluit. Verskeie gemeentes (waaronder NGK Tsumeb, NGK Otjiwarongo ens.) het luidkeels beswaar gemaak. Daarna het ook verskeie streeksinodes hulle teen hierdie onaanvaarbare besluit uitgespreek. Ook die sinode van die NGK in Namibië het ‘n besluit geneem teen die inhoud van die Sinodebesluit van 2015. In 2016 is daar ‘n spesiale vergadering van die Algemene sinode byeen geroep waar die saak weer op die tafel gekom het. Hierdie sinode het toe die 2015 besluite de facto OMGEKEER! Die gay aktiviste in die NGK was egter nie tevrede nie en ‘n groep van hulle waaronder die bekende Laurie Gaum en ook teologie dosente van die univeriteit van Stellenbosch het toe ‘n hofsaak teen die NGK gemaak. 

Uitspraak is voorbehou en is toe vandag 8 Maart 2019 gelewer. Die hof het ten gunste van die aktiviste beslis. Hiervolgens is die sinode besluite van 2016 nou ongeldig en die goddelose besluite van 2015 weer geldig. Skokkend, afgryslik en tragies! *

Hierdie toedrag van sake bring ons by 'n belangrike kwessie...

KERK EN STAAT 

Die strydende kerk van Jesus Christus bestaan uit mense op aarde. As aardse bewoners is ons net soos ander mense aan landswette onderworpe. Hieroor is die Skrif baie duidelik.** Alle gesag, ook staatsgesag en regterlike gesag word afgelei van Goddelike gesag. Christene moet modelburgers wees in hulle goeie gedrag en gehoorsaamheid aan landswette en gesagstrukture. So versier ons die evangelie en maak dit aantreklik te midde van n goddelose wêreld. 

Alles werk egter nie altyd so eenvoudig nie. Die magte van die duisternis is immers nog steeds baie aktief op aarde. Dit gebeur dus ook dat daar gesagstrukture kan wees wat ons wil dwing om aan die evangelie en ons Koning, Jesus Christus ongehoorsaam te wees. In Handelinge kry ons juis so ‘n geval. Petrus en Johannes verskyn voor ‘n aardse gesagsliggaam, die Joodse Raad. Hierdie Raad verbied hulle om verder van Jesus te getuig. Wat was hulle reaksie? “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Handelinge 4:19,20) 

Ware gelowiges is aan God meer gehoorsaam as aan die openbare mening of landswette wat teen God se Woord indruis!

Die kerk van Jesus in Suid-Afrika (en meer spesifiek die NGK) beleef toenemend ‘n situasie waar die grondwet en staat druk op ons gaan toepas om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie hofsaak is maar die begin. Die gay aktiviste gaan hulle aanslag beslis ook na ander kerkverbande uitbrei! 'n Baie gevaarlike presedent is geskep...

WAT STAAN DIE NG KERK NOU TE DOEN? 

Die NGK kan natuurlik appelleer. Op hierdie stadium weet ek nog nie of dit gaan gebeur nie. 

Die NGK kan by die uitspraak berus, maar dit sou beteken dat die NGK nie meer die koningsheerskappy van Jesus as oppergesag erken nie! 

Die NGK kan die uitspraak ignoreer en so verder hofsake en vervolging op die lyf loop. Het ons nog die moed daarvoor? Veral gesien teen die feit dat die kerkleiding verdeeld is oor die gaykwessie en gemeentes soos Parke gemeente in Kraaifontein hulle in elk geval nie daaraan gesteur het nie.

Alle predikante en lidmate van die NGK wat Jesus se oppergesag erken sou kon bedank! Wat sou dan die pad vorentoe wees...? Waarheen moet al die herderlose skape gaan?

Ons in Namibië is in ‘n unieke posisie! 

Die NGK in Namibië kan binne die riglyne van die kerkorde ons wettig afskei van die Algemene Sinode van die NGK. 


Dit is volgens my eie opinie die gepaste opsie in hierdie tydsgewrig. Die AS neem in elk geval lankal reeds besluite wat in stryd is met die Skrif en die teologiese instellings in Suid-Afrika waar leraars opgelei word is lankal reeds tot op die been verrot. Namibiese broers en susters, dis nou die tyd om wakker te word en vir die waarheid op te staan!

Intussen moet ons nou nie paniekerig raak nie. Dis veral belangrik om te onthou dat die plaaslike kerk, volledig kerk is. (ecclesia completa) Prakties vir ons beteken dit dat die NG Kerk Tsumeb volledig kerk is met sy eie kerkraad wat die gemeente onder heerskappy van Christus regeer deur middel van die Woord en Gees. NGK Tsumeb se standpunte oor die hele gay kwessie is baie duidelik. (Kliek op TSUMEB STANDPUNT)

*Regters Sulette Potterill, Joseph Raulinga en Daisy Molefe het geoordeel dat die kerk se 2016 besluit onwettig en ongeldig is. Die hof het besluit dat dit onbillik is om lede van die kerk uit te sluit  van alle regte en vryhede wat die kerk bied op grond van hulle seksuele oriëntasie.

**Romeine 13:1-5


Oomblik van waarheid vir die kerk in die Dorsland!