BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 15 Oktober 2015

ALGEMENE SINODE OP RAND VAN AFGROND

Lui die doodsklok vir die Algemene Sinode van die NG Kerk? 


Dis die vraag wat toenemend die afgelope dekade reeds groeiend in mens se bekommerde gemoed kom lê. Sedert sy ontstaan in die vroeë sestigerjare was die rol van die Algemene Sinode vervullend en betekenisvol om eenheid te bevorder tussen die streeksinodes, leiding te gee in internasionale verhoudinge en verbintenisse met die Kerk van Christus wêreldwyd, harmonie te verseker en leiding te gee in huishoudelike kerksake en aktuele vraagstukke, ens.

Veral sedert 2004 se Hartenbosvergadering het hierdie eens vaste fondament begin om krake te vertoon. Wat mens waarneem is ‘n groeiende vertrouensbreuk tussen die Algemene Sinode, sy spreekbuise en Moderatuur aan die eenkant, en streeksinodes en gemeentes aan die ander kant.

Hierdie vertrouensbreuk is gestook deur 4 gebeure:

1. Die hantering rondom die kosbare saak van kerkeenheid sedert 2004.

Die persepsie wat by die gewone lidmaat op straat en by die familiekerke die NGKA en die RCA begin groei het, is dat die VGKSA die NG Kerk-moderatuur aan die korthare beet het. Die VGKSA stel eise, en die NGK skarrel om daaraan gehoor te gee. Die pleidooie van die NGKA en die RCA word nie gehoor nie. Trouens, lg kerke het ervaar hulle is nie eens deel van die onderhandelingstafel waar oor kerkeenheid gepraat word nie. Die NG Kerk se moderatuur het kant gekies, sê hulle.

Die kern van hierdie eise van die VGKSA het veral gewentel om die aanvaarding van die belydenis van Belhar. Hulle eis dit as ononderhandelbaar tot kerkeenheid, terwyl veral die NGKA en die RCA dit afwys.

Lidmate en gemeentes binne die NG Kerk het hoegenaamd nie akkoord gegaan met die styl van die VGKSA tydens hierdie onderhandelings en die NGK-onderhandelingspan se hantering daarvan nie. Daar kon gewoon nie begryp word hoe dit moontlik is dat die VGKSA die gesprekke deurlopend kon intimideer en soveel greep op ons onderhandelaars kon bekom nie. Dit het al meer begin lyk of Kerkeenheid, binne ‘n scenario waar een lidkerk al die ander lidkerke gaan domineer en intimideer, nie die ‘n ideaal van ‘n Christus-gesentreerde Eenheidskerk gaan dien nie. Die persepsie by lidmate het ontwikkel dat kerkeenheid vir die onderhandelaars meer gaan oor Belhar as belydenisskrif (dus polities) en nie oor Christus, die Verlosser in Wie ons almal saamgebind is nie.

2. Die referendum einde 2014/15 rondom die verandering van Artikel 1

In kort: Dit was ‘n groot oordeelsfout en groot verleentheid. Dit het duidelik gedemonstreer dat die NGK-moderatuur in geen werklike voeling met die groeiende agterdog en wantroue by lidmate oor die moderatuur se hele bestuur van die eenheidsgesprekke tot op daardie stadium gehad het nie. Die moderatuur het, ten spyte van waarskuwings, eenvoudig voortgegaan en het die fiasko net nie sien kom nie. Die referendum self was verwarrend en het enorme onsekerheid by lidmate te weeg gebring. Wat verder tot die groeiende wantroue meegewerk het was die vermoede by lidmate dat die moderatuur hule eie agenda agter die skerms bedryf het: “Julle moet stem oor Artikel 1, NIE oor Belhar nie”, is gesê. En na elke uitslag word die uitslag beoordeel as : “Soveel stemme vir Belhar en soveel daarteen” Lidmate en gemeentes het gewoon gevoel hulle is nie met deursigtigheid en eerlikheid behandel nie.

Die skade hiervan gaan nie maklik herstel nie.

3. Toestemming aan Wes-en-SuidKaap Sinode by die Oktober 2015-vergadering om hul eie belydenisskrifvasstellings te doen.

Dit kan nie. Hermee is die deur nou oopgemaak dat elke sinode in die toekoms oor enige saak waaroor hul sterk voel, hul eie pad kan loop. Die primêre funksie van die Algemene Sinode om as een spreekbuis te dien vir die hele NG Kerk en om sodoende eenheid en eenstemmigheid tussen al die gemeentes en streeksinodes te bevorder, is hierdeur ‘n groot knou toegedien. Op langtermyn gaan die Algemene Sinode hierdie nuutgekose weg nie oorleef nie.

Veel eerder moes die Algemene Sinode die Wes-kaap vasgevat het en nie die stout seuntjie hul sin gegee het nie. Hulle is deel van die Algemene Sinode, ‘n proses om Artikel 1 te verander en waarby hulle ingekoop het, is deurloop. Nou moet hulle, ter wille van die eenheid binne die NG Kerk, die uitslag daarvan aanvaar.

Terloops: Die voorstel van die RCA wat tot hier in die wind geslaan is, se wysheid blyk nou meer en meer duidelik te word: Laat die te stigte nuwe Eenheidskerk self die besluit neem oor sy belydenisskrifte.

Indien hierdie raad gevolg is deur die Moderatuur en hulle hierdie standpunt saam met die RCA die afgelope jare ferm gehandhaaf het, was ons vandag baie verder op die pad van Kerkeenheid en was die Moderatuur heelwat verleentheid gespaar.

4. Jongste besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit

Hierby hoef ons nie veel te sê nie. Genoeg verklarings deur gemeentes, lidmate, leraars en selfs susterkerke het reeds die lig gesien om ons te laat besef dat by verre die meerderheid gemeentes baie sterk standpunt teen die besluite van die jongste vergadering van die Algemene Sinode inneem. Gemeentes gaan nie toelaat dat ‘n handjievol teoloë wat onder die invloed van die post modernisme is hul sieninge op hul afdwing nie.

Dit bring die Algemene Sinode voor sy grootste bestaanskrisis nog: Gemeentes kan nie meer die Algemene Sinode vertrou om Skrifgetroue standpunte en in lyn met haar eie belydenisskrif te gee in aktuele sake nie. En wanneer gemeentes hul Algemene Sinode nie meer met die Bybel en getroue Skrifuitleg kan vertrou nie, is die doodsklok besig om te lui.

Dis duidelik dat die taakspan wat die verslag en aanbevelings aan die sinode bedien het, hul laat lei het deur ‘n vooropgestelde antwoord wat hul graag as besluit van die vergadering wou sien, nl dat seksuele homoseksuele verhoudings aanvaar moet word en nie as sondig of in stryd met die Skrif beskou moet word nie. Die invloed van die post modernisme is duidelik. Daarvoor het hul selektief te werk gegaan deur eers hul antwoord te vind in geselekteerde navorsingstukke uit die biologiese en natuurwetenskappe, en daarna na die Skrif. Skriftekste oor homoseksualiteit word dus beoordeel vanuit ‘n geselekteerde bril wat die menswetenskappe hul gee. Dit veto dus die Skrif. In die Reformasie werk ons anders om: Die Skrif veto. Sola Scriptura.

Die selektiewe aard van die taakspan se navorsing word ook bevestig deur die afwysing van ‘n ope brief aan die Sinode deur ‘n genootskap van gelowiges wat almal in homoseksuele praktyke vasgevang was en deur die krag van Christus se verlossing oorwinning verkry het en nou in gelukkige, normale heteroseksuele verhoudings/huwelike leef. Hoekom? Moet hierdie wonderlike getuienisse nie gehoor word nie? Hulle het selfs ‘n webbladwww.LearnToLove.co.za. In stede daarvan, raak mens al gewoond dat by haas elke kerkvergadering waar homoseksualitiet aan die orde kom, die vergadering net eensydig blootgestel word aan die getuienisse van homoseksuele mense wat getuig van hul pyn en lyding en die verwerping wat hulle ervaar. Natuurlik het mens deernis hiermee, en is hulle welkom in die Kerk en moet die Kerk hul met oop arms aanvaar en koester. Dis egter liefdeloos om hul die verlossing in Christus te ontsê. Die getuienisse van die ander word egter nooit gehoor nie, asof hulle nie bestaan nie.

My waarneming is: gemeentes gaan nie die Sola Scriptura beginsel prysgee nie. Gemeentes sal voortgaan om homoseksuele gelowiges te omhels en welkom te laat voel in gemeentes, maar sal ook voortgaan om hul te bedien met die volle boodskap van verlossing van hierdie sonde in Christus. Om net die “label” van sonde van homoseksualteit af te haal soos die jongste besluit van die Algemene Sinode dit nou wil doen, los nie hierdie gelowiges se probleem op nie. Die krag van die evangelie wil hul waarlik vrymaak, nie net “label-free” maak nie.

Groot werk en baie gebed lê voor. Om vertroue te herstel in ‘n verdere rol en bestaansreg van die Algemene Sinode, gaan nie maklik wees nie. Die Algemene Sinode sal homself moet bewys as ferm, met duidelike leiding, versiendheid en dissipline, onwrikbaar getrou aan God en die Woord.

Ons bid vir die nuwe Moderatuur in hierdie verband. Hulle sal die vertroue moet wen van die moderature van die groter NG Familie, ons Susterkerke, en bowenal, die lidmate van die NG Kerk. Anders lui die doodsklok.

Christus hou Self sy kerk in stand.

[Uitstekende artikel, ek is net nie seker wie dit geskryf het nie. As iemand my kan laat weet sal ek bly wees en die naam vermeld. Volgens opmerking hieronder het ds. Dȕring Cornelius dit geskryf.]


4 opmerkings:

  1. Düring Cornelius van Potch het dit geskryf. Ek hen hom en hy het dit vanoggend op sy FB geplaas.

    Ek haal sy laaste paragraaf aan:

    Ons bid vir die nuwe Moderatuur in hierdie verband. Hulle sal die vertroue moet wen van die moderature van die groter NG Familie, ons Susterkerke, en bowenal, die lidmate van die NG Kerk. Anders lui die doodsklok.
    Christus hou Self sy kerk in stand.

    Düring Cornelius
    Potchefstroom

    AntwoordVee uit
  2. Kyk die sterk bewoording op die APK se webblad, hul noem dit "heilloos" :
    http://apk.co.za/images/dokumente/SKK_Verklaring-NG_Kerk_se_besluit_oor_selfdegeslagverhoudings.pdf

    AntwoordVee uit
  3. Ook oorsee word kennis geneem: http://www.charismanews.com/opinion/watchman-on-the-wall/52612-another-denomination-slips-into-the-great-falling-away

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.