BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket God se oordele. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se oordele. Wys alle plasings

Donderdag 16 April 2020

WAAR IS GOD

in hierdie pandemie? 


[‘n oproep tot realisme en eerlikheid] 

Daar is baie troosboodskappe in hierdie tyd van Covid-19 en dis reg. Vir God se kinders is daar ‘n heerlike evangeliese troos te midde van hierdie verskriklike pandemie. Maar ek mis iets, ek mis in die meeste van die boodskappe die volle Bybelse perspektief oor pandemies, ellendes en rampe! Ons moet pasop vir valse en vinnige troos. Vir goedkoop #Prayfor… wie ook al! Ons moet ook eerlik met die wêreld wees wat betref die oorsprong van hierdie pandemie (Ek praat nou nie van Chinese markte of laboratoriums, vlermuise of ietermagôs nie, maar die diepere oorsprong!) 

Is alle ellendes maar net toevallige natuurverskynsels of die noodlot van die geskiedenis? 

Die perspektief uit Openbaring hoofstuk 16 (die uitgooi van die bakke op aarde) is : NEE! God is intens betrokke by hierdie dinge! “Toe het ek uit die tempel ‘n harde stem vir die sewe engele hoor sê: "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met DIE TOORN VAN GOD, op die aarde uit!” (1) LW. Gód se toorn. (nie die duiwel s’n nie) Maar nou wonder jy miskien, hoe pas dit nou in by die boodskap van Openbaring? 

TROOSBOEK

Ons weet tog dat Openbaring juis geskryf is as ‘n troosboek en aanmoediging vir Christene wat swaargekry het. Die hoofboodskap van Openbaring is dat God op die troon is. Hy is in beheer en almal wat verlos is deur die bloed van die Lam hoef nie te vrees nie, die koninkryk is vir hulle bestem. Hulle sal die oorwinning behaal omdat Jesus dit reeds behaal het. 

GOD RED ÉN OORDEEL 

Nou waar pas hierdie OORDELE wat uitgebeeld word deur die bakke dan in? Daar is duidelike patrone in die heilsgeskiedenis – hoe God se redding op aarde ontvou. Oordeel is altyd die keersy van redding. God oordeel sy vyande, juis as Hy sy mense red. Dink aan : Sondvloed. Verwoesting van Sodom en Gomorra. Redding uit Egipte Die oordeel van die tien plae. Terloops as ons kyk na die oordele van die bakke wat uitgegooi word is daar ‘n baie sterk ooreenkoms met die plae waarmee Egipte getref is. Swere, water in bloed verander, duisternis, onreine geeste soos paddas, hael...) Juis in God se oordele kom sy regverdigheid ook na vore! God red sy kinders deur sy groot genade, regverdigheid en liefde. God se toorn oor die sonde is die anderkant van sy regverdigheid en heiligheid. Juis omdat God regverdig is, oordeel Hy sonde. Juis omdat Hy liefde is, haat Hy wat verkeerd is! 

Al God se oordele is voorfilms, vooruitskouings op sy finale oordeel, wanneer sy vyande in die poel van vuur gewerp sal word. 

Rampe, ellendes, oorloë en epidemies op aarde is nie toevallige of neutrale gebeurtenisse nie. Dis waarskuwings van God en roepstemme tot bekering! 

SEËLS, BASUINE EN BAKKE 

Hierdie is nie die eerste keer in Openbaring waar daar oor God se oordele op aarde gepraat word nie. Die oordele van die breek van die seëls en die blaas van die trompette (basuine). Die groterwordende skaal van oordele is opvallend ; met die breek van die seëls word ‘n kwart van die aarde getref, met die blaas van die trompette ‘n derde, met die uitgooi van die bakke word die hele aarde getref. ‘n Al sterker opbou tot die eindoordeel word so geskets! 

Die eerste vier bakke gaan oor natuurrampe op land, see, varswaterbronne en in die hemelruim (die son). Natuurlik moet ons nou pasop om oorhaastig spesifieke rampe en ellendes en ongelukke te etiketteer as oordele oor spesifieke mense. Wat ons wel kan sê is dat God nie veraf en onbetrokke van Sy skepping af staan nie. Sy toorn oor die goddeloosheid van die mens het ‘n effek op aarde! God het die mag oor als wat gebeur op aarde. “Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het.” (9) 

Hierdie is nie nou die tyd en plek vir ‘n diepte bespreking van al die oordele in Openbaring 16 nie. Laat ons net kyk na twee opvallende sake : 

God is regverdig in sy oordele. Ons kry so tussen in die beskrywing van die plae ‘n lofrede op God se regverdigheid. "Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien." Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele." (16:5-7.) Die wêreld se perspektief is dat God onregverdig is. (Mens hoor dikwels as daar ‘n ramp of ongeluk gebeur dat mense God verwyt, maar dis dieselfde mense wat altyd nog leef asof God nie bestaan nie.) Een ding kan ons weet vanuit die hemelse perspektief, God is altyd goed en regverdig en sy oordele is ook altyd regverdig! God is ook regverdig as Hy ‘n pandemie op aarde loslaat! 

Die goddeloses is hardkoppig en weier bekering. “...En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie... En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (16:9,11) Dis die verstommende aspek dat God nog steeds geleentheid gee vir bekering, maar mense verwerp dit. Selfs tot aan die einde word God gelaster. (21) Net soos die Farao van destyds is hulle harte verhard! Dis wat ons in die praktyk sien – droogtes, vloede, rampe en pandemies lei nie noodwendig tot bekering nie! Die mens hou aan om God te ignoreer, te belaster en uit te tart met sy goddelose dade! (Dit wat God in Sy Woord gruwels noem word deur die wêreld aangeprys en aangemoedig!) 

Ons kan nie presies God se werkinge hier op aarde verstaan nie. Wat ons wel weet is dat God red én oordeel. Hy is nou reeds besig en Hy sal dit finaal doen as die goddeloses in die poel van vuur gewerp word en die regverdiges in die ewige koninkryk sal ingaan. Dis die boodskap van die hele Skrif* en dis wat Openbaar maar net in prentjies en simbole vir ons sê! 

Kom ons loof God juis ook in hierdie tye! Hy is ‘n regverdige God. Kom ons volhard in geloof en heiligmaking! God is ons Verlosser! 



*Byvoorbeeld dit wat ons in 2 Petrus 2:6-10 lees is ‘n goeie verduideliking van die betekenis van Openbaring 16.

  ” Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. 

En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. 

Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed. 

Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. 

Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.” 


Woensdag 08 April 2020

IS JY VEILIG?


- ‘n kort Paasoordenking. 


Is jy veilig? Ek bedoel nie veilig teen ‘n virus, siekte, diefstal of finansiële skade nie… Ek wil weet of jy veilig is teen die oordele, wraak en toorn van God? Miskien dink jy dis dalk ‘n onsensitiewe of onverantwoordelike vraag. Jy wonder : “Moet mens dan nou bang wees vir God? Is God dan ook ‘n God van wraak?” 

Kom ek probeer verduidelik… Laat jou gedagtes teruggaan na Egipte, Moses, die tien plae… God het Egipte gestraf met die plae juis om die vryheid van sy volk te bewerk. Om die magteloosheid van die Egiptiese gode aan te toon. Die tiende plaag sou die vreeslikste wees… God sou elke huis in Egipte met die dood tref, sonder uitsondering… Maar God voorsien ook uitkoms, ‘n reddingsplan vir sy volk. Elke huis moes ‘n jaaroud ramlammetjie slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. 

“Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (Eksodus 12:13) 

Die saak was baie duidelik en eenvoudig, die paaslam sterf in die plek van die eersgeborene. Die paaslam se lewe word geneem sodat iemand anders kan bly leef! God se wraak gaan verby as Hy die bloed van die lam sien. 

Veiligheid het afgehang van een saak – DIE BLOED VAN DIE LAM aan die deur. Veiligheid is verseker deur GEHOORSAAMHEID aan GOD SE REDDINGSPLAN! 

God se oordele gaan hierdie wereld tref! 

Trouens, dis reeds in ‘n sin besig om te gebeur aardbewings, rampe, oorloë, pandemies... Die feit van God se heilige wraak is ook ‘n waarheid van die Nuwe Testament – God is toornig op die sondige wêreld. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18) God is kwaad oor alle miskenning van sy eer, goddeloosheid, skending van die huwelik (egbreuk en saamblyery), bandeloosheid, onreg, bedrog... 

Die huidige ellendes, oorloë, peste en pandemies is maar net ‘n klein voorsmakie van die finale oordeel en ewige straf.


Maar God het weereens in sy liefde en genade ‘n plan aangekondig om ons van hierdie oordeel te vrywaar. Om ons te bewaar en ons te red. 

God se reddingsplan is weer bloed. Die bloed van die volmaakte PAASLAM , Jesus Christus. 

Dit was immers nie toevallig dat Jesus tydens die Joodse Pasga (wat die gebeure van lank tevore in Egipte herdenk het) gekruisig is nie. Terwyl duisende Paaslammers geslag word, vloei die bloed van die volmaakte Paaslam, ons Verlosser Jesus Christus. Net die bloed van Jesus beveilig ons teen God se oordele! 

Jesus ondergaan die doodstraf in my plek. 


Jesus sterf sodat ek vir ewig veilig kan wees! “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7) 

Hierdie boodskap moet persoonlik aanvaar en geglo word, anders gaan die oordeel van God jou tref! Blote lidmaatskap van een of ander kerk is nie goed genoeg nie. 

Het jy al persoonlik jou vertroue op die gekruisigde en opgestane Jesus geplaas of maak jy dalk jou eie planne om die oordeel van God te probeer ontvlug? 

Niks anders kan ons beveilig teen God se regverdige wraak nie... nie ons ordentlike lewe, Bybelkennis, goeie voornemens, vriendelikheid of godsdienstigheid nie... net die kosbare bloed van ons volmaakte Paaslam! Net Jesus red ons van die komende oordeel. So skryf Paulus aan God se kinders in Tessalonika :“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9,10) 

Die grootste gevaar op hierdie oomblik is nie ‘n siekte, geldnood of ander ellendes nie, maar God se regverdige oordeel! Maar die mensdom besef dit nie...

Ek vra weer : Is jy veilig? 

Is die bloed van die Lam al aan jou deur?

(En terloops, dit het niks te make met hierdie nuwe gier om huise en selfs klaskamers sogenaamd “uit te salf nie”. Dit klink my baie na bygeloof. Daar is geen opdrag binne die Nuwe Verbond om so iets te doen nie. Ons word verlos deur die bloed van Jesus deur Hom te aanvaar as ons Verlosser, deur in Hom alleen te glo. Vgl. Johannes 1:12) 

As jou antwoord , “JA” is kom ons vier ons verlossing met die Nagmaal waardeur ons weer opnuut verseker word van die algenoegsaamheid van Jesus se kruisdood as ons redmiddel. Weens sy volmaakte offer en NET dit kan ek weet ek is VEILIG!

Om te luister kliek op PAASOORDENKING



Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Woensdag 02 Desember 2015

GOD IS GOED!

- Regtig? Wat van...?


GOD IS GOED, altyd goed, net goed, absoluut goed! Kan jy dit met oortuiging sê, so aan die einde van ‘n jaar? Dit was mos ‘n moeilike jaar... tragiese sterftes, huweliks en gesinsverbrokkeling, droogte... en op internasionale vlak, dink aan Parys, Sirië, Nigerië, Mali om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Geweld, bloed, pyn, verlies...

Is dit eerlik en waar om te juig : GOD IS GOED! Weet jy, dis so belangrik om hiervan oortuig te wees. As ek skepties oor God se goedheid is, as ek twyfel oor God se goedheid en liefde, hoe gaan ek Hom vertrou en hoe gaan ek Hom dien en liefhê? (en liefde tot God is mos die belangrikste gebod van almal) 

GOD IS GOED - dis ’n wesenswaarheid. As ons nie glo in die goedheid van God nie, dan glo ons nie in die ware God nie, want die ware lewende God is goed en Hy is altyd goed en kan niks anders as goed wees nie!

PSALM 118

Psalm 118 kan ons weer help om God se goedheid te verstaan en daaroor opgewonde te raak. Hierdie psalm is ’n lofpsalm. Ons sou ook kon sê dis ‘n geloofsbelydenis oor die goedheid van God. (Heel moontlik was dit deel van ‘n sogenaamde poort of toegangsliturgie wat deur die pelgrims gesing is om toegang tot die tempel te verkry vgl. 118:19 “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.”) Die tema van hierdie psalm baie duidelik : God is goed en aan sy verbondstrou/liefdestrou is daar geen einde nie. Die psalm begin en eindig met hierdie stelling.

Vers 1 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Vers 29 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Uit hierdie psalm wil ek twee sake onder jou aandag bring wat die goedheid van God bo alle twyfel bevestig.

A. GOD IS ‘N REDDENDE EN HELPENDE GOD. 

Dis die getuienis van alle kinders van God deur alle eeue. God se goedheid kom na vore deurdat Hy sy kinders in liefde help en red. God se kinders kan getuig van gebedsverhoring, versorging, vertroosting, uitredding...en oorwinnende vreugde binne die slegste omstandighede. Drie dinge kom veral na vore uit die mond van die gelowige bidder :

1. Die Here is aan my kant. “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (5,6) Vergelyk dit met Romeine 8:31,32. “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” en Hebreërs 13:5-6* God is vir en by sy kinders, dis ‘n vaste feit waarvan elke kind van God seker kan wees in alle omstandighede!

2. God se kinders is veilig! (17) “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe om die verlossingsdade van die Here te verkondig.” Van uit die Nuwe Testameentiese perspektief gesien is die implikasie, God se kinders sal nooit verlore gaan nie. Fisies sal ons sterwe, maar ons gaan die ewige dood vryspring! Ja, selfs op die brandstapels deur die eeue was God se kindrs hiervan oortuig en die vlamme kon hierdie hoop nie verteer nie!

3. Tug en opvoeding is deel van die goedheid! Jy vra miskien: “Maar wat dan van die swaar tye, bittere beproewinge en hartseer wat dikwels op die pad van God se kinders kom?” Die Here kasty sy kinders. “Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.” (18!) Dis steeds deel van sy goedheid! Hoe onverstaanbaar ook al! (Vgl. Romeine 8:28!) Die Here tugtig diegene wat Hy liefhet. (Lees ook Hebreërs 12 :5,6,10)

Belangrike nota : Daar is 'n dieptedimensie aan hierdie psalm wat ons nie mag miskyk nie, en dit is dat die ervaring van God se goedheid by uitnemendheid in die lewe van Jesus as mens op aarde 'n werklikheid geword. Dit bring mens dan by die volgende punt... 

B. GOD SE GOEDHEID WORD OORTUIGEND SIGBAAR IN JESUS

As ons uit ‘n Nuwe Testamentiese perspektief na hierdie psalm kyk merk ons nog ‘n meer dramatiese bewys van God se goedheid op! “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” Vers 22! Verskeie Nuwe Testamentiese skrywers haal hierdie gedeelte aan om die lewe en werk van Jesus te beskryf. (Byv. Handelinge 4:10-11).** Die absolute bewys van God se goedheid en getroue verbondsliefde word sigbaar in Jesus! Jesus self is die hoogtepunt van God se goedheid. 

God is goed, want kyk - Jesus het Homself verneder en ‘n mens geword in die stal van Betlehem. 

God is goed, want kyk - hoe het Jesus geleef hier op aarde. Hy het tyd, liefde en genade gegee vir uitgeworpenes, kindertjies, siekes, sondaars. 

God is goed, want kyk – daar was ‘n kruis! 

As u twyfel oor die goedheid van God kyk veral na Jesus stukkend gebreek aan ‘n kruishout! Hy is deur almal verwerp, sy eie familie, sy eie volk, en selfs sy eie dissipels ....maar God het Hom uitgekies as die hoeksteen, die belangrikste klip, die enigste Middelaar (!) tussen God en mens. 

Die goedheid en die liefde van God is vir eens en altyd bewys aan die kruis...Kyk na Hom daar waar Hy hang ter wille van my en jou! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Hy besmeer met ons sondes aan kruis in pyn na sy asem hyg! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus die straf in my plek kry. 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus uitroep : Dis volbring!

Waar sien ons God se goedheid? - by die leë graf waar Psalm 118:18 letterlik waar geword het en Jesus triomfeer oor die dood!

Geliefde, ’n mens smaak en besef die goedheid van God eers werklik as mens die betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding begin verstaan en dit persoonlik vir jouself toe eien.

SAAK VAN GELOOF!

Natuurlik, na dit alles twyfel ons nog soms oor God se goedheid. Worstel jy nog oor die feit van God se goedheid, wonder jy of God altyd regverdig is? Dis menslik, ons sien nog nie die volle prentjie nie, ons verstaan nie al God se besluite en werke nie, maar ek kan u verseker ......al God se kinders wat reeds in die hemel is, is volkome oortuig dat God net God is en altyd goed is. As ons daar kom sal ons beslis saamstem! Nou terwyl ons nie volmaak is nie, lyk God se optrede partykeer nie vir ons goed nie; daarom is die belydenis van God se goedheid nou ’n geloofsaak. 

Ons glo in sy goedheid, want die feit van die kruis bevestig dit. 

Ons glo in sy goedheid, want die Woord sê so. Eendag sal ons God se goedheid volledig sien en besef. 

Die waarheid van God se goedheid sal die toets van die ewigheid deurstaan - dan sal ons volmaak geheiligde hart en verstand saamstem en ons stemme uitjubel: God is goed! God is volmaak goed! God is net goed! God was en is altyd goed! 

ONS REAKSIE?

Ons het nou gehoor : God is goed! Maar wat daarvan? Wat moet ons reaksie wees?

Ons moet God loof en prys! “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.” (27,28) In alle omstandighede moet Hy geprys word! Malligheid? Nee, dis nugterheid. U sien Christene is realistiese mense - ons kyk na die ware feite. Ons prys nie ons hartseer omstandighede opsigself nie, nee ons huil daaroor (ween saam met die wat ween) Maar daar is ook op hierdie oomblik ’n ander feit wat ’n groter feit is as ons hartseer en teleurstellings : God is goed! Dis die rede vir ons lof! (Dink aan Paulus en Silas in die tronk!) 

Hoe snaaks dit ook al mag klink - ’n tyd van droefheid is juis ’n tyd om gelowig te bely en te juig : God is goed! 

Bekering. Daar is nog ‘n belangrike perspektief op God se goedheid. Romeine 2:4 meld ook ’n ander reaksie wat God se goedheid by ons moet oproep. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” God se goedheid roep ons tot bekering. Geliefde, God was en is goed vir jou. Sy goedheid skyn oor jou, miskien al vir 60,70, meer as 80 jaar! Wat het jy daarmee gemaak? Het dit jou al tot bekering gelei? Met ander woorde, het God se goedheid jou daartoe gebring om Jesus persoonlik te omhels?

Die goedheid van God is ’n vaste heerlike realiteit, nou op hierdie oomblik. 

Geliefdes, ons moenie die goedheid van God ligtelik opvat nie! Dit plaas ’n verantwoordelikheid op ons elkeen. Ons moet God loof. Ons moet ons bekeer tot Jesus as enigste Here en Verlosser. 

NASKRIF : Wat van God se wraak en oordele? Is Hy nog steeds goed as Hy die aarde met rampe en ellende tref? Want inderdaad giet God nou reeds oordele uit oor hierdie wêreld as voorskou van sy finale oordeel. Lees gerus Openbaring 16.

Let op die uitsprake van die engel : “Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien."
Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele."

GOD IS ALTYD GOED, OOK AS HY OORDEEL EN WRAAK UITOEFEN!

*Hebreërs 13:5-6 “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?"

** Handelinge 4:10-11 “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.
Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

[Hiermee groet ek eers DV vir 2015. Vreugdevolle feestyd vir jou waartydens jy opnuut bewus mag word van God se goedheid in Jesus!]