BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 19 Desember 2014

KERSFEES SAAM MET SAGGEUS

- nie bo in jou vyeboom nie, maar met ‘n nuwe hart.



Hoe moet ’n mens Kersfees vier? Mag ons dit hoegenaamd vier? (Ons weet mos van al die probleme rondom hierdie dag…. Kliek op KERSKOUS) Wel, ons het ’n pragtige voorbeeld van iemand wat “Kersfees” gevier het. Saggeus het "Kersfees" gevier op die regte manier. Ek bedoel hy het die werklike betekenis van die koms van Jesus verstaan en prakties beleef en dis tog juis waaroor Kersfees veronderstel is om te gaan. Anders gestel, Saggeus het die volle impak van die Kersboodskap ondervind!

In Saggeus se lewe het die boodskap van die engele sigbaar in vervulling gegaan. (Ons lees van Saggeus in Lukas 19:1-10) Die Goeie Nuus soos aangekondig deur die engele in Lukas 2, die Kersfees evangelie het grondgevat en ’n verskil gemaak in hierdie skelm man se lewe. Hy het dus werklik Kersfees gevier. 

Drie belangrike elemente van die engelboodskap aan die herders tydens Jesus se geboorte het proefondervindelik deel van sy lewe geword! Koms ons verfris weer ons geheue: “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10,11) 

Die volgende elemente word treffend waar deur Saggeus ervaar:

~“groot blydskap” - Ons lees van Saggeus se reaksie nadat Jesus hom geroep het – “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” (Lukas19:6) Saggeus die sondaar, het Jesus met blydskap ontvang. ’n Ware ontmoeting met Jesus bring blydskap. Hoekom? Jesus skenk vergifnis en vryspraak wat die vrede tussen God en die sondaar herstel. Kan daar iets meer vreugdevols wees? (vergelyk Romeine 5:1-5) 

~ “hele volk,” Ja, die boodskap van Jesus se koms was bedoel vir die hele volk. Ook die heel slegtes soos Saggeus! Sy gierigheid en korrupsie was ‘n openlike geheim. “En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.” (Lukas 19:7) Saggeus was ’n sondige man in die volle sin van die woord. Dis nou juis so merkwaardig en baie insiggewend - Jesus gaan tuis nie by een van die godsdienstige leiers nie, maar by die slegste man in die dorp! (Stel jou voor in vandag se tyd...Jesus besoek jou dorp of stad en slaan al die belangrikes en vernames oor en verkies om te gaan oorbly by die persoon met die slegste naam en reputasie vir korrupsie...) Die evangelie is genoegsaam en kragtig genoeg vir die heel slegste mens op aarde. Dis bedoel vir die hele volk. Niemand sal dus die Ewige Lewe misloop a.g.v. te groot of te veel sonde nie! Nee, mense gaan die hemel mis omdat hulle nie na Jesus wou kom nie. (Nie uit hulle “boom” wil klim nie)

~ “Verlosser” Die ontmoeting met Saggeus illustreer baie duidelik dat Jesus ’n Verlosser en Bevryder van sondaars is. Jesus het een groot doel – om verlore sondaars te red van sonde, Satan en hel!

(so dit wat deur Lukas in die begin van die evangelie beskryf word nou hier ’n praktiese werklikheid)

JESUS, DIE VERLOSSER!

Jesus self maak die verskil in Saggeus se lewe! Jesus self gryp in. Saggeus kan “Kersfees” vier, want hy het Jesus ontmoet. Ek het dit net weer baie sterk besef - Christenskap is nie vashou aan ’n sisteem nie, nie nakoming van rituele nie, maar ’n lewende en blywende ontmoeting met ’n Persoon, Jesus Christus!

Hoe het dit gebeur dat Saggeus Jesus ontmoet het en ’n ware Kersfees beleef het?

~ Jesus neem die inisiatief en roep hom. Saggeus sit anoniem in ’n boom, bekyk alles vanaf ’n afstand, maar Jesus gaan staan en roep hom by die naam. Hy roep vandag nog mense deur die verkondiging van die evangelie. Dis eintlik die hooffokus en tema van die hierdie verhaal. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (10!) Jesus self is die een wat soek en red. Hy soek verlorenes. Jesus self maak die verskil - ons redding lê nie in ’n klomp dinge wat ons weet of doen nie, maar in ’n Persoon!

~ Saggeus neem ’n definitiewe besluit en ontvang vir Jesus. (6) Ons kan nie wegkom van hierdie waarheid nie - die evangelie eis ’n besliste keuse. Ons moet Jesus bewustelik aanneem. (Johannes 1:12) Het jy al met jou hart en mond die keuse gemaak? Dis innerlik en uiterlik. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9,10)

~ Saggeus se ontmoeting bring hom tot ’n nuwe insig oor sonde en ’n nuwe lewensuitkyk. “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (8) Die najaging van goed was sy groot passie en hy was bereid om op ander mense te trap om dit te bereik. Nou het hy ’n hele nuwe houding teenoor geld. Hy gaan ‘n klomp weg gee.  As mens Jesus ontdek kry jy ook ’n ander siening oor sonde. Jy is bereid om reg te maak waar jy verkeerd gedoen het. Het jy al Jesus ontmoet? Toets jouself - jy sal nie meer in gemak met sonde kan voortleef nie!

~ Saggeus hoor die versekering dat hy nou ook gered is. “Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.” (9) Hy is nou eers werklik ’n kind van Abram – hy was fisies uit Abram se nageslag - hy was in die verbond, maar nou eers word sy redding ’n persoonlike werklikheid...

Weereens - Hoe moet mens Kersfees vier? (Die detail sal verskil van kultuur en gewoontes en omstandighede.) Dis eintlik nie so ‘n belangrike vraag nie, belangriker is WIE kan? As jy Jesus se roepstem gehoor het, as jy daarop “Ja” gesê het, as Hy jou verander en gered het, dan verstaan jy waaroor Kersfees gaan. Dan gee die feit dat Jesus gekom het om verlorenes te soek en te red vir jou rede om elke dag fees te vier. Kersfees, as fees vir ‘n Lewende Verlosser is eintlik ‘n lewenslange fees van dankbaarheid en blydskap vir sondaars wat vergifnis ontvang het soos Saggeus. (of 25 Desember vir jou spesiaal is al dan nie)


Jesus se koms het hoop gebring vir die mees hopelose sondewrak...

[Hiermee roep ek wat Woord-Skatte betref nou eers halt vir 2014. Mag die Here jou in hierdie feestyd verkwik... As dit Sy wil is praat ons weer volgende jaar.]

Dinsdag, 16 Desember 2014

GELOFTE, BLOEDRIVIER EN VALSE SEKURITEIT

 - vormgodsdiens gee ‘n valse indruk dat God altyd aan ons kant is.

Daar is geen twyfel dat God op 16 Desember 1838 die ernstige smeekgebede van ‘n groepie Voortrekkers verhoor het nie… Wonderbaarlik gryp Hy in en gee uitkoms! En let wel, God het hulle gebede verhoor nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was…* (Kliek op BLOEDRIVIER)

God het ons voorouers uitgered, maar beteken dit dat Hy nou outomaties altyd aan ons kant gaan wees? Dit lyk asof sommige so redeneer…

Dis presies die tragiese fout wat die volk Israel in die tyd van die profeet Jeremia begaan het. Hulle was baie godsdienstig en vol vertroue dat dinge sal goed gaan. Die fokus van hulle godsdiens was die tempel en al die offers wat daar gebring is. Daar in Jerusalem het die groot imposante tempel gestaan, ‘n indrukwekkende gebou en dit het mense veilig laat voel. Hulle was heeltemal gerus. Hulle het geredeneer die Here is mos in sy tempel en daarom sal Hy die land beskerm. Hy sal mos nie toelaat dat sy tempel en sy stad Jerusalem iets oorkom nie. “God is mos aan ons kant, sy tempel staan dan hier!” Al die waarskuwings van Jeremia dat God sy volk gaan straf het dus op dowe ore geval. Sy oproepe tot bekering was tevergeefs!

Maar nou skielik kom die Here deur sy profeet en ruk die matjie onder hulle voete uit.  Ondubbelsinnig waarsku die profeet die geruste inwoners van Jerusalem : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jeremia 7:4) Met ander woorde, hulle vertrou tevergeefs op hulle godsdienstigheid, die onheil van God gaan hulle tref!

VORMGODSDIENS

Nou wat was fout met Israel se godsdiens? Waarom het hulle godsdiens valse hoop en sekuriteit gebied? Dit was :

~ ’n Godsdiens ter wille van hulleself.  Hulle het godsdiens beoefen om veilig te kan voel. In vandag se taal... hulle godsdiens was ‘n polis teen droogte, misdaad, siekte en die hel. In droogte tye bid ons, as daar siekte is bid ons, as daar eksamen is bid ons, as iemand sterwe - dan moet daar skielik gelees en gebid word, selfs al het die oorledene nooit die binnekant van ‘n kerk geken nie. Hierdie tipe godsdiens is suiwer mensgerig, dit gaan slegs oor die mens se belange en gerief.

~ ’n Vormgodsdiens. Godsdiens met die regte woorde en terminologie, maar nie die regte inhoud en fokus nie. Hulle het nog uiterlik die regte tradisies gevolg, hulle het by die poorte ingegaan om die Here te dien. Hulle het wel nog offers gebring, nog gebid. Die regte vorm en korrekte geluide! Maar dit was nie meer ’n godsdiens van toewyding aan God nie, nie meer ’n godsdiens van dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade nie! Dit was nie ’n hartsgodsdiens nie. Hulle lippe was  nog betrokke, maar die harte was  ver van God. Ook Jesaja waarsku teen hierdie uiterlike godsdiens: “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jesaja 29:13)

~ ’n Godsdiens wat gerieflik was en almal gepaai  en gevlei het. ’n Goedvoel rugkrapper godsdiens. “...almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie.” (Jeremia 8:10,11) Die leiers het maar net gerusstellende  en mooi dingetjies gesê. Dit was ’n godsdiens wat niemand ontstel het nie, wat niemand laat nadink het nie, wat niemand tot bekering opgeroep het en niemand uitgedaag het  nie. Ook die Nuwe Testament waarsku teen hierdie tendens. “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”  (2 Timoteus 4:3) Kerk en godsdiens is oraait solank ons net kan hoor wat ons graag wil hoor. ’n Godsdiens sonder uitdagings, sonder selfverloëning - ’n gemaklike rusbankgodsdiens met mooi woordjies

~ ’n Godsdiens sonder heiligheid en sonder lewensverandering. Hierdie godsdiens het geen verskil aan hulle praktiese lewensstyl gemaak nie. Hulle het rustig voortgegaan met sonde... Jeremia noem die dinge by die naam :  “Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.  Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: "Ons is veilig" nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!” (Jeremia 7:8-10) Dit was ’n teoretiese godsdiens maar sonder die krag om lewens te verander. Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie godsdiens gewaarsku. Sien 2 Timoteus 3:1-5.  Ja, Jesus self waarsku ook teen hierdie soort godsdiens in  Matteus 7:21 (Kliek op SKOKWOORDE)

 Israel het  godsdiens sonder God beoefen.

Israel was besig met godsdiens, ja, maar nie met God nie. Dit was ’n mens gemaakte en mens gefokusde godsdiens slegs ingestel op hulle eie gerief en veiligheid. Daar was gebede, maar gebede wat nie meer by God uitgekom het nie. Daar was baie aktiwiteite, maar dit was aktiwiteite wat geen indruk op God gemaak het nie. Godsdiens sonder God. Sonder ’n liefde vir God, sonder gehoorsaamheid aan God, sonder die teenwoordigheid van God, sonder ‘n hart vir God! Wat ’n verskriklike ding. Nou sê God : Hierdie godsdiens gaan julle in die steek laat, die oordele gaan julle tref!  Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.”  (Jeremia 8:10)

Inderdaad het dit gebeur. Die tempel is verwoes en die volk is weggevoer. Laat ons raaksien : Uiterlike vormgodsdiens bied geen skuiling teen God se oordele nie. God se groot dade van verlossing in die verlede, waarborg nie dat Hy altyd aan ons kant is nie. Mense wat tevrede is met ’n uiterlik  aangeplakte Christenskap sal eendag hoor : “Ek het julle nooit geken nie.” Wat nodig is, is ware geloof in Jesus en bekering!


Ware godsdiens en ware aanbidding begin by ’n hartsverandering,  ‘n aanvaarding van God se genade in Jesus, by vergifnis wat net Jesus vir jou kan gee. Dis wat alle mense in hierdie land, ook die Afrikanervolk... Ja, vier die Gelofte, maar maak seker dat ons die God van die Gelofte nog as God en Verlosser eer en gehoorsaam!


SONDER NUWE HARTE MAAK DIE VIERING VAN GELOFTEDAG GEEN SIN NIE!


                [Voorstelling van die slag van Bloedrivier]

*Natuurlik kan dit nie ongekwalifiseerd van enige groep mense gesê word nie. Orals is meelopers en afvalliges, maar dat daar baie ware gelowiges onder ons voorouers was, ly geen twyfel nie.

Maandag, 15 Desember 2014

BLOEDRIVIER

- se geestelike dimensie. 

‘n Christen kan nooit bloot uit ‘n sekulêre oogpunt na die geskiedenis kyk nie. Allermins nog na ‘n gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier as mens die plegtige Gelofte in ag neem wat die Voortrekkers in diepe nood tot God gemaak het. (Kliek op AGTERGROND VAN DIE GELOFTE) Die geestelike betekenis van Bloedrivier is nie sommer ‘n stuk verdigsel of wensdenkery nie. Dit kom duidelik na vore uit ’n verhaal van R.B Hully, die tolk van die sendeling Owen wat hom in 1837 in Zoeloeland gevestig het. Dit handel oor die eerste diens wat Owen vir Dingaan en sy mense gehou het. 

Nadat Owen omtrent ’n halfuur gepraat het, het die koning hom stilgemaak en gesê “Ek het ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek jou kan verstaan. Sê jy dat daar ’n God is en net een God? Die sendeling antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hemel vir goeie mense is en net een hemel? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n duiwel is? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hel is vir slegte mense? Antwoord : Ja. Toe sê die koning : ‘As dit jou geloof is, dan is jy vir my en my mense van geen nut nie. Ons het al daardie dinge geweet voordat jy vir ons kom preek het. Ek en my mense glo dat daar alleen een god is - ‘Ek is daardie god’ Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle goeie mense gaan - dit is Zoeloeland. Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle slegte mense gaan. Daar! Terwyl hy na ’n rotsagtige heuwel in die verte wys. ‘Daar is die hel waar al my slegte mense heen gaan. Die kaptein wat daar bly is Matiwane, die hoof van die Amagwane. Ek het hom doodgemaak en hom die hoofduiwel gemaak van al die slegte mense wat doodgaan. Jy sien daar is net twee kapteins in hierdie land, Matiwane en ekself. Ek is die groot kaptein, die god van die lewendes, Matiwane is die groot kaptein van die slegte mense. Ek het jou nou my geloof vertel. Ek wil hê jy moet my nie weer pla met die stories van julle Engelse mense nie. Jy kan in my land bly solank jy jouself behoorlik gedra. 

Dit was blykbaar die eerste en laaste geleentheid wat Owen toegelaat is om die evangelie aan die Zoeloes te bring. Dingaan se despotiese mag was dus ’n duidelike struikelblok in die weg van die evangelie. Kan jy sien, by Bloedrivier was daar meer op die spel as net die politiek van die dag?

Met dit alles as agtergrond kan mens twee aspekte van die geestelike dimensie van die oorwinning by Bloedrivier uitlig*:

~ Bloedrivier open die weg vir die evangelie in Zoeloeland. Vyf dae na die moord op Retief skryf die sendeling Owen in sy dagboek : “Die regverdige Regter ... sal nie toelaat dat hy (Dingaan) in vrede rus nie ... Dit wil voorkom asof hy self nie verstaan nie, maar as hy die karakter van sy teenstanders, die Voortrekkers, ken soos wat omstandighede onlangs uitgewys het in hulle oorloë met Silkaats, dan sal hy weet hoe verskriklik dit is om hul grimmigheid uit te lok en watter vasberade en magtige vyande hy gemaak het deur hierdie daad van aggressie wat onbesonne en onwys, verraderlik en wreed was.
Maar al hierdie dinge sal ten goede werk, ook vir die verspreiding van die Evangelie. Ons het gebid dat ‘n weg geopen mag word vir die bekendstelling van die Evangelie onder die Zoeloevolk. En nou, op ‘n manier wat ons nie verwag het nie, is God besig om sy eie planne uit te werk. Die hoogmoed en brutaliteit van die Zoeloekapteins, is die hoofstruikelblokke vir die verkondiging van die waarheid. Wanneer die hoogmoed verflou het, sal die weg vir die Evangelie makliker wees. God is nou besig om die trots van die volk in die algemeen en die kapteins in besonder, te verneder. Hy het toegelaat dat hulle deur hulle eie hoogmoed, verwaandheid en boosheid in sulke afskuwelike gruwelikhede verval, wat hoog waarskynlik hulle eie ondergang en dié van hul volk sal meebring, waarvan hulle nooit sal herstel nie en wat die weg sal voorberei vir die sendelinge van die wêreld.” Owen het dus al iets van die geestelike dimensie raakgesien.

~ Bloedrivier is ‘n bewys dat God ’n geestelike doel het met die Afrikaner se voortbestaan in Afrika. Ons glo dat God ’n wonder bewerk het en die oorwinning gegee het... Natuurlik het Hy middele en omstandighede gebruik....die mis wat opgeklaar het, die feit dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie... In elk geval sê die Skrif duidelik : “Perde kan afgerig word vir die oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee” (Spreuke 21:31).... God is in beheer van die geskiedenis (“His story”), God bepaal die lotgevalle nie net van enkelinge nie, maar ook volke en nasies. Nou as ons sê dat God die oorwinning gegee het, het Hy dit met ’n doel gegee, en die doel is die uitbreiding van sy Koninkryk. En daarom is Geloftefees nie ’n poltieke fees nie, nie ‘n fees om mense te vereer nie, maar ’n Godgesentreerde fees. (Terloops God se doel was nie politieke mag nie... Na slegs  ’n paar jaar het die Trekkers in Natal  hulle onafhanklikheid verloor.) Geloftedag gaan nie oor nasionalisme nie, maar herinner ons aan die Goddelike roeping, spesifiek aan die sendingroeping wat God aan Christen Afrikaners gegee het in Afrika. 

Christen Afrikaners was nog altyd bewus van hierdie sendingroeping wat God aan ons volk in Afrika gegee het. Ware Christen Afrikaners sal altyd sendingmense wees!

Een van die jong seuns wat die Groot Trek meegemaak het was Paul Kruger. Het jy geweet hy was ’n uitgesproke sendingondersteuner? (Kliek op PAUL KRUGER)


FEES VIR ALLE CHRISTENE

Wanneer die geestelike dimensie en betekenis van Geloftedag en Bloedrivier besef word, styg hierdie gebeure uit bokant die konteks van blote etniese konflik, vergelding en volksbelang. God het immers die noodroep van die Voortrekkers verhoor, nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle (ten minste 'n beduidende deel van hulle) Christene was wat hulle vertroue op Hom gestel het en nie slegs op wapens vertrou het nie! God se uitverkorenes is nie een of ander etniese groep nie, maar almal wat aan Jesus Christus behoort. Daarom kan die gebedsverhoring by Bloedrivier en die positiewe Koninkryksgevolge wat daaruit voortgevloei het, deur ALLE Christene, hetsy Afrikaners, Zoeloes of wie ook al gevier word deur danksegging aan God op hierdie wonderlike dag van 16 Desember. Die misbruik van hierdie kosbare dag deur sommige, verhoed nie God se kinders om Hom op die regte manier te eer en te dank nie! 

*Vir hierdie artikel in geheel is ek in groot mate dank verskuldig aan Prof. Billy Heiberg vir 'n Geloftefees toespraak wat hy gelewer het.


                                                                Dingaan

Sondag, 14 Desember 2014

DIE GELOFTE VAN 16 DESEMBER

- verstaan die agtergrond en aanloop.*



Vir baie moderne Afrikaners maak die Gelofte voor die slag van Bloedrivier nie meer sin nie. Vir sommige het dit ietwat van ‘n oorlas en stuk bagasie uit die verre verlede geword. Vir ander selfs ‘n verleentheid. Heel moontlik is die oorsaak dalk skryende onkunde oor die geskiedenis... Dis daarom dalk nuttig om net weer eerlik na die verwikkelinge wat as aanloop tot die Gelofte en Bloedrivier gedien het, te kyk. Stel jouself bietjie in die skoene van ons voorvaders... Die Voortekkers in Natal was op ’n laagtepunt van hulle bestaan, op die randjie van mislukking en totale uitwissing. Dit het voorwaar gelyk asof alles wat verkeerd kon loop inderdaad verkeerd gegaan het. Die jaar 1838 was ‘n jaar van ontstellende benoudheid en ellende:



~ Op 6 Februarie 1838 word Retief en sy ongewapende manne koelbloedig en wreed vermoor nadat hulle eerlik en opreg oor grond onderhandel het en ‘n ooreenkoms met Dingaan gesluit is. (Ongeveer 70 mans waaronder ’n paar seuns verloor hulle lewens op uiters wredaardige manier.) Francis Owen ’n sendeling onder die Zoeloes was nog die oggend besig om uit sy Bybel te lees toe daar ’n boodskapper van Dingaan kom met die skokkende nuus dat Dingaan besluit het om Retief hulle te laat vermoor. Voordat Owen nog kon besluit wat om aan die saak te probeer doen, wys die boodskapper na die heuwel buite Umgungundlovo waar die Zoeloes reeds besig was om die moorde te pleeg. Die Voortekkers verloor dus hulle groot leier op barbaarse wyse.

~ Dan volg die nag van verskrikking, 17 Februarie toe die Zoeloehordes op die niksvermoedende slapende laers van die Voortrekkers toesak en almal voor die voet probeer uitwis. Niks en niemand word ontsien nie. Onbeskryflike treurspele en kloekmoedige heldedade... Selfs suigelinge is in die arms van hulle moeders deurboor. Volgens J.N Boshoff se skatting het nie minder nie as 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en oor die 200 bediendes gesterf. Uiters grusaam gesterf! Die Voortrekker leraar Erasmus Smit skryf : “Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God, Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is U oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes en die angs en die skrik van die ander het ten hemel opgestyg”

~ Nou volg daar die verdere tragedie van Italeni op 10 April. Die Voortrekkers se strafekspedisie teen Dingaan misluk, toe hulle sterk kommando die onderspit delf teen Dingaan se impi’s en nog ’n leier, Piet Uys sterf. Dinge wou maar net nie reg loop nie. (Terloops,  hier het ons ‘n bewys, gewere wen nie sommer vanselfsprekend teen assegaaie nie!)

~ Kort hierna was daar ’n verdere terugslag vir die Nataltrekkers toe Hendrik Potgieter Natal verlaat en sowat die helfte van die trekkers hom gevolg het. Dink aan die moedeloosheid van die groepie agtergeblewenes!

~ Verdere ellende is veroorsaak deurdat die oorlewendes in beknopte laers saamgetrek is uit vrees vir nog Zoeloe aanvalle. (wat inderdaad plaasgevind het) As gevolg van aanhoudende reën het siektes uitgebreek en tientalle kinders het aan masels en koors gesterf. Daar was ook ’n vreeslike haelstorm wat hulle watente en seile aan repe geslaan het. Dit moes seker vir sommige gelyk het asof die land vervloek was. 

~ Nog was dit het einde niet! Op 23 September het ’n nuwe laagtepunt aangebreek toe die laaste erkende groot leier Gerrit Maritz op die jong ouderdom van 41 jaar gesterf het na ’n kort siekbed. Die laaste van die bekende leiers was daarmee heen.

Die trekkers kon nie nog 'n nederlaag of ramp bekostig nie!

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom die oorwinning by Bloedrivier so deurslaggewend was. ’n Mens kan jou die vrae en vertwyfelinge in menige hart voorstel – “Wie sê dinge sou nou regloop nadat dit gelyk het asof alles teen ons was - miskien was God self teen ons?” Aan die anderkant, dis nogal verstaanbaar dat gelowige mense wat fyngemaal is deur soveel beproewinge in hulle nood hulle vertroue op God gestel het en selfs so ver gegaan het om ‘n plegtige gelofte aan Hom af te lê. Die oorlewing en voortbestaan van hierdie groepie dapper pioniers was op ’n mespunt gebalanseer. Laat diegene wat die aflê van die Gelofte aan God kritiseer, belaglik wil maak of maar sommer net wil vergeet, liewers weer mooi dink... 

God het inderdaad in hierdie uiterste toestande ’n wonderwerk bewerkstellig nadat die Voortrekkers hulle vertroue in Hom verwoord het deur die Gelofte onder leiding van Sarel Celliers. Dit gaan oor die Goddelike verhoring van gebed, en daarom kan ons weet dit gaan hier oor meer as net 'n stukkie Afrikanersgeskiedenis, ja dis wel gesiedenis, maar met 'n besondere geestelike dimensie. (Kliek op BETEKENIS VAN BLOEDRIVIERAan God alleen die eer en dank!






Sarel Celiers gedenkteken op Kroonstad.






*Die Gelofte word gekoppel aan 16 Desember, maar dit was natuurlik die datum van die slag van Bloedrivier. Die Gelofte self is op Sondag 9 Desember by die Wasbankspruit afgelê. (GDJ Duvenage, DIE GROOT TREK, DEEL 3, p144-149)

Vrydag, 12 Desember 2014

FEESTYD!

- vol vreugde en vergenoegdheid!


Hierdie tyd van die jaar is veronderstel om vreugdevol te wees. Ons vier mos immers die geweldige gebeurtenis van die vleeswording van God se Seun.* Vir baie mense is dit egter ‘n hartseer tyd, want dit onderstreep juis een of ander nood, gebrek of gemis. Ander het dalk geld om presente en lekker kos te koop en jy moet droë bek by die huis sit in groot verknorsing oor jou geldsake. Ander is omring deur vriende en familie en jy worstel met jou verwurgende eensaamheid eenkant ver! Ander lag in vrolikheid, jy huil van pyn in die feestyd of treur oor ‘n geliefde wat nie meer daar is nie! Jy plak maar ‘n gedwonge glimlag aan...

Moet ek nou maar bitter en sonder vreugde en vervulling bly? Is daar dan nie tog ‘n manier om jou blydskap te behou nie? Om eg tevrede en vreugdevol te wees ten spyte van een of ander stuk swaarkry nie?

Wees verseker, jy hoef nie ‘n vreugdelose feestyd te hê nie! 

Die brief aan die Filippense gee baie praktiese raad oor blydskap (lees hoofstuk 4) en dis eintlik ironies, want Paulus skryf dit vanuit die tronk. (nie juis 'n vreugdevolle habitat nie) Hy het reeds oor die opdrag tot blydskap geskryf en die belangrike raad in 4:6 gegee. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Gebed en smeking met danksegging is die pad na blydskap!

VERGENOEGDHEID

Nou kom hy by ‘n verdere aspek en dis vergenoegdheid, tevredenheid. (dit gaan saam met blydskap) Vergenoegdheid is ‘n kosbare juweel wat ‘n Christen dra. Wat uniek is aan die Christen se vergenoegdheid is dat dit ‘n vergenoegdheid behels wat in alle omstandighede teenwoordig is. Hoor bietjie - “...ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (11,12 OAV) Vir Paulus was hierdie saak van vergenoegdheid nie ‘n stukke studeerkamerteorie nie, maar praktiese ondervinding. Hoe het hy dit reggekry? Die dikwels aangehaalde vers 13 gee die antwoord. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Let mooi op, hierdie krag wat Jesus gee is nie ‘n superkrag om dinge te doen wat my pas nie. Dis nie ‘n towerstaffie wat probleme laat wegsmelt nie. Dis nie ‘n reseppie vir gerief, geld en grootheid nie! Dis nie die sleutel tot menslike ambisie en sukses nie! Dis nie die fondasie van die Prosperity Gospel nie – allermins! In die Nuwe Testament is krag nie selfsugtige middel om vir my dinge maklik te maak volgens my smaak nie! “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.” (Kol 1:11) Dis ‘n krag wat my in staat stel om alle omstandighede te verdra met blydskap en tevredenheid! 

Christus gee my krag om alles te hanteer en te verduur... meer nog, om in alle omstandighede tevrede en vol vreugde te wees!

In wie werk hierdie krag van Jesus Christus en hoe werk dit? Ons kry reeds in die eerste hoofstuk ‘n praktiese voorbeeld van hoe hierdie krag van Jesus vir Paulus in staat gestel het om vreugde en vergenoegdheid in ‘n Romeinse gevangenis te beleef! Paulus se geheim kry ons in 1:21. “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Sy lewe fokus en draai om Jesus Christus. Jesus self het sy ambisie en doelwit geword. Christus en om Hom beter te leer ken het sedert sy bekering sy hoof ideaal geword. Vat 'n tydjie om hieroor te dink... “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,” (3:10) Jesus self het sy vreugde geword. Omdat Jesus altyd dieselfde bly in alle omstandighede, stel dit hom in alle omstandighede in staat om vergenoeg te wees. Paulus se lewensgeluk, vreugde en ideale was nie afhanklik van eksterne faktore nie! Hy sê dat selfs al moes hy sterf, dit vir hom wins sal wees , want dan is hy mos by Jesus en dis verreweg die beste. Jy sien as die kosbare Jesus Christus die bron van jou blydskap en inspirasie geword het, dan kan dit nie deur omstandighede verander word nie. As jy oorvloed het, wel dan geniet jy die oorvloed wat die Here jou gee (sonder om skuldig te voel) Maar as jy deur ‘n tyd van gebrek gaan, kan jy nog steeds gelukkig wees. (sonder om verontreg te voel) Want in alle omstandighede bly Jesus jou fokus en heerlikheid!

Hierdie gefokusde afhanklikheid op Jesus, is ook Paulus se wens vir sy weldoeners in die gemeente van Filippi. " En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (19) Deur Jesus Christus ontvang ons alles wat God volgens sy wil weet dat ons nodig het. Hierdie oorvloedige rykdom is ‘n rykdom van genade! (vgl. Ef 1:6)

Natuurlik maak hierdie krag van Christus nie dat mens ‘n gevoellose masjien word wat maar alles net met ‘n ystergestel verduur nie. Nee, Paulus het mens gebly en hy het hulp van ander mense ontvang wat hom weer opgebeur en bly gemaak het. Hy het in die tronk ‘n gawe/geskenk van die gemeente in Filippi ontvang en een van die redes vir die skryf van die brief was juis om dankie te sê. Die geskenk was vir hom ‘n bewys dat hulle hom nie hier in die tronk vergeet het nie. “Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” (10) Jesus gebruik inderdaad ander dele van sy liggaam om ons by te staan, te versorg en te bemoedig. (Ja, daardie SMS, Kersmaaltyd, klein geskenkie, glimlag...is kosbare middele in God se hand...) Ons as kinders van God het dus wel ‘n verpligting om die wat minder het, siek is, eensaam is op praktiese maniere te ondersteun, ook in hierdie feestyd... Is jy oop vir die taak wat die Here vir jou het in ander se lewens, juis nou? Jesus gebruik inderdaad mense soos ek en sy om vreugde in ander se lewens te bring, maar die Bron bly Hyself. Ons gawes aan ander, kan juis help dat hulle dit sal besef en die Here meer sal vertrou en dank! En daar is 'n bonus - deur te gee word jyself ryker, ryker in jou belewenis en verstaan van God se genade! Dis waaraan Paulus die Filippense herinner as hy hulle bedank vir hulle geskenk : "Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker." (17)

Paulus sê in wese, “baie dankie vir julle geskenk – dit beteken vir my ontsettend baie, maar ek wil net hê julle moet weet my blydskap is nie afhanklik van uiterlike voorspoed nie, maar van Jesus wat my krag gee om in alle omstandighede vergenoeg en vreugdevol te wees.” Hierdie mense se gawe het Paulus se hart weer opnuut dankbaar teenoor die Here gemaak! Paulus het in die slegste omstandighede vreugde en vergenoegdheid beleef, Jesus gee vir jou ook die krag hiertoe...

WEES VERGENOEGD EN TEVREDE - DIS DIE POSITIEWE VAN DIE TIENDE GEBOD!

*Dit beteken nie dat ons dink Jesus is op 25 Desember gebore nie. (Kliek op KERSKOUS)

Donderdag, 04 Desember 2014

DIE NUWE VERBOND

- gegrond op Jesus Christus as ons Middelaar, Borg en Hoëpriester!

Wat is ‘n Christen? Wie gaan gered word en wie sal verlore gaan? Onmiddellik wil die meeste mense hierdie vraag beantwoord in terme van wat ons doen of nie doen nie. Dan bespiegel hulle : "‘n Christen is iemand wat darem redelik gereeld kerk toe kom, wat hou van bid en Bybel lees, wat ordentlik optree teenoor ander mense, wat nie steel of hoereer nie..."   Om verstaanbare redes skep hierdie manier van redeneer egter probleme. Hoeveel bid is genoeg bid, hoe meet mens heiligheid en ordentlikheid...? Waar trek jy die streep? Wat is die slaagpunt? Hoeveel hare*  maak ‘n baard?


Hebreërs antwoord hierdie belangrike vraag binne die raamwerk van God se verbonde. 

Kom ons kyk net na twee teksgedeeltes uit hierdie besondere brief:

“So het Jesus ook van ‘n beter verbond borg geword.
Daar is ook ‘n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.
Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie.
Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele,
een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.
Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ‘n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester. (Hebreërs 7:23-28)

“Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.” (Hebreërs 9:15)

NUWE VERBOND

Ons weet God werk met mense binne die raamwerk van ‘n verbond. Hy het met Abram reeds ‘n verbond gesluit. (dikwels genoem die Genadeverbond) God herbevestig sy verbond met Abram se nageslag by Sinai. (Mosaïese verbond, waarna later verwys word as die Ou Verbond**) Maar hier in Hebreërs word nou gepraat van ‘n Nuwe Verbond. Wat is dit, waarom was dit nodig? Jy sien, daar het ‘n probleem ontstaan met die onderhouding van God se verbond. ‘n Verbond het mos twee kante : Gods se kant – dit wat Hy beloof. Die mens se kant - dit wat die mens se plig is. Waar die verbondsbepalings nagelaat en oortree word kom daar oordeel en straf ter sprake. Nou weet ons wat leer die geskiedenis – Israel het klaaglik misluk in hulle nakoming van die verbondsbepalings. Hulle kon nie hulle kant van die voorwaardes nakom nie. Hulle het wel plegtig belowe om dit te doen (Eksodus 24:7)***, maar in die praktyk was dit ‘n heel ander saak. Wat nou, is als verlore, is verlossing onmoontlik?

God se oplossing vir die mens se mislukking is die Nuwe verbond. Dit word by meer as een geleentheid in die vooruitsig gestel deur profete soos Jeremia, Esegiël en ander... Die nuwe verbond is baie beter. Die Nuwe verbond behels dat ons volle vergifnis kry en van binne af nuut gemaak word. Dit behels 'n oorvloedige werk van die Heilige Gees.  Die skrywer verwys na Jeremia se profesie en haal dit breedvoerig aan. (8 :7-12) Let veral op na die groot troos van volkome vergifnis in terme van die Nuwe Verbond! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (8:12)

Samevattend sou mens kon sê, die Nuwe Verbond is beter weens die deurslaggewende rol van Jesus Christus. Dit word in Hebreërs op verskeie maniere uitgelig. Hebreërs beskryf vir ons : Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond, die Borg van die Nuwe Verbond, die Hoëpriester van die Nuwe Verbond. (die betekenisse oorvleuel)

Binne die konteks van die Nuwe Verbond speel die kruisdood en opstanding van Jesus die sentrale rol!

Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond. (Sien weer Hebreërs 9:15 hierbo) As Middelaar het Jesus as’t ware die Nuwe Verbond tot stand gebring of te wel bemiddel tussen God en mens. Hy is die tussenganger. Hy het deur self die straf te dra van die mislukkings van die Ou Verbond weer die verhouding tussen God en mens herstel. Sy Middelaarskap hou ook nie op na ‘n tyd nie. Hy leef ook altyd om vir ons gedurig in te tree en voorspraak te doen. (7:25) 

‘n Borg betaal wat jy nie het nie namens jou, staan in vir jou, waarborg iets namens jou. As Borg het Jesus kom instaan vir ons sondeskuld en dit namens ons aan die kruis betaal. Hy het gedoen wat ons nie vir onsself kon doen nie. Hy is gestraf vir ons sonde, vir ons verbondsverbreking. Maar dit gaan ook oor meer. Hy het ook positief die heilige lewe wat God van ons verwag, namens ons geleef. Dit wat die verbond van ons geëis het, maar waarby ons nie kon uitkom nie, dit het Hy gedoen.

As Hoëpriester het Jesus nie bloot diere geoffer nie, maar Homself eenmalig aan die kruis geoffer en so ons straf gedra en vir ons toegang bewerk tot in God se heiligdom.**** Dis al manier hoe ‘n sondaar weer ‘n skoon gewete kan kry. "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!" (9:14!) Ja, ek weet ek is skuldig, maar ek weet ook dat Jesus my spesifieke sonde se straf gedra het en daardie sonde bestaan dus nie meer in God se boeke nie! Dit gee my gewetensrus! Maar meer nog, hierdie volmaakte offer maak my 'n erfgenaam van 'n heerlike toekomstige erfenis!

WAT IS ‘N CHRISTEN?

Terug by die beginvraag. Wie is ‘n Christen? ‘n Christen is ‘n mens wat in terme van die Nuwe Verbond volle vergifnis ontvang het op grond van die volkome werk van Jesus die ewige Hoëpriester, Middelaar en Borg van die Nuwe Verbond. Nog eenvoudiger, ‘n Christen is iemand wat Jesus as sy persoonlike Middelaar en Hoëpriester aanvaar het en ken. Die snypuntvraag is : Het jy ‘n Middelaar of probeer jy op eie stoom by God uitkom? (Die waarheid word bevestig deur 1 Johannes 5:12.) Wat eis God dus nou van ons? Een groot saak : om Sy Seun Jesus as ons enigste Here en Verlosser te aanvaar. Om Hom alleen te vertrou! Leef ‘n Christen dan nie anders nie? Wat van die bid en die Bybel lees...? Natuurlik, maar hy is eerstens wesentlik  anders, anders in die sin dat hy ‘n persoonlike Borg het. Ek word ‘n Christen omdat Jesus my Middelaar is en dan begin ek ook anders leef. (Vir meer oor die anders wees, kliek op ANDERS)

*’n uitdrukking wat ek van Nico van der Walt gekry het.

**Terloops, na die Abramsverbond word nooit as Oud verwys nie.

*** “Hy (Moses) het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: "Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees."

****Die heerlike praktiese implikasies van Jesus se hoëpriesterskap word pragtig uitgespel in Hebreërs 4:14-16. Dis ‘n versekering waarsonder die kind van God nie vrede kan hê en funksioneer nie...

BELANGRIK : Dis baie duidelik dat Jesus se plaasvervangende sterwe en versoenende offer sentraal staan in ons redding om sodoende vir ons ‘n ewige toekomstige erfenis te verseker. Beide hierdie waarhede word deur ‘n dwaalprofeet soos Marcus Borg ontken! (Kliek op MARCUS BORG)

Woensdag, 03 Desember 2014

MARCUS BORG

- en sy siening oor Jesus se kruisdood.

Hier is Marcus Borg* se siening oor Jesus se sterwe in sy eie woorde :



"Within this second and historical framework, Holy Week is not the story of Jesus dying for the sins of the world, as if this was his and God’s purpose for his life. Rather, it is the story of Jesus’ passion for God and the kingdom of God, his challenge to the combination of religious and political authority that ruled his world, and his vindication by God...

Within the historical framework, Jesus’ death was a sacrifice – but not a sacrifice required by God as payment for sin. Rather, he was willing to sacrifice his life because of his passion for God and the kingdom of God. In this sense of sacrifice, three Christian martyrs of the 20th century sacrificed their lives because of their passion for a different kind of world: Dietrich Bonhoeffer in Germany, Martin Luther King, Jr., in this country, and Archbishop Oscar Romero in El Salvador. Sacrifice, yes; substitutionary payment, no."

[Om Marcus Borg se hele verduideliking te lees kliek op HOLY WEEK]



Hy sien dus wel Jesus se dood as 'n offer, maar beslis nie as die plaasvervangende offer vir ons sonde nie! Dit wil ook voorkom asof hy Jesus min of meer op dieselfde vlak plaas as ander historiese figure wat gesterf het vir hulle ideale van 'n beter wêreld...



Borg se siening gaan dus direk in teen die Nuwe Testament en ons Belydenisskrifte!


Borg staan reëlreguit teenoor die Skrif :


Markus 10:45 "Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." 

Romeine 3:25,26 "Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo."

Efesiërs 1:7 "Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God."

1 Petrus 3:18 "Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is."


Borg staan direk teenoor ons Belydenisskrifte:

Heidelbergse Kategismus 40 Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?


Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.



Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 21: Die Versoening deur Christus

Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53: 5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het uitgeroep: "My God, my God, waarom het U my verlaat" (Matt 27:26). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde (1 Kor 2: 2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van die God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Mat 1:21). 

Ps. 110.4; Heb. 5:10; Rom. 5:8,9; Kol. 2:14; Heb. 2:9,17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5,7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Maat. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filip. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18; Joh. 10:9; Heb. 9:25,26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31. 

Daar kan geen misverstand en onduidelikheid wees nie; Marcus Borg se interpretasie van Jesus se sterwe soos ook onder andere uitgespel in sy "THE LAST WEEK - WHAT THE GOSPELS REALLY TEACH ABOUT JESUS'S FINAL DAYS IN JERUSALEM" druis direk in teen die Bybel en ons Gereformeerde Belydenis. Tog word sy boek(e) in 'n positiewe lofrede deur 'n resensent besing in ons amptelike kerkblad, DIE KERKBODE. 

Ek vra dus: Behoort DIE KERKBODE (al is dit via 'n resensent) so 'n persoon se boek aan te beveel of dalk eerder ons daarteen te waarsku?

[Vir die oorspronklike beswaar en opmerkings, kliek op BORG BOEK]

*foto - Wiki

Dinsdag, 02 Desember 2014

KERKBODE ONTSTEL

- Is DIE KERKBODE hoegenaamd nog opbouende leesstof vir gelowiges?

In die KERKBODE van 7 November 2014* is daar ‘n rubriek getiteld LEES DIÉ BOEK deur Ronell Bezuidenhout, ‘n leraar van die NG Kerk. Sy kies toe die boek, “THE LAST WEEK” geskryf deur Marcus Borg en John Dominic Crossan. Ronell raak liries oor die boek, soveel so dat sy haarself beskryf as ‘n “Borg meisie!” Is besondere bewondering vir een of ander teoloog noodwendig verkeerd? Seker nie. Nou wat pla my dan?


Marcus Borg is een van die leidende figure van die sogenaamde Progressiewe Christendom, wat radikaal verskil van die behoudende Evangeliese Christendom. Met Evangeliese Christendom bedoel ons diegene wat vashou aan die kernwaarhede van die historiese Christelike geloof van alle eeue soos sonde en vergifnis, die plaasvervangende en versoenende sterwe van Jesus Christus, redding deur geloof in Jesus as die engste weg tot saligheid en lewe na die dood. Die sogenaamde Progressiewe Christendom gaan ‘n heel ander koers op. Hulle sê dat God in elke godsdiens geken kan word, dat leerstellige waarheid nie belangrik is nie en is meer gesteld op die bevordering van sosiale en politieke sienings as die redding van sondaars! 

Soos te verwagte word die gesag van die Bybel deur hulle ernstig onder verdenking geplaas. Borg beweer: “I let go of the notion that the Bible is a divine product. I learned that it is a human cultural product, the product of two ancient communities, biblical Israel and early Christianity. As such, it contained their understandings and affirmations, not statements coming directly or somewhat directly from God.” Oor Jesus se geboorte en kruisdood het hy die volgende te sê : “Jesus almost certainly was not born of a virgin, did not think of himself as the Son of God, and did not see his purpose as dying for the sins of the world.” Ook word die liggaamlik historiese opstanding van Jesus deur Borg ontken: “I do not think that the gospel stories of Easter require us to think of the resurrection in material physical terms. I see them as parables of the resurrection. Parables are about meaning. They are truth-filled and truthful stories, even as they may not be literally factual.” Borg aanvaar wel die opstanding, maar bloot as ‘n “ervaringsmatige werklikheid.”** Volgens hom beleef Christene Jesus na sy dood as iemand wat die kwaliteite van God het. 

Crossan is net so ver van die waarheid af. Sy siening van die opstanding word onder andere so beskryf : “He proposes that it is historically probable that, like all but one known victim of crucifixion, Jesus' body was scavenged by animals rather than being placed in a tomb.” (n.a.l.v. Jesus: A Revolutionary Biography -1994) Nou is die vraag net, kan sogenaamde teoloë wat al hierdie basiese leerstellings van die Christelike geloof ontken, nog hoegenaamd as Christene beskou word? (Wat sou jou sienings dan moes wees om as ongelowige geklassifiseer te word?) En hoe kan ‘n NG predikant in gloeiende terme oor diesulkes se boeke skryf? Wat verkondig sy dan? Mens wonder...

‘n Mens wonder ook of DIE KERKBODE nog enigsins aanspraak kan maak om ‘n Christelike tydskrif te wees, laat staan nog die amptelike koerant van ‘n kerk wat beweer om die Drie Formuliere van Eenheid te bely. Dwaling word dan nou positief gepropageer. Hoeveel "kerk" is nog oor of het dit dalk bloot 'n "bode" geword, en van wat?***

*My reaksie is bietjie laat, ek weet. Ons gemeente is egter nie ingeteken op DIE KERKBODE nie. Hier kom net so af en toe ‘n gratis promosie eksemplaar aan.

**Lees gerus Adrio König se “DIE EVANGELIE IS OP DIE SPEL” Hierin skryf hy duidelik oor die dwalings onder ons teoloë en die gevolge daarvan vir die kerk.

*** Ja, ek weet in die einste uitgawe van die Kerkbode is 'n inspirerende artikel oor sendingwerk in Papua Nieu-Guinee. Sulke mooi nuus kan egter nie mens se teleurstelling oor die Kerkbode uitkanselleer nie. Een vlieg bederf immers 'n hele bord kos!

KAN ONS IN DIE LIGGAAMLIK HISTORIESE OPSTANDING VAN JESUS GLO? (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)


Die sogenaamde Progressiewe Christendom wil soms suggereer dat Evangeliese Christene net bekommerd is oor siele en die hiernamaals. Dis natuurlik nie waar nie. Evangeliese Christene het nog altyd besef dat waar ons die evangelie bring daar ook aan mense se fisiese behoeftes en omstandighede hier en nou aandag gegee moet word. So is ons gemeente tans by die Boesmans op Tsintsabis betrokke deur verkondiging van die Woord, maar ook deur praktiese optrede om nood te help verlig!



Maandag, 01 Desember 2014

ANDERS!

-maar hoe anders? 


‘n Christen is iemand wat die goeie nuus gehoor het : “Jou sondes is uitgewis!” ‘n Christen is ook iemand wat gereageer het op die daaropvolgende uitnodiging : “Keer terug na my!” (Kliek op UITGEWIS) As die goeie nuus van Golgota my hart gegryp het en ek my bekeer het tot die Here kan ek nooit meer dieselfde wees nie. Die Christen is daarom in wese ANDERS! Die vraag is nou net hoe anders, in watter opsigte? Ons bly tog mos gewone mense, ons werk, ons trou, maak kinders groot, ons is landsburgers, ons het ook ontspanning nodig soos alle ander mense...

Petrus vertel ons...

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:11,12)

ONS STATUS OP AARDE IS DIE VAN VREEMDELINGE EN BYWONERS!

Hoe moet ons dan anders wees? Petrus beskryf ons andersheid baie treffend deur die woorde vreemdelinge en bywoners. Die term vreemdelinge het hy reeds in 1 Petrus 1:1 in sy aanhef aangeroer. “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld,...” Die terme sê so baie - ’n vreemdeling en bywoner in ’n land neem voluit deel aan die lewe, maar hy is in wese anders en sy ware lojaliteit lê elders in sy eie vaderland! In alle opsigte verskil hy van die huidige tydelike kultuur en leefstyl - sy waardes, gewoontes, maniere, lojaliteite... selfs kleredrag vertoon ‘n ander invloed. Die punt wat Petrus baie duidelik wil stel is : Kinders van God mag nie konformeer nie, mag nie dieselfde gewoontes hê nie, dieselfde gedrag openbaar as wat in die huidige goddelose wêreld waar ons woon aan die orde van die dag is nie. 

Petrus is nie die enigste Bybelskrywer wat ons verhouding met die wêreld so beskryf nie. Ook die Hebreër skrywer in Hebreërs 11:10,13,14; 13:14 onderstreep hierdie waarheid. “...(Abram) het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is....Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland... ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

Ook Paulus beklemtoon dat ons burgerskap nie regtig hier gesetel is nie! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) 

Petrus lig vir ons drie sake uit met betrekking tot ons andersheid:

~ Die andersheid van die Christen lê dus eerste daarin dat ek my unieke eiesoortige identiteit sal besef. Dus : Onthou wie jy is. ‘n Tydelike vreemdeling en ‘n bywoner! Hierdie wêreld met sy sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Dis nie ons finale bestemming en ware lojaliteit nie. (Dis veral belangrik om jouself hieraan te herinner in tye wanneer dit baie goed gaan en jou besigheid net groei en groei. Besef dan – “ek gaan nie vir altyd hier wees nie, ek moet nie perspektief verloor nie”, maar ook in tye wanneer dit sleg gaan, wanneer die besigheid misluk of ek gediagnoseer word met ‘n ongeneeslike siekte... weet dan - “hierdie omstandigheid het nie die laaste sê nie, daar wag vir my ‘n ewige heerlikheid in my ware vaderland...”)

~ Tweedens bestaan ons andersheid daarin dat ons radikaal sal kies teen die slegte begeertes en waardes wat die mense en omgewing rondom ons beheers en bepaal. Verkeerde begeertes wat gestimuleer word deur alles wat ons rondom ons sien en beleef, hou ’n permanente bedreiging in vir die Christen. Die uitspattige leefstyl van die bure, die uitlokking tot losbandigheid op die tydskrifvoorblaaie, elke dag se neagtiewe nuus... Hierdie slegte begeertes was vroeër deel van Christene se lewens, dis nou agtergelaat, maar dit hou nog steeds gevaar in… Vermy dit, bly weg van wat verkeerd is, moenie toegee en swig nie. Tree aktief op en vrae jouself : Moet ek deur daardie tydskrifte op die winkelrak blaai, moet ek na daardie "songs" luister, is daardie sepie op TV bevorderlik vir rein gedagtes? Beteken dit ons moet kluisenaars of nonne word? Nee! Ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag.*  Hierin was Jesus vir ons ‘n radikale voorbeeld en rolmodel. “Die Here Jesus was nie ‘n kluisenaar nie...Hy het Hom nie prakties afgesny van die samelewing nie, maar tog was Hy innerlik vry en afgeskei van die wêreld. Hy was nie afgetrokke of afsydig nie... Om die waarheid te sê, Hy was in so ‘n mate deel van die alledaagse wêreld, dat die godsdienstige mense van sy tyd Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper beskou het. Tog het ons Here nooit toegelaat dat iets inbreuk maak op die toewyding van sy geestelike krag nie.” (Oswald Chambers) Wees radikaal anders in jou optrede te midde van ander mense. 

Almal sal egter nie ingenome wees met jou nuwe gedrag nie! Ons kan verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (2 Petrus 4:4!) Juis die teenkanting en spot wat ons van die wêreld moet verduur is ‘n aanduiding dat ons op koers is na ons ewige Vaderland en nie hier hoort nie! Samuel Rutherford vat dit so raak : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.” 

~ Derdens moet ons andersheid gekenmerk word deur ‘n positiewe heilige andersheid. Dit gaan dus nie net oor dinge wat ons nie meer doen nie, maar veral oor dinge wat ons nou wel moet doen in ons omgewing waar ons tydelik leef! Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe maak ‘n positiewe verskil. Op die ou end moet mense dit insien en erken... en ja, dit kan selfs tot hulle bekering lei! Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. (Kliek op AGENDA IN HEIDENSE SAMELEWING) Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Daar is juis so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, eerlike besigheidsmanne, kwaliteit ambagsmanne, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid, tevrede mense, nederige kampioene, blymoedige pasiënte, eerlike belastingbetalers, gehoorsame landsburgers wat die gesag oor ons respekteer! “omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,...” (1 Petrus 2:14) Hierdie sigbare leefstyl van anders wees is in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik.” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word, hulle bekeer en God op die oordeelsdag verheerlik. 

‘n Wegkruip lewensstyl is nie ‘n opsie vir die Christen nie! ‘n Wegwyser lewe (na ‘n beter alternatief) is ons plig!

Kom ons raak sommer lekker prakties : Ons dra klere nes alle mense, maar ons word nie oorheers en gedryf deur die goddelose kaalgat modegiere van hierdie wêreld nie. Ons versorg ons liggame, maar ons hoef dit nie voor wellustige oë op SKOONHEIDSKOMPETISIES en die strand uit te stal nie. Ons leef gesond en verantwoordelik, maar glo nie in ‘n heidense ideaal van “Forever Young” nie! Ons werk en doen besigheid soos ander mense, maar ons word nie verteer deur geldgierigheid nie. Ons geniet ons kos, maar is nie vrate wat leef om te eet nie! Ons pas ons eiendom op, maar ons blydskap word nie bepaal deur die hoeveelheid van ons besittings nie. Ons bly in huise soos ander mense, maar ons rig nie vir ons kastele op asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons is burgers van ‘n bepaalde land en lede van ‘n bepaalde volk wat ons pligte nakom, maar ons verabsoluteer en romantiseer dit nie, want ons weet ons ware burgerskap is elders! Maar omdat ons ‘n vaste burgerskap en ‘n ewige sekuriteit het, kan ons juis ook nou vreugdevol, vriendelik, kreatief, entoesiasties, tevrede, sonder vrees en swaarmoedigheid hier en nou leef. 

Dis die aantrekkingskrag en effek van die evangelie – anders, ja, heilig anders, maar juis blymoedig anders!

* Van Houwelingen: “Bepalend voor het christelijk leven is niet de distantie tot de medemens zelf, maar tot het bedorven leven dat hij leidt”.




Dinsdag, 25 November 2014

STEVE EN DIE STEM


- ‘n persoonlike perspektief. 

Die sing van die DIE STEM is die afgelope tyd ‘n gewilde onderwerp van debatvoering wat emosies nogal sterk opjaag. Behoort dit omstrede te wees? Die lied, wat ‘n pragtige gedig is, bevat ongetwyfeld opsigself geen rassisme of haatspraak nie. Natuurlik hou dit weens verstaanbare redes vir sommiges ‘n negatiewe klank en nasmaak in. Natuurlik is dit ‘n vraag of dit wys is om in die sensitiewe Suid-Afrikaanse situasie daarvan ‘n issue te maak. Steve Hofmeyr moet maar eers seker maak of hy die Afrikaner se saak regtig bevorder... Aan die ander kant is ‘n oorgevoelige gedienstigheid ter wille van politieke korrektheid ook seker ‘n pyn...

Ek persoonlik het egter ‘n heel ander rede hoekom ek bedenkinge (of ten minste huiwering) het oor die sing van DIE STEM.

Vrydag, 21 November 2014

UITGEWIS!

- Dis die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het. 


“Uitgewis!” Dis ‘n baie sterk woord. As ’n mens iets of iemand uitgewis het, bly daar niks van oor nie! ‘n Vyand wat uitgewis is, is totaal vernietig en verdelg! Dink nou net bietjie as God iets uitgewis het.... wat word daarvan? Wat bly oor? God se daad van uitwissing is finaal, volkome, volledig. Nou hoor ons dat God ons sondes uitgewis het... 

“Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) 

Drie sake vra ons aandag: 

1) Die werklikheid van ons sonde. Die aaklige realiteit van sonde is ‘n onontkombare feit. Dis groot, dis baie, dit het tragiese gevolge. In jou eie lewe en in ander mense se lewe. Ons kan nie ons sonde wegredeneer nie, dis daar. Dis erg, dis baie - ’n skrikwekkende lang lys vol bedrog, valsheid, dade teen medemense (selfs ons eie geliefdes)... en dan praat ons nie eers van verkeerde gedagtes, motiewe, gesindhede... Ja, wat dit veral erg maak is dat alle sonde, sonde teen God is*. Die gevolge is afgryslik. Dis inderdaad ’n donker dik wolk wat oor ons hang en ons hele lewe negatief beïnvloed en tot in die ewigheid strek. Dit belemmer en befoeter ons verhouding met God en naaste en selfs ons omgewing op alle vlakke. ’n Donker wolk wat keer dat ons nie die strale van God se heerlikheid kan raaksien en waardeer nie - vat ons blydskap weg, ’n donker wolk wat verhoed dat ons die warmte van God se liefde kan voel skyn dit laat ons vrees, donker wolk. Hierdie donker wolk voorspel vir ons dat daar enige oomblik ’n storm gaan losbars, die toornige storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie. Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer dit : 

Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan die lig sal kom. 

Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg), ek knyp net die kat in die donker! 

Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...” 

Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg my soos ’n skaduwee. 

Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening! 

Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer? 

Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring! 

God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt: 

2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg. God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**

God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding, sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk... Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis! Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal! “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is verbode)

3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk. ’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai. Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge moet dra.

Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:

~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie. Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus! “Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.

~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding, wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie.  Mag hierdie kragtige uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!



*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”

**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."

[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]


In die diepte van die see...