BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gemeentelose Christene. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gemeentelose Christene. Wys alle plasings

Vrydag 20 Januarie 2017

GOD SE HUISGESIN

- is onmisbaar belangrik vir jou en my.



In 1 Timoteus 3:14,15 beskryf Paulus die gemeente as die huisgesin van God!



Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom.



Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. (reeds in vroeër vers 5 kry ons al ‘n verwysing na huisgesin in gemeentelike konteks)* 

Hoe heerlik en wonderlik is ‘n huisgesin! Om aan ‘n huisgesin te behoort is ‘n reuse voorreg en vreugde! Dis so onmisbaar belangrik vir ‘n kind se ontwikkeling en vorming. (terloops dis waarom Satan so naarstigtelik huisgesinne en huwelike probeer vernietig) Dis mos die plek waar ons kos kry, grootword, vertroos word, geleer word, veilig voel... en ook broodnodige opvoeding en selfs straf kry! Hoe meer nog is dit onmisbaar belangrik vir God se kinders om deel van God se huisgesin te wees. As iemand hom bekeer en deur die geloof in Jesus ‘n kind van God word, word hy/sy onmiddelik in God se huisgesin opgeneem (vgl. Hand 2:47). Deur die wedergeboorte word ons in God se gesin gebore en God word ons Vader en God se ander kinders word ons broers en susters. (en ook mede erfgename van Jesus die oudste broer!) En hierdie band is belangriker en inniger as die bande van aardse gesinne. Regtig? Wel, dis die implikasie van Jesus se woorde in Lukas 8:19-21.**

Soos ‘n kind nie gelukkig, gebalanseerd groot kan word en optimaal kan ontwikkel sonder ‘n liefdevolle huisgesin nie, het elke kind van God die huisgesin van God, die gemeente nodig!

ELKE LIDMAAT, MAAR OOK OUDERLINGE EN DIAKENS IS DEEL VAN GOD SE PLAN

In ‘n gesonde huisgesin is daar struktuur, orde en reëls. Elkeen het sy plek en funksie. Indien een lid van 'n gesin nie gesag erken of nie sy pligte uitvoer nie, is daar wanfunksionering en ly die hele gesin skade. In God se gesin is dit ook so. Paulus verwys hier terug na die spesifieke opdragte van hoe mense hulle in God se gemeente moet gedra. Spesifiek na die rol en pligte van mans, vrouens, ouderlinge en diakens. Ja, party mense dink aan ouderlinge en diakens as menslike tradisies of outyds en verkramp – Nee, dis deel van God se plan vir sy huisgesin! Net terloops, waar hierdie reëls nie toegepas word nie, kom daar groot hartseer in God se huisgesin. (byv. ouderlinge wat nie moes gekies gewees het nie, kerkraadslede wat nie hulle werk doen nie, gesagstrukture wat nie erken word nie ens.)

DIE GEMEENTE BESKERM DIE WAARHEID

Dis egter nie al wat hier van die gemeente gesê word nie...Die gemeente word verder ook hier genoem die draer en beskermer van die waarheid. (OAV - 'n pilaar en grondslag van die waarheid. ) Die (stulos) pilare het die dak gehou , maar meer nog dit as’t ware hoog opgelig sodat almal dit van ver kan sien. Die (hedraioma) fondasie het beskerming verleen.

Vir die wat skerp luister klink dit dalk vreemd – die kerk is mos gebou op die waarheid (evangelie), hier klink dit nou of die kerk die waarheid beskerm. Inderdaad staan kerk en waarheid in noue verband. Die kerk is afhanklik van die waarheid vir haar bestaan, maar die waarheid is ook weer afhanklik van die kerk vir haar verdediging en verkondiging. Die kerk, die gemeente beskerm die evangelie sodat dit nie vervals kan word nie. Die gemeente moet dus sorg dat die evangelie nie verdraai en verwring word nie. Dis in ons dag so nodig. Julle weet van al die dwalinge wat in sirkulasie is en mense verwar : mense wat beweer dat Jesus nie opgestaan het nie, mense wat nie die kruisboodskap verkondig nie, maar moralisme. Valse rigtings soos die Hebrew Roots Movement, goedkoop genade, die prosperity Gospel, mensgerigte "evangelies" waar God die mens se drome moet bewaarheid.... ("Gemeentelose Christene" en selfgesentreerde belangegroepies word veral maklik die prooi van allerhande dwalinge.)

Die waarheid wat in die gemeente beskerm en voortgedra moet word en as’t ware hoog opgelig moet word is die waarheid oor Jesus Christus wat uitgespel word in vers 16.*** Die kerninhoud van die waarheid wat ons as kerk moet bewaar is die waarheid oor Jesus Christus. (die kerk is nie bloot net nog ‘n NGO wat moet goed doen aan mense nie, ons het ‘n boodskap van redding en bevryding vir sondaars!) Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus  hier aanhaal. Dit bestaan uit drie koeplette : Die openbaring van Christus – Hy het mens geword en die Heilige Gees het deur die opstanding bevestig dat Hy waarlik die Seun van God is. Die getuienis van Christus – deur engele gesien, verkondig onder die nasies. Die ontvangs van Christus – Hy is geglo en Hy is in die hemel opgeneem. Hier is ‘n sterk verlossingsboodskap en ‘n sendinggerigtheid te bespeur. Die waarheid wat die kerk moet bewaar is die boodskap van Jesus as Verlosser van alle nasies! As ‘n gemeente nie meer Jesus verkondig as die redder van sondaars nie, het die gemeente gefaal en die waarheid verloor!

WIE EN WAAR?

Wie en waar is hierdie Gemeente? Dis die heilige algemene Christelike kerk wat ons bely om in te glo. Dis die kerk oor die wêreld heen versprei, die kerk van alle eeue! Dis natuurlik ook die plaaslike sigbare gestalte daarvan, ja inderdaad dis ook die gemeente van Jesus op Tsumeb. Dis die gemeente waar God jou tans geplaas het...

Ons kan nie sonder die gemeente nie – dis ‘n veilige huisgesin waar ons leer en groei, dis ‘n veilige kasteel waar die waarheid suiwer beskerm word. Maar dan moet ons erns maak om hierdie gemeente in te rig en te versorg volgens God se wil en opdragte!

Om ernstig te wees oor Jesus, behels ook dat ek ernstig sal wees oor die gemeente waar die Here my geplaas het! Hoe ernstig is jy oor Jesus, hoe ernstig is jy oor God se huisgesin? Is jy betrokke, bid jy, werk jy...?

*Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? (1 Timoteus 3:5)

**En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie. 

Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien. 

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen. (Lukas 8:19-21)

***En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem. (1 Timoteus 3:16)