BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vergifnis (aan ander). Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vergifnis (aan ander). Wys alle plasings

Donderdag 25 Julie 2024

ERNSTIG - DIS 'N HALSMISDAAD

 IN GOD SE KONINKRYK!




Baie mense loop met ‘n skewe idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was, maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te wees nie.  En verder, so word geredeneer...Paulus stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n  ander vrou loer en die kat in die donker knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na die onskuldige boeredans...)

Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.

Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20) 

"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."

Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en  het God van my gehou.

Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal.  Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus  bring die  Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper!  Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)

Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :

 “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. 

“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.

“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.

Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.

Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond. 

Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en  woede.  Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.  

Die punt is - Volgens Jesus  is ’n  slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n  saak vir die hoogste regbank en verdien dit ’n  vonnis wat verder gaan as die hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor vir die hel is.

Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers! 



 WAT NOU?

Besef ek en jy die erns van Jesus se lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening! Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat  gewoond was aan offers en geweldig onder die indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na heiligskennis/lastering  klink. Jesus wil hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?

Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!

Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.  

Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!

Donderdag 19 Oktober 2017

BAIE OF MIN?

- Hoeveel mense sal uiteindelik die Koninkryk binnegaan? 


Is dit maklik om ‘n kind van God te wees of is dit moeilik? Dit is tog seker maklik sou mens kon redeneer, want dis alles mos genade en genade is ‘n present. En dis mos nie moeilik om ‘n persent te kry nie! Aan die ander kant leer die Bybel, net die wat volhard tot die einde sal gered word. Dit klink weer moeilik. ‘n Ander vraag, wat hiermee verband hou. Sal daar min mense gered word of baie? Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad... 

Lukas 13:22-30 gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die volk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk hieroor kon laat wonder het.) 

DIE ANTWOORD : "SPAN AL JULLE KRAGTE IN!" 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (24) en ‘n waarskuwing. (27,28) 

UITDAGING. “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat jy wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. (Onthou weer Jesaja 64:4) Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang! Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op my rug langs die swembad of op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! *Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) Jesus wil dus sê : Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry, waar vyf voor ‘n geslote deur beland het.) 

Span al julle kragte in beteken dus onder andere : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? En maak die genade wat jy ontvang het ‘n sigbare verskil aan jou prioriteite en leefstyl? Iemand wat regtig in God se genade en vergifnis belangstel en dit waardeer sal sekere dinge anders doen. As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap en ander dinge eerste stel (soos om net vir rugby vroeg op te staan) is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. Jesus se oproep aan sy dissipels is telkens : waak en bid 

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok wat vergifnis by God verhinder! (kliek ONVERGEWENSGESINDHEID)

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ ek wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28)Baie mense leef onder ‘n vals illusie. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene, sondaars en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk passievol aangegryp! 

‘N LAASTE EEN KOM EERSTE! 

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Terselfdertyd is hy ook ‘n voorbeeld van iemand wat alles in die stryd gewerp het en ruim oorvloedige genade ontvang het. Die misdadiger aan die kruis. Hy was een van die laastes. Hy was ‘n slegte mens wat iets vreesliks moes gedoen het, anders sou hy nie tot ‘n kruisdood veroordeel gewees het nie. Maar hy word nou ‘n eerste, ‘n bevoorregte, want hy kry toegang tot die koninkryk van God. Hy het al sy kragte ingespan om in die koninkryk in te gaan. Weereens dit beteken nie dat hy deur sy eie goeie werke of prestasies gered is nie. Dit beteken maar net hy het die genade heelhartig aangegryp en die geleentheid vir redding voluit benut. Ons weet mos wat het gebeur : Terwyl sy medemisdadiger met Jesus spot, het hierdie sterwende man met sy laaste bietjie krag en druppel asem uitgeroep : “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry dan ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! ‘n Sondaar wat al sy krag ingespan het om by die smal deur in te gaan! 

Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk!



*Filippense 2:12,13

“...Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (NAV)

“...werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (OAV)

“...werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” (DAV)


[Maanlandskap - Swakopmund]

Vrydag 01 Junie 2012

MAORI NAGMAAL EN BOERE SMART

- bevrydende krag tot vergifnis.

Wat het ‘n Maori nagmaal ver oor die see in New Zealand en die konsentrasiekamp smarte van die Boere Oorlog hier op eie bodem met mekaar te doen?

Kom ek begin met die merkwaardige berig oor ‘n besondere  nagmaal in New Zealand.  ‘n Juweeltjie wat ek onlangs weer raakgelees het.* Dis Desember 1848 by ‘n plekkie genaamd Putiki op die walle van die Wanganui rivier.  ‘n Groot getal bekeerde Maori’s is saamgetrek om onder andere nagmaal te vier onder leiding van Rev. Richard  Taylor van die Church Missionary Society. Hulle het rivierlangs  met hulle  kano’s gekom.  Sommige uitgedos in tradisionele klere en ander in nuutverworwe Europese drag. Die bediening van die nagmaal is oor twee dae versprei, weens die groot aantal deelnemers. Op die 25ste word die tweede groep bedien. Tydens hierdie diens het ‘n aangrypende gebeurtenis plaasgevind wat die krag van die evangelie sonder twyfel sigbaar gedemonstreer het. Twee Maori hoofmanne was onder die aanwesiges by die tafel van die Here. Een van hulle, Tamati Wiremu Puna van Aramoho het sigbaar gebewe. Na die diens is hy uitgevra oor sy emosie. Hy vertel toe die aangrypende verhaal dat die ander hoofman, Panapa van die Nga-ti-Apa, wat saam met hom was, vantevore sy pa doodgemaak en geëet het! Hy het toe voortgegaan om te sê dat net die evangelie wat hom ‘n nuwe natuur gegee het, kon maak dat hy saam brood kon eet en uit dieselfde beker kon drink as die man wat die moordenaar was van sy eie pa.

Die verbysterende omvang van die pyn en smart wat ons Afrikanervolkie deur die Britte aangedoen is tydens die Anglo-Boere Oorlog het, maak weer opnuut mens se emosie wakker  met die onlangse onthulling dat nie 27 000 van ons volksgenote (soos ons gedink het)  in die Britse konsentrasiekampe gesterf het nie,  maar ‘n angswekkende 34 000.  Die diepte van hierdie onmenslike behandeling word nie net deur koue syfers vertel  nie, maar veral deur die verhale van moeders wat magteloos moes toesien hoe hulle kinders in hierdie haglike kamptoestande onnodig deur siekte, honger  en ontbering uitgewis word.

Van hierdie vertellings is opgeneem in ‘n nuwe boek oor die smartlike euwels van die konsentrasiekampe, “ONTHOU! - Kronieke van vrou - en kinderlyding 1899-1902" saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels.

Magdalena van der Merwe praat oor die dood van haar dogtertjie : 

“Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf...”

Anna Botha van Breipaal, Smithfield, vertel van die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp:

“Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!’ Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. 

“Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ’n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” 

Die verhale van magtelose moeders, die foto’s van uitgeteerde liggaampies, rye en rye name van gestorwe kinders, kleuters, babas... dreig om vals note van verbittering uit jou sielsnare uit te ruk, maar...

...Tamati Wiremu Puna kon die moordenaar Panapa wat sy pa opgeëet het, vergewe,  want daar was ‘n houtkruis met ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het. Dis ook die enigste (maar gelukkig genoegsame) rede waarom ons die Britte kan (en moet) vergewe vir die 34 000! Al is dit bewend en met trane in ons oë, kan ons harte die suiwersoet note van vergifnis uitjubel!

Is daar nog iemand wat jy moet vergewe?

* An Early Communion in New Zealand, Peter Best in The Banner of Truth, January 1996

Vrydag 18 Mei 2012

DIE BITTER HOË HEKKIE

- waaroor gebede struikel en die plafon wat ons versugtinge terugkaats. 

Matteus 6:14,15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As ons nie kan bid nie, as ons nie werklik kontak met ons hemelse Vader kan maak nie,  beteken ons Christenskap niks nie. Gebed is die vernaamste manier hoe  kinders van God hulle dankbaarheid vir verlossing prakties uitleef. Uit Jesus se mond het ons nou al ‘n hele paar belangrike dinge geleer oor gebed :
  • Ware gebed is nie ‘n hipokritiese  ritueel nie, maar egte kontak met ons Vader.  Dis ‘n lewe voor die aangesig van God. 
  • Ware gebed word beloon deur ons Vader wat presies weet wat ons behoeftes is. Gebed werk!
  • Ware gebed vereis ‘n U draai, weg van ek-gesentreerdheid na ‘n fokus op God (U). Dit gaan eerstens oor God se eer, God se koninkryk en gehoorsaamheid aan God se  wil.
  • Ware gebed sluit in dat mense wat God se eer nastreef en oppad is na die koninkryk vir alle behoeftes op die pad mag bid,  insluitend ons fisiese nood, vergifnis en beskerming. Dis dinge wat God se kinders almal nodig het.

Ons kyk nou na nog ‘n laaste belangrike beginsel uit Jesus se lering hier oor gebed : Ware gebed kom uit ‘n vergewensgesinde hart. Anders gesê, alle gebed wat nie uit ‘n vergewensgesinde hart kom nie, sal misluk. Vergewensgesindheid is ‘n kernsaak as dit by ware gebed kom . Matteus 6:14,15 lyk dalk soos ‘n voetnoot by die vyfde bede, maar dit verwys terug na die hele gebed wat handel oor ingang in die Koninkryk.*

Dis asof Jesus hier net ‘n laaste dringende vermaning wil byvoeg en sê : “Kyk jou gebed kan honderd suiwer geformuleer wees, maar as dit uit ‘n bitter onvergewensgesinde hart kom, word dit onmiddellik gediskwalifiseer." 

Moenie dat jou gebed oor die laaste hekkie struikel nie! 

Dis ‘n besonder bitter hoë hekkie, die hekkie van onvergewensgesindheid!

Hoe pas vergifnis en koninkryk en gebed bymekaar? Ons het gesien : gebed draai om God en sy koninkryk. Dit gaan oor God se prioriteit as Koning, maar ook oor ons deelwees van die koninkryk en ons oppadwees na die koninkryk. Daar is net een manier hoe ons deel kan word van die koninkryk - deur genade en vergifnis wat ons van God ontvang.    Die basiese beginsel van die koninkryk is vergifnis. As ons dus genade en vergifnis aan andere weier,  beteken dit ons verwerp die basisbeginsel van die koninkryk. As ek weier om  vergifnis te skenk, bly ekself ook sonder vergifnis en kan ek nie in die koninkryk ingaan nie. So slaan ekself die deur van die koninkryk toe. Onvergewensgesindheid is die grootste faktor wat ons gebede bederf en uitkanselleer. Onvergewensgesindheid is die grootste praktiese rede waarom mense die koninkryk sal misloop.  Kom ons toets dit aan ‘n paar ander Skrifgedeeltes:

Markus 11:25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” 
Net soos in die Onse Vader koppel Jesus vergifnis as ‘n vereiste aan gebed en die ontvangs van vergifnis.

As ons verder in Jesus se woorde oor hierdie saak gaan soek sien ons dat dit nie net oor gebed gaan nie, maar oor ons eie vergifnis en dus ook oor ons verlossing as sodanig.

Matteus 5:7 “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”   
Ons het almal barmhartigheid nodig. Al is jy in ’n kerk gebore, al was jy jou hele lewe lank godsdienstig en al het jy geen erediens of biduur gemis nie, sonder Jesus se genade, barmhartigheid en vergifnis sal jy nooit in die Koninkryk kan ingaan nie.  Hierdie Saligspreking sê dus : Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit aan ander mense!  Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie,  sê dus maar net : “Ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie.” Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus waarlik in Jesus  glo. Martyn Lloyd-Jones stel dit so treffend :
“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins, and I am unforgiven” 
As ek vergifnis weier aan ander is dit die duidelikste bewys dat ekself nog nooit vergifnis ontvang het nie en dus verlore is, oppad na die ewige straf! 

Matteus 5:23,24 “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
Vergifnis en vrede is belangriker as enige uiterlike godsdienstige aksie!

Matteus 18:21-35 (lees gerus in jou Bybel) Ons ken hierdie gelykenis...  Hoe tree die koning uiteindelik op teen sy amptenaar wat weier om die ander een te vergewe?  Woedend! Vers 34 (lees) En dan sê Jesus hierdie skrikwekkende woorde : “So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (35) Jy gaan nie met ‘n onvergewensgesinde hart by God verbykom en in die koninkryk inglip nie.

Maak seker dat jy self vergifnis ontvang het deur Jesus Christus en neem ‘n besluit voor God om alle oortreders in jou lewe te vergewe. (Onthou dis ‘n besluit en nie ‘n gevoel nie!) Moenie dat jou gebede en inderdaad jou reis na die koninkryk oor die laaste hekkie struikel nie! Moenie teen ‘n plafon vasbid nie!

* Dr Jakob van Bruggen, Matteüs - Het evangelie voor Israël