BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sesde gebod. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sesde gebod. Wys alle plasings

Donderdag 25 Julie 2024

ERNSTIG - DIS 'N HALSMISDAAD

 IN GOD SE KONINKRYK!




Baie mense loop met ‘n skewe idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was, maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te wees nie.  En verder, so word geredeneer...Paulus stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n  ander vrou loer en die kat in die donker knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na die onskuldige boeredans...)

Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.

Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20) 

"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."

Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en  het God van my gehou.

Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal.  Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus  bring die  Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper!  Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)

Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :

 “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. 

“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.

“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.

Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.

Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond. 

Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en  woede.  Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.  

Die punt is - Volgens Jesus  is ’n  slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n  saak vir die hoogste regbank en verdien dit ’n  vonnis wat verder gaan as die hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor vir die hel is.

Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers! 



 WAT NOU?

Besef ek en jy die erns van Jesus se lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening! Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat  gewoond was aan offers en geweldig onder die indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na heiligskennis/lastering  klink. Jesus wil hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?

Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!

Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.  

Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!

Saterdag 11 Julie 2015

WAT VAN DIE WET?

- moet ons nog daaraan aandag gee?

Het die wet/die Tien Gebooie* nog iets vir ons te sê? Die wet is mos deel van die Sinai verbond wat tussen God en sy volk by Sinai op die trekpad uit Egipte gesluit is. Moses het dit self van God ontvang. Raak dit ons, want ons leef mos nou in die bedeling van die genade, van die Nuwe Verbond? Jesus se antwoord is : “JA.” Maar dis ‘n baie gespesifiseerde JA. 

Ja, die wet geld vir ons soos Jesus dit aktueel gemaak het. 


Ons kyk na die wet deur die vergrootglas van Jesus se woorde en werke. Jesus herinterpreteer (gee nuwe betekenis), intensiveer (maak dit skerper en dieper) en internaliseer (maak dit deel van jou binneste) die wet. Hy het die volmag daartoe.  Matteus teken Hom juis in die bergrede as die nuwe Moses, die totstandbringer en wetgewer van God se Koninkryk!

Kom ons kyk hoe Jesus dit doen: 

“Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. 

As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, 

laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. 

Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. 

Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie. 

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. 

As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 

En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 

(Matteus 5:21-30)

Die bostaande voorbeelde maak dit mos baie duidelik. Die gebod oor moord pleeg gaan nie net oor fisiese doodmaak nie, maar raak alle negatiewe en skadelike woorde en dade teenoor my medemens. Ja, om vir iemand uit te kryt as, “Jou stupid ding!” klink soos moord in God se ore! Die konsekwensie van Jesus se toepassing van hierdie gebod is dat elkeen wat vandag eerlik is voor God moet erken : “Here, ek is skuldig aan moord! Vergewe my en wees my genadig! O, God ek bekeer my van hierdie dinge!”

Net so gaan die gebod oor egbreuk nie net oor ‘n fisiese daad van egbreuk nie, maar dit veroordeel alles wat daartoe lei en als wat maar net die eerste stap in daardie rigting is. Weereens, die konsekwensie van Jesus se toepassing van hierdie gebod is dat elkeen wat vandag eerlik is voor God moet erken: “Here, ek wis skuldig aan onreinheid en egbreuk! Vergewe my en wees my genadig!” As ek hierdie gebod ernstig opneem sal ek ook weer nuut dink oor watter klere ek dra, watter liedjies ek na luister, watter flieks ek na kyk... Neem drastiese stappe om hierdie sonde teen te staan... gooi weg, skakel af, kyk ander pad, los uit!

DIE NUWE VERBOND

Wat Jesus oor die wet leer is natuurlik ‘n vervulling van die belofte rondom die Nuwe Verbond. Luister na Jeremia 31:31-33. “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.”

DEUR DIE WEDERGEBOORTE WORD GOD SE WETTE INGEWEEF IN ONS GEWETE.

Die volk Israel was nie in staat om God se gebooie te onderhou nie. En dis 'n ernstige saak... Die wet was immers die konstitusie, die kontrakvoorwaardes van die Sinai verbond. Israel het dus die verbond oortree en die straf van God vir hulleself op die hals gehaal. Daarom is hulle uit hulle land uitgedryf en moes in ballingskap en ellende leef. Maar die profete het toe ‘n Nuwe Verbond voorspel. Dit is in Jesus vervul. Hy het die straf vir die oortreding van die wet op Hom geneem. Maar Hy het ook iets meer gedoen. Volgens die Nuwe Verbond gee Hy aan ons nuwe harte, harte wat vrywillig onderworpe is aan sy wil en sy wense graag wil uitvoer. Of anders gestel, Hy skryf nou sy wet in ons harte. Sy wette word nou deel van ons geheiligde gewete.** Die wet is nie bloot ‘n uiterlike klomp reëls wat ons dikbek moet probeer hou nie. God se wet, God se wil word nou deel van ons nuwe begeertes. Dit word ‘n verlustiging van die nuutgemaakte mens. Hierdie nuutmaking noem ons die wedergeboorte. Hierdie wedergeboorte behels dat God se Gees nou in ons woon. Dis ook deel van die vervulling oor die Nuwe Verbond soos ons dit in Esegiël 36:25-28 aantref : “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.”

Kom ons raak baie prakties: Wat sê die wet en by name die Tien Gebooie nou vir ons? Ten minste twee dinge:

Die radikale toepassing van die wet deur Jesus ontbloot ons sondigheid. Dit laat ons die boosheid van ons eie harte besef. Dit maak ons bewus van ons behoefte aan genade, ja aan ‘n Verlosser! Dalk het jy dit nog nooit voorheen besef nie. Dan kan jy miskien vandag voor die Here erken: “Ek, ja ek is ‘n moordenaar, ek is onrein, ek is ‘n leuenaar of ‘n dief, ek is 'n egbreker, 'n onreine... Ek het Jesus nodig as die persoonlike Verlosser van my sonde!” Vriend, kom na Hom toe met jou gebrokenheid...

Die wet soos Jesus dit geleer het gee ook vir ons ‘n duidelike standaard oor hoe om as dankbare verloste mense te leef. Genade en vergifnis is heeltemal verniet, maar diegene wat dit regtig ontvang het, moet en sal radikaal anders leef en wil leef! Soveel mense het ‘n valse sentimentele geloof: “Ja, ek is lief vir Jesus en ek leef soos ek wil, alles sal OK wees!” (Dis die tipiese houding van die Progressive Christianity) Dis ‘n helse leuen wat tot die hel sal lei! Jesus verlos ons van ons sonde om nuut en anders te leef. 

Hoe lyk hierdie andersheid? Dis ‘n lewe van radikale liefde, heiligheid en gehoorsaamheid soos wat Jesus self geleef het. Jesus, sy woorde en sy lewe self is eintlik die vergestalting van die wet. Jesus is ons Tora! Jesus en wet staan nie teenoor mekaar nie. Jesus het die wet kom sigbaar maak volgens sy diepste bedoeling. Om Jesus lief te hê is nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar juis om erns te maak met al sy gebooie en opdragte! "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15) Dit sluit ook die radikale opdragte volgens Jesus se interpretasie van die Tien Gebooie in!

*As ons die woord “wet” hoor is ons geneig om eksklusief aan die Tien Gebooie te dink. Die term wet, oftewel Tora, sluit natuurlik die Tien Gebooie in, maar omvat eintlik die eerste vyf boeke van die Ou Testament.
** Fr. "...j'inscrirai mes instructions non plus sur des tablettes de pierre, mais dans leur conscience..."


Dalk wonder jy nog. Wat van die Sabbat en die voedselwette? Dieselfde beginsel geld. Ons kyk ook na daardie wette deur die vergrootglas van Jesus se afgehandelde werk en sy duidelike lering...  Kliek op: STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?





Jy is vry om "smiley"  te eet of nie, die wet gaan oor die hart...