BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Samuel Rutherford. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Samuel Rutherford. Wys alle plasings

Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...



Woensdag 07 Maart 2012

BEHOU JOU BLYDSKAP OPPAD NA DIE BESTEMMING

- ja, jy my broer en suster in die Here wat nou beproef word!

Jy het dit seker al self beleef. Die oggend vroeg as ons op reis na ons vakansie bestemming vertrek is almal opgewonde, bly en vol grappies. Maar soos die reis vorder, die pad lank word, die probleme opduik (pap wiele, stout kinders, boetekaartjies...) raak die opgewondenheid minder, en waai die blydskap sommer maklik by die venster uit. Dis nou maar so : krisisse, moeilikheid en swaarkry laat mense se blydskap kwyn.

Wat nou van ons pelgrimsreis na ons God beloofde en God bewaarde erfenis? (Sien VEILIG IN DIE HEMELSE BRANDKLUIS) Dis nou maar 'n feit,  ons reis as vreemdelinge deur hierdie wêreld is vol moeilikheid en swaarkry. Beteken dit nou ook dat ons sonder blydskap en vreugde moet voortstrompel?  Moet pelgrims na die hemelse Vaderland deur permanente neerslagtigheid, vreugdeloosheid en droefgeestigheid gekenmerk word?

Petrus maak dit baie duidelik. Dis definitief nie die geval nie. Maak nou eers oop by 1 Petrus 1:6-9. En onthou hy skryf vir Christene wat die moeilikheid en swaarkry aan hulle eie lyf gevoel het. Petrus verwys na hulle God bewerkte verlossing en God gewaarborgte erfenis en verklaar : “daarin verheug julle julle, al word julle nou...” (Vers 6 OAV) Dit kan ook vertaal word met “in Hom”.  Dit gaan dan hier oor ’n blydskap nie net oor dit wat God deur Christus vir ons gedoen het nie, maar oor Christus self deur wie ons deel kry aan die seëninge (in vers 8 word dieselfde werkwoord gebruik in verband met Christus)

Die merkwaardige en die vreemde van hierdie blydskap is dat dit voortduur ten spyte van die feit dat ons bedroef word deur allerhande beproewinge tydens ons pelgrimsreis. (Dit kan ook as opdrag vertaal word - sien NAV) Hoe dit ook al sy - die groot saak om raak te sien is dit :

Christen blydskap is ’n blydskap ten spyte van swaarkry en beproewings.


Christene hoef nie maar net op hulle tande te byt tydens hulle geloofspad nie, nee ons kan ons reis met blydskap aanpak en voltooi. Die Christen se blydskap is iets uniek. Ja, alle mense ervaar blydskap as daar lekker dinge gebeur of dit goedgaan. Maar dit verdwyn net so vinnig as die lekker verby is. ’n Groep bankrowers is ook bly oor ’n vet buit. (Totdat hulle stry kry oor die verdeling daarvan, of gevang word....) Christen blydskap het ’n dieper fondasie as ons omstandighede. Petrus bespreek hierdie fondasie van voortdurende vreugde. Hy gee vier redes waarom hierdie Christene nie net hulle verdrukking kan verduur nie, maar inderdaad bly kan wees te midde van hulle swaarkry:

~ Die eerste rede is dat ons verdrukkinge en beproewinge net tydelik is, terwyl ons hoop en Christus vir ewig is. Ons lyding vir nou is kort. (5:10) Dit kan dus nie opweeg teen die oneindige heerlikheid wat wag nie. In die lig van hierdie feit kan ons bly wees. Dis ’n logiese som (ja, basiese wiskunde kan jou selfs in jou geloofspad help!) : ons heerlikheid gaan oneindig langer duur en groter wees as ons swaarkry! Selfs Jesus het tydelike lyding verduur, ter wille van die vreugde wat vir Hom gewag het. Hy het dus ook hierdie som gemaak. (Hebr. 12:2) Paulus maak dieselfde tipe berekening in sy Romeine brief. (Lees beslis Romeine 8:18)

~ Hierdie verdrukking is tot ons voordeel. Ernstig? Ja, dis nie maar net iets wat nou gou verby moet kom nie, dit het ’n heerlike en noodsaaklike doel. Hoe so? In die vorige verse verduidelik Petrus hoe God ons bewaar vir die saligheid. Nou hoe doen Hy dit prakties? Langs die weg van ons geloof. Dit is dus belangrik dat ons geloof aktief sal bly, gesond sal wees en volhardend volgehou sal word. Ons geloof moet in oefening bly sodat dit nie soos ’n ongebruikte spier atrofeer nie. Ons geloof moet aanhou tot die einde van ons pelgrimsreis. Daarom is dit voordelig dat ons geloof getoets en versterk sal word. Die manier hoe ons geloof versterk word en die egtheid daarvan getoets word is juis deur beproewings. Gesuiwer van valse motiewe en bybedoelings. Daarom moet beproewings ons nie verbaas of aan God se liefde laat twyfel nie. Beproewings word deur God beplan en gestuur, sodat ons geloof en vertroue in Hom versterk en geoefen kan word. (Geliefde in die Here, jou beproewings is nie toevallige wrede noodlot nie! God werk met jou!) Daarom is beproewings iets waaroor ons eintlik bly moet wees! Miskien sal iemand sê : “Wag bietjie, sal al my beproewings nie juis my moed laat verloor en my geloof vernietig nie?” Nee, dis nie die geval nie. Ons geloof is soos goud in ’n smeltoond. Vuur vernietig nie goud nie, maar brand net die onsuiwerhede weg. Die vuur van beproewings sal nie ons geloof verwoes nie, maar net suiwer. (En daar is meer onsuiwerhede as wat ek en jy dalk dink) In die vuur van beproewings en swaarkry word al ons hoogmoedige vertroue op onsself weg gebrand en word ons net al meer in die arms van ons Verlosser gedryf. Soos ons vertroue in onsself en ons bates vernietig word, so word ons al meer aangewese op ons Verlosser. Juis dan is ons veilig, juis so volhard ons!

~ Jesus gaan ’n einde bring aan ons beproewings deur heerlike beloning. Hy is deeglik bewus van ons beproewings. Hy hoor jou snikke en sien jou trane. Dit gaan nie ongesiens by Hom verby nie - Hy vang ons trane op in ’n kruik. (Ps 56:9) Vir almal wat nou beproewing moet verduur ter wille van hulle geloof wag daar ’n kroon van heerlikheid. (5:4) Ons geloof sal in daardie dag as kosbaar bewys word, dit sal blink soos suiwer egte goud. Gesuiwerde egte geloof sal lei tot die ontvangs van lof, eer en heerlikheid. Deur ons egte geloof sal ons deel in die heerlikheid van Christus by sy finale verskyning. (vgl. 5:1)

~ Deur volhardende gesuiwerde geloof sal ons eer, lof en heerlikheid aan God bring! Dit maak die huidige beproewings die moeite werd en selfs rede tot blydskap Die lof, eer en heerlikheid (Vers 7) verwys moontlik nie na dit wat ons ontvang nie, maar dit wat God ontvang as gevolg van ons gesuiwerde getoetsde egte geloof. Die twee sake staan in elke geval nie teenoor mekaar nie. Wanneer ons die krone van heerlikheid ontvang sal dit ons grootste vreugde wees om dit aan die voete van Christus te werp. (Openb 4:9-11) Prakties : as ons besef dat ons lyding en verdrukking eer bring aan ons Verlosser dan word dit nie bloot ’n draaglike saak nie, maar ’n saak van blydskap. Geliefde kind van God, jy kry nou baie swaar, jy word beledig en vervolg, jy huil party dae van moedeloosheid, maar jy kan weet deur jou volhardende vertroue op God ten spyte van jou ellendes bring jy eer aan God. Dit moet jou blymaak, want jy is besig met die grootste saak waarmee ’n mens kan besig wees. Dis dalk moeilik om te verstaan, so laat ek dit met ’n voorbeeld verduidelik.

’n Pa laai sy seun by die rugbyveld vir die middag se oefening af met die belofte : “Wag net hier, ek het heelwat sake om af te handel, maar ek kom jou beslis haal. Die tyd stap aan. Die rugby oefening is lankal klaar. Pa daag net nie op nie. Die seun weet nie wat gebeur het nie (dis nou die tyd voor daar selfone was), maar hy glo vas dat daar ’n rede vir die vertraging moet wees en dat sy pa hom definitief nie in die steek sal laat nie. Die ouers van ander kinders kom daar verby en bied ’n geleentheid aan, maar die seun weier dit! “Ek weet my Pa sal kom. Moenie oor my bekommerd wees nie, hy hou altyd sy woord.” Die ander mense hoor dit en so kry die pa eer deur die seun se onwrikbare positiewe vertroue. Ek en jy bring in moeilike omstandighede eer aan God as ons aanhou om Hom te vertrou. Hierdie harde tye moet ons dus blymaak, want dis ’n geleentheid om in die oë van die wêreld, God se naam hoog te hou!
Om saam te vat :

Beproewing en toetse, swaarkry en stryd is nie altyd vir ons lekker nie, maar dis sinvol. Dis sinvol al verstaan ons dit nie. So sinvol dat ons bly kan wees vir die redes wat Petrus hier noem.

Wat Petrus hier sê is nie blote vrome woorde wat vêr van die praktyk verwyder is nie. Dis prakties waar - deur beproewing kry ons geloof noodsaaklike oefening. Die Skotse Godsman, Samuel Rutherford maak die volgende stelling in een van sy briewe. “Grace grows best in winter!” Hy het hierdie briewe, wat vandag nog gelees word, tydens sy gevangeneskap geskryf. Hy het die kosbaarheid van Jesus self op besondere manier in hierdie tyd beleef. Dink mooi daaroor, wanneer vlug ons dieper in Christus in, wanneer gryp ons vaster deur die geloof aan Hom, wanneer kom daar toewyding in ons geestelike lewe en nederige onderwerping aan God se wil? Dis.....wanneer ek en jy getoets word in die bitter winters van beproewing. Dank God dat Hy op so ’n manier met sy kinders besig is. Daarom kan ons bly wees, altyd..., al is dit dan ’n blydskap onder trane...