BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Glansganse. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Glansganse. Wys alle plasings

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7


Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...

Maandag 31 Augustus 2015

HUISGENOOTLIEFDE HOU NIE!

- want ware liefde gaan oor harde werk en nie gevoelens nie.

Die soveelste glanspaartjie gaan weer skei, lig die media ons in. Dis eintlik lagwekkend as dit nie so tragies was nie. Dit volg nou 'n al te bekende patroon. Hierdie "celebrity" aandagvrate adverteer hulle liefde graag op die voorblad van die HUISGENOOT of dergelike skindermedia en geniet elke greintjie publisiteit (met die gewone paar druppels Christelike sousie daarby), maar as dinge nie lank daarna nie skeefloop, vra hulle ewe formeel en ernstig dat hulle privaatheid gerespekteer word. Nou hoe dan nou?



Hierdie hartseer dilemma van huwelike wat sommer net links en regs gesluit en ontbind word is te wyte aan die skokkende onkunde oor wat LIEFDE beteken. Die media fokus op die "glamour" en gevoelsaspekte van die liefde. En dis ongelukkig waar mense (en veral ons glansganse) hul idees van liefde kry. En ja, natuurlik soos die gevoelens kom en gaan, waai die kastige "liefde" by die deur uit en kry die huweliksmaats die trekpas. 

Die Woord van God skets vir ons 'n heel ander prentjie oor die LIEFDE :

Liefde is nie bloot 'n gevoel nie, liefde is om dinge anders te doen!

Die mens wil net leef soos hy voel en nie meer soos wat God beveel nie! Dis die kern van die probleem.

Gaan lees maar weer die tydlose en weergalose beskrywing van die liefde in (kliek op) 1 Korintiërs 13. Werk dit gerus deeglik deur...

As jy haastig is, onthou maar net solank hierdie twee dinge:

~ Die liefde blom juis in slegte omstandighede. As daar moeilikheid is, kom die liefde die beste na vore. Let mooi op, al hierdie praktiese fasette van liefde soos beskryf in 1 Korintiërs 13 veronderstel ’n negatiewe situasie. Wanneer moet die liefde ’n besluit neem om geduldig te wees? Juis wanneer ’n situasie ontstaan wat my normaalweg ongeduldig sou maak. Wanneer is dit juis nodig om te kies vir vriendelikheid? Juis in 'n opset waar die ander persoon nie vriendelik met my is nie. Wanneer moet ek 'n besluit neem om nie boek te hou van die kwaad nie? Juis wanneer die ander een wel aan my kwaad gedoen het, neem ek in gehoorsaamheid aan God 'n besluit om dit nie weer op te haal en my maat daarmee te gooi nie... So kan mens aangaan...

~ Is dit realisties moontlik om liefde te "doen" en bo my gevoelens uit te styg? Ja, net as die Heilige Gees in jou woon. Menslike krag en selfdissipline is nie genoeg om waarlik te kan liefhê in alle omstandighede nie. Hierdie liefde is ’n vrug van die Heilige Gees. Dit behels selfbeheersing en selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees. ’n Mens ontvang eers die Heilige Gees as jy wedergebore is, as jy ’n kind van God geword het. Die opdrag tot liefde is ‘n eksklusiewe opdrag aan God se kinders.

Dis net die kind van God wat liefde verstaan en liefde kan uitleef. Die Heilige Gees in jou maak dit moontlik! En ja, as ons gefaal het en aan die Heilige Gees ongehoorsaam geword het, kan ons ons sonde van liefdeloosheid bely en weer opstaan en aangaan om liefde te bewys... Ons hoef nie te skei nie!

Is gevoelens en emosies dan nou heeltemal onbelangrik of oorbodig? Nee, natuurlik is dit belangrik. Maar as daar nie gevoelens is nie, beteken dit nie die liefde is nou onmoontlik of finaal weg nie. Begin met daadliefde, begin dinge anders doen in gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees en positiewe gevoelens sal ook mettertyd terugkeer. Kom ons stel dit baie positief - jy hoef nie eers te wag vir gevoelens om te kan liefhê nie. Jy kan nou begin met die praktiese liefde en die gevoelens sal na hulleself omsien...

STERKTE MET DIE LIEFDE, DIS HARDE WERK!





Dinsdag 14 Februarie 2012

SIEK EN SAT VIR "CELEBRITIES"

Ons liggame verduur ongelukkig baie tipes besoedeling. Dis lugbesoedeling, waterbesoedeling, geraasbesoedeling... en vele meer. Nog erger en dalk met erger gevolge is die “Celebrity besoedeling” waarmee ons sintuie en siele gepynig word! Tot satwordens toe, word ons gebombardeer met sepiesterre, sangsensasies, rugbyreuse en politieke ikone en wie weet watter ander glansganse se onbenullige lewensbesonderhede en onbybelse lewensbeskouings! Nou dat die Woord van God grotendeels sy plek in ons volkslewe verloor het, is hulle die groot lewenskenners en beraders! Ons word opgesaal met hulle skandes en skeisake, hulle hofgedinge en bekgevegte! Om een of ander rede is hulle babas mooier, hulle hartsere belangriker en hulle sondes sappiger as ons gewone sterflinge s’n. Dit moet eenvoudig op die voorblaaie... (Nou ja, Huisgenoot se joernaliste moet seker ook eet...)

Op ’n ernstiger noot. Waarom dink ek behoort ’n Christen nie mee te doen aan Celebrity verering nie? Oorweeg en bedink die volgende :

Die “Celebrities” het die de facto gode van ’n groot deel van die Afrikanervolk geword! (en seker die meeste ander Westerse gemeenskappe) Wat hulle sê is belangriker as wat God in sy Woord beveel. Hulle bly mos ons mense se helde al minag hulle God se opdragte deur hulle onsedelikheid en lastering. Die “Idols” kompetisie is eintlik ’n baie raak beskrywing. Arrogante mensgemaakte afgodjies. Om enige mensgemaakte god te vereer is ’n gruwelike sonde wat God se toorn oproep. Dis ’n konkrete voorbeeld van die verering van die skepsel in plaas van die Skepper! (Romeine 1:25) Laat ons net weer onthou : God deel sy eer met niemand nie. Dit moes koning Herodus op die harde manier leer toe hy wurmkos geword het! (Handelinge 12:22,23) Is dit dan snaaks dat soveel van Suid-Afrikaners se afgodjies baie hard van hulle troontjies afgestamp word?

Die “Celebrities” teken vir ons ’n valse defenisie van sukses en geluk. Hulle is die mense wat nou kastig die “lewe” ervaar! Hulle het so ongemerk ons (en ons kinders se) rolmodelle geword. As ons motors, huise en lywe nie soos hulle s’n kan lyk nie, voel ons soos mislukkings. Die Celebrities met hulle blink motors en (skamelgeklede) blink lywe propageer egter ’n boodskap wat direk indruis teen die Bybelse boodskap van wêreldversaking. (1 Johannes 2:15-17; Jakobus 4:4) “Lewe” is om God te ken en is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie!

Die “Celebrities” kom weg met “moord” en maak ons gewoond aan morele verval as aanvaarde norm. ’n Celebrity mag maar ’n roekelose rokjagter met ’n rekord van ‘n streep gebroke vroue (en buite egtelike kinders) wees! En selfs ’n Christelike radiostasie speel nog steeds sy musiek! Solank ’n Celebrity kan sing of drieë druk bly hulle mos ons helde! En so geleidelik het hulle optrede ’n groot rol gespeel om sondes soos homoseksuele lewensstyle, huweliksontrou, losbandigheid (saamblyery) en materialisme aanvaarbaar te maak!

Die “Celebrities” en hulle media meelopers is sensasiebeluste geldjagters wat ons “besteel”. (En hulle vang ons so maklik). Hulle ken die kuns om na ’n koerant of tydskrif te hardloop met ’n tranetrekker skinderstorie as die geld om hulle uitspattige leefstyle voort te sit bietjie min word. (Of skryf ’n niksseggende voortydige outobiografie!?) Hulle weet baie goed om kunsmatig ’n mark te skep vir nuuskieriges wat bereid is om te betaal vir die bevrediging van daardie nuuskierigheid. Dis ’n skreiende aanklag teen die agteruitgang van ons waardesisteem, dat ons bereid is om miljoene Rande aan vermaaklikheidsterre te bestee, maar daar is nie geld beskikbaar vir ordentlike onderwys in ons land nie.

Die “Celebrities” verkondig ’n verdraaide evangelie. Die gevaarlikste “Celebrities” is nie die wat openlik goddeloos is nie, maar die wat slim genoeg is om ’n Christelike sousie oor hulle beeld te gooi en so die harte te wen van liggelowige Christene. Dis kom neer op die uitbuiting van die (oorblywende) Christelike sentimente van die Afrikaner. By nadere ondersoek is dit duidelik dat hulle idee van Christenskap nie strook met die Woord nie. Die variasie van Christenskap wat hulle aan ons opdis gaan hand aan hand met gewildheid, rykdom en mensgesentreerde sukses! O, en kerke nooi hulle so graag vir praatjies! En inderdaad is dit leë praatjies! Kom niemand dan agter dat Jesus nie met hierdie tipe Christenskap versoen kan word nie? Hy was nie gewild nie, maar verworpe, nie ryk nie, maar arm... in die oë van die wêreld eindig sy lewe in die grootste mislukking, die skandedood aan die kruis! Ons word opgeroep om saam met Hom as uitgeworpenes buite die laer te ly en sy smaad te dra! (Hebreërs 13:13,14)


Dis dalk tyd dat Jesus se volgelinge duidelik laat hoor : “Ons is siek en sat vir Celebrities!” Dis tyd dat ons eerlik raak oor morele naaktheid en waag om te sê : “Die keiser(s) is kaal!” Ons moet hulle raaksien vir wie hulle is, mensgemaakte afgode! En ons moet bely (ek ook) : “Here vergewe ons dat ons so maklik mense op ’n troon plaas of onsself met hulle ongeregtighede besoedel!

Skryf ek nou alle “Celebs” af? Is alle glansganse gans en al af te skryf? Natuurlik nie! Ook vir hulle is daar genade, as hulle hulle bekeer! Kan ons alle openbare figure onder dieselfde kam skeer! Nee, ek glo nie so nie, orals kry mens God se kinders. Hy alleen ken die harte.

Maar dis wel baie duidelik : Die kind van God moet ver bly van die Celebrity kultuur en verering. Die Woord van God lei ons direk in ’n teenoorgestelde rigting as ons lees :

“Skaar julle by die nederiges...”
(Romeine 12:16)