BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 25 November 2014

STEVE EN DIE STEM


- ‘n persoonlike perspektief. 

Die sing van die DIE STEM is die afgelope tyd ‘n gewilde onderwerp van debatvoering wat emosies nogal sterk opjaag. Behoort dit omstrede te wees? Die lied, wat ‘n pragtige gedig is, bevat ongetwyfeld opsigself geen rassisme of haatspraak nie. Natuurlik hou dit weens verstaanbare redes vir sommiges ‘n negatiewe klank en nasmaak in. Natuurlik is dit ‘n vraag of dit wys is om in die sensitiewe Suid-Afrikaanse situasie daarvan ‘n issue te maak. Steve Hofmeyr moet maar eers seker maak of hy die Afrikaner se saak regtig bevorder... Aan die ander kant is ‘n oorgevoelige gedienstigheid ter wille van politieke korrektheid ook seker ‘n pyn...

Ek persoonlik het egter ‘n heel ander rede hoekom ek bedenkinge (of ten minste huiwering) het oor die sing van DIE STEM.

Vrydag 21 November 2014

UITGEWIS!

- Dis die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het. 


“Uitgewis!” Dis ‘n baie sterk woord. As ’n mens iets of iemand uitgewis het, bly daar niks van oor nie! ‘n Vyand wat uitgewis is, is totaal vernietig en verdelg! Dink nou net bietjie as God iets uitgewis het.... wat word daarvan? Wat bly oor? God se daad van uitwissing is finaal, volkome, volledig. Nou hoor ons dat God ons sondes uitgewis het... 

“Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) 

Drie sake vra ons aandag: 

1) Die werklikheid van ons sonde. Die aaklige realiteit van sonde is ‘n onontkombare feit. Dis groot, dis baie, dit het tragiese gevolge. In jou eie lewe en in ander mense se lewe. Ons kan nie ons sonde wegredeneer nie, dis daar. Dis erg, dis baie - ’n skrikwekkende lang lys vol bedrog, valsheid, dade teen medemense (selfs ons eie geliefdes)... en dan praat ons nie eers van verkeerde gedagtes, motiewe, gesindhede... Ja, wat dit veral erg maak is dat alle sonde, sonde teen God is*. Die gevolge is afgryslik. Dis inderdaad ’n donker dik wolk wat oor ons hang en ons hele lewe negatief beïnvloed en tot in die ewigheid strek. Dit belemmer en befoeter ons verhouding met God en naaste en selfs ons omgewing op alle vlakke. ’n Donker wolk wat keer dat ons nie die strale van God se heerlikheid kan raaksien en waardeer nie - vat ons blydskap weg, ’n donker wolk wat verhoed dat ons die warmte van God se liefde kan voel skyn dit laat ons vrees, donker wolk. Hierdie donker wolk voorspel vir ons dat daar enige oomblik ’n storm gaan losbars, die toornige storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie. Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer dit : 

Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan die lig sal kom. 

Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg), ek knyp net die kat in die donker! 

Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...” 

Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg my soos ’n skaduwee. 

Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening! 

Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer? 

Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring! 

God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt: 

2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg. God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**

God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding, sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk... Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis! Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal! “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is verbode)

3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk. ’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai. Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge moet dra.

Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:

~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie. Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus! “Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.

~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding, wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie.  Mag hierdie kragtige uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!



*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”

**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."

[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]


In die diepte van die see...

Donderdag 20 November 2014

TE MIDDE VAN CHAOS EN GEWELD

- bou Jesus sy kerk!

God works in the Middle East! Dieu travaille au Moyen-Orient! In hierdie dae van onbeskryflike geweld, verwoesting en hartseer in die Midde Ooste is God aan die werk. Die smart, lyding en ontwrigting blyk 'n vrugbare groeibodem te skep vir die saad van die Woord! Ook Moslem harte word aangeraak. (kliek op GOD WERK IN DIE MIDDE OOSTE ,  Moyen-Orient)

Ons wat geografies en kultureel vêr van die mense in Sirië, Libanon, Irak ensovoorts verwyderd is kan maklik koud en apaties teenoor die nood daar staan. "Laat die Arabiere mekaar maar gas gee," dink ons onverskillig...  Kom ons besef weer, daar is Christene wat ly, maar wat ook juis in hierdie onstuimige tye geleenthede benut om liefde aan noodlydendes te bewys en die evangelie van Jesus te verkondig en te leef! Mag ons nie vergeet om vir hulle te bid nie!


Maandag 17 November 2014

MOET ONS MEISIES ALLES WYS?

Mag 'n meisie als wat sy het wys aan almal wat wil of ook nie wil kyk nie? Het sy iets om weg te steek? 

Maretha Maartens herinner ons onder andere aan :




"Wanneer iets met sorg bedek word, is die een wat dit bedek, nie noodwendig skaam daarvoor nie. Soms word iets bedek omdat dit te kosbaar is om oop en bloot te lê..."

"Wanneer iets kosbaars vertoon word, word dit aan iemand vertoon met 'n doel. Ons maak die juwelekissie vir die waardeerder oop, sodat hy vir ons kan sê wat dit werd is. Ons haal ons borsspleet onder die halsyn van ons toppie uit om die aandag van mense op ons seksuele begeerlikheid te vestig. Soms doen ons dit sommer in die mall in plaas van die slaapkamer."
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iet

  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
Baie sinvolle skrywe van Maretha. Kliek op ALLES WYS? vir haar baie raak en gepaste konklusie!


NASKRIF Dit bevestig net weer die dwase roekeloosheid van SKOONHEIDSKOMPETISIES. Kliek op SNEEUWITJIE!

Vrydag 14 November 2014

STOP DAARMEE!

- REGUIT RAAD VIR ELKEEN WAT SUKKEL MET SONDE.  

“Ek sukkel met sonde. My sonde maak my moedeloos! Ek voer 'n jarelange stryd teen...” Dis die versugting van baie kinders van God. Die kind van God het inderdaad ‘n stryd teen sonde. Dit weet ons almal uit eie ondervinding en die Bybel praat ook baie daarvan. Die vraag is net, is daar raad vir hierdie stryd, is daar oorwinning? Of moet ons soos baie mense skuil agter die verskoning van “ons is maar net swakke mense”? 

Die Apostel Paulus gee baie duidelike reguit raad oor die stryd teen sonde onder andere in Efesiërs 4:17-5:5. (Maak gerus jou Bybel daar oop) Of anders gestel, hy verskaf duidelike opdragte oor die proses van heiligmaking. Voor ons daarna kyk moet ons net eers seker maak met wie hy hier praat. Hy praat nie met alle mense nie, maar met mense wat reeds kinders van God is. Wedergeborenes! “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.” (5:1) Ja, hulle was heidene, maar is mense wat nou Christus leer ken het. “Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.” (4:20,21) Die oplossing wat Paulus hier gee vir die probleem van sonde is dus ‘n oplossing wat bedoel is slegs vir mense wat reeds aan Jesus Christus behoort. (As jy nog buite Jesus staan, ‘n onbekeerde is sal dit jou niks help nie. Dan woon die Gees nog nie in jou nie en is jy magteloos teen sonde en ‘n slaaf daarvan. Dan is die enigste raad bekeer jou en glo in die Here Jesus!)

SKYNOPLOSSINGS

Voor ons by die Bybelse raad van Paulus kom wil ek net twee valse sienings van heiligmaking uitwys wat baie verwarring en ellende onder opregte Christene veroorsaak :

1.Sommige sien heiligmaking as ‘n eenmalige bonatuurlike ervaring.* Net soos regverdiging/vryspraak, inderdaad ‘n eenmalige gebeurtenis is beskou hulle heiligmaking as een daad of belewenis. In ‘n krisisoomblik ontvang ek dan heiligmaking en betree ‘n “dieper lewe.” Dis egter baie duidelik uit hele Nuwe Testament – heiligmaking is ‘n voortdurende proses. Dit gaan oor die voortdurende doodmaak en uitroei van sonde! (Vgl. Romeine 8:13,)

2.Sommige sien heiligmaking as iets passief – dit word soms verwoord in die uitdrukking : “Let go and let God” Jy hoef niks te doen nie, laat net toe dat Jesus deur jou leef en besluite neem. Soos die passiewe mistisisme wat verkondig is deur (kliek op) Hannah Whitall Smith en deel was van die Keswick Teologie. Hierdie lering druis direk teen die Skrif in wat sê : “werp alles in die stryd...” (2 Petrus 1:5ev; Filippense 2:12) Die Bybelse lering is dat die kind van God, ‘n mens is wat nou die Heilige Gees binne in hom het. Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons die krag waarmee ons teen versoekings, sonde en satan kan baklei!

[Baie aanhangers van bogenoemde teorieë is uiters opregte Christene wat smag na ‘n heilige lewe. Hulle kom bykans by elke heiligheidskonferensie na vore vir ‘n “oorgawe”, omdat hulle nie die Bybelse lering oor heiligmaking verstaan nie. Ander word moedeloos van “wag” op een of ander bonatuurlike ervaring wat hulle in ‘n baan van geestelike oorwinning sal inslinger...]

NIE BID NIE, MAAR : STOP! STOP! STOP!

Nou watse raad het Paulus vir Christene wat sukkel met sonde? Baie prakties, kort en kragtig : HOU OP! STOP! “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (4:22-24) Nie, "gaan bid daaroor" nie, net - Stop daarmee! Geen lang verduidelikings nie. Paulus gee ook geen simpatie nie, maar ‘n opdrag! (So baie mense wil raad hê oor geestelike probleme, maar wat hulle eintlik soek is simpatie. Hulle wil graag hoor hulle sonde is nie so erg nie, of nie hulle eie skuld nie, maar die sameloop van omstandighede. As hulle dit nie kry nie, word hulle sommer kwaad vir die kerk...) Paulus sê eenvoudig : Stop met die verkeerde dinge en vervang dit met die regte dinge. Lê die ou mens af en beklee julle met die nuwe mens! (OAV) Om ‘n paar praktiese voorbeelde te noem : Stop met steel en begin werk. (4:28) Stop met vuil praatjies en sê eerder dinge wat mense kan opbou.(4:29) Stop met bitterheid en woede en vergewe mekaar. (4:31,32)

Begin eenvoudig om as Christen, wat reeds vergewe is, wat reeds Jesus se liefde ondervind het, die opdragte van God in die Nuwe Testament te gehoorsaam. “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” (5:2) Jy het geen verskoning om meer soos ‘n heiden in onsedelikheid, gierigheid, vuil praatjies en dergelike dinge voort te ploeter nie! Jy moet hoegenaamd niks meer daarmee te doen hê nie! (Kan jy nog ongestoord na jou immorele sepies kyk? Kan jy in ‘n saambly verhouding voortleef? Onmoontlik!)

KAN NIE OF WIL NIE?

Jy sê : “Ek kan nie. Dis juis my probleem. Ek is maar net ‘n mens. ” Is dit regtig waar of is dit dalk eerder : “Ek wil nie?” Waarom stop ons nie met dit wat God duidelik nie van hou nie? Ons besef nie die erns van die saak nie! Ons hou maar aan met ‘n bepaalde sonde, want ons besef nie die skrikwekkende konsekwensies nie!

Wat is die vreeslike gevolge van voortleef in sonde? Paulus noem twee dinge:

Jy bedroef die Heilige Gees! “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (4:30) Dis iets vreesliks! Die Gees van God wat in jou woon word hartseer. Hy word hartseer omdat Hy in ‘n verhouding met jou staan. “Bedroef “ veronderstel ‘n innige verhouding. Ek bedroef nie ‘n polisieman as ek die wet oortree nie, maar ek bedroef wel my ouers of vrou as ek teen hulle oortree, want ons staan in ‘n verhouding! As ek die Heilige Gees wat in my woon bedroef is, kan ek geen vreugde beleef nie en ook geen sekerheid en troos nie, want dis juis Hy wat hierdie dinge aan ons skenk.

Paulus gaan nog verder om die erns van sonde te onderstreep. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:5) Christenskap en immoraliteit is twee uiterste teenoorgesteldes! As jy aanhou met hierdie dinge, mislei jy jouself om te dink dat jy deel gaan wees van die koninkryk van God. Laat ons nie oor hierdie waarskuwing rasionaliseer nie. Kom ons luister maar net, dis God se Woord!

Kind van God, jy moet stop met dit wat verkeerd is, want sonde het skrikwekkende konsekwensies. Kind van God, jy kan stop met wat verkeerd is, want die Heilige Gees van God woon in jou.

En as ek dan wel nou weer geval het? Staan dadelik op en haas jou na jou Middelaar! 'n Christen is mos juis iemand wat in Jesus 'n onfeilbare Hoëpriester en Middelaar het! (Hebreërs 4:14-16)

*Dit kan nie ontken word dat sommige Christene na ‘n spesifieke ondervinding of ervaring, nuwe krag en oorwinning in hulle geestelike lewens vertoon nie. Wat waarskynlik gebeur het was dat so ‘n persoon nie nou eers heiligmaking ontvang het nie, maar wel insig in sekere waarhede gekry het, wat ‘n groot sprong in sy geestelike groei tot gevolg gehad het. 'n Groot stuk vordering word natuurlik ook gemaak as ek uiteindelik met 'n bepaalde sonde breek. Sulke ervarings vanuit mense se getuienis, kan egter nie as bewys aangevoer word vir ‘n “second blessing” teologie wat vryspraak en heiligmaking as twee afsonderlike losstaande fases in ‘n Christen se lewe verkondig nie. (Sien hieroor Martyn Lloyd-Jones se “Life in the Spirit”, spesifiek p386ev.)


Niks gebeur sonder moeite nie. (Kavango rivier by Rundu)

Woensdag 12 November 2014

HAPPY LIFE

- Hannah Whitall Smith se geheim van “heiligheid en geluk” wat toe al die tyd ‘n leuen was!



Die verhaal van Hannah Whitall Smith (1832-1911) is in meer as een opsig ‘n enorme tragedie. Haar drie oorlewende kinders (vier sterf vroeg) se lewens illustreer dit op hartseer en skokkende wyse. Die een dogter raak betrokke in ‘n buite egtelike verhouding en verlaat haar man en kinders. ‘n Ander dogter trou met die bekende ateïs Bertrand Russel en die huwelik loop ook op die rotse. Haar seun is ook nie ‘n Christen nie. Dit alles sou mens nog as beproewings kon verklaar... Maar erger is dat dit met Hannah se eie huwelik ook alles behalwe goed gaan. Haar man Robert het ‘n beroemde prediker geword in Europa en ‘n groot rol gespeel in die “higher life movement.” Hy het alleen sonder sy vrou gereis en in morele skande verval. Hannah het in die ongelukkige huwelik aangebly, maar haar briewe getuig van ellende. Hierin het sy met haar self opgelegde seksuele onthouding en feminisme beslis ‘n groot bydrae gelewer om die huwelik onder permanente druk te plaas tot met Robert se dood in 1898.

Die grootste tragedie is dat hierdie einste Hannah Whitall Smith deur baie gesien word as ‘n geestelike reus en haar deurmekaar teologie as die geheim van ‘n dieper geestelike lewe! Haar klassieke werk, “The Christian’s Secret of a Happy Life” het vir baie die standaard handboek geword vir ‘n dieper geestelike lewe van oorwinning. Dit is ‘n sombere herinnering (en gepaste waarskuwing) dat titels van boeke nie noodwendig die waarheid omtrent die inhoud daarvan reflekteer nie! G. Richard Fisher noem dit ‘n boek, “that overpromises and underdelivers and still sells well despite its 1875 publication date.” Die Smiths se uiters ongelukkige lewe, maak ‘n bespotting van die resep vir ‘n “Happy Life”! Hulle diep “ongelukkigheid” strek egter baie verder as persoonlike omstandighede en sondigheid. Hannah het later ‘n vorm van dwaalleer naamlik universalisme (dat almal uiteindelik gered sal word) geleer en Robert het ‘n afvallige en agnostikus geword.

Smith se heiligmakingsteorie is ‘n soort van passiewe en heiligheidsleer toegedraai in mistisisme. Dit leer ‘n tipe van “oorgawe” aan God wat die gelowige passief maak. Haar boek vorm een van die fondasies van die Keswick teologie. Dit druis in teen die duidelike lering van die Skrif dat heiligmaking ‘n voortdurende stryd is waarin die gelowige aktief betrokke is om sonde deur die krag van die Heilige Gees uit te roei. (Hiermee word hoegenaamd nie beweer dat almal wie se name aan die Keswick konferensies gekoppel word, ketters was of is nie! Dis eerder 'n kwessie van gebrekkige en verwarrende lering deur mense wat baie erns gemaak het met heiligheid en toewyding)

As Hannah Whitall Smith se mislukkings ons een ding kan leer is dit om nie enige teorie op ander se (beweerde) persoonlike belewenisse of ervarings te bou nie, maar erns te maak met deeglike Skrifuitleg! (kliek op SKRIF ALLEEN)

Vir meer oor die Smiths kliek op UNHAPPY 

Vir ‘n gebalanseerde bespreking van Keswick Teologie kliek op KESWICK  

Vrydag 07 November 2014

NOOIT TE JONK NIE!

- begin sou gou as moontlik vir Jesus ken en skyn.

[Hier is drie kerse : ‘n kortetjie,  ‘n baie lang een, en ‘n middelmatige een. Watter van hierdie kerse is ‘n “baba” kers en watter een is die “oupa” kers? Reg geraai. Die lang kers is die “jong of baba” kers, want hy het nog ‘n lang tyd oor om te brand! Die kort kersie is die “oupa” wie se tyd begin min word...]




Kom ons lees die bekende verhaal van die jong Samuel se roeping as profeet in 1 Samuel 3:1-10. Hier word twee baie belangrike dinge oor die seun Samuel gesê :

Vers 1. “Samuel het die Here gedien.” Van kleins af het Samuel aan God behoort en Hom in die tempel gedien. Ons ken mos die geskiedenis – hoe die kinderlose Hanna hartstogtelik gebid het vir ‘n kindjie... Sy het ‘n gelofte afgelê... “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: "Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie." (1:11) Sy het met sulke groot passie en erns gebid dat die priester Eli gedink het sy is dronk! Toe het sy ‘n belofte gekry dat die Here vir haar ‘n seun sou gee. “Toe sê Eli: "Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het." (1:17) Dit het waar geword. Sy het ook haar gelofte nagekom en hom na die tempel gebring vir diens aan die Here. Ons moet nooit die gebed en die invloed van sy moeder miskyk nie. Dis ‘n voorreg om in ‘n Christelike huis groot te word, om van kleins af deel te wees van die kerk, om die Bybel te leer ken, maar die Here wil nog iets beter vir jou...

Vers 7. “Samuel het nog nie die Here geken nie.” Samuel was besig met God se dinge daar in die tempel, maar ‘n innige persoonlike verhouding het nog ontbreek. Ons kan sê, Samuel het God net so op ‘n afstand geken. (soos jy dalk jou onderwyser ken, maar nog nie soos mens ‘n pa of naby vriend ken nie) God het ‘n groter plan gehad vir Samuel as maar net so ‘n algemene diens en algemene bekendheid. 

God het Samuel persoonlik geroep en Samuel het persoonlik geantwoord op Sy roepstem! Ons sou kon sê dat Samuel se ouers tot op hierdie stadium namens hom gekies het om die Here te dien, maar nou moes Samuel self kies! Ook as verbondskind moes hy nou self verantwoordelikheid vat!

Ons ouers, die Sondagskool, die kerk het ‘n goeie invloed op ons. Ons word groot met God se dinge. Daar kom egter ‘n tyd wanneer die Here persoonlik met ons praat. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees regtig hier diep in ons hart met ons praat deur die Woord. Dis wanneer ek weet, God roep vir my op my naam. Dit gebeur wanneer ek weet ek is ‘n sondaar en ekself het Jesus nodig.

Miskien sê jy : "Maar Dominee, Samuel was tog ‘n spesiale geval, hy is geroep as profeet. Ek is maar net ‘n gewone kind. Die Here sal my seker nie roep nie?" Ja, dis waar ons is almal gewone mense, maar die Nuwe Testament in geheel leer ons dat God ons almal roep deur Jesus om konings, profete en priesters te wees. 

Jesus roep jou om as koning te heers oor sonde, om gesag uit te oefen en sy wil te doen. 
Jesus roep jou om ‘n priester te wees om jouself met dankbaarheid, gebede en lof aan Hom te offer (toe te wy, te gee). 
Jesus roep jou om as profeet sy Woord te verkondig, vir Hom te getuig daar waar jy is tussen jou klasmaats en in jou huisgesin.

Om dit saam te vat : God wil in ‘n baie persoonlike verhouding met jou staan, HY WIL BAIE NABY AAN JOU WEES en op ‘n persoonlike manier gebruik. Hy roep jou nou terwyl jy nog jonk is, sodat jy lank vir hom kan brand en ‘n lig kan laat skyn. (Jy is nog soos die lang kers!) Hy roep jou nou, deur Sy Woord en die Heilige Gees wat met jou praat in jou hart! Die Here wil jou beste jare hê. Hoekom sal mens jou beste jare vol energie vir die duiwel mors? Ons het net een lewe en ook net een jong lewe. Dis nou die beste tyd om op God se roepstem te antwoord. Vorentoe kom daar al meer probleme en hindernisse. Prediker 12:1 gee vir ons baie goeie raad. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

God roep en gebruik jongmense en kinders : Miriam, die jong Dawid, die onbekende dogtertjie in Naäman se huis... Jeremia was nog jonk, Timoteus was nog jonk. Jesus gebruik die vyf brode en twee vissies van ‘n seuntjie... Hy roep jou vandag! Jy word geroep om in Jesus te glo, om raak te sien dat Jesus klaar die straf vir al jou verkeerde dinge gedra het aan die kruis. Jy moet glo dat sy offer ook heeltemal genoeg was vir jou en dat Hy jou ten volle liefhet. 

Hy roep nou. Jy moet vandag antwoord. Sommer nou, kan jy in jou hart met Jesus praat en vir Hom sê : “Hier is ek!” Hoekom nie? Hoekom wil jou uitstel? Hoekom wil jy nog verder in sonde voortgaan en nog verdere letsels opdoen? Hoekom wil jy kosbare tyd wat jy saam met God kan deurbring vermors deur dit saam met die duiwel deur te bring? Niemand wat van jongs af God se kind geword het, was al ooit spyt daaroor nie...

Die grootste gevaar is uitstel. (kliek op UITSTEL) Dis speel met vuur om te sê: “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen, ek sal maar eers die vakansie agter die rug kry...” Hy roep jou vandag en niemand kan waarborg dat jy weer ‘n kans sal kry om geroep te word nie! Gaan jy antwoord? Hoor weer, HY ROEP JOU!

En ten slotte, sommer 'n dringende woord van waarskuwing aan die groot en ou mense : Jou kers is dalk al baie kort, jou tyd is min, maar tot vandag toe nog het jy nie gehoor gegee aan Jesus se roepstem nie... Jy het jou lewe "bestee" aan jouself en nie aan God nie.  Jy het nog 'n kans om die saak reg te stel, reageer NOU!

Donderdag 06 November 2014

AL AQSA, DIE TEMPELBERG EN MARKUS 13

- JESUS SE PROFETIESE AANSPORING TOT PARAATHEID



Sal Israel ooit so ver gaan om een van Islam se heiligste plekke te verwoes en hulle eie Joodse tempel te herbou? Die onlangse gebeure by die Al Aqsa moskee en die tempelberg plaas opnuut die fokus op die rol van Jerusalem en die tempel in die eindtyd. Ongelukkig is dit ‘n rol wat deur baie verkeerd verstaan word en juis so misverstaan word dat dit die skerpkant van Jesus se duidelike profetiese boodskap in Markus 13 uitkanselleer of afstomp!


DIE TEMPEL

Dis duidelik dat Markus groot klem lê op Jesus se houding en boodskap ten opsigte van die tempel in Jerusalem. Na Jesus se intog in Jerusalem is sy stelling (Markus 11:11) baie opvallend en vol betekenis :  "En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië...” Jesus doen inspeksie van die tempel en dit lei tot sy oordeelshandelinge in die tempel, onderstreep deur die vervloeking van die vyeboom. Die boodskap (wat ook sterk deur die Johannes evangelie uitgelig word) is dat die Joodse tempel en tempelbedeling misluk het. JESUS SELF IS NOU GOD SE TEMPEL. In Hom beleef ons nou die heerlikheid van God. Hy gee ons toegang tot die ware aanbidding van God!

In antwoord op die dissipels se opmerking in Markus 13:1 maak Jesus dit verder baie duidelik dat die tempel totaal verwoes gaan word! “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Markus 13:2) Dis seker ook nie om dowe neute dat Markus meld dat Jesus “regoor die tempel” gaan sit het nie. (Markus 13:3) 

JESUS SELF IS ONS TEMPEL, ONS EWIGE HOËPRIESTER EN ONS ALGENOEGSAME OFFER!

(Israel en die Moslems se gewoel by Al Aqsa raak dus nie God se tempel nie!)


VOORTEKENS 

Jesus se verdere lering in Markus 13:4-23 gaan spesifiek oor wanneer “hierdie dinge” sou plaasvind. Jesus wil duidelik maak dat hierdie dinge in vers 4-23 voorlopige gebeure is wat nie verkeerd verstaan moet word asof die wederkoms al aangebreek het nie! Jesus se hoofpunt hier is om die dissipels te waarsku dat hulle nie ontstel moet word deur die voorlopige tekens nie en dit ook nie moet verstaan as die aanbreek van die wederkoms self nie! 

Moenie voorlopige tekens met wederkoms verwar nie! (as ons dit so verstaan is daar geen konflik met die “tekens” en die uitspraak van Jesus in vers 32 nie!) Die voortekens bepaal nie die tyd van die wederkoms nie, daar moet dus nie afleidings rondom die tyd van die wederkoms vanuit hulle gemaak word nie. Hierdie voortekens word in Markus 13:8 met geboortepyne (Grieks - wdin)) vergelyk. In die Ou Testament verwys “geboortepyne” herhaaldelik na Goddelike oordeel (byv. Jesaja 13:8, 26:17, Miga 4:9ev) Die klem wat gelê word op “begin” suggereer dat die tydperk voor die verskyning van die Messias lank kan wees. God se kinders moet voorbereid wees vir ‘n lang tyd van verdrukking.

VERVOLGING EN EVANGELISASIE

Jesus beklemtoon dat as die dissipels hoor van onrus en rampe, moet hulle nie ontstel word nie. Hulle mag ook nie toelaat dat hulle mislei word en hulle aandag van hulle werk afgelei word nie. Hulle hooftaak bly die verkondiging van die evangelie aan alle nasies! (Markus 13:10) Hierdie werk gaan tot strawwe vervolging aanleiding gee. Jesus berei sy dissipels voor vir vervolging, soortgelyk aan sy eie. (Let op die herhaling van die woord “oorlewer” in vers 9,11,12.) Jesus se oorlewering en lyding is die proto-tipe van dit wat sy volgelinge te wagte kan wees. “Almal sal julle haat. Maar onthou : Wie volhard tot die einde sal gered word!” (Markus 13:13) Jesus se hoofboodskap is : GAAN AAN, VOLHARD, DIS NOG NIE DIE EINDE NIE! 

Dink aan die groot troos van hierdie gedeelte vir vervolgde Christene (toe en nou). Ons vervolging is nie iets abnormaal of vreemd nie, Jesus het dit voorsien, en boonop : ons verduur dit wat Hy ter wille van ons verduur het!

VERVOLGING IS DIE VOORLAND VAN ELKE VRUGBARE GELOWIGE!

VLUG

In Markus 13:14-23 fokus Jesus baie spesifiek op die plaaslike situasie in Judea en Jerusalem wat sou uitloop op die groot verwoesting van die tempel in 70nC deur die Romeine. (Die geskiedskrywer Flavius Josephus het hieroor uitgewei en baie inligting nagelaat.)

Jesus gebruik terminologie uit die boek Daniel. (Daniël 9:27,11:31, 12:11) Hy waarsku dat die “gruwel van die verwoesting” naby is en dat die vlug vanaf Jerusalem en Judea noodsaaklik is. Hierdie uitdrukking in Daniel beskryf ‘n afstootlike gruwel wat so erg is dat die mense die tempel sal agterlaat. Hierdie profesie van Daniel is alreeds vervul in 168vC toe Antiochus Epifanus die tempel ontheilig het deur ‘n altaar vir Zeus daar op te rig, waarop varke geoffer is. Jesus se gebruik van die uitdrukking dui daarop dat iets soortgelyks sou gebeur en dat daar weer ‘n ontheiliging van die tempel sou plaasvind. (Die herhaling van geykte profetiese temas om nuwe situasies te beskryf, is algemeen in die Skrif. Dit kom gereeld in Openbaring voor.) Die presiese aard van die ontheiliging word nie aangedui nie.

Die hoofklem in hierdie gedeelte is die opdrag om te vlug. Dis die praktiese raad wat Jesus aan die mense gee van sy eie geslag/tydgenote.

Die opdrag om te vlug veronderstel ‘n krisistyd in die geskiedenis, maar nie die finale einde nie! In Openbaring word “vlug” juis as futiel en nutteloos beskryf! (Openb. 6:15-17) Hierdie gebeure is beslis nie op die wederkoms van Jesus van toepassing nie (dan hoef God se kinders hoegenaamd nie te vlug nie), maar op die historiese situasie van oorlog wat sou uitloop op die verwoesting van Jerusalem en die tempel.

Jesus se boodskap hier is : “Daar wag vreeslike dinge op julle, vlug betyds as julle kans kry, maar moenie julle laat mislei nie, dis nog nie die finale einde nie!”

Ons is nie direk deel van hierdie historiese gebeure nie. Dis lankal verby. In ons dag is dit egter ook so dat vals profete floreer in tye van rampe en onrus. Moenie jou deur hulle praatjies laat vang nie!

PASOP VIR VALS PROFETE WAT IN MOEILIKE TYE OP HULLE PROOI TOESAK!



WEDERKOMS

Vanaf vers 24 is daar ‘n duidelike wending in die rede van Jesus. Hy bespreek nou sy wederkoms.Teenoor die valse hoop wat baie mense sal mislei is die ware hoop op die koms van Jesus! Fokus op Jesus self en moenie julle deur hierdie tussentydse dinge van koers af laat bring nie!

Jesus gee hoegenaamd nie nou ‘n tydsaanduiding van wederkoms nie. Hy het die dinge wat in sy dissipels in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees uitgelig en dit duidelik gemaak dat sy koms nie sal plaasvind voor hierdie voorlopige gebeure nie.

Om die onbeskryfbare omvang en effek, heerlikheid en katastrofale aard van die wederkoms te teken, gebruik Jesus (Markus 13:24-26) terminologie uit Joël 2:10, 3:15; Jesaja 13:10;34:4; Esegiël 32:7-8; Amos 8:9. Die inmekaarval van kosmiese strukture wys op God se radikale ingrype en gepaardgaande katastrofes in die geskiedenis. Die lot van die heelal en die mens is ineengevleg. Met die sondeval is die hele skepping aan nietigheid onderwerp, met die mens se finale verlossing sal die hele skepping weer bevry word! (Vergelyk Romeine 8)

In Markus 13:26-27 gaan als oor aksies van die Seun van die mens. HY kom. HY maak die uitverkorenes bymekaar deur die engele. SY triomf word beskryf in terme van die Seun van die mens, die misterieuse figuur in Daniel 7:13ev. Jesus beklemtoon hier wat Hy reeds vir sy dissipels geleer het. Hy word verneder en ly, maar Hy kom weer in heerlikheid! (Markus 8:31,38)

Jesus maak sy verstrooides deur die engele bymekaar. “En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” (Markus 13:27) Die parallel met Deuteronomium 30:4 is uiters opvallend : “Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.” Jesus herinterpreteer Israel se verwagtinge! Die onderliggende waarheid is dieselfde maar daar is diepgaande verskille. Die fisiese tempel en Jerusalem was die versamelplek van die verstrooides van Israel. Die tempel gaan nou finaal verdwyn (onthou die verdroogde vyeboom), maar die gevolg is ‘n nuwe hergroepering rondom Jesus self, die ware tempel!

As die vyeboom begin bot is mens seker dat die somer kom en dat dit naby is. Die beeld van vyeboom wat bot beklemtoon beslistheid van die gebeure en die nabyheid daarvan. Maar onthou om te weet iets is naby beteken nog nie ons weet wanneer nie!

WAAKSAAM EN NOGMAALS WAAKSAAM!

Markus 13:30 is ‘n baie omstrede vers wat uiteenlopende verklarings tot gevolg gehad het. “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

“Al hierdie dinge” verwys na “hierdie dinge” in vers 29. “Hierdie dinge” moet verstaan word in terme van die dissipels se vraag in vers 4 na aanleiding van Jesus se uitspraak oor die verwoesting van die tempel. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” “Hierdie geslag” verwys na die tydgenote van Jesus. Inderdaad is die verwoesting van Jerusalem binne die leeftyd van Jesus se geslag voltrek. Sluit “hierdie dinge” nie ook die wederkoms self in nie? Het Jesus dan nie ‘n fout gemaak nie? NEE, vers 30 word gerelativeer deur vers 32. “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” Vers 30 en 32 moet saam in balans verstaan word. Vers 30 verwys dus streng gesproke na die verwoesting van die tempel en die ander voorlopige tekens en vers 32 na die wederkoms self. Dit maak absoluut sin as mens in gedagte hou dat Jesus se hoofdoel met hierdie rede van Hom, die aansporing tot paraatheid en waaksaamheid is. Hieroor kan niemand twyfel nie... al sou jy met van die detail uitleg verskil. Jesus se waarskuwings staan voorop: 

Vers 5 "En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie."

Vers 9 "Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis".

Vers 23 "Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê

En wanneer dit spesifiek gaan oor die tema van Jesus se wederkoms op ‘n ONBEKENDE tyd word die kwessie van waaksaamheid verder onderstreep :

Vers 33 "Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie."

Vers 35 "Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;"

Vers 37 "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!"


BEREKENINGS EN BESPIEGELINGS

Dis tragies dat sommige (baie aktiewe) verklaarders Jesus se profetiese rede in Markus 13 juis gebruik om rondom tydsbepalings oor die wederkoms te bespiegel. Jesus se uitspraak rakende “hierdie geslag” is al min of meer as volg geïnterpreteer : Die vyeboom is ‘n simbool vir Israel. Israel het in 1948 ‘n onafhanklike staat geword. Binne daardie geslag sou die wederkoms plaasvind. ‘n Geslag in die Skrif is 40 jaar. Jesus se wederkoms sou in die laat tagtigerjare geskied. Natuurlik het dit nie gebeur nie en nou word daar gekyk na ‘n tydperk van 70 jaar, want ‘n leeftyd volgens die Bybel duur normaalweg 70 jaar!

Hierdie is ‘n voorbeeld van hoe mense die Skrif kan verkeerd interpreteer en juis teen die bedoelings van ‘n bepaalde Skrifgedeelte gaan. Jesus gaan uit sy pad om in Markus 13:32-37 te beklemtoon dat die tyd van die wederkoms ONBEKEND is. Die onbekendheid onderstreep juis die dringende noodsaaklikheid van waaksaamheid. Jesus sê dus : “Julle weet nie wanneer ek kom nie, jus daarom moet julle getrou op julle pos wees, besig met die werk (Vgl. Vers 34) wat julle gekry het!”

Let op die herhaling van “nie weet nie” :

Vers 32 “weet niemand nie”

Vers 33 “want julle weet nie”

Vers 35 ”want julle weet nie”

Die tyd van Jesus se koms is onbekend, die feit van sy koms is seker. Hierdie vooraftyd sal gekenmerk word deur vervolging, misleiding en rampe, maar dit moet ons nie ons fokus op volharding, waaksaamheid en die doen van ons werk laat verloor nie. 

REG VERSTAAN?

Wie verstaan Markus 13 dan nou reg? Die eenvoudige gelowige wat daagliks biddend en waaksaam besig is met die werk wat sy Verlosser hom gegee het en nie sy ore aan valse profete uitleen nie!

WAAK JY?

[Ons beleef groter wordende boosheid en afvalligheid. Die volgende uit 2 Timoteus het my juis vanoggend weer aangespreek- 
"Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:13-15)  Bly by die basiese waarhede van die WOORD!]

Vir 'n bespreking van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?

Saterdag 01 November 2014

BEVRY VAN VREES!

VREES : OORSAKE, GEVOLGE EN GENESING 

Vrees. Koue beklemmende vrees. Daardie kol op die maag. Vir sommige ’n alledaagse ellende. Die voortslepende kanker in baie mense se lewens, ’n beperkende faktor wat jou tot passiwiteit rem. Natuurlik, nie alle vrees is ongewens, verkeerd of sondig nie. Normale vrees (bangheid) vir ‘n leeu verhoed dat ek in die wildtuin uitklim en sy voorpoot probeer skud... Maar vrees kan maklik verkeerd word en buite beheer raak. ’n Gesonde normale vrees kan oorgaan in ’n irrasionele onlogiese vrees. ‘n Verlammende fobie. Dit kan sondig word as my vrees vir leeus so erg is dat ek nie in Tsumeb se hoofstraat wil stap nie, want net dalkies het daar een uit Etosha ontsnap...! (Dit klink my amper die Amerikaners se buitengewone paniekerige vrees vir Ebola val so half en half in hierdie kategorie...) In hierdie boodskap gaan dit oor sondige vrees. Godonterende vrees. Ons kyk na die oorsake, die gevolge en die genesing. 

OORSAKE. Waar kom vrees vandaan? Ons lees vir die eerste keer van vrees in Genesis 3:10. Adam en Eva wat bang was vir God en daarom wegkruip. Die eerste waarneembare gevolg van die sondeval was dus vrees.* Voor daar sonde was, was daar nie vrees nie. Sedert die sondeval is vrees die oorheersende faktor in mense se lewens. Kom ons kyk prakties hierna. Wat maak mense bang, watter vrese hou mense gevange en beheer hulle lewens? Daar is baie dinge - vrees vir die onbekende toekoms, vrees weens ’n gevoel van gebrekkige sekuriteit, vrees vir eensaamheid, vrees vir armoede en gebrek, vrees vir die dood, vrees vir die oordeel, vrees vir mense, vrees vir God self. Baie keer vrees mense net hulle vrees - dit het al so ’n bose kringloop geword dat daar eintlik nie meer vasgestel kan word waaroor dit nou regtig gaan nie. Later is ek bloot net bang omdat ek bang is. So wat is die grondliggende oorsaak van die mens se vrese? Ons het eintlik reeds die antwoord gekry. Sonde. Hoekom veroorsaak sonde vrees? Sonde dryf ’n wig in tussen ons en God. En dis juis die punt - ons is gemaak om van God afhanklik te wees, ons is gemaak om in ‘n verhouding met Hom te staan. Dis hoekom Hy ons geskape het. Sonder ’n liefdevolle vertrouensverhouding met Hom is ons uitgelewer aan vrees. Ons is afhanklik van sy liefdevolle Vaderlike sorg en gemeenskap en wanneer dit versteur is, lei dit tot vrees en ellende. Die groot vrees van die mens is dus eintlik die vrees vir God en dit lei tot ’n menigte ander gestaltes van vrees, want wie bang is vir Sy Maker se totale lewensewewig is versteur. (Soos ‘n motor se onderstel wat skeef is!) Alle ander vrese in ons lewe, al kan daar baie sekondêre oorsake wees, is dus op een of ander manier herleibaar na haakplekke in ons verhouding met God. 

GEVOLGE. Wat is die praktiese gevolge van hierdie vrese? Martyn Lloyd-Jones noem die volgende**: 

~ VREES is ’n verlammende swakheid. Jy kan nie die lewe leef wat God wil hê jy moet leef nie. Jy kan nie jou pligte as Beelddraer van God, as Christen, as man, vrou of kind nakom nie. Vrees maak jou oneffektief. Veroorsaak mislukking. 

~ VREES lei tot selfsug. Dit gee aanleiding tot die houding van : “Ek moet net myself beskerm, ek trek my terug in die klein wêreldjie van my eie selfsugtige belange.” Jy word kopsku vir mense, vir uitreiking, vir menseverhoudings... Jy is net ingestel op selfoorlewing. 

~ VREES veroorsaak ongelukkigheid. Vrees en blydskap gaan nie juis saam nie. Vrees gooi ’n droewige skaduwee oor ’n mens se hele lewe. Die bang mens kan niks werklik geniet of waardeer nie. Daar is altyd ’n werklike of fiktiewe gevaar wat my bedreig laat voel. 

~ VREES lei dikwels tot irrasionele denke en optrede. Dit beklem mense so dat hulle dom en onlogiese dinge doen. Hulle tree snaaks op en neem impulsiewe besluite. Hulle kan nie nugtere besluite neem nie. Hulle oorreageer op nietighede of is bang vir belaglike dinge. 

~ VREES laat mens vlug. Dit beteken nie altyd fisies weghardloop nie, maar behels ’n verskeidenheid van ontvlugtingsmetodes. Ek probeer uit die werklikheid van my vrese en onsekerhede te ontsnap deur buitensporige vermaak, alkohol, plesiersug, seksuele avonture en losbandigheid. Dit kan natuurlik ook sommige aanspoor tot veg. Ek wil teen alles en almal baklei.

~ VREES kan ook negatiewe liggaamlike effekte hê weens die oormatige afskeiding van sekere hormone. Daai ding wat ons (abnormale) stres noem! Dit gaan draai by maagsere, hartaanvalle, beroertes... 

~ VREES kan vererger tot wanhoop! Ek sien geen sin meer in die lewe nie. In sommige gevalle tot so ’n mate dat mense selfmoord pleeg. 


OPLOSSING. 

Die emosies van vrees moet gebreek word deur feite!

Ons gemoed kan net tot rus kom op vaste feite. Dit help nie net om vir jouself (of andere) te sê : “Moenie bang wees nie, ruk jou reg, hou op om simpel te wees...” 

Watter feit(e) breek die patroon van sondige vrees? Kom ons kyk na 1 Johannes 4:16 - 21. (lees gerus in jou Bybel) Hier word dit baie duidelik gestel : Die groot feit wat vrees verdryf is die feit van God se liefde en ’n lewe in ooreenstemming met daardie feit! Solank hierdie feit nie vir jou ’n persoonlike werklikheid is nie sal jy altyd gebuk gaan onder vrees. Liefde en vrees staan teenoor mekaar en is onderling uitsluitend. 1 Johannes 4:18 stel dit so kragtig en pragtig: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite....” Die liefde waaroor dit hier in die eerste plek gaan is God se liefde vir ons. Vrees kan net oorwin word as ons God se liefde leer ken en dit glo. Ek moet oortuig wees dat die almagtige God, wat lewe en dood in sy hande hou my waarlik innig liefhet! Hierdie liefde het God vir ons gewys het deur Jesus te laat sterwe. (16) Dis die vertrek punt. Dis die begin van die oplossing. Dit gebeur wanneer ek tot ware geloof in Jesus kom en weet dat my sonde op grond van sy verdienste vergewe is! Dan weet ek daar wag nie meer straf nie en verdwyn my vrees vir die oordeel! (17) Het jy al hierdie liefde proefondervindelik leer ken of dalk nog net daarvan gehoor? 

Maar die oplossing strek verder. Onthou :"Die volmaakte liefde verdryf die vrees." Wat is volmaakte liefde? Dis duidelik dat dit hier gaan oor ’n liefde wat ons moet hê en betoon. (want hy sê : “wie nog vrees het nie volmaakte liefde nie.”) Ons kan nie volmaak hier as volmaak in absolute sin verstaan nie. Dis tog net God self wie se liefde absoluut volmaak is. Dit gaan hier oor ’n volledige liefde, ’n liefde wat in ons ’n begeerte opwek om God se bevele te gehoorsaam. En wat is dit? Liefde vir God en mekaar. Volmaakte liefde is dus die liefde wat uitdrukking vind in ons liefde vir God en mekaar. Hoe is ons in staat tot sulke liefde? Hoe gaan ons dit regkry? 

Volgens 1 Johannes 4:19 is dit in die eerste plek God se liefde vir ons wat ons in staat stel tot wederliefde vir Hom en gevolglik ook teenoor mekaar. Deur liefdevolle gemeenskap met God word hierdie liefde vervolmaak, dit bereik wasdom, dit bereik sy doel met ons. Prakties kom dit daarop neer dat hoe meer ons van God se liefde bewus word, en gevolglik hoe meer ons met God en met mekaar in liefde wandel, hoe minder vrees en hoe meer vrymoedige vertroue sal daar wees. 

Die antwoord op vrees is dus om as’t ware dieper te delf in God se liefde. Glo dit en leef dit! Dis ‘n feit! ( per slot van rekening - God is liefde! Ons kan dit met oortuiging verkondig - al misbruik sommige hierdie waarheid), Om onsself al meer en meer daarvan te vergewis en met blye wederliefde daarop te reageer. So bevry die liefde ons van vrees! 

DALK WENSDENKERY OF SELFBEDROG? NEE! DIS 'N FEIT!

Hierdie liefde is nie iets wat in ons verbeelding bestaan nie, dit is ’n sigbare historiese feit (vir elke kind van God) in die persoon en werk van Jesus Christus. Om God se liefde te leer ken beteken juis dat ek Jesus moet leer ken! Hy het gekom as Redder van die wêreld. (14) Deur in Hom te glo leer ken ons God se liefde baie prakties. Hy het ons bevry van die vrees vir die dood. (Hebr 2:14,15) Hoe? Deurdat Hy die straf vir ons sonde reeds volledig gedra het. Vrees is gegrond op die beginsel van straf. Mense vrees want hulle verwag straf. Maar as ek bewus is van God se liefde in Christus hoef ek nie meer straf te vrees nie. Hoe so? Die gelowige is iemand wat glo dat God Jesus in my plek aan die kruis klaar gestraf het. Omdat Christus se werk volledig afgehandel is sal die gelowige nie gestraf word nie! Hierdie feit bring my gewete tot rus. Kan jy sien, dis die feite van God se liefde in Christus wat die vrees uit ons lewens verdryf. Natuurlik as hierdie feite van Christus se liefde vir my ’n werklikheid is, sal dit tot wederliefde lei - ’n lewe van liefdevolle gemeenskap met God en my naaste. 

Nou sal iemand sê : “Ja, maar ek is nie bang vir God nie, dis moeilike lewensomstandighede en uitdagings wat my bang maak.” Die groot punt is net : Hy wie se vrees vir God, dood en oordeel deur die feit van die liefde aangespreek is, kan ook ander kleinere vrese oorkom op dieselfde basis. Byvoorbeeld, wie oortuig is van God se egte liefde, besef tog dat daardie liefde ook Vaderlike sorg insluit. Deur die feit van God se Vaderlike sorg word my vrese oor byv. finansies en die toekoms besweer. (Sien Hebreërs 13:5-6) 

WARM TRUI VAN DIE LIEFDE 

As mens koud kry trek jy ’n trui aan. Die koue van vrees en angs kan net buite gehou en verdryf word deur die warm trui van liefde. Hierdie trui is gebrei van drie soorte liefdeswol. Eerstens God se liefde vir ons wat Hy onomstootlik vir ons deur Jesus se kruis dood bewys het - hierdie liefde moet ek leer ken en glo. Ek moet daarop konsentreer en daaraan vashou. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie....! (Rom 8:31ev.) Maar natuurlik as God se liefde vir my ’n werklikheid word, reageer ek ook daarop. Ek reageer deur wederliefde vir Hom en vir my medemens. Die res van die trui bestaan dus uit hierdie liefde wat ek aan God en my naaste bewys. 

Glo in God se liefde, beoefen wederliefde - dit verdryf die vrees. 




Verdere studie oor die oorwinning van vrees...