BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Teologiese fakulteite. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Teologiese fakulteite. Wys alle plasings

Maandag 21 Maart 2022

DEURBRAAK BY SINODE

Die sinode van die NGK in Namibië het op haar vergadering van 17-19 Maart 2022 te Windhoek wat gehou is in die NGK Pionierspark 'n baie drastiese besluit aanvaar. Dit kom neer op 'n baie duidelike standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NGK, terwyl daar gepoog word om nog 'n geleentheid tot bekering te gee.



VOORSTEL

Die voorstel wat met 'n groot meerderheid (70-14) aanvaar is lui as volg

T.o.v. die Sinode se handeling i.t.v. Kerkorde Artikel 37 (losmaking van die Algemene Sinode), word die volgende besluit:

1. Die Sinode maak sy voorneme bekend om die Jesus-pad van Matteus 18:15-20 met die Algemene Sinode end-uit te stap tot die mate dat uit die band met die Algemene Sinode getree word op grond van Artikel 37. Die nuwe moderamen ontvang die opdrag om hierdie voorneme aan die ASM te kommunikeer. 

2. Om so ‘n stap voor God in die lig van sy Woord te regverdig op grond van: 

2.1 die teleurstelling in die Algemene Sinode 2019 se besluit oor Selfdegeslagverhoudings; 

2.2 die onvoldoende kerklike opsig en tug van die Algemene Sinode ten opsigte van teologiese opleiding aan NG Kerk geakkrediteerde opleidingsinstellings; 

2.3 die gevolglike wantroue wat die verhouding met die Algemene Sinode kenmerk. 

3. Nooi die ander deelnemende Streeksinodes uit om saam met die Namibiese sinode hierdie pad van kerklike dissipline met die Algemene Sinode te stap en hulle op te roep tot ‘n berouvolle en hartgrondige bekering. 

4. Die Algemene Sinode word gevra om skriftelik hierop te antwoord. 

5. Stel die volgende dokumente voor as getuienis en werksdokumente vir die Jesus-pad van Matteus 18 met die Algemene Sinode: 

5.1 Namibiese Sinode Getuienis oor Selfde Geslagverhoudings (2016); 

5.2 Namibiese Sinode Getuienis oor Skrifinterpretasie en -gesag (2016); 

5.3 Besluit van Namibiese Taakspan Teologiese Vorming t o v dosente en fasiliteerders aan opleidingsinstellings (2022). 

6. Die besluit word van krag wanneer die volgende prosesse - nie later as einde November 2022 - afgehandel is: 

6.1 Uitklaring van regskwessies rakende artikel 37 

6.2 Uitklaring rakende ‘n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NGK 

6.3 Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding. 

6.4 Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf AS 

6.5 Deeglike kommunikasie met gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse. 

7. ‘n Ad-hoc taakspan in samewerking met die Moderamen rapporteer by wyse van ‘n verslag, wat teen einde November 2022 voor die Namibiese moderamen dien, dat bogenoemde prosesse afgehandel is en met verdere proses-voorstelle. 8. Hierdie taakspan sal bestaan uit die volgende lede: Dubois du Toit, De Wet Strauss, Willem Burger, Kenneth McKenzie, Zack Pienaar, Christo van Heerden en twee addisionele lede van die nuut-verkose Moderamen.

PERSVERKLARING

Na die vergadering is daar ook 'n persverklaring uitgereik, wat die besluit soos volg verduidelik :

Namibiese sinode Persverklaring insake Artikel 37 voorneme: 

Die Namibiese sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die Algemene Sinode te stap soos uitgespel in Jesus se woorde in Matteus 18:15-17. 

Die Namibiese sinode oordeel dat die Algemene Sinode nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie. 

Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak. In kerkorde taal word daarna verwys as die Artikel 37-proses. 

Die Namibiese Sinode wys veral op die besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die fakulteite wat die kerk toenemend vervreem. 

Die Namibiese Sinode sal in die komende maande hulle NG gemeentes betrek en toelig in die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende optrede tot gevolg het. 

Namibië vertrou dat die Algemene Sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom. 

Die Namibiese Sinode nooi ook ander streeksinodes uit om deel te neem aan hierdie proses en ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode.

OPMERKINGS (myne)

Dis 'n geweldige deurbraak waarvoor ons inderdaad God alleen voor dankbaar moet wees. Vir die eerste keer in 'n lang tyd kan gelowiges moed skep uit 'n besluit wat 'n sinode geneem het om op te staan teen dwaling en misleiding. Dit het harde werk gekos (baie dankie Dubois du Toit), maar daar was baie gebede. Die besluit is geneem eers na 'n lang en baie taai debat. So 'n groot meerderheid is beslis nie verwag nie.Tog moet ons ook besef dat die eintlike harde werk nou voorlê en dat die taakspan wat hiermee gemoeid gaan wees ons VOORBIDDING uiters nodig gaan hê. Die duiwel is uiteraard nie gelukkig met hierdie sterk evangeliese besluit nie - hy gaan hard brul en onmin probeer saai!


Belangrike dokument - daar is ook 'n andere besondere dokument op die sinode as werksdokument aanvaar. Kliek op SELIBAATSKAP



Sondag 06 Oktober 2019

SATANSWERK

van die teologiese fakulteite!

Is dit te sterk gestel? Wel, wat anders kan mens die opleiding wat aan ons teologiese fakulteite (waaronder andere) ook NG studente vir die bediening studeer noem?

Ferdie Mulder vertel waar hierdie afval sterk begin stoom optel het, met spesifieke verwysing na die Teologiese Fakulteit van Pretoria. Dis natuurlik 'n proses van agteruitgang wat reeds in die tagtigerjare aan die gang was toe ekself nog daar 'n student was.

Luister self na Ferdie deur HIER te kliek!


Hoekom het dit sover gevorder sodat daar menslik gesproke geen hoop meer is vir die koers wat die Algemene Sinode en fakulteite vir die kerk aanwys nie?

Goeie evangeliese mense het bloot net stilgebly of hoogstens saggies beswaar gemaak...


Ferdie Mulder


Valse lering vernietig die geloof van sommige, maar vir God se kinders is daar Goeie Nuus binne in hierdie situasie!  Kliek op FONDAMENT

Donderdag 20 Junie 2019

HY OF SY?

Mag ons van die Heilige Gees as "SY" praat?

As leraar van die NGK Tsumeb wil ek sonder om in lang redenasies te verval my tog duidelik en openlik distansieer van en uitspreek teen ‘n vroue leraar ds. Hestie Hay-Blaauw se verwysings na die Heilige Gees as vroulik. Die gewraakte uitlatings het sy gemaak tydens ‘n gesprek wat sy en ds. Clem Marais in die program van Kanaal 7, Onder die Kameelboom gehad het oor Johannes 16. 



Dis so hartseer dat Hestie ’n wonderlike hoofstuk en ‘n heerlike onderwerp skade aangedoen het met haar verwarrende opmerkings rakende die Heilige Gees soos : “Dis nogal ‘n sy.” “Sy met ons is.” “Haarself” Die herhaling wys dit was nie ‘n toevallige glips of terloopse opmerking nie! Klink of dit nogal belangrik is vir Hestie.  Wat sou hier agter sit? Feministiese teologie? (Uit die teologiese fakulteite van vandag kan mens enige gogga verwag.) Kom dit uit dieselfde kringe as “Die Shack” met verwysings na God die Vader as ‘n swart vrou (Papa) en die Heilige Gees as ‘n Indiese vrou (Sarayu)? Is dit spekulatiewe teologie wat probeer inval by die tydsgees se geslagsverwarrende agenda? Ek weet nie… Hestie sal moet verduidelik. 

Natuurlik weet ons dat God nie geslagtelik is in die menslike sin van die woord nie. God is immers Gees. (Johannes 4:24) 

En tog het God Homself as Vader (nie moeder nie) geopenbaar en Sy enigste Seun (nie enigste dogter nie) na die wêreld gestuur! 

Dis hoe God self besluit het om Hom aan die mens bekend te stel in Sy onfeilbare Woord. God het dit nodig geag om binne in 'n konteks en omgewing van baie gode en godinne na Homself in manlike terme te verwys. Daar word oorweldigend na God in die Bybel verwys as Vader. En manlike voornaamwoorde word gebruik. “En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” (1 Johannes 1:3). En ons weet dat die Heilige Gees die Gees van God genoem word, ook die Gees van Christus en spesifiek die Gees van Jesus. (Handelinge 16:7) Om dus van die Heilige Gees ‘n “sy” te maak het nie Skriftuurlike gronde nie! 

Ons moet God aanbid in terme van hoe Hy Homself duidelik openbaar in die Skrif, anders verval ons in "goue kalf godsdiens" waarvan die gevolge skrikwekkend sal wees!

Ja, ons weet dat mens in Hebreeus manlike en vroulike naamwoordvorme aantref en dat “ruach” (gees) ‘n vroulike naamwoord is. Dis natuurlik op ‘n taalkundige vlak, want “ruach” word ook spesifiek gebruik om na die gees van ‘n man te verwys. Grieks (soos Duits) het drie vorms naamlik manlik, vroulik en onsydig. Die Griekse woord vir Gees (pneuma) is onsydig, maar daaruit kan ons niks ten opsigte van geslag aflei nie. Die Duitse woord vir meisie “das Mädchen” is immers ook onsydig! 

Ek betreur Hestie se uitsprake. Dis hartseer dat sy terugval op die holruggeryde slagspreuk van die liberalisme en relativisme dat ons God nie in “boksies” moet plaas nie, asof dit beteken dat ons nou maar sommer kan spekuleer oor Hom. Natuurlik betreur ek ook die feit dat party mense nou weer met leedvermaak en kwaadwilligheid hierdie tipe uitlatings van een persoon gebruik om die kerk aan te val! 

Kliek op KANAAL 7 om self te luister na Hestie.


Vrydag 07 September 2018

LGBTQI+ en wat nog?

Dis met diepe skok en ontnugtering dat ek die artikel van Prof. Nadia Marais in DIE KERKBODE getiteld, "Jesus diskrimineer nié", gelees het. Die konteks is die gay debat wat nou weer in die kollig geplaas is deur die hofsaak wat deur ‘n groep ontvrede lidmate gemaak is om die 2016 sinodebesluite ongedaan te maak. 



Nadia verwyt die kerk en skryf o.a. in haar betoog soos volg : 



“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.” 


Sy wil dus beweer dat wanneer ons in getrouheid aan die Woord, sodomie en sogenaamde selfdegeslagverhoudings afkeur en mense in hierdie konteks tot bekering oproep, ons eintlik besig is met diskriminasie en nog erger, geweld! Sy berei eintlik die weg hier voor vir die kriminele vervolging van mense wat aan God se Woord getrou wil bly! 'n Baie verontrustende wending...!

Haar hele betoog is dat Jesus teen niemand diskrimineer nie. Sy noem dan byvoorbeeld iemand soos Saggeus, die belastingontduiker! Sover stem ek natuurlik heeltemal saam. Ek het self al dikwels oor Saggeus gepreek om die absolute nie-diskriminerende genade van Jesus uit te wys. Jesus het gaan oorbly by die slegste ou op die dorp, en dit gee inderdaad hoop vir sondaars, waaronder ekself! Wat Nadia egter verswyg is dat Saggeus deur Jesus se ontmoeting verander is! Hy het nie ‘n gierige skelm gebly nie, want wie genade ontvang soos hy kan nie anders as om nuut te word en die rug op jou ou leefstyl te draai nie. 

Natuurlik is God se genade net soveel bedoel vir LGBTQI+ mense (elke keer as ek weer sien kom daar nog ‘n letter by, ek wonder hoekom noem hulle nie maar die groep sommer A-Z nie?) soos vir alle sondaars! Daar is genade vir moordenaars, maar beteken dit ons moet sê dis reg hulle kan maar aanhou moor? Daar is genade vir pedofiele, kannibale, diewe, skynheiliges... maar beteken dit ons moet dit goedkeur dat hulle met hulle leefstyl onverhinderd voortgaan as lidmate van Jesus se kerk? En nog erger moet die kerk sover gaan om hierdie slegte dade goed te praat en amptelik te seën (soos wat die gay aktiviste soos Nadia wil hê)? Nadia en haar mede aktiviste is immers luidkeelse voorstanders van die siening dat die kerk amptelik sogenaamde selfdegeslagverbintenisse moet bevestig. 

Nadia is ‘n professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar denke is alles behalwe sistematies en haar teologie kom uit alle bronne behalwe die Bybel. Ek sidder om te dink dat mense soos sy ons nuwe geslag predikante moet vorm, ek bedoel vermink! 

Nadia, ons moenie God se genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy genade word nooit in die Skrif buite die konteks van sy heiligheid geplaas nie. Wanneer dit gebeur, maak ons die fout van Ussa. (kliek) Genade gee ons nie 'n vrypas om God te tart nie!

Nadia se manier van redeneer is gevaarlik! Dit bedreig die heiligheid van die kerk, maar ook gewetensvryheid as sodanig! Dis juis die liberaliste wat die grootste vervolgers van Jesus se kerk gaan word!

Dinsdag 04 Oktober 2016

BOSE BELYDENIS

-bevestig morele en akademiese bankrotskap van Teologiese Fakulteite.



‘n Groep sogenaamde jong teoloë van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik (sien onder) waarin hulle (heeltemal tereg) verklaar dat seksualiteit ‘n gawe van God is. Maar dan gaan hulle voort : “Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.” Nou ja, daar het jy dit! Dis immers die logiese uiteinde van die gay agenda. Watse perversiteite sou met “ander seksualiteite” bedoel word? Sorteer bloedskande, bestialiteit en pedofilie ook onder hierdie wye noemer? Gaan daar verwag word dat predikante binnekort die verhouding tussen ‘n man en sy hond kerklik moet bevestig? Enige kind van God kan net verslae luister en wonder of sy ore hom nie bedrieg nie. Moet mens nou verstik aan smart of stik van woede? Smart oor die verwoestende effek van die waansinnige dwaalteologie op die fakulteite waar NG predikante opgelei word op jong lewens. ‘n Heilige woede oor die Naam van ons Here Jesus en sy kerk wat deur die modder gesleep word.

Opmerklik word geen Bybelse bewyse aangetoon om al hierdie soorte perverse vorme van seks goed te praat nie. Dis seker nie vreemd as mens in ag neem dat dit by ons student ingehamer word dat die Bybel maar net nog ‘n Midde-Oosterse boek vol foute is nie. En dit lyk nie asof hulle leer van die sondeval nie... Benewens die gebrekkige Skrifkennis wat hier ten toon gestel word wonder mens ook maar onwillekeurig hoe lyk die morele lewens van hierdie jong kenners wat eeue van kerklike etiek met hulle nuutgevonde wysheid wil omverwerp? En wat raak hulle nie als van die kansels kwyt nie?  Ja, ewe vroom verklaar hierdie groepie dat Jesus die Heer is. Maar ons moet tog weet as ons bely dat Jesus die Heer is, het dit konsekwensies vir ons hele lewe, 'n lewe wat volgens Sy norme en wil geleef moet word. Oor Sy wil wat betref seksualiteit is die Woord mos baie duidelik. Kliek op BYBELSE RIGTING OOR SEKSUALITEIT

Dis tyd dat predikante, kerkrade, ringe en sinodes hulle gepoleerde kerklike taal sal laat vaar en reguit praat. Reguit praat soos die Skrif praat. Paulus was immers vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand wat nie onder die druk van politieke of kerklike korrektheid geswig het nie. Hy stem immers saam dat die Kretensers, “leuenaars, ongediertes, lui vrate” genoem moet word. Ek wil liewers nie heeltemal sulke beskrywende taal oor hierdie groepie kenners van seksualiteit waag nie, maar op die beste is hulle totaal onkundig, arrogant en ongeskik vir die bediening. (Hierdie insigte wat hulle toon hoort eerder by entrepreneurs in die sekstoerisme bedryf!) Die waarheid moet ‘n slag duidelik gesê word... 

Maar daar moet nog duideliker gesê word dat die teologiese fakulteite waar NG bedienaars tradisioneel opgelei is, tans onder die bewind van vals profete staan en dat ons ons gelowige kinders onder geen omstandighede daar sal laat studeer nie. 

Daar wag ‘n groot oordeel vir hierdie tipe profete wat alles wat verkeerd is, reg noem, omdat hulle die Woord van die Here verwerp het : “Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie. Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.” (Jeremia 8 :11,12)

As daar belydenis nodig is, is dit skuldbelydenis, 'n skuldbelydenis van ons almal (insluitende hierdie jong teoloë) dat ons ongehoorsaam was (en is) aan die standaarde van God se Woord. 'n Belydenis wat sigbaar moet word in bekering!






*Uittreksel uit die e-KERKBODE :

Jong teoloë steun besluit oor gays

Neels Jackson

e•Kerkbode | September 28, 2016 

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings 

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ‘n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ‘n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ‘n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom.

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar.

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ‘n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer.

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ‘n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ‘n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys): 
Rozelle Bosch 
Bianca Botha 
Magriet de Villiers 
Riaan de Villiers 
Calvyn du Toit 
Elaine Dippenaar 
Eduard Enslin 
Juanita Greyvenstein 
Hanneke Janse van Vuren 
Benjan Knoetze 
Manitza Kotzé 
Nadia Marais 
Nina Muller van Velden 
Carike Noeth 
Melissa Opperman 
Helgard Pretorius 
Fourie Roussouw 
Annelet Slazus 
Sunelle Stander 
Sharaine Steenberg 
Niel Steyn 
Dawfré Theron 
Elzanne van der Westhuizen 
Anje Zeeman 



Baälaanbidding en seksuele losbandigheid gaan hand aan hand...

Lees ook gerus ds. Hector Jooste se brief aan DIE KERKBODE. Kliek op BRIEF


Vrydag 20 November 2015

DAAR'S HOOP

- maar die afgrond blyk onoorkombaar te wees!


Die stormagtige debat wat ontketen is deur die NGK se Algemene Sinode se toelating van praktiserende homoseksuele predikante is meer as net ‘n hewige gesprek tussen medegelowiges wie se opinies van mekaar verskil. Dit het ‘n onoorbrugbare kloof blootgelê wat lankal binne in die NGK bestaan. 

TWEE KANTE VAN DIE KLOOF

Aan die eenkant kry ons die evangeliegesindes binne die NG Kerk wat die Bybel as onfeilbare Woord van God aanvaar en op grond daarvan alle mense en soorte sondaars oproep tot geloof, bekering en ‘n heilige wandel meet God. Hierdie groep (waarby ek myself insluit) word dikwels as fundamentaliste en verkramptes uitgekryt. En die groot verwyt na ons kant is dat ons liefdeloos is!

Aan die anderkant is daar ‘n groter wordende groep van vrysinnige liberales wat diep gedrink het uit die troebel waters van die sogenaamde Progressive Christianity. Hulle verkoop hulleself as liefdevol en inklusief. Hulle evangelie is : "Moenie stress nie als gaan OK wees!" Die feit is egter dat hierdie groep nie meer erns met die Woord en die evangelie maak nie. (begrippe soos vryspraak, kruisoffer, hemel en hel is vir baie van hulle totaal vreemd)  In hierdie kringe word die Bybel dikwels teenoor Jesus gestel. Die Woord word soms beskryf as ‘n “papierpous” wat die liefde van Jesus versmoor.

Die afstand tussen hierdie twee groepe is eenvoudig net te groot. Dit gaan nie hier oor middelmatige sake waarin ons maar van mekaar kan verskil terwyl ons mekaar verdra nie. Die evangelie self is op die spel. Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk. Die uitslag gaan tot vir die verre nageslag gevolge hê. Ewigheidsgevolge! Geen kompromie of draadsittery is dus moontlik nie!

Daarom is die omvangryke weerstand van binne die NG Kerk baie bemoedigend. Benewens talle gemeentes (byvoorbeeld Moreleta Park) wat die AS besluite verwerp het, het die moderamen van Namibië se sinode en die Sinode van Wes Transvaal hulle nou reeds teen die AS besluit uitgespreek. As gevolg van appèlle is die moderamen van die Algemene Sinode reeds gedwing om die inwerkingstelling van die AS besluite hangende die appèlle vir minstens twee jaar uit te stel. Dit als gee mens hoop.

En tog...

Hierdie saak sal nie sommer net verbygaan nie. Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word. Hier in Namibië het ons vir NETS wat goeie Skrifgefundeerde opleiding aanbied, dis beslis ‘n moontlikheid wat ondersoek moet word. Gooi die juk van die teologiese fakulteite af, sodat ons weer die Here kan dien in die lig van sy Woord!

DERDE GROEP

Ek het aan die begin gesê dat daar twee groepe onderskeibaar in die huidige debat is. Dis bietjie van ‘n oorvereenvoudiging. Daar is myns insiens ook ‘n derde groep. Dis predikante (en lidmate) wat waarlik die Here liefhet en Hom wil dien, maar weens ‘n verskeidenheid van redes nie hulle stem tans laat hoor nie. Hulle is dikwels ook nie voldoende ingelig nie en val maklik die propaganda van “julle is liefdeloos teenoor gays” ten prooi. Hulle is ook teologies onseker, want hulle word nou al jare lank beïnvloed deur die teologie van twyfel wat aan ons almal opgedis word op universiteit. (Baie van hierdie broers is tydens hulle opleiding nooit aan goeie Gereformeerde teologie blootgestel nie. Ek het simpatie met hulle, want ek moes ook TUKKIES se opleiding verduur!) Teenoor hierdie groep het Bybelbehoudendes ‘n groot plig. Ons sal hulle met groot geduld en dade van barmhartigheid van ons Christusliefde vir alle sondaars moet oortuig. Ons sal daarom met deernis en begrip na hulle standpunte moet luister en op so ‘n manier daarop antwoord dat hulle sal kan sien dat dit vir ons waarlik oor die heil van die sondaar, gehoorsaamheid aan die Woord en die eer van God gaan.

KEUSE

Uiteindelik sal die NG Kerk tot ‘n keuse gedwing word. Lig en duisternis kan op die ou end nie saam bestaan nie. Mag die lig wen en die duisternis padgee! Die Bybel en ons kerk se belydenisskrifte is immers aan die lig se kant. Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...