BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gasvryheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gasvryheid. Wys alle plasings

Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους


Vrydag 11 September 2015

LEEFSTYL VIR DIE EINDTYD

- moet ons begin bomskuilings bou?


Die einde van alle dinge is naby! Dis nie ‘n voorblad berig in die koerant wat bedoel is om paniek te saai nie. Ook nie die jongste gemorspos e-mail nie! Dis ‘n vaste Bybelse waarheid. Ons lees dit in 1 Petrus 4:7, maar ook op baie ander plekke.

“Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.”

So dikwels in die verlede, maar weer ook in ons dag word mense op hol gejaag deur een of ander einde van die wêreld scenario – op ‘n stadium was daar die Y2k gevaar, toe weer die Maja kalender wat die einde van die wêreld voorspel... kort-kort ‘n nuwe sensasionele storie. Die Christen steur hom nie aan al hierdie stories nie, maar ons vat wel die Bybelse boodskap baie ernstig op : Die einde is inderdaad naby! Dit beteken nie dat ons ‘n spesifiek aantal weke, maande of jare daaraan kan koppel nie. Dit beteken dat die koms van Jesus, die laaste oordeel en ‘n nuutgemaakte skepping realistiese werklikhede is. Dit kan vandag nog gebeur. Die koms van Jesus en natuurlik ons eie dood is nie iets teoreties en veraf nie, dis ‘n om-die-draai-gebeurtenis waarmee ek daagliks moet rekening hou. Dit iets waarvoor ek en jy gereed moet wees. Elke oomblik!

Die einde van alle dinge is naby! Maar wat daarvan? Hoe moet ons reageer? Moet ons bomskuilings bou en noodvoorraad opgaar of DVD’s kyk oor die Antichris en die ses ses ses? Moet ons spekuleer oor bloedmane of histeries raak oor die Moslemgevaar?

NEE! Asseblief, in God se Naam laat ons maar net doen wat die Woord vir ons sê. Wat is die regte Bybelse leefstyl vir die eindtyd? Petrus is baie duidelik. Omdat die einde van alle dinge naby is moet ons selfbeheers en nugter wees sodat ons kan bid. Leef so dat julle biddend kan bly! Hoekom hierdie opdrag? Dis ‘n nuwe leefstyl wat die teenoorgestelde is van hulle vorige gedrag toe hulle nog onbekeerdes was. Hy het daarna verwys in 4:3. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery.” (net terloops daar is baie kerkmense wat hierdie bose leefstyl volg en nie besef dat so ‘n leefstyl van dronkenskap en losbandigheid tot die hel lei nie)

BID

Leef dus ‘n gedissiplineerde en sobere leefstyl sodat julle kan bid. Die einde van als is naby - hierdie vaste wete moet ons bring by bid en nie by bespiegel nie! Dis ‘n impetus vir biddend wees. Bid behels ‘n lewenshouding, gedurige kontak met God wanneer ek my doelbewus oopstel vir sy wil en opdragte. Deur te bid wys ek my vertroue op God en afhanklikheid van Hom. Ek onderwerp ek my aan sy wense en begeertes.

LIEFDE EN DIENS

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.” (1 Petrus 4:8-11)

Biddende kontak met God moet ook oorgaan in praktiese liefde vir mekaar. Hierdie liefde sal baie sondes bedek. Wat beteken dit? Dit gaan daaroor dat ek in liefde ander mense hul sondes sal vergewe en dat ons so die onderlinge bande en gemeenskap met mekaar herstel. Die liefde bring genesings in stukkende verhoudings. As jy regtig glo dat die einde naby is sal jy vrede en vergifnis soek met ander mense! 

Nog ‘n uitvloeisel van die liefde is gasvryheid. Dis ‘n saak wat baie klem kry in die Nuwe Testament. “As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves."  (Hebr 13:1,2) Gasvryheid is die teenoorgestelde (en teenvoeter) van selfsug en gierigheid. Laat ons mekaar ontvang, laat ons huise en harte oop wees vir mekaar. Dis die regte leefstyl vir die eindtyd!

Die nabyheid van die einde moet ons juis stroop van selfsug en ‘n wegkruip eenkant houding en ons aanspoor tot diens!

CHARISMATA

Volgens die genadegawes wat elkeen ontvang het moet ons mekaar dien! Alle gelowiges het charismata (genadegawes) ontvang, nie net ‘n paar superchristene nie. Daar heers groot misverstand en skeeftrekkings wat betref die gawes van die Gees. Vir baie mense is die gawes iets om mee te spog. (veral die gawe van tale spreek) Nee, gawes bestaan vir diens. Gawes bestaan nie ter wille van myself nie maar met die oog op diens aan ander. Petrus gee nie hier ‘n volledige lys van gawes nie. Hy noem net twee hoofgroepe van gawes : Gawes van verkondiging (prediking, lering, onderrig). Dis gawes wat die geloof voed en opbou. En gawes van diens (hulpverlening, barmhartigheid,ondersteuning op verskeie vlakke). Dis gawes wat die geloofsgemeenskap onderhou. (Sien ook Romeine 12:4-8)

God het ‘n geweldige kapitaal van gawes in sy kerk belê!** God los sy kerk nie arm nie. God het ‘n groot rykdom en verskeidenheid van gawes aan elke gemeente en gemeentelid gegee. Ons moet dit gebruik, daarmee woeker, nie ter wille van onsself nie, maar van die medegelowiges. Glo jy die einde is naby, glo jy die oordeel is op hande? Wel, is jy besig om jou gawes te gebruik? Of sit jy eenkant en wag dat ander mense jou moet bedien in ‘n tyd van nood? Onthou net die gawes word nie verdien of self opgemaak nie, dit kom van God! As ek praat is dit eintlik God wat praat (dis nie ek wat so oulik is nie), as ek dien is dit God wat die krag gee (dis nie ek wat so sterk is nie). Ek het dus niks om oor te spog nie. As die gawes reg funksioneer kry God die eer. Nie die een wat die gawes beoefen nie, maar die Een wat die gawes gee moet verheerlik word. Ons moet so praat en doen, dat mense sal sê : “God is wonderlik!” Nie – “Jan, Koos of Rina” is wonderlik! nie.

In die lig van die naderende einde, die komende oordeel, die heerlikheid van ‘n nuwe hemel en aarde moet ons ‘n nuwe radikale leefstyl beoefen. ‘n Nugtere sobere leefstyl, ‘n leefstyl vry van losbandigheid, wellus en gierigheid. ‘n Leefstyl van gebed, liefde, gasvryheid en diens wat aan God eer sal bring. 

Jou leefstyl en nie jou spekulasies nie, wys of jy glo die einde is naby!


*Ek glo dat die gawe van die spreek in tale nog steeds kan voorkom soos God dit goed mag goed dink om te gee en dit nodig ag vir sy gemeente. Waar dit voorkom moet dit beoefen word volgens die beginsels en riglyne van 1 Korintiërs 12 en 14. Ek dink nie dis reg om dit uit te sonder as die belangrikste gawe en ‘n toetsteen te maak vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees in iemand se lewe nie. Die oormatige klem wat sommige op die spreek in tale plaas lei ongetwyfeld tot die vervalsing daarvan.

**Van Houweling, PHR, Rondzendbrief uit Babylon, p157


[foto - Pininterest]