BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 26 Augustus 2023

BLY JY DALK TE LEKKER IN BABILON?

- Daar is geen toekoms in BABILON nie!

(Jy dink miskien dis lekker, maar dis GEVAARLIK!)


Waar woon jy en voel jy tuis? Waar behoort jy? Waar is dit lekker?  Ek bedoel nou nie Tsumeb, Windhoek of dalk die Kaap nie. Ek bedoel  Babilon of  die nuwe Jerusalem, die twee stede waarvan ons in Openbaring lees? (Kyk gerus by 
Openbaring 18:1-3;  21:1-3)

In Ou Testamentiese taal - Babel of Sion? Ja, want hierdie twee plekke het ‘n lang en onstuimige geskiedenis lank nog voor die tyd waarin Openbaring geskryf is en waaroor Openbaring skryf.

ABSOLUTE KONTRAS

Hierdie twee stede is ook op die uiterstes van die spektrum, onversoenbaar, “incompatible”. Dis die absolute “Tale of two cities” om nou maar Dickens se woorde te gebruik.  Dit verteenwoordig twee opponerende leefstyle, waardesisteme, koninkryke en eindbestemmings.  Dis duisternis teenoor lig. Leuen teenoor waarheid.  Geweld teenoor vrede. Onsedelike boosheid teenoor rein heiligheid. 

‘n Onrein losbandige prostituut teenoor ‘n rein maagdelike bruid.


DIE VERRE OORSPRONG

Kom ons gaan terug ver na die Ou Testament. Jerusalem is God se uitverkore stad. Ook bekend as, Sion. Hier is die troon van Dawid, die setel van God se heilige tempel, die sentrum van ware aanbidding. Jerusalem het egter gruwelik gesondig en God het die goddelose Babel gebruik om sy stad, sy mense te straf. Die volk Israel is in ballingskap na Babilonië weggevoer. Daar het hulle swaargekry en getreur. Die hartseer word so treffend verwoord in die bekende Psalm 137. (Onthou jy nog Boney M. se treffer "By the rivers of Babylon"?) 



Alles het so hopeloos en hartseer gelyk, maar God het sy volk en Jerusalem nie afgeskryf nie. God nie sy verbond vergeet nie. Deur die profete het Hy weer die einde van die ballingskap, die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel en die straf oor Babel aangekondig. 

God het nou vir sy volk deur die profete aangekondig dat Jerusalem se straf verby is. Jesaja 40:1,2 



God kondig ook die straf oor Babel aan. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 47 waar die val van Babel aangekondig word. Jesaja 47:10-11




Saam met die oordeelsaankondiging oor Babel kom God se oproep om uit Babel pad te gee. Jesaja 48:20  God beveel sy mense :"Kom nou weg uit hierdie bose plek en sisteem, hierdie plek gaan nou vernietig word!"



Teenoor God se oordeelsaankondigings oor Babel verseker Hy sy eie volk, die stad Sion dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Jesaja 49:14-16  God gaan sy stad reinig en bevry  Jesaja 52:1-2   Hierdie nuus dat God inderdaad KONING is (ten volle in beheer van die geskiedenis is en alle mag het om sy volk se lot postief  te verander) is goeie nuus!  (Niks anders nie as EVANGELIE) Jesaja 52:7








Hierdie beloftes van God oor  sy volk se bevryding uit Babel en die herstel van Jerusalem is natuurlik letterlik vervul. God het in sy absolute soewereine almag, die heidense koning Kores gebruik om die volk weer terug te bring na Jerusalem en die stad en die verwoeste tempel weer te herbou. 

Maar daar het nog iets heerliker  gekom. Jesus, die Lydende Kneg van Jesaja 53 het finaal ‘n einde aan die ballingskap gebring. Hyself was die ware tempel en Hy herstel Jerusalem  - Hy maak ‘n rein bruid, sy kerk bymekaar wat in Openbaring die nuwe Jerusalem genoem word.

Die kontras tussen die onheilige Babel en God se nuwe herstelde Jerusalem word deur Paulus gebruik om die Christene in Korinte tot heiligheid aan te spoor. 2 Kor. 6:17,18 7:1 vgl. Jesaja 52:11   Die goeie nuus van die bevryding uit Babel is nou die Goeie Nuus van die evangelie, ons verlossing uit die verslawende ballingskap van die sonde en sy sisteme. Maar as ons hierdie Goeie Nuus glo, moet ons wegbreek van alle sonde en ongehoorsaamheid! Dis lewensbelangrik!




(Om na 'n boodskap oor bogenoemde teks te luister, kliek op KOM WEG DAAR!)

IN OPENBARING

Maar kom ons blaai nou na Openbaring. Hier word die kontras tussen Babel en die nuwe Jerusalem, Jesus se bruid op ‘n spits gedryf. Die parallel met die beloftes in Jesaja en die boodskap van Openbaring is so opvallend.  Babilon is die simbool van hierdie bose wêreld met sy wellus en gierigheid wat die ware kinders van God onderdruk. Die oordeel oor Babilon word hier in hoofstuk 18 uitvoerig beskryf…



Let op Openbaring 18:4 (vgl. Jesaja 48:20 en 52:11 waarna ons reeds gekyk het)


Hierdie beskrywings van haar sonde, uitspattige weelde, onsedelikheid en moord op God se kinders kom uit veral Jeremia en Jesaja. 



DIE REIN BRUID

Teenoor die losbandige prostituut Babilon met die uitspattige en uitlokkende houding en voorkoms staan die rein bruid van Jesus, die nuwe Jerusalem, die geheiligde volgelinge van Jesus. Openbaring 21:2; 9-11 Daar is nie plek om op al die eienskappe en heerlikheid van die nuwe Jerusalem in te gaan nie. Een saak wat so belangrik vir onms tyd is moet egter duidelik uitgewys word – vers 27!





Waar voel jy tuis? (Voel jy tuis by die Visfees, Wildsfees of watter fees ook al waar gehoer en rumoer word?) Jy kan nie ‘n burger van beide Babel en die nuwe Jerusalem wees nie. Jy kan nie ‘n ondersteuner van altwee bly nie… Jy kan nie hoer en bruid tegelyk wees nie!  Baie mense mislei hulleself… ons behoort mos aan die kerk, ons is mos gedoop en aangeneem…ons is mos deel van die Nuwe Jerusalem. Kom ons stel dit duidelik – God se Woord is baie reguit… as jy aangaan met valsheid en gruwels… as jy aangaan met jou onsedelikheid, jou dronkenskap, geweld, leuens, bedrog… vergeet van toegang tot die heilige stad.

Die waarheid van God se bedoeling is nie om ons weg te stoot nie, maar op te roep tot bekering. Laat staan jou sonde en bekeer jou tot Jesus. Dis die duidelike boodskap van die sewe briewe aan die gemeentes in dieselfde boek van Openbaring.(Kliek op Boodskap van die Heilige Gees) Die oproep tot bekering kom in Openbaring na kerkmense, mense wat binne in die kerk leef soos aanhangers van Babilon. Kom en laat jou klere gewas word in die bloed van die Lam!

Kyk op YouTube. Kliek op LEKKER IN BABEL?